Tuesday, December 22, 2015

Koel soos n Komkommer oor Kommer

Kom ons wees nou eerlik, bekommernis is deel van menslike natuur. Hoe ons ookal vir onsself vertel dat jy in die oomblik van NOU moet leef, weet ons daar is n more wat kom. Selfs al is jy nou op vakansie bekommer jy steeds oor dinge. Gaan die kinders dit geniet of gaan jou skaapboud op kersdag reg uitkom of gaan die weer lekker wees of selfs dat die vakansie te vinnig verby gaan wees. Jy draai ook dalk jou sente om en bekommer jou daaroor. 

Die realiteit is dat bekommernis jou genot van die lewe en jou vakansie steel. Wat is die punt van vakansie as jy jou gaan bekommer? Dus, wees bewus van 2 dinge, jy gaan ek kan altyd iets vind wat jou bekommer, en tweedens dit steel die sin van dinge by jou.

Mense vra baie vir my in hulle kommentaar op my blogs hoekom ek altyd so positief klink. My blogs is soms uit teenreaksie op die bekommernisse in my lewe en nie n buite konteks optrede nie. 

Dit is dalk die eerste belangrike punt om te maak en dit is dat EK KIES om nie my bekommernis my te laat beheer nie. 

Nou, mense dink dat so n keuse daartoe lei dat jy niks aan jou situasie doen nie. Mense dink dat dit n 'kop in die gat' reaksie is, maar die teendeel is waar. Ek het net agtergekom dat om teen die despair wat saam met bekommernis loop te kies, die eerste deel van die oplossing van probleme is. 

Mense vergeet dat aksies in jou brein begin en nie jou hande wat die besem gryp en begin vee nie. Tweedens het ek geleer dat as ek nie halt roep erens in die bekommernis nie, dit gaan sneeubal sodat ek oor meer en meer dinge my gaan bekommer.  Derdens het ek uit my situasies geleer dat n mens baie meer kan uitstaan as wat mens dink. Vierdens het ek besef dat as ek vir n week lank my bekommer oor dat ek oor n week gaan honger lei, ek reeds vir n week lank honger is, elke dag, die hele dag. Bekommernis laat jou reeds die probleem ervaar nog voor dit gebeur of enigsins 'gaan' gebeur. In die vyfde plek soek ek uit alles die les wat ek moet leer. Laastens is ek gelowig, ek het n onverskrokke geloof dat God my sal help. En daardie geloof kom nie altyd in die vorm dat die beker my sal verbygaan nie, maar in die wete dat God altyd by my is.

Dus, wat doen ek? Ek kom uit die gewoonte om my oor alles tot vervelens toe te bekommer. Ek praat uit ondervinding, want ek was so dat ek naderhand niks meer geniet het nie, tot ek besluit het om anders met myself om te gaan. Ek verstaan dat dit ook te doen het met my persoonlikheid en dat dit nie altyd is wie jy is nie, so hier volg n paar algemene wenke.

1. Soek die mooi in NOU

Kyk vir n oomblik om jou rond en kyk wat jy het. Soveel keer fokus ons op wat ons nie het nie, maar wanneer ons soek na wat ons het, sien ons dat die glas meer as half vol is. Wanneer ek dit doen, vervaag my despair, want my beker loop oor.

2. Doen iets lekker

Gisteraand is die laaste aand wat my dogtertjies by my is vir die vakansie. Terwyl ek opsien na die weggaan en oor allerhande issues my bekommer, besluit ek summier om hulle die liggies in Lawley straat te gaan wys. Oppad soontoe sing al die kinders saam met die radio. Daar aangekom hang hulle by die vensters uit en juig oor elke kersvader, kruis en kersboom. Die genot en opwinding op hulle gesiggies laat my van als vergeet. Hulle leef IN die oomblik en leef hulleself uitbundig uit. Hulle bekommer hulle nie oor hoe hard hulle skree 'kersboom pappa' nie. Daar leer hulle my toe n groot les, en toe ons by huis kom kry ek drukkies en 'dankie pappas'.

