Tuesday, July 31, 2012

Die mondeling

Op Universiteit het ons in Teologie verskriklik baie mondelinge eksamens gehad.  Dit is seker een van die moeilikste eksamens wat jy kan aflê, nie omdat die werk wat ons geleer het so moeilik is nie, maar omdat daar soveel meer faktore is wat ‘n rol speel.  Een van die faktore is dat die professor jou totaal kan “nail” as hulle nie van jou hou nie, of as hulle besef dat jy nie jou werk ken nie.  Dit is verder moeilik, aangesien elke persoon ander tipe vrae kan kry oor dieselfde onderwerp, wat hierdie tipe eksamens en uitslae glad nie objektief maak nie.

 

Ek het een keer in ‘n Kerkgeskiedenis mondeling 53% gekry.  Ons was 2 persone wat saam die mondeling gedoen het, en ek het gevoel dat ons beide omtrent dieselfde hoeveelheid kennis gehad het van Calvyn.  Die ander persoon het 62% vir die eksamen gekry.  Ek het baie hieroor gewonder, want hoe bepaal 'n mens of een persoon 53% kry en die ander persoon 62%.  Ek sou dink dat ek mense wat niks weet nie 0% sou gee, die wat die werk ken 50% en die wat briljant was 80%.  Dit klink meer logies om sulke lekker ronde getalle te gebruik, want hoe moeilik is dit om persentasies van 2% of 3% te bepaal?

 

Wat ek dink wel ‘n rol gespeel het, is dat die professor in Kerkgeskiedenis nie baie van my gehou het nie, omdat ek by Jool betrokke was, en hy nie gedink het dat dit plek is vir ‘n Teologie student nie.  Die ander persoon wat saam met my die mondeling gedoen het was redakteur van die Teologiese blad.  Die professor se ingesteldheid teenoor my en my mede student het ‘n ongelooflike rol gespeel in die punte wat ons toegeken is.  

 

In my denke was ek natuurlik in ekstase dat ek deurgekom het, want ek het nie my werk geken soos van my verwag nie, maar my gladde mond het my deurgetrek.  Ek het my nie op Universiteit aan ander se punte gesteur nie, maar die metode van punte toekenning was tog vir my vreemd.  Wat ek wel geleer het is dat ek vir die moeilike vakke waar die prof.  nie van my hou nie, harder moes leer, aangesien ek ook die hekkie van hulle subjektiwiteit moes oorkom, en nie net die ken van die werk nie.

 

Ons hele lewe is maar een groot eksamen met dieselfde subjektiwiteit wat toegepas word.  Elke dag ken die lewe rondom ons punte toe aan elke mens wat asemhaal.  Of dit in jouself is en wat jy van jouself dink, wat jou lewensmaat jou toeken of jou kinders of baas of wie ook al.  Soms spot ons dat ons as mense slegs nommers geword het, en op ‘n manier is ons lewens vol punte uit ‘n honderd. 

 

Verskillende tipes eksamens:

 

Daar is mondelinge eksamens, gewone vraestelle en dan is daar ook “aap-raaisels”.  Aap-raaisels is die tipe eksamen waar jy slegs een opsie kan kies, daar is geen plek vir verduideliking nie.  Gewone vraestelle toets jou kennis, en ek dink mondelinge eksamens is so gekies omdat dit nie net jou kennis toets nie, maar ook jou interpretasie en toepassing van die kennis. 

 

Mense verskil van mekaar:

Mense verskil van mekaar, en as dit by eksamens kom is daar sekere tipes eksamens wat sekere mense se opmaak beter pas.  Vir my is ‘n “aap-raaisel” seker die moeilikste, aangesien daar slegs swart en wit van toepassing is.  Daar is geen plek vir verduideliking of opsies nie, jy is alleen vasgevang in ‘n reg of weg situasie.  Daar is nie plek vir “gorrel” nie. As jy natuurlik jou werk goed ken, dan word hierdie tipe eksamen die beste toets van jou kennis, want die regte antwoord is voor jou.

 

Vir sekere mense is gewone vraestelle ook moeilik.  Ons het een keer by Professor Johan Heyns ‘n vraestel in Dogmatiek geskryf wat gehandel het oor ‘n boek wat hy geskryf het by name: “Raakplek tussen hemel en aarde”.  Baie van die ouens wat saam met my studeer het was briljant in “aap-raaisel” vakke soos Grieks en Hebreeus waar slegs een antwoord korrek is.  Prof Heyns stap die oggend in die lokaal in en deel die antwoord boeke uit.  Nadat almal boeke gekry het stap hy na die swartbord en skryf die volgende op die bord:  “God – 100 punte – 4 ure”. 

 

Sommige ouens het hulle hande opgesteek en hom oor hierdie vraag aangevat.  Ek kan onthou dat die een student aan hom gevra het: “Prof, ek het dan die boek geleer, het ek die verkeerde boek geleer?”  Die ander van ons was egter opgewonde oor die vraag en het presies verstaan wat ons moet doen.  Dit was vir sommige studente die moeilikste vraestel in hulle lewens, vir sommige van ons die maklikste en lekkerste.

 

Oor ons verskille is daar geen twyfel nie en ook verkies ons die tipe eksamens wat van mekaar verskil.  Maar een ding is waar en dit is dat suksesvolle mense daardie mense is wat aanpas by veranderende omstandighede.  Jy kry mense wat eenvoudig so gemaklik is met die lewe dat dit nie saak maak watter tipe eksamen hulle kry nie, hulle sal deurkom.  Dan is daar sekere mense wat so vasgevang is in hulle eie manier, dat hulle, al ken hulle die werk, weier om ‘n eksamen te skryf net omdat die formaat hulle nie pas nie.  Soos baie dinge in die lewe is die antwoord tot geluk eintlik eenvoudig en reg voor ons.  Iemand wat so vas staan by hulle denke gaan nooit die eksamen deurkom nie en nooit die sukses behaal wat hulle moet behaal nie.

 

Kom ons wees nou maar eerlik, almal van ons het ‘n manier wat ons persoonlikhede die “beste” pas.  Ek is nie ‘n swart en wit mens wat in een antwoord glo nie, so ‘n mondeling sal my beter pas.  Jou maat is dalk weer ‘n wiskundige wat alles swart op wit glo en vir wie daar nie redenasies moet of kan wees nie.  Die uitdaging vir alles in die lewe is nie wie jy is of wat jou die gemaklikste laat voel nie, maar eerder dat jy enige eksamen kan skryf, maak nie saak wat die formaat daarvan is nie. 

 

Al wat tel van die eksamen is die punt wat toegeken word.  As jy na jou lewe kyk en dit wat van jou gevra word, wat is jou uitslag?  Maar daar is 2 punte wat mense toegeken word, die eerste is natuurlik die punt wat jy jouself gee as jy uit die eksamen stap wanneer almal jou vra hoe die eksamen gegaan het, en dan die finale punt wat mense om jou jou gee.  In die laaste eksamen wat ek ‘n paar weke gelede geskryf het, was ek nederig en ek wou nie te optimisties wees nie, en toe die uitslag kom was dit min of meer dieselfde as wat ek gedink het dit gaan wees. 

 

Wat is die punt wat jy jouself gee as jy oor jou lewe kyk?  Soms is ons te hard op onsself, want ons kan nie vir alle eksamens 100% kry nie, maar jy kan ook nie alles druip nie.  Soms het jy nodig om na jou punte te kyk en jouself te motiveer om harder te werk. 

 

Soms is daar verskonings, soos ek wat die verkeerde oogdruppels in my oog gegooi het, maar ek het dit nie as 'n verskoning gebruik om nie die eksamen af te lê nie.  Partykeer is kry ons terugvoer van die mense om ons wat vir ons punte gee.  Soms voel dit vir jou asof jy meer kry as wat jy gedink het en in ander gevalle kry jy minder.  

