Monday, May 27, 2013

"Law of attraction" en visvang

My jongste seuntjie, Robert, is absoluut versot oor visvang. Wanneer ander kinders cartoons kyk, is hy besig op Discovery of een of ander kanaal om visvang te kyk. As ek hom 'n keuse gee oor wat hy die dag wil doen, kies hy om te gaan visvang.

Ek het al vis gevang in my lewe, maar die gogga het my nooit gebyt nie. So 'n paar weke gelede het ek hom gevat om te gaan visvang, en hy was koorsagtig opgewonde daaroor.

Gelukkig het hy 'n hele klomp toerusting reeds, so ons kon onsself help.
Wanneer ek dink oor die "Law of Attraction", werk dit dieselfde as visvang.

1. Jy moet weet wat jy wil doen:

Soms voel dit asof mense geen idée het van wat hulle wil doen nie. Hulle is elke dag deel van die lewe, maar bestaan net. Jy moet tog weet wat jy wil bereik in die lewe en waarna jy soek, nog voordat jy enige iets kan aanpak. Die "Law of Attraction" gaan nie oor "laat God's water oor God's akker loop nie, die teendeel daarvan is eintlik waar.

Mense lewer baie kommentaar oor my artikels oor hierdie onderwerp, veral mense wat slegs glo in die Wil van God.

Om in God te glo en Sy hand in my lewe te sien, beteken tog nie dat God my soos 'n poppemeester aan my toutjies hou en ek elke oomblik slegs doen wat God my instrukteer om te doen nie. God het my geskep met 'n doel, en daardie doel is lewe. God het asem in my longe ingeblaas en vir my talente gegee om die lewe te gaan leef.

Die "Law of Attraction" sou tog nie bestaan het as 'n teorie indien dit nie die geval was nie. Ons sou almal redelik dieselfde gewees het, maar God het ons vrye wil ook gegee.

Dit is waar ek en jy, in God se wereld, in God se beeld, in God se teenwoordigheid, die vrye teuels het om ons lewens te leef.

As God dus so betrokke is by my lewe, is dit dieselfde God wat ook in my die begeerte geplaas het om beter te wees, hoer te vlieg en vinniger te WIL hardloop. Dit is 'n gawe uit die hand van God dat ek kan en wil glo dat daar iets beter en iets groters bestaan.

Robert het nie net een oggend opgestaan en begin visvangstories kyk nie, inteendeel sy oupa het hom viswaters toe geneem. Hy is dus blootgestel, net soos wat ek en jy blootgestel is aan die idée dat die lewe groter en beter en lekkerder kan wees.

Dit is ook Robert se persoonlikheid wat hom daardie passie gee vir visvang, net so het ek en jy die passie in ons om te gaan doen wat ons van hou, en nog meer daarvan soek.

Maar jy moet presies weet wat dit is wat jy soek, anders gaan jy jouself nooit op die pad plaas na waar jy wil wees nie.

2. Gaan waar die visse is:

Met dit uitgeklaar, wanneer ek weet dat ek wil VIS vang, gaan ek soek na plekke en situasies waar daar visse is. Ek gaan nie op Loftus se pawiljoen sit met my visstok nie, want alhoewel daar soms haaie daar is, is my kanse om daar visse te kry redelik skaars. Ek gaan dam toe.

Baie mense weet wel wat hulle soek, maar is nooit op 'n plek waar hulle dit kan doen nie. Dan blammeer hulle almal om hulle, en God ook, as daar nie vis is nie.

Mense sit in verhoudings vasgevang, en elke dag blammeer hulle hulle huweliksmaat omdat hy of sy nie is wat hulle soek nie. Ons sit in beroepe vas waar ek sielsongelukkig is, maar ek bly maar daar vir die geld. Elke aand as ek huistoe ry, dan wonder ek oor alles om my en oor die sin van die lewe, en smag na vis. Dan ontwikkel ek allerhande siektes soos depressie, en dalk nog ander siektes, omdat ek nie is waar ek moet wees nie.

Hierdie "Law of Attraction" is net so logies, as wat dit magies is. Ek moet erens tog vir God of die "Universe" halfpad ontmoet.

3. Toerusting:

Soms daag ons op by die dam, waar ek weet ek moet wees, sonder toerusting. Naderhand is ek rooi van die son, maar niks gebeur nie. Wat het jy verwag? Het jy gedink die visse gaan net outomaties in jou hand gaan inspring?

