Thursday, February 6, 2014

Swaarkry met lekkerkry klaarkry

Gisteraand het ek weer een van daai lekker lang filosofiese gesprekke met vriende, en ag hoe lekker is dit nie om oor die lewe te filosofeer nie.  In nabetragting besef ek toe weer hoe lekker die lewe kan wees.  Soms dink ek dat ek my lewe totaal oorkompliseer, en myself tyedig en ontydig in hoeke verf met al my idees oor die lewe.  Die Bybel leer ons tog baie mooi oor balans, en veral balans rondom dat daar ‘n tyd vir alles is.  Die ou mense het mos gese dat alles wat ‘n TE is, verkeerd is, behalwe Te-perd en Te-maties. 

In die oggende gaan ek so deur my facebook vriende, en dit gee mens ‘n goeie idee van hoe die tydsgees lyk.  Desember het almal hierdie lekker fotos van die strand en familie en vriende met mekaar gedeel.  Ek verstaan die depressie en die skuldgevoelens en ook die drama wat mense elke dag ondervind, in verhoudings, in hulleself, met hulle kindertjies en met hulle geldjies.  Soms is dit ‘n hulproep na iets of iemand om hulle te verlos van die dinge wat hulle so seermaak.

Ek sien hoe mense stress oor hulle kiniders en daardie gevoel mee leef dat hulle hande afgekap is.  Ek sien hoe mense depresief raak oor hulle geldsake en sake van die hart.  Ek sien hoe baie mense hulleself vasboei aan die negatiwiteit en hulleself siek dink.  Ek sien hoe mense daagliks agteruitgaan, want daar kom nie redding nie.  Ek sien hoe mense opgewonde raak oor nuwe babas en nuwe werke.  En as ek dinge so analiseer op my posts, besef ek dat ons soveel meer kantel na die kant van die negatiwiteit.  Wanneer laas het jy iemand gehoor praat oor hulle drome en ideale?  Wanneer laas het jy bietjie iets laf gedoen om jou sanity te behou?  Wanneer laas het jy bietjie die reels in jou kop gebreek en jouself toegelaat om te leef?  Wanneer laas het jy die mense om jou bietjie gelos en jou eie ding gedoen?  Hoe lank terug het jy bietjie ‘n JY dag gevat om bietjie jou fokus af te haal van dinge om jou?

Vir een of ander rede het ons die denke dat om weg te hardloop verkeerd is.  Maar soms moet jy dit oorweeg, want in die natuur staan ‘n rooibok nie stil en wag vir die leeus nie, hy hardloop.  Soms gee ruimte jou so bietjie perspektief om te verstaan wat om jou aangaan.  Soms moet jy die papier uitruk en rustig op jou eie jou planne in werking stel.  Soms moet jy ook verstaan dat die brullende leeus deel van jou lewe gaan wees, en daar sekere dinge is wat jy nie kan verander nie.  En as gelowige mens, moet jy soms vergewe, vergeet en vertrou.  Soms voel dit asof ons so alles wil beheer in ons lewens, dat ons eintlik deur ons beheersug, al meer beheer verloor van ons lewens. 

Soms vat ons dinge ook so ongelooflik persoonlik op en kry ons onsself vreeslik jammer.  Ons eie-ek is so in ons pad dat ons vergeet om te leef.  Ons dink alles wat almal doen is net ingestel op ons, en as ons nie genot vind nie, dan blammeer ons hulle.  Elke ding in jou lewe kan jy ‘n swartskaap voor vind, veral as jy bedreig voel.  Soms moet jy om verskoning vra, maar soms moet jy sekere dinge maar net los en glo.  Sekere dinge kan jy nie verander nie, jy is deel van ‘n sisteem.  Soms moet jy vergewe, nie net mense nie, ook omstandighede en ook jouself.  Ons loop rond met sulke vreeslike skuldgevoelens, en soms word ons elke dag deur omstandighede herinner aan die foute van ons besluite.  Wees verseker, waar jy vandag is is waar jy is, en presies waar jy moet wees.  Dit glo ek met my hele hart, want alles loop tog ten goede.  Vergewe jouself en beweeg aan, want om te top oor dinge in die verlede gaan jou niks in die sak bring nie.  Keuses wat jy gemaak het nooit waarborge gehad nie, en ja, in retrospek is alles altyd makliker uit te werk.  Onsekerheid is nie die einde van die lewe nie, maar dit IS die lewe.  Soms beplan jy jou lewe haarfyn, net om ‘n draaibal in jou rigting te kry.  Geluk kom met vergiffenis en deur vrede, nie met baklei en oorlog nie.  Die Bybel leer ons tog dat die sagte woord die grimmigheid afkeer.  Niemand het nog ooit rerig ‘n oorlog gewen nie, en jou liggaam kan nie konstant skermutselings hanteer nie, soms moet jy laat gaan.

