Showing posts with label bou. Show all posts
Showing posts with label bou. Show all posts

Wednesday, August 28, 2013

Wynand "Loftus" Van Vuuren


Ek weet nie hoekom nie, maar ek le gisteraand en dink aan Wynand "Loftus" van Vuuren wat saam met my in die Laerskool was.  Ek dink elkeen van ons het so 'n iemand saam met ons op die skool gehad.  Hy was nou die een wat werklik "uit" was.  As ek terugdink kan ek onthou dat hy gladnie mooi was nie, soos die oom sou gese het, so wit soos 'n voorbode.  As ek onthou was hy so wit dat hy die enigste kind was wat in daardie tyd 'n hoed gedra het as hy in die son uitgegaan het.  Ek kan onthou dat ons gespot het en gese het dat ons dink hy skyn in die aand as die son ondergaan.
 

Ek kan onthou dat ek nog voordat ek geglo het in lewe op ander plannete, gedink het dat hy een van hulle moes gewees het, want hy was weird.  Dalk is sy ligsensitiwiteit dalk die rede, maar hy het nooit saam met ons gespeel nie.  Ek onthou hy het daai Alpha 1999 ruimtetuigies skooltoe gebring en die hele tyd die vorige episode in sy kop deurgespeel.  Wat vreemd is, is dat niemand Wynand geboelie het nie, niemand het ook vir hom gelag nie, want ek dink diep binne was die kinders bang vir hom.  Die meisies wou nie naby hom sit nie, want hy het ook soms nog tot laat in die Laerskool "glipsies" gehad, maar selfs daaroor het niemand hom ooit gespot nie.

 
Wynand se oupa hulle, of so het hy gese, het 'n plaas gehad in Aliwal-Noord, en elke naweek het hy gewag dat sy oupa-hulle moet kom kuier, want dan sou sy oupa hom Loftus toe vat.  As mense vir hom op Maandag gevra het of hy toe daar was, het hy altyd gese dat sy oupa nie kon kom nie.  So wonder ek by myself of "Loftus" toe ooit op Loftus was.

 
Maar Wynand is een van daardie mense wat ek my hele lewe lank sal onthou, want alhoewel hulle brandarm was, en hy deurskynend, kan ek hom net nie vergeet nie.  Wynand was natuurlik ook gladnie sportief nie, en het so min koordinasie gehad dat hy gesukkel het om aan 'n deur te klop.  Naderhand het die LO-Meneer opgehou om vir hom te vra vir 'n doktersbriefie, want eintlik wou hy graag, maar het die hele klas opgehou.  Ek kan nie onthou dat ek hom ooit sien hardloop het of 'n bal vang of gooi nie.  Hy het sommer van die staanspoor af nie eers sy LO-klere aangetrek nie, maar sommer op die pawiljoen gaan sit.

 
Ek dink ek onthou vir Wynand, want Wynand was by elke skoolfunksie en langs elke sportveld.  Ek dink die meisies het daarvan gehou dat hy daar was, want hulle was al aan hom gewoond, maar hy het die meisies van die ander span ontsenu.  Maar Wynand was altyd daar, selfs langs die Laerskool krieketwedstryd tussen ons en Timbuktu se 3e span.  Wynand was daar.  Ek sien hom na soveel jaar sit daar onder die groot boom en kyk terwyl hy sy tinfoil toebies eet.  Vir een of ander rede het Wynand geglo dat alles by die skool eintlik om hom draai en as hy nie by die Eerste Span se wedstryd is nie, SAL hulle verloor.

 
Ons is almal na verskillende skole toe na Laerskool, en ek het nooit weer vir Wynand gesien nie, maar gehoor dat hy oorlede is in Standard 8, dis toe ons nog te dom was vir grade.  Maar Wynand onthou ek soos asof dit gister was, amper 40 jaar later.  En ek wonder toe:  "Wat is dit maak dat ek na al die tyd nog wonder oor ou "Loftus"?

 
Kinders is mos maar baie wreed, maar om een of ander rede het die wreedheid en gespottery nooit aan Wynand gaan sit nie.  En moenie 'n fout maak nie, hy was nie 'n dom ou nie.  Ek dink wat my gevang het is die manier hoe hy aangehou leef het, te midde van wat ander dink of hoe hy lyk.  Ons het respek vir hom gehad omdat hy elke wedstryd langs die veld gestaan en "Wonnies" geskree het.  Hy was vir my 'n rolmodel, maar ek besef dit nou eers.  Want ek wonder hoe sou ek gevoel het as ek in sy skoene was, en sou tien teen een in 'n hoekie gaan sit en kripeer het.  Hy het dit nie aan hom laat vat, die feit dat hy nie 'n meisie kan kry om saam fliek in die saal te gaan kyk nie, hy was daar en het die fliek kom geniet.  Hy het homself nie laat onderkry oor die feit dat hy nooit op Loftus was nie, hy het al Naas Botha se statistieke uit sy kop geken.  Hy was nie bekommerd dat hy nie geld het om by die snoepie "Chelsea-Buns" te kan koop nie, want sy ma het mos vir hom Tinfoil appelkooskonfyt broodjies ingepak.  Alhoewel hy op daardie stadium nog met Alpha 1999 ruimtetuie gespeel het, was ons eintlik jaloers, want ons wou ook nog daarmee speel, maar dit was "uncool".  Eintlik het Wynand vir my laat sien wat ek gemis het in die lewe, en wat dit is om werklik mens te wees, deur so lank "kind" te bly.

Eintlik besef ek vandag dat die uitdaging vir talentvolle mense om suksesvol te wees nie baie groot is nie, maar ons leer meer by mense soos "Loftus".  Ons lees al die boeke van die "Champions of Industry" en die wonderlike "Leiers" van ons wereld, maar ons vergeet om te kyk na elke mens om ons.  Die Bybel is vol van mense soos Wynand, noem hulle maar op, Moses, Dawid, Gideon, Job, Petrus en Paulus.  Mense wat jy nou nie sommer uit 'n "line-up" sou gekies het om jou volk deur die woestyn te lei nie.

Elkeen van die mense wat ek genoem het, het een of ander verskoning gehad van hoekom hulle nie hulle roeping kan nakom nie.  Hier te kort en daar te lank, soos ons almal maar is.  Maar God werk anders, God werk deur die Wynand "Loftus" van Vuurens van die wereld, want krom stokke kan ook reguit houe slaan.  Mense wat alles al verloor het en wat swaargekry het, is soms die mense wat die grootste impak het.  Mense wat alles het, is en word arrogant, en dink soms dat hulle God nie nodig het nie, of hulle is so ingestel in hulleself dat hulle nie langs die 3e span se krieketveld wil sit om maats aan te spoor nie.

Wynand het dit ook geniet en geselskap ingedrink wanneer iemand net aan hom aandag gee.  Ek voel skuldig dat ek nie meer moeite met hom gedoen het nie, maar ek is dankbaar vir wat hy my geleer het.  Krom stokke, wat dink hulle kan nie, is soos mense wat swaarkry.  Hulle verstaan dankbaarheid, want hulle vat nie alles om hulle as vanselfsprekend nie. 

Miskien is jy vandag bietjie "down", miskien voel jy soos 'n "mislukking", miskien is jy eensaam en voel asof jy van 'n ander planeer kom.  Dalk het jy niks geld nie, dalk het jy jou werk verloor.  Dalk is jy vasgevang in omstandighede wat vir jou voel asof jy nie weet watter kant toe nie.  Ek weet nie, jy weet self.  Weet dit, jy kan dalk 40 jaar van nou af deur jou optrede iemand, soos in my geval vandag, se denkwyse of optrede verander.  Weet dit ook, net omdat jou toebies in 'n Tinfoil kosblik kom en almal om jou sulke ontwerper-kosblikke is, beteken nie jy moet honger ly of nie geniet wat in jou lewe IS nie.  Vandag voel ek soos 'n mislukking, daar is baie mense wat my haat en mense wat my kritiseer, waar verskonings en wie jy is nie belangrik is of op goeie ore val nie – maar dan dink ek aan Wynand, wat te midde van alles, dink ek, homself gelukkig gemaak het.

Jy hoef nie op "Loftus" te wees om vandag te geniet nie, jy kan vandag met jou hele hart gaan leef en opdaag vir jou lewe, sonder dat dit perfek of volmaak is!

Tuesday, February 21, 2012

Skewe bome bly bome

Verlede week het ek so ‘n wonderlike tyd in die Kaap gehad. Dit is so ‘n voorreg vir mense wat permanent daar kan woon. Ek sou graag wou, maar ek wonder of ek al daardie wind sal kan hanteer. Die een dag moes ek met die Weskus op en tussen Vredenburg en Paternoster is daar aan die een kant so ‘n lappie bome wat totaal deur die wind verwaai is. Hulle le sommer so met 30 grade na die een kant, aan die een kant kaal van al die wind, en aand die ander kant is die blare.

Laat my toe ook dink aan die spreekwoord dat ‘n mens ‘n boompie moet buig wanneer hy jonk is. Jy kan sommer sien dat dit die geval was met hierdie lappie bome. Ek begin toe oplet so deur die hele kaap, hoe hierdie situasie homself herhaal. Selfs die plek waar ons in Stellenbosch omgewing die troue gehou het, is die boom waaronder die seremonie gehou word ook half skeef.

Toe wonder ek of dit beteken dat hulle minder boom is as die boom wat in Pretoria regop staan. Dra die skewe bome nou minder by tot die oplossing van aardverwarming, of dra hulle minder vrugte? Het hulle dus hulle invloed op die wêreld verloor net omdat hulle aan erger windomstandighede blootgestel is?

Elkeen van ons is deur die lewe, van kleins af, blootgestel aan dinge soos die wind. Ons sê graag dat ons soms die wind van voor kry wanneer dinge nie loop soos ons dit graag soek nie. Miskien kom jy uit ‘n huis waar daar nie altyd liefde was nie, of ‘n huis waar daar aggressie en verslawing was. Dalk het jy arm grootgeword en nie die geleenthede van ander gehad nie. Dalk was julle huisie ‘n ou gehuggie, terwyl jou maats om jou daardie wonderlike groot herehuise gehad het met die tennisbane en die swembaddens.

Ek was gelukkig in die feit dat ek in ‘n “gemiddelde” skool (vir die tekort aan ‘n beter term) was. Daar was van kleins af mense in my skool wat baie geld gehad het en alles gehad het wat hulle harte begeer en dan ook mense wat kripeer het en vir wie die skool kos gegee het elke dag. Ek noem dit ‘n voorreg, aangesien ek geleer het dat alle mense dieselfde is, of hulle nou welgesteld is of nie. Ek het geleer dat dit gaan oor die menswees van mense, en nie oor hulle aardse besittings wat tel nie.

Eintlik, nou dat ek terugdink, het ons nooit ooit ‘n ding gemaak van die wat min het of die wat baie het nie. Ons het geleef en die lewe geniet, ongeag.

Hierdie beginsel is ongelooflik belangrik in ons eie lewens, veral wanneer ons kinders grootmaak. Daar is niks verkeerd om vir jou kind die beste te gee wat jy kan nie, maar beter nog om jou kind te leer dat al kry hy die wind van voor, dit hom nie minder van ‘n boom maak nie. Dit gaan nie net oor geldelike rykdom nie, maar in alles. Dalk is jou kind nie die beste rugbyspeler of hokkiespeler nie. Dalk is jou kind ook nie akademies sterk nie. Dit maak nie van hulle minder van ‘n boom nie.

Dit het ook te doen met al die dinge wat ons deur ons leeftyd tref. Hartseer en bly omstandighede wat jy ervaar het. Dalk die gevoel om ‘n geliefde aan die dood of egskeiding af te staan. Dalk is dit ‘n likwidasie en finansiële probleme. Legio dinge wat deur ‘n leeftyd jou druk om nie heeltemal te “voel” asof jou lewe in die regte rigting groei nie.

Terwyl ek so op daardie pad ry Paternoster toe, ervaar ek eintlik ‘n vreemde ervaring. Deur die hele week in die Kaap het ek nooit die behoefte gehad om te stop en bome af te neem nie, maar hierdie “onvolmaakte” stelletjie boompies wou ek afneem. Want dit het ‘n skoonheid deur die andersheid.

