Wednesday, October 29, 2014

Ek vra om verskoning

Vandag wil ek nie probeer om slim te klink nie. Ek skryf baie, maar baie mense kritiseer my daaroor, want my lewe kom nie uit by my woorde nie. En vandag, sonder om myself te verantwoord, wil ek bieg en om verskoning vra.

Dit is so maklik om te preek, en nog makliker om vir die wereld te skryf en te vertel hoe hulle moet wees. Dis maklik om te blammeer en die wereld om jou te beskuldig en nooit self na binne te kyk nie. Dit kan maklik word om te verwag van ander en verskonings te maak, want dit word n mooi bossie waaragter jy kan wegkruip. Jy verantwoord jouself, maar jy leer nooit die lesse wat jy moet leer nie. Jy verwag ander moet by jou leer, terwyl jy nooit luister en by hulle leer nie. Soms verwag jy van die wereld om jou te hoor, jou te aanvaar, maar jy doen dit nooit met hulle nie. Jy wil skree van frustrasie, maar sien nooit die frustrasie in hulle harte raak nie. Jy word kwaad as jy voel hulle vertrap jou, maar kyk nooit af om al die lyke onder jou eie voete te sien nie.

Die lewe gaan nie oor jou en jou alleen nie. Ons vergeet Jesus se boodskap in die wye sin. Jesus het Sy lewe vir ander gegee, te midde van die kritiek. Jesus het ons geroep om mekaar te dien, nie onsself nie. 

Ek kyk vandag diep in myself in en vra om verskoning. En ons moet besef dit is nie n martellaars vergiffenis nie, maar een van harde werklikheid en realiteit. Ek staan eensaam en alleen, bakhand voor almal altyd, maar my hart is nie oop nie. 

Ek onthou dat ek jare terug n kursus bygewoon het, en ek onthou die woorde: "verstaan eers en luister, voordat jy self verstaan en gehoor kan word". Ek weet dit eintlik, maar op hierdie dag verstaan ek dit eers. Ek verstaan vandag, en daarom vra ek om verskoning.

Jy sien, vandag verstaan ek dat my houding en denke my situasie veroorsaak het. Vandag preek ek nie vir iemand nie, net vir myself. 

Ons dink ons vermag die lewe as ons druk, en almal wat ons kritiseer is veral verkeerd, want hulle verstaan nie. Vandag is die beginpunt waar ek gaan luister, hoor en verstaan. 

En miskien word hierdie dag ook die dag wat jy die foon optel en vrede vir ander gee. Dalk is en was dit nog altyd die boodskap van die liefde van God wat ons misgekyk het. Wel, almal van ons het.

In die voorbeeld van Jesus, jou lewe vir ander gee, en niks terug verwag nie. En selfs wanneer hulle jou aan die kruis vasspyker, nog steeds vergewe uit liefde.

Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Tuesday, October 28, 2014

Sieledood

The day the music died

Ons het almal sekere oomblikke en insidente wat ons lewens ingrypend verander. Mense onthou waar hulle was met 911, met Oscar se vonnis, en as jy ouer is toe Verwoerd vermoor is. In jou eie lewe is daar net sulke insidente, wat jou lewe geruk en verander het.

Hierdie indidente word onthou agv die impak op jou lewe. Sommiges daarvan laat jou hart bokspring en dan is daar daardie wat jou stukkies van jou siel laat doodgaan

Ek gaan nie baie ingaan op die positiewe insidente nie, maar wat doen jy wanneer jou siel sterf en jou hart uit jou binneste geruk word?

Ek ken dit so goed in my eie lewe, en alhoewel ek siel-dood voel, probeer ek tog dinge om myself lewendig te kry.

1.  Besef dat die lewe vol insidente en realiteite is. Jy kan probeer nes jy wil, jy is elke dag blootgestel daaraan. As jy weet en verstaan dat miljoene mense deur die eeue ook dieselfde as jy deurgemaak het, maak dit dit makliker. Dit laat jou verstaan ook dat wat gebeur het nie persoonlik is nie, die lewe het nie n vendetta teen JOU nie. 

Selfs die mense wat jou hart uitruk, ja soms is dit persoonlik veral in n verhouding, maar meeste kere nie met opset nie. Jesus se aan die kruis: "vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Dit is seker die moeilikste ding om so daaraan te dink. Maar vir JOU herstel moet jy so dink. Ek vat niks weg van die feit dat daar mense tussen ons rondloop met erge afwykings nie, dit is so. Maar oor die algemeen probeer mense maar net leef en bestaan.

2. n Saak het nooit net een kant as oorsaak nie. Hierdie is baie moeilik vir ons almal om te besef en te aanvaar. Ons hou daarvan om die sondebokke en oorsake te soek. Dit is menslik, maar goddelike liefde wat ons help besef dat niks buite konteks gebeur nie.

Daar is 2 probleme wat opduik met sondebok soek. Die eerste is dat ons geen blaam vir situasies deel nie. n Huwelik wat opbreek is tog n spel tussen mense. As een rugbyspeler n fout maak, ja, dan was dit dalk die oorsaak van die verloor, wat uitgewys kan word, maar die hele span was tog op die veld. Almal het n rol te speel, en so is dit met die lewe ook.

Die tweede is dat ek myself die res van my lewe kasty oor die keuses wat ek gemaak het. Ons hou so daarvan, en besef nie hoe dit die res van my lewe vorentoe beinvloed nie.

Alles gaan oor liefde, of die tekort daaraan. Wees altyd bewus en gee jouself ruimte om te weet dat alles in lewe n knippie sout nodig het. Gee jouself ruimte om te vergewe, ander en jouself.