Dan blammeer ons weer en sit met ons hande in ons hare, want niks gebeur nie. Jy lag nou, maar dit is wat ons doen. Hierdie woorde wat jy nou lees is getik op 'n rekenaar, 'n blog is geskep en ek het dit daarop gelaai. Ek kan tog nie van jou verwag om te weet wat ek oor dinge dink, as ek nie die toerusting tot my beskikking gebruik nie.

Ek sien elke dag hoe ek dit in my lewe doen. Ek kry soms skaam wanneer ek God vra vir dinge, maar ek steek al my kennis en talente onder die maatemmer weg. Dit is logies, maar ons kan nie NET verwag dinge moet gebeur nie. Ek moet oproepe maak en mense sien om aan die lewe te bly. Ek kan nie net my kop in 'n gat druk en die beste verwag nie.

Visvang werk nie so nie. Om te kry wat jy soek en wil hę, beteken om jou lyn in die water te hę.
Met die "Law of Attraction" doen ons dit met woorde en aksies. As jy weet wat jy soek, wees spesifiek in jou woorde en jou aksies.

4. Kennis:

Nadat ek en Robert, onsuksesvol moet ek se, ons visvangtrippie afgehandel het, was hy baie teleurgesteld. Toe kom iemand wat ons ken en vat hom om saam met 'n Springbok hengelaar te gaan visvang. Die oom vat hom toe na 'n plek waar hy verseker weet daar visse is, en hy leer hom wat om te doen. Daardie dag het hy 8 visse gevang, en grotes ook.

Die oom het natuurlik al die toerusting waaraan jy kan dink, maar is iemand wat ook weet presies waar en waarmee jy moet vang.

Ons leef in 'n wereld met soveel kennis en ondervinding, maar ons wil soms op ons eie kluit sit en kripeer. Daar is soveel informasie om jou wat jou kan help om by jou doelwit uit te kom en die visse te vang wat jy glo jy verdien. Gebruik jy dit, of dink jy dat jy al die mag en pag het.

Jare gelede het my pa 'n siekteprobleem gehad wat genoodsaak het dat hy 'n operasie ondergaan. Een van sy vriende was baie gelowig en het vir hom gebid dat sy toestand moet weggaan. Hy was baie kwaad oor my pa se tekort aan geloof, want my pa het vir die operasie gegaan. Jy sien, sy redenasie was dat God nie deur dokters of die mediese wetenskap kan werk nie, en slegs op 'n wonderbaarlike manier. As ek my Bybel goed lees, sien ek dat God gewone herkenbare dinge soos skaapvelletjies gebruik om die boodskap en redding te bring.

Robert het vir geen oomblik omgegee dat hy die oom se stokke, aas en kennis gebruik het nie. Al waaroor dit vir hom gegaan het was die visse wat hy gevang het. Hy was wel baie dankbaar vir die toerusting en raad, maar hy het self vis gevang. Soms wil ons nie gebruik wat om ons is nie, maar daar is baie mense wat al deur hierdie proses gegaan het wat jy nou deurgaan. Gaan lees en gaan vra, want God het dit tot jou beskikking geplaas.

5. Trial and Error:

Ek is seker dat die oom wat die Springbok visvanger is, nie sommer net een oggend opgestaan het met 'n "magiese" gawe en 'n kissie vol van die regte aas nie. Hy het nie sommer net blindelings na daardie spesifieke plekkie by Roodeplaat gery en toevallig suksesvol begin visvang nie. Sy resepte en ondervinding kom deur 'n klomp kere wat hy probeer het. Soms het hy misluk, maar soms sukses behaal. Daar is lesse te leer uit elke mislukking en sukses.
Dit het hom by die punt gebring waar sy kanse op sukses groter is as myne.

Soms wil ons onmiddelik en sommer die eerste keer sukses behaal, maar dit werk nie altyd so nie. Jy moet bereid wees om ook te misluk, sodat jy daardeur die volgende keer nader aan jou sukses kan kom. Alles gebeur nie noodwendig in 'n oogwink en net magies nie. Soos met visvang, kom daar ook dae wanneer jy niks gaan vang nie, maar dit beteken nie dat daar nie vis is nie, dit beteken dalk net dat dit nie NOU is nie.

6. Geduld:

Hierdie is een van die redes hoekom ek dink ek nie van visvang hou nie. Nadat jy nou alles gedoen het wat jy kan en die regte plek, aas en kennis het, gooi jy jou lyn in.
Nou is daar ook geen volmaakte waarborge nie, slegs die wete dat jy jou deel gedoen het. Nou kom die moeilike gedeelte, want ek het geen idée wanneer die visse gaan byt nie. Elke vis het sy eie tyd van eet, en al wat ek kan doen is om te wag.