 

Niemand is perfek nie:

 

Almal wil graag 100% in elke eksamen van die lewe kry, maar dit is hoekom daar 'n punt is wat jou laat slaag, want ons kan nie vir elke eksamen 100% kry nie.  Ons verwag van die mense om ons en in besonder ons kinders om te voldoen aan sekere vereistes, omdat ons glo dat mense altyd beter kan doen.  Daar is natuurlik 'n stadium waar jy die punte van mense om jou moet aanvaar en waar jy moet ophou om meer te verwag.  Die oomblik wat jy besef dat jy nie perfek is nie, hou jy op om van ander te verwag om perfek te wees. 

 

Niemand het dieselfde aanleg nie:

 

My ma het jare lank wiskunde gegee vir matriekleerlinge en vertel altyd die storie van oueraande waar ouers vir haar vra wat hulle kan doen om hulle kinders se punte te verbeter.  Soms is haar antwoord moeilik gewees want sommige kinders het net nie die aanleg vir wiskunde nie en die punte wat hulle kry is fantasties as jy hulle agtergrond en aanleg in ag neem. 

 

Ons is tog slim genoeg om te verstaan dat almal nie dieselfde is nie en dat ons dus nie van almal dieselfde kan verwag nie, maar in die praktyk vergelyk ons en stel ons verwagtinge aan mense wat totaal buite hulle vermoëns is en as hulle dan nie presteer nie, dan blameer ons hulle daarvoor.  My oudste het baie goed akademies op skool weggespring en soos tye vorder word die werk al hoe moeiliker.  Ons verwag van hom die beste, maar vergeet ook soms dat dit dalk nie sy belangstelling is nie.  Ons vergeet dat daar ander dinge is waarin hy briljant is, soos om op te noem wie akteurs of sangers is wat op die televisie is.  Ons moet lief wees vir mense om ons in lyn met wie hulle IS en nie oor wie hulle moet word vir ons om hulle te aanvaar nie.  Ons moet raaksien waar hulle moeite doen met plekke waar hulle nie soveel insig of talent het nie.

 

Ons hou daarvan om geprys te word:

 

Daar is nie een mens op aarde wat nie erkenning soek vir hulle insette nie.  Die wêreld werk met prysuitdelings, gradeplegtighede en sertifikate wat toegeken word.  Ons verstaan tog baie goed dat as iemand nie 'n prys wen nie, min mense vir die kompetisie gaan inskryf.  Ons verstaan ook dat ons mense prys, want as iemand suksesvol voel motiveer dit mense om beter te wees.  Ek word so moeg vir mense wat ander die hele tyd aftrek en kritiseer en laat sleg voel oor hulle talente en hulle punte.  Dalk is vandag die dag wat jy begin om mense om jou eerder te prys oor wat hulle reg doen, as te kritiseer omdat hulle nie voldoen aan die vereistes nie.  Miskien is vandag die dag wat jy eerder moet fokus op die somme wat mense reg doen, eerder as die paar wat hulle verkeerd doen. 

 

Die maatstaf waarmee jy meet:

 

Daar is ook in elke eksamen ‘n derde punt en dit is die klas gemiddeld wat gegee word.  Dit is nou daardie punt wat weerspieël hoe moeilik of maklik die eksamen was en wat eintlik so bietjie almal om ons se punte in perspektief stel.  Die wêreld waarin ons leef vandag is nie maklik nie, van daar dalk die rede dat die klas gemiddeld af is van wat dit was ‘n paar jaar gelede.  Miskien moet ons hierdie gemiddeld so bietjie in aanmerking neem en nie mense se punte sommer net op hulle eie sien nie.

 

Miskien is hierdie die dag wat jy jouself so bietjie asem ruimte gun en jouself op die skouer klop oor wie en wat jy is.  Miskien voel jy effens beter as jy eerlik is en verstaan dat daar sekere dinge van jou verwag word wat nie maklik is nie en wat dalk 'n tipe eksamen is wat jou so bietjie meer toets as die gewone. 

 

Vandag is dalk die dag wat jy die mense om jou erkenning gee vir wat hulle vermag het en veral in ag neem wat in die wêreld gebeur.

 

Miskien is vandag die dag wat jy nie nodig het om jouself met ander te vergelyk om te bepaal of jy goed genoeg is nie, maar dit in jou hart te glo!

 

 

 

 

 

 

Thursday, July 19, 2012

Die potjies wat onnodig opgaar

In ons huis probeer ons om netjies te leef met kaste en rakke waar elke ding sy eie plek het.  ‘n Mens weet nou deur ondervinding  dat jou siel rustig is wanneer jou omgewing rustig lyk.  Daar is een probleem en dit is so 10 keramiek potjies wat op die koffietafel en in rakke in die kombuis staan.  Daar was in die verlede vetplantjies daarin geplant, maar hulle is nou leeg en staan rond.  Dit is pragtige potjies, maar die probleem is dat hulle nou die plekke is waar alles eenvoudig ingedruk word. 

Daar is strokies, los sente, kryte, penne, blokkies, oorbelle, pille en peaceful sleep daarin.  Dit raak nogal frustrerend, veral as die res van die huis georganiseerd is, omdat daar geen sisteem aan die potjies gebind is nie.  Ek dink dat as ons mooi soek, die Kruger-miljoene dalk ook in een van die potjies versteek is. 

Iemand vra nou die dag my uit oor “karma” en wat karma is.  Ons weet dat dit ‘n term is wat gebruik word in Oosterse godsdienste wat in sy essensie eintlik maar beteken dat elke gedagte en aksie ‘n string van gevolge het.  In die Oosterse godsdienste gee hulle die voorbeeld van ‘n skoenlapper wat sy vlerke klap en al is dit hoe klein, veroorsaak hy ‘n stormwind êrens vêr van hom af met die klap van sy vlerke.  Hulle bedoel ook daarmee dat selfs die kleinste gedagte of aksie reuse gevolge kan hê. 

Iemand het besluit om die keramiek potjies te koop jare gelede al en nou is die gevolg dat ons dit gebruik as ‘n opstapel plek.  Dit veroorsaak ook hewige frustrasies, want as iets soek is in die huis, al die potjies deursoek word, want jy dink dat dit daar kan wees.  Wanneer die muskiete jou pla, is die peaceful sleep nie in die badkamer se kas nie, maar êrens in ‘n potjie in die kombuis.

Die ander waarheid is dat hierdie sisteem met die potjies nie ‘n bewuste keuse was nie, niemand het opgestaan en gesê dat ons van ‘n sekere oomblik af al die gemors daarin moet sit nie.  Dit is ‘n sisteem wat almal irriteer, maar dit het stelselmatig so ontwikkel en almal dink nou dat dit aanvaarbaar is.  Ek en jy versamel elke dag sulke potjies wat ons later nie eers  meer bewustelik doen nie.  Ons hou nie meer waak oor ons denke en gedagtes en aksies nie en stelselmatig voel ons buite beheer van ons lewens.

Die lewe is een maal gemaak om eenvoudig en georganiseerd te wees.  Elke ding in die lewe is veronderstel om gedefinieerd en georganiseerd op sy plek te wees, maar as ek so na my eie lewe en die lewe van mense om my kyk, voel dit een deurmekaar sisteem is.  Mense het geen sisteem ontwikkel om hulle lewens te organiseer nie.  Mense wat gelukkig is, is mense wat een plek het waar dinge gebêre moet word.  Ons kan dink dat dit vervelige mense is wat so leef en dat daar geen opwinding in hulle lewe is nie, maar dit is juis die teenoorgestelde wat waar is.

Sommige mense het ook 2 of drie moontlike plekke waar hulle dinge kan bêre.  Ons leef juis in ‘n wêreld waar mense legio opsies het en die tydsgees lei daartoe dat mense juis as gevolg van al die opsies, potjies vergader en nooit ‘n daadwerklike besluit neem nie.  In hulle harte skep hulle nooit ‘n sisteem van ontwikkeling nie.  Hulle kry ‘n paar sente in hulle sakke as kleingeld en wanneer hulle by die huis kom, sit hulle dit op die eerste en beste plek.  Môre soek hulle dit weer, maar moet dan hulle hele huis deursoek om te kry wat hulle nodig het.    Maar die gevaarlikste plek om dit te doen, is met ons emosies en met die gevoelens van ander mense.  Mense kan in verhoudings ook net gelukkig wees wanneer hulle weet waar hulle in jou lewe inpas en wanneer jy weet waar jy in hulle lewens inpas.  Mense het definitiewe riglyne nodig, want in onsekerheid raak mense weg.