Die spreekwoord lei tog dat mense in glashuise nie klippe moet gooi nie, maar dalk is ons probleem dat ons dink dat ons nie in glashuise woon nie. As ek my foute en psigiese staat en denke verstaan, besef ek dat ek nooit kan of mag oordeel nie.

3.  Kom oor dit. Ons dink dat as ons aanhou om "dood" te voel en te leef, daar een of ander prys van erens sal kom. Sukses kom nie deur alles op n skinkbord te kry of om nooit probleme en krisisse te ondervind nie. Sukses is om ten spyte van terugslae op te staan en te leef. 

Hou op om vasgeval te bly in jou gevoelens, en dit is n besluit. Ek het baie dae nie krag om op te staan nie, maar staan op, gaan doen iets, al was jy net skottelgoed.

Doen elke dag iets by, en kort voor lank het jy die lewe wat jy verwag. Om oor jou dood te kom, is stelselmatig en in hanteerbare bytstukkies. Dit bly n bewuste besluit, want sonder die besluit sal niks tog gebeur nie.

As jy ook nie uit dit kom nie, gee jy die persoon of situasie van hartseer die mag om dit oor en oor aan jou te doen.

4. Is dit werklik so erg?

Soms maak ons ook ons hartseer en pyn n groter drama. Misery loves company, en ek kry soms die idee dat ons hou van die pyn van n situasie. Ons wil graag n sad storie he om te vertel.

Ek besef self hoe erg n situasie in my lewe is, maar dalk maak ek dit groter. Op universiteit het jy nooit genoeg tyd nie en die werk is baie. As jy al 12 boeke wat jy more moet ken op die lessenaar sit, gaan jy vinnig moed verloor. Sit net een op n slag neer en fokus net daarop, en dan sal jy vorder.

Ons kan ons brein programmeer nes ons wil, so ook oor jou probleme kan jy kies. 

5. Aanvaarding

Een van my dominee kollegas het sy seun verloor aan selfmoord.  Een dag vra ek vir hom of dit moontlik is om so n enorme pynvolle situasie te verwerk. Hy antwoord dat daar sekere dinge is wat soos rotse voor mens le wat jy nie kan oorkom nie, jy aanvaar dit net en leef daarmee saam.

Soms is ons trauma so enorm, en om eerlik te wees, onoorkombaar. Jy kan nie teruggaan en gaan verander nie, en soms moet jy net aanvaar en jou lewe leef.


Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Monday, October 20, 2014

Onderskeid en Afstand

Ek kuier so lekker met my oom wat uit Holland hier by ons kuier. Dit is heerlik om met iemand te gesels wat in 'n ander land bly, en ander tipe blootstelling het as wat ons baie keer het. Ek besef gister weer dat een van die belangrikste aanlegte wat jy kan aanleer in jou lewe, die vermoe is om te kan "onderskei". Dit is altyd moeilik wanneer jy sulke woorde gebruik, want nie almal verstaan dit op dieselfde manier nie.


My definisie daarvan is dat dit die vermoe is om jouself in die eerste plek uit te haal uit 'n situasie, en van daar objektief en van 'n afstand na 'n situasie te kyk. Wanneer ek kyk na al die interpersoonlike konflikte wat ons beleef, asook die innerlike stryd wat ons elke dag voer, besef ek meer en meer hoe moeilik dit vir mense is om hulleself los te maak van hulle denke en emosies. Ons praat baie keer van fundamentalistiese denke, waarin mense "vasgevang" is en voel aan wat hulle in glo, sonder om ooit ander mense en idees die voordeel van die twyfel te gee. Ons was almal al vasgevang in sulke situasies, waar jy voel dat wat jy ookal se of doen nie "gehoor" word nie.


Ons verstrengel onsself daagliks in hierdie omstandighede waarin ons so voel, en ons raak so "betrokke" by ons emosies en denke, dat ons nie helder kan dink nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy al oorreageer in 'n situasie, net om na 'n tyd te besef hoe jy dit anders sou hanteer het as jy die tyd gehad het? Wanneer ek dus tyd of afstand van 'n situasie kry, kry ek gewoonlik perspektief, en dan kan ek skielik onderskei oor wat 'n "beter" of "ander" manier die situasie beter sou gemaak het.


Ek vergelyk die vermoe baie keer met 'n skaakspel, want daar is 2 dimensies, jy kan of een van die skaakstukke wees, of jy kan die speler wees wat met visie jou spel makliker kan speel. Dit is natuurlik nie so maklik nie, want die lewe het plekke waar ons so verstrengel is, soos byvoorbeeld verhoudings met mense om ons. In baie gevalle, wanneer ons nie hierdie onderskeidingsvermoe het nie, dan vind ons dat ons "oermens" oorneem. Dit is daardie deel van jou brein wat of wil veg of wil vlug. Jy voel bedreig deur mense en kommentaar, dat dit jou die pad wil laat vat, of jy veg terug met jou tong en jou woorde.


Dit laat my dink aan die woorde van Romeine: "Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan ONDERSKEI wat die wil van God is". Dit is so waar, want die pad van die "wereld" is om te baklei en te veg vir jou plek van bestaan. En dit is heel moontlik hoekom die wereld in geheel, lande, huwelike, verhoudings ens in so 'n verskriklike toestand is. Daagliks word mense uitmekaargeskeur, en al wat rondom ons te siene is, is net hierdie massagraf van gebreekte mense.


