Thursday, January 26, 2012

Foon oorlog

Toe ek nog klein was het my ouers en hulle vriende in 3 faksies geval. Daar was die wat Mercedes-Benz aangehang het, die wat BMW aangehang het en ander wat ander Japanese en Amerikaanse motors besit het.

Ek onthou hoe hulle aande om gestry het oor duursaamheid, spesifikasies en tweedehandse waarde. Nou nog sal my ouers net tevrede wees as ek 'n Mercedes koop.

Vandag sien ons dieselfde met selfone. Jy het jou stoere BBM-ers, jou i-phone appilikasie-vingerskuif ouens en dan die Android aanhangers. So probeer ons mekaar oortuig dat my keuse die beste was. Vir elke redenasie is daar 'n teenkant. Ouens met die Blackberry gebruik "BBM" as 'n groot pluspunt en die i-phone ouens dat hulle Whatsup kan gebruik. Die i-phone skare wys vir jou die applikasies en interaksie met hulle i-pad en i-pod.

Ons leef in 'n wêreld met legio keuses. Toe selfone uitgekom het, het almal omtrent Nokia baksteenfone gehad. Hy was groot en ongemaklik en kon bel, oproepe kry en SMS. Dit was wonderlike tegnologie vir die tyd.

As daar beperkte keuses is, het ons nooit nodig om onsself en ons keuses te verantwoord nie, maar ons dink as ons baie keuses het, dat ons moet verduidelik en ander moet oortuig van ons besluit. Dit is 'n vreemde verskynsel by mense, om hulle plekkie en keuse nie net te verantwoord nie, maar ander ook te oortuig om ook te koop wat ons koop.

Tydskrifte ontstaan wat oor die onderwerpe handel, vergelykings te maak en aanbevelings te doen. Die foon se spoed is vinniger as die ander, die een se probleme is dit en dat. Dit is natuurlik belangrik vir ons wat nie kenners is nie om sodoende 'n besluit te kan maak. Soms maak dit ons ook so deurmekaar dat ek eerder wag om op te gradeer, omdat informasie soms meer onsekerheid kan bring.

Elke dag word jy hiermee gebombardeer, nie net selfone nie, maar verhoudings, jou werk, jou opvoeding van jou kinders, oefenprogramme, diëte, godsdiens, restaurante, vakansies, vriende, beleggings, polisse en selfontwikkeling.

Elke dag sit slim mense orals en dink allerhande nuwe spesifikasies vir elke moontlike ding uit. Spesifikasies wat hulle die "edge" gee bo die kompetisie, om mense te oortuig om hulle produk te neem. As jy dus die keuse gemaak het om jou selfoon op te gradeer, is daar more 'n nuwe model en is jou tegnologie "agter".

Wat vreemd is, is dat gewone mense soos ons dalk net 'n fraksie van die tegnologie in ons hande effektief gebruik. Ons betaal vir dinge wat ons dink ons nodig het, terwyl dit gladnie noodsaaklik is nie. Baie van die tegnologie wat ons oortuig om iets te koop is ook nie goed vir jou nie. Soos BBM en Whatsup laat mense nie meer praat nie, maar eerder met teks kommunikeer. En die taal wat ons gebruik is opgemaak uit afkortings en "slang", wat mense laat verleer om ordentlik te spel.

Hoe meer dae, hoe meer dinge is daar, en jy sal dalk nooit op die totale voorpunt van dinge wees nie.

Baie mense is in ons tyd deurmekaar en "confused". Op elke vlak van die lewe staan jy in 'n supermark met legio standpunte en opsies. Spesifikasies wat jou totaal deurmekaar maak, dinge wat jy verstaan en wat jy nie verstaan nie, ook baie dinge wat jy jou kop oor breek wat jy nooit gaan gebruik nie, maar wat jou laat wakker lê in die nag.

'n Paar dinge moet jy onthou in hierdie maalkolk van 'n wêreld.

Daar gaan altyd verskillende opinies wees, want mense verskil. Dit is deel van menswees, maar net omdat my vriend 'n i-phone het en ek 'n Htc, verander dit iets aan ons vriendskap? Ons kan mekaar tog steeds bel en 'n platform soek waar ons kan kommunikeer soos Whatsup.