Die Bybel herinner ons op baie plekke van hoe ons moet optree en alhoewel dit lyk asof die Bybel homself weerspreek , is daar duidelike riglyne.  Een daarvan is dat ons die duiwel nooit ‘n vatkans moet gee nie, wat eintlik vir ons in ons huis leer dat ons of van die potjies ontslae moet raak of weer plantjies daarin moet plant.  Terwyl die potjies leeg is en deel van ons lewens is, gaan dit vir ons tot in ewigheid probleme veroorsaak.  Miskien moet jy vandag gaan ondersoek instel na die dinge wat jou lewe kompliseer en tot frustrasies in jouself en jou verhoudings lei.  Die Bybel stel dit ook duidelik dat as daar iets is wat jou pla, dat jy dit moet afsny.  Ons is nie bobbejane nie, ons verstaan tog baie goed ons frustrasies in die lewe en kan tog maklik analiseer wat vir ons frustrasies en spanning bring.  Kan ons nie dan tog dit afsny wat in ons pad staan vir geluk en vrede nie. 

Jakobus 4:17 stel vir ons dat as ons weet wat die regte ding is om te doen en ons doen dit nie, dan is dit sonde.  Ons is elke dag gefrustreerd oor al die gemors in die potjies, maar ons hou die potjies en elke dag sit ons meer en meer gemors daarin.  Ek kan nie vir die ander huismense kwaad word omdat hulle gefrustreerd is met die sisteem nie en ek kan ook nie vir die potjies kwaad wees nie.  Net ek kan die potjies in my lewe wat ek verkies bestuur en hanteer.

Miskien het die tyd aangebreek dat jy moet gaan stilsit en dink oor die sisteme in jou lewe.  Ek moet bewus raak van die frustrasie en iets daaraan doen.  Wees eerlik met jouself en besef wat jy gaan doen om jou lewe weer onder beheer te kry en daarop te fokus.  Jy kan besluit om die potjies te behou, maar dan moet jy dit vir jou en die mense om jou definieer.  Jy kan besluit om die potjies uit te gooi en daarsonder klaar te kom, want as dit nie ‘n positiewe bydra lewer tot jou en die mense om jou se bestaan nie, gooi dit weg.  Jy kan jouself en die mense om jou leer om die Peaceful sleep te kanaliseer na die badkamerkas.  Jy kan ‘n spesifieke plek afspreek waar jy al jou strokies en sente versamel.  Jy kan ook plakkers plak op die bêreplekke en mense stelselmatig leer om dinge op hulle plekke te plaas, wat geld vir emosies en praktiese dinge.

As jy jou honde en papegaai kan leer om dinge op ‘n sekere manier te doen, hoeveel te meer kan jy dit self doen?  Ons dink dat ons verhewe wesens is bo diere en as dit so is, moet ons dit tog kan toepas.  Eugene Marais skryf in sy boek: “Die Siel van die Mier”, dat hierdie klein wesentjies ‘n ongelooflike sisteem het waarmee hulle werk wat al vir miljoene jare dieselfde gebly het.  Hierdie klein wesentjies verstaan dat alhoewel die wêreld om hulle verander, daar sekere basiese sisteme is wat dieselfde bly.  Ons as mense maak, moontlik as gevolg van ons intelligensie die fout dat ons dink dat omdat dinge verander, die basiese sisteme nie meer geld nie.  Al het ons selfone, e-mail en fakse beteken dit hoegenaamd glad nie dat ons basiese behoefte van kommunikasie verval nie.  Die feit dat ons die maan kan besoek, beteken nie dat jou lewensmaat nie jou liefde en aanvaarding nodig het nie.  Net omdat jy 3 bediendes het wat in jou huis werk, beteken nie dat jy nie met jou kind kan blokkies bou nie. 

As jy nou ook soos ons uit 2 huise na 1 gesamentlike huis trek, sal jy ook besef dat hoe groter jou huis is, hoe meer dinge versamel jy, maar hoe kleiner jou huis is, hoe meer gemors moet jy weggooi omdat jou huis eenvoudig te klein is om al die gemors te stoor.  Oom Willem Nicol het ‘n fantastiese boek geskryf met die naam:  “Rykdom in Eenvoud”.  Hierdie boek is so van toepassing op die moderne mens wat opgaar en nooit hulle lewens organiseer of van dinge wat onnodig is ontslae raak nie. 

Miskien het die tyd aangebreek in jou lewe om te “spring clean”, stil te sit en af te sny wat onnodig is in jou lewe en jou dag, menswees en verhoudings kompliseer.  Gaan leef eenvoudig en verstaan dat jy nie nodig het om alles op te gaar nie, veral nie dinge wat geen waarde vir jou en jou lewe het nie.

Gaan onkompliseer jou lewe om eenvoudig gelukkig te wees!

 

 

Friday, July 13, 2012

Oumagrootjie se raad

My oumagrootjie aan my ma se kant van die familie het amper geleef totdat sy 100 jaar oud was.  Sy was 'n baie wyse ou tannie, miskien omdat ek dink sy so 'n lang leeftyd gehad het.  Sy het baie dinge wys geraak, maar een van die belangrikste was dat sy gesê het is:  "My kind, as 'n mens homself moes maak, sou jy vandag nog besig gewees het". 

 

Dit is nou maar een keer 'n tendens van menswees dat ons nooit werklik tevrede is met onsself nie.  Dalk het dit ook te doen met die grootmaak van kinders waar ons hulle telkemale soos ou Totius se klein boompie probeer buig om te groei en te word wat ons dink die beste vir hulle is.  Op elke vlak word ons elke dag geweeg om te bepaal of ons goed genoeg is.  Op skool skryf ons eksamen en doen sport om sodoende te bepaal wie die beste is op 'n sekere gebied.  By die werk is ons in kompetisie met medewerkers en ander maatskappye en ons het sekere doelwitte wat ons moet bereik om bonusse en winste te vermeerder.  Van kleins af raak ons in verhoudings betrokke met maats en ons weet dat een van die sterkste kragte op aarde die krag van die portuurgroep is.  Dan raak ons betrokke in ernstige verhoudinge met iemand van die teenoorgestelde geslag, en elke dag probeer ons hulle gelukkig maak en probeer hulle ons gelukkig maak.

 

Soms word ons gemeet en word ons te lig bevind vir wat ons graag sou wou.  Dalk het ek eenvoudig nie die spoed om mee te ding in die 100 m wedloop nie.  Partykeer is Wiskunde nie my sterkste talent nie, en dan is my punte swakker as ander in die klas s'n.  By die werk word ek dalk aangespreek of afgedank omdat ek nie by my doelwitte uitkom nie.  Ek en my maats ontgroei mekaar en kom op 'n punt waar ons maar vir mekaar net name is op Facebook.  Ek leef dalk in 'n verhoudig waar iemand hulle liefde vir jou verloor en die verhouding op 'n einde is, of waar jy konstant gemeet word en te lig beskou word vir hulle. 

 

Dit gaan in die voorbeelde hierbo nie oor wat gebeur nie, maar oor wat dit aan my menswees doen.  Ek word ingetrek om te begin glo dat ek nie goed genoeg is nie.  Die wêreld is 'n wrede plek, want alles gaan rondom prestasie en voldoening.  Ek moet telkemale ervaar, voel en hoor dat ek 'n mislukking is.  Maar die dryf in ons is altyd om sekere dinge te bereik, en as ek ervaar dat ek dit nie regkry nie, dan kasty ek myself daaroor.  Maar in die woorde van oumagrootjie, is ek mos konstant besig om myself te herskep.  Die vraag wat ek myself altyd moet afvra is hoekom ek dit wil doen.  Die antwoord is eenvoudig en dit is dat niemand daarvan hou om "uit" te wees nie.  Op 'n manier is ons almal steeds in die Laerskool en probeer ons elke dag om "in" te wees en aanvaar te word.  Daar is geen groter begeerte by mense om te voel dat jy voldoen aan wat om jou aanvaarbaar is nie. 