Hierdie onderskeidingsvermoe, is eintlik waaroor die woord "genade" in die Bybel handel. Genade beteken dat almal moet besef dat jy nie volmaak is nie, en dat die persoon rondom jou nie volmaak is nie. Wanneer jy besef dat jy 'n balk in jou oog het, sien jy ander se tekortkominge op 'n ander manier en dit is dat mense net mense is. Nie een van ons is perfek nie, en almal probeer maar net die lewe leef. Niemand het "noodwendig" hulle mes in vir jou en maak jou opsetlik seer nie, want elkeen van ons kom met emosies, voorgestelde idees en agtergronde wat ons aksies, idees en denke beinvloed.


Om hierdie onderskeid te vind in jou lewe, beteken nie dat jy superieur is aan ander mense is nie. Verder beteken dit ook nie dat jy skielik al die antwoorde vir die lewe het nie. Wat dit wel beteken is dat jy dinge sien uit 'n ander perspektief, en jy is nie so intens betrokke dat jy slegs op 'n dierlike instinktiewe manier dink en doen nie. Deur afstand te kry, ondervind jy die vryheid daarvan dat jy dinge in konteks kan sien, kan analiseer, wat dalk nie vroeer moontlik was nie, omdat jy te intens dierlik betrokke was.


Vat vandag bietjie afstand van jouself en jou situasie. Beoordeel so effens jou besluite en aksies, want deur dit te doen, gaan jou besluite nie noodwendig reg uitloop nie, maar gee dalk vir jou 'n beter basis van waar jy jou besluite kan neem. Deur net 'n asemteug of twee tussen besluite te neem, gee jou brein die kans om anders te dink. Dalk is dit miskien net die verskil tussen verwoesting van jou lewe, en 'n gemakliker stresslose lewe.


Ek hoop dat hierdie vir jou week iets gaan beteken, sodat jy dalk meer in beheer voel van jou lewe, selfs wanneer jy voel dat ander jou lewe beheer. Kom weg van intuitiewe aksies, en deurdink, onderskei en haal asem voordat jy aksie neem. Dit gee dalk vir jou daardie breekdeel van 'n sekonde om te besef dat jy dalk nie altyd reg is nie, krities te wees oor jou eie standpunte, en deernis te vind met die mense om jou se aksies, denke en besluite.


Stel jouself voor wat die wereld sal wees indien alle mense dit kan regkry? Maar een persoon se aksies kan die wereld om ons verander. Miskien moet jy net terugstaan en na jou bediende kyk en verstaan dat sy 3 uur vanoggend al haar eerste bus gevang het om vanoggend in tyd by jou huis te wees, so wat maak dit nou werklik saak as sy een dingetjie verkeerd doen. Miskien verstaan jy dat jou kind vandag stress en bang is vir 'n toets of 'n klas, en as hy sy broodjies by die huis vergeet, dit nie opsetlik is nie. Dalk verstaan jy dat die raad wat jy van 'n geliefde kry nie daar is om jou te vertel hoe sleg jy is nie, maar omdat hulle vanuit hulle perspektief jou wil help. En so kring jou lewe uit tot 'n wonderlike week waar jy nie die septer swaai nie, maar waar jy in Jesus se voorbeeld mense dien en hulle vergewe omdat hulle die beste doen wat hulle kan!

Thursday, October 16, 2014

Krom stokke, reguit houe

Ek het gisteraand die nuwe film Noah gesien.  Die verhaal van Noag word op n totaal nuwe manier vertel. Wat my egter aangegryp het, is n herhaling van n tema wat dwarsdeur die Bybel in meeste verhale gesien kan word. Die Bybel se verhale handel gewoonlik oor gewone mense. God bereik soveel dinge deur mense wat nie altyd aansien het of reeds suksesvol is nie.

Dit lyk vir my dat daar n skaal is, want waar mense nederig en soms minderwaardig is, is waar die regte beeld van mens en God mekaar ontmoet. Wanneer ons swak en nederig is, dan besef ons ons afhanklikheid van God. Dit is juis wanneer mens klein is, wanneer hy die grootheid van God raaksien. Ek voel soms dat hoe minder ek in die blokkie is, hoe meer plek het God om Sy wil in my lewe te doen.

Ons werk elke dag so hard aan ons eie beeld, omdat ons dink dit bring sukses. Ons voel ongemaklik wanneer ons minderwaardig is, of onsuksevol voel in die lewe. Elke dag oortuig die media ons dat ons lelik of vet is. Mense om my herinner my deurgans van my tekortkomings en mislukkings. Mense gooi jou weg omdat jy nie aan standaarde voldoen wat hulle stel nie. Mense beskinner en spot jou, soos ook met oa Noag.

Jou visie en idees lyk vir hulle gek, mal en onredelik. Jy vul jouself met twyfel en depressie. Jy meet jouself aan hulle idees. Soms gooi die idees jou saam met Josef in die put. Jy twyfel in jou vermoens soos Moses en Aaron. 

Wanneer jy so voel, dan neem jou twyfel so beheer van jou lewe, dat daar ook nie vir God plek is in jou lewe nie. Dit kan meer gevaarlik wees as hoogmoedigheid. 

Genadiglik werk God anders. God het net geloof en vertroue van ons nodig. Die verhale in die Bybel wys dat God reguit houe slaan met krom stokke, want wanneer ons swak is, dan sien ons God se krag in ons lewens. Wanneer ek min is, staan ek in verwondering oor wat God vermag in ons en deur ons.

Jesus kon natuurlik belangrike mense gekies het as Sy dissipels, maar kies vissermanne. Dit was nodig vir Dawid om gesalf te word, opgetel te word, voordat hy die reus kon oorwin. Paulus moes afstand doen van sy status om sy doel te bereik.

God se pad is duister vir ons, maar wanneer ons hoogmoedig of depressief is, is die pad nog meer duister. Eers wanneer jy besef dat God alles goed laat afloop vir die wat in Hom glo met alles, sal alles wat jou toekom jou toeval. 