Dalk voel jy vandag omgewaai en onperfek. Dalk voel jy vandag nie lus om aan te gaan nie en dat jou hele lewe net een stuk druk is van wind. Dalk voel jy gespanne dat jy nie alles kan betaal wat jy moet nie, of dat jy eensaam is en dat jy nooit iemand sal kry wat jou liefhet met jou krom neus of effens groter onderstewe nie. Dalk voel jy vuisvoos in die stryd teen die lewe. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, wat die lappie bome my laat besef het is dat al is jy skeef gedruk, dit nou nie minder van ‘n boom maak nie. Jy het altyd iets om by te dra, al is dit soms net dat iemand jou bewonder oor jou imperfeksie. Mense kyk soms imperfeksie mis, maar skilder eerder vir JOU omdat jy besonder is.

Moenie dat jou lewe, jou omstandighede of wat mense vir jou en van jou sê, jou minderwaardig laat voel, dat jy naderhand dink dat jy nie meer boom is nie en niks vir die wêreld kan bied nie.

Thursday, February 9, 2012

Perfekte beeld

Onthou jy nog daardie tyd toe ons self ons televisie antennas opgestel het. Ek onthou nog die kere wat ek op die dak gestaan het, my pa binne sigafstand van my, en my ma binne by die televisie. Al die opdragte: “bietjie links, bietjie regs, stop, aggenee man, daar stel jy hom weer uit”. Jy kon natuurlik of daarvan ‘n heerlike lagsessie maak, of dit kon tot huismoles gely het.

Vandag is die tegnologie egter so bietjie anders met die skottels wat ons laat installeer. Jy ry selfs deur die armste van gebiede, maar die skottel aan die oostekant van die huis is altyd sigbaar. Die ouens wat dit vir jou kom installeer het ook sulke oulike masjientjies waarmee hulle die sein toets om seker te maak dat jy goeie opvangs het.

Ons televisies is ook nou so gevorder dat hulle outomaties kannale soek. Nie meer soos in die verlede wat jy met knoppies draai jou instelling self gedoen het nie.

Dit is vir my kinders vreemd om te dink dat daar ‘n tyd was waar daar net een of twee kannale op die televisie was. Jy kan onthou, as jy my ouderdom is, daardie toetsbeeld van die SAUK wat op die skerm was wanneer programme nie uitgesaai is nie. Ek onthou nog hoeveel keer ek daarna gestaar het terwyl ek gewag het vir die programme om te begin.

Om te sien wat jy wil sien, is daar 3 dinge van belang. Jy moet ‘n skottel installeer wat met die sateliete kan “praat”, jy het ‘n dekodeerder nodig wat die sein kan ontrafel en jy moet jou televisie instel om die boodskap van die dekodeerder te kan sien. Alles is onafwendbaar, want dit is ‘n natuurlike proses.

As jy dus nie die beeld kry wat jou tevrede stel nie, of geen beeld kry nie, dan soek jy die fout terug by die vorige toestel. Dit is soos wanneer jou sleutels verlore is, dan gaan jy terug op jou spoor. Soms voel dit ook vir ons of ons beeld versteur is, en dinge loop net nie lekker nie. Dan is die maklikste om dit op te los, om in jouself te gaan soek na die dinge wat die storing veroorsaak.

Baie mense is bang om dit te doen, en hulle sit hulle hele lewe en staar na die sneeuvlokkies op die skerm. Naderhand dink hulle dat dit normaal is. Hulle gaan kuier by ander mense en sien die mooiste beeld. In hulleself doen hulle niks aan hulle beeld nie, en maak vrede met die vlokkies. Dan is hulle jaloers en byterig teenoor ander, want niemand wil by hulle kom kuier nie, want dit is saterdagmiddag en kuiergaste wil die rugby sien. Hoe lank gaan jy met die sneeuvlokkie lewe aanhou?

Deesdae is dit soveel makliker om goeie opvangs te kry. Daar is legio hulp van mense en kenners beskikbaar. Die internet en die boekwinkel het soveel informasie oor elke onderwerp, van die instel van jou DSTV proses, tot die instel van jou eie proses. Daar is toerusting en kenners wat kan seker maak dat jou “skottel” in die regte rigting wys waar die “goeie” en die “regte” sein is. Daar is ‘n inbelsentrum van DSTV wat jy kan kontak om seker te maak dat jou dekodeerder reg kodeer. So is daar mense om jou wat jou kan help om jou “kodering” van die sein reg te doen, of te reg te maak. Dan is daar sulke oulike tegnici wat na jou huis toe kan kom en wat die hele proses sommer vir jou kan doen. So is daar soveel kennis rondom ons vandag wat ons elkeen kan bystaan om wonderlike beelde, selfs in hoë definisie of 3D, te kan sien, ervaar en uit te straal.

Soms kan hierdie kennis of kenners ook maar ‘n mens se kop deurmekaar maak. Die tegnologiese ouens het mos ‘n taal van hulle eie wat hulle praat. Hulle verwys na dinge in afkortings wat ons gewone mense nie verstaan nie. So, in die proses van my instelling, moet ‘n mens ook maar versigtig wees om nie SO tegnies te raak dat die storing nog groter en die beeld nog slegter word nie.

Ek het ‘n vriend op skool gehad wie se hele gesin sulke tegniese ouens was. As ons daar gaan kuier het was die hele huis gesaai met allerhande toerusting van klankkaarte tot soldeermasjiene. Jy het altyd rondgekyk waar jy loop dat jy nie oor ‘n elektriese koord of iets val nie. Op die stoep en die garage was etlike televisies en vidoemasjiene wat se deksels af was dat jy die binnegoed kan sien. Sy pa wou eenvoudig altyd “verstaan” wat die binnewerking van sy elektriese toebehore behels, en daarom het hy alles oopgemaak en gedesekteer.

Wou jy nou net eenvoudig televisie kyk, was daar altyd fout met hulle goeters. Drade was nie gekoppel nie, of ‘n elektriese prop is afgehaal om op ‘n ander plek te gebruik. Alles was daar, maar niks het gewerk nie. So het ek maar altyd my kop geskud, en dan het ons maar op ons fietse geklim om die program by iemand anders te kyk.

Die spreekwoord sê mos: “Alles wat ‘n “te” is is verkeerd, behalwe “tevrede”, “te perd” en “tematies”". So moet ons ook nie so ernstig selfondersoek doen oor ons lewe en ons binnetoerusting, dat ons vergeet dat die doel van die oefening is om die pragtige beeld te sien en te geniet nie.

So besig raak ons om te wil leer hoe ons werk, hoekom dinge gebeur, hoekom ons op ‘n manier optree, dat ons nooit die genot van die uitsending geniet nie. Ons, en ek in besonder, is soms so besig om ons derms uit te ryg en om te besin oor die lewe, in en om ons, dat ons vergeet wat die essensie is. Dit doen ons met elke ding in ons, ons liefde, ons kinders, ons stress, probleme en spanning. Dan vergeet ons om te leef! Ons is so besig om te desekteer en te be-oordeel dat ons IN ons mensetoestel in staar, en nooit rustig voor dit kan gaan sit en ervaar hoe fantasties alles in my lewe ten goede meewerk. Moet dit nooit in die lewe SO deurmekaar maak, dat jy of nie weer die televisie aanmekaar sit nie, of dat jy na die desektering en terugsit van alles, met ‘n klomp skroewe en moere sit wat nie plek gekry het nie.

Ek is nogal baie lief om televisie te kyk, so ek stel nogal belang in die toerusting wat daar in die winkels beskikbaar is. Ek staan en bekyk graag al die platskerm televisies, en dan is daar ook altyd iemand wat my bedien met raad van die spesifikasies van elke tipe skerm in die winkel. Hoe kies ‘n mens nou die “beste” een? As jy hulle so langs mekaar sien, dan voel jy sommer jammer vir jou “ou” televisie by die huis. As jy hulle langs mekaar sit kan jy die verskil werklik sien, maar een-een op ‘n slag op hulle eie, gaan jy nie sommer die verskil agterkom nie.

So moet ons ook versigtig wees om nie te dink dat ek die “beste” toerusting moet wees om die uitsending te geniet nie. Soms wil ons nie ons beeld uitsaai nie, want ons is skaam oor ons toerusting wat nie die beste en vinnigste en mooiste op die mark is nie. Al is ons nie die beste nie en nie op die snykant van die tegnologie nie, kan ons steeds ingestel wees op die regte kanaal, ons kan steeds die genot ervaar van die wedstryd waar my span wen.

So, wees daarom seker dat jou skottel in die regte rigting wys, dat jou proses maklik van daar deursyfer na jou dekodeerder toe. Leer om die inligting wat deurkom reg te kodeer en te verwerk. Verstaan jou eie proses, geniet om jou binnewerkinge te ondek (in balans), maar verseker, moet nooit vergeet dat dit nie oor die absolute perfekte beeld en klank handel nie, maar oor die plesier wat jou uitsending by die kykers en jouself bring. Dit dalk selfs op jou ou, klein, uitgedateerde swart en wit skermpie!

Tuesday, February 7, 2012

Storm in 'n teekoppie

Die Engelse het ‘n spreekwoord wat sê: “a storm in a tea cup”. Wat dit eintlik beteken is dat as jou lewe net bestaan uit ‘n koppie en die grootte daarvan is, dat selfs die kleinste beweging daarin jou hele lewe omverwerp. Die oumense het altyd gesê dat jy, om gelukkig te wees, moet seker maak dat jy jou horisonne verbreed. Dit is hoekom dit so lekker is om te toer en die wêreld te sien, want dit laat jou bietjie groter dink oor die lewe as net jou klein huisie en jou klein lewetjie. Dit is ook nie altyd nodig om oor die see te gaan om dit te doen nie, maar jy kan sommer net deur bietjie te lees, jou internet te betree of met mense van ander standpunte te gesels.

Ek dink dat baie van ons depressief en sleg voel, en ons probleme vir ons lewensgroot lyk en klink, omdat ons sulke klein lewentjies het. Wanneer laas het jy so bietjie iets gelees wat jou lewenshorison verbreed? Suid-Afrikaners het maar daardie trek en eksplorasie ding in ons. Ons is dalk meer so as mense uit ander lande. Ons geniet nogal om te lees en ons algemene kennis van die wêreld om ons is baie goed.

Nou het ek weer met iemand uit Nederland gepraat, en kluisenaarskap is daar ‘n groot siekte. Natuurlik het die koue ‘n groot invloed dat mense eerder in die huis bly as om uit te gaan. Maar dit is ‘n feit, dat hoe kleiner jou lewe is, hoe makliker sien jy die probleme en krisisse in daardie ruimte raak. Nou een dag vra ek vir ‘n groep mense wie die President in Zimbabwe is. Tot my verbasing het min van hulle geweet dat dit Robert Mugabe is. Geen wonder dat hulle soveel krisisse in hulleself het nie, as hulle nie eers so ‘n klein bietjie weet wat aangaan om hulle nie. Wat my meer verbaas het, was die feit dat dit nie eers baie inspanning verg om dit te weet nie. Jy ry tog elke liewe dag in jou motor, of iewers hoor jy ‘n grappie of ‘n standpunt oor Zimbabwe.

Verder as dit, die krisisse in Zimbabwe het ook verregaande impak op ons lewe van elke dag. Dit het tog ‘n invloed op ons wisselkoers, ons handel met ander lande en ons sosiale lewe. Al stel jy nie in die politiek belang nie, jy ervaar tog elke dag dat daar meer en meer uitlanders jou in restaurante bedien. Jy kan tog agterkom dat daar meer en meer mense wat anders is as ons in die winkelsentrums. Jy moet tog iewers gehoor het van die rassisme in die woonbuurtes teen mense van ander lande en iewers daarmee te doen gehad het.

Dit wil dus voorkom dat ons, te midde van die klein bestaan wat ons voer, ook soms nie eers net ons ore oopmaak vir wat rondom ons gebeur nie. Mense wat nie so bietjie wil uitvind oor hoe dinge werk, of uitvra oor wat gebeur nie. Mense wat se lewens, wat normaal is, opgeslurp word in alledaagse dinge van kinders en huwelik en werk. Hoeveel mense om jou ken jy nog wat stokperdjies beoefen? Hoeveel mense ken jy wat bereid is om so effens net met oop oë op te let en nuwe idees te bestudeer? Hoeveel mense weet jy van wat die lus het om bietjie iets nuuts te leer, ‘n nuwe ding wat hulle nie voorheen geken het nie, of wat te vorder in hulle kennis oor dinge?

