Wednesday, November 25, 2015

Grafte en Groewe



Die spreekwoord lei:  "Die verskil tussen 'n graf en 'n groef is slegs die diepte".  Ek onthou nog toe ek klein was het ek in die grond met my karretjies gespeel.  Omdat ek op 'n plaas was, het ek nie net paaie gemaak nie, maar ook met spykers en draad kampies gespan.  Dan het ek met 'n stokkie sulke vloeigroewe in die grond gemaak sodat die water na die kampies kon loop sodat die beeste genoeg water in elke kamp het.  Daardie groefies in die sand is nie ongelooflik diep nie, maar die water kon nerens anders heen as in en saam met die groefies nie.  Daardie groefies is ook redelik permanent en dit vat vreeslik lank om toe te gaan.  As jy nou ook daagliks daaraan karring, dan gaan dit omtrent nooit weg nie, maar word net dieper en wyer.

Daar is seker niemand meer daar buite wat nie erens op facebook 'n profiel het nie.  Ek hou nogal van almal se kommentaar OOR facebook, want of jy nou daarvan hou of nie, ons is maar nuuskierig oor wat in ander se lewens gebeur.  Een ding wat ek duidelik agterkom is dat jy jou facebook vriende in sekere kategoriee kan verdeel.  Sekere mense post altyd dieselfde dinge.  So het jy jou "kettingbrief" mense wat se dat as jy vir Jesus liefhet, jy dit moet deel met ander.  Dan het jy jou "feetjies" wat sulke sagte-lens prentjies met krul woordjies post.  Dan het jy die "braggers" wat altyd erens op 'n eksotiese plek in check.  Jy het ook jou "kermgatte" wat oor alles 'n eiertjie te le het, van slaggate tot politiek.  Jy kry ook die "grapgatte" wat grappies en snaakse video's oplaai wat natuurlik altyd 'n mens se dag ophelder.  Jy kry die "ernstiges" wat een of ander missie het wat hulle op is om mense se denkwyses te verander.  So kan 'n mens aangaan, maar een diing is dat mense nie sommer verander nie, jy kan seker weet dat sekere mense sekere dinge altyd gaan doen, sonder om jou in die steek te laat.

Hoe meer grys hare ek bykry, hoe meer besef ek dat mense nie sommer verander nie.  Toe ek jonger was het ek geglo mense kan verander, en ja, dalk kon die boompies gebuig geword het toe hulle jonger was, maar deesdae nie meer nie.  Net soos ek my facebook vriende kan indeel in sekere kategoriee, kan ek dit in die regte lewe ook doen.  Dalk moet ek dit anders stel, en eerder se dat mense nie maklik verander nie.  Hulle is dalk nie gelukkig met hulle groefie nie, maar hulle het nie die krag, kennis of lus om daar uit te klim nie.  Daagliks raak ek bewus van mense wat dieselfde dinge oor en oor doen, maar die teenoorgestelde uitkoms verwag.  Jammer, maar die lewe kan nie so werk nie.  Daardie plaas-groefies wat ek gemaak het vir die water lei die hele tyd die water na presies dieselfde kampie, dit is nie wensdenkery nie, maar die waarheid – altyd.  Ek het absoluut geen probleem met mense wat hulle pad gevind het en gelukkig is daarmee nie, maar ek het 'n probleem wanneer mense nie in hulleself kan kyk en so bietjie afstand neem en die groefies van hulle lewens bestudeer en analiseer nie.  As jy nie gelukkig is met die pad en rigting van jou lewe nie, verander dit!  Ons kripeer in ons groefies en dan word ons kwaad vir die gravitasie wat keer dat die water ander kant toe loop as af onder toe.  Ons word kwaad vir die feit dat die water nie loop na die kampie van ons keuse nie, maar hoe kan dit as ek nie die pad daarvan verander nie?

Die ander ding wat ek ook agtergekom het, en mense eintlik logies moet verstaan is, hoe langer jy in jou groefie aangaan, hoe dieper en wyer word dit en hoe moeiliker word dit om die rigting daarvan te verander.  Natuurlik kan jy altyd dit verander, maar dit is tog logies om te verstaan dat dit moeiliker gaan wees.  Die water gaan altyd die dieper groefie opsoek, en eers wanneer die nuwe groefie geskep is, dan kan dinge begin verander. 

Die groot vraag is – Hoe doen mens dit?