Maak plek vir God in jou lewe, skuif op en laat God toe om God te wees.  Jou krom stok sal jou krom houe laat slaan as jy op jou eie staan. Net deur God kan jy in verbasing toekyk hoe God die bal se vlug verander.

Die engelse spreekwoord lei: "let go, let God".  Vandag is die dag wat God vir jou gemaak het, kom oor jouself en jou stryd teen jouself of om te dink dat jy nie waardig is nie. Gee toe en gee jou bestaan oor aan God en Sy wil vir jou lewe. 



Thursday, October 9, 2014

Werklike Sonde

Ek onthou nog toe ek in die kerk grootgeword het, jare gelede, hoe 'n ongelooflike klem daar op "sonde" en die Tien gebooie geval het.  So onthou ek ook dat 'n ou dominee, voor my eerste preek vir my die raad gegee het oor wat 'n suksesvolle diens of preek is.  Hy het gese:  "Uit die geskiedenis van die reformate (Luther en Calvyn), leer ons dat die kern van ons Christelike geloof, Sonde en skuld by mense is.  'n Suksesvolle preek is dus wanneer jy mense hulle foute laat raaksien, want dan alleen kan hulle die verlossing verstaan en aanvaar". 


Jy kan net dink hoe ongelooflike skok daar in my sisteem ontstaan het, want werklik, dit het vir my gevoel asof dit nie heeltemal in lyn is met my idee van godsdiens nie, en ek was ook effens ongemaklik, want dit is nie hoekom ek gaan Teologie studeer het nie.  Maar, hoe dit ookal sy, dit is so 'n goeie voorbeeld van die geloof waarmee baie van ons in die kerk grootgeword het.


Mense vra my baie keer uit oor my idees oor die Bybel, en alhoewel hierdie blog nie daarop gerig is om 'n Teologiese analise te wees nie, vind ek tog dat ek soms my idees hieroor moet weergee.  Ek sal vandag fokus op sonde en die idee van wat sonde is.


Ons idee van sonde is sommer daar heel aan die begin van die Bybel gesetel, in Genesis en die "sondeval".  Ons word eers vertel van God se skepping en van hoe wonderlik alles was.  Dan word die verhaal vertel van die boom van kennis van goed en kwaad en hoe die slang vir Eva en Adam verlei om daarvan te eet.  Daarna word hulle skaam teenoor God, hulleself en sommer totale menswees, om net daar en dan ook uit die wonder en die gemak van die paradys verban te word.


Dit is belangrik om 'n paar dinge uit die verhaal te haal.  Eerstens besef ons dat die prentjie van balans vir ons geskep word, in die vorm van goed en sleg en twee pole van bestaan word vir ons geteken.  Ons kry sommer vroeg te doen met die muntstuk, waarop elke idee van ons lewens gebasseer kan word, van goed en sleg, en natuurlik ook die idee dat daar 'n God is wat goed voorstaan en 'n karakter wat sleg voorstaan, die satan.  Elke keuse wat ons maak in die lewe, is asof ons voor die boom van goed en kwaad staan, wanneer ons die kwaad kies, is dit sonde en weg van God, en wanneer ons die goed kies, dan leef ons in die wil van God en sal ons lewens 'n paradys wees. 


Hieruit vloei natuurlik 'n universele gevoel van "vrees", en ek onthou dat ek as 'n klein seuntjie nie in die nag aan die slaap kon raak nie, maar aanhou bid het vir vergiffenis, want ek is skuldig.  Ek was so bang ek sterf in die nag, en dat ek dan hel toe sou gaan, want daar was dalk een of ander sonde wat ek nie voor vergiffenis gevra het nie.  Hieruit leer jy ongelooflik baie van wie ek is, en hoe my teologie se basis is, want op 'n stadium het ek totaal en al 'n aversie begin kry in hierdie idee van sonde wat ek in die kerk geleer het.  Om die situasie te vererger, leef ons toe ook in 'n skoolsisteem, en in 'n gemeenskap waar daar net wit en swart (letterlik en figuurlik) was.  Jy is nie toegelaat om jou eie idees te vorm, uit te leef, uit te spreek of te dink nie, daar was nie iets soos "grys" nie, net 'n keuse tussen swart of wit.  Eintlik was daar nie 'n keuse nie, jy is net voorgeskryf wat, waar en hoe jy moet dink.


Vir lank het ek met hierdie situasie geworstel, en vandag nog steeds.  Ek dink, vanuit my perspektief dat God totaal anders funksioneer as dit.  Ek verstaan dat die oermense nie werklik die vermoe besit het om so te funksioneer nie, en dalk is dit ook hoekom die moderne mense so sukkel met hulle idees oor God, en soms die baba met die badwater uitgooi.  Ek het ook op 'n stadium, toe dinge wat ek geleer het nie meer sin gemaak het nie, ophou soek na God.  Toe besef ek een belangrike ding oor God, en van daar my stille protes teenoor "georganiseerde" godsdiens soos gemeentes en kerkgroepe.  Ek het begin verstaan dat die Bybel 'n plek het, vir elke mens, in sy/haar individualiteit.  Die paniek wat ek ervaar het as kind is 'n gevoel wat deur 'n teologie op my afgedruk is deur vrees vir die duiwel, eerder as 'n liefde en 'n verhouding met God.


