Thursday, February 9, 2012

Perfekte beeld

Onthou jy nog daardie tyd toe ons self ons televisie antennas opgestel het. Ek onthou nog die kere wat ek op die dak gestaan het, my pa binne sigafstand van my, en my ma binne by die televisie. Al die opdragte: “bietjie links, bietjie regs, stop, aggenee man, daar stel jy hom weer uit”. Jy kon natuurlik of daarvan ‘n heerlike lagsessie maak, of dit kon tot huismoles gely het.

Vandag is die tegnologie egter so bietjie anders met die skottels wat ons laat installeer. Jy ry selfs deur die armste van gebiede, maar die skottel aan die oostekant van die huis is altyd sigbaar. Die ouens wat dit vir jou kom installeer het ook sulke oulike masjientjies waarmee hulle die sein toets om seker te maak dat jy goeie opvangs het.

Ons televisies is ook nou so gevorder dat hulle outomaties kannale soek. Nie meer soos in die verlede wat jy met knoppies draai jou instelling self gedoen het nie.

Dit is vir my kinders vreemd om te dink dat daar ‘n tyd was waar daar net een of twee kannale op die televisie was. Jy kan onthou, as jy my ouderdom is, daardie toetsbeeld van die SAUK wat op die skerm was wanneer programme nie uitgesaai is nie. Ek onthou nog hoeveel keer ek daarna gestaar het terwyl ek gewag het vir die programme om te begin.

Om te sien wat jy wil sien, is daar 3 dinge van belang. Jy moet ‘n skottel installeer wat met die sateliete kan “praat”, jy het ‘n dekodeerder nodig wat die sein kan ontrafel en jy moet jou televisie instel om die boodskap van die dekodeerder te kan sien. Alles is onafwendbaar, want dit is ‘n natuurlike proses.

As jy dus nie die beeld kry wat jou tevrede stel nie, of geen beeld kry nie, dan soek jy die fout terug by die vorige toestel. Dit is soos wanneer jou sleutels verlore is, dan gaan jy terug op jou spoor. Soms voel dit ook vir ons of ons beeld versteur is, en dinge loop net nie lekker nie. Dan is die maklikste om dit op te los, om in jouself te gaan soek na die dinge wat die storing veroorsaak.

Baie mense is bang om dit te doen, en hulle sit hulle hele lewe en staar na die sneeuvlokkies op die skerm. Naderhand dink hulle dat dit normaal is. Hulle gaan kuier by ander mense en sien die mooiste beeld. In hulleself doen hulle niks aan hulle beeld nie, en maak vrede met die vlokkies. Dan is hulle jaloers en byterig teenoor ander, want niemand wil by hulle kom kuier nie, want dit is saterdagmiddag en kuiergaste wil die rugby sien. Hoe lank gaan jy met die sneeuvlokkie lewe aanhou?

Deesdae is dit soveel makliker om goeie opvangs te kry. Daar is legio hulp van mense en kenners beskikbaar. Die internet en die boekwinkel het soveel informasie oor elke onderwerp, van die instel van jou DSTV proses, tot die instel van jou eie proses. Daar is toerusting en kenners wat kan seker maak dat jou “skottel” in die regte rigting wys waar die “goeie” en die “regte” sein is. Daar is ‘n inbelsentrum van DSTV wat jy kan kontak om seker te maak dat jou dekodeerder reg kodeer. So is daar mense om jou wat jou kan help om jou “kodering” van die sein reg te doen, of te reg te maak. Dan is daar sulke oulike tegnici wat na jou huis toe kan kom en wat die hele proses sommer vir jou kan doen. So is daar soveel kennis rondom ons vandag wat ons elkeen kan bystaan om wonderlike beelde, selfs in hoë definisie of 3D, te kan sien, ervaar en uit te straal.

Soms kan hierdie kennis of kenners ook maar ‘n mens se kop deurmekaar maak. Die tegnologiese ouens het mos ‘n taal van hulle eie wat hulle praat. Hulle verwys na dinge in afkortings wat ons gewone mense nie verstaan nie. So, in die proses van my instelling, moet ‘n mens ook maar versigtig wees om nie SO tegnies te raak dat die storing nog groter en die beeld nog slegter word nie.