Ek kan hulle nie see toe vat nie, maar gisteraand is n beter ervaring om by 'in te check' as n week in Mauritius. Kinders waardeer die klein goeterkies, en bekommer hulle nie oor die klein karretjie waar 6 agterin moet sit nie. 

3. Worry realisties

Ons dink soms alles waaroor ons bekommer is 10 uit 10. Ek het die reel van 10 by my niggie geleer en dit werk so. As iets lewensgevaarlik is, dan is dit n 10, anders is dit op meeste n 8. As daar bloed uitkom is dit n 8, anders op die meeste n 6. As ek niks daaraan kan doen nie, dan is dit n 6, maar as ek iets daaraan kan doen, op meeste n 4. As ek iets daaraan kan doen, maar niks doen nie, is dit n 4, en wanneer ek iets daaraan doen word dit n 2.

Wanneer iets onder n 5 is, dan kantel die skaal na my kant toe, want dan is ek in beheer. 

Ek het verder in my lewe geleer dat 99% van dinge waaroor ek my bekommer nie gebeur nie, en dit wat wel gebeur min kere so erg is soos dit oor en oor in my kop afgespeel het. 

4. Soek alternatiewe

Nou, gewoonlik op hierdie punt behoort jy anders te dink, want daar is nooit net een antwoord op jou situasie nie. Selfs wanneer jy jouself in n hoek ingeverf het bly daar altyd die opsie om deur die nat verf te loop. Natuurlik is dit nie gemaklik nie, maar dit is doenbaar.  Soms moet jy terugtrek na jou ma toe of jou X-Box vir n jaar bere om jou punte te verbeter. Maar lekker of nie, dit maak jou weer dankbaar dat jy n ma het om na terug te trek of n X-Box gehad het om mee te speel.

Soms voel dit dan steeds vir jou asof jy nie opsies het nie, maar die besluit om deur die verf te loop is steeds JOU besluit. En meeste van die kere as jy dit moet doen en jy kyk terug op dit, was dit nie eers so erg soos jy gedink het nie. 

5. Jy is altyd in beheer

Wanneer jy jouself in n situasie van despair bevind, kasty ons onsself omdat ons dink en voel dat dit ons skuld is. Ok, dit kan en is soms die oorsaak. Maar het jy ooit daaraan gedink dat as dit jy was wat dit veroorsaak het, dat jy dan ook die oplossing is? 

Ek het geleer dat ek en ek alleen my situasie kan verander. Ander mense is daar om jou te help, maar net jy en jy alleen skryf die eksamen. 

6. Moenie ophou glo en bid nie

Daar is altyd lig in die tonnel, en dit is nie n trein wat van voor kom nie. Het jy al agtergekom dat jou oe aanpasbaar is in die donker? As jy jou oe knip, waar dit eers pikdonker was is daar skielik vorms wat jy kan uitmaak. 

Blinde mense leer ons dat al kan jy nie sien nie, het jy steeds ander sintuie wat jy kan gebruik. Jou hande kan jou help voel sodat jy nie in iets vasloop nie. Jou neus kan jou laat ruik waar die uitgang van die tonnel is. Jou vel kan jou laat voel waar die hitte van die uitkoms is en jou ore kan jou laat luister waar die voeltjies sing. 

As jy glo dat daar n uitkoms is, sal dit kom vir jou en sal jy dit soek. As jy dit nie glo nie gaan jy dalk in n hopie sit en vergaan, dalk centimeters van die uitgang af. Hoe sal jy ooit weet?


Tuesday, December 8, 2015

Moenie jou beeste name gee nie!