Dit is nou daardie tyd wat jy uit die pad moet kom en vertrou. Dit is wanneer jy jou aandag vestig op die geselskap om jou. As jy nou kinders van 10 jaar oud ken, sal jy verstaan dat dit omtrent onmoontlik is om dit vir hulle te leer.
Maar, visvang werk so. Jy moet die God in jou lewe wat jy vir al hierdie dinge vra kans gee om Sy ding te doen op Sy tyd.

Toe ek en Robert gaan visvang het was wonderlik vir my en sy verhouding, want terwyl die lyn in die water was, was dit tyd om te praat oor ons verhouding. Moet dus ook nie so gefokus wees op jou dobbertjie en die einddoel, dat jy vergeet om die natuur om jou te geniet nie.

Wees oop vir die lewe terwyl jou lyn in die water is. Dit beteken nie dat jy nie geloof het nie.

Verstaan dat jy vandat jou lyn in die water is, verder geen beheer meer het oor wat verder gebeur in die proses nie. Dieselfde met die "Law of Attraction", as ek my begeerte met smeking en danksegging aan God bekend gemaak het, kan ek tog nie verwag dat dit onmiddelik MOET gebeur nie. Dit is wanneer ek moet vertrou op God dat as dit vandag is, fantasies, maar as dit eers volgende week is, dalk is dit dan wanneer ek die rekordvis uittrek.

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Sunday, May 26, 2013

Ware menswees

Verskeie boeke het die laaste jare verskyn oor die idee van "Law of Attraction".

Die basis daarvan is dat wat jy is en het, mense, besittings en geluk, as refleksie van wat in jou binneste gebeur. Om dus jou lewe te verander kan jy dit slegs van binne jouself verander. Dit verskil so effens van die tendens, wat ons almal doen, en dit is om die omstandighede buite my die skuld vir my ongeluk en depressie te gee. Wat die "Law of Attraction" ons eintlik leer is dat my innerlike gevoel en emosie nie 'n refleksie is van die lewe om my nie, maar eerder die teenoorgestelde. My wereld is 'n refleksie van wat in my hart en gedagtes gebeur.

Dr. Louise Hay vat dit nog verder en se dat dit nie net "omstandighede" om my wat reflekteer wat ek dink en voel nie, maar ook my liggaam. Sy het deur studie die afleiding gemaak dat die siektes in my liggaam 'n refleksie is van my ingesteldheid teenoor die lewe. Dit is eenvoudig om te kan sien dat sekere mense met sekere persoonlikhede en ingesteldheid teenoor die lewe, psigosomaties manifesteer in die tipe siektes wat ons ervaar. Siektes is ook nie net 'n teken van wat in my emosies gebeur nie, maar indien ek dit reg kan "diagnoseer", word dit ook 'n manier om te bepaal wat werklik in jou hart gebeur, en of jy dalk op die verkeerde pad is. Sy gebruik 'n terapie van "mantras" waarmee jy die negatiewe idees verander in die positiewe. 'n Hele spul getuigskrifte van mense bepaal dat jy eintlik werklike genesing kan bring met jou mantras en ingesteldheid.

Esther en Jerry Hicks bring in hulle werk: "Ask and it is Given - Learning to Manifest" 'n meer pre-aktiewe manier vir die lewe. Volgens hulle is daar twee dele van wie jy is, die werklike self wat in die Vortex is, en jou "onwerklike" self. Die onwerklike self is die een wat die ongeluk, depressie en siekte ervaar. Erens binne ons is daar iets wat ons daaraan herinner dat wat ek nou is en voel nie my regte self is nie. Hoe verder ek wegbeweeg van die werklike self, hoe meer negatief is my emosies. Hoe meer depressief (vir die afwesigheid van 'n beter woord), hoe groter is die teken dat ek wegbeweeg het van waar ek moet en wil wees. Jou siel binne jouself sal nooit vrede maak as jy nie jou doel in die lewe bereik en die persoon word wat jy veronderstel is om te wees nie. In dieselfde asem, hoe verder jy wegbeweeg van jou werklike self, hoe meer gaan daar tekorte wees in jou lewe. Jy gaan voel asof jy altyd 'n gat in jouself het wat gevul moet word. Jy vra jouself af hoekom jy nie die dinge het wat jy in jou siel voel jy verdien nie. Om dus jou lewe te verander en te kry wat jy weet jy verdien, moet jy jou vibrasie verander. Jy moet dit verander na 'n meer positiewe manier van dink, maar belangrik genoeg elke oomblik jou emosies verstaan as die barometer van hoe naby of hoe ver jy van jou werklike self is.