Ek het ‘n vriend op skool gehad wie se hele gesin sulke tegniese ouens was. As ons daar gaan kuier het was die hele huis gesaai met allerhande toerusting van klankkaarte tot soldeermasjiene. Jy het altyd rondgekyk waar jy loop dat jy nie oor ‘n elektriese koord of iets val nie. Op die stoep en die garage was etlike televisies en vidoemasjiene wat se deksels af was dat jy die binnegoed kan sien. Sy pa wou eenvoudig altyd “verstaan” wat die binnewerking van sy elektriese toebehore behels, en daarom het hy alles oopgemaak en gedesekteer.

Wou jy nou net eenvoudig televisie kyk, was daar altyd fout met hulle goeters. Drade was nie gekoppel nie, of ‘n elektriese prop is afgehaal om op ‘n ander plek te gebruik. Alles was daar, maar niks het gewerk nie. So het ek maar altyd my kop geskud, en dan het ons maar op ons fietse geklim om die program by iemand anders te kyk.

Die spreekwoord sê mos: “Alles wat ‘n “te” is is verkeerd, behalwe “tevrede”, “te perd” en “tematies”". So moet ons ook nie so ernstig selfondersoek doen oor ons lewe en ons binnetoerusting, dat ons vergeet dat die doel van die oefening is om die pragtige beeld te sien en te geniet nie.

So besig raak ons om te wil leer hoe ons werk, hoekom dinge gebeur, hoekom ons op ‘n manier optree, dat ons nooit die genot van die uitsending geniet nie. Ons, en ek in besonder, is soms so besig om ons derms uit te ryg en om te besin oor die lewe, in en om ons, dat ons vergeet wat die essensie is. Dit doen ons met elke ding in ons, ons liefde, ons kinders, ons stress, probleme en spanning. Dan vergeet ons om te leef! Ons is so besig om te desekteer en te be-oordeel dat ons IN ons mensetoestel in staar, en nooit rustig voor dit kan gaan sit en ervaar hoe fantasties alles in my lewe ten goede meewerk. Moet dit nooit in die lewe SO deurmekaar maak, dat jy of nie weer die televisie aanmekaar sit nie, of dat jy na die desektering en terugsit van alles, met ‘n klomp skroewe en moere sit wat nie plek gekry het nie.

Ek is nogal baie lief om televisie te kyk, so ek stel nogal belang in die toerusting wat daar in die winkels beskikbaar is. Ek staan en bekyk graag al die platskerm televisies, en dan is daar ook altyd iemand wat my bedien met raad van die spesifikasies van elke tipe skerm in die winkel. Hoe kies ‘n mens nou die “beste” een? As jy hulle so langs mekaar sien, dan voel jy sommer jammer vir jou “ou” televisie by die huis. As jy hulle langs mekaar sit kan jy die verskil werklik sien, maar een-een op ‘n slag op hulle eie, gaan jy nie sommer die verskil agterkom nie.

So moet ons ook versigtig wees om nie te dink dat ek die “beste” toerusting moet wees om die uitsending te geniet nie. Soms wil ons nie ons beeld uitsaai nie, want ons is skaam oor ons toerusting wat nie die beste en vinnigste en mooiste op die mark is nie. Al is ons nie die beste nie en nie op die snykant van die tegnologie nie, kan ons steeds ingestel wees op die regte kanaal, ons kan steeds die genot ervaar van die wedstryd waar my span wen.

So, wees daarom seker dat jou skottel in die regte rigting wys, dat jou proses maklik van daar deursyfer na jou dekodeerder toe. Leer om die inligting wat deurkom reg te kodeer en te verwerk. Verstaan jou eie proses, geniet om jou binnewerkinge te ondek (in balans), maar verseker, moet nooit vergeet dat dit nie oor die absolute perfekte beeld en klank handel nie, maar oor die plesier wat jou uitsending by die kykers en jouself bring. Dit dalk selfs op jou ou, klein, uitgedateerde swart en wit skermpie!

No comments:

Post a Comment