Showing posts with label verandering. Show all posts
Showing posts with label verandering. Show all posts

Wednesday, August 28, 2013

Wynand "Loftus" Van Vuuren


Ek weet nie hoekom nie, maar ek le gisteraand en dink aan Wynand "Loftus" van Vuuren wat saam met my in die Laerskool was.  Ek dink elkeen van ons het so 'n iemand saam met ons op die skool gehad.  Hy was nou die een wat werklik "uit" was.  As ek terugdink kan ek onthou dat hy gladnie mooi was nie, soos die oom sou gese het, so wit soos 'n voorbode.  As ek onthou was hy so wit dat hy die enigste kind was wat in daardie tyd 'n hoed gedra het as hy in die son uitgegaan het.  Ek kan onthou dat ons gespot het en gese het dat ons dink hy skyn in die aand as die son ondergaan.
 

Ek kan onthou dat ek nog voordat ek geglo het in lewe op ander plannete, gedink het dat hy een van hulle moes gewees het, want hy was weird.  Dalk is sy ligsensitiwiteit dalk die rede, maar hy het nooit saam met ons gespeel nie.  Ek onthou hy het daai Alpha 1999 ruimtetuigies skooltoe gebring en die hele tyd die vorige episode in sy kop deurgespeel.  Wat vreemd is, is dat niemand Wynand geboelie het nie, niemand het ook vir hom gelag nie, want ek dink diep binne was die kinders bang vir hom.  Die meisies wou nie naby hom sit nie, want hy het ook soms nog tot laat in die Laerskool "glipsies" gehad, maar selfs daaroor het niemand hom ooit gespot nie.

 
Wynand se oupa hulle, of so het hy gese, het 'n plaas gehad in Aliwal-Noord, en elke naweek het hy gewag dat sy oupa-hulle moet kom kuier, want dan sou sy oupa hom Loftus toe vat.  As mense vir hom op Maandag gevra het of hy toe daar was, het hy altyd gese dat sy oupa nie kon kom nie.  So wonder ek by myself of "Loftus" toe ooit op Loftus was.

 
Maar Wynand is een van daardie mense wat ek my hele lewe lank sal onthou, want alhoewel hulle brandarm was, en hy deurskynend, kan ek hom net nie vergeet nie.  Wynand was natuurlik ook gladnie sportief nie, en het so min koordinasie gehad dat hy gesukkel het om aan 'n deur te klop.  Naderhand het die LO-Meneer opgehou om vir hom te vra vir 'n doktersbriefie, want eintlik wou hy graag, maar het die hele klas opgehou.  Ek kan nie onthou dat ek hom ooit sien hardloop het of 'n bal vang of gooi nie.  Hy het sommer van die staanspoor af nie eers sy LO-klere aangetrek nie, maar sommer op die pawiljoen gaan sit.

 
Ek dink ek onthou vir Wynand, want Wynand was by elke skoolfunksie en langs elke sportveld.  Ek dink die meisies het daarvan gehou dat hy daar was, want hulle was al aan hom gewoond, maar hy het die meisies van die ander span ontsenu.  Maar Wynand was altyd daar, selfs langs die Laerskool krieketwedstryd tussen ons en Timbuktu se 3e span.  Wynand was daar.  Ek sien hom na soveel jaar sit daar onder die groot boom en kyk terwyl hy sy tinfoil toebies eet.  Vir een of ander rede het Wynand geglo dat alles by die skool eintlik om hom draai en as hy nie by die Eerste Span se wedstryd is nie, SAL hulle verloor.

 
Ons is almal na verskillende skole toe na Laerskool, en ek het nooit weer vir Wynand gesien nie, maar gehoor dat hy oorlede is in Standard 8, dis toe ons nog te dom was vir grade.  Maar Wynand onthou ek soos asof dit gister was, amper 40 jaar later.  En ek wonder toe:  "Wat is dit maak dat ek na al die tyd nog wonder oor ou "Loftus"?

 
Kinders is mos maar baie wreed, maar om een of ander rede het die wreedheid en gespottery nooit aan Wynand gaan sit nie.  En moenie 'n fout maak nie, hy was nie 'n dom ou nie.  Ek dink wat my gevang het is die manier hoe hy aangehou leef het, te midde van wat ander dink of hoe hy lyk.  Ons het respek vir hom gehad omdat hy elke wedstryd langs die veld gestaan en "Wonnies" geskree het.  Hy was vir my 'n rolmodel, maar ek besef dit nou eers.  Want ek wonder hoe sou ek gevoel het as ek in sy skoene was, en sou tien teen een in 'n hoekie gaan sit en kripeer het.  Hy het dit nie aan hom laat vat, die feit dat hy nie 'n meisie kan kry om saam fliek in die saal te gaan kyk nie, hy was daar en het die fliek kom geniet.  Hy het homself nie laat onderkry oor die feit dat hy nooit op Loftus was nie, hy het al Naas Botha se statistieke uit sy kop geken.  Hy was nie bekommerd dat hy nie geld het om by die snoepie "Chelsea-Buns" te kan koop nie, want sy ma het mos vir hom Tinfoil appelkooskonfyt broodjies ingepak.  Alhoewel hy op daardie stadium nog met Alpha 1999 ruimtetuie gespeel het, was ons eintlik jaloers, want ons wou ook nog daarmee speel, maar dit was "uncool".  Eintlik het Wynand vir my laat sien wat ek gemis het in die lewe, en wat dit is om werklik mens te wees, deur so lank "kind" te bly.

Eintlik besef ek vandag dat die uitdaging vir talentvolle mense om suksesvol te wees nie baie groot is nie, maar ons leer meer by mense soos "Loftus".  Ons lees al die boeke van die "Champions of Industry" en die wonderlike "Leiers" van ons wereld, maar ons vergeet om te kyk na elke mens om ons.  Die Bybel is vol van mense soos Wynand, noem hulle maar op, Moses, Dawid, Gideon, Job, Petrus en Paulus.  Mense wat jy nou nie sommer uit 'n "line-up" sou gekies het om jou volk deur die woestyn te lei nie.

Elkeen van die mense wat ek genoem het, het een of ander verskoning gehad van hoekom hulle nie hulle roeping kan nakom nie.  Hier te kort en daar te lank, soos ons almal maar is.  Maar God werk anders, God werk deur die Wynand "Loftus" van Vuurens van die wereld, want krom stokke kan ook reguit houe slaan.  Mense wat alles al verloor het en wat swaargekry het, is soms die mense wat die grootste impak het.  Mense wat alles het, is en word arrogant, en dink soms dat hulle God nie nodig het nie, of hulle is so ingestel in hulleself dat hulle nie langs die 3e span se krieketveld wil sit om maats aan te spoor nie.

Wynand het dit ook geniet en geselskap ingedrink wanneer iemand net aan hom aandag gee.  Ek voel skuldig dat ek nie meer moeite met hom gedoen het nie, maar ek is dankbaar vir wat hy my geleer het.  Krom stokke, wat dink hulle kan nie, is soos mense wat swaarkry.  Hulle verstaan dankbaarheid, want hulle vat nie alles om hulle as vanselfsprekend nie. 

Miskien is jy vandag bietjie "down", miskien voel jy soos 'n "mislukking", miskien is jy eensaam en voel asof jy van 'n ander planeer kom.  Dalk het jy niks geld nie, dalk het jy jou werk verloor.  Dalk is jy vasgevang in omstandighede wat vir jou voel asof jy nie weet watter kant toe nie.  Ek weet nie, jy weet self.  Weet dit, jy kan dalk 40 jaar van nou af deur jou optrede iemand, soos in my geval vandag, se denkwyse of optrede verander.  Weet dit ook, net omdat jou toebies in 'n Tinfoil kosblik kom en almal om jou sulke ontwerper-kosblikke is, beteken nie jy moet honger ly of nie geniet wat in jou lewe IS nie.  Vandag voel ek soos 'n mislukking, daar is baie mense wat my haat en mense wat my kritiseer, waar verskonings en wie jy is nie belangrik is of op goeie ore val nie – maar dan dink ek aan Wynand, wat te midde van alles, dink ek, homself gelukkig gemaak het.

Jy hoef nie op "Loftus" te wees om vandag te geniet nie, jy kan vandag met jou hele hart gaan leef en opdaag vir jou lewe, sonder dat dit perfek of volmaak is!

Monday, January 30, 2012

Krom stokke, reguit houe!

Afrikaans is nou een van daardie tale met baie leestekens. Die sleutelbord van ‘n rekenaar is nou een keer nie heeltemal opgestel om sommer met die eerste druk van ‘n sleutel die deelteken of die kappie op ‘n letter te kan sit nie. Jy moet alt 136 of 137 druk om dit te vermag. Op my skootrekenaar is dit moeiliker, aangesien ek eers die alt sleutel moet inhou en saam met dit die “Num Lk” sleutel, voordat ek alt en die nommer kan druk. Dit is nogal uitputtend, veral as ‘n ou so op dreef is en lekker vinnig tik en jy nie wil hê dat jou gedagtes moet dwaal nie. Dit is nie net in Afrikaans nie, maar ook in ander tale dalk baie erger. Een van my vriende het gister van Finland af gekom, en ek dink dat hulle dalk meer sukkel as ek.