'n Boer sal vir jou vertel dat jy nooit vir 'n bees of 'n skaap 'n naam moet gee nie, want dan is dit soveel moeiliker vir jou om hom te slag wanneer die tyd reg is.  'n Snaakse ding gebeur wanneer iets 'n naam kry, want onmiddelik het dit 'n persoonlikheid en is nie sommer maar net nog 'n bees wat op die land loop nie.  Ons sien deur die eeue hoe belangrik name is, en ek onthou nog soveel kleinkinders wat ont-erf is deur 'n oupa omdat die kind nie sy oupa se naam gekry het nie.  In die nuwe denke oor name en klanke, se ons dat name belangrik is wat jy kies vir kinders, want klanke gee 'n vibrasie af wat mense of aantrek of afstoot.

Elke ding het deesdae mos ook 'n politiese korrekte manier om jou oor die ding uit te spreek.  Mense is nie gestremd nie, maar fisies uitgedaag.  Kinders is nie pleinweg meer stout nie, maar hulle is eerder ADHD of een of ander ander afkorting.  So gee ons elke dag name aan dinge wat om ons gebeur.  Nou dink ek daar is 2 kante van die benaming van dinge, net soos met die skaap en die bees.

Aan die een kant is dit belangrik om dinge 'n naam te gee, want, indien dit universeel erkenbaar en definieerbaar is, weet mense presies wat dit is, en help dit om te diagnoseer en te behandel.  As mense nie name gehad het nie, hoe sou ons dan mense roep of weet met wie ons op die foon praat? So, die naamgewery het 'n doel om mense van mekaar uit te ken of om sekere dinge te identifiseer.

Naamgewery kan aan die ander kant baie vreemde "negatiewe" invloed ook kry.  Soms word dit soos met die bees dat wanneer jy dit 'n naam gegee het, dit baie moeiliker word om hom te slag.  Mense kruip maklik weg agter dinge soos hulle afkoms, hulle sindrome en dink dat wanneer dit 'n naam het, jy agter dit kan wegkruip.  Ons sien ook dat dit in families die geval is waar mense 'n van soos "Mandela" het, en dink dat dit jou moet en sal dra deur jou lewe. 
Eintlik gee die naamgewery aan "iets" die reg om 'n "iemand" te word.  Dit is dalk wat bedoel word met die skep van "karma".  Ek kom agter dat mense in die westerse wereld soms 'n probleem het met die idee of die woord, maar in werklikheid is dit nie altyd 'n kosmiese uitwerking van oorsaak en gevolg nie.  Soms is karma net die skep van 'n issue of 'n situasie.  Ek sien dit baie in verhoudings waar mense oor dinge begin praat wat hulle pla, dan gee hulle 'n "naam" aan 'n emosie, en dan word dit lewenslank 'n saak van geskil tussen mense.

Ek weet dat sielkundiges ons leer dat jy moet kan kommunikeer oor dinge, maar ek sien dit soveel keer dat dit juis hierdie naamgewery is wat dinge kompliseer tussen mense.  En dieselfde gebeur tussen mense as wanneer jy 'n bees 'n naam gee, dit skep komplikasies later wanneer dit nodig is om te slag en word al hoe moeiliker om die dier te slag.  Hierdie is so waar in verhoudings, veral wanneer ons met mekaar praat en ons emosies oordra, dan gee ons 'n vibrasie of 'n personifikasie aan ons emosies, en dan word dit soms onmoontlik vir die paartjie om dit geslag en opgelos te kry.

Ons loop daagliks met sulke dinge in ons verhoudinge rond, "jy laat my voel" byvoorbeeld is 'n kragtige benaming, want dit laat my blitsvinnig verstaan wat van my verwag word of nie van my verwag word nie.  Skielik plaas hierdie benamings van ons emosies ons in 'n kissie en daar bly ons.  Die kissies laat ons soms voel asof dit ons verstrengel, maar natuurlik kan dit ons ook vry maak. 