In die Bybel lees ons in Jakobus 4 dat as ons weet wat die regte ding is om te doen, en ons doen dit nie, dan is dit sonde. Ons kan vir ure lank redeneer oor wat sonde is, maar dit is wanneer daar 'n skeiding tussen my en my essensie is. Ek glo ons elkeen het iets in ons ingebou, of jy dit nou die Heilige Gees of wat ookal noem, wat ons elke dag in ons koppe aankla wanneer ons nie is waar ons moet wees nie, en meer nog wanneer ons doen wat ons nie moet doen nie. Om een of ander rede verleer ons, om die regte self te wees en uit te leef met al die mooi dinge soos geluk wat daarmee saamgaan.

Dr. John DeMartini skryf in sy reeks: "The Breakthrough method" dat die lewe soos die natuur en wetenskap werk. Newton in sy wette leer ons dat daar vir elke aksie 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie is. Dit beteken dat alles twee kante het, en dat die lewe oor ekwilibrium handel. Alles in die lewe het balans en ek my lewe moet ballanseer. Om dit eenvoudig te stel, het ek 'n vriendin op universiteit gehad het wat mal was oor sjokolade. Wanneer sy sjokolade bestel het by die kiosk het sy saam met dit 'n Tab bestel. Dit was vir my vreemd, maar vir haar was dit balans, want as sy nou saam met die sjokolade 'n coke bestel het, sou die impak daarvan soveel erger gewees het. So kan ek eet wat ek wil, indien ek gaan gym, want ek verbrand die kilojoules in my liggaam wat ek ingesit het, en so is ek gesonder, want daar is balans.

Wat DeMartini ons ook leer is dat indien jy nie self die balans bring nie, daar 'n konsekwensie gaan wees, van buite, wat jou gaan dwing om dit te doen. As ek dus net sjokolode eet, en niks aan my gesondheid doen nie, gaan ek op 'n stadium 'n siekte opdoen. Dit is nie straf nie, maar eerder omdat ek buite ekwilibrium leef en dink. Die wereld kan en sal NIE in wanbalans kan voortleef nie. Dalk is dit ook nie net fisiese siekte nie, maar dalk negatiewe emosies wat my wakkerskrik om te besef dat die lewe eenvoudig nie so kan aanhou nie.

Wat al hierdie teoriee ons leer is eenvoudig, erens in my lewe besef ek, deur siekte, omstandighede of emosies, wanneer my lewe uit balans is, of wanneer dit nie die lewe is waartoe ek geskep is nie. Ons besef ook deur ondervinding dat daar miljoene mense is wat eintlik slegs asem steel, en nooit wakker word vir wat die essensie is van hulle lewens nie. Dit maak nie saak wat jy van die denke hierbo dink nie, die lewe wat ons nou leef van ongeluk en pyn, dit is nie die wereld wat God vir ons in gedagte het nie. Ons maak allerhande verskonings en maak vrede met ons omstandighede, sonder dat ons verantwoordelikheid neem vir die feit dat ek en ek alleen die argitek van my eie omstandighede is nie. Ons kry onsself jammer en blammeer elke liewe persoon om ons vir waar ons is, terwyl ons eintlik moet besef dat dit alles net wekkers is wat ons herinner aan hoeveel ons het om te bied en hoeveel wonderlike en fantastiese dinge daar vir ons daarbuite is nie. Ons kyk na mense om ons in ongelukkige omstandighede, en slegs omdat almal sulke omstandighede het, dink ons dat dit is hoe die lewe moet wees. Dit is amper soos daardie spieels wat ons by die skou gekry het wat konveks en konkaaf was en jou vet en lank laat lyk het. Ons gebruik al die verkeerde dinge om ons lewens in te spieel, eerder as om te soek na die ware self wat ons weet en verstaan ons doel in die lewe is. Ons programmeer onsself om eerder vrede te maak dat dit is HOE die lewe moet lyk en dat daar geen ander uitkoms is nie. Ons leef eerder met die pyn, armoede en ongeluk, as om te gaan soek na die mens wat God ons as geskep het.

Die probleem is dat ons net eenvoudig aanvaar, en dat ons wag vir die wereld om ons om dit vir ons "outomaties" moet laat gebeur. Ons verwag iemand anders om die leisels van my lewe te neem en my soos 'n stukkie klei te omvorm in die mens wat ek moet en wil wees. Uit die bogenoemde toeriee is dit duidelik dat die doel van die lewe om my eintlik vir my 'n spieel is van hoe skeef en ver ek van my werklike doel afgedwaal het. Dit is en bly my reis, en ek moet my pad vind na my werklike self en my werklike geluk.