Ek klink dalk krities, maar ek besef al meer en meer dat dit dalk een van ons probleme is hoekom mense soveel drame het met hulleself en met mekaar. Mense wat met hulle gesigte so teen die prentjie staan dat hulle nooit die mooi kunswerk kan sien nie. Die impressioniste het geskilder met sulke fyn kolletjies en strepies. As jy naby die skildery staan kan jy omtrent net die kolletjies sien. Deur terug te staan, en jou visie verbreed, kry jy ‘n idee van die prentjie wat eintlik voor jou is, maar as jy so teen dit staan, sal jy dit nooit werklik kan geniet nie. Dieselfde met ‘n verkleinde milieu (ervaringswêreld), as jy daarin leef. Jy is so gefokus net op die onmiddelike, die hier en die nou, dat jy totaal nooit die groter prentjie sien of sal sien nie. Voordat jy nie terugstaan nie, en verbreed en groei weg van jou onmiddelike bestaan nie, gaan jy altyd dink die lewe bestaan net uit kolletjies en strepies en net uit een of twee kleure.

Ek is gelukkig om in ‘n familie en gesin groot te word (mense om jou sal vir jou vertel dat ek steeds besig is om groot te word), wat tot in hulle sewentigs nuwe uitdagings aanpak. Ek is geleer om te lees, en daagliks te lees. Ek is geleer om nie net ‘n objek of situasie voor my te sien nie, maar vrae daaroor te vra. Ek is grootgemaak deur dinge te bevraagteken, en totdat iets nie vir my sin maak nie, sal ek nie gelukkig wees nie. Ek is dankbaar daarvoor, want te midde van al my krisisse en tekortkominge, het ek geleer dat dit nie al is waarin ek myself vasstaar nie.

Wat verder vreemd is, is dat mense wat se lewens so klein is, gewoonlik te bang is om hulle horisonne te verbreed. Vrees is een ding, maar daar is ook ‘n baie vreemde idee dat jy, deur jou horisonne te verbreed, jou lewe kompliseer. Dit is vreemd, veral in die voorbeeld van ‘n impressionistiese skildery, dat die komplikasie nie in die verbreding van die horison is nie, maar die komplikasie is juis in die nie-verbreding van die horison. Hoe verder ek terugstaan, hoe makliker word die interpretasie van die skildery. In die naby staan, sal ek nooit die volledige prag van die prenjtie en daarmee saam my lewe kan ervaar nie. Eers wanneer ek terugstaan, oopmaak en wegbeweeg gaan die spanning weg.

As ek so fokus hier teen nie skilderdoek, plaas ek vreeslik baie spanning op my sig en my asemhaling. Ek asem die walms van die verf in, en my oog se fokuspunt kry ook skade.

Soveel mense maak vrede met die kolletjies en die walms, soveel so, dat hulle naderhand ook begin glo dat die hele lewe net kolletjies is. Hulle wil naderhand niks meer verder glo dat daar iemand is wat anders kan en mag dink as hulle nie, want, al wat “waarheid” is, is net kolletjies. Dit laat my so dink aan die uitspraak: “This is as good as it gets”.

Dit word dus ook die manier wat jy na die lewe kyk, met die agtergrond dat alles net kolletjies is, en net kolletjies mag wees. Niemand mag anders doen nie, want kolletjies IS die lewe. Hoe minder jy ook “oefen” om jou horisonne te verbreed, hoe minder gaan jy dit wil of kan doen? Dit is ook soos ‘n wilde leeu wat in ‘n hok grootword, en wat sy kos kry op sy tyd. Jy kan ongelukkig daardie leeu eers weer met baie moeite kan vrylaat in die veld, want hy verleer ook sy natuurlike instink om te jag. Hy verleer om ‘n leeu te wees, al is hy geskape om te kan jag, en bogemiddelde sukses kan behaal.

Miskien moet jy vandag vir jouself vra: “Wat doen ek om my horison te verbreed?” Is jou lewe nie dalk so saai en depressief en vol aaklige walms, juis omdat jy nie kan wegbeweeg en nie bietjie blootstelling het aan ander idees en mense en dinge nie? Miskien glo jy ook die leuens wat jy jouself vertel, dat jy eerder gemaklik is met die walms en die skeel kyk nie? Miskien is jou lewe vol drama, presies omdat jy nie kan terugstaan en met visie na jou lewe kan kyk nie? Miskien het jy drama, omdat jy jou brein nooit leer om te verstaan en te besef dat daar meer is daar buite as wat jy dink nie?

Jy kry natuurlik ook mense wat die hele wêreld plat toer, maar wat ook nooit meer en meer wil leer nie. Wanneer jy dus terugstaan van jou lewe, moet jy ook besef dat jy self ook moet jouself inspan. Jy moet weer leer om te jag, soos wat jy jou sig moet leer om nie meer skeel te kyk nie. Jy moet jou fokuspunt verander om die pragtige prentjie voor jou te kan sien en geniet. Jy moet jouself ook leer om, soos ‘n voëltjie in ‘n nessie, iewers ‘n sprong moet maak, want anders gaan jy nie vlieg nie. Dit moet jy doen in die wete dat, alhoewel jy nou bang is, die prys wat jy gaan ontvang duisend keer beter is as daardie klein stukkie vrees wat jy nou het.

Daar is ‘n ongelooflike en oneindige fantastiese lewe daarbuite. Glo my, die prentjie is fantasties mooi, kom en kom kyk. Hou op om bang te wees, hou op om in jou klein lewetjie vasgekluister te wees. Gaan ervaar, gaan leef, gaan lees, gaan leer en die belangrikste van alles, gaan geniet hierdie wonderlike skildery van ‘n lewe wat God vir jou as geskenk gegee het.

Daag jouself uit, dit is nie kompleks nie, wat jy nou doen en beleef so teen die skilderdoek, dit is kompleks, frustrerend, moeite en inspanning.

Monday, January 30, 2012

Krom stokke, reguit houe!

Afrikaans is nou een van daardie tale met baie leestekens. Die sleutelbord van ‘n rekenaar is nou een keer nie heeltemal opgestel om sommer met die eerste druk van ‘n sleutel die deelteken of die kappie op ‘n letter te kan sit nie. Jy moet alt 136 of 137 druk om dit te vermag. Op my skootrekenaar is dit moeiliker, aangesien ek eers die alt sleutel moet inhou en saam met dit die “Num Lk” sleutel, voordat ek alt en die nommer kan druk. Dit is nogal uitputtend, veral as ‘n ou so op dreef is en lekker vinnig tik en jy nie wil hê dat jou gedagtes moet dwaal nie. Dit is nie net in Afrikaans nie, maar ook in ander tale dalk baie erger. Een van my vriende het gister van Finland af gekom, en ek dink dat hulle dalk meer sukkel as ek.

Soms voel dit vir my asof die sleutelbord van die lewe ook nie heeltemal voorsiening maak vir my lewe nie. Om dinge “reg” te doen is soms uitputtend en moeilik, en vat soms van my om ekstra moeite in te sit, sodat dinge om my reg gespel word. Soms wonder ‘n mens hoekom dinge nie maar net vlot wil loop nie, en dat jy alles kan regkry sommer net met die normale tik van sleutels nie? Jy dink dan ook aan jou afkoms, en soms wonder jy hoekom jou omstandighede nie dalk eerder “engels” kon wees nie, want dit sou die insleutel van woorde baie makliker en baie eenvoudiger gemaak het. Daar is nie kappies of deeltekens nie.

Dit het natuurlik ook sy uitdagings, sou jy nou engels gewees het. Die laaste ruk vertaal ek ook hierdie blog in Engels, en alhoewel my engels goed is, kom jy gou agter dat, alhoewel jy nie kappies en deeltekens hoef te gebruik nie, dit nie so maklik is om jouself uit te druk en dieselfde boodskap oor te dra in ‘n ander taal nie. Daar is werklik net sekere dinge wat jy NET in afrikaans kan uitdruk. In my moedertaal, met hierdie sleutelbord en al die ekstra moeite wat ek moet doen, voel tog gemakliker en voel ek tog meer tuis. Soos ek hierdie skryf, dink ek onmiddelik hoe moeilik dit gaan wees om hierdie stuk in Engels te vertaal, want wat is deelteken en kappie in Engels.

So kyk ons na mense om ons, en ons dink en wens baie keer dat ons eerder in hulle “taal” kon leef. Hulle lyk gelukkig, dit lyk asof hulle nie probleme het nie, asof dit so lekker sou gewees het om soveel geld soos hulle te verdien of in so ‘n lekker huis te kon bly. Dit voel vir jou asof jou sleutelbord gemaak is vir hulle “taal”, en dat jou lewe eenvoudiger sou gewees het.

Maar om so jou lewe te “vertaal” is moontlik. Jy kan jouself indink in wat jy sou gedoen het en hoe maklik jou lewe sou gewees het, net om weer te besef dat jou eie persoonlike “taal” altyd die beste is vir jou. Jy, met jou konteks en agtergrond en situasie lyk dalk vir jou moeite en inspanning, maar God het jou geplaas in ‘n taal en in ‘n plek wat jou pas. God het ook vir jou die kennis gegee om te besef dat daar opsies is vir jou, al is dit moeite, om tog jouself met ‘n engelse sleutelbord, in afrikaans te kan uitdruk.

Ons kyk onsself disnis teen die feit dat ons sleutelbord nie outomaties loop nie, ons is nie altyd lus vir die inspanning van ekstra sleutels druk nie. Ons staar onsself blind teen die feit dat dit inspanning is, terwyl ons die feit misken hoe gelukkig ons is. Gelukkiger as mense in engelse lande, want ek kan met my sleutelbord baie meer vermag, want ek kan in Afrikaans ook skryf. Ons vergeet so maklik dat ons geseënd is met woorde wat kappies en deeltekens het.

Soos wat ons so wens dat ons lewens eenvoudiger kon wees in ‘n ander taal, besef ons nie dat ons sleutelbord dalk wel gemaak is vir Afrikaans. Ek sien nie die kappie met die eerste oog op slag nie, maar deur kennis en ontdekking van my sleutelbord, besef ek eintlik dat my persoonlike sleutelbord vir my legio meer opsies gee as wat ek ooit gedink het.

Partykeer neem dit ook nie net kennis nie, maar soos op my Blackberry vat dit soms die aflaai van ‘n applikasie soos “fancy smileys” om op my foon die leestekens te kan insit. Jy ontdek ook in jouself, net soos die applikasies, dat daar behalwe die kappie en deelteken ook fantastiese en oulike gesiggies en prentjies is waarmee ek my skryfstuk, sms, bbm en whatsup mee kan ophelder. Nou besef ek dat ek ‘n prentjie van ‘n knip-oog, drukkie en soentjie tot my beskikking het. Dan besef en verstaan ek dat ek die lewe kan ophelder, met my sleutelbord om sodoende dieselfde boodskap op te helder en snaaks en genotvol te kan maak.

Ons leef so maklik in ‘n droom en hoop dat ons lewens “anders” kan wees. Ons is so ongelukkig met ons sleutelbord dat ons lewens dalk begin om stil te staan. Daar vloei niks uit my uit nie. My “my documents” is leeg, net omdat ek onvergenoegd is met my sleutelbord wat kwansuis nie “pas” by my taal nie. Ek hou op leef soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie en in die hoekie gaan sit en huil.

Die Bybel is vol voorbeelde waar mense so graag ander omstandighede wou gehad het. Paulus vra vir God om die doring uit sy vlees te neem, net om herinner te word dat hy ‘n goeie werkbare sleutelbord tot sy beskikking het, die genade van God. Dawid, toe hy geroep is as koning van Israel, het gedink hy is klein, maar word herinner dat hy al die sleutels tot sy beskikking het om God se wil te doen. Moses wil nie sy volk uit Egipte gaan lei nie, want hy sukkel om te kan praat, en God herinner hom daaraan dat hy die sleutelbord van sy broer tot sy beskikking het wat hom kan help. Alles dinge om ons te herinner dat, alhoewel ons nie die deelteken met die eerste oog op slag sien nie, dit nie beteken dat dit nie daar êrens binne in versteek is nie. Dit beteken nie dat ons nie kan doen wat ons ookal wil, en kan doen wat God ons voor geroep het nie.