Daar gebeur ook ander dinge in die naamgewing van emosies en die verbalisering daarvan.  Kyk bietjie aan die begin van 'n verhouding, wat ons kalwerliefde noem, hoe "maklik" die verhouding is, terwyl hoe meer name ons aan dinge gee, hoe meer Karma ontstaan tussen mense.  Natuurlik voel dit onmoontlik om altyd net in daardie nirvana stadium te bly, sonder dat ons van mekaar sekere dinge verwag.  Ek advokeer gladnie hier dat mense nie met mekaar oor dinge moet praat nie, maar dat ons versigtig moet wees watter dinge ons name gee in ons verhouding, omdat ons verstaan dat as iets 'n naam het, dit baie moeilik is om daarvan ontslae te raak.  Die ander kant van die muntstuk is dat die "mooi" dinge wat ons name aan gee, ook net so moeilik is om van ontslae te raak.

Ons verval soms so in die groef van alles in ons lewens en verhoudinge name te gee.  Partykeer vergeet ons dat ons versigtig moet wees, want dalk, miskien verseker, is die dinge wat jou in jou verhouding pla, JOU issue en nie die van die verhouding of die ander persoon nie.  Daar is 3 persone in 'n verhouding betrokke, Ek, Jy en Ons.  Soms is JY reg, soms is die ander persoon reg, maar dit is nie waaroor dit in verhoudings gaan nie, dit gaan oor die ONS. 
Mense sukkel ongelooflik waneer hulle die ONS verantwoordelik maak vir iets wat nie die ons se probleem is nie, maar die ek of jy.  Soms moet jy jouself vra of EK my issue of probleem deel van ONS mag maak, want ons weet tog dat net ek my beeste kan voed of slag.  Soms het ons in ons lewens issues van dinge gemaak (hulle name gegee), maar omdat ons nie kans sien vir die slag van die bees nie, maak ons dit deel van ONS se verantwoordelikheid om dit te doen.  Elkeen van ons moet besef dat, alhoewel mense saam in 'n verhouding is, ek nie my issues in die verhouding kan indra nie.  Dit is MY bees, en dit is ek en ek alleen wat vir Blommetjie moet slag.

'n Boer gee nie sy beeste name nie, want soms is 'n bees net 'n bees.  Soms moet ons nie al ons gevoelens en emosies so benaam en analiseer, dat ons later nie kan doen wat ons moet doen nie.  Soms is emosies net emosies, en soms is situasies net situasies en soms is die ander persoon se aksies net aksies.  Jammer dat ek nou "name" daaraan gee, maar die beginsel is dat ons soms ons eie lewens kompliseer deur dinge MEER betekenis te gee as wat dit moet, en daardeur karma skep en ander verantwoordelik maak vir ons situasies en gevoelens.

Dit is natuurlik vir ander mense altyd makliker om jou bees vir jou te slag, want hulle is nie die een wat daaraan betekenis gegee het nie, dit is JY.  Vir ander is jou bees net 'n bees, en dit is altyd JY en JY alleen wat so voel oor 'n saak.  En dit is die laaste ding wat ons van mense "verwag" in verhoudinge, want ons dink dat as ek EK en al my benaamde beeste in die verhouding inbring, dit oplos in die groot ONS en dan word ek soms kwaad as hulle nie dieselfde deernis en gevoelens vir my beeste het nie.  Onthou altyd, JY het hulle name gegee, JY het hulle gevoer, en dit is en word onregverdig om van ander te verwag om dieselfde te voel en op te tree oor jou issues, as JY.

Monday, December 7, 2015

Opsies vir Stress!



Daar is 'n eksperiment in Amerika gedoen waardeur hulle 'n groot groep mense oor 'n 30 jaar tydperk analiseer het.  Die groep was gekies vir 'n eksperiment oor die invloed van stress en spanning op mense, om te bewys of die invloed van stress tot premature dood kan lei.  Natuurlik het hulle nie net hulle gesondheid in ag geneem nie, maar ook hulle stressvlakke in die algemeen, en die mees insiggewende hulle ingesteldheid oor stress.  Na 'n hele paar jaar het hulle die sterfterekords nagevors om te sien wie van die mense nog lewe, en 'n groot hoeveelheid van hulle was reeds oorlede.  Maar hulle het een vreemde feit agtergekom, een van die vrae in die eksperiment was of die persoon glo en dink dat stress tot jou dood kan lei.  Toe hulle na die statistieke kyk, het hulle agtergekom dat die mense wat gese het dat hulle NIE dink dit tot jou dood kan lei nie, se mortaliteit was noembaar baie laer as die wat gedink het die teenoorgestelde is waar.

