Tuesday, January 24, 2012

Talente

Aan die begin van die jaar maak almal nuwe planne van wat hulle die jaar gaan doen. Ons hoor by die skool en in die kerk allerhande stories wat vir ons kinders vertel word oor talente, en hoe hulle dit moet uitleef hierdie jaar. Oraloor word die verhaal van die diensmeisies en die slawe vertel. Die een van die diensmeisies handel oor die lampies wat onder die maatemmer gesit word, wat rofweg beteken dat jy jou lig in die wêreld nie mag wegsteek nie, maar moet uitleef.

In die verhaal van die slawe sien ons dat daar 3 slawe is. Die eerste kry 5 talente (muntstukke), die tweede kry 2 en die derde kry 1. Toe die eienaar terugkom het die eerste en die tweede hulle talente verdubbel deur daarmee te woeker, terwyl die derde uit vrees om dit te verloor, sy talent begrawe het sodat hy dit vir die eienaar kan teruggee soos hy dit gekry het. Die uiteinde van die storie is dat die eerste twee beloon is met nog talente, terwyl alles van die derde weggeneem is.

Soos ons natuurlik vir ons kinders verduidelik hoe die storie werk, wonder ek toe so ‘n bietjie by myself wat ek en jy met ons talente doen. Jy sien, ons het ook talente in sport, sosialisering, kuns ens. As jy net kyk hoe vol ons kinders se dae is met die uitleef van hulle talente, wonder ek toe wat van my talent-uitlewing geword het. Ek praat nie hier net van drome nie, maar my talente rondom musiek en sport. Dit wil my voorkom dat ons so besig word met ons werk en ons gesinne, dat daar natuurlik min plek is daarvoor. Nie almal het die tyd om onsself te gaan uitleef nie.

So wonder ek toe of dit nie dalk die rede is hoekom ons so depressief en ongelukkig in ons lewens is nie. Ek vat gladnie weg van die feit dat dit talent neem om te werk en kinders groot te maak nie, en ook nie dat ons dae gevul is met verantwoordelikhede nie. Maar so was ook die slawe in ons verhaal, hulle het sekere dinge gehad wat hulle eenvoudig moes doen as deel van hulle verantwoordelikheid teenoor die eienaar, maar tog het hulle nie vergeet van hulle talente en om daarmee te woeker nie.

Dalk is dit juis die rede hoekom daar niks is wat ons na uitsien in die dag nie, en wat ons ongelukkig maak oor die dag van more nie. Is ons nie dalk so vasgevang in die alledaagse stress en spanning, dat ons uitlaatkleppe wat ons probeer nie werk nie? Wanneer laas het jy voor jou klavier gaan sit, al is dit net vir 5 minute en jouself uitgeleef? Wanneer laas het jy daardie skoon stuk karton geneem en geverf?

Jy sien, die ding van talente is dat dit deel van jou opmaak is. Elke mens se talent lyk anders, en sommige het meer as ander. Die uiteinde daarvan is eenvoudig dat dit deel van jou is. En belangriker as dit, as jy dit nie gaan uitleef nie, gaan jou vlammetjie doodgaan en gaan dit van jou “weggeneem” word. Ek stem ook saam daarmee dat hoe ouer jy word, jy allerhande nuwe dinge in jouself ontdek wat jy kan uitleef. Dit gaan nie hier oor die lysie van dinge wat jy nou kan doen nie, sjoe, ek kan net dink hoeveel spiere ek gaan skeer as ek nou skielik gaan probeer om ‘n 100m te hardloop. Maar dit is dalk net ‘n voorbeeld daarvan dat as ek aangehou hardloop het en nie opgehou het nie, ek dalk nou vir veterane kon gaan hardloop het en gesond gebly het.

Soos die eienaar teruggekom het om rekenskap te vra oor wat die slawe met die muntstukke gedoen het, so is dit nie noodwendig oordeel van God nie, maar ‘n oordeel wat elke dag in ons lewe te siene is. Soveel mense wat ongelukkig en depressief en hartseer is. Mense wat voel dat hulle niks het om voor te leef nie. Dan weer sien ek mense van 70 plus wat hulle skilderye teken en op facebook vir ons wys. Ek sien my oom van 75 wat nou in die komende maand etlike klavierkonserte kom hou in Suid-Afrika. En as ek moet eerlik wees, is mense wat hulleself op hierdie manier uitleef, die gelukkigste.