In verlede week bel 'n neef van my en vra my uit wat my denke is oor familievloeke. Ek sal nog my standpunt daaroor gee, maar wat ek daaruit leer is dat ons steeds dink dat ek iets buite my die skuld kan gee vir my ongeluk. Wat egter waar is, is dat enige filosofie wat ek by inkoop, my realiteit word. Erger as dit nog, ek beinvloed almal om my om ook so te glo, en amper soos die bose, gee ek dit beheer oor my lewe. Soos my neef nou dalk in 'n familievloek glo, gee hy die beheer van sy lewe en sy toekoms oor aan die vloek, want hy glo dalk daarin. As ek glo dat siekte deel van die lewe is, gaan ek siekte mag en krag oor my gee. As ek glo dat alle verhoudings en huwelike "werk" nodig het, weet jy wat, gaan jy hard moet werk aan jou verhoudings. As ek glo dat ek nie geluk verdien nie, weet jy, sal ek nooit gelukkig wees nie. Een van my vriende het my geleer dat: "whatever you settle for, is the best you are going to get".
Dit alles kom terug na "Ask and it is given". As jy in jou lewe emosies ervaar dat jou lewe nie reg is nie, as jy dood ongelukkig is in jou lewe of siekte ervaar, moenie doen wat almal doen en inkoop in die idee dat dit eenvoudig IS hoe die lewe is nie. Met hierdie ingesteldheid sal jy nerens kom nie, en gaan jou dag more net so sleg en selfs slegter wees. Jou siel sal eenvoudig NIE toelaat dat jy in hierdie wan-idee van skewe beeld van jouself mee saamleef nie.

God leer ons in die Bybel dat ons eers die Koningkryk van God moet soek, en daarna sal alles wat ons hart begeer vir ons gegee word. Ek glo dat ek in my essensie deur God geskep is en dat Hy vir my net die beste uit die lewe wil he. As ek dus nou net my kop uit die gat van selfbejammering en verskonings uittrek en begin soek na wie ek werklik in God is (noem dit nou maar die Vortex), kan ek werklik die paradys ontdek waartoe God my geroep het. En dan kan ek alles ontdek wat ek verdien en waarmee God my wil seen.

Ons dink dit is moeilik, maar eintlik is dit heel eenvoudig. Ons loop met vermomming rond, terwyl die bankbestuurder, die werkgewer met my regte werk, die dokter wat die oplossing vir my siekte het, my sielsgenoot met wie ek my lewe moet spandeer, almal fotos van my het, maar my nie inlaat nie, omdat ek anders lyk. Daardie frutrasie, depressie, ongeluk, siekte en hartseer wat jy voel, is net omdat jy nie jou vermomming afgehaal het nie, en jy leef na buite met die skou-spieels. Jy word kwaad omdat niemand jou aanvaar vir wat jy vir hulle wys nie, terwyl hulle en almal eintlik weet hoe jy lyk.

Gaan soek na jouself, en verander jou vibrasie. Dit is soos iemand wat vermom is wat stadig maar seker vir almal hier bo, stukkie vir stukkie verduidelik wie hulle is, dit is wat vibrasie-verandering bedoel. Hoe nader jy aan jou werklike self beweeg, hoe meer gaan die dinge wat jy verdien en wat joune IS, joune word.
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Wednesday, May 22, 2013

Om verdwaal te voel

Soms voel mens asof die lewe met jou snaakse draaie loop. Vandag voel ek so effends verdwaal. En wat doen jy in so 'n geval?

Budha het een keer ook verdwaal. Toe kom hy by 'n olifant en vertel hom dat hy verdwaal het. Die olifant het hom raad gegee om in sulke situasies terug te gaan na die begin.

Die oplossing vir enige probleem, selfs as jy verdwaal het, begin by die bron.

1. Jy is spesiaal:

God het ons gewil nog voor alle tye. Alles wat tot dusver gebeur het is gawes uit die hand van God. Niks en niemand is toevallig nie, en jy ook nie. God het elke dag en oomblik vir jou geskep.

Selfs die vreemde plekke waar jy nou jou voet, kop of hart sit, dis spesiaal vir jou.

So dalk voel jy uit jou vaarwater uit, maar onthou altyd jy is spesiaal.

2. Jy het al die gereedskap:

Kyk in jou, want behalwe dat jy spesiaal is, het jy al die kennis tot jou beskikking om jou pad te loop. Maak jou hart en jou kop oop en let op.

God sou jou nie hier geplaas het sonder 'n rede nie. En God het jou ondervinding gegee oor tyd wat in jou is.