 

Ons ontwikkel sekere rolle om met die situasie te kan saamleef deur ons ervaring wat in sielkunde met 4 tipes verduidelik kan word:

 

  1. Die Ouer:

 

Hierdie is daardie tipe persoon wat altyd soos 'n outokraat alles en almal om hulle probeer beheer.  Dit is die persoon wat tipies almal kritiseer en almal probeer dwing om na hulle pype te dans.  Hulle werk is ook nooit klaar nie, want wanneer hulle die mense om hulle iets geleer het en hulle het daaraan voldoen, dan is daar 'n volgende uitdaging en takie wat aan die onderdaniges opgedra word.  Ek word nou die dag herinner aan 'n familielid van ons wat op die plaas gebly het daar in die Wes-Transvaal.  Hy was uit en uit 'n outokraat gewees.  Wanneer hy en sy vrou dorp toe gaan vir besigheid, het hy vir haar 'n tyd gegee wat hy gaan terugry plaas toe.  Indien sy nie op die tyd wat hy bepaal het terug reg is om te ry nie, het hy eenvoudig haar daar gelos en sy moes maar self 'n plan maak om terug te kom op die plaas.

 

Niemand kan met so 'n persoon saamleef nie, want hulle outokrasie maak dit onmoontlik.  Geen mens is altyd en alleen reg nie, en nog minder het iemand die reg om ander te dwing om te doen wat hulle wil.  Dieselfde oom het 'n fete gehad met sy buurman.  Hulle het oorkant die dam van mekaar gebly.  Hierdie oom het sy buurman en gesin vir 3 dae gevange gehou in hulle eie huis.  Hy het op sy stoep gesit met sy geweer en as iemand net by die huis uitkom, het hy so voor hulle op die grond geskiet.

 

Hierdie tipe mense word eenvoudig oulike stories van vertel, maar om almal te probeer dwing om na jou pype te dans is eenvoudig nie die antwoord vir die lewe nie.  Sulke mense regeer met Hitler-vrees, en as jy nie na hulle pype dans nie, word jy net eenvoudig uitgeskuif.  Die ironie van die saak is dat dit juis hierdie "ouer-tipe" mense is wat alleen en eensaam hulle lewens afsluit, want net hulle is belangrik.

 

  1. Die Kind:

 

Wanneer die Bybel praat daarvan dat ons in die geloof soos kinders moet wees, beteken dit geheel en al gladnie dat hulle eenvoudig alles aanvaar wat met hulle gebeur nie.  As jy nou vir jou kind sê dat hy sy pampoen moet eet omdat dit goed is vir hom, gryp hulle verseker nie hulle vurke en slurp die pampoen op nie.  Verseker nie, hulle bevraagteken meestal alles.  Dit is goed vir 'n kind se ontwikkeling, want dit leer hulle om hulle eie identiteit te ontwikkel.

 

Maar niemand hou van 'n rebel nie, wat die hele tyd alles om hulle in twyfel trek en almal se siel versondig nie. Hierdie tipe mense kom ook tot eensaamheid, want die intensiteit van die rebellie lei tot konflik en tot eensaamheid.

 

  1. Die Prostituut:

 

Hierdie is 'n optrede waarin mense net eenvoudig geen rol speel nie, maar misbruik word.  Hulle laat eenvoudig toe dat enige persoon en enige situasie oor hulle loop.  Hulle is dalk so moeg vir die bombardering van die mense om hulle dat hulle eenvoudig moed opgee en ingee teen die druk. 

 

As daar nou een tipe persoon is wat die verste uitgeskuif word in enige samelewing is dit hierdie groep.  Niemand hou van sulke lamsakke wat sonder standpunt en sonder insette leef nie.  Mense wat eenvoudig ons kosbare suurstof kom steel, het niemand voor tyd nie. 

 

  1. Die Volwassene:

 

'n Volwassene is 'n persoon in 'n verhouding wat geleer het om homself en die mense om hom/haar met liefde te hanteer.  Dit is die persoon wat verstaan dat nie een van die bostaande "rolle" werk nie.  Dit is iemand wat verstaan dat hy/sy spesiaal is op hulle eie manier, en iemand wat op hulle eie voete te kan staan.

 

Die eerste drie wat ek genoem het se rolle word gevoed deur 'n afhanklikheid van ander.  Die ouer kan net ouer wees waar hy/sy iemand het wat hulle oor outokraties hulle wil kan afdruk.  Die kind het 'n ouer nodig waarteen hulle kan rebelleer.  Die prostituut het iemand nodig wat hulle kan misbruik.  Die volwassene is iemand wat totaal as individu kan funksioneer en nie mense "nodig" het om volwassene te wees nie.

 

Die ander 3 rolle is amper soos die prentjies wat ons in kinders se inkleurboeke kry met die kolletjies wat die kind aanmekaar moet koppel.  Hulle moet gelei word, terwyl die volwassene sy/haar eie prentjie van hulle lewens teken, sonder "afhanklikheid" van die ander. 

 

'n Mens kan net in verhoudings wees waar jy 'n volwassene is, en die ander persoon ook 'n volwassene is.  Jy kan slegs die druk van die lewe ervaar waar jy verstaan dat jy net jouself is, en waar jy met jouself en die mense om jou vrede gemaak het.  Waar jy besef dat jy jou selfwees kan geniet, kan lag vir jou foute, verantwoordelikheid kan aanvaar en waar jy kan luister.  Waar jy in niks ingedwing word nie en niks op ander mense afdwing nie.  Enige van die ander 3 rolle in 'n verhouding is toksies en lewer geen sin vir die lewe nie.  In geen van die ander rolle kan jy werklik jouself wees of asem haal nie.

 

Hierdie rol van volwassene beteken nie dat jy ruggraatloos is nie, maar eerder dat jy jouself eerste stel en terselfdertyd al die mense om jou ook eerste.  In 'n verhouding met volwassenes het jy nie nodig om jou plek oop te baklei of jouself te laat hoor deur aggressie en woede nie.  Dit is 'n plek van saligheid waar jy in totale geluk en vrede met almal om jou is.  Dit is 'n plek waar jy jou identiteit as (jou naam) volledig kan uitleef en gelukkig kan wees.

 

Dit is natuurlik ook die plek waar jy toegelaat word om jou identiteit uit te leef en waar dit vir hulle om jou aanvaarbaar is dat jy jouself is.  Dit is 'n plek waar jy vrye wil het en waar jy ander toelaat om hulle vrye wil uit te leef!

 

Gaan toets bietjie jou lewe aan hierdie 4 rolle, en gaan kyk waar jy is.  Miskien is dit wat my oumagrootjie bedoel het.  In enige ander rol as die rol van volwassene gaan jy elke dag jouself gek maak en die hele liewe tyd met jouself en ander om jou besig wees in 'n konstante stryd van negatiwiteit, eerder as 'n gelukkige en sinvolle lewe.

Wednesday, July 11, 2012

Balke en splinters en ouma se Datsun

 Ek was omtrent so 10 jaar oud, toe koop my ouma 'n motor by haar neef.  Ek kan goed onthou dit was so 'n blou Datsun 1600, daardie tyd toe hulle nog sulke boksie-motors gebou het.  My ouma was so trots op haar motor.  My ouma het in 'n woonstelblok gebly en daar was nie toesluitmotorhuise nie, slegs daardie middelste onderdakparkering met die grasperk en braaiplekke op.