Ek dink aan die reeks MacGyver uit ons kinderjare. Soos julle kan onthou het hy sy mes gebruik en in moeilike situasies uitgekom deur net dinge wat reg rondom hom is te gebruik. Amper soos die spreekwoord: “’n Boer maak ‘n plan”. Partykeer kyk ons teen ons ooglede vas. Ons is so ingestel op die feit dat ons nie ‘n “klaargemaakte” wapen reg voor ons het nie, dat ons vergeet om rond te kyk van wat alles in ons en om ons is. Dinge wat ek soos MacGyver kan gebruik om my doel te bereik nie. God herinner ons op soveel plekke dat ons wel alles om ons het wat ons nodig het om te kan leef en ons doel te kan bereik. Nog meer so in die tyd waarin ons nou leef met tegnologie en kennis wat tot ons beskikking is. MacGyver sou nooit uit sy moeilike omstandighede ontsnap het as hy op ‘n hoop gaan sit het en gehuil het oor wat hy nie het nie.

So sit jy dalk vandag en jy is ontevrede oor jou sleutelbord. Jy voel dalk dat jy nie jou merk kan maak en jou doelwitte kan bereik met dit wat rondom jou of in jou is nie. Jy voel dalk dat jy nie inpas in afrikaans nie, omdat jy ‘n engelse sleutelbord het. Jy voel dalk dat die berg wat jy moet klim onmoontlik is omdat jy nie die regte toerusting het nie.

Ek het ‘n vriend op Universiteit gehad wie se ouers baie finansiëel gesukkel het. Hy was ‘n briljante sportman en wou graag gholf speel. Hy het egter nie geld gehad vir stokke nie. So het hy toe maar begin om by mense stokke te kry wat hulle nie meer gebruik nie. So het hy uiteindelik ‘n hele stel stokke bymekaargemaak, waarvan nie 2 stokke uit dieselfde stel kom nie. Mense het vir hom gelag as hy op die bof gestap het, want sy sak was ook vol gate wat die muise daarin gevreet het. Ons glo mos dat jy net kan gholf speel en konstant goed kan speel as jou stokke die beste is en persoonlik vir jou spel aangepas is. Hierdie vriend van my het menigte mense se geld gewen met sy mengelmoes stel. Hy het binne ‘n paar maande sommer ‘n 2 voorgee geword en briljante gholf gespeel.

Soveel mense wag totdat hulle toerusting perfek pas by omstandighede, voordat hulle aksie neem. Ons is ongelukkig omdat ons nie die perfekte sleutelbord het vir ons lewens nie. As jy gaan wag tot jou omstandighede perfek is, gaan jy soveel mooi sonskyndae mis op die gholfbaan. Jy gaan soveel geleenthede by jou laat verbygaan. So sterf baie mense met soveel drome in hulle harte, omdat hulle gewag het. Hierdie voorbeeld hierbo is ‘n uitstekende bewys dat jy, deur net bietjie moeite te doen, kan deelneem aan die spel, al is jou sleutelbord verslete. Jy is so ‘n intellegente wese wat jouself kan leer om aan te pas by alle omstandighede. Jy kan die vaardigheid aanleer om met krom stokke ‘n reguit hou te slaan.

Nike het seker een van die spreekwoorde wat die meeste in die lewe gebruik word: “Just do it”. Hoe lank gaan jy nog wag voordat jy leef? Miskien moet jy bietjie dieper delf in jouself en gaan soek na wat jy in jou binne-kas het, en gebruik wat jy het. Miskien moet jou ophou om te fokus op wat jy nie het nie, en dit as verskoning gebruik vir die feit dat jy nie aan die lewe deelneem nie. Soos die voorbeelde uit die Bybel ons leer, elkeen van ons het wat ons nodig het om voluit en gelukkige lewens te geniet, al is dit nie ooglopend nie.

Ek het lank in my lewe baie idees soos dit wat ek in my blog gebruik in my kop gehad. Omdat ek gevoel het dat ek nie goed skryf nie, en nie die regte woorde het nie, het ek niks daarmee gedoen nie. Toe besluit ek een dag om net te begin, dit net te doen. Ek het besef dat, alhoewel ek dalk nie die beste sinsbou het nie, en spelfoute kan maak, dit nie saakmaak nie, want wat ek wil sê kom nog steeds uit, te midde van tekortkominge.

Gaan leef vandag jou drome uit, moenie fokus op die tekorte op die oog af nie, maar kyk om jou rond wat jy tot jou beskikking het. Sit bietjie “effort” in, alles wat jy nodig het is in daardie sleutelbord van jou!

Gaan slaan ‘n reguit hou, al is jy ‘n krom stok.

Friday, January 27, 2012

Die belangrikheid van die konteks

Ek is mal oor die reeks “Chuck” en het gelukkig nou die hele nuwe reeks aanlyn gekyk. Wat vreemd is om so ‘n reeks so agtermekaar te kyk, is dat elke episode begin met ‘n opsomming van wat tot dusver gebeur het. Natuurlik is die reeks gemaak om een keer ‘n week uitgesaai te word, en mense vergeet wat gebeur het in die vorige episodes. Hierdie opsomming is ook nie net van die vorige episode nie, maar gaan partykeer terug na twee of drie episodes voor dit. Dit is duidelik dat as jy nie weet wat die konteks is van wat gebeur het in vorige episodes nie, jy geen idee gaan hê waaroor die huidige episode handel nie.

Die definisie van konteks is eenvoudig. Dit is informasie oor gebeure in die verlede wat lig werp op die verstaan van die hede. Dit is die storie van mense van hulle reis en wat hulle hier gebring het, hulle denke, idees en kultuur. Konteks is belangrik, aangesien ek daarsonder sekere aannames maak en die huidige episode vir my geen sin gaan maak nie. My oumagrootjie het altyd gesê: “My kind, jy kan nie weet hoe iemand se voete voel as jy nie in hulle skoene geloop het nie”.

In sielkundige sessies, vra die terapeut altyd vir jou vrae. Daar is baie grappies hieroor, maar hulle doen dit met ‘n rede. Jy is nie hier waar jy nou is per ongeluk nie. Daar is ‘n storie agter die storie, en die storie gee vir ons die antwoord oor hoekom jy hier is. Dit vertel vir ons hoekom jy so voel, hoekom jy so optree en ook hoe jy in die toekoms dinge gaan hanteer en doen. Almal het ‘n konteks en ‘n storie.

Om die konteks mooi te verduidelik, kom ons neem die voorbeeld van somme maak. Kom ons gebruik die voorbeeld van die getal 2 as die antwoord. Deur my vraag na die konteks, verstaan ek wat bo die lyn gebeur het om by die antwoord uit te kom. Dit is daardie a-ha oomblik waar jy besef dat die persoon 1 en 1 bymekaar getel het om by 2 uit te kom. Konteks is dus belangrik sodat ek die hele som kan verstaan.

So kan ek net mense om my verstaan en met hulle saamleef as ek hulle hele som verstaan. Ons weet mos wat gebeur as jy “assume”, jy maak ‘n gat van jou en van my. Daar is natuurlik verskeie maniere om by die antwoord van “2” uit te kom, jy kan byvoorbeeld 1 van 3 aftrek. Maar dit is jou manier, maar dit is nie die enigste manier nie.

In jou eie bestaan, en in verhoudings met ander leer ons baie keer dat jy eers moet verstaan, voordat jy verstaan kan word. Ek dink dat baie verhoudinge tussen mense verkeerd loop oor die tekort aan kennis van die konteks. Daar is twee redes hiervoor, die een is natuurlik aannames (dat almal dink en doen soos ek en na die wêreld kyk deur my kleur bril) en die onvermoë om ander maniere van doen en dink (konteks) te aanvaar as nog ‘n opsie om by die antwoord uit te kom en mense te dwing om dit op my manier te doen.

In beide gevalle gaan dit nooit oor die ander persoon nie, maar oor myself. Om iemand se konteks nie in ag te neem nie, of daarna te vra nie, beteken ek gee gladnie om nie. In verkope leer ons dat jy iemand se guns en vertroue wen deur hulle uit te vra oor hulle konteks. Jy vra vrae oor waar hulle vandaan kom, of hulle kinders het en wat hulle stokperdjies is. Mense hou daarvan om hulle stories vir jou te vertel. In verkope is die doel natuurlik selfsugtig, want jy wil iets aan hulle verkoop, en kan dit net doen as hulle jou vertrou. Die beginsel is egter dieselfde as in verhoudings. Iemand wat vir my omgee doen moeite met my en stel belang in my storie en laat my toe om my storie te vertel.

Wanneer ons in verhoudings mense toelaat om hulle storie te vertel, gaan dit oor die erkenning van hulle menswees. Dit is die belangstelling in iemand en die aanvaarding dat hulle hulle eie storie mag hê. En hoe meer ons mense toelaat om hulle stories te vertel, hoe meer vertrou hulle ons, en hoe dieper gee hulle ons ‘n loerkans in hulle siele. Hoe meer jy van iemand weet, hoe beter is jou verhouding met daardie persoon.

Dit is soos jou vrou wat by die huis kom na werk en so bietjie ontstoke is. Deur navraag te doen oor die agtergrond daarvan en dat dit haar baas is wat iets van haar verwag het om klaar te maak op die nippertjie voor sy moes ry, werp lig op haar houding. As ek nie navraag doen nie, gaan sy in die eerste plek voel dat ek nie omgee nie, en kan dit tot konflik lei. As ek nie navraag doen oor die agtergrond van die woede nie, kan ek dalk die aanname maak dat ek iets verkeerd gedoen het en sy vir my kwaad is.

Jy sien, deur vrae te vra, maak jy jou verstaan van ‘n situasie soveel beter. Jy kan agterkom hoe die ander persoon werk, jy sit met die antwoord van 2, maar jy leer dat een persoon ‘n “plus” mens is wat altyd dinge wil plus, so om by jou antwoord uit te kom, gee getalle vir hulle wat hulle kan optel. Ander mense is weer “aftrek” mense, daarom weet ek dat ek vir hulle getalle moet gee om af te trek om by die antwoord uit te kom. Al kan mense my verras, in die meeste gevalle kan hulle nie verander wie hulle is nie, hulle kan verseker ook nie teruggaan in die verlede en hulle konteks en wat met hulle gebeur het verander nie.

Dit is makliker om mense te hanteer, soos wat hulle is, want dit bring baie minder spanning as om van hulle te verwag om iets te wees wat hulle nie is nie. Ek moet ook nie mense kritiseer vir hulle konteks nie, want dit is iets wat hulle nie altyd oor beheer het nie. Ek moet nou maar eenmaal dit aanvaar, wat natuurlik die toppunt van liefde is, om iemand toe te laat om hulleself te wees. Wat maak dit nou in elkgeval saak as iemand ‘n optel-mens is, en ek ‘n aftrek-mens is, solank ons by dieselfde antwoord uitkom wat ons beide na soek.

Ons kan natuurlik in ons interaksie met mense leer om beter te kommunikeer. Ek het dalk net in ‘n situasie die twee getalle 3 en 1, en alhoewel my maat ‘n optel-mens is, kan ek mooi vir hulle verduidelik dat hulle in hierdie spesifieke situasie, dalk eerder moet aftrek, as om op te tel. Ek doen dit nie omdat ek hulle kritiseer oor die feit dat hulle optel-mense is nie, maar eerder omdat die omstandighede vir my ‘n 3 en ‘n 1 gee, en omdat optel nie in hierdie situasie gaan werk nie. Onthou altyd dat, as jy mense met verskillende idees bymekaar sit, gaan mense altyd terugval op wat hulle ken, en altyd eerder wil optel as aftrek. Mense is nou maar eenmaal mense van gewoonte, maar deur effektiewe kommunikasie, en ken van my maat, kan ek vir hulle die syfers gee wat nodig is, en hulle bekragtig deur hulle toe te laat om hulle natuurlike manier en natuurlike konteks te laat deurvloei na die antwoord toe.

Ons ken ook die spreekwoord oor konteks in Engels wat sê: “Every whore has her story”. Alhoewel ek ‘n konteks van my eie het, is dit nie nodig dat my konteks ‘n verskoning word vir wat ek doen nie. Elke liewe dag skep ek konteks van more, so ek het ‘n keuse elke dag hoe ek optree.

