Wednesday, August 28, 2013

Wynand "Loftus" Van Vuuren


Ek weet nie hoekom nie, maar ek le gisteraand en dink aan Wynand "Loftus" van Vuuren wat saam met my in die Laerskool was.  Ek dink elkeen van ons het so 'n iemand saam met ons op die skool gehad.  Hy was nou die een wat werklik "uit" was.  As ek terugdink kan ek onthou dat hy gladnie mooi was nie, soos die oom sou gese het, so wit soos 'n voorbode.  As ek onthou was hy so wit dat hy die enigste kind was wat in daardie tyd 'n hoed gedra het as hy in die son uitgegaan het.  Ek kan onthou dat ons gespot het en gese het dat ons dink hy skyn in die aand as die son ondergaan.
 

Ek kan onthou dat ek nog voordat ek geglo het in lewe op ander plannete, gedink het dat hy een van hulle moes gewees het, want hy was weird.  Dalk is sy ligsensitiwiteit dalk die rede, maar hy het nooit saam met ons gespeel nie.  Ek onthou hy het daai Alpha 1999 ruimtetuigies skooltoe gebring en die hele tyd die vorige episode in sy kop deurgespeel.  Wat vreemd is, is dat niemand Wynand geboelie het nie, niemand het ook vir hom gelag nie, want ek dink diep binne was die kinders bang vir hom.  Die meisies wou nie naby hom sit nie, want hy het ook soms nog tot laat in die Laerskool "glipsies" gehad, maar selfs daaroor het niemand hom ooit gespot nie.

 
Wynand se oupa hulle, of so het hy gese, het 'n plaas gehad in Aliwal-Noord, en elke naweek het hy gewag dat sy oupa-hulle moet kom kuier, want dan sou sy oupa hom Loftus toe vat.  As mense vir hom op Maandag gevra het of hy toe daar was, het hy altyd gese dat sy oupa nie kon kom nie.  So wonder ek by myself of "Loftus" toe ooit op Loftus was.

 
Maar Wynand is een van daardie mense wat ek my hele lewe lank sal onthou, want alhoewel hulle brandarm was, en hy deurskynend, kan ek hom net nie vergeet nie.  Wynand was natuurlik ook gladnie sportief nie, en het so min koordinasie gehad dat hy gesukkel het om aan 'n deur te klop.  Naderhand het die LO-Meneer opgehou om vir hom te vra vir 'n doktersbriefie, want eintlik wou hy graag, maar het die hele klas opgehou.  Ek kan nie onthou dat ek hom ooit sien hardloop het of 'n bal vang of gooi nie.  Hy het sommer van die staanspoor af nie eers sy LO-klere aangetrek nie, maar sommer op die pawiljoen gaan sit.

 
Ek dink ek onthou vir Wynand, want Wynand was by elke skoolfunksie en langs elke sportveld.  Ek dink die meisies het daarvan gehou dat hy daar was, want hulle was al aan hom gewoond, maar hy het die meisies van die ander span ontsenu.  Maar Wynand was altyd daar, selfs langs die Laerskool krieketwedstryd tussen ons en Timbuktu se 3e span.  Wynand was daar.  Ek sien hom na soveel jaar sit daar onder die groot boom en kyk terwyl hy sy tinfoil toebies eet.  Vir een of ander rede het Wynand geglo dat alles by die skool eintlik om hom draai en as hy nie by die Eerste Span se wedstryd is nie, SAL hulle verloor.

 
Ons is almal na verskillende skole toe na Laerskool, en ek het nooit weer vir Wynand gesien nie, maar gehoor dat hy oorlede is in Standard 8, dis toe ons nog te dom was vir grade.  Maar Wynand onthou ek soos asof dit gister was, amper 40 jaar later.  En ek wonder toe:  "Wat is dit maak dat ek na al die tyd nog wonder oor ou "Loftus"?