Soms voel dit vir my asof die sleutelbord van die lewe ook nie heeltemal voorsiening maak vir my lewe nie. Om dinge “reg” te doen is soms uitputtend en moeilik, en vat soms van my om ekstra moeite in te sit, sodat dinge om my reg gespel word. Soms wonder ‘n mens hoekom dinge nie maar net vlot wil loop nie, en dat jy alles kan regkry sommer net met die normale tik van sleutels nie? Jy dink dan ook aan jou afkoms, en soms wonder jy hoekom jou omstandighede nie dalk eerder “engels” kon wees nie, want dit sou die insleutel van woorde baie makliker en baie eenvoudiger gemaak het. Daar is nie kappies of deeltekens nie.

Dit het natuurlik ook sy uitdagings, sou jy nou engels gewees het. Die laaste ruk vertaal ek ook hierdie blog in Engels, en alhoewel my engels goed is, kom jy gou agter dat, alhoewel jy nie kappies en deeltekens hoef te gebruik nie, dit nie so maklik is om jouself uit te druk en dieselfde boodskap oor te dra in ‘n ander taal nie. Daar is werklik net sekere dinge wat jy NET in afrikaans kan uitdruk. In my moedertaal, met hierdie sleutelbord en al die ekstra moeite wat ek moet doen, voel tog gemakliker en voel ek tog meer tuis. Soos ek hierdie skryf, dink ek onmiddelik hoe moeilik dit gaan wees om hierdie stuk in Engels te vertaal, want wat is deelteken en kappie in Engels.

So kyk ons na mense om ons, en ons dink en wens baie keer dat ons eerder in hulle “taal” kon leef. Hulle lyk gelukkig, dit lyk asof hulle nie probleme het nie, asof dit so lekker sou gewees het om soveel geld soos hulle te verdien of in so ‘n lekker huis te kon bly. Dit voel vir jou asof jou sleutelbord gemaak is vir hulle “taal”, en dat jou lewe eenvoudiger sou gewees het.

Maar om so jou lewe te “vertaal” is moontlik. Jy kan jouself indink in wat jy sou gedoen het en hoe maklik jou lewe sou gewees het, net om weer te besef dat jou eie persoonlike “taal” altyd die beste is vir jou. Jy, met jou konteks en agtergrond en situasie lyk dalk vir jou moeite en inspanning, maar God het jou geplaas in ‘n taal en in ‘n plek wat jou pas. God het ook vir jou die kennis gegee om te besef dat daar opsies is vir jou, al is dit moeite, om tog jouself met ‘n engelse sleutelbord, in afrikaans te kan uitdruk.

Ons kyk onsself disnis teen die feit dat ons sleutelbord nie outomaties loop nie, ons is nie altyd lus vir die inspanning van ekstra sleutels druk nie. Ons staar onsself blind teen die feit dat dit inspanning is, terwyl ons die feit misken hoe gelukkig ons is. Gelukkiger as mense in engelse lande, want ek kan met my sleutelbord baie meer vermag, want ek kan in Afrikaans ook skryf. Ons vergeet so maklik dat ons geseënd is met woorde wat kappies en deeltekens het.

Soos wat ons so wens dat ons lewens eenvoudiger kon wees in ‘n ander taal, besef ons nie dat ons sleutelbord dalk wel gemaak is vir Afrikaans. Ek sien nie die kappie met die eerste oog op slag nie, maar deur kennis en ontdekking van my sleutelbord, besef ek eintlik dat my persoonlike sleutelbord vir my legio meer opsies gee as wat ek ooit gedink het.

Partykeer neem dit ook nie net kennis nie, maar soos op my Blackberry vat dit soms die aflaai van ‘n applikasie soos “fancy smileys” om op my foon die leestekens te kan insit. Jy ontdek ook in jouself, net soos die applikasies, dat daar behalwe die kappie en deelteken ook fantastiese en oulike gesiggies en prentjies is waarmee ek my skryfstuk, sms, bbm en whatsup mee kan ophelder. Nou besef ek dat ek ‘n prentjie van ‘n knip-oog, drukkie en soentjie tot my beskikking het. Dan besef en verstaan ek dat ek die lewe kan ophelder, met my sleutelbord om sodoende dieselfde boodskap op te helder en snaaks en genotvol te kan maak.

Ons leef so maklik in ‘n droom en hoop dat ons lewens “anders” kan wees. Ons is so ongelukkig met ons sleutelbord dat ons lewens dalk begin om stil te staan. Daar vloei niks uit my uit nie. My “my documents” is leeg, net omdat ek onvergenoegd is met my sleutelbord wat kwansuis nie “pas” by my taal nie. Ek hou op leef soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie en in die hoekie gaan sit en huil.

Die Bybel is vol voorbeelde waar mense so graag ander omstandighede wou gehad het. Paulus vra vir God om die doring uit sy vlees te neem, net om herinner te word dat hy ‘n goeie werkbare sleutelbord tot sy beskikking het, die genade van God. Dawid, toe hy geroep is as koning van Israel, het gedink hy is klein, maar word herinner dat hy al die sleutels tot sy beskikking het om God se wil te doen. Moses wil nie sy volk uit Egipte gaan lei nie, want hy sukkel om te kan praat, en God herinner hom daaraan dat hy die sleutelbord van sy broer tot sy beskikking het wat hom kan help. Alles dinge om ons te herinner dat, alhoewel ons nie die deelteken met die eerste oog op slag sien nie, dit nie beteken dat dit nie daar êrens binne in versteek is nie. Dit beteken nie dat ons nie kan doen wat ons ookal wil, en kan doen wat God ons voor geroep het nie.

Ek dink aan die reeks MacGyver uit ons kinderjare. Soos julle kan onthou het hy sy mes gebruik en in moeilike situasies uitgekom deur net dinge wat reg rondom hom is te gebruik. Amper soos die spreekwoord: “’n Boer maak ‘n plan”. Partykeer kyk ons teen ons ooglede vas. Ons is so ingestel op die feit dat ons nie ‘n “klaargemaakte” wapen reg voor ons het nie, dat ons vergeet om rond te kyk van wat alles in ons en om ons is. Dinge wat ek soos MacGyver kan gebruik om my doel te bereik nie. God herinner ons op soveel plekke dat ons wel alles om ons het wat ons nodig het om te kan leef en ons doel te kan bereik. Nog meer so in die tyd waarin ons nou leef met tegnologie en kennis wat tot ons beskikking is. MacGyver sou nooit uit sy moeilike omstandighede ontsnap het as hy op ‘n hoop gaan sit het en gehuil het oor wat hy nie het nie.

So sit jy dalk vandag en jy is ontevrede oor jou sleutelbord. Jy voel dalk dat jy nie jou merk kan maak en jou doelwitte kan bereik met dit wat rondom jou of in jou is nie. Jy voel dalk dat jy nie inpas in afrikaans nie, omdat jy ‘n engelse sleutelbord het. Jy voel dalk dat die berg wat jy moet klim onmoontlik is omdat jy nie die regte toerusting het nie.

Ek het ‘n vriend op Universiteit gehad wie se ouers baie finansiëel gesukkel het. Hy was ‘n briljante sportman en wou graag gholf speel. Hy het egter nie geld gehad vir stokke nie. So het hy toe maar begin om by mense stokke te kry wat hulle nie meer gebruik nie. So het hy uiteindelik ‘n hele stel stokke bymekaargemaak, waarvan nie 2 stokke uit dieselfde stel kom nie. Mense het vir hom gelag as hy op die bof gestap het, want sy sak was ook vol gate wat die muise daarin gevreet het. Ons glo mos dat jy net kan gholf speel en konstant goed kan speel as jou stokke die beste is en persoonlik vir jou spel aangepas is. Hierdie vriend van my het menigte mense se geld gewen met sy mengelmoes stel. Hy het binne ‘n paar maande sommer ‘n 2 voorgee geword en briljante gholf gespeel.

Soveel mense wag totdat hulle toerusting perfek pas by omstandighede, voordat hulle aksie neem. Ons is ongelukkig omdat ons nie die perfekte sleutelbord het vir ons lewens nie. As jy gaan wag tot jou omstandighede perfek is, gaan jy soveel mooi sonskyndae mis op die gholfbaan. Jy gaan soveel geleenthede by jou laat verbygaan. So sterf baie mense met soveel drome in hulle harte, omdat hulle gewag het. Hierdie voorbeeld hierbo is ‘n uitstekende bewys dat jy, deur net bietjie moeite te doen, kan deelneem aan die spel, al is jou sleutelbord verslete. Jy is so ‘n intellegente wese wat jouself kan leer om aan te pas by alle omstandighede. Jy kan die vaardigheid aanleer om met krom stokke ‘n reguit hou te slaan.