Ek weet dat 'n mens met statistiek omtrent enige punt kan bewys, maar hierdie studie het my baie getref, want dit beteken tog dat daar 'n konneksie is tussen jou ingestelheid en mortaliteit.  Ek het al baie verwys na die werk van Louise Hay wat konneksies maak tussen selfs spesifieke emosies wat lei tot spesifieke uitwerking wat tot spesifieke siektes lei. 

Nou wil ek vandag so 'n klein oefening vir jou gee om jou te help om jou ingesteldheid teenoor jou lewe anders te sien. 

Ondervinding het ons nou al gewys dat omstandighede rondom jou nie net een oplossing of reaksie het wat daarmee saamgaan nie.  Dit is asl bewys met tweelinge dat alhoewel hulle in dieselfde omstandighede grootgeword het, hulle soms verskil in hulle idees oor dieselfde dinge.  So as daar nie 'n spesifieke reaksie is wat met 'n spesifieke aksie val nie, is daar tog opsies.  Daar word baie gepraat oor glas half vol en glas half leeg reaksies op dinge, en ook dat die grootste persentasie van mense makliker die glas half leeg sien.  Die eerste deel van die oefening is die besef dat die glas nie altyd propvol kan wees nie.  Daar is in jou lewe sekere situasies wat nie lekker is nie, stressvol is en jou in die nag laat wakker le.  Dus, die erkenning daarvan is die beginpunt, want jy kan nie altyd net die glas half vol sien nie, want dan fokus jy nie op dinge wat gedoen en afgehandel MOET word nie. 

Jou reaksie op 'n situasie is slegs 'n keuse, en vir die tweede punt van die oefening het jy nie nodig om die stukkie van die glas te gaan soek wat vol of leeg is nie.  Al wat jy hier doen is om IN die situasie wat jou laat opstress net 'n oomblik te gaan sit en te analiseer of daar 'n ander opsie of manier is om na die situasie te gaan kyk.   Hoe meer opsies jy kry en sien, hoe beter natuurlik.  Die opsies hoef nie altyd positief te wees nie, want wat jy doen is om balans te vind in HOE jy oor 'n spesifieke situasie voel.  Ek vind dat mense soms daardie emosie wat hulle het vat en dit so oor en oor en oor dink, dat dit sneeubal en hulle naderhand gladnie meer die son kan sien nie.  Dan gooi mense hulle hande in die lug en sien geen meer uitkoms nie.  Net so gevaarlik soos dit is om met jou kop in die wolke te leef en in drome nooit die realiteit hanteer nie, net so gevaarlik is dit om ook die een gevoel van negatiwiteit en vrees oor en oor uit te speel, want dan gebruik jy al jou energie op.  So, wanneer ek hier praat van ander opsies, beteken dit nie dat jy die vuur blus met water nie, maar stelselmatig die bol sneeu stukkie vir stukkie kleiner maak. Net die vraag:  "Is daar 'n ander manier om na die situasie en kyk en oor die situasie te voel?", verander alles.  Soms dink ons die ergste is die enigste opsie, en ons het nie energie om dit te hanteer nie, deur net te dink aan opsies kan jy skielik sien hoe maklik dit is om na die volgende vlak te beweeg.

Hoe hulle ookal eksperimente oor die brein doen, is daar nog nooit 'n glyskaal ontwikkel vir emosies wat dit kan kwantifiseer nie.  Maar eksperimente het al getoon dat sekere "verandering" in emosies sekere dele van die brein aktiveer en allerhande dinge soos adrenalien vrystel.  Maar dit vat oefening om dit reg te kry, en elke mens het sy manier om te weet wat hulle groewe en grafte is mbt emosies.  Daar is ook geen regte resep hiervoor nie, maar ek dink dat as jy hierdie oefening doen dit baie sal help.