Verskille en kompetisie tussen produkte en mense is goed, want dit laat mense streef daarna om innoverend en in hulleself beter te word. As almal dieselfde was, sou die lewe baie eentonig gewees het.

Net omdat iemand nie op die vlak van tegnologie is as my Blackberry nie, beteken dit nie dat ek beter of slegter is nie. In die tyd toe my Blackberry gesteel is, het ek 'n ou Nokia gebruik, en my lewe het nie gestop nie. Ek kon steeds leef, bel en deelneem aan die rotresies. So ek hoef ook nooit terug te staan en minderwaardig te voel oor my tegnologie nie, en ek mag die om my, wat dit nie het nie, ook nie uitsluit of minderwaardig laat voel nie. Net omdat iemand nie BBM of Whatsup het nie, kan ek die grappies vir hulle aanstuur op SMS.

Daar is geen foon of standpunt wat die "ultimate" is nie. Niemand het die finale antwoord nie. Funksionaliteit is waaroor dit gaan, solank dit wat ek het en dink op daardie oomblik my doel versadig, dan is dit die regte een vir my.

Ek moet ook oop wees vir nuwe tegnologie en idees. Soveel mense loop rond met hulle baksteenfoon-idees. Sy battery hou nie, en ek is nie bereikbaar vir ander nie. Kyk na die nuwe dinge in die lewe, elke nuwe idee op die mark het ten doel om die lewe beter te maak. Kyk daarna, want dit is gratis en vry, en hoekom dit nie gebruik nie? Wees dus oop vir nuwe idees en nuwe dinge. Niks in die lewe is konstant nie, maar in beweging vorentoe.

Soek uit wat vir jou werkbaar is. Soveel fone het funksies wat ek nie kan hanteer nie. Ons stel onsself bloot aan idees wat nie vir ons werk nie, en eintlik meer spanning in my veroorsaak as genot. Ek kan die mooiste foon by my vriende neersit, maar as dit nie in my basiese behoefte voldoen nie, en ek nie eers kan bel nie, wat help dit my?

Alle fone is feilbaar en gaan breek. Fone het waarborge op, maar nooit vir die durasie van die foon se bestaan nie. So weet ons ook dat dit wat vandag bestaan ook nie vir altyd gaan hou nie. Niks is gewaarborg vir ewig nie. Wees dus voorbereid en oop vir nuwe idees en bewus dat wat jy dink en doen moontlik gebreek is. Net omdat dit uitgedateer kan raak of kan breek, help dit ook nie dat ek my foon in die boksie in 'n kas toesluit nie. Gebruik dit en geniet dit. Niemand kan in die toekoms sien nie, maar net omdat die toekoms onseker is en mag breke insluit, kan ek vandag nog bel. As ek nie vandag my foon uit vrees nie gebruik nie, is dit reeds "gebreek".

Erens moet ek keuses maak. Net omdat daar elke dag nuwe fone op die mark is en ek wag vir die "beste" foon of geleentheid, gaan ek vir altyd sonder 'n foon wees. Soms gaan dit nie oor spesifikasies nie, maar watter foon my pakket voor kwalifiseer, wat vir my mooi lyk of wat lekker in my hand pas. Jy moet dus kies, sodat jy kan deelneem aan die lewe. Niemand kan sonder keuse en standpunt leef nie, dan is jy onbereikbaar.

Die laaste punt is, geniet die voorreg om in aanraking te kan wees. Geniet jou foon en leef hom voluit uit. Bel, BBM, Whatsup, gaan op die internet, laai programmetjies en speletjies af. Geniet wat jy het en hou op om te bekommer en te stress oor wat jy nie het nie. Watter foon jy ookal het, moet dit nie so ernstig opneem nie, dit is net 'n foon. Gaan maak die beste van dit, miljoene mense is dolgelukkig vandag sonder dat hulle 'n i-phone 4 het. Moet dus nie wag tot dinge in plek val voor jy gaan deelneem en 'n lekker gesprek met mense het nie. Die lewe is hier en nou, laat jou stem gehoor word en ook jou lag, te midde van die feit dat jy nie kan BBM nie.

Gaan leef, gaan lag, gaan geniet vandag!

No comments:

Post a Comment