 

My ouma was so bang dat iemand haar motor moet steel en het elke dag vir ons vertel dat sy deur die nag wakker word en deur die venster in haar sitkamer gaan loer het of die motor nog daar is.  Een oggend 3:00 lui ons huisfoon en my ouma is histeries want haar voertuig is gesteel.

 

Sedert daardie tyd worstel ek ook baie met die denke oor of situasies soos wat my ouma getref het deur haar aangetrek is (die Bybel noem dit mos dat wat jy vrees oor jou sal kom) en of dit sou gebeur het sonder my ouma se insette of vrese.

 

Ek het in die vorige blog genoem dat ons besig is om na motors te kyk om te koop en dat ons so bietjie buite die algemeen na "onbekende" motors kyk.  Wat my vreeslik opval is dat ek voorheen nooit hierdie voertuie op die pad gesien het nie, en skielik sien ek hulle raak.  Ek sien die Dodges, die Chevrolets en selfs ander motors wat ek nooit van geweet het nie. 

 

Mense praat deesdae vreeslik baie oor die konsep dat ons die wêreld om ons "skep" deur die manier wat ons dink.  Ons trek, as ek dit so kan noem, dinge na ons toe aan.  Ek wonder toe sommer of ek so belangrik is dat ek 'n ommeswaai in die wêreld van motorsmaak kan veroorsaak?  Is dit ek wat die katalis is dat mense nou skielik meer Dodge motors koop, of was dit maar altyd daar en al wat verander het is my ingesteldheid teenoor die voertuie? 

 

Die Bybel vertel ons ook op verskeie plekke dat ons denke en ingesteldheid wel 'n invloed het op ons lewe, en nie net op vreemde maniere nie, maar ook in die praktyk.  Aan die een kant het ons altyd die mense wat glo dat alles voor die tyd deur God besluit is, en dat ek net my rol speel sonder enige insette van my eie.  Aan die ander kant van die redenasie het ons mense wat glo dat ek die middelpunt van die lewe is en dat God my bystaan, maar dat EK die wêreld skep waarin ek woon.

 

My standpunt bly altyd dat dinge in die lewe nie OF-OF is wanneer dit by redenasies soos die kom nie, maar eerder EN-EN.  Die rede hiervoor is dat ek nooit die antwoord op hierdie raaisel gaan vind nie.  Wat ek wel glo is dat daar tog genoeg bewyse is dat my ingesteldheid, denke en optrede tot iets lei, al is dit net my observasie van dinge of dalk skep ek my lewe soos dit nou is.  Ek is nie net 'n pion van God waarvan God al die toutjies trek nie. 

 

Die Bybel vertel tog dat ons as mense die vermoe besit om te kan berge versit, wat tog vir ons 'n aanduiding is dat ek 'n rol in die wêreld om my speel.  Ons ken ook die gesegdes dat wanneer jy jou met die semels meng, die varke jou opvreet.  Ons is ook deeglik bewus dat God ons liefhet en dat hy niks slegs met ons wil laat gebeur nie.  Maar telkens sien ek siekte, ongeluk, hartseer, frustrasie en pyn in mense en wonder dan hoekom God so iets toelaat?  En ek besef weereens dat ek nie my rol in die wêreld om my heeltemal kan ignoreer nie.  Elke gedagte en elke oomblik het 'n rimpel effek in my en almal om my se lewens, en alles begin by my denke en gedagtes.  Die Bybel noem dit nie verniet dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou nie, want God wil ons elke oomblik herinner dat dit belangrik is.

 

Dit is vreemd dat as ek die dag geirriteerd is, ek die hele dag met mense saamleef wat  my irriteer.  As ek dink dat alle mense sleg is, gaan mense om my altyd sleg wees.  As ek negatief is en dink iemand is "useless" , raai wat, gaan hulle dinge doen wat my punt versterk.  As ek dink dat vrouens nie kan bestuur nie, gaan ek die hele tyd vrouens kry wat voor my inry om my denke te voed.  As ek dink niemand is betroubaar nie, gaan mense onbetroubaar voorkom en wees in my geselskap. 

 

Die omgekeerde is ook waar, dat wanneer ek lief het, het ek liefdevolle mense om my.  As ek mense om my sag hanteer, gaan mense sag en teer wees in my teenwoordigheid.  Jesus het as voorbeeld altyd die halfvol glas in mense se lewens gesoek, eerder as om hulle op hulle sondigheid te wys.  Hy is die een wat die prostitute se voete gewas het en die seer mense verbind het, terwyl die oordelende massas hom daaroor aangevat het.  Iemand het een keer gese dat die rede vir die feit dat die massas Jesus verwerp het toe hy op aarde was dalk gebore is uit die feit dat mense nie geglo het dat dit moontlik is dat daar 'n liefdevolle mens op aarde is wat opreg was nie.  Miskien sien jy ook elke aksie van mense om jou met oordeel, en is jy verblind vir dit wat mense doen en beteken in jou lewe. 

 

Daar word ook vir ons geleer, behalwe dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou, dat ons ook nooit die duiwel 'n vatkans moet gee in ons lewe nie.  Wat dit beteken is een ding en dit is dat jy, soos in Star Wars, baie keer oorgaan na jou "donker" kant.  Eerder 'n lewe wil leef van negatiwiteit en kla en oordeel, as om te soek na die mooi in die lewe en die mooi in mense om jou. 

 

Ek lees nou 'n interresante boek oor hoe om op te hou rook, en een van die belangrikste aspekte is dat ons rokers gebreinspoel is, maar meer nog onsself brienspoel.  Ek het so gewoond geraak om in situasies 'n sigaret aan te steek, dat ek nie meer dink daaroor nie.  Ek het so begin glo in al die verskonings en redes vir hoekom ek rook, dat ek vergeet het hoekom ek nie wil rook nie.  Ek is so vasgevang in my gewone manier van doen, al weet ek dit gaan my dood veroorsaak, maar ek hou aan daarmee.  So leef ek my lewe met ingesteldheid teenoor mense wat hulle en myself so ongelukkig maak, en al weet ek dit is nie wat ek soek nie, hou ek aan daarmee.  Elke dag wat ek dink mense is "useless", weet ek dat ek hulle emosioneel doodmaak, maar ek hou aan met my ingesteldheid.  Dit is maar een voorbeeld, maar snaaks genoeg is dat 'n mens kry wat jou oe soek om te kry.

 

Dalk moet ons vandag in ons verhoudings so bietjie gaan kyk na ons ingesteldheid en besef hoe dit alles om my impakteer.  Miskien moet ek vra of ek die hele tyd 'n stok soek om iemand mee te slaan, of eerder 'n geleentheid om hulle te prys of vas te hou.  Sit ek die bril van oordeel op, of kyk ek eerder met my blindheid verby die "foute" van die mense om my.  Haal ek die sweep uit om mense te kasty vir wat hulle nie is nie, of eerder my beursie van liefde om hulle te betaal vir wat hulle wel vir my beteken.  Veg ek elke dag teen die balk in my eie oog, of is ek so besig om die splinters in ander raak te sien.  Vul ek my dag met positiewe energie, of vul ek my leefruimte met allerhande "verslawings" soos rook wat ek weet nie werk nie.  Ons weet dat hierdie ingesteldheid nie werk nie, want dit is net in Wiskunde waar negatiewe somme kan uitwerk op die positiewe.  En die belangrikste van alles is dat dit ongelukkig nie ek is, of hierdie blog is, of die sielkundiges is, of die regte tyd is wat dinge gaan verander nie, dit is ek en ek alleen. 

 

Hulle sê dat die ergste verslawing in die wêreld rook is en dat dit die moeilikste is om af te leer, maar ek dink dat hierdie 'n groter verslawing is.  Mense sterf elke dag in hulleself met woede en hartseer en pyn, maar hulle sal dit om die dood nie los nie, want hulle is nie bereid om te verstaan dat dit by hulle begin nie.  Daar sal nooit die regte tyd wees om op te hou rook nie, want daar is altyd 'n geleentheid of 'n gewoonte sigaret of te veel stress of te lekker ontspanning, wat my verskonings gaan gee om op te hou rook. Altyd 'n rede, maar wanneer die kanker of die hartaanval my tref, dan is dit te laat om op te hou, want die skade is reeds gedoen.