Die oomblik toe ek dit verstaan, ek is natuurlik nog besig daarmee, het my lewe en denke totaal verander.  Dit maak jou funksionering natuurlik nie makliker nie, inteendeel, jy leef in 'n gemeenskap waar mense jou daagliks kasty omdat jy "anders" is en "vreemd" is.  Mense sien my ook as 'n groot sondaar, en hulle wys my elke dag op my sondigheid.  Jy sien, die wereld is elke dag in hierdie "oordeel" vasgevang, tussen die reg en verkeerd.  Ek dink juis dat my lewe soveel beter is, vandat ek die individuele verhouding met God ontdek het en daagliks daaraan bou en groei.  Ek het begin besef dat ek nie meer onder die oordeel van mense of 'n kerk wil leef, waar ander mense vir my besluit nie. 


Een van die grootste probleme met die "ou denke" (verskoon tog, ek het nie 'n beter term nie), is dat geloof oorspoel na jou daaglikse lewe en funksionering.  Ek het begin insien dat die oordeel waarmee mense my oordeel, sprekend is van hulle eie oordeel oor hulleself en hulle beeld van God.  Ek het ingesien dat as ek my lewe wil verander, daar waar ek in die vrede van God by die waterstroom wil vrugte dra, en my beeld van God moet leef en uitdra.  So het ek stelselmatig begin groei saam met God, omdat ek God wou ontdek, en nie soos die ou dominee se raad, my slegtigheid en my sondigheid nie.  Ek het begin besef dat dit ook God is wat my geskep, en elke dag laat groei, met 'n doel.  Daardie doel is nie meer vir my die "oordeel" of "beterweterigheid" van blinde mense wat my in my blindheid wil lei nie.  Ek het besef dat as ek wil groei en wil stap in die donkerte of blindheid, dit eerder aan die arm van God is wat die lig is, as saam met blinde voetgangers oor 'n besige straat.


Maar, wat doen 'n mens nou rondom jou lewe, want ek dink ook nie dat ons net kan leef soos ons wil nie, want daar is tog 'n balans in alles.  Ek ondervind die laaste klompie jare die "hel" in my lewe, hier en nou, so ek verstaan konsekwensies van my dade, maar ek verstaan ook dat alles nie net feetjies en sprokies is nie.  Dit is natuurlik die grootste uitdaging vir mense, want daar is iets in ons wat altyd beter wil wees.  Nog 'n groter uitdaging is om in jou individualiteit te leef en te mag leef.  Ek het besef dat God my gemaak het soos ek is, met my drome, idees en doelwitte in die lewe.  Ek was altyd vreeslik bang om te dink wat ek dink en te doen wat ek wil doen, want ek het oordeel rondom my elke oomblik.  


Ons kan ons nie losmaak van ander mense nie, ons kan ook nie ons idees van die lewe ontsnap nie.  Ons is soos 'n leeu in die dieretuin wat in 'n hok is ons hele lewe, en wanneer God die deur kom oopsluit, het ons vergeet hoe om te jag en te lewe, en sit ons liewers elke dag vasgevang.  Ons weier om die stappies te neem, want die bekende is makliker vir ons as die onbekende.  Miskien is dit "sonde", wanneer ons onsself laat vang en laat vasketting aan ou idees, want dit is bekend. 


Ons leer op verskeie plekke in die Bybel, nie net deur die wet nie, maar deur praktiese verhale in die Bybel dat sonde nie noodwendig NET is wat jy DOEN nie, maar ook wat jy NIE doen nie.  Die verhale wat Jesus vertel oor die maagde wat hulle lampe onder die maatemmer wegsteek, of die talente, of die verhaal van die muntstuk waar die een slaaf gewoeker het, en die ander een die muntstuk net hou, wys vir ons hierdie punt.  Ek het vir lank die idee gekoester dat ek "alleen" of "vreemd" is.  Die dinge waarmee ek besig is en probeer het mense skepties aangekyk, en hulle doen dit steeds.  Ek besef elke dag hoeveel mense daar is wat nooit werklik "GLO" of vertrou nie.  God skep vir my en jou 'n paradys van 'n lewe, maar ons kies om eerder in ons hokkies te bly leef, en van daar af die ander diere met grondboontjies te gooi.  Die grootste sonde is om NIE te leef nie.


Natuurlik is daar konsekwensies en vrese vir die onbekende, maar dit is werklik nie onbekend nie.  Die wereld rondom jou is geskep deur jou Vader God, wat vir jou die geskenk van die lewe gegee het.  Kyk bietjie na mense om jou wat kanker het, of reeds op hulle sterfbed le.  Op daardie oomblik wens almal dat hulle hulle drome nageleef het, eerder as om in hulle hokke vasgevang te wees.  Dit is 'n groter klap in die Gesig van God wanneer jy nie leef nie, nie gaan soek na die moontlikhede nie. 


Mense sterf waneer hulle niks meer het om voor te leef nie.  As jy nie die oggend 'n doel het waarvoor jy opstaan nie, wat sal jou motiveer om dit te doen?  Wat word dan van geloof wat ons leer dat ons berge kan versit as ons geloof en kennis van God net so groot soos 'n mosterdsaadjie is?  Is ons nie ons eie grootste vyand nie?  Is die "bose" of die "satan" of die "sonde" nie dalk eerder vrees nie?  Ek het 'n verhaal van my ouma se blou Datsun geskryf waar sy elke uur opgestaan het om te gaan seker maak dat die motor nie gesteel is nie, totdat sy op 'n uur opstaan en sien dat dit weg is.  


As God bestaan, is God groter as enige iets wat jy jouself kan indink, en dit is daardie God wat vir jou die heelal geskep het om te geniet en te leef.  Ek dink dit is hoekom ons, wanneer ons bid tot God, opkyk boontoe, want God leer ons om ons kop uit die afvoerpype te haal en te gaan leef.


