Sunday, August 23, 2020

Uitgespoeg!


Hoeveel van ons het nie al sulke ervarings beleef waar jy so graag deel van iets, iemand, ‘n groep of ‘n idee wil wees nie, net om op ‘n stadium uitgespoeg te voel? Jy probeer jou bes, net soos toe jy ‘n tiener op skool was en wou “in” wees.  Jy maak al die regte geluide, verander jou klere, jou hare en jou attitude, net om dan weer nog meer uitgespoeg te voel, want niks wat jy doen werk nie. Jy word ouer en besef ook dat dit nie makliker word nie, jy jaag die meisie van jou drome wat jy dalk nie kry nie of die ou van jou drome skei jou. Jy pak ‘n besigheid aan wat nie werk nie. Jy kom dalk ook in ‘n scenario soos nou waar jy magteloos voel in Covid, nie kan werk, nie kan uitgaan nie en nie jou drome kan navolg nie. Oumense bou ‘n hele lewe om skills te verkry, net om te eindig met pyn wat hulle keer om lank genoeg te staan om die perfekte pannekoek te bak.


Die slegte nuus is, soos die Prediker sê “Alles kom tot niks”, die uitgespoeg gevoel gaan nooit weg nie. Die goeie nuus is egter dat as jy dit weet en verstaan dat jy nie alleen in dit is nie, laat jou anders dink en voel daaroor. As dit menslik is, en jy is ‘n mens, verander jou aanslag. Net omdat jy nie ‘n superhero is nie, beteken nie dat jy nie ‘n super lewe kan leef nie. En in alle eerlikheid, elke liewe superhero storie gaan gepaard met lyding, verlies en hartseer. Elke superhero moet, te midde van welke krag hulle het, ook die “uitgespoeg” gevoel oorbrug. Superman moes leer om aardse mens te wees, Batman moes sy skuld oor sy ouers se dood oorkom, Spiderman het nodig gehad om sy skuld rondom sy oom Ben se dood teen te werk en hy kon ook vir beskerming van Mary Jane nie by haar wees nie. In die Bybel sien ons ook die figure wat God se boodskap gedra het ook uitgespoeg was of gevoel het. Moses kon nie lekker praat nie, Dawid was klein, Josef is deur sy broers verkoop en so gaan die lys aan. Dit het nie beteken dat hulle rol in God se verhaal gestop het nie, inteendeel gee dit ons hoop. Dit is juis in en deur hulle tekortkominge wat God se boodskap deurkom. 


Die Bybel vertel ook ‘n hele klomp stories waar ons sien dat waar alles vir mense “reg” loop, die ego oorneem en dinge verkeerd begin loop. Kyk maar Dawid en Batseba, hy het sy weermag so goed afgerig en besluit hy het nie nodig om saam te gaan veg nie, gedink hy het gearriveer, en toe loop dinge skeef. Is die gevoel van uitgespoeg voel nie slegs te doen met ego nie? Ek voel uit, ek voel ‘n mislukking, ek kry nie wat ek wil hê nie en ek voel uitgespoeg. Dink mooi daaroor, hoe voel jy in ‘n groep mense by ‘n kuier en een persoon praat net oor hulleself en gun niemand anders ‘n spreukbeurt nie? Hoe voel jy in jou huishouding as een persoon selfsugtig almal dwing om na sy pype te dans? Is dit aangenaam of is dit hoe jy wil leef?


Is ons uitgespoeg gevoel nie net so nie? Ons ego wil die middelpunt wees, die ego hou nie van nederige onderdanigheid nie. Die ego wil oorneem en soek applous en toekennings. En die ego hou jou terug van die lewe, want die ego vertel jou dat jy nie kan leef of ‘n rol kan speel as jy nie eers die middelpunt is nie. Die ego wil praat en voorskryf, sonder om te luister. Die ego wil sy stempel afdruk en mis die lesse wat ander op jou kan afdruk. Die ego wil raakgesien word, sonder om raak te sien. Die ego wil die regisseur van alles en almal wees, en wil nie die rol speel en afgerig word nie. Die ego wil in die middel wees, en niemand anders belangrik ag nie. Die ego wil gedien word, en wil nie dien nie. Die ego wil liefde afdwing en nie self liefhê of dien nie. Die ego wil blink.


Ons haal so graag aan uit die Bybel en noem onsself volgelinge van Jesus, maar hoe volg ons Sy voorbeeld? Dink so bietjie aan hoe Hy sou kon sy ego gedien het, soos die wêreld waarin Hy gebore is? Sy andersheid was Sy boodskap. En so sien ons soveel ander voorbeelde, ook n Buddha wat als ogegee het, ‘n Ghandi en Mandela wat vir iets groter as hulleself opgestaan het, en juis sodoende uitgestaan het. 


In hierdie Covid-19 lockdown het baie dinge gebeur, ook veral dat baie dinge wat ons ego voed weg is. Skielik maak die blink plat motor in jou garage en jou fancy klere nie saak nie. Skielik word ons teruggeruk na wat werklik belangrik is, en dan het ons nodig gehad om van ons ego troontjies afgestamp te word om weer te kan leef. 


Die ego is nooit versadig nie. Die ou met die blink sportmotor, mense raak gewoond daaraan, so hy sal telkens ‘n nuwe een moet koop. Die gebroke huwelik word nie gered deur ‘n nuwe meubelstuk op die stoep of ‘n fancy naweek by ‘n lodge nie. Die waarheid kom nie altyd deur die skrywer met die beste pedigree nie, maar dalk deur ‘n 3 jarige oor ‘n toated cheese. Die ego soek sekuriteit in dinge, nie mense nie, die ego vra wat jy my kan bied en nie wat ek jou kan bied nie.


So, as ek iets myself geleer het in die lockdown is dit juis dit, miskien moet die ego weg, die geluk is reg in jou, in wie God jou geskape het. Die ego kan nie vertrou word nie, want dis vals. Dalk is jou geluk nie in watse kar jy by ‘n plek aankom nie, maar dat jy die rit geniet en saam met die radio gaan sing. Dalk moet jy jouself vra watter bydra jy by die kuier gaan maak en wat jy daar vir iemand kan beteken, nie wat jy kan kry nie. Wat is werklik vir jou belangrik in die lewe? Een ding weet ek seker, die ego en om dit te streel is van korte duur, en dit kom tot niks.


Die antwoord is in jou, deel van jou en reg voor jou. Jou ego gaan jou anders vertel, wees eerder jouself en dit is die “nuwe normaal” waarheen jy moet terugkeer, ‘n keuse vir jouself, vir jou siel, vir jou lewe. Kies die keer reg, want onthou, as jy vir jou ego kies, gaan die wat om jou en in jou lewe is ook dieselfde wees. 

 

So, vergeet die gevoel van uitgespoeg, dalk is daar waar jy op die oewer lê presies waar jy moet ontkiem om vir ander skaduwee te skep!