 

Gaan kyk vandag bietjie na jou ingesteldheid teenoor jouself, mense om jou, lewensmaat, kinders, vriende ens.  En moet nie 'n fout maak nie, dit is nie hulle wat jou ingesteldheid beheer nie, net JY!  Maar dit is net soos met die rook, jy gaan soms voel dat daar 'n rede is om iemand af te jak of om te oordeel of te verskree, en wat maak dit saak.  As jy weet dat iets nie 'n goeie uitwerking op jou lewe of mense het nie, moet dit nie sê of doen nie. 

 

Ek is seker dat ons met die verkeerde ingesteldheid en denke, meer mense elke dag verwoes en doodmaak as wat enige sigaret of dwelms doen.  En die uiteinde van hierdie gedrag is dat jy jouself doodmaak, want al kry die mense om my deur my verkeerde ingesteldheid tweedehandse "rook" in, is dit die persoon wat die sigaret aansteek wat die meeste daardeur beinvloed word. 

 

Jy kan jou lewe verander, jy kan 'n fantastiese verhouding met jou lewensmaat he, jy kan 'n wonderlike tyd met jou kinders spandeer, jy kan ook beinvloed wat in die lewe na jou kant toe kom, maar JY moet dit gaan skep.  Ek ken mense wat in die haglikste omstandighede denkbaar leef, maar met 'n lag in hulle hart, en ander wat alles het en elke dag in hel leef en alleen is!

 

Hou op wegkruip agter die verskonings van jou verslawing, ook aan woede, rusie, "uselessness", pyn, jammerkry, hartseer, onvertroue ens.  en gaan doen iets daaraan.  Hou op maak asof dit my persoonlikheid is, dit is nie.  Ek is in beheer van my lewe, my woorde, my optrede en niemand anders nie.  Niemand het my gedwing om te rook nie, ek het gekies, so kan ek ook vandag kies om my ingesteldheid te verander en dinge anders te sien sodat ek kan LEEF eerder as om te STERF!

 

Jakobus 4:17:  "As iemand weet dat hy iets verkeerd doen, maar hy hou aan daarmee, dan is dit sonde"

 

 

 

Sunday, July 8, 2012

"Trou is nie perdekoop nie"

Ek is nou in die proses om te soek na 'n nuwe motor wat ek kan koop, en so in my enigheid dink ek toe gisteraand aan die afrikaanse spreekwoord wat sê:  "Trou is nie perdekoop nie".  Deesdae koop 'n mens nie sommer baie perde nie, want ons perde is deesdae motorvoertuie met perdekrag onder die enjinkap.  Terwyl ek so motors bestudeer, sien ek dat hierdie proses ons baie herinner aan die verhoudings waarin ons leef.

 

Wanneer jy 'n motor koop, veral in die mark waarin ons vandag is, dat die keuse wat jy nou maak by jou gaan bly vir 'n lang tyd.  Jy moet gemaklik voel met jou keuse en weet dat jy tien teen een met die voertuig gaan sit vir 5 jaar of meer.  Verhoudings met mense is ook gemik op die lang termyn, en verkieslik lewenslank.  Ek dink dit is hoekom mense so bang is om finale keuses te maak en volledig met iemand in 'n verhouding in te spring, want anders as met motorvoertuie, kom verhoudings nie met waarborge en diensplanne nie.  Daar is geen manier dat jy jou maat kan terugvat na die handelaar en verwag dat hulle haar moet terugvat of haar moet omruil nie.

 

Ek hou baie van motors, maar daar is nie 'n manier dat ek almal kan bekostig wat ek graag soek nie.  Ons het almal sekere dinge wat ons beperk in die keuses wat ons kan maak.  In motorkoop is dit die geldelike dinge wat ons beperk, en ek moet soms vrede maak met wat ek kan bekostig en geniet wat ek KAN koop en nie die hele tyd rondloop met pyn oor wat ek NIE kon koop nie.  In verhoudings soek ons ook altyd die beste "waarde" vir ons geld, die persoon wat die beste by ons pas en vir ons gee wat ons nodig het.  Ek is nogal ietwat sinies oor hierdie tipe van standpunt, aangesien ek glo dat mense in verhoudings mense "kies" en dan die hele tyd op die tekortkominge van my maat wys.  Miskien is die persoon in jou lewe 'n ouerige Honda met stampe en stote met nukke en grille, maar as ek elke dag die arme Honda die skuld gee dat dit nie 'n Porsche is nie, is tog totaal onregverdig. 

 

Vrydag het ek die voorreg gehad om weer met my 1989 Honda Ballade te ry wat aan my oom in Holland behoort en wat hier by my huis staan.  Hy spoeg en spartel om aan die gang te kom en hier waar ons bly kyk mense jou nogal vreemd aan wanneer jy met 'n motortjie ry waarvan sekere bakdele met "cable ties" vasgehou word.  Ek en Blacky ry toe na ons afsprake, en te midde van wat almal om ons van ons gedink het, het ons gelag en soveel pret gehad.  Weereens besef ek dat ons samelewing tog so vreemd is en ingestel is op die uiterlike, terwyl dit gaan oor die heerlike geselskap binne die voertuig en nie oor wat ander dink of voel of oordeel nie.  Soos wat ons ry sien ek hier in Atterbury by die robotte al die mense in hulle luukse Duitse motors, sonder 'n glimlag en sonder dat dit lyk asof hulle die lewe geniet.  Sal jy eerder gelukkig wil wees met jou situasie, of in 'n situasie wees wat jy nie geniet nie, net omdat dit luukser en mooier is?

 

Op ons ouderdom moet ons ook verstaan dat die motors wat jy kan bekostig eerder tweedehandse motors is.  Hulle het almal myle op en hulle het enjins wat nie meer so vlot loop nie en waarvan die bakwerk skrapies en stampe het.  In alle verhoudings koop jy iemand wat 'n geskiedenis het, en jy weet ook dat daar nie volledige diensrekords is van die persoon nie.  Hulle is nie so goed onderhou soos wat ons graag sal wou gehad het nie, en ook nie soos hulle dit wou gesien het nie.  Maar net soos met motors dink ek mense soek maar net iemand wat mooi na hulle sal kyk en hulle meganika en denke met liefde en deernis gaan hanteer.  As ek 'n motor se enjin oopmaak, erken ek dat ek geen idee het wat om te doen as iets fout gaan nie.  Deesdae is enjins so gekompliseerd dat die mense wat hulle by die handelaars moet onderhou oorsee gevlieg word om te gaan leer hoe hulle werk, want hulle kan dit nie bekostig om 'n fout te maak nie, want mense se lewens kan afhang van hoe goed hierdie mense hulle werk doen.  Meeste mense wat deesdae motors koop het ook geen idee van wat onder die enjinkap aangaan nie.  So ek moet ook weet dat ek nie weet wat in my maat se enjinkap aangaan nie, en ek kan ook nie van hulle verwag om my "reg" te maak nie.  Maar een ding wat ek geleer het is dat jy goed en gelukkig oor die weg kan kom, selfs met 'n motor wat nie perfek is nie.

 

Daar is natuurlik ander opsies beskikbaar as jy nie kan koop nie, soos motorhuur of motor leen.  Die probleem daarmee is dat dit net verbruik is, en nie eienaarskap of verhouding nie.  Gaan maar na Avis en kyk bietjie met hoe min sorg mense die motors wat hulle huur hanteer.  Hoeveel mense ken ek wat hulle bakkies geleen het vir ander om iets aan te ry, wat vir jou sal sê dat jy nooit jou voertuig uitleen nie, want die risiko is net te groot.  As mense nie hulle eie voertuie koop nie, het mense eenvoudig nooit dieselfde ontsag vir die voertuig nie.  In verhoudings moet jy 'n "commitment" maak, van watter aard ookal, om daardeur te wys dat jy "omgee" en ook lei jou commitment outomaties na 'n beter omgee en nasien van jou voertuig.