Nike het seker een van die spreekwoorde wat die meeste in die lewe gebruik word: “Just do it”. Hoe lank gaan jy nog wag voordat jy leef? Miskien moet jy bietjie dieper delf in jouself en gaan soek na wat jy in jou binne-kas het, en gebruik wat jy het. Miskien moet jou ophou om te fokus op wat jy nie het nie, en dit as verskoning gebruik vir die feit dat jy nie aan die lewe deelneem nie. Soos die voorbeelde uit die Bybel ons leer, elkeen van ons het wat ons nodig het om voluit en gelukkige lewens te geniet, al is dit nie ooglopend nie.

Ek het lank in my lewe baie idees soos dit wat ek in my blog gebruik in my kop gehad. Omdat ek gevoel het dat ek nie goed skryf nie, en nie die regte woorde het nie, het ek niks daarmee gedoen nie. Toe besluit ek een dag om net te begin, dit net te doen. Ek het besef dat, alhoewel ek dalk nie die beste sinsbou het nie, en spelfoute kan maak, dit nie saakmaak nie, want wat ek wil sê kom nog steeds uit, te midde van tekortkominge.

Gaan leef vandag jou drome uit, moenie fokus op die tekorte op die oog af nie, maar kyk om jou rond wat jy tot jou beskikking het. Sit bietjie “effort” in, alles wat jy nodig het is in daardie sleutelbord van jou!

Gaan slaan ‘n reguit hou, al is jy ‘n krom stok.

Thursday, January 26, 2012

Foon oorlog

Toe ek nog klein was het my ouers en hulle vriende in 3 faksies geval. Daar was die wat Mercedes-Benz aangehang het, die wat BMW aangehang het en ander wat ander Japanese en Amerikaanse motors besit het.

Ek onthou hoe hulle aande om gestry het oor duursaamheid, spesifikasies en tweedehandse waarde. Nou nog sal my ouers net tevrede wees as ek 'n Mercedes koop.

Vandag sien ons dieselfde met selfone. Jy het jou stoere BBM-ers, jou i-phone appilikasie-vingerskuif ouens en dan die Android aanhangers. So probeer ons mekaar oortuig dat my keuse die beste was. Vir elke redenasie is daar 'n teenkant. Ouens met die Blackberry gebruik "BBM" as 'n groot pluspunt en die i-phone ouens dat hulle Whatsup kan gebruik. Die i-phone skare wys vir jou die applikasies en interaksie met hulle i-pad en i-pod.

Ons leef in 'n wêreld met legio keuses. Toe selfone uitgekom het, het almal omtrent Nokia baksteenfone gehad. Hy was groot en ongemaklik en kon bel, oproepe kry en SMS. Dit was wonderlike tegnologie vir die tyd.

As daar beperkte keuses is, het ons nooit nodig om onsself en ons keuses te verantwoord nie, maar ons dink as ons baie keuses het, dat ons moet verduidelik en ander moet oortuig van ons besluit. Dit is 'n vreemde verskynsel by mense, om hulle plekkie en keuse nie net te verantwoord nie, maar ander ook te oortuig om ook te koop wat ons koop.

Tydskrifte ontstaan wat oor die onderwerpe handel, vergelykings te maak en aanbevelings te doen. Die foon se spoed is vinniger as die ander, die een se probleme is dit en dat. Dit is natuurlik belangrik vir ons wat nie kenners is nie om sodoende 'n besluit te kan maak. Soms maak dit ons ook so deurmekaar dat ek eerder wag om op te gradeer, omdat informasie soms meer onsekerheid kan bring.

Elke dag word jy hiermee gebombardeer, nie net selfone nie, maar verhoudings, jou werk, jou opvoeding van jou kinders, oefenprogramme, diëte, godsdiens, restaurante, vakansies, vriende, beleggings, polisse en selfontwikkeling.

Elke dag sit slim mense orals en dink allerhande nuwe spesifikasies vir elke moontlike ding uit. Spesifikasies wat hulle die "edge" gee bo die kompetisie, om mense te oortuig om hulle produk te neem. As jy dus die keuse gemaak het om jou selfoon op te gradeer, is daar more 'n nuwe model en is jou tegnologie "agter".

Wat vreemd is, is dat gewone mense soos ons dalk net 'n fraksie van die tegnologie in ons hande effektief gebruik. Ons betaal vir dinge wat ons dink ons nodig het, terwyl dit gladnie noodsaaklik is nie. Baie van die tegnologie wat ons oortuig om iets te koop is ook nie goed vir jou nie. Soos BBM en Whatsup laat mense nie meer praat nie, maar eerder met teks kommunikeer. En die taal wat ons gebruik is opgemaak uit afkortings en "slang", wat mense laat verleer om ordentlik te spel.

Hoe meer dae, hoe meer dinge is daar, en jy sal dalk nooit op die totale voorpunt van dinge wees nie.

Baie mense is in ons tyd deurmekaar en "confused". Op elke vlak van die lewe staan jy in 'n supermark met legio standpunte en opsies. Spesifikasies wat jou totaal deurmekaar maak, dinge wat jy verstaan en wat jy nie verstaan nie, ook baie dinge wat jy jou kop oor breek wat jy nooit gaan gebruik nie, maar wat jou laat wakker lê in die nag.

'n Paar dinge moet jy onthou in hierdie maalkolk van 'n wêreld.

Daar gaan altyd verskillende opinies wees, want mense verskil. Dit is deel van menswees, maar net omdat my vriend 'n i-phone het en ek 'n Htc, verander dit iets aan ons vriendskap? Ons kan mekaar tog steeds bel en 'n platform soek waar ons kan kommunikeer soos Whatsup.

Verskille en kompetisie tussen produkte en mense is goed, want dit laat mense streef daarna om innoverend en in hulleself beter te word. As almal dieselfde was, sou die lewe baie eentonig gewees het.

Net omdat iemand nie op die vlak van tegnologie is as my Blackberry nie, beteken dit nie dat ek beter of slegter is nie. In die tyd toe my Blackberry gesteel is, het ek 'n ou Nokia gebruik, en my lewe het nie gestop nie. Ek kon steeds leef, bel en deelneem aan die rotresies. So ek hoef ook nooit terug te staan en minderwaardig te voel oor my tegnologie nie, en ek mag die om my, wat dit nie het nie, ook nie uitsluit of minderwaardig laat voel nie. Net omdat iemand nie BBM of Whatsup het nie, kan ek die grappies vir hulle aanstuur op SMS.

Daar is geen foon of standpunt wat die "ultimate" is nie. Niemand het die finale antwoord nie. Funksionaliteit is waaroor dit gaan, solank dit wat ek het en dink op daardie oomblik my doel versadig, dan is dit die regte een vir my.

Ek moet ook oop wees vir nuwe tegnologie en idees. Soveel mense loop rond met hulle baksteenfoon-idees. Sy battery hou nie, en ek is nie bereikbaar vir ander nie. Kyk na die nuwe dinge in die lewe, elke nuwe idee op die mark het ten doel om die lewe beter te maak. Kyk daarna, want dit is gratis en vry, en hoekom dit nie gebruik nie? Wees dus oop vir nuwe idees en nuwe dinge. Niks in die lewe is konstant nie, maar in beweging vorentoe.

Soek uit wat vir jou werkbaar is. Soveel fone het funksies wat ek nie kan hanteer nie. Ons stel onsself bloot aan idees wat nie vir ons werk nie, en eintlik meer spanning in my veroorsaak as genot. Ek kan die mooiste foon by my vriende neersit, maar as dit nie in my basiese behoefte voldoen nie, en ek nie eers kan bel nie, wat help dit my?

Alle fone is feilbaar en gaan breek. Fone het waarborge op, maar nooit vir die durasie van die foon se bestaan nie. So weet ons ook dat dit wat vandag bestaan ook nie vir altyd gaan hou nie. Niks is gewaarborg vir ewig nie. Wees dus voorbereid en oop vir nuwe idees en bewus dat wat jy dink en doen moontlik gebreek is. Net omdat dit uitgedateer kan raak of kan breek, help dit ook nie dat ek my foon in die boksie in 'n kas toesluit nie. Gebruik dit en geniet dit. Niemand kan in die toekoms sien nie, maar net omdat die toekoms onseker is en mag breke insluit, kan ek vandag nog bel. As ek nie vandag my foon uit vrees nie gebruik nie, is dit reeds "gebreek".

