Sunday, July 10, 2016

Om "te" erg te wees!

Toe ek klein was het my ouma gese: “My kind, alles wat 'n “te” by het is verkeerd, behalwe te perd, tevrede en te-maties”. Ek sien veral nou met kinders, hoe mense ingesuig kan word in dinge, sodat dit hulle hele lewe “consume”. My kinders se hele lewe bestaan uit elektroniese speletjies, op die X-Box, die Playstation, die rekenaar en hulle fone. Dit het hulle hele lewe oorgeneem, soveelso dat hulle nie eers meer na plekke toe wil gaan waar daar nie wi-fi konneksie is nie. En as ons daar kom, sal hulle heel eerder op hulle fone speel as om te gesels.

Ek dink ons as grootmense is ook baie skuldig daaraan, op een vlak of 'n ander. Oor die laaste paar weke het ek agtergekom hoe ek ook maar toelaat dat sekere dinge my insluk. Ek is so ingesuig by 'n situasie dat ek totaal en al hulpeloos voel in dit, ek kan aan niks anders dink nie, en my gedagtes is die hele tyd daarmee besig, dag in en dag uit, selfs in die nag. So, ek kan nie eintlik krities wees teenoor my kinders as ek dieselfde doen nie. Ek se daarmee gladnie dat jy maar net jou kop in 'n gat moet druk en belangrike dinge ignoreer nie. Dit gaan hier oor die “TE” in situasies, en nie die situasie of die elektroniese speletjies nie.

Gisteraand le ek weer wakker en ek is weer in my gedagtes besig. Ek besluit toe later, hier by 3-uur om maar op te staan en 'n koppie koffie te gaan maak. Ja, ek drink te veel koffie. Ek gaan sit op die stoep in die koue en sluk aan my koffie en steek 'n sigaret aan. In daardie oomblik besef ek dat 'n mens jouself oor die “te” dinge, baie dinge wysmaak. Soos ook om te rook en ingesluk te word daardeur, en so ook om as jy wakker word 'n koppie koffie of 3 MOET drink. Wie het gese dat dit so moet wees? Niemand, maar in my kop het ek dit so gemaak dat ek gladnie wil funksioneer sonder my koffie in die oggend nie. Ek is verslaaf daaraan, en so ook aan sigarette. Miljoene mense in die wereld drink nie koffie in die oggend nie, en miljoene rook nie, so dit is nie 'n noodsaaklike ding in die lewe nie, nie soos suurstof nie. En in die oomblik sit ek toe ook en stress oor 'n situasie, en weereens besef ek dat dit my so insuig, dat ek aan niks anders kan of wil dink nie.

En so dink ek weer aan Viktor Frankl se idee dat jy nie noodwendig omstandighede rondom jou kan verander nie, maar jy kan jou reaksie en jou denke beheer. Jy het die vrye wil om te besluit of koffie vir jou belangrik is of nie, en of jy wil rook of nie. Niemand druk jou in die oggend vas en boei jou aan 'n koppie koffie en laat jou dit drink nie, jy doen dit. En soms is dit jy wat uit vrye wil jouself boei aan dinge, insluitende stress, insluitende koffie, insluitende alle ander dinge wat jy glo jy nie kan beheer nie.

Die laaste twee aande in ons huis was heerlik met die kinders. Ons het nie DSTV nie en ook nie Wi-Fi nie, maar ons het “30 seconds”, “Fase 10” en “Who want to be a Millionaire”. Dit was so heerlik en lekker om bietjie iets anders te doen as dieselfde ou dinge. Ek is ook nogal verslaaf daaraan om die rugby te kyk, en gisteraand het dit my nie eers gepla om dit nie te sien nie. Ek is iemand wat in die oggend die TV aanskakel en eers laat in die aand afskakel, en nou dat dit nie daar is nie, besef ek dat dit my nie doodmaak om nie die rugby te kan sien nie. In werklikheid kom ek agter dat ons as gesin soveel meer tyd met mekaar spandeer en eintlik ook baie meer pret het as om net op die banke te sit en die verte in te staar.

So, die eerste les wat ek geleer het, jy kan sonder dinge klaarkom. Hoeveel dinge is jy by ingesluk wat jy dink dat jy die MOET doen? Ek het geleer dit is nie nodig nie, daar is ander dinge wat belangriker is. Maar dit begin by jouself, in jou denke en in jou kop. Aan die begin is dit vir ons vreemd, maar stelselmatig kan jy jouself programmeer om dinge anders te sien.

