Monday, September 12, 2011

Wat jy sê en doen!

Ek het verlede jaar ‘n wonderlike kursus bygewoon. Alhoewel die hele kursus in geheel fantasties was, het daar een gedagte by my vasgesteek: “If what you say or do does not benefit your goals, don’t do it and don’t say it”

Vanoggend lees ek op ‘n ander plek die verhaal van Michaelangelo. Iemand het hom gevra hoe hy te werk gaan om ‘n beeld te skep. Hy het gesê dat as hy ‘n standbeeld van ‘n leeu wil maak, dat hy natuurlik begin met ‘n groot stuk hout of klei. Alles in die hout wat nie na ‘n leeu lyk nie, sny hy af, totdat hy uiteindelik met die beeld van ‘n leeu sit.

Beide hierdie twee standpunte wys vir ons eintlik hoe eenvoudig ons lewens kan wees in wat ons doen en sê. Soms maak ons die lewe so gekompliseerd deur ons denkprosesse. Ons filosofeer so oor die lewe dat ons onsself vasstrengel en nie leef nie. Ons sê en doen dinge wat ons nie bedoel nie, of wat nie ‘n positiewe bydrae lewer tot ons doel en wat ons wil bereik nie. Mense vervreem van ons, mense kry seer in die proses, en heel in die kern is dit ons wat die seerste kry en van koers af is.

Soms herhaal ons ook dieselfde patrone oor en oor, en ons verwag dat die uitkoms van die aksies verskillend sal wees. Dit is die toppunt van onnoselheid. Indien ek teen 200 km/h in ‘n muur vasry, wat gaan gebeur. Net uit blote kennis van fisika weet ek dat ek en die motor redelike skade gaan kry. As ek dit nou ‘n tweede keer doen, wat dink jy gaan die mense van my dink en sê. Dit klink eenvoudig, maar as ek na my eie lewe en die optrede van mense om my kyk, is mense nie bereid om aanpassings te maak nie, maar hou eenvoudig aan met hulle patrone oor en oor, en uitslag waarvan elke keer dieselfde is.

Te midde van my persoonlikheid en agtergrond, is my aksies in my beheer. As ‘n verhewe wese met die vermoë om te kan dink, moet ek tog kan kies hoe ek reageer, optree en wat ek sê. Die bybel sê ook dat ons ‘n wag voor ons mond moet sit. Ons praat so graag ons harte uit en filosofeer en glo dat vryheid van spraak ons menslike reg is.

Vandag in die saak teen Julius Malema, het die regter ‘n interresante stelling gemaak wat eintlik die basis behoort te wees van ons lewens. Hy het gesê dat alhoewel vryheid van spraak (die reg om te sê wat ek wil, wanneer ek wil en vir wie ek wil) ‘n reg is, mag dit nooit die reg tot menswaardigheid oorskadu nie. Dit beteken dus dat as ek iets oor, van of vir iemand sê en selfs doen, en ek daarmee hulle reg tot menswees ontneem, verval my reg om te doen wat ek wil.

Ek sien en ervaar in verhoudings dat mense dikwels eerder hulle reg tot vryheid van spraak gebruik, ten koste van die persoon vir wie jy lief is. Ten koste van hulle menswaardigheid. Dit is natuurlik waar dat yster yster slyp, en dat jy in enige verhouding moet kan sê hoe jy voel. Die probleem daarin egter is dat dit in baie gevalle nie oor “ons” handel nie, maar oor die eie ek. Ek dink en ervaar dat dit die ondergang van soveel dinge in die lewe beteken. Mense veg so vir hulle eie bestaan in ‘n verhouding dat hulle, met die beste intensies, die verhouding en mekaar verloor.

Dit wil voorkom asof mense die “menswees” komponent van hulle naaste verloor het. Miskien dan ook in essensie hulle respek vir hulleself in die eerste plek, en daardeur beheer verloor. Wanneer ons nie vir ons naaste respek en liefde het nie, is dit omdat ons nie dieselfde menswees en respek en liefde vir onsself gun en gee nie.