Erens moet ek keuses maak. Net omdat daar elke dag nuwe fone op die mark is en ek wag vir die "beste" foon of geleentheid, gaan ek vir altyd sonder 'n foon wees. Soms gaan dit nie oor spesifikasies nie, maar watter foon my pakket voor kwalifiseer, wat vir my mooi lyk of wat lekker in my hand pas. Jy moet dus kies, sodat jy kan deelneem aan die lewe. Niemand kan sonder keuse en standpunt leef nie, dan is jy onbereikbaar.

Die laaste punt is, geniet die voorreg om in aanraking te kan wees. Geniet jou foon en leef hom voluit uit. Bel, BBM, Whatsup, gaan op die internet, laai programmetjies en speletjies af. Geniet wat jy het en hou op om te bekommer en te stress oor wat jy nie het nie. Watter foon jy ookal het, moet dit nie so ernstig opneem nie, dit is net 'n foon. Gaan maak die beste van dit, miljoene mense is dolgelukkig vandag sonder dat hulle 'n i-phone 4 het. Moet dus nie wag tot dinge in plek val voor jy gaan deelneem en 'n lekker gesprek met mense het nie. Die lewe is hier en nou, laat jou stem gehoor word en ook jou lag, te midde van die feit dat jy nie kan BBM nie.

Gaan leef, gaan lag, gaan geniet vandag!

Sunday, January 22, 2012

Skep van Karma

Karma is volgens definisie ‘n aksie of ‘n daad wat tot ‘n nuwe kringloop van oorsaak en gevolg lei. Dit is soos om ‘n klippie in die dam te gooi wat sirkels maak, en wat op sy beurt die vorige klippie se sirkels beinvloed. Ook word die aksie ander name gegee soos die “butterfly effect”, wat beteken dat as ‘n skoenlapper op een plek, hoe klein ookal, sy vlerke klap, daar erens ‘n groot wind laat waai.

Alhoewel ons in die westerse wêreld vir lank nie gedink het aan die konsep nie, aangesien dit van oosterse oorsprong is, besef ons meer en meer elke dag, dat wat ons ookal die naam van hierdie konsep gee, elke aksie van elke dag, elke woord my en jou wêreld beinvloed. Ek skep elke dag ‘n nuwe kriingloop in myself, my maat, my kinders en die hele wêreld om my.

Dwarsdeur die Bybel word daar vir ons die konsep van oorsaak en gevolg geskets. Van Adam en Eva in Genesis, deur die rigters, deur al die konings, die Nuwe Testament en Jesus, tot en met die Openbaring en die finale oordeel. En alles begin by die klippie, my gedagtes en ingesteldheid. Die Bybel vertel nie verniet vir ons dat ons wag oor ons gedagtes moet hou nie. Wat jy ookal dink oor dinge soos die “law of attraction”, stel selfs die Bybel vir ons dat as jy iets gedink het wat verkeerd is, dit reeds sonde is.

Een van die beste voorbeelde hiervan het ek hierdie week ervaar. Ek wil vir my ‘n ander kar koop, met die spesifieke prys in gedagte. So spandeer ek toe tyd op die “Autotrader” se webblad en sien ‘n sekere tipe kar wat ek dink nogal goeie waarde vir geld is. Dit lyk asof dit fantastiese waarde vir geld is, maar voorheen het ek nooit opgelet of gedink daaraan om so ‘n kar te koop nie. Hierdie week was ek verbaas, want ek het nie net baie van hulle gesien op die pad nie, maar ook in die wit kleur wat ek in belangstel.

Het ek nou toevallig deur my denke hierdie karre op ‘n misterieuse manier laat ontstaan? Verseker nie, maar my bewustheid van hulle bestaan het ‘n invloed op my oog gehad om hulle raak te sien. Dit het my laat skrik, want ek het eersterangs ervaar hoe belangrik dit is wat in my gedagtes gebeur. Meer as dit nog, ek deel toe met iemand dat ek van die tipe voertuig hou, ek kort voor lank is dit nie net ek nie, maar daardie persoon se oë wat ook oopgaan en vir my ook daardie karre wat ek mis uitwys. So, dit is nie net in my lewe nie, maar deur die feit dat ek dit gepraat het, het dit tot ‘n sneeubal effek gelei.

So wonder ek toe by myself dat as dit gebeur in ietsie kleins soos hierbo, hoeveel ander gedagtes dra ek in my saam wat tot my geluk en ongeluk lei? Besef ek elke dag hoe kragtig my gedagtes is? Hoeveel karma skep ek nie elke dag nie? En wat dit meer kompleks maak is dat ander se gedagteklippies ook in die dam gegooi word wat se rippels my rippels beinvloed, en wat ek ookal doen, dit gaan my beinvloed.

Dit wil dus voorkom asof al die dinge wat ons in die “nuwe denke” lees en leer oor hoe spiritualiteit is, niks nuuts is nie. Baie van die geskrifte van eeue gelede, insluitend die Bybel, leer ons oor hierdie konsep. Pas op vir jou woorde, pas op selfs vir jou denke en ook oorsaak en gevolg is deel van die lewe.

Iemand vertel nou die dag vir my van haar verhouding. Hulle was die sondag by haar familie, en haar man was so effens geirriteerd die dag. Hy het sommer so in die middel van die kuier besluit dat hulle huistoe gaan. Daar was ‘n redelike atmosfeer met die terugrit huistoe. So probeer hulle dit toe uitpraat en elkeen het sy en haar standpunt gestel. Jy sien, nou is daar karma geskep. Sy is nou elke keer in haar agterkop skepties of hulle na haar ouers kan gaan.

Nou word dit al hoe groter, want sy het in die redenasie genoem dat dit ook nie vir haar lekker is om na sy ouers toe te gaan nie. Losse woorde wat sy nie bedoel het nie, maar wat diep sny en vir die res van hulle lewens vir hulle spanning kan veroorsaak.

In ons opleiding as sielkundiges en dominees leer ons dat ‘n mens dinge in jou hart moet uitpraat in die verhouding. Jy moet in ‘n verhouding wees waar jy die haakplekke moet kan uitsorteer. Na al my praktiese ondervinding van my eie lewe, wonder ek egter baie ernstig hieroor. Jy sien, elke woord wat jy uiter om uit te sorteer, word nie altyd ontvang met opregte vertroue deur die ander persoon nie. Wat gebeur is dat ons eintlik deur die uitsorteer van ons sake, nuwe situasies van spanning skep wat hanteer moet word.

Daarom dink ek dat die eerste probleem is dat ons wil alles uitsorteer. Ja, jou man is dalk nie die mees romantiese mens in die wêreld nie, maar om dit vir hom te sê gaan dalk net ekstra spanning bring. Elke keer as daar ‘n spesiale geleentheid voordoen, gaan hy voel hy moet dinge op ‘n sekere manier doen, anders gaan hy weer kritiek kry. Aan jou kant gaan jy elke keer wat hy vir jou blomme bring nie dink dat dit spesiaal is nie, want hy doen dit net omdat jy van hom gevra het om dit te doen. So begin ‘n bose kringloop van nuwe karma wat geskep word. Jy wat nie voel dat jy belangrik genoeg is nie, omdat hy nie aan jou vereistes voldoen nie, en hy wat minderwaardig voel aangesien jy hom kritiseer nie net vir wat hy doen of nie doen nie, maar ook van hoe hy dit doen of nie doen nie.

Almal van ons onthou hoe lekker is daardie eerste paar weke of maande van ‘n nuwe verhouding. Sommer net lekker omstandighede waar daar geen kritiek of uitsorteer is nie. Dit is natuurlik die plek waar ‘n mens mekaar begin leer ken, maar die vraag is tot watter doel. Want in alle verhoudings is daar altyd daardie eerste ding wat jou begin pla oor die ander persoon, en dan die vertel vir hulle dat dit jou nie pas nie. Hoekom die “wittebrood” tyd van ‘n verhouding so goed werk, is dat ons in daardie tyd in mekaar die mooi soek, die rede van hoekom ons bymekaar wil wees. Dan wil dit voorkom dat in die tweede fase van verhoudings mense mekaar kritiseer, amper soos om geleenthede te soek om nie bymekaar te wees nie. So sneeubal hierdie karma-skepping tot by ‘n punt waar mense nie eers meer die mooi in mekaar raaksien nie.

Dit gaan ook nie net oor praat nie, maar in die manier hoe ek dit doen en hoe dit vatplek kry in die ander persoon. So het iemand een keer gesê: “As dit wat jy doen of sê nie ‘n positiewe bydra maak tot die verhouding nie, moenie dit sê of doen nie”.

Daar is natuurlik ook die gemeenskap waarin ons leef wat gevul is met allerhande “bygelowe” oor verhoudings. Mans is so en vrouens is so, geen verhouding werk nie ens. Wanneer ‘n klomp mans of vrouens bymekaar is, word ons gebombardeer deur gedagtes en idees oor hoe onaangenaam hulle verhoudings is. So is een vanmy vriende nou in ‘n verhouding wat so spesiaal en wonderlik is, dat dit ‘n mens eintlik inspireer daartoe om jou lewe beter te maak.