Veral wanneer die getalle met optel nie by die regte antwoord uitkom nie, moet ek myself ook ken, en aanpas. Ek kan nie van eeue se wiskundiges verwag om skielik die getallelyn te verander om my te pas nie. Ek moet daarom myself ook ken. Ek moet weet dat my tendens van optrede is om op te tel, maar genoeg kundigheid aan die dag lê om te weet dat ek met die getalle tot my beskikking, soms moet aftrek, maal of deel.

Soms is ons so kwaad vir die wêreld omdat die getalle wat ek kry, nie met optel by die antwoord wat ek verlang kan uitkom nie. Ek gooi ‘n depressie en ‘n aggressie, nie omdat die antwoord verkeerd is nie, maar omdat ek nie aangeleer het om aan te pas by die getalle wat ek in die som het nie. Jy het natuurlik al die reg om gemakliker te voel met optel, maar die lewe gaan nie altyd oor jou gemak nie, maar of jy by die antwoord wat jy soek gaan uitkom. Soms moet ek diep delf, en dalk die hulp van ‘n sakrekenaar of Excel inroep om my te help, maar daarmee is ook nie fout nie.

So, alhoewel ek en die mense om my elkeen ons eie stories het wat ons in ag moet neem, mag dit nooit ‘n verskoning word nie. Ons kry onsself jammer omdat ons somme nie uitwerk nie, maar dalk het dit te doen daarmee dat ek nie my konteks verstaan en weet dat ek ‘n optel-mens is nie. As ek weet wie ek is, en dat ek ‘n optel-mens is, kan ek maklik teruggaan op my stappe en gaan kyk wat ek verkeerd gedoen het. Stoere mense gebruik hulle konteks as verskoning, groeiende mense leer daaruit en maak hulle lewens verder baie beter, deur ander dinge aan te leer, soos om af te trek, te maal en te deel, sodat hulle by die antwoord uitkom wat reg is.

Die hele wêreld handel oor kommunikasie, en ek kan net kommunikeer as ek myself en die om my se konteks, werkswyse en optredes verstaan. Selfkennis is die begin, want dit gee vir my die spieël waarteen ek ander se konteks kan opweeg, waar ek raakpunte en werkswyses in kan beoordeel.

So vandag, gaan doen moeite om uit te vind hoe jou kop werk, en hoe ander om jou werk. Hanteer mense se konteks met deernis en sonder oordeel. Gee die mense om jou getalle wat hulle maklik en met hulle eie konteks-manier by die regte antwoord gaan uitbring. Wees aanpasbaar en probeer nuwe maniere om by die antwoord uit te kom, want as jou antwoord nie reg is nie, is die probleem nie altyd die getalle nie, maar hoe jy daarmee werk.

Geniet jou dag!

Thursday, January 26, 2012

Foon oorlog

Toe ek nog klein was het my ouers en hulle vriende in 3 faksies geval. Daar was die wat Mercedes-Benz aangehang het, die wat BMW aangehang het en ander wat ander Japanese en Amerikaanse motors besit het.

Ek onthou hoe hulle aande om gestry het oor duursaamheid, spesifikasies en tweedehandse waarde. Nou nog sal my ouers net tevrede wees as ek 'n Mercedes koop.

Vandag sien ons dieselfde met selfone. Jy het jou stoere BBM-ers, jou i-phone appilikasie-vingerskuif ouens en dan die Android aanhangers. So probeer ons mekaar oortuig dat my keuse die beste was. Vir elke redenasie is daar 'n teenkant. Ouens met die Blackberry gebruik "BBM" as 'n groot pluspunt en die i-phone ouens dat hulle Whatsup kan gebruik. Die i-phone skare wys vir jou die applikasies en interaksie met hulle i-pad en i-pod.

Ons leef in 'n wêreld met legio keuses. Toe selfone uitgekom het, het almal omtrent Nokia baksteenfone gehad. Hy was groot en ongemaklik en kon bel, oproepe kry en SMS. Dit was wonderlike tegnologie vir die tyd.

As daar beperkte keuses is, het ons nooit nodig om onsself en ons keuses te verantwoord nie, maar ons dink as ons baie keuses het, dat ons moet verduidelik en ander moet oortuig van ons besluit. Dit is 'n vreemde verskynsel by mense, om hulle plekkie en keuse nie net te verantwoord nie, maar ander ook te oortuig om ook te koop wat ons koop.

Tydskrifte ontstaan wat oor die onderwerpe handel, vergelykings te maak en aanbevelings te doen. Die foon se spoed is vinniger as die ander, die een se probleme is dit en dat. Dit is natuurlik belangrik vir ons wat nie kenners is nie om sodoende 'n besluit te kan maak. Soms maak dit ons ook so deurmekaar dat ek eerder wag om op te gradeer, omdat informasie soms meer onsekerheid kan bring.

Elke dag word jy hiermee gebombardeer, nie net selfone nie, maar verhoudings, jou werk, jou opvoeding van jou kinders, oefenprogramme, diëte, godsdiens, restaurante, vakansies, vriende, beleggings, polisse en selfontwikkeling.

Elke dag sit slim mense orals en dink allerhande nuwe spesifikasies vir elke moontlike ding uit. Spesifikasies wat hulle die "edge" gee bo die kompetisie, om mense te oortuig om hulle produk te neem. As jy dus die keuse gemaak het om jou selfoon op te gradeer, is daar more 'n nuwe model en is jou tegnologie "agter".

Wat vreemd is, is dat gewone mense soos ons dalk net 'n fraksie van die tegnologie in ons hande effektief gebruik. Ons betaal vir dinge wat ons dink ons nodig het, terwyl dit gladnie noodsaaklik is nie. Baie van die tegnologie wat ons oortuig om iets te koop is ook nie goed vir jou nie. Soos BBM en Whatsup laat mense nie meer praat nie, maar eerder met teks kommunikeer. En die taal wat ons gebruik is opgemaak uit afkortings en "slang", wat mense laat verleer om ordentlik te spel.

Hoe meer dae, hoe meer dinge is daar, en jy sal dalk nooit op die totale voorpunt van dinge wees nie.

Baie mense is in ons tyd deurmekaar en "confused". Op elke vlak van die lewe staan jy in 'n supermark met legio standpunte en opsies. Spesifikasies wat jou totaal deurmekaar maak, dinge wat jy verstaan en wat jy nie verstaan nie, ook baie dinge wat jy jou kop oor breek wat jy nooit gaan gebruik nie, maar wat jou laat wakker lê in die nag.

'n Paar dinge moet jy onthou in hierdie maalkolk van 'n wêreld.

Daar gaan altyd verskillende opinies wees, want mense verskil. Dit is deel van menswees, maar net omdat my vriend 'n i-phone het en ek 'n Htc, verander dit iets aan ons vriendskap? Ons kan mekaar tog steeds bel en 'n platform soek waar ons kan kommunikeer soos Whatsup.

Verskille en kompetisie tussen produkte en mense is goed, want dit laat mense streef daarna om innoverend en in hulleself beter te word. As almal dieselfde was, sou die lewe baie eentonig gewees het.

Net omdat iemand nie op die vlak van tegnologie is as my Blackberry nie, beteken dit nie dat ek beter of slegter is nie. In die tyd toe my Blackberry gesteel is, het ek 'n ou Nokia gebruik, en my lewe het nie gestop nie. Ek kon steeds leef, bel en deelneem aan die rotresies. So ek hoef ook nooit terug te staan en minderwaardig te voel oor my tegnologie nie, en ek mag die om my, wat dit nie het nie, ook nie uitsluit of minderwaardig laat voel nie. Net omdat iemand nie BBM of Whatsup het nie, kan ek die grappies vir hulle aanstuur op SMS.

Daar is geen foon of standpunt wat die "ultimate" is nie. Niemand het die finale antwoord nie. Funksionaliteit is waaroor dit gaan, solank dit wat ek het en dink op daardie oomblik my doel versadig, dan is dit die regte een vir my.

Ek moet ook oop wees vir nuwe tegnologie en idees. Soveel mense loop rond met hulle baksteenfoon-idees. Sy battery hou nie, en ek is nie bereikbaar vir ander nie. Kyk na die nuwe dinge in die lewe, elke nuwe idee op die mark het ten doel om die lewe beter te maak. Kyk daarna, want dit is gratis en vry, en hoekom dit nie gebruik nie? Wees dus oop vir nuwe idees en nuwe dinge. Niks in die lewe is konstant nie, maar in beweging vorentoe.

Soek uit wat vir jou werkbaar is. Soveel fone het funksies wat ek nie kan hanteer nie. Ons stel onsself bloot aan idees wat nie vir ons werk nie, en eintlik meer spanning in my veroorsaak as genot. Ek kan die mooiste foon by my vriende neersit, maar as dit nie in my basiese behoefte voldoen nie, en ek nie eers kan bel nie, wat help dit my?

Alle fone is feilbaar en gaan breek. Fone het waarborge op, maar nooit vir die durasie van die foon se bestaan nie. So weet ons ook dat dit wat vandag bestaan ook nie vir altyd gaan hou nie. Niks is gewaarborg vir ewig nie. Wees dus voorbereid en oop vir nuwe idees en bewus dat wat jy dink en doen moontlik gebreek is. Net omdat dit uitgedateer kan raak of kan breek, help dit ook nie dat ek my foon in die boksie in 'n kas toesluit nie. Gebruik dit en geniet dit. Niemand kan in die toekoms sien nie, maar net omdat die toekoms onseker is en mag breke insluit, kan ek vandag nog bel. As ek nie vandag my foon uit vrees nie gebruik nie, is dit reeds "gebreek".

Erens moet ek keuses maak. Net omdat daar elke dag nuwe fone op die mark is en ek wag vir die "beste" foon of geleentheid, gaan ek vir altyd sonder 'n foon wees. Soms gaan dit nie oor spesifikasies nie, maar watter foon my pakket voor kwalifiseer, wat vir my mooi lyk of wat lekker in my hand pas. Jy moet dus kies, sodat jy kan deelneem aan die lewe. Niemand kan sonder keuse en standpunt leef nie, dan is jy onbereikbaar.

Die laaste punt is, geniet die voorreg om in aanraking te kan wees. Geniet jou foon en leef hom voluit uit. Bel, BBM, Whatsup, gaan op die internet, laai programmetjies en speletjies af. Geniet wat jy het en hou op om te bekommer en te stress oor wat jy nie het nie. Watter foon jy ookal het, moet dit nie so ernstig opneem nie, dit is net 'n foon. Gaan maak die beste van dit, miljoene mense is dolgelukkig vandag sonder dat hulle 'n i-phone 4 het. Moet dus nie wag tot dinge in plek val voor jy gaan deelneem en 'n lekker gesprek met mense het nie. Die lewe is hier en nou, laat jou stem gehoor word en ook jou lag, te midde van die feit dat jy nie kan BBM nie.

Gaan leef, gaan lag, gaan geniet vandag!

Tuesday, January 24, 2012

Talente

Aan die begin van die jaar maak almal nuwe planne van wat hulle die jaar gaan doen. Ons hoor by die skool en in die kerk allerhande stories wat vir ons kinders vertel word oor talente, en hoe hulle dit moet uitleef hierdie jaar. Oraloor word die verhaal van die diensmeisies en die slawe vertel. Die een van die diensmeisies handel oor die lampies wat onder die maatemmer gesit word, wat rofweg beteken dat jy jou lig in die wêreld nie mag wegsteek nie, maar moet uitleef.

In die verhaal van die slawe sien ons dat daar 3 slawe is. Die eerste kry 5 talente (muntstukke), die tweede kry 2 en die derde kry 1. Toe die eienaar terugkom het die eerste en die tweede hulle talente verdubbel deur daarmee te woeker, terwyl die derde uit vrees om dit te verloor, sy talent begrawe het sodat hy dit vir die eienaar kan teruggee soos hy dit gekry het. Die uiteinde van die storie is dat die eerste twee beloon is met nog talente, terwyl alles van die derde weggeneem is.

Soos ons natuurlik vir ons kinders verduidelik hoe die storie werk, wonder ek toe so ‘n bietjie by myself wat ek en jy met ons talente doen. Jy sien, ons het ook talente in sport, sosialisering, kuns ens. As jy net kyk hoe vol ons kinders se dae is met die uitleef van hulle talente, wonder ek toe wat van my talent-uitlewing geword het. Ek praat nie hier net van drome nie, maar my talente rondom musiek en sport. Dit wil my voorkom dat ons so besig word met ons werk en ons gesinne, dat daar natuurlik min plek is daarvoor. Nie almal het die tyd om onsself te gaan uitleef nie.