Soms is jou pad 'n berg en natuurlik gaan dit meer van jou vat, maar jy kan, ek kan.

Dink net hoe vervelig jou lewe sou gewees het as daar nie nuwe uitdagings is nie. Leef in die wete dat jy alles in jou het om ook hierdie uitdaging te oorkom. Vertrou jouself!

3. Fokus:

Soms is daar op jou reis stroomversnellings, maar dit is nooit so erg soos jy dink nie. Dit is tye wat jy net effens harder moet konsentreer.

Wees kalm en weet dat jy 'n noodbaadjie aan het. Die God wat jou op hierdie plek afgelaai het, is die God wat jou elke dag beskerm en bewaar.

Niks in die lewe is toeval nie, dit is deel van 'n groter plan. Soms kan jy nie om die draai sien nie, slegs die stroomversnelling voor jou. Weet en besef, daar kom weer tye wat jy kalm waters van rus gaan ervaar. Vir nou, fokus op wat om jou is.

4. Moenie daarteen baklei nie:

Die moeilikste om te doen is om teen die die stroom te veg. Soms is ons so bang vir wat voor ons is, dat ons graag die beker by ons wil laat verbygaan.

Jesus het dit ook gevra, maar dit was deel van wat moes gebeur. Alles het 'n doel, maar die doel is nie stroomop nie, maar stroom-af.

Dit is dalk nie nou wat jy dink jy nodig het nie, terwyl jy die proses wat God vir jou wil, moet vertrou.

5. Geniet dit:

Jy het elke oomblik 'n keuse van hoe jy na die lewe kyk. Jy kan net sowel geniet waar jy is.

Die lewe is geskep om geniet te word. En ja, jy kan dit kies. Ons neem die lewe te ernstig op.

Soms dink ons dat om dinge te geniet beteken dat jy onverantwoordelik is. Verseker nie!

Erns en fokus het niks met mekaar uit te waai nie. Jy kan fokus en steeds die lewe geniet.

6. Moenie alles oor-dink nie:

Terwyl alles hier bo belangrik is, kan ons soms die fout maak dat ons dinge oor-dink.

Wanneer jy in die plek is, vul vrees jou hart. Gewoonlik bring ons alles tot beheer met logika soos hier bo.

Maar dalk is die oplossing vir jou lewe nie in 'n groot teorie of filosofie nie, maar in jou hart en in jou "gut-feeling". In ons westerse samelewing maak ons intuisie af as vreemd en onbetroubaar. Miskien is dit hoekom ons soms God se plan nie verstaan nie, want ons wil dit logies uitredeneer.

Slot:

So dalk is die les, genot bo vrees, laat gaan in plaas van vashou en voel eerder as uitredeneer.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, May 20, 2013

Dans met die lewe

Verlede week kry ek per e-pos een van daardie oulike grappie-prentjies van 'n haarkrul tang. Onderaan die prentjie is 'n waarskuwing wat lees: "Vir eksterne gebruik alleenlik". Natuurlik gaan ons begin spot oor al die waarskuwings wat daar op produkte is, want dit word al hoe meer belaglik.

Verlede week hoor ek die storie van 'n vrou in Amerika wat 'n "camperhome" gehuur het. Sy het 'n reuse hofsaak gewen teen die vervaardigers na 'n ongeluk. Die rede is dat daar op die stuurwiel 'n knoppie is wat lees: "autocruise". Sy het die knoppie gedruk en toe het sy agtertoe gestap om te gaan tee maak. Vir hierdie rede het die motorvervaardigers wereldwyd die naam van "autocruise" na "speedocruise" verander.

My dogtertjie het van daai oulike swemvlerkies, en dit is oplettend hoeveel waarskuwings daar op geskryf is, dat daar amper nie plek is vir die prentjie van Barbie nie. Het ons so belaglik geword en in so 'n ingeligte tyd dat ek nie weet hoe om met produkte om te gaan nie? Het ons so bang geword vir die lewe, dat ons daagliks gewaarsku moet word oor alles in ons lewens? Een van die dae gaan babatjies gebore word met waarskuwingstekens op van wat alles met hulle kan fout gaan.

Dit is 'n sisteem van vrees wat geskep word. Die vervaardiger probeer homself beskerm teen hofsake, maar die vraag is of jy al die negatiewe dinge wat met 'n produk kan gebeur op die produk kan skryf? Daar gaan elke keer iemand wees wat, soos in die geval van 'n krultang, iets doen wat totaal onvoorspelbaar is. In ons as die verbruikers word daar ook vrees geskep, want ek kan dalk totaal en al so bang word vir die produk as ek al die waarskuwings lees. Dalk se die waarskuwings ons meer van menswees as wat ons dink.