Jy sien, dit is dus nie net jy wat karma skep in jou lewe nie, maar ook dit wat jy toelaat om jou te beinvloed. Dit gebeur so maklik. Ek kan onthou toe ek dominee was en elke dag na soveel mense se verhoudingsprobleme geluister het, dat ek naderhand MY geloof in die sukses van verhoudings begin twyfel het. Ons praat so graag met ons kinders oor groepsdruk, maar laat ons dit nie in ons eie lewens toe nie? As almal om jou rook, gaan jy dink dat dit die norm is. Kom nou op ‘n plek waar jy die enigste roker is, skielik dink jy nie meer dat dit die norm is nie. Wees dus versigtig tussen wie en wat jy jouself bevind, want hoe jy ookal dink, jy is nie beskerm teen alles nie, dit gaan sit tog op jou wat ander dink en doen. Jy is nie ‘n eiland nie, maar deel van ‘n groot geheel van menswees. Moenie alles glo wat ander vir jou sê nie, onthou altyd dit is hulle lewens en probleme wat hulle het, as jy by hulle moet wees. Die ander alternatief is om te kies om eerder tussen die tipe mense te wees wat positief bydra tot jou denkwyse. Niemand het die reg om te veroordeel nie, maar almal het die keuse om te beoordeel by wie en in watter tipe situasies hulle wil wees. Onthou altyd die spreekwoord: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”.

Jy sien, elke woord en elke daad lei tot karma. Dit lei nie net tot karma in daardie omstandighede nie, maar tot karma vir die hele lewe rondom jou. Dit beinvloed jou ingesteldheid en lei weer tot dade wat jy soms nie weer kan terugkry nie. Dit is soos woorde wat geuiter is, jy kan die klippie wat jy gegooi het nie keer om sy rippels te maak nie.

Wees ook versigtig dat jy, alhoewel alles in die lewe nie afhanklik is net van jou en jou gedagtes nie, jy nie ander alleen verantwoordelik kan hou vir wat met jou gebeur nie. Jy sien, elkeen van ons is ‘n dammetjie met ‘n groot heining om. Alhoewel mense die klippies in jou dam gooi, is dit jy wat hulle toegelaat het om dit te doen. Soms is daar mense wat die “Reg van toegang” bordjie ignoreer, maar jy moet sorg dat dit opgesit is en almal om jou deeglik daarvan bewus is. Jy kan gaan kuier buite jou “hokkie”, maar dit is jou besluit oor wie mag inkom. Die bordjie gee jouself ook die reg daarop dat as jy voel dat hulle invloed op jou dammetjie nie positief is nie, jy hulle kan verjaag, sonder om redes daarvoor te gee.

Te veel mense laat toe dat mense hulle pragtige dammetjies fandaliseer. Onthou dit is jou lewe, jou dammetjie en jou keuse. Wees dus net so versigtig wanneer jy ander mense se dammetjies besoek, dat jy met liefde en deernis omgaan, want die klippies wat jy gooi kan jy nie terugkry nie, en dit veroorsaak slegte karma vir hulle en vir jou nie.

Skryf dus by jou eie dammetjie: “Reg van toegang voorbehou” en wanneer jy ander se dammetjies besoek: “Wees versigtig, elke klippie het ‘n rippeleffek”!

Friday, December 23, 2011

Die kuns van niks doen

Vanoggend staan ons op en met al die mense in die huis was die huis maar in chaos gedompel. Die bediende is op verlof, so dit is maar ons werk nou om die huis skoon te maak. Skottelgoed was, vloere skoonmaak en stofsuig. Nou sit ek hier en ervaar hoe lekker skoon alles is, tot die eerste kind weer begin verbystap met ‘n broodjie in ‘n skoon bordjie. Aai, so begin alles weer van voor af.

Een ding is seker en dit is dat ons nie kan funksioneer in chaos nie. Alhoewel almal weer gaan omkrap is dit beter dat hulle omkrap nadat ons skoongemaak het. As hulle verder omgekrap het sonder dat ons skoongemaak het kan ek net dink hoe die chaos sou vermenigvuldig het. As daar 2 borde is om gewas te word is ‘n mens se gemoed lig en pak jy dit vinnig aan. As die hele wasbak vol skottelgoed van 5 dae is, voel ‘n mens sommer depressief en sleg. Dan voel dit soos ‘n berg om geklim te word. Dan voel ‘n mens nie eers lus om ietsie lekker aanmekaar te slaan nie. En sodoende verloor ‘n mens sommer totaal jou lus vir alles as alles om jou deurmekaar is.

‘n Mens se siel wil maar eenvoudig funksioneer met ‘n mate van orde en beheer. Alhoewel ‘n mens op vakansie bietjie wil rus, kan ‘n mens ook nie rus voordat alles nie mooi skoon en op hulle plek is nie. Ons omstandighede om ons is ongelooflik belangrik vir ons siel. Net soos die wereld rondom ons skoon en mooi en georganiseerd moet wees, het ons siele en gedagtes dit ook nodig. Ek onthou dat mense jare terug die tyd en moeite gedoen het om in die oggende stil te word voor die harwar van die dag begin. Geleentheid gemaak om hulleself te orden en reg te skud en te beplan.

Ons wereld is gejaag en vol klanke en geluide rondom ons. Stilte is moeilik om te kry. Soos ek hier sit en skryf hoor ek die hardeskyf, ek hoor die ander rekenaar se waaier, ek hoor Mickey Mouse Clubhouse se liedjie op die televisie en elke nou en dan ‘n kind wat skree of ‘n BBM wat deurkom en ‘n foon wat lui. Sit nou daar waar jy is en let bietjie op hoeveel geluide jy hoor en of stilte enigsins te vinde is. Ek dink nie ons besef hoeveel klanke en geluide ons elke oomblik om ons hoor nie, en dit alles moet gefilter en uitgeblok of ingeneem word. Daar gaan altyd geraas wees, net soos wat daar altyd kinders gaan wees wat hulle speelgoed die hele vloer rondgooi en weer vuil maak.

Ek is nogal iemand wat baie sukkel om stil te word. Selfs toe ek gestudeer het was my musiek aangeskakel. Ek lees graag terwyl ek voor die televisie sit. Soms speel ek op die internet terwyl ek iets anders doen. Ek voel ek moet die hele tyd besig bly met iets. So het ons kindertjies in ons huis wat die hele tyd mors en speel. Om hulle te kry om stil te sit of te bly is maar moeilik, net soos wat die geraas om jou bitter min gaan stil word. Soos ek my kinders leer, so leer ek myself ook om soms stil te word en niks te doen nie. In die film “Eat, Pray, Love” word ‘n oulike term gebruik naamlik “The art of doing nothing”.

In hierdie vakansietyd gaan mense probeer rus. Ek sukkel daarmee om die kuns van niks doen te bemeester. Ek wil die hele tyd met iets besig wees en sukkel om af te sluit. Maar dit is nodig, al is dit net vir ‘n oomblik of twee op ‘n dag. Die kuns om absoluut stil op ‘n plek te sit, sonder ‘n telefoon in jou hand, sonder ‘n boek en sonder enigeiets wat jou aandag kan aftrek van jouself. Erens moet jy begin om die skottelgoed in jou kop te was. Erens moet ‘n mens daardie stilte kry en skoonmaak voordat die geraas en die stress en die spanning weer begin.

In die Oosterse godsdienste word die term gebruik dat daar in ‘n teekoppie wat vol is nie meer plek vir nog tee is nie. So is dit ook met ons. Op een of ander stadium word die geraas om jou soveel dat jy moet begin klanke sagter en af sit om plek te maak. Daardie gevoel dat jy net eenvoudig nie kan dink nie omdat jou kop te vol is.

Watter tegniek jy ookal toepas om dit gedoen te kry maak nie saak nie. Die tipe skottelgoedseep wat jy gebruik is nie belangrik nie. Dis nie belangrik of jy met staalwol of ‘n lappie die skottelgoed was nie. Die belangrikste is om die skottelgoed gewas te kry en orde te skep. Jy sal voel of ervaar dat die oomblik wat jy kop skoongemaak het, jy skielik weer kans sien vir nuwe dinge. Jy sal weer lus word om spesiale dinge te doen en ‘n nuwe dis op te toor.

Soms is ons so vasgevang in die draaikolk van ons gedagtes dat ons aan niks nuuts of mooi kan dink nie. So sien ek mense om my wat hulleself deur tyd so vasgedraai het in ‘n manier van dink en nooit meer anders kan dink nie. Omdat hulle nooit die skottelgoed was nie, hoop die skottelgoed op en op. Later kan hulle nie meer ander se sienswyses aanvaar nie.