So wonder ek toe of dit nie dalk die rede is hoekom ons so depressief en ongelukkig in ons lewens is nie. Ek vat gladnie weg van die feit dat dit talent neem om te werk en kinders groot te maak nie, en ook nie dat ons dae gevul is met verantwoordelikhede nie. Maar so was ook die slawe in ons verhaal, hulle het sekere dinge gehad wat hulle eenvoudig moes doen as deel van hulle verantwoordelikheid teenoor die eienaar, maar tog het hulle nie vergeet van hulle talente en om daarmee te woeker nie.

Dalk is dit juis die rede hoekom daar niks is wat ons na uitsien in die dag nie, en wat ons ongelukkig maak oor die dag van more nie. Is ons nie dalk so vasgevang in die alledaagse stress en spanning, dat ons uitlaatkleppe wat ons probeer nie werk nie? Wanneer laas het jy voor jou klavier gaan sit, al is dit net vir 5 minute en jouself uitgeleef? Wanneer laas het jy daardie skoon stuk karton geneem en geverf?

Jy sien, die ding van talente is dat dit deel van jou opmaak is. Elke mens se talent lyk anders, en sommige het meer as ander. Die uiteinde daarvan is eenvoudig dat dit deel van jou is. En belangriker as dit, as jy dit nie gaan uitleef nie, gaan jou vlammetjie doodgaan en gaan dit van jou “weggeneem” word. Ek stem ook saam daarmee dat hoe ouer jy word, jy allerhande nuwe dinge in jouself ontdek wat jy kan uitleef. Dit gaan nie hier oor die lysie van dinge wat jy nou kan doen nie, sjoe, ek kan net dink hoeveel spiere ek gaan skeer as ek nou skielik gaan probeer om ‘n 100m te hardloop. Maar dit is dalk net ‘n voorbeeld daarvan dat as ek aangehou hardloop het en nie opgehou het nie, ek dalk nou vir veterane kon gaan hardloop het en gesond gebly het.

Soos die eienaar teruggekom het om rekenskap te vra oor wat die slawe met die muntstukke gedoen het, so is dit nie noodwendig oordeel van God nie, maar ‘n oordeel wat elke dag in ons lewe te siene is. Soveel mense wat ongelukkig en depressief en hartseer is. Mense wat voel dat hulle niks het om voor te leef nie. Dan weer sien ek mense van 70 plus wat hulle skilderye teken en op facebook vir ons wys. Ek sien my oom van 75 wat nou in die komende maand etlike klavierkonserte kom hou in Suid-Afrika. En as ek moet eerlik wees, is mense wat hulleself op hierdie manier uitleef, die gelukkigste.

Ek sien nie net in kuns nie, maar ook in sport hoe my vriende wat fietsry en hardloop gelukkiger lyk en makliker met die lewe omgaan. Hulle lyk vir my minder ongelukkig en depressief. Hulle lyk en voel gesond, wat natuurlik oorspoel na hulle verhoudings, ouerskap en werk. Hulle is opgewonde oor die genot wat hulle daaruit put om hulle talente uit te leef.

Ons preek so maklik vir ons kinders ook dat dit nie gaan oor HOE goed jy is in wat jy doen nie, maar dat jy dit doen. Genot is nie in die uiteinde en dat mense my skilderye moet koop vir miljoene nie, en ook nie dat ek die Comrades marathon wen nie. Ware genot gaan oor die uitleef van my talente, en dat ek ook begin doen wat ek vir my kinders preek. Miskien is dit ook hoekom kinders, wanneer hulle tieners is, nie meer met ouers wil praat nie, want ons eie dade pas nie by ons preke nie. Hulle glo ons eenvoudig nie meer nie.

So sien ek my vriende wat sport beoefen, dat hulle kinders outomaties dit by hulle aansteek. Ek kan onthou dat my liefde vir tennis en gholf gebore is uit die feit dat ek elke naweek dit saam met my ouers gedoen het. Ek het natuurlik ‘n keuse gehad om langs die veld te sit, maar dit begin uitleef. Dit was van die wonderlikste tye van my lewe, om so saam met hulle ‘n hele dag te spandeer. Hulle voorbeeld het my aangespoor om dit ook te doen, want dit was ons lewenswyse, wat gedraai het rondom sport.

Miskien is dit die oorsaak van soveel ongeluk in die wêreld rondom ons, dat ons nie ons talente beinvloed nie. Jare terug het ek musieklesse geneem, maar nou sukkel ek om my kitaar te stem. Alles vat my soveel langer om te doen. Gister ry ek hier in Pretoria in Atterburyweg, en daar is plakkate op van musiekklasse van mense wat nou bietjie ouer is, en skielik dink ek dat ek dit moet begin doen weer. Weer so ‘n bietjie kreatief word, ietsie nuuts leer en my talente uitleef.

Het jy dalk so ‘n bietjie vergeet wie en wat jy is? Het jy so bietjie daardie talente wat jou definieer in die kas gaan pak? Onthou dat dit nooit te laat is om jouself te begin uitleef nie. Dit maak nie saak of jy ‘n springbok gaan word in wat jy doen nie, maar die woekering daarmee is waaroor dit gaan.

Daar is een belangrike les wat ons almal weet, dit gaan nie oor die prys wat ek kry as ek iets doen nie, maar oor die passie waarmee ek dit doen. Dit bring geluk, en hoe meer passie ek in my lewe instoot, hoe meer passie en energie kry ek om soveel ander dinge te doen. Ek sien so baie mense wat gymnasium toe gaan om ‘n lyf te bou of om gewig te verloor, maar eintlik gaan dit oor die lekker daarvan en die voorreg om te oefen. Die lyf en gewig sal vir hulleself sorg, solank jy wat jy doen met passie doen en geniet, sal alles uitwerk soos dit moet.

Dalk moet jy bietjie in daardie stowwerige kas in die huis gaan soek en jou rakket, gholfstokke, papier, kryte en verf gaan afstof. Dalk moet jy daardie kitaar gaan laat hersnaar of reel met die skool of kerk om bietjie tyd op ‘n klavier te gaan spandeer. Gaan vind jou passie en jou talente, dalk vind jy daarin weer wie en wat jy is, en dan spoel daardie passie oor na jou hele lewe. Moenie wag nie, doen dit NOU, doen dit elke dag met passie. Die rentmeesterskap word nie getoets eendag nie, maar in jou lewe nou.

Geniet jou dag!

Friday, December 23, 2011

Die kuns van niks doen

Vanoggend staan ons op en met al die mense in die huis was die huis maar in chaos gedompel. Die bediende is op verlof, so dit is maar ons werk nou om die huis skoon te maak. Skottelgoed was, vloere skoonmaak en stofsuig. Nou sit ek hier en ervaar hoe lekker skoon alles is, tot die eerste kind weer begin verbystap met ‘n broodjie in ‘n skoon bordjie. Aai, so begin alles weer van voor af.

Een ding is seker en dit is dat ons nie kan funksioneer in chaos nie. Alhoewel almal weer gaan omkrap is dit beter dat hulle omkrap nadat ons skoongemaak het. As hulle verder omgekrap het sonder dat ons skoongemaak het kan ek net dink hoe die chaos sou vermenigvuldig het. As daar 2 borde is om gewas te word is ‘n mens se gemoed lig en pak jy dit vinnig aan. As die hele wasbak vol skottelgoed van 5 dae is, voel ‘n mens sommer depressief en sleg. Dan voel dit soos ‘n berg om geklim te word. Dan voel ‘n mens nie eers lus om ietsie lekker aanmekaar te slaan nie. En sodoende verloor ‘n mens sommer totaal jou lus vir alles as alles om jou deurmekaar is.

‘n Mens se siel wil maar eenvoudig funksioneer met ‘n mate van orde en beheer. Alhoewel ‘n mens op vakansie bietjie wil rus, kan ‘n mens ook nie rus voordat alles nie mooi skoon en op hulle plek is nie. Ons omstandighede om ons is ongelooflik belangrik vir ons siel. Net soos die wereld rondom ons skoon en mooi en georganiseerd moet wees, het ons siele en gedagtes dit ook nodig. Ek onthou dat mense jare terug die tyd en moeite gedoen het om in die oggende stil te word voor die harwar van die dag begin. Geleentheid gemaak om hulleself te orden en reg te skud en te beplan.

Ons wereld is gejaag en vol klanke en geluide rondom ons. Stilte is moeilik om te kry. Soos ek hier sit en skryf hoor ek die hardeskyf, ek hoor die ander rekenaar se waaier, ek hoor Mickey Mouse Clubhouse se liedjie op die televisie en elke nou en dan ‘n kind wat skree of ‘n BBM wat deurkom en ‘n foon wat lui. Sit nou daar waar jy is en let bietjie op hoeveel geluide jy hoor en of stilte enigsins te vinde is. Ek dink nie ons besef hoeveel klanke en geluide ons elke oomblik om ons hoor nie, en dit alles moet gefilter en uitgeblok of ingeneem word. Daar gaan altyd geraas wees, net soos wat daar altyd kinders gaan wees wat hulle speelgoed die hele vloer rondgooi en weer vuil maak.

Ek is nogal iemand wat baie sukkel om stil te word. Selfs toe ek gestudeer het was my musiek aangeskakel. Ek lees graag terwyl ek voor die televisie sit. Soms speel ek op die internet terwyl ek iets anders doen. Ek voel ek moet die hele tyd besig bly met iets. So het ons kindertjies in ons huis wat die hele tyd mors en speel. Om hulle te kry om stil te sit of te bly is maar moeilik, net soos wat die geraas om jou bitter min gaan stil word. Soos ek my kinders leer, so leer ek myself ook om soms stil te word en niks te doen nie. In die film “Eat, Pray, Love” word ‘n oulike term gebruik naamlik “The art of doing nothing”.

In hierdie vakansietyd gaan mense probeer rus. Ek sukkel daarmee om die kuns van niks doen te bemeester. Ek wil die hele tyd met iets besig wees en sukkel om af te sluit. Maar dit is nodig, al is dit net vir ‘n oomblik of twee op ‘n dag. Die kuns om absoluut stil op ‘n plek te sit, sonder ‘n telefoon in jou hand, sonder ‘n boek en sonder enigeiets wat jou aandag kan aftrek van jouself. Erens moet jy begin om die skottelgoed in jou kop te was. Erens moet ‘n mens daardie stilte kry en skoonmaak voordat die geraas en die stress en die spanning weer begin.

In die Oosterse godsdienste word die term gebruik dat daar in ‘n teekoppie wat vol is nie meer plek vir nog tee is nie. So is dit ook met ons. Op een of ander stadium word die geraas om jou soveel dat jy moet begin klanke sagter en af sit om plek te maak. Daardie gevoel dat jy net eenvoudig nie kan dink nie omdat jou kop te vol is.

Watter tegniek jy ookal toepas om dit gedoen te kry maak nie saak nie. Die tipe skottelgoedseep wat jy gebruik is nie belangrik nie. Dis nie belangrik of jy met staalwol of ‘n lappie die skottelgoed was nie. Die belangrikste is om die skottelgoed gewas te kry en orde te skep. Jy sal voel of ervaar dat die oomblik wat jy kop skoongemaak het, jy skielik weer kans sien vir nuwe dinge. Jy sal weer lus word om spesiale dinge te doen en ‘n nuwe dis op te toor.

Soms is ons so vasgevang in die draaikolk van ons gedagtes dat ons aan niks nuuts of mooi kan dink nie. So sien ek mense om my wat hulleself deur tyd so vasgedraai het in ‘n manier van dink en nooit meer anders kan dink nie. Omdat hulle nooit die skottelgoed was nie, hoop die skottelgoed op en op. Later kan hulle nie meer ander se sienswyses aanvaar nie.

My rekenaar is die laaste ruk vreeslik stadig omdat daar nie meer vreeslik baie plek is nie. Toe begin ek om die rekenaar te “defrag”. Dit orden net weer al jou data en groepeer die informasie wat belangrik is bymekaar. Die oomblik toe ek dit klaar gedoen het is daar skielik weer plek en spoed. Gebruik hierdie tyd van rus en “defrag” so ‘n bietjie jou kop en was die skottelgoed om plek te maak vir alle nuwe idees en uitdagings wat vir jou wag in die nuwe jaar.