NEEM EIENAARSKAP

Die oomblik wat jy eienaarskap vat van jou groefies en besef dit is jy wat dit geskep het en net jy kan dit verander kan daar 'n ander uitkoms wees.  Te veel keer gee ons ander mense en situasies die skuld vir "ons" issues.  Gaan kyk na hoeveel interpersoonlike probleme daar is waar ons baklei met mense oor dinge wat nie hulle probleem is nie, maar myne.  Hou op om jouself jammer te kry en te dink dat die gravitasie teen jou is, sekere dinge is vas, maar dit is jou groefies wat in 'n rigting loop, en dit is nie die water se skuld dat dit net eenvoudig in die rigting loop wat JY bepaal het nie. 

Ek glo vas dat elke mens verantwoordelik is vir sy eie dade en groewe.  Te veel keer maak ons ander mense verantwoordelik vir ons groewe, of wil ons ander se groewe VIR hulle verander.  Nie een van die twee aksies is logies nie.  Mense is hoe mense is, en ek het al soveel keer probeer om mense raad te gee oor hulle groewe en veranderings te maak, maar ek het geleer dat as iemand dit nie self wil of doen nie, al die gepraat in die lewe nie gaan help nie, al wil jy hoe graag help.  Mense kan jou vra hoe om dinge te doen, maar die verandering kom of in mense of nooit, en dit is nie my of jou werk om dit vir hulle te doen nie.  So kan ek jou vandag herinner aan dinge waarin jy verval het en wat jou nie pas nie, maar ek kan dit net op papier raad gee, of jy dit gaan verander of gebruik is nie my verantwoordelikheid nie.

NEEM BEHEER

Baie mense huldig die standpunt dat hulle nie werklik in beheer van hulle lewe is nie, en indien hulle dit sou doen, dan gaan hulle selfsugtig moet wees en op sekere mense se tone trap.  Ek gaan nou nie in diepte sielkundig hier raak nie, maar jy is die argitek van jou eie lewe.  As jy voel iemand beheer jou lewe, dan is dit omdat JY die beheer van jou lewe aan hulle oorhandig het.  Ons glo dat ons nie sommer net oor mense moet loop nie, en ja natuurlik moet jy respek vir ander huldig.  Maar jy kan net respek vir hulle en hulle punte huldig, wanneer dit nie jou reg om jouself te wees van jou ontneem nie.  Te veel keer gee ons maklik beheer weg, net om dan daardie persoon verantwoordelik te maak vir ons groewe en hulle moet dan deur hoepels spring om ONS gelukkig te hou. 

Vandag en in hierdie oomblik  verstaan dit duidelik dat niemand anders jou gaan leer om kitaar te speel nie.  Die lewe is dieselfde, JY en jy alleen moet beheer vat van elke stukkie daarvan.  Selfs al is jy in 'n onmoontlike situasie, JY het die keuse in watter mate jy gaan reageer en HOE jy gaan reageer teenoor omstandighede.  Soms is dit nie die omstandighede of diegene rondom ons wat ons manipuleer nie, maar die feit dat jy hulle in 'n manipulerende rol in jou lewe plaas.  Besef dit is JOU lewe en net jy ken jouself beter as enige iemand anders, jy het die reg om te bestaan.  So baie keer is ons bang om beheer van ons lewens en die pad van ons lewens te neem, omdat ons dink ons mag nie.  Erens het iemand vir jou gese dat ander mense eerste moet staan, hulle nukke en grille moet eers hanteer word voordat jy MAG 'n kansie kry.  As jy by 'n mini-sirkel gaan staan en vir almal plek voor jou gee, gaan jy tot in ewigheid daar by die sirkel staan en wag.  Net soos met 'n sirkel het jy ook die reg as mede-gebruiker van die pad om ook 'n beurt te kry.  Dit beteken gladnie dat jy net eenvoudig deur die sirkel moet jaag en almal se lewens in gevaar moet stel nie.  Die Bybel leer ons dat jy jou naaste moet liefhe, soos jouself.  Ek sien baie keer hoe mense wat met ander mense fout vind of blammeer vir hulle ongeluk juis mense is wat nie hulle selfliefde uitleef nie, en alles altyd afhanklik maak van ander se optredes.  Vat vandag beheer en hou op lui wees en almal om jou die skuld vir JOU groewe gee.