Ek sien nie net in kuns nie, maar ook in sport hoe my vriende wat fietsry en hardloop gelukkiger lyk en makliker met die lewe omgaan. Hulle lyk vir my minder ongelukkig en depressief. Hulle lyk en voel gesond, wat natuurlik oorspoel na hulle verhoudings, ouerskap en werk. Hulle is opgewonde oor die genot wat hulle daaruit put om hulle talente uit te leef.

Ons preek so maklik vir ons kinders ook dat dit nie gaan oor HOE goed jy is in wat jy doen nie, maar dat jy dit doen. Genot is nie in die uiteinde en dat mense my skilderye moet koop vir miljoene nie, en ook nie dat ek die Comrades marathon wen nie. Ware genot gaan oor die uitleef van my talente, en dat ek ook begin doen wat ek vir my kinders preek. Miskien is dit ook hoekom kinders, wanneer hulle tieners is, nie meer met ouers wil praat nie, want ons eie dade pas nie by ons preke nie. Hulle glo ons eenvoudig nie meer nie.

So sien ek my vriende wat sport beoefen, dat hulle kinders outomaties dit by hulle aansteek. Ek kan onthou dat my liefde vir tennis en gholf gebore is uit die feit dat ek elke naweek dit saam met my ouers gedoen het. Ek het natuurlik ‘n keuse gehad om langs die veld te sit, maar dit begin uitleef. Dit was van die wonderlikste tye van my lewe, om so saam met hulle ‘n hele dag te spandeer. Hulle voorbeeld het my aangespoor om dit ook te doen, want dit was ons lewenswyse, wat gedraai het rondom sport.

Miskien is dit die oorsaak van soveel ongeluk in die wêreld rondom ons, dat ons nie ons talente beinvloed nie. Jare terug het ek musieklesse geneem, maar nou sukkel ek om my kitaar te stem. Alles vat my soveel langer om te doen. Gister ry ek hier in Pretoria in Atterburyweg, en daar is plakkate op van musiekklasse van mense wat nou bietjie ouer is, en skielik dink ek dat ek dit moet begin doen weer. Weer so ‘n bietjie kreatief word, ietsie nuuts leer en my talente uitleef.

Het jy dalk so ‘n bietjie vergeet wie en wat jy is? Het jy so bietjie daardie talente wat jou definieer in die kas gaan pak? Onthou dat dit nooit te laat is om jouself te begin uitleef nie. Dit maak nie saak of jy ‘n springbok gaan word in wat jy doen nie, maar die woekering daarmee is waaroor dit gaan.

Daar is een belangrike les wat ons almal weet, dit gaan nie oor die prys wat ek kry as ek iets doen nie, maar oor die passie waarmee ek dit doen. Dit bring geluk, en hoe meer passie ek in my lewe instoot, hoe meer passie en energie kry ek om soveel ander dinge te doen. Ek sien so baie mense wat gymnasium toe gaan om ‘n lyf te bou of om gewig te verloor, maar eintlik gaan dit oor die lekker daarvan en die voorreg om te oefen. Die lyf en gewig sal vir hulleself sorg, solank jy wat jy doen met passie doen en geniet, sal alles uitwerk soos dit moet.

Dalk moet jy bietjie in daardie stowwerige kas in die huis gaan soek en jou rakket, gholfstokke, papier, kryte en verf gaan afstof. Dalk moet jy daardie kitaar gaan laat hersnaar of reel met die skool of kerk om bietjie tyd op ‘n klavier te gaan spandeer. Gaan vind jou passie en jou talente, dalk vind jy daarin weer wie en wat jy is, en dan spoel daardie passie oor na jou hele lewe. Moenie wag nie, doen dit NOU, doen dit elke dag met passie. Die rentmeesterskap word nie getoets eendag nie, maar in jou lewe nou.

Geniet jou dag!

1 comment:

  1. baie dankie vir hierdie wonderlike skrywe! so deur google het het gesoek na iets oor die talente vir my kind se jaar-einde drama opening, en op hierdie pos afgekom! Jy het onbewustelik my lewe kom wakker ruk! Baie dankie!

    ReplyDelete