Geniet die vakansie!

Mojo

In die film “Austin Powers” word die storie vertel van die geheime agent wat sy Mojo verloor. Sy Mojo is die brandstof wat hom spesiaal maak. Dit is sy essensie en dit wat hom definieer. Dit is dit wat hom motiveer om homself te wees. Sonder dit kan hy nie leef nie, lag niemand vir hom nie en kan hy nie werklik funksioneer nie. Sonder sy Mojo kan hy dus nie wees wie hy moet wees of doen wat hy moet doen nie. Hy gaan dus op ‘n spesiale missie en reis om hierdie Mojo van hom terug te kry, totdat hy uiteindelik weer homself is en spesiaal kan wees.

Ek, en soveel mense om my, voel baie kere in die lewe presies dieselfde. Dit voel vir jou asof iemand jou essensie, jou visie, jou drome, jou ideale, jou menswees of jou siel van jou gesteel het en êrens in ‘n plek in ‘n konfytbotteltjie gebere het. Nou voel jy asof jy geen petrol het nie. Jy is nie meer ‘n aktiewe deelnemer aan die lewe nie, maar sit langs die kant van die rivier en beskou almal wat aangaan en lag en speel in die rivier wat by jou verbyvloei. Jy sien selfs die “evil villains” wat verantwoordelik kan wees. Jy bekyk hulle en hoor en sien daardie “evil laggie”, Ha-Ha-Ha-Ha wat hulle so uit hulle maag uit kraai. Jy voel asof jy totaal magteloos is en dat jy eintlik net in ‘n bondeltjie wil opkrul en vergaan.

Vir jou is dit erg, want te midde van wat in jou kop en hart gebeur, vloei die rivier steeds. Mense speel en lag en dit voel asof hulle by jou moet kom sit en alles moet “pause”, omdat jy so voel. Jy dink in jou hart dat hulle onsensitief is vir jou gedagtes en gevoelens. Hulle hanteer jou met disrespek. Austen Powers het so van partytjie tot partytjie gegaan en ook hartseer gevoel. Hy het nie geweet hoe om op te tree nie, want hy was nie homself nie.

Iemand het een keer vir Paolo Coelho gevra wat jy moet doen wanneer jy so voel. Hy het ‘n wonderlike antwoord gehad: “Get up and show up”. Dit is seker die beste raad wat jy iemand kan gee, want net soos Austen Powers is wat jy soek, stroomaf. Daardie botteltjie van dinge wat jou aan die gang hou is vorentoe. Coelho het ook ‘n vreeslike oulike boek daaroor geskryf: “Like a flowing river”. Die lewe is maar een keer so, jy moet saam met die vloei gaan, jy kan nie terugkyk nie, want dit is die verlede. Jy moet in die rivier wees. Jy kan net wen as jy in die wedloop is.

Miskien is dit vandag jou oomblik om nie noodwendig net in te spring in die water nie, maar dalk net jou voete vir eers in die water te sit, dan tot by jou boude, dan tot by jou skouers en dan jou kop onder die water te druk. Nie alles hoef in een oomblik en onmiddelik te gebeur nie. Dit neem baie keer tyd.

Soms voel dit asof jy nie mojo het om vorentoe te gaan nie. Maar, daar is gewoonlik so ‘n bietjie in reserwe wat jy oor het. As jou geel brandstofliggie aangaan, moenie vandag daardie klein bietjie mors en by die huis sit en nie ‘n vulstasie gaan soek nie. Die wêreld is deesdae volop met plekke en situasies waar jy jou kan gaan vol maak. Gaan lees ‘n boek, gaan kuier by iemand of kyk ‘n mooi film. Toe ek ‘n student was met min geld het ek nooit my motor vol gemaak nie. Ek het daardie R20 ingegooi om te kom waar ek wil wees, van bestemming tot bestemming. As jy laag is en laag voel, moenie kwaad wees en niks doen net omdat jy nie kan “vol” maak nie. Elke groot reis in die lewe begin met ‘n enkele tree.

Ek het al die voorbeeld gebruik van maagspiere. Jy gaan nie die eerste dag, of die eerste week die totale uitslag sien en ‘n sespak kry nie, al doen jy vandag 5000 opsitte. Om jou mojo terug te kry vat ‘n eerste stappie, staan op en raak betrokke. Doen net iets. Mense sit stil en doen niks nie as hulle nie die volle brandstoftenk kan vol kry nie. Baie kere vra die plekke waar jy wil wees nie ‘n volle brandstoftenk nie, maar dalk net R20. Ons is so ingestel om dinge perfek te kry, dat ons die klein dingetjies mis.

My ma en oom Corrie het vreeslike oulike dinge gedoen. Hulle het byvoorbeeld uitgegaan en gekyk watter lekker dinge hulle vandag kan doen met R20. Jy sal verbaas wees oor die lekker en mooi wat jy kan ervaar. Hierdie jaar bly ons Desember by die huis, en net omdat ek nie by die see is nie, beteken gladnie dat ek nie kan gelukkig wees nie.

Een ding wat jy gaan ervaar is dat as jy elke dag net ‘n klein bietjie brandstof in jou motor gooi, jy kort voor lank met ‘n vol motor gaan sit as jy kort ritte doen. In babatreetjies kom ‘n mens ook in die kraal.

Ons leef in ‘n land waar ‘n mens maar altyd bang is vir mense wat jou gaan aanval. Natuurlik is daar gevare in alles. Meeste ongelukke gebeur naby jou huis, of so sê die mense. Die lewe is vol dinge wat nie lekker is nie, of jy ervaar dit nie lekker nie. Mense gaan jou teleurstel op jou reis, maar op dieselfde reis is daar ook mense wat jou gaan gelukkig maak. Net omdat daar moontlike gevare op die pad is, beteken nie dat jy by die huis moet bly nie. Jy moet in die rivier wees om te kan leef, al is daar kolkgate en gevare. Wat jy soek en jou bestemming is afstroom.
Die beste ding van alles is dat daar baie maniere is om jou Mojo terug te kry. Jy sien, soos alles dink ons dat dit van buite kom, gewoonlik omdat omstandighede rondom ons gebeur wat baie keer daartoe lei dat my mojo laag voel. Mense maak my seer, stel my teleur en is nie werklik op my ingestel nie. Jy kan maklik voel asof die lewe uit jou uitgesuig word deur mense en omstandighede. Jy kan maklik dink dat daar “evil villains” is wat jou elke dag aanval.

Superhelde het gewoonlik super kragte, maar te midde van dit het hulle ook iets wat hulle kan oorwin. Superman kon nie sy kragte gebruik as daar Kryptonite is nie. Hy het sommer in ‘n klein bondeltjie opgekrul as daardie groen klippies naby is. Ek wonder vandag wat ons kryptonite is? Wat is dit wat ons oorwin dat ons nie ons kragte kan wys nie? Dit is ook nie altyd die geval net van buite nie, maar ons sien ook dat hulle soms ‘n sielewroeging ondergaan waar hulle hulleself saboteer. Waar hulle in hulleself moet veg teen die seer binne in hulle of die verlies aan iemand naby of ‘n geveg wat verloor is. Soms twyfel hulle ook in hulleself en voel ook sonder mojo.

Maar superhelde wys daardeur vir ons dat hulle ook menslik is. Dat hulle ook te midde van alle suksesse ook soms mojo-loos voel. Dat hulle ook interne stryd het soos ek en jy. Maar, hulle veg steeds voort te midde van hulle tekortkominge. Hulle gaan haal uit daardie reserwetenk die laaste stukkie mojo wat hulle het om te oorwin. Die kragte en magte wat hulle het is nie wat hulle super maak aan die einde van die dag nie, maar dat hulle opstaan en vorentoe beur en steeds probeer.

In die kerstyd dink ons aan die wonder van Jesus se geboorte. Jesus het te midde van wie en wat Hy was ook die kryptonite van menslikheid gehad. So het Hy aan ‘n kruis gehang en gesterf. Hy het ook nie kragte gehad nie maar in Sy laaste asem het Hy hom beroep op Sy “reserwetenk”, en Sy gees oorgegee aan God. Daarin is ook ‘n voorbeeld vir ons. Ons is ook uitgelewer aan die menslikheid van die lewe, aan depressie, siekte, stryd en mense wat ons wil kruisig. As jy dus gladnie meer weet wat om te doen nie, as dit voel asof jy nie in die water kan klim of enigsins kan lewe nie. Wanneer jy dink dat daar geen hoop meer is nie en jy alles probeer het om vorentoe te beur, maar nie kan nie. As jy voel dat jy wel in die rivier is, maar dat die stroomversnellings vir jou te erg is om te hanteer of dat ander mense op jou reis jou onder die water druk en jy nie meer asem kry nie. Weet dan verseker dat daar altyd die hoop is dat God daar is vir jou. Hy gaan dalk nie jou vul met ‘n vol tenk mojo of uit die rivier red nie. Dalk gaan God wel vir jou ‘n boomstomp stuur wat jou kan regop hou totdat jy weer in kalmer water is.

Die reserwetenk in jou lewe is dus die geloof in God en dat vir God alles moontlik is. Dit is volgens my die boodskap wat Jesus gebring het, God gee soooo baie om vir my en jou dat Hy Sy seun gestuur het om, te midde van enige omstandighede, vir ons mojo te wees en te gee. Om te glo dat dit wat ons nou beleef deel van menslikheid is, en dat daar stroom-af vir my en vir jou kalmer waters is waar die dinge vir ons beter en gemakliker gaan wees. Daardie plek waar ons vrede en harmonie gaan kan ervaar. So het Jesus gekom om vir my en jou hoop te gee, en my en jou te vul met die mojo wat ons vandag nodig het om te kan leef!

Geseënde Kersfees vir almal in die hoop dat God jou vandag sal dra en jou sal vul met die nodige mojo dat jy kan regop bly en die mens kan word wat God jou bestem het om te wees, wat ookal met jou gebeur!

Wednesday, December 14, 2011

Kristalglase

Vanoggend staan ek voor die kas in die kombuis met die glase in om vir my ‘n glas water in te gooi. Ek sien al die tipes glase wat daar is en besluit dat ek net ‘n pilletjie wil drink, so ek het seker nie nodig om ‘n kristalglas uit te haal nie, ek kan sommer ‘n ou lelike een vat. Nee, hoekom? Hoekom het ons die mode om altyd die mooi en spesiale te bêre vir ‘n spesiale geleentheid?

Die antwoord daarop sal seker individueel wees, maar dit wys ons iets van ons ingesteldheid teenoor die lewe. Ons wag altyd vir spesiale dinge, tye en geleenthede voordat ons onsself en mense om ons laat spesiaal voel. Gisteraand kyk ek “How I met your mother” waarin Barney sy meisie op ‘n spesiale “date” vat. Hoekom kan elke dag en elke “date” nie spesiaal wees nie? Hoekom is ons altyd maar tevrede om ‘n “gewone” dag te ervaar en gediend te wees om uit die ou en die lelike glas te drink? Ek wonder maar net of dit nie die rede is dat ons soveel mismoedige mense om ons sien nie.

Dit is nou een van die lesse wat ek my kinders wil leer, en dit is om elke liewe dag die beste te verwag, uit die mooiste glase te drink en jou mooiste klere aan te trek. En die rede is dat dit jou goed en lekker en spesiaal laat voel. Wat maak dit nou saak as jy jou nuutste skoene aantrek as jy in die sandput gaan speel? Jy gaan in elkgeval uit dit uitgroei nog voordat jou skoene verwoes is. Iemand het een keer gesê dat ons baie by kinders kan leer oor hoe om die lewe te geniet. As ‘n grootmens en ‘n kind in die pad afstap en daar is ‘n poel met water, sal die grootmens om die poel stap, maar die kind sal inspring en speel.

Dit voel vir my asof ons soms die lewe te ernstig opneem. Dalk is dit omdat ons “gebruiksglase” in ons kas met ons saamdra. Ons ag onsself ook soms nie waardig of spesiaal genoeg dat dit ‘n kristalglas roep nie. So word ons lewe saai en afgemat, en kort voor lank is jy maar gediend om uit plastiekglasies te drink en later sommer so uit jou hand.