My rekenaar is die laaste ruk vreeslik stadig omdat daar nie meer vreeslik baie plek is nie. Toe begin ek om die rekenaar te “defrag”. Dit orden net weer al jou data en groepeer die informasie wat belangrik is bymekaar. Die oomblik toe ek dit klaar gedoen het is daar skielik weer plek en spoed. Gebruik hierdie tyd van rus en “defrag” so ‘n bietjie jou kop en was die skottelgoed om plek te maak vir alle nuwe idees en uitdagings wat vir jou wag in die nuwe jaar.

Geniet die vakansie!

Mojo

In die film “Austin Powers” word die storie vertel van die geheime agent wat sy Mojo verloor. Sy Mojo is die brandstof wat hom spesiaal maak. Dit is sy essensie en dit wat hom definieer. Dit is dit wat hom motiveer om homself te wees. Sonder dit kan hy nie leef nie, lag niemand vir hom nie en kan hy nie werklik funksioneer nie. Sonder sy Mojo kan hy dus nie wees wie hy moet wees of doen wat hy moet doen nie. Hy gaan dus op ‘n spesiale missie en reis om hierdie Mojo van hom terug te kry, totdat hy uiteindelik weer homself is en spesiaal kan wees.

Ek, en soveel mense om my, voel baie kere in die lewe presies dieselfde. Dit voel vir jou asof iemand jou essensie, jou visie, jou drome, jou ideale, jou menswees of jou siel van jou gesteel het en êrens in ‘n plek in ‘n konfytbotteltjie gebere het. Nou voel jy asof jy geen petrol het nie. Jy is nie meer ‘n aktiewe deelnemer aan die lewe nie, maar sit langs die kant van die rivier en beskou almal wat aangaan en lag en speel in die rivier wat by jou verbyvloei. Jy sien selfs die “evil villains” wat verantwoordelik kan wees. Jy bekyk hulle en hoor en sien daardie “evil laggie”, Ha-Ha-Ha-Ha wat hulle so uit hulle maag uit kraai. Jy voel asof jy totaal magteloos is en dat jy eintlik net in ‘n bondeltjie wil opkrul en vergaan.

Vir jou is dit erg, want te midde van wat in jou kop en hart gebeur, vloei die rivier steeds. Mense speel en lag en dit voel asof hulle by jou moet kom sit en alles moet “pause”, omdat jy so voel. Jy dink in jou hart dat hulle onsensitief is vir jou gedagtes en gevoelens. Hulle hanteer jou met disrespek. Austen Powers het so van partytjie tot partytjie gegaan en ook hartseer gevoel. Hy het nie geweet hoe om op te tree nie, want hy was nie homself nie.

Iemand het een keer vir Paolo Coelho gevra wat jy moet doen wanneer jy so voel. Hy het ‘n wonderlike antwoord gehad: “Get up and show up”. Dit is seker die beste raad wat jy iemand kan gee, want net soos Austen Powers is wat jy soek, stroomaf. Daardie botteltjie van dinge wat jou aan die gang hou is vorentoe. Coelho het ook ‘n vreeslike oulike boek daaroor geskryf: “Like a flowing river”. Die lewe is maar een keer so, jy moet saam met die vloei gaan, jy kan nie terugkyk nie, want dit is die verlede. Jy moet in die rivier wees. Jy kan net wen as jy in die wedloop is.

Miskien is dit vandag jou oomblik om nie noodwendig net in te spring in die water nie, maar dalk net jou voete vir eers in die water te sit, dan tot by jou boude, dan tot by jou skouers en dan jou kop onder die water te druk. Nie alles hoef in een oomblik en onmiddelik te gebeur nie. Dit neem baie keer tyd.

Soms voel dit asof jy nie mojo het om vorentoe te gaan nie. Maar, daar is gewoonlik so ‘n bietjie in reserwe wat jy oor het. As jou geel brandstofliggie aangaan, moenie vandag daardie klein bietjie mors en by die huis sit en nie ‘n vulstasie gaan soek nie. Die wêreld is deesdae volop met plekke en situasies waar jy jou kan gaan vol maak. Gaan lees ‘n boek, gaan kuier by iemand of kyk ‘n mooi film. Toe ek ‘n student was met min geld het ek nooit my motor vol gemaak nie. Ek het daardie R20 ingegooi om te kom waar ek wil wees, van bestemming tot bestemming. As jy laag is en laag voel, moenie kwaad wees en niks doen net omdat jy nie kan “vol” maak nie. Elke groot reis in die lewe begin met ‘n enkele tree.

Ek het al die voorbeeld gebruik van maagspiere. Jy gaan nie die eerste dag, of die eerste week die totale uitslag sien en ‘n sespak kry nie, al doen jy vandag 5000 opsitte. Om jou mojo terug te kry vat ‘n eerste stappie, staan op en raak betrokke. Doen net iets. Mense sit stil en doen niks nie as hulle nie die volle brandstoftenk kan vol kry nie. Baie kere vra die plekke waar jy wil wees nie ‘n volle brandstoftenk nie, maar dalk net R20. Ons is so ingestel om dinge perfek te kry, dat ons die klein dingetjies mis.

My ma en oom Corrie het vreeslike oulike dinge gedoen. Hulle het byvoorbeeld uitgegaan en gekyk watter lekker dinge hulle vandag kan doen met R20. Jy sal verbaas wees oor die lekker en mooi wat jy kan ervaar. Hierdie jaar bly ons Desember by die huis, en net omdat ek nie by die see is nie, beteken gladnie dat ek nie kan gelukkig wees nie.

Een ding wat jy gaan ervaar is dat as jy elke dag net ‘n klein bietjie brandstof in jou motor gooi, jy kort voor lank met ‘n vol motor gaan sit as jy kort ritte doen. In babatreetjies kom ‘n mens ook in die kraal.

Ons leef in ‘n land waar ‘n mens maar altyd bang is vir mense wat jou gaan aanval. Natuurlik is daar gevare in alles. Meeste ongelukke gebeur naby jou huis, of so sê die mense. Die lewe is vol dinge wat nie lekker is nie, of jy ervaar dit nie lekker nie. Mense gaan jou teleurstel op jou reis, maar op dieselfde reis is daar ook mense wat jou gaan gelukkig maak. Net omdat daar moontlike gevare op die pad is, beteken nie dat jy by die huis moet bly nie. Jy moet in die rivier wees om te kan leef, al is daar kolkgate en gevare. Wat jy soek en jou bestemming is afstroom.
Die beste ding van alles is dat daar baie maniere is om jou Mojo terug te kry. Jy sien, soos alles dink ons dat dit van buite kom, gewoonlik omdat omstandighede rondom ons gebeur wat baie keer daartoe lei dat my mojo laag voel. Mense maak my seer, stel my teleur en is nie werklik op my ingestel nie. Jy kan maklik voel asof die lewe uit jou uitgesuig word deur mense en omstandighede. Jy kan maklik dink dat daar “evil villains” is wat jou elke dag aanval.

Superhelde het gewoonlik super kragte, maar te midde van dit het hulle ook iets wat hulle kan oorwin. Superman kon nie sy kragte gebruik as daar Kryptonite is nie. Hy het sommer in ‘n klein bondeltjie opgekrul as daardie groen klippies naby is. Ek wonder vandag wat ons kryptonite is? Wat is dit wat ons oorwin dat ons nie ons kragte kan wys nie? Dit is ook nie altyd die geval net van buite nie, maar ons sien ook dat hulle soms ‘n sielewroeging ondergaan waar hulle hulleself saboteer. Waar hulle in hulleself moet veg teen die seer binne in hulle of die verlies aan iemand naby of ‘n geveg wat verloor is. Soms twyfel hulle ook in hulleself en voel ook sonder mojo.

Maar superhelde wys daardeur vir ons dat hulle ook menslik is. Dat hulle ook te midde van alle suksesse ook soms mojo-loos voel. Dat hulle ook interne stryd het soos ek en jy. Maar, hulle veg steeds voort te midde van hulle tekortkominge. Hulle gaan haal uit daardie reserwetenk die laaste stukkie mojo wat hulle het om te oorwin. Die kragte en magte wat hulle het is nie wat hulle super maak aan die einde van die dag nie, maar dat hulle opstaan en vorentoe beur en steeds probeer.