Soms vind ek dink dat mense dink dat hulle so slim is en alles weet.  Ons hou mos vreeslik daarvan om mekaar raad te gee en te vertel hoe ons dink dinge werk.  Op universiteit het ons sielkunde professor ons sommer aan die begin geleer dat jy mense in terapie hulle eie probleme laat oplos, en versigtig moet wees dat jy hulle nie uit jou eie ervaring probeer rig om te doen soos jy dink nie.  Dit beteken nie dat ervarings nie toepaslik is op my lewe nie, maar elke mens en elke ervaring is anders en jy moet daarby aanpas.  In versekering-verkoop leer ‘n mens baie van hoe die lewe is, want elke mens se situasie is en lyk anders.  Nie almal het dieselfde behoeftes nie, en daarom is daar nie net een antwoord wat vir almal in alle omstandighede werk nie.  Dit beteken ook natuurlik nie dat daar nie sekere waarhede is waaraan ek moet konformeer nie, want daar is beslis sekere diinge wat mense moet doen.  Dit is tog natuurlik dat jy lewensdekking moet uitneem, veral as jy kinders en afhanklikes het.  So is daar ook sekere ongeskrewe reels wat jy as mens aan moet voldoen en nie van kan weghardloop nie.

Vrede maak met jou lewe is ook belangrik, want in die woorde van Gary Player:  “speel die baan soos hy uitgele is, en nie soos jy wens hy was uitgele nie.  Soms vind ek dit dat ons so fokus op wat fout is met ons baan, dat ons sommer moed opgee en ophou speel.  Elke deel van jou lewe is soos dit is, mense om jou gaan nooit verander nie, en jy ook nie werklik nie.  Mense kan verander as hulle wil, en as jy jou lewe anders soek, moet jy jou inslag teenoor die mense en jou lewe verander.

Terug na genot, want ek sien soveel mense wat nooit genot ervaar in hulle lewe nie.  Ek hoor so baie dat mense verwys na die lewe as moeilik en hard en hartseer.  Maar daar is tog balans.  Verlede week het ek geskryf oor dankbaarheid, en soms kom geluk deur dankbaarheid.  Deur dankbaarheid gun jy jouself om meer genot uit jou lewe te haal, eerder as om te fokus op wat verkeerd is en wat jy nie het nie.  Dit sal lekker wees as ‘n genie uit jou cokeblikkie spring en jou al jou wense gee, maar dit is soms net ‘n storie.  Deur altyd te wens dinge is anders, het niks nog gebeur nie.  As jy in hierdie oomblik fokus op dinge in jou lewe om voor dankbaar te wees, gaan jy ‘n lang lys op jou papier kan neerskryf.  Soms is ons so besig om te fokus op dinge wat “verkeerd” is in ons lewens en in ander, dat ons die genot van ons samekoms mis. 

Ek stem saam met daai rigiede mense wat jou sal laat verstaan dat die lewe nie net maanskyn en rose is nie.  Die vraag is, moet dit dan net realiteit en spanning en konflik wees?  Ek praat nie hier van realiteite soos dat jy moet eet en moet bad en moet werk nie.  Ek dink net dat ons soms net TE veel fokus op wat nie werk nie, te veel vashou aan die negatiewe dinge in ons lewens, en onsself nooit gun om die lewe te geniet nie.  Ek is nou gladnie ‘n breindokter nie, maar ons is tog almal bewus van die feit dat ons lewens ‘n chemiese reaksie is.  Op dieselfde manier wat jou liggaam adrenalien afskei as jy skrik vir die leeu wat op jou afkom, net so kan jou liggaam ook dinge afskei wat jou goed en beter laat voel.  Daardie dae wat jy konstant onder spanning verkeer, hoe voel jy, moeg en afgemat.

Prediker vertel ons dat ons kan eet en drink en van die lewe geniet, want ons weet dat dit ‘n gawe uit God se hand is.  Natuurlik, die lewe is gemaak om te leef en te geniet, en soms moet ons meer fokus op wat ons het.  Ek dink soms aan my eie lewe en my talente, en ek besef dat ek baie daarvan onder die maatemmer wegsteek, terwyl die verhaal ons uit die Bybel leer dat as ons nie die gawes wat God vir ons gee uitleef nie, ons onsself, ons Meester en die wereld ‘n ondreg aandoen.  Ek moet die lewe leef en beoefen sonder om teruggehou te word deur dinge.

Baie mense sien net die uitdaging in van om klavier te leer speel, en verstaan dat dit jare gaan neem, maar as ek vandag begin, gaan ek oor 4 of 5 jaar meer as net Chop-Sticks kan speel.  Maar as die uitdaging te groot vir my lyk, gaan ek nerens kom nie, en nooit die genot ervaar om klavier te kan speel nie.  In musiek, pak jy nie noodwendig daai Unisa-kompetisie stukke onmiddelik aan nie, maar begin met klein dingetjies soos toonlere, dan kinderliedjies en later eers daai groot stukke.  Soms fokus ons in die lewe so hard op hoe moeilik die stuk voor my is, dat ek sommer vinnig moed opgee.  Miskien moet ons vandag gaan soek na die mooi, die lekker en die gemaklike in ons lewens.  Miskien is dit wat ons nodig het om te besef dat hierdie dag ‘n gawe uit God se hand is en ek kan en mag en moet die mooi daarin kan vind.  Haal bietjie daai ou Jan Spies grapboekie uit jou kas, sit dalk ‘n Leon Schuster fliek op die kassie en soek bietjie iets wat jou laat skaterlag.  Maak ook ‘n grappie met daai sekuriteitswag en probeer iemand se lewe verander deur hulle te laat glimlag.  Kyk of jy jou swaarkry met lekkerkry kan klaarkry!

Vergewe, vergeet, soek die mooi en gelukkig is jou dag!