Daar is rykdom in eenvoud, sal ek met jou saamstem. Ek stem saam daarmee dat as jy uit ‘n plastiekglasie moet drink jy ook jou lewe kan geniet. Ek is ook iemand wat stop en aan die rose ruik en dankbaar is vir wat ek het.

Ek dink dat ons “gewone” lewens het, omdat ek en jy dink dat ons nie waardig is en waarde het nie. Ons dink dat ons nie verdien om uit die kristalglase te drink nie. Miskien kom dit uit ons kinderdae wat ons ouers vir ons plastiekglasies gegee het, omdat hulle bang was ons dit breek. Dit is baie prakties, maar miskien het dit ons geleer dat ons nie waardig is nie, en dat ons onsself nie kan vertrou met die spesiale dinge van die lewe nie. Vandag, en ek, is nie spesiaal genoeg vir die mooi van die lewe nie, en daarom is ek tevrede. Dan dink ek allerhande verskonings uit om die ontevredenheid van my siel weg te steek en “vrede” te maak met my lot.

Miskien is dit ook een van die redes hoekom ons nie meer droom nie, en die hele tyd vir mense om ons vertel om “realisties” te wees. Dalk sou ons almal soos Superman kon vlieg as almal ons nie die hele tyd afgebring het aarde toe nie. Dalk sou ons in ons geloof berge kon versit as ons geloof in die moontlikheid daarvan so groot soos ‘n mosterdsaadjie was. Dalk sou ons elke dag meer kon geniet as ons genoeg geglo het dat elke dag spesiaal is, en elke oomblik kristalglas-kosbaar.

Hoeveel keer het ons nie al gesien dat wanneer iemand tot sterwe kom en ons hulle besittings gaan oppak, hoeveel mooi kristalglase daar nog in hulle verpakking is, of hoe mooi lingerie daar in die kas is wat nooit gedra is nie. Gewag vir ‘n spesiale geleentheid? Die feit dat dit nog in die verpakkiing is, beteken dat die persoon nooit enige geleentheid of enige dag as spesiaal genoeg ge-ag het nie. Dit laat my dink aan die woorde van Prediker dat daar nie sin in die lewe is nie en ‘n mens alles nalaat vir iemand na jou. Dalk is die rede dat die prediker dit nooit gebruik het nie, en dit die rede is vir sy aanhoudende klaagliedere.

Dit is nie net in ons besittings waar ons opgaar vir eendag of ‘n spesiale geleentheid nie, maar ook in ons eie menswees. Ons wag vir iets om te gebeur of vir ‘n spesiale geleentheid om ons drome en eie menswees uit te leef. Ek lees baie boeke oor menslike groei, en twee konsepte kom by almal voor. Die eerste is dat jy jouself moet ken en moet spesiaal ag. Die tweede is dat jy nie moet wag om die mens te wees wat jy graag wil wees nie, maar nou en vandag moet leef.

Wat het van jouself geword en jou drome? Deel jy dit nog met jouself en leef jy jou droom? Glo jy dat jy spesiaal en uniek is en dat jy die beste verdien, of plaas jy jouself, jou drome en talente onder die maatemmer?

Gisteraand sit ons en gesels oor ons kinders en hulle toekoms. Ons sit en praat oor hulle drome en ideale. Toe wonder ek so in my innigheid of ek myself ook so spesiaal ag soos ek my kinders ag. Of ek steeds glo dat ek alles kan vermag wat ek wil, vandag? Kan ek toepas wat ek preek, en hoe moet my kinders vlerke kry en leer vlieg as hulle nie sien dat ek vlieg nie. Gaan ek vandag my “kristalglase” uithaal en voluit leef, of gaan ek myself wegbêre, en tot wanneer? Vir hoe lank gaan ek mense en situasies die oorhand gee oor my? Deel jou droom met mense, en as hulle kommentaar lewer is dit net ‘n opinie, en nie noodwendig die waarheid en finale uitkoms nie. Hoeveel van jou drome het jy opgegee om ander tevrede te stel? As jy spesiaal genoeg oor jouself voel, sal jy jou droom nie laat vertrap op grond van ander se opinies nie.

As jy gaste onthaal en jou beste Noritake en kristalwynglase uithaal, voel nie net jy en die geleentheid spesiaal nie, maar veral die mense wat jy onthaal. Hulle voel goed omdat jy HULLE belangrik genoeg ag om moeite te doen. Om mense om jou gelukkig te maak en spesiaal te laat voel in JOU lewe, gaan pak daardie spesiale jy uit en leef spesiaal elke dag. Mense gaan dan voel dat jy HULLE belangrik genoeg ag om die wonderlikste self in jou met hulle te deel.

Gaan drink vandag met oorgawe uit jou kristalglase, jy is spesiaal genoeg!

Monday, September 12, 2011

Wat jy sê en doen!

Ek het verlede jaar ‘n wonderlike kursus bygewoon. Alhoewel die hele kursus in geheel fantasties was, het daar een gedagte by my vasgesteek: “If what you say or do does not benefit your goals, don’t do it and don’t say it”

Vanoggend lees ek op ‘n ander plek die verhaal van Michaelangelo. Iemand het hom gevra hoe hy te werk gaan om ‘n beeld te skep. Hy het gesê dat as hy ‘n standbeeld van ‘n leeu wil maak, dat hy natuurlik begin met ‘n groot stuk hout of klei. Alles in die hout wat nie na ‘n leeu lyk nie, sny hy af, totdat hy uiteindelik met die beeld van ‘n leeu sit.

Beide hierdie twee standpunte wys vir ons eintlik hoe eenvoudig ons lewens kan wees in wat ons doen en sê. Soms maak ons die lewe so gekompliseerd deur ons denkprosesse. Ons filosofeer so oor die lewe dat ons onsself vasstrengel en nie leef nie. Ons sê en doen dinge wat ons nie bedoel nie, of wat nie ‘n positiewe bydrae lewer tot ons doel en wat ons wil bereik nie. Mense vervreem van ons, mense kry seer in die proses, en heel in die kern is dit ons wat die seerste kry en van koers af is.

Soms herhaal ons ook dieselfde patrone oor en oor, en ons verwag dat die uitkoms van die aksies verskillend sal wees. Dit is die toppunt van onnoselheid. Indien ek teen 200 km/h in ‘n muur vasry, wat gaan gebeur. Net uit blote kennis van fisika weet ek dat ek en die motor redelike skade gaan kry. As ek dit nou ‘n tweede keer doen, wat dink jy gaan die mense van my dink en sê. Dit klink eenvoudig, maar as ek na my eie lewe en die optrede van mense om my kyk, is mense nie bereid om aanpassings te maak nie, maar hou eenvoudig aan met hulle patrone oor en oor, en uitslag waarvan elke keer dieselfde is.

Te midde van my persoonlikheid en agtergrond, is my aksies in my beheer. As ‘n verhewe wese met die vermoë om te kan dink, moet ek tog kan kies hoe ek reageer, optree en wat ek sê. Die bybel sê ook dat ons ‘n wag voor ons mond moet sit. Ons praat so graag ons harte uit en filosofeer en glo dat vryheid van spraak ons menslike reg is.

Vandag in die saak teen Julius Malema, het die regter ‘n interresante stelling gemaak wat eintlik die basis behoort te wees van ons lewens. Hy het gesê dat alhoewel vryheid van spraak (die reg om te sê wat ek wil, wanneer ek wil en vir wie ek wil) ‘n reg is, mag dit nooit die reg tot menswaardigheid oorskadu nie. Dit beteken dus dat as ek iets oor, van of vir iemand sê en selfs doen, en ek daarmee hulle reg tot menswees ontneem, verval my reg om te doen wat ek wil.

Ek sien en ervaar in verhoudings dat mense dikwels eerder hulle reg tot vryheid van spraak gebruik, ten koste van die persoon vir wie jy lief is. Ten koste van hulle menswaardigheid. Dit is natuurlik waar dat yster yster slyp, en dat jy in enige verhouding moet kan sê hoe jy voel. Die probleem daarin egter is dat dit in baie gevalle nie oor “ons” handel nie, maar oor die eie ek. Ek dink en ervaar dat dit die ondergang van soveel dinge in die lewe beteken. Mense veg so vir hulle eie bestaan in ‘n verhouding dat hulle, met die beste intensies, die verhouding en mekaar verloor.

Dit wil voorkom asof mense die “menswees” komponent van hulle naaste verloor het. Miskien dan ook in essensie hulle respek vir hulleself in die eerste plek, en daardeur beheer verloor. Wanneer ons nie vir ons naaste respek en liefde het nie, is dit omdat ons nie dieselfde menswees en respek en liefde vir onsself gun en gee nie.

Mense se lewens gaan ook ten gronde, want ons werk soos die eerste aanhaling. Mense hoor wat ons sê, maar mense gaan kyk ook na die konteks van wat die motivering agter die woorde is. Soms moet ‘n mens eerlik wees, en soms moet jy eerder nie kommentaar lewer oor jou vrou se voller magie nie. Wat bereik jy daardeur? Sy kan ook dalk dink dat jy nie meer met haar tevrede is nie, nie aantreklik vind nie en dat jy haar in essensie nie meer lief het nie. Wat vat dit nou van jou om eerder haar te prys? Wat vat dit van ons om eerder in liefdevolle aanvaarding, met die groter doel in gedagte, eerder nie heeltemal te sê wat ons dink nie? Om dalk eerder die menswaardigheid in iemand raak te sien en in liefde eerder te swyg? Met die oog op die groter geheel wat tog soveel meer belangrik is as ‘n ou vetrolletjie of twee. Om eerder haar te prys oor haar hare wat sy vanoggend so mooi gekrul het.

Ek sit soms in gesprekke waar mans en vrouens steriotipeer. Mans is so en vrouens is so, my man doen dit, my vrou doen dat. Plekke en situasies waar ons die kollektiewe psige van die wêreld so belaai, dat jou man nie eers doen wat die ander vrouens se mans doen nie, maar jy sommer by voorbaat vir hom kwaad is, net omdat hy ‘n man is. Dinge soos dat mans onsensitief is, is die grootste bog op aarde, net soos dat vrouens nie kan bestuur nie. Dit het al so deel geword van ons alledaagse denke dat ons dit glo, en dat my seuntjie nou die dag dit as ‘n feit bevestig het toe ‘n vrou voor my inry by ‘n sirkel.

In rekenaarterme noem hulle dit – “garbage in – garbage out”. Ons hou ons kinders weg van mense, boeke, idees en televisieprogramme, omdat ons weet hoe die impak is van informasie op hulle aksies en lewens. Dit is net so vreemd dat ons, wanneer ons ouer word nie dieselfde op ons lewens toepas nie. Ons filter nie ons vriende, ons televisieprogramme of wat ons lees nie. Wat het ons skielik nou onaantasbaar gemaak vir die impak van die mense om ons in ons lewens? Wat het geword van dit wat ons vir ons kinders leer dat jy aan jou vriende geken word of dat as jy jou meng met die semels, dan vreet die varke jou? Ons het gedink ons is so immuun hierteen, terwyl ons eintlik, saam met die mense om jou ‘n idee van die werklikheid skep wat skokkend en onwaar is.

Die belangrikste vraag is dus die volgende: “Wat wil jy bereik?”. Die tweede vraag is: “Lewer jy ‘n positiewe bydrae tot die doelwit, of is jy die een wat die oorsaak is dat dit nie bereikbaar is nie?” Die bybel stel dit dat jy net kan maai wat jy saai, en ek wonder of, as mense na hulle lewens kyk, en geen oes, sukses, liefde, vrede, harmonie en genot maai nie, hoeveel keer gaan steek ek my hand in eie boesem en haal die balk uit my eie oog.

Ons is vinnig om ander te blammeer en skuldig te laat voel, en in die meeste gevalle, is dit ons probleme en issues. Wat sal dit nou regtig van my vat om so bietjie my trots te sluk, bietjie stil te bly en bietjie ander toe te laat om te wees wie hulle is? En dit alles met die groter doel in gedagte van wat ek wil bereik.

Jou lewe is dus ook soos ‘n groot stuk houtstomp wat jy ‘n visie voor het as standbeeld. Begin vandag om die dinge in die eerste plek wat in die pad staan van jou beeld, weg te sny. Begin vandag en doen en sê dinge met die oog op wat jy wil bereik. Gaan wees en word wat God jou en die mense om jou bedoel het om te wees.