As ek dus na sonde kyk, dink ek so daaroor.  Wanneer ek God en God se krag en mag en vermoens in my lewe miskyk, dit is sonde.  Wanneer ek God se krag en mag "beperk" in my denke, dit is sonde.  Wanneer ek nie die "onmoontlike" (in mense se oe) aanpak en probeer nie, dan glo ek mos nie dat God so groot is nie.  


Vir my is die verhaal van die sondeval in die paradys juis dit, wanneer ons God se goddelikheid probeer ontneem, en ons self besluit wat God se beperkings is.  Dit is toe Adam en Eva begin probeer het om self God te speel, en nie God toegelaat het om God te wees nie, gaan jy natuurlik nooit die mooi om jou kan sien nie, en gaan jou lewe natuurlik 'n woestynbestaan wees.


Sonde, volgens my, is dus om nie God te "gun" of toe te laat om so groot te wees soos ek glo Hy/Sy is nie.  En die natuurlike uitvloeisel daarvan is dat as jy nie meer glo dat alles, wat jy aan kan dink of nie aan kan dink nie, vir JOU moontlik is nie.  Tel vandag jou kop op, laat God toe om God te wees, want alles is vir God moontlik, en gaan leef jou geskenk van die lewe!

Tuesday, October 7, 2014

Dit is nooit te laat nie!

Voel jy ook soms dood van binne? Is jy soms depressief wanneer jy oor en oor probeer, maar dinge net nie uitwerk nie? Is daar soms soveel druk op jou, dat jy eenvoudig voel dat jy nie meer kan nie? Voel jy soms alleen en dat niemand jou verstaan nie en daar geen sin in die lewe is nie?

Hierdie gevoelens is normale menslike optrede en almal van ons voel so van tyd tot tyd. My lewe werk baie keer nie vir my uit nie. Ek bid onophoudelik, ek glo met alles in my, maar vertroue dat dinge gaan verander is maar skraal.

Ons kasty onsself oor die keuses wat ons gemaak het. Ons blammeer graag omstandighede of mense. Ons leef met skuld, want ons het grootgeword in n godsdienstige omgewing waar, wanneer dinge nie uitwerk nie, dit n tekort is in jou geloof. Natuurlik het almal n storie om te vertel oor wie waar en hoekom dinge met ons gebeur.

In die Sahara woestyn kry ons n plant met die naam: "the resurrection plant". Dit is een van die ongelooflikste plante, wat lyk soos n ronde, dooie tolbos. Hy het geen wortels nie, en word maklik deur die wind rondgesleep.

Wat die plant ongelooflik maak is dat, alhoewel dit "dood" is en lyk, gebeur daar n wonderlike ding wanneer dit naby water kom. Dit kan selfs vir jare net rondrol en lyk asof dit niks werd is nie. Dan kom dit in aanraking met grondwater, en skielik gaan die dooie takke oop. Wanneer dit dan reen, sien jy die saadjies wat die druppels raakslaan wat afval van die droee takkies. Dan, binne dae ontkiem die saadjies, en pragtige groen blaartjies en blommetjies is sigbaar. Binne n paar weke verdor die plantjie weer en word dit ook weer n tolbos, en wag vir die volgende reen.

Wetenskaplikes het bepaal dat hierdie plante vir jare dormant en dood rondgewaai word sonder enige reen.

Daar het baie dinge in my lewe gebeur wat my soos daardie plant laat voel. Ek voel rondgewaai deur omstandighede en voel asof ek nerens iets werd is nie. Ek voel asof ek nerens my stabiliteit kan kry en my wortels kan insak nie. Ek dink daaroor en dit pla my, nagte en nagte le ek wakker, en selfs van binne voel ek asof ek n mislukking is. Mense om my herinner my elke dag oor my tekortkominge en mislukkings. Die gemeenskap spoeg my uit omdat ek nie n immergroen plant is wat daagliks vrugte dra en n bydra lewer nie. Ek voel beslis nie soos daardie boom van Psalm 1 wat by waterstrome geplant is en ooit my rus vind nie.

Ek voel daagliks soos die "resurrection plant". Ek kasty ook soos almal myself en die wind om my. Maar, wat gaan aan in daardie plant se selle? Is die plant elke dag besig met woede, skuld en depressie. Nee, verseker nie, die plant het aangepas. Hy het begin "vertrou" op die winde, want sonder dit sou hy dalk nooit by die poeletjie uitgekom het nie. Hy besef dat daar n tyd vir alles is, en hy wag vir sy kans en geleentheid. Wanneer sy kans kom, blom hy en doen hy sy bes om sy deel by te dra.

Hy kan dormant wees vir jare, en met geduld wag hy. Soms wil ons onmiddelike oplossings kry vir ons probleme, en dalk is dit hoekom ons vertroue verloor, want ons kan nie wag nie.

Die plant leer ons ook dat daar altyd hoop is. Niks is ooit afgehandel voor dit nie afgehandel is nie. Dit wys ook vir ons dat daar nie iets soos onmoontlik bestaan nie, selfs wanneer jy dood voel binnekant.

Dalk voel jy vandag soos ek, en dit is normaal. My vertroue vir jou en my is dat jy jou poeletjie water sal kry, nie moed sal verloor nie, en in daardie oomblik sal skyn en die ster van n dor woestyn sal wees!

Monday, October 6, 2014

Spyt kom te laat

Wie van ons het dit nie al so in ons lewens ervaar nie, waar jy terugkyk op wat jy in jou lewe gedoen het, tyd wat jy verspul het en geleenthede wat 'n ou moes aangegryp het en nie het nie. Verlede week is ek by my seuntjie Robert se krieketwedstryd, en ek kon my lag eintlik nie hou toe hulle van die veld af kom nie, want tussen 'n klomp 10 jariges kan jy net dink watter gebabbel dit afgee. "Oom, as Peet nou net daai bal gevang het, en Robert dit en as Kyle nou net daai een bal gekeer het". Maar nou ja, hulle het natuurlik die wedstryd verloor, en baie verskonings gehad oor wat kon en moes gebeur het. Daar is ongelukkig in die lewe nie plek vir "as", "sou", "moes" en "kon" nie. Die oumense het ons mos geleer dat gedane sake nie keer het nie.