 
Kinders is mos maar baie wreed, maar om een of ander rede het die wreedheid en gespottery nooit aan Wynand gaan sit nie.  En moenie 'n fout maak nie, hy was nie 'n dom ou nie.  Ek dink wat my gevang het is die manier hoe hy aangehou leef het, te midde van wat ander dink of hoe hy lyk.  Ons het respek vir hom gehad omdat hy elke wedstryd langs die veld gestaan en "Wonnies" geskree het.  Hy was vir my 'n rolmodel, maar ek besef dit nou eers.  Want ek wonder hoe sou ek gevoel het as ek in sy skoene was, en sou tien teen een in 'n hoekie gaan sit en kripeer het.  Hy het dit nie aan hom laat vat, die feit dat hy nie 'n meisie kan kry om saam fliek in die saal te gaan kyk nie, hy was daar en het die fliek kom geniet.  Hy het homself nie laat onderkry oor die feit dat hy nooit op Loftus was nie, hy het al Naas Botha se statistieke uit sy kop geken.  Hy was nie bekommerd dat hy nie geld het om by die snoepie "Chelsea-Buns" te kan koop nie, want sy ma het mos vir hom Tinfoil appelkooskonfyt broodjies ingepak.  Alhoewel hy op daardie stadium nog met Alpha 1999 ruimtetuie gespeel het, was ons eintlik jaloers, want ons wou ook nog daarmee speel, maar dit was "uncool".  Eintlik het Wynand vir my laat sien wat ek gemis het in die lewe, en wat dit is om werklik mens te wees, deur so lank "kind" te bly.

Eintlik besef ek vandag dat die uitdaging vir talentvolle mense om suksesvol te wees nie baie groot is nie, maar ons leer meer by mense soos "Loftus".  Ons lees al die boeke van die "Champions of Industry" en die wonderlike "Leiers" van ons wereld, maar ons vergeet om te kyk na elke mens om ons.  Die Bybel is vol van mense soos Wynand, noem hulle maar op, Moses, Dawid, Gideon, Job, Petrus en Paulus.  Mense wat jy nou nie sommer uit 'n "line-up" sou gekies het om jou volk deur die woestyn te lei nie.

Elkeen van die mense wat ek genoem het, het een of ander verskoning gehad van hoekom hulle nie hulle roeping kan nakom nie.  Hier te kort en daar te lank, soos ons almal maar is.  Maar God werk anders, God werk deur die Wynand "Loftus" van Vuurens van die wereld, want krom stokke kan ook reguit houe slaan.  Mense wat alles al verloor het en wat swaargekry het, is soms die mense wat die grootste impak het.  Mense wat alles het, is en word arrogant, en dink soms dat hulle God nie nodig het nie, of hulle is so ingestel in hulleself dat hulle nie langs die 3e span se krieketveld wil sit om maats aan te spoor nie.

Wynand het dit ook geniet en geselskap ingedrink wanneer iemand net aan hom aandag gee.  Ek voel skuldig dat ek nie meer moeite met hom gedoen het nie, maar ek is dankbaar vir wat hy my geleer het.  Krom stokke, wat dink hulle kan nie, is soos mense wat swaarkry.  Hulle verstaan dankbaarheid, want hulle vat nie alles om hulle as vanselfsprekend nie. 

Miskien is jy vandag bietjie "down", miskien voel jy soos 'n "mislukking", miskien is jy eensaam en voel asof jy van 'n ander planeer kom.  Dalk het jy niks geld nie, dalk het jy jou werk verloor.  Dalk is jy vasgevang in omstandighede wat vir jou voel asof jy nie weet watter kant toe nie.  Ek weet nie, jy weet self.  Weet dit, jy kan dalk 40 jaar van nou af deur jou optrede iemand, soos in my geval vandag, se denkwyse of optrede verander.  Weet dit ook, net omdat jou toebies in 'n Tinfoil kosblik kom en almal om jou sulke ontwerper-kosblikke is, beteken nie jy moet honger ly of nie geniet wat in jou lewe IS nie.  Vandag voel ek soos 'n mislukking, daar is baie mense wat my haat en mense wat my kritiseer, waar verskonings en wie jy is nie belangrik is of op goeie ore val nie – maar dan dink ek aan Wynand, wat te midde van alles, dink ek, homself gelukkig gemaak het.

Jy hoef nie op "Loftus" te wees om vandag te geniet nie, jy kan vandag met jou hele hart gaan leef en opdaag vir jou lewe, sonder dat dit perfek of volmaak is!

No comments:

Post a Comment