Die tweede les, is dat jy nie nou weer radikaal oor TV-kyk of Wi-Fi hoef te wees nie. Ons het 3G op ons rekenaars en hardeskywe met reekse op, so ja, ons kyk TV en gaan op die internet, maar dit is nie meer die primere idee in die lewe nie. Dit suig ons nie meer in nie, so ons het op 'n manier die “TE” uit ons optrede gehaal. Jy het nie nodig om radikaal te wees en op te hou om aan jou situasie te werk wat jou kan opstress nie. Dit is nog steeds lekker om die bokke te kyk op die TV, maar as jy dit nie kan sien nie, sal jou lewe nie eindig nie, glo my. Dit hang egter af hoe jy daaroor dink, en dit maak nie van jou 'n slegter ondersteuner van die Bulle as jy nou nie op Loftus is nie. Ek het ook steeds gisteraand Ge-Google om te sien wat gebeur het, en ek was net so gelukkig dat hulle gewen het, sonder dat ek dit lewendig gevolg het. Dit is 'n verandering in “ingesteldheid” wat jou lewe draaglik maak, en niks te doen met of dit vir jou belangrik is of nie.

Derdens het ek geleer om weer dinge te waardeer. Soms is jy so vasgevang in jou situasie en denke, dat as jy 'n film op televisie te siene kan kry, dit weer vir jou spesiaal is. Om die hele dag die rugby op TV in jou huis aan te he, laat jou nie altyd besef hoe bevoorregd jy is nie. Vir my is dit spesiaal om erens of oor “streaming” weer die rugby te kan kyk. Soms is ons so verknog aan dinge, sodat dit later nie meer vir ons spesiaal voel of is nie. Weereens se ek nie dat daar iets mee verkeerd is om te hou van wat jy wil of dat dinge vir jou belangrik of spesiaal is nie. Ek is 'n roker, maar omdat ek vasgevang is in die gewoonte, rook ek 20 sigarette per dag, en dalk is 2 van hulle vir my werklik lekker, die res is net gewoonte en daarom eintlik net 'n vermorsing van geld en tyd en moeite.

Vierdens, om nie so 'n “te” aan 'n ding te koppel nie, maak jou vry. So met die intrapslag in ons huis is dit die Rugby toetse teen Ierland. 2 weke na mekaar is ek die hele saterdag oggend gestress om te probeer om die toetse op te vang of erens te gaan kyk. My ma bring selfs die een saterdag haar dekodeerder om op die TV te laai, maar DSTV kan ons nie in tyd help om dit ingestel te kry nie. So sit ek maar die radio aan, en soos ouds luister ons die wedstryd. In die tyd wat ons sukkel om die dekodeerder gekoppel te kry, is daar spanning want die tyd loop uit. Ons baklei met mekaar, en elkeen het sy eie idee, en later loop die aand toe sommer skeef vir almal. Selfs die tjoppies is maar sleg en die atmosfeer is nie lekker nie. Die volgende oggend besef ek net weer dat die fanatieke “te” en die denke dat ek MOET kyk, het die genot van die aand ontneem. Gisteraand was my ingesteldheid anders, en ons probeer nie eers om die wedstryd te kyk nie, en alles is lekker, 'n huis vol genot, grappies en glimlagte.

Laastens maak hierdie nugtere besluit om dinge nie 'n “te” te maak nie, jou die krag om te fokus, en dalk ontdek jy dat jou lewe verander omdat jy die werklike belangrike dinge agterkom en op fokus. Mense wat kan rustig raak en nie fanaties is oor dinge nie, maak beter besluite en planne. 'n Vriend van my het opgehou rook, nadat hy 'n kursus bygewoon het, en al wat die kursus jou eintlik leer is dat jy nie nodig het om deur jou gewoonte ingesuig te word nie. Baie van die dinge wat ons oor radikaal is, steel ons krag en ons lag. Vandag kan ek niks doen aan sekere situasies nie, hoe ek ookal op en af spring, want dit is Sondag. Maar niks weerhou my daarvan om die dag saam met my mense te geniet nie, selfs net om op die stoep te sit en gesels, sonder luukse kos of duur wyn of Coke of Niknaks. Niks is so belangrik dat ek nie sonder dit kan klaarkom nie, verander jou denke, gooi die “te” van dinge van jou skouers af en leef vry en lekker.


Wees te-vrede en eet jou te-maties!