Vanoggend bel 'n vriend van my om my raad te vra oor 'n belangrike besluit in sy lewe. Ek het al die detail gehoor, die pro's en die con's, maar twee dinge baie goed besef. Die eerste is, niemand weet wat die antwoord en die oplossing is nie, want daar is geen waarborge dat die besluit wat jy neem sal uitloop op die uitslag wat jy in jou hart weet jy soek nie. Dit lei na die tweede punt, en dit is dat ons keuses nooit objektief kan wees nie, want daar is altyd emosies by betrokke, veral die emosie daarvan om graag iets te WIL he in ons lewens. Baie mense vra my raad oor hulle lewens, en natuurlik is ek nie altyd gekwalifiseerd uit my eie lewe om hulle die beste raad te gee nie. Jy is altyd net daar om hulle te lei met informasie, maar eintlik vind ek dit dat mense altyd op die ou einde elkgeval gaan doen wat hulle wil.


Natuurlik het die ou mense ons ook oor die geskiedenis geleer dat geskiedenis belangrik is, want dit gee ons ervarings en kennis, sodat ons die foute van die verlede nie behoort te herhaal nie. Ek gebruik die woord "herhaal", want hoe moeilik is dit vir ons om dit reg te kry. Oor en oor doen ons dieselfde aksie, en dan is ons soms so verbaas dat die uitkoms nie verskillend is nie. Spyt tree dan in, nie oor ons keuse nie, maar veral omdat die uitkoms nie was wat ons verwag het nie. Baie mense doen soms heeltemal niks aan hulle lewens en situasies nie, want hulle dink deur niks te doen en geen keuses te maak nie, kan hulle nooit teleurgesteld wees nie. Die interresantheid van ons lewens is dat geen keuse, ook 'n keuse is, en soms meer skadelik, deur wel aksie te neem.


Die Bybel leer ons dat jy alle dinge in die lewe moet beproef, en die goeie moet behou. Dit is 'n aanmoediging vir ons om nie bang te wees nie, keuses te maak, maar as iets nie werk nie, of nie vir jou goed is nie, hou op daarmee, sny dit af en probeer iets anders. 'n Vriend van my op universiteit het altyd gese: "Wees spyt in die lewe oor wat jy gedoen het, nie oor wat jy by jou laat verbygaan het nie". Natuurlik was ons studente, en die lekker van om jonk te wees is dat jy "voortvarend" is, wat beteken dat jy nog nie soveel vrese en ondervinding opgedoen het, dat jy nie kanse vat nie.


Soos ons ouer word, het ons al meer verantwoordelikhede, en soms vind jy jouself in 'n doodloopstraat waar jy nie meer dinge aanpak nie. So 'n paar weke gelede by een van Hugo se hokkiewedstryde, kom 'n pa na my toe wat 'n aansteker soek en begin met my praat. Toe ek hom vra wat hy vir 'n lewe doen, se hy dat hy nou op 50 sy werk gelos het, en nou besig is om voltyds argitektuur te studeer. Ek was so verbaas, want ons dink vandag dat sulke tipe optrede "onverantwoordelik" is, en nie pas by iemand van sy ouderdom nie. Wat ek wel opgetel het by hom, is 'n ongelooflike rustigheid en passie, want vir die eerste keer in sy lewe doen hy wat hy nog altyd wou, maar nie instaat was om te doen nie.


Die woord "spyt" is 'n ongelooflike belaaide woord, wat gladnie deel van ons woordeskat behoort te wees nie, want dit steel ons energie. Dit steel ons energie in die feit dat dit nie realisties is nie. Om spyt te wees oor iets verander absoluut niks aan jou situasie nie, inteendeel dit trek jou net meer en meer in 'n rigting van negatiwiteit. As jy die woord spyt gebruik, maak jy ook daarmee 'n hele ander klomp blikkies met wurms oop. Aan die een kant, dink mense dat spyt jou om een of ander manier verskoon van die feit dat dit jy en jou besluit was. Beslis is jou lewe vol keuses, maar dit was JOU keuse en niemand het jou gedwing om dit te doen nie. Hierdie bewussyn van verantwoordelikheid is belangrik, want dit plaas jou in 'n posisie om aan te beweeg met jou lewe, en nie te kripeer en elke dag jou jammer te kry nie. Alhoewel dit natuurlik JOU besluit was, is dit net eenvoudig hoe die lewe werk, jy het nie 'n kristalbal om presies te weet wat die regte ding is om te doen nie, so aan daardie kant moet jy jouself ook vrystel van die blaam van jou besluit.


In Jakobus se boek in die Bybel lees ons oor sonde en hy se: "As jy WEET wat die regte ding is om te doen en jy doen dit nie, dan is dit sonde". Dit is waar, maar soms weet ons nie regtig nie, en daarom hoef jy nie jouself verder te belas met skuldgevoelens en blaam nie. Maar, soms weet jy wat jy NIE moet doen nie, en as jy dit aanhou doen, beteken sonde mos dat jy dit teen JOUSELF doen. Soms kan hierdie blaam ons so opvreet van binne dat ons geen kanse of geleentheid tot lewe meer wil aangryp nie. Maar, as jy nou al jou les in die lewe geleer het, hoekom sal jy aanhou om dieselfde foute oor en oor te bly maak.