In die kerstyd dink ons aan die wonder van Jesus se geboorte. Jesus het te midde van wie en wat Hy was ook die kryptonite van menslikheid gehad. So het Hy aan ‘n kruis gehang en gesterf. Hy het ook nie kragte gehad nie maar in Sy laaste asem het Hy hom beroep op Sy “reserwetenk”, en Sy gees oorgegee aan God. Daarin is ook ‘n voorbeeld vir ons. Ons is ook uitgelewer aan die menslikheid van die lewe, aan depressie, siekte, stryd en mense wat ons wil kruisig. As jy dus gladnie meer weet wat om te doen nie, as dit voel asof jy nie in die water kan klim of enigsins kan lewe nie. Wanneer jy dink dat daar geen hoop meer is nie en jy alles probeer het om vorentoe te beur, maar nie kan nie. As jy voel dat jy wel in die rivier is, maar dat die stroomversnellings vir jou te erg is om te hanteer of dat ander mense op jou reis jou onder die water druk en jy nie meer asem kry nie. Weet dan verseker dat daar altyd die hoop is dat God daar is vir jou. Hy gaan dalk nie jou vul met ‘n vol tenk mojo of uit die rivier red nie. Dalk gaan God wel vir jou ‘n boomstomp stuur wat jou kan regop hou totdat jy weer in kalmer water is.

Die reserwetenk in jou lewe is dus die geloof in God en dat vir God alles moontlik is. Dit is volgens my die boodskap wat Jesus gebring het, God gee soooo baie om vir my en jou dat Hy Sy seun gestuur het om, te midde van enige omstandighede, vir ons mojo te wees en te gee. Om te glo dat dit wat ons nou beleef deel van menslikheid is, en dat daar stroom-af vir my en vir jou kalmer waters is waar die dinge vir ons beter en gemakliker gaan wees. Daardie plek waar ons vrede en harmonie gaan kan ervaar. So het Jesus gekom om vir my en jou hoop te gee, en my en jou te vul met die mojo wat ons vandag nodig het om te kan leef!

Geseënde Kersfees vir almal in die hoop dat God jou vandag sal dra en jou sal vul met die nodige mojo dat jy kan regop bly en die mens kan word wat God jou bestem het om te wees, wat ookal met jou gebeur!

Wednesday, December 14, 2011

Kristalglase

Vanoggend staan ek voor die kas in die kombuis met die glase in om vir my ‘n glas water in te gooi. Ek sien al die tipes glase wat daar is en besluit dat ek net ‘n pilletjie wil drink, so ek het seker nie nodig om ‘n kristalglas uit te haal nie, ek kan sommer ‘n ou lelike een vat. Nee, hoekom? Hoekom het ons die mode om altyd die mooi en spesiale te bêre vir ‘n spesiale geleentheid?

Die antwoord daarop sal seker individueel wees, maar dit wys ons iets van ons ingesteldheid teenoor die lewe. Ons wag altyd vir spesiale dinge, tye en geleenthede voordat ons onsself en mense om ons laat spesiaal voel. Gisteraand kyk ek “How I met your mother” waarin Barney sy meisie op ‘n spesiale “date” vat. Hoekom kan elke dag en elke “date” nie spesiaal wees nie? Hoekom is ons altyd maar tevrede om ‘n “gewone” dag te ervaar en gediend te wees om uit die ou en die lelike glas te drink? Ek wonder maar net of dit nie die rede is dat ons soveel mismoedige mense om ons sien nie.

Dit is nou een van die lesse wat ek my kinders wil leer, en dit is om elke liewe dag die beste te verwag, uit die mooiste glase te drink en jou mooiste klere aan te trek. En die rede is dat dit jou goed en lekker en spesiaal laat voel. Wat maak dit nou saak as jy jou nuutste skoene aantrek as jy in die sandput gaan speel? Jy gaan in elkgeval uit dit uitgroei nog voordat jou skoene verwoes is. Iemand het een keer gesê dat ons baie by kinders kan leer oor hoe om die lewe te geniet. As ‘n grootmens en ‘n kind in die pad afstap en daar is ‘n poel met water, sal die grootmens om die poel stap, maar die kind sal inspring en speel.

Dit voel vir my asof ons soms die lewe te ernstig opneem. Dalk is dit omdat ons “gebruiksglase” in ons kas met ons saamdra. Ons ag onsself ook soms nie waardig of spesiaal genoeg dat dit ‘n kristalglas roep nie. So word ons lewe saai en afgemat, en kort voor lank is jy maar gediend om uit plastiekglasies te drink en later sommer so uit jou hand.

Daar is rykdom in eenvoud, sal ek met jou saamstem. Ek stem saam daarmee dat as jy uit ‘n plastiekglasie moet drink jy ook jou lewe kan geniet. Ek is ook iemand wat stop en aan die rose ruik en dankbaar is vir wat ek het.

Ek dink dat ons “gewone” lewens het, omdat ek en jy dink dat ons nie waardig is en waarde het nie. Ons dink dat ons nie verdien om uit die kristalglase te drink nie. Miskien kom dit uit ons kinderdae wat ons ouers vir ons plastiekglasies gegee het, omdat hulle bang was ons dit breek. Dit is baie prakties, maar miskien het dit ons geleer dat ons nie waardig is nie, en dat ons onsself nie kan vertrou met die spesiale dinge van die lewe nie. Vandag, en ek, is nie spesiaal genoeg vir die mooi van die lewe nie, en daarom is ek tevrede. Dan dink ek allerhande verskonings uit om die ontevredenheid van my siel weg te steek en “vrede” te maak met my lot.

Miskien is dit ook een van die redes hoekom ons nie meer droom nie, en die hele tyd vir mense om ons vertel om “realisties” te wees. Dalk sou ons almal soos Superman kon vlieg as almal ons nie die hele tyd afgebring het aarde toe nie. Dalk sou ons in ons geloof berge kon versit as ons geloof in die moontlikheid daarvan so groot soos ‘n mosterdsaadjie was. Dalk sou ons elke dag meer kon geniet as ons genoeg geglo het dat elke dag spesiaal is, en elke oomblik kristalglas-kosbaar.

Hoeveel keer het ons nie al gesien dat wanneer iemand tot sterwe kom en ons hulle besittings gaan oppak, hoeveel mooi kristalglase daar nog in hulle verpakking is, of hoe mooi lingerie daar in die kas is wat nooit gedra is nie. Gewag vir ‘n spesiale geleentheid? Die feit dat dit nog in die verpakkiing is, beteken dat die persoon nooit enige geleentheid of enige dag as spesiaal genoeg ge-ag het nie. Dit laat my dink aan die woorde van Prediker dat daar nie sin in die lewe is nie en ‘n mens alles nalaat vir iemand na jou. Dalk is die rede dat die prediker dit nooit gebruik het nie, en dit die rede is vir sy aanhoudende klaagliedere.

Dit is nie net in ons besittings waar ons opgaar vir eendag of ‘n spesiale geleentheid nie, maar ook in ons eie menswees. Ons wag vir iets om te gebeur of vir ‘n spesiale geleentheid om ons drome en eie menswees uit te leef. Ek lees baie boeke oor menslike groei, en twee konsepte kom by almal voor. Die eerste is dat jy jouself moet ken en moet spesiaal ag. Die tweede is dat jy nie moet wag om die mens te wees wat jy graag wil wees nie, maar nou en vandag moet leef.

Wat het van jouself geword en jou drome? Deel jy dit nog met jouself en leef jy jou droom? Glo jy dat jy spesiaal en uniek is en dat jy die beste verdien, of plaas jy jouself, jou drome en talente onder die maatemmer?

Gisteraand sit ons en gesels oor ons kinders en hulle toekoms. Ons sit en praat oor hulle drome en ideale. Toe wonder ek so in my innigheid of ek myself ook so spesiaal ag soos ek my kinders ag. Of ek steeds glo dat ek alles kan vermag wat ek wil, vandag? Kan ek toepas wat ek preek, en hoe moet my kinders vlerke kry en leer vlieg as hulle nie sien dat ek vlieg nie. Gaan ek vandag my “kristalglase” uithaal en voluit leef, of gaan ek myself wegbêre, en tot wanneer? Vir hoe lank gaan ek mense en situasies die oorhand gee oor my? Deel jou droom met mense, en as hulle kommentaar lewer is dit net ‘n opinie, en nie noodwendig die waarheid en finale uitkoms nie. Hoeveel van jou drome het jy opgegee om ander tevrede te stel? As jy spesiaal genoeg oor jouself voel, sal jy jou droom nie laat vertrap op grond van ander se opinies nie.

As jy gaste onthaal en jou beste Noritake en kristalwynglase uithaal, voel nie net jy en die geleentheid spesiaal nie, maar veral die mense wat jy onthaal. Hulle voel goed omdat jy HULLE belangrik genoeg ag om moeite te doen. Om mense om jou gelukkig te maak en spesiaal te laat voel in JOU lewe, gaan pak daardie spesiale jy uit en leef spesiaal elke dag. Mense gaan dan voel dat jy HULLE belangrik genoeg ag om die wonderlikste self in jou met hulle te deel.

Gaan drink vandag met oorgawe uit jou kristalglase, jy is spesiaal genoeg!