Wanneer jy nou effens "anders", nie noodwendig "beter" voel nie, kan jy in die derde plek begin om te kyk na die konteks.  Een van die mees praktiese plekke waar ek altyd begin, is om op te hou dink dat ek die enigste is wat sukkel met sekere dinge.  Almal het geldelike, emosionele en verhoudings probleme.  Deur te erken dat ek nie die enigste is nie, bring reeds 'n mate van verandering in jou houding.  Een goeie voorbeeld hiervan is die hospitaalbed-eksperiment.  Kom ons se jy het hoofpyn en jy dink dit is die einde van jou lewe, dink vir 'n oomblik aan mense wat terminaal met kanker stry, dit vat nie jou hoofpyn weg nie, maar dit laat jou besef dat daar ander is wat met groter issues as jy sukkel.  Skielik sien jy jou situasie in konteks en vir wat dit werklik is, nie die einde van jou wereld nie.

Terwyl ons so oor konteks praat, kan konteks ook soms 'n bydrae lewer tot baie ongelukkigheid.  Dit is soms die mense en wereld om jou wat jou emosies skep, deur sekere "mode-aksies".  In die finansiele bedryf sit ek voor kliente, en een van die vrae wat baie my vra is of AL die kliente so sukkel met hulle finansies.  Ons praat deesdae almal van hoe sleg dit met mense gaan, terwyl, as ek om my kyk sien ek ongelooflike nuwe ontwikkelinge, nuwe motors ens.  My konsultasie met die klient verander onmiddelik wanneer ek die ander kant vir hom wys en se dat kliente nie sukkel nie.  Kom uit die groef daarvan om SAAM te praat, sodat jy naderhand dinge begin glo wat nie jou eie denke is nie, en wat soms nie waar is nie.

Die vierde ding om te doen, vloei so effens uit die vorige oefening uit, en dit is dankbaarheid vir wat jy reeds het.  Kyk net gou vinnig om jou wat en wie jy in jou lewe het, en se dankie.  Vat 'n stuk papier en skryf gou 'n lys neer van dinge waarvoor jy dankbaar kan wees, en hou aan tot jy uit dinge uithardloop om neer te skryf.  Vir my is hierdie een van die kragtevolste dinge om te doen om my situasie te verander.  Dalk is dit hier waar jy verstaan dat jy nie jou huisverband kan betaal nie, maar om dankbaar te wees dat jy wel kredietwaardig is, 'n huis het, meubels het ens.  verander dalk jou ingesteldheid om 'n plan te maak om jou paaiement te betaal.  Dan verander die energie in jou lewe en skielik WIL jy jou situasie uitsorteer omdat jy dit doen uit DANKBAARHEID en nie uit dwang nie.

Die vyfde en net so belangrik soos die ander is om aksie te neem.  Tel op die foon en maak 'n reeliing met die bank, staan op en gaan drink 2 Panado's vir jou hoofpyn of stuur 'n SMS vir iemand wat vir jou belangrik is maar waar daar twis is.  Indien dinge in jou lewe OOK nie prakties verander nie, gaan al die bo-staande dinge absoluut niks beteken nie.  Jou bank gaan nie al hierdie mooi stories glo van positiewe denke en dankbaarheid nie, as jy nie betaal nie, gaan hulle jou huis kom haal.  Soms dink ons dat ons praktiese probleme met EMOSIONALITEIT opgelos gaan word.  Nee, die oefeninge hier bo oor al die spiritualiteit is SLEGS gerig daarop om jou in hierdie vyfde oefening die energie te verskaf om jou probleem te hanteer.  Een van my vriende se altyd:  "Talk is cheap, but money buys the whiskey". 

Ek hoop hierdie kan jou help om 'n fantastiese week te ervaar!
libdisc25112014