Elke dag is gevul met geleenthede om besluite te neem. Dit begin by wat ons gaan aantrek, wat ons gaan eet, en natuurlik ook wat ons gaan doen. In elke besluit is daar natuurlik "positiewe" en dan ook "negatiewe". Vrydag spandeer ek tyd met iemand wat deur 'n moeilike tyd gaan en wat by 'n kruispad in haar lewe gekom het. Onwillekeurig begin die besluitneming by die agtergrond en wat gelei het daartoe dat iemand by 'n kruispad is.

Sy verstaan dat sy 'n keuse moet maak, maar dit word dan weer 'n lysie-maak oefening. Die gevaar van besluite is die onsekerheid en omdat ons nie in die toekoms kan sien nie. Vir die rede hou mense by hulle huidige lewe eerder, al is dit vreeslik onglukkig, want ons dink "better the devil you know than the devil you don't" Dit is volgens ons makliker om eerder in die bekende te leef, want al is dit hoe sleg, voel ons in beheer. Ons het ook so geleer om te "cope" met dinge, en mense "maak vrede". Dan wonder ons hoekom ons so ongelukkig is.

Indien ek op die swemvlerkies al die waarskuwings lees, gebeur dit soms dat ek eerder dan nooit in die swembad gaan klim nie. Ek sal nooit die lag van kinderstemmetjies hoor of heerlik lafenis geniet nie. Ons weet ook dat 99% van die waarskuwings en ons vrese oor die toekoms nooit gaan gebeur nie.

Jou lewe is soos 'n fantastiese produk wat gevul is met genot en liefde en opwinding van 'n swembad. God het ons geskep om die lewe te geniet, Hy het hierdie wereld met sy fantastiese speelpark gemaak vir jou om te geniet. Maar mense is so ingestel op die negatiewe waarskuwings, dat mense hulle lewens deurgaan en eintlik slegs asemhaal en funksioneer. Ons word so oorweldig deur die onsekerheid en die waarskuwings dat ek my lewe in 'n kas bere omdat ek so bang is vir die onsekerheid wat dit bring.

Produkte kom egter met waarborge, maar die lewe het nie sulke waarborge nie. Die meeste besluite neem ons slegs op 'n ingeligte wyse, maar niemand weet wat die toekoms gaan inhou nie. Ons weet nie hoe lank of hoe kort die lewe gaan wees nie. Ons weet nie of ons more die geleentheid gaan vind om die lewe van elke dag te geniet nie.

Wanneer gaan jou jy lewe uit die kas uithaal en dans met die mense om jou? Wanneer gaan jy besef dat die lewe 'n geskenk is wat geleef moet word? Wanneer gaan ons besef dat dit lekkerder is om te leef as om in ons ongeluk voort te leef? Wanneer gaan jy besef dat meeste besluite in jou lewe sal nooit geneem word as jy nie spring nie?

Hierdie naweek was vir my 'n sprankelende voorbeeld van hoe wonderlik en lekker die lewe is, wanneer dit gepaardgaan met spontaniteit. Hoe heerlik om te lag vir 3 dae aanmekaar en tyd te spandeer met goeie vriende? Hoe lekker is dit om saam met positiewe mense wat eerder redes soek om dinge te doen as om redes te soek hoekom hulle nie moet nie.

Die waarskuwings op produkte is vir ons belaglik, want ons glo dat ons "common sense" het om te weet dat ek die vlerkies moet opblaas en dat ek nie kinders alleen moet laat in 'n swembad nie. Maar dieselfde "common sense" het ons dan ook van God gekry om te besef dat die lewe gemaak is om te lag en te geniet. Met dieselfde verantwoordelikheid natuurlik, maar meer met die doelwit om dit te geniet.

Vervaardigers van produkte skryf wel waarskuwings daarop, maar wanneer hulle die produk adverteer vertel hulle ons van al die kenmerke en hoe dit ons lewens kan lekkerder maak. Sommige produkte is gemaak om die lewe prakties beter te maak en funksioneel te wees, maar dit kan soms so vervelig wees. Soms is dit daardie nie-essensiele produkte wat die lewe ekstra-ordiner maak.

Dalk is vandag die dag wat jy jou lewe uit die kas moet gaan haal, af te stof en voluit te gebruik, want dit is 'n geskenk uit die hand van God.