 

Mense is deesdae al hoe meer "gesofistikeerd" in hulle behoeftes wanneer dit by motorkoop kom.  Daar moet kameras in wees wat jou help om agtertoe te ry, 'n plek waar jy jou I-pod kan inprop, navigasie, DVD spelers vir die kinders agter in die voertuig, 'n wonderlike klankstelsel om lekker musiek te kan luister wanneer jy ry.  In baie gevalle fokus die handelaars ons aandag weg van probleme in die voertuig met al hierdie ekstras wat jy voor betaal, maar wat nie die essensie van die voertuig is nie.  My oupa Frans het gesê dat hoe meer dinge daar in 'n motor is, hoe meer dinge is daar wat breek.  Wanneer ons dus met iemand in 'n verhouding is of iemand kies, moet ons versigtig wees dat ons nie so oorbluf word deur die uiterlike "onbelangrike" dinge, dat ons nooit eers oplet of daar 'n enjin onder die kap is nie.  Die siel van 'n motor is die enjin en nie die DVD speler in die voertuig nie, want dit help my niks as ek al die dinge het en dit in my motorhuis moet geniet, want die voertuig kan my nêrens heen neem nie. 

 

Ek kom nog uit die tyd waar my ouers en hulle vriende verdeel was tussen Merc en BMW aanhangers.  So was ek vir lank iemand wat in my keuse oor voertuie net gekyk het na die sogenaamde bekende make.  Twee weke gelede stap ons by 'n Amerikaanse handelaar in, en daar sien ek nou werklike waarde vir geld.  Die voertuig wat ek sien is half prys van die voertuig wat ek graag sou wou koop.  Jy sien, soms moet ons die manier wat ons gebruik gaan analiseer en ons oopstel om vars te dink oor dinge.  As ek terugkyk net my BMW's my altyd goed behandel, en selfs my Land Rovers (glo dit of nie), maar nou kyk ek op 'n ander manier na dinge.  In ons verhoudings kan ons soms so vashaak by die feit dat ons nie het wat ons dink ons moet kry nie, dat ons vergeet om te sien wat ek wel het.  Dalk gaan my Amerikaanse motor nie die mense om my beindruk nie, maar ek leef nie soos hulle met die reuse paaiemente nie, maar geniet 'n voertuig wat vir MY werk. 

 

Mense om my kyk my aan in my leenkarretjie vanuit hulle luukse statige waens, en hulle vorm 'n opinie oor my.  Veral die vier-by-vier tannies ry sommer voor jou in by 'n sirkel, want hulle dink jy is nie waardig om saam op die pad te wees nie.  Een van die beste lesse wat ek in versekering geleer het, is dat elke mens die reg het op dieselfde behandeling, of hulle nou 'n R50 per maand polis uitneem of R5 000 per maand.  Partykeer hanteer ons ook maar ons maats in verhoudings met afguns of dat ons dink dat ons beter is as hulle.  Wat ek wel ook geleer het uit die voorbeeld hier bo is dat die klient met die R50 polis, veral in ekonomiese moeilike tye, eerder sy kontrak tot op die einde van die tyd betaal, maar dat die groot premies makliker verval.  So, die klient met die klein premie, beteken soms vir my meer as die groot klient oor die langer termyn.

 

Ek sien tussen mense wat ek ontmoet 'n paar tendense wat ek graag wil uitlig. 

 

Mense koop hulle motors met die oog daarop dat dit slegs tydelik is totdat die model wat hulle graag wil koop beskikbaar word.  In sulke situasies word die mense in my lewe presies dit, iemand wat ek op trap om by die volgende trappie uit te kom.  In die geval is alles selfsugtig.  Hou op om bang te wees binne verhoudings, koop die kar, en hou op om dit te leen of te huur.  Jy mors in elkgeval jou tyd en jou energie om te wag vir iets beter om oor die pad te kom.  Jy sien, baie motormaatskappye vervang modelle die hele tyd.  Dit beteken dat as ek altyd die beste en mooiste en op datum produk soek, ek elkgeval altyd agter sal wees.  Breek daardie "droomlewe" scenario in jou lewe.  Gaan en gaan bedink bietjie waarmee jy besig is en of jou ongeluk in jou verhouding nie die produk is van jou breinspoeling nie.  Gary Player het so baie vir mense geleer oor gholf en die lewe in die aanhaling wat se:  "Play the golf course as it is, and not how you would like it to be". 

 

Die breinspoeling kom uit onsself waar ons dink dat jy altyd beter en verder en groter moet droom.  Dit is iets wat ons geleer is wat nie vir my sin maak nie, want as ek vrede maak met my situasie en die voertuig koop, beteken dit tog nie dat ek iets prysgee of dat my lewe vol hartseer en pyn is en gaan stagneer nie.  Inteendeel, ek dink dat mense wat "settle" gelukkiger is as hulle wat altyd die agterdeur oophou of wag vir iemand wat dalk nooit gaan realiseer nie.  As jy so leef en altyd wag, gaan jy die ongelooflike lekkerte van jou rit mis, en geen wonder dat jy dan ongelukkig is in jouself en in jou verhouding nie.

 

As jy iemand wil vra wat hulle droomvoertuig is, sal mans veral vir jou iets opnoem soos 'n Ferrari.  Ek sit so paar jaar gelede met iemand in 'n vergadering wat 'n Ferrari ry, en kom toe agter dat alles ook maar nie so lekker gaan met sy genot nie.  Hy parkeer net op sekere plekke, want hy is so bang dat iemand sy motor gaan krap.  Hy moet baie geld spandeer wat mense steel die kentekens van die wieldoppe af.  Nie net gepaar van die prys nie, maar ook die versekering en petrol kos hom 'n arm en 'n been.  Toe dink ek dat, alhoewel ek dink dit heerlik sal wees om 'n Ferrari te besit, nie alles altyd groener is aan die ander kant van die draad nie. 

 

So baie mense se lewens gaan dus by hulle verby terwyl hulle wag vir die "perfekte" voertuig wat moontlik nie bestaan nie.  Alle voertuie en alle verhoudings het almal dieselfde boublokke van raam, wiele en enjins, maar almal het een ding in gemeen en dit is om my by my bestemming uit te bring, te midde van al die ekstras of prys of spoed.  Soms moet 'n mens tot die besef kom dat selfs die duur motor jou dalk ook breek en dalk vir jou meer frustrasies bring as jou huidige voertuig.

 

Jy moet jou voertuig oppas en seker maak dat jy nie in situasies verval waar dit van jou weggeneem kan word nie.  Jy sal nie met opset deur 'n "township" ry of jou voertuig sommer enige plek parkeer nie.  Soms neem omstandighede of jou GPS jou op 'n verkeerde roete, maar dit is jou natuurlike instink om daar uit te kom, want jy wil nie kanse vat nie.  Hoekom vat ons dan so baie kanse met ons verhoudings en plaas ons onsself op risiko om alles te verloor?  Bly weg van situasies waar jou verhouding onder risiko is, want glo my, een dag is een dag wat dit gaan gebeur.  Ek het soveel vriende wat ek sien wat hulleself oor en oor in situasies begewe waar dinge kan skeef loop.

 

Gaan vandag en gaan smeer bietjie politoer aan jou verhouding en gaan wees gelukkig oor die manier wat dit jou by jou bestemming uitbring!

 

 

Tuesday, July 3, 2012

In Jesus se spore

Die liefde is seker die moeilikste konsep ter wêreld om oor te praat, te skryf en te kommunikeer.  Ons weet baie goed uit die Bybel en die wyse Salomo, dat daar nie ‘n manier is, met al sy wysheid en alles, om vir ons te weet hoe die liefde tussen 2 mense werk nie.  Ons gebruik baie kere die woord liefde in relaas tot ander mense, maar soms wonder ek self of ek weet en onthou wat dit behels as jy vir iemand toedig dat jy lief is vir hulle.  Jy sien, om vir iemand te sê dat jy lief is vir hulle, roep ‘n groot verantwoordelikheid by ons.  Wanneer jy vir iemand dit sê, dan het mense ‘n hele rits dinge van wat hulle van ons kan verwag en dit is waar die tameletjie nou inkom met liefde.