NEEM BESLUITE

Besluit om die situasie te verander en in 'n nuwe rigting te beweeg.  Soms weet ons dat dinge ons probleem is, maar ons is so besig en so diep daarin gewikkel, dat ons nooit die besluit neem om te verander nie.  Die ander rede hoekom mense nie verander nie, is dat hulle nooit dink dat daar ander opsies kan wees nie.  Hulle hou eerder aan met dieselfde patroon, al werk dit nie, want hulle dink daar is nie 'n alternatief nie.  Dalk moet jy wakker skrik en besef dat jy kan verander, daar is legio moontlikhede wat tot jou beskikking is, maar tot jy nie daarna soek nie, gaan dinge dieselfde bly.
Soms is die besluit drasties en moet jy eers begin deur wal te gooi.  Gaan sit rustig en analiseer jou lewe en kyk waar jy dinge kan verander en waar nie.  Jy kan byvoorbeeld nie besluit jy gaan eers 9.00 skool toe want jy wil later slaap nie, sekere dinge is net hoe dit is en jy kan dit nie verander nie.

Jy moet ook verstaan dat ons kreature van gewoonte is, en daar gaan altyd groewe en repiterende aksies in jou lewe wees.  Dit vraag waaroor jy kan besluit is of die groef jou dien of nie dien nie.  Die Bybel self leer ons dat as iets jou nie pas nie jy dit moet afsny.  Natuurlik is dit soms te drasties in sekere gevalle, maar in ander gevalle is drastiese afsny die enigste manier om dinge te wil verander.

NEEM AKSIE

Ek is ook 'n baie gelowige mens, maar ek is ook iemand wat weet dat die groefies van my nie sommer net een oggend magies anders gaan lyk nie.  Net soos hier bo, vat verantwoordelikheid vir dinge en neem aksie.  Ek hou van die voorbeeld van my oom wat in Nederland woon.  Hy is baie musikaal, en mense se altyd vir hom:  "Aai, ek wens ek kon ook klavier speel!"  Dan het hy 'n baie interresante aanmerking:  "Hoe lank dink jy gaan dit jou neem om te leer klavier speel?".  Die antwoord wissel gewoonlik van mens tot mens, maar vir die voorbeeld kom ons gebruik 5 jaar.  Dan se hy altyd:  "Ok, hoe oud gaan jy wees oor 5 jaar?"  En dan antwoord iemand se nou maar 52.  Dan kom die punchline: "As jy dus vandag begin met klavierlesse, gaan jy op 52 kan klavier speel, as jy nie vandag begin nie, gaan jy oor 5 jaar steeds 52 jaar oud wees, maar jy gaan nie klavier kan speel nie".

Dit is spesifiek hoekom ek onderskei tussen besluite en aksie neem.  Baie mense wens en wil en besluit om diinge te doen, maar hulle doen dit nooit.  Om nie aksie te neem nie is dalk ook 'n groefie waarin jy beweeg, en dalk is dit juis die eerste en belangrikste groef wat jy moet verander.  En moenie uitstel nie, begin vandag en neem aksie in die rigting van die kampie waar jy wil eindig.

NEEM AANHOUDENDE AKSIE

Daardie groefies wat ek in die sand gemaak het, het nie ontstaan met een krap van die stokkie nie, maar aanhoudende aksie van my kant af.  Ek het nodig gehad om keer op keer weer in die groefie te krap totdat die water reg geloop het na my sin.  Te veel keer begin ons dinge, maar ons hou nie aan met dit nie.  Kenners vertel ons dat dit 28 dae neem om 'n gewoonte aan te leer of af te leer, maar dit beteken dat ek elke dag dit moet doen.  Ek weet ek praat tot vervelens toe oor negatiwiteit, maar ek was in daardie groef van depressie oor my lewe en dinge wat nie reg loop nie.

Dit het my jare geneem om my ingesteldheid te verander en nou nog moet ek in die oggend my watertjies aankeer na die regte groefie toe.  Ek moet die res van my lewe daaraan spandeer, want omstandighede verander nie noodwendig nie.  Ek het gekies en soek bewustelik elke dag na die water in die halfvol glas.  Veral negatiewe mense om my word nou selfs vir my 'n inspirasie om al meer en meer positief te wees, want hulle herinner my aan die uitkoms van negatiwiteit.  Sodoende draai ek nou selfs die negatiewe wat ander aan my doen of in my bestaan inbring na 'n positiewe, al is dit soms nie maklik om dit te doen nie.
Dit is baie soos om jou maagspiere te oefen.  'n Pakkie van 6 gaan nie skielik wys na 1 of 2 dae se oefening nie.  Dit is iets wat daagliks moet doen en soms gaan jy nie die resultate onmiddelik kan sien nie, tot daardie een oggend wat jy in die spieel die verskil begin agterkom.


Gaan grawe jou eie groewe, dit is JOU speelgrond en God het jou al die toerusting gegee om voluit te kan leef.  Jy mag groewe he, maar gaan leef JOU groewe en moenie dat jyself of ander jou in groewe laat hardloop waarin jy nie wil of kan leef nie, want dan leef jy in 'n graf.