En ook weet ons dat al is daar nie waarborge in die toekoms nie, God elke stappie daarvan saam met ons gaan wees en ons sal bystaan in ons lewens.
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, May 6, 2013

Ek wonder 1

Ok, nou glo jy in God en daarmee saam dat hierdie God jou sal lei op die pad van Sy wil. Verder glo jy ook tog dat God 'n rol te speel het in jou alledaagse lewe, want anders, wat sal die sin wees van glo.

Nou lees jy die Bybel en allerhande pragtige verse oor hoe God mense wat soos jy glo, gered het van vreeslike dinge. Omdat jy glo, dink jy tog dat hierdie verhale werklik is, en dat dit daar is om jou te wys hoekom jy in die God moet en kan glo.

Dan kyk jy na jou lewe waar dinge nie so lekker is nie, en dan leer jy ook dat jy moet bid en vra. Great, dit klink lekker en eenvoudig.

Dan gebeur dinge nie soos in die gebed gevra nie, en dan lees jy verder in die Bybel. Jy kom af op mense soos Job en die gebed van Jesus in Getsemane. Hulle kry nie wat hulle vra nie. Dan leer die slim ouens dat jy jouself aan God se wil moet onderwerp. Ok, punt gemaak. Maar dan begin jy wonder hoekom God se wil vir jou lewe so n mislukkinglewe is. En dan lees jy van sonde en dat jy dit moet bely. Ok, jy doen dit, want jy lees van klomp mense se lewens wat na belydenis kry wat hulle vra, en meer. Dan wonder jy, as God dan so almagtig is, hoekom sou Hy die sleg in die eerste plek toelaat en dat jy soos 'n wurm moet kruip vir vergiffenis?

Maar jy doen dit, want jy weet dat daar nie werklik ander opsies is nie. Jy leer ook dat jy moet dankbaar wees vir wat jy het, en nie altyd so gierig moet wees vir ander dinge nie.

Nou gaan dit nog nie beter nie, en jy spiraal in self twyfel. Jy begin dink dat dit jy en jou manier van glo is. As ek net beter kan glo, harder kan bid, minder sondig is, dan sal God my verhoor. Fantasties, jy verander alles in jou denke en bestaan, en niks gebeur nie. Jy kyk soos Dawid na hulle wat gladnie glo nie, wat dinge doen wat ongevraagd is, en jy sien hoe dit met hulle gaan, en jy wonder. Volgens jou speel jou eie krag en wil nie die enigste rol nie, maar in hulle lewens wel. Sonder God kom hulle baie ver.

Dan vra jy jouself, maar dis dalk net vir nou want die Ewige Lewe sal jy kry en hulle wat nie glo nie gaan verlore. Ok, so beteken dit dat ek elke dag maar net die pak slae moet vat want eendag, as ek sterf sal ek ewige geluk he.

Ok, nou se Paulus dat of ek lewe en of ek sterwe, ek het die Ewige Lewe nou. Ok, ek kry dit. Paulus vra God om die doring uit sy vlees te haal, en God se nee, Sy genade is genoeg. Wow, dis n wete van hoekom ek in U glo, maar geloof is tog nie net 'n pie in the sky nie. As ek dan elke dag in my aardse lewe dinge moet doen om my geloof te beoefen, is geloof en samesyn met God iets prakties. So, hoekom voel dit asof Hy nie hier is nie? Selfs al volg ek Hom elke dag, hoekom doen Hy dan niks nie?

Ek glo beslis nie net in God wanneer dinge skeef loop nie, maar ook wanneer dit goed gaan. My dankbaarheid is nie net sodat ek iets kan kry nie. My geloof is nie sodat my lewe beter moet wees nie, maar soms word ek moeg. Soms is ek nie meer lus vir 'n geloof waarin dit voel asof daar kat en muis met my gespeel word nie.

Ek wonder maar net, wanneer ek na waters van rus gelei gaan word en wanneer U dienaar niks gaan kortkom nie.

As hierdie 'n wederkerige daaglikse verhouding is, wanneer gaan ek ophou skuldig voel en al die blaam voel vir hoekom U nie daar is nie? As ons in 'n liefdevolle verhouding is, wanneer gaan ek voel dat U my bietjie spesiaal laat voel? Hoekom sal ek skuldig voel en alle blaam dra vir my lewe? Wanneer gaan ek ophou soos 'n bywoner in U teenwoordigheid voel, en maar net dankbaar moet wees vir die feit van geloof, wat soms voel asof dit nie vir my werk nie?

Wanneer gaan U ophou om met my in raaisels te praat oor my lewe en U wil daarvoor? U het tog my drome ook vir my gegee, hoekom nie die oplossing en uitleef daarvan nie?

Ek wonder maar net?

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!