Die grootste voorbeeld wat ons kan sien van liefde is die liefde wat God vir ons as mense het.  Die Bybel vertel vir ons dat God ons so liefgehad het, dat Hy Sy eie Seun gegee het om vir ons te sterf.  Wat hierdie liefde beteken is dat as God bereid is om dit vir my as mens te doen, hoeveel te meer kan ek Hom vertrou met al die ander minder belangrike dinge in my lewe.  God se liefde is ‘n ideaal wat ons leer presies wat liefde is.  Dit is nie onderhandelbaar nie en ook nie onderhewig aan enige kriteria of toetse van of dit so is nie, dit IS so. 

Wat God se liefde ons leer is dat liefde nie ‘n wederkerige situasie behoort te wees nie, God is nie lief vir ons omdat ek iets doen of verdien nie.  God se liefde is volmaak aangesien daar nie ‘n miskien en moontlik en dalk by betrokke is nie.  Liefde se bron kom van God af, dus, wanneer ek vir iemand sê dat ek hulle lief het, beteken dit dit kom van MY af en is nie afhanklik van hulle reaksie of optrede na die tyd nie.  Mense wil graag van jou weet hoekom jy hulle lief het, maar soms moet ons maar soos Salomo erken dat ons nie ‘n idee het hoekom ons so voel nie, maar ons is. 

‘n Verdere deel van God se liefde sien ons uit die optrede van Jesus Christus dwarsdeur die Bybel.  Jesus het sy liefde uitgeleef deur soos 'n dienaar op te tree.  Daar is 'n baie mooi woord in Afrikaans wat diensbaarheid die beste uitdruk en dit is on-baat-sugtig.  Weereens ‘n voorbeeld van God se liefde wat prakties is en waar Jesus dinge doen sonder dat Hy daaruit baat wil vind, met ander woorde sonder om iets terug te kry, of te verwag om terug te ontvang.  Jesus wil maar graag sien dat ons, net soos ons maak wanneer ons vir mense lief is, dat ons Hom ook lief het, maar Sy liefde kom eerste en staan alleen en het nie ankertoue van enige aard nodig nie.  Dit is liefde!

Liefde is dus ‘n konsep wat op sy eie bestaan en wat JY bou vir iets of iemand.  Die God waarin ek glo is 'n  God wat nie toelaat dat dit wat ons doen die beeld van liefde en Sy liefde vir ons laat aanraak nie.  Dit is soos 'n “post” op Facebook waar daar geen “like” of “share” knoppies en plek vir kommentaar is nie.  Sy liefde staan vas, sonder enige terugvoer of antwoord van ons – en 1 Korinthiërs 13 stel dit duidelik dat as ek nie hierdie liefde van God in my lewe HET nie, beteken my lewe hoegenaamd niks en het ek eintlik nog nie een oomblik geleef nie.  Die teksvers gaan vêrder om te sê dat ware geluk ook vêrder in my lewe kom, daardie oomblik wat ek dit kan regkry om so ook met die mense om my te wees.

Menslike “liefde” en ek plaas dit met opset tussen aanhalingstekens, lyk vir my in die praktyk anders te wees.  Liefde vir ons is soos ‘n bad vol water.  Voordat ek in die bad klim en pens-en-pootjies inspring, bevoel ek eers die water.  Elkeen het sy eie manier, sommige voel met hulle hande, ander met die toon en ander met hulle elmboog, om seker te maak dat die water die temperatuur is wat hulle “pas”.  Ons sien ook hierdie tendens in ons aanvaarding of verwerping van Godsdiens dat ons eers sommige bewyse soek voordat ons 100% net gaan inspring in die liefde. 

Natuurlik is ons almal bewus van die feit dat almal al in liefde teleurgesteld is in ons lewens en in water geklim het wat of te koud of te warm was.  Ons glo dat dinge wat met ons gebeur 'n leerskool is, maar wat het ons geleer daaruit?  Wat problematies is, is dat mense soms die baba met die badwater uitgooi by die deur.  Die feit dat die water in 'n verhouding nie na wense was nie, beteken nie dat ek nooit ooit weer mag bad nie.  Dit bring my terug by 1 Korinthiërs 13 waar die liefde vir ons uitgespel word, maar vreemd genoeg, nie die lys van dinge waaraan ander moet voldoen oor die liefde voordat ek hulle kan liefhê nie, maar eerder wat ek moet doen om liefde te WEES.

Wat liefde dus is, is dat ek myself moet liefhê as 'n begin soos God my lief het en besef dat ek besonders is, maar omdat ek besonders is in die oë van God beteken nie dat ek nou “spesiaal” moet behandel word en moet dink dat die water wat vir my voorberei word deur ander perfek by MY behoeftes moet pas nie.  Ons is heel bewus van ons menslikheid en dat ons almal strewe daarna om beter mense te wees.  Soms gaan die water nie heel perfek in temperatuur wees nie, maar genoegsaam om in die doel daarvan te slaag en dit is dat ek myself kan was en verfris kan wees. 

Dit hang natuurlik ook af van die konteks waarin ek leef, want as die water in die somer nie warm genoeg is nie, is dit draaglik, maar wanneer dit winter is, is dit nie lekker om in koue water te bad nie.  Dit is egter 'n feit dat ek en jy MOET bad, ons kan nie sonder skoon verfrissing bly nie, want dan gaan niemand ooit naby ons wil kom nie van die reukie wat ons gaan afgee.  Sodoende is mense wat in liefde leef, al is dit NET die liefde wat God vir hulle het, mense wat ons eerder by sal wil wees as hulle wat 'n stankie afgee.  Mense sonder liefde is onaantreklik en onaangenaam om naby te wees, maar mense wat in die liefde leef is aantreklik. 

Die nuwe vertalings van die stuk in Korinthiërs gebruik so mooi die woord HET, wat vir ons die indikasie gee dat dit iets is wat 'n mens besit en nie iets wat 'n mens net leen nie.  Dit word DEEL van jou en niemand kan dit van jou wegneem nie.  Jesus is gekruisig deur die mense, maar dit het niks gedoen aan sy liefde vir hulle nie.  Hoeveel van ons kan dit sê?  Ons loop met jare lange verwyte en baklei in ons wat verwyderd is van wat liefde is.  Jesus het nie op Hom laat trap nie, maar liefde vir mense en diensbaarheid het meer getel as om SY punt te bewys.  

Moeder Theresa het gesê dat jy sal goed wees vir mense en hulle sal dit in jou gesig teruggooi, maar dit beteken nie dat jy moet ophou om vir mense goed te wees nie.  Miskien is vandag die dag wat ons moet gaan stilstaan en onsself moet afvra of ons die liefde HET?  Miskien is vandag die dag wat jy weer jou Bybel moet optel en gaan lees wat liefde is en nie jou liefde afhanklik maak van wat ander aan JOU doen nie.  Miskien is vandag die dag wat jy mense om jou asem gee en waar jy On-Baat-Sugtig lief het, sonder dat jy terug ontvang wat jy dink jy behoort te kry? 

Dalk moet ons weer die konsepte van wat liefde is gaan nastreef, naamlik, geduld, vriendelikheid, nie jaloers wees nie, nie jou eie beuel blaas nie, nie vol van jouself wees nie, nie onwaardig optree nie, nie jou eie belange vooropstel nie, nie kort van draad wees nie, nie boekhou van die kwaad wat jou aangedoen is nie, juig oor waarheid wat seëvier, stil wees oor ander se foute, steeds bly vertrou, aanhou hoop en alles verduur en ON-BAAT-SUGTIG gaan liefhê.