Mense se lewens gaan ook ten gronde, want ons werk soos die eerste aanhaling. Mense hoor wat ons sê, maar mense gaan kyk ook na die konteks van wat die motivering agter die woorde is. Soms moet ‘n mens eerlik wees, en soms moet jy eerder nie kommentaar lewer oor jou vrou se voller magie nie. Wat bereik jy daardeur? Sy kan ook dalk dink dat jy nie meer met haar tevrede is nie, nie aantreklik vind nie en dat jy haar in essensie nie meer lief het nie. Wat vat dit nou van jou om eerder haar te prys? Wat vat dit van ons om eerder in liefdevolle aanvaarding, met die groter doel in gedagte, eerder nie heeltemal te sê wat ons dink nie? Om dalk eerder die menswaardigheid in iemand raak te sien en in liefde eerder te swyg? Met die oog op die groter geheel wat tog soveel meer belangrik is as ‘n ou vetrolletjie of twee. Om eerder haar te prys oor haar hare wat sy vanoggend so mooi gekrul het.

Ek sit soms in gesprekke waar mans en vrouens steriotipeer. Mans is so en vrouens is so, my man doen dit, my vrou doen dat. Plekke en situasies waar ons die kollektiewe psige van die wêreld so belaai, dat jou man nie eers doen wat die ander vrouens se mans doen nie, maar jy sommer by voorbaat vir hom kwaad is, net omdat hy ‘n man is. Dinge soos dat mans onsensitief is, is die grootste bog op aarde, net soos dat vrouens nie kan bestuur nie. Dit het al so deel geword van ons alledaagse denke dat ons dit glo, en dat my seuntjie nou die dag dit as ‘n feit bevestig het toe ‘n vrou voor my inry by ‘n sirkel.

In rekenaarterme noem hulle dit – “garbage in – garbage out”. Ons hou ons kinders weg van mense, boeke, idees en televisieprogramme, omdat ons weet hoe die impak is van informasie op hulle aksies en lewens. Dit is net so vreemd dat ons, wanneer ons ouer word nie dieselfde op ons lewens toepas nie. Ons filter nie ons vriende, ons televisieprogramme of wat ons lees nie. Wat het ons skielik nou onaantasbaar gemaak vir die impak van die mense om ons in ons lewens? Wat het geword van dit wat ons vir ons kinders leer dat jy aan jou vriende geken word of dat as jy jou meng met die semels, dan vreet die varke jou? Ons het gedink ons is so immuun hierteen, terwyl ons eintlik, saam met die mense om jou ‘n idee van die werklikheid skep wat skokkend en onwaar is.

Die belangrikste vraag is dus die volgende: “Wat wil jy bereik?”. Die tweede vraag is: “Lewer jy ‘n positiewe bydrae tot die doelwit, of is jy die een wat die oorsaak is dat dit nie bereikbaar is nie?” Die bybel stel dit dat jy net kan maai wat jy saai, en ek wonder of, as mense na hulle lewens kyk, en geen oes, sukses, liefde, vrede, harmonie en genot maai nie, hoeveel keer gaan steek ek my hand in eie boesem en haal die balk uit my eie oog.

Ons is vinnig om ander te blammeer en skuldig te laat voel, en in die meeste gevalle, is dit ons probleme en issues. Wat sal dit nou regtig van my vat om so bietjie my trots te sluk, bietjie stil te bly en bietjie ander toe te laat om te wees wie hulle is? En dit alles met die groter doel in gedagte van wat ek wil bereik.

Jou lewe is dus ook soos ‘n groot stuk houtstomp wat jy ‘n visie voor het as standbeeld. Begin vandag om die dinge in die eerste plek wat in die pad staan van jou beeld, weg te sny. Begin vandag en doen en sê dinge met die oog op wat jy wil bereik. Gaan wees en word wat God jou en die mense om jou bedoel het om te wees.

No comments:

Post a Comment