Friday, September 30, 2011

Die gewoontes wat ons ry

Ek is ‘n roker, en dit wat mense van rook sê is baie waar. Dit is seker die moeilikste gewoonte om af te leer, want dit is meer as ‘n verslawing. En ek leer baie uit my rookgewoonte uit, wat so absoluut waar is van alle gewoontes wat ek aangeleer het.

Daar is ‘n verskoning daarvoor:

Almal ken die aanhaling: “Elke straatvrou het ‘n storie”. Alle rokers wil ophou en het ‘n strategie geformulleeer van hoe en hoekom hulle gaan ophou. Gesondheid en emfiseem is natuurlik die grootste hiervan, alhoewel geen waarskuwing op ‘n pakkie sigarette ons afskrik nie. Iemand sê nou die dag in die rookplekkie by Brooklyn Sentrum vir my: “Smokers are a dying breed”.

Almal van ons wat rook het ‘n verskoning daarvoor wat ons baie keer nie eers presies weet wat die werklike rede is nie. In die ou swart en wit films was die absoluut “cool” om te rook. Ek kan onthou dat my oupa gerook het, en ek was absoluut gefassineerd met hom en sy rookgewoonte. Hy het sy grys hare agteroorgekam en as hy sy pak aangehad het, het hy gerook soos James Bond.

Ek was baie sportief op skool en het nie gerook nie, spesifiek vir daardie rede. Op Universiteit het ek besluit om te rook, want dit was iets wat ek altyd wou gedoen het. Ek het na die kaffee gery op ‘n dag en vir my ‘n pakkie Kent gaan koop, dieselfde as wat my oupa gerook het. Aan die begin het dit moeilik gegaan, want ek het maar gesukkel om my sportiewe longetjies gewoond te maak aan die vreemde ding. Maar kort voor lank het dit vir my lekker geraak en normaal. Selfs ‘n slegte gewoonte word naderhand vir my die norm en aanvaarbaar.

Elkeen van ons het verskillende verskonings, dalk groepsdruk of dat ons wil gewig verloor. Maar baie keer gebeur dinge net en raak ons gewoond aan iets, sonder dat ons werklik daaroor ‘n wilsbesluit neem.

Ons lieg vir onsself daaroor:

Elke keer wat jy ‘n pakkie optel met die woorde: “smoking is dangerous to your health”, vertel ons onsself dat ek mos nog nie siek is nie, en dat dit tog nie so erg kan wees nie. Alhoewel alle rokers wil of moet ophou, of dit nou vrywillig of gedwonge deur emfiseem is, hou mense eenvoudig nie op nie. Ons vertel vir almal dat ons gaan, maar ons is nie werklik eerlik nie. Ons is bewus van die “probleem”, maar ons doen niks daaraan nie.

Dit is amper soos ‘n alkoholis wat slegs die gewoonte kan breek as hy dit in die eerste plek erken. Om op te staan en bewustelik te erken. Ek gebruik rook as ‘n voorbeeld, want soos met ander gewoontes voel jy nie die impak van jou daad elke dag of onmiddelik nie. Mense met ‘n gewigsprobleem en verslawing aan sjokolade wys nie onmiddelik op die skaal dat jou 300 gram Aero gelyk is aan 300 gram verhoging in jou gewig nie. Die skade van jou aksies is uitgestel, en daarom is dit vir jou onwerklik.

Omdat die konsekwensies in die toekoms is, glo ons dat daar ‘n kitsoplossing in die toekoms gaan kom wat dit gaan wegneem, so daarom is ek nie bekommerd daaroor nie. Daar sal tog ‘n nuwe vetpilletjie kom wat jy kan neem, of jy kan mos altyd gaan vir plastiese sjirurgie, so moet nie nou bekommerd wees oor jou gewoontes nie.

Ons vertel ook vreeslik baie stories van mense wat hulle hele lewe lank gerook het en nooit probleme opgetel het nie. Ons vertel van toe ons verlede week by die dokter was vir ondersoeke, dat die dokter nie kon glo dat ons rook nie, want ons is gesond.

Ons is reaktiewe kreature:

Omdat die konsekwensies in die toekoms is, glo ons dat ons die probleme dan sal hanteer en kan hanteer. Ek maak wat ek wil, en vat die pak slae wanneer dit kom. Nou eers die genot van my Dunhill, later die ronddra van ‘n suurstofmasjien. Nou eers die Aero, later die liposuction. Nou eers die uitskel en sleg hanteer van my huweliksmaat, later die jammer en die bos blomme. Nou eers die uitskel en irritasie met my kind, later die koop van ‘n playstation. Nou eers die kas wyn, more die hoofpyn en panado’s.

Ons is almal deeglik bewus in ons harte, en die literatuur herinner ons die hele tyd daaraan dat ons in die oomblik van NOU leef. Elke sigaretjie, elke skelwoord, elke Aero is in die NOU, maar het konsekwensies in die NETNOU. Elke woord en aksie van hierdie oomblik is die steentjie waarmee ek my more bou.

Die toring van Pisa is ‘n goeie beeld om te gebruik. Ons skewe bouwerk word vir die mense om ons ‘n besienswaardigheid, omdat dit skeef is. Jy sien almal wat al daar was met hulle foto’s van hoe hulle dit probeer regop hou. Almal om ons wat lief is vir ons probeer deur hulle aksies ons skewe bouwerk regop hou en keer dat ons nie val nie. Maar later verlaat mense ons wanneer hulle begin agterkom dat ons een ding sê, maar ‘n ander bedoel. Ons hou aan en aan om skeef te bou.

Die toring van Pisa het die beste ingenieurs nou al probeer stut en regop hou, maar hulle kan dit net keer om nie te val nie, maar skeef is skeef. Hulle kan nie die tyd terugdraai en gaan verander wat in die verlede gebeur het nie. Alhoewel ons dus dink dat my lelike woorde aan my huweliksmaat later reggestel kan word met ‘n verskoning, kan die verskoning nie die skewe bouwerk wegvat nie, dit kan net die gebou keer om nie om te val nie. Die pilletjies wat ek gaan drink om op te hou rook gaan nie my goeie sportiewe longe vir my teruggee nie, dit gaan net keer dat ek myself nie tot in die afgrond in rook van die dood nie.

Reaktief is dus net stutte wat die skewe bouwerk regop hou.

Wat is die antwoord dan:

Om die lewe te bou wat jy wil, het jy nodig om bewustelik elke dag en elke oomblik te bou. Elke sigaret wat jy aansteek het die vermoë om die gebou te laat kantel. Elke woord wat jy spreek, elke aksie, elke gebaar is ‘n bousteen. Jy moet egter besef hoe belangrik elkeen van hierdie steentjies van sekondes in jou hand is. Waar jy dit gaan neersit, en hoe!

Wees versigtig om ook in jou aksies verskonings te maak en almal om jou te blammeer. “Almal om my het gerook of gedrink en nou doen ek dit ook”. “Niemand het gelukkige verhoudings nie, daar is nie ‘n volmaakte manier nie, dit is my persoonlikheid”. “Ek was nog altyd sus of so”.

Wees ook versigtig om beloftes te maak wat jy in jou hart weet jy gaan breek. Mense belowe daagliks dat hulle gaan verander of gaan ophou om sekere dinge te doen, terwyl hulle in hulle harte glo dat hulle dit nie gaan of wil doen nie. Hierdie leuens is ook maar net stutte van riet gemaak, want mense sien later daardeur en besef dat hulle ons nie kan vertrou nie.

Moet ook nie alles aan die groot klok ophang wanneer jy ‘n gewoonte wil breek nie. Die beste manier om ‘n ding te doen, is subtiel, gebore uit jou hart. Jy gaan dalk soms nie heeltemal dit regkry nie, so dan stel jy niemand teleur nie. As jy besluit om liewer nie so te baklei met jou huweliksmaat nie, moenie vir hulle sê dat jy dit gaan doen nie, doen dit net, hulle sal self agterkom dat jy verander het.

Die wêreld gee applous vir aksie en nie idees nie. Mense om jou wat sien dat jy probeer, al kry jy dit nie heeltemal reg nie, gaan baie meer respek kry vir jou. Wanneer jy probeer om op te hou rook, beteken nie jy gaan nooit weer rook nie, dit beteken jy is bewus van jou verslawing en jy doen iets daaraan.

Die belangrikste van die ophou, is dat dit nooit kunsmatig moet wees, of om iemand te manipuleer of tevrede te stel nie. As jy jou eie huis bou waarin jou kinders moet leef en veilig moet wees, gaan jy natuurlik meer moeite daarmee doen, as wanneer jy iemand anders se huis vir hulle bou. Wees daarom eerlik met jouself oor jou eie aksies waarmee jy nie tevrede is nie, en begin reguit en effektief bou, uit jouself en vir jouself.

Ons is kreatiere van gewoontes, maar as jou gewoonte jou en jou doelwit nie positief bedien nie, verander dit NOU!