Maar die belangrikste wat ons kan leer uit die vers is dat as jy wel weet wat om te doen, en jy doen dit nie, dan ontneem jy jouself die lewe. Dit is daardie oulike storie van die talente wat jy onder jou maatemmer wegsteek, en dat dit ook op die ou einde, deur ongebruik, van jou weggeneem word. Die lewe is gemaak om geleef te word, en dit is 'n geskenk uit God se hande. Jy sal nooit heeltemal en altyd weet wat die regte ding vir jou is nie. Afrikaans het 'n pragtige uitdrukking daarvoor, "Ten Spyte", wat eintlik beteken dat jy dinge doen, al weet jy nog nie heeltemal of dit spyt by jou gaan bring nie. Soms, op die oomblik wat jy die besluit moet neem, met die informasie tot jou beskikking, spring jy maar en hoop vir die beste.


Soms sit ons so hard en top oor ons lewens om te besluit en te analiseer wat die beste ding is om te doen, dat ons nooit leef of kanse vat nie. Op een of ander oomblik moet jy die sprong neem. Dit is soos 'n ou wat by die Goudriviermond se brug staan en analiseer of bungi-jumping 'n goeie ding is. Hy vat statistieke, hy meet die afstand en analiseer die tou se sterkte, maar hy spring nooit nie. Dit doen ons lewens, en dit is dat ons wonderlike analiste van die lewe is, maar ons neem nooit deel nie.


Miskien word ons ook gedryf deur konsekwensies, ons wil weet, voordat ons besluite neem wat die uiteinde van 'n aksie gaan wees. Mense spandeer soveel tyd en geld om hulle sterre te laat lees, of om na iemand toe te gaan wat die toekoms kan voorspel. Dit sou fantasties gewees het as dit so gewerk het, en jy presies kon weet wat die uitkoms van jou besluite gaan wees. Maar waar is die opwinding van die lewe dan? Waar sal die lesse vandaan kom as alles vir jou soos soetkoek ingegee is aan die begin van jou lewe en jy presies geweet het? In sekere kulture word daar nog steeds vir jou 'n bruid en bruidegom gekies, en hoe hard veg mense nie om weg te kom daarvan nie? Die menslike natuur kan en wil nie werk sonder vrye wil nie. Vrye wil is daardie "keuse" wat ek en jy het om self te kan kies wat en wie en hoe ons dinge wil he en doen.


Die naweek kyk ek die Ryder Cup gholf op televisie, en ek sien hoe die ouens soveel van hulle set-houe mis. En net nadat hulle dit gemis het, dan vat hulle die balletjie terug na die oorspronklike plek, en dan set hulle weer, gewoonlik met meer sukses. Dit is maklik as jy WEET hoe die set gaan draai en waar jy dit gaan slaan, maar in meeste gevalle weet jy nooit voor die tyd nie. Jy kan beplan soos jy wil en al die analises doen, maar in die oomblik is dit net jy en die balletjie. Maar, wanneer jy weet, soos met die lyn wat jy die sethou moet slaan, beteken dit absoluut niks om jou tweede hou in te slaan nie, want jy het nie 'n tweede kans nie. Dit is vreemd dat die ou wat sy set die eerste keer ingeslaan het nooit weer die balletjie uithaal en weer die set probeer nie. Dit wys ons nog 'n interresante konsep, en dit is dat wanneer ons sukses in iets behaal het, ons onsself nooit betwyfel nie. Aan die ander kant, die ou wat die tweede keer die set probeer en oefen, gaan nooit weer dieselfde set op dieselfde lyn kry nie. Inteendeel, die feit dat die ou wat sy eerste set ingeslaan het dit reggekry het, is nooit 'n waarborg dat hy op die volgende putjie dieselfde gaan doen of dieselfde set op dieselfde lyn met dieselfde lengte gaan kry nie. Die Engelse se mos dat: "Hindsight is an exact science".


Ons kasty onsself elke dag met die verlede, spesifiek oor die keuses wat ons gemaak het wat nie vir ons uitgewerk het soos ons gedink het dit moes nie. Sommige van ons is so besig met hierdie "mislukkings" in ons lewens, dat ons nooit die modder wat dit aan my skoene veroorsaak, van onslae kan raak nie. So leef ons net in die verlede, en in plaas daarvan dat ons dit verwerk, hou dit ons elke dag terug en veroorsaak dit net meer en meer probleme in die toekoms. Dit weerhou ons van die mooi van die lewe, en weerhou ons om enige noemenswaardige keuses te maak vir die toekoms, veral deur die vrees om weer foute te maak. Die lewe is vorentoe, nie agtertoe nie, en of jou nou bang of spyt is oor wat in die lewe gebeur het met jou, more kom, en net omdat jy bang is, vat dit nie more weg uit jou lewe nie. Omdat jy dit nie hanteer wat in die verlede met jou gebeur het nie, sneeubal jou probleme net elke dag in die toekoms in, en versamel jy meer en meer dinge waaroor jy spyt gaan wees.


Die laaste punt wat ek wil maak is dat jy het in die verlede erens voor 'n keuse gestaan, dalk was dit oor jou studies, jou werk of jou huweliksmaat. Jy dink nou, nou dat jy terugkyk dat jy dalk 'n fout gemaak het, maar waar is die waarborg dat jou uitkoms suksesvol sou gewees het as jy 'n ander keuse eerder gemaak het. Onthou, waar jy nou is laat jou so dink, maar wie se dat dit beter sou uitwerk? Waar jy is vandag is die enigste "realiteit", en niks of niemand en geen spyt, moes, wou of kon, kan dit verander nie.