Wednesday, November 21, 2012

"Terme en Voorwaardes geld"

 

Dit is vir my opvallend dat amper elke advertensie op die radio deesdae eindig met die woorde: “Terme en Voorwaardes geld”.  Die advertensie begin op so ‘n manier wat jou ore laat spits oor die nuwe BMW wat jy kan koop, die ekstras wat jy ontvang, hoe goedkoop die maandelikse terugbetaling is en dat jy eers in Maartmaand gaan begin betaal.  Dan kom daardie laaste sinnetjie wat jou amper laat vergeet wat hulle geadverteer het en jou keer om onmiddelik die eerste BMW handelaar te soek.

 

Ek verstaan baie goed dat die maatskappye hulleself moet beskerm en dat nie almal kan kwalifiseer vir die spesiale aanbieding nie.  Indien jy oor die laaste klompie jare, met die nuwe kredietwet, iets op skuld wou koop, sal jy met my saamstem dat dit ‘n baie intensiewe proses geraak het.  Jy moet allerhande dokumente lewer en dan word daar nog ondersoek gedoen by ‘n kredietburo om vas te stel of jy wel kan kwalifiseer.  Dit kan soms vir jou voel asof daar oor jou geoordeel word en jy staan soos ‘n skoolseuntjie voor die hoof se kantoor met jou hoed in die hand.  En dan het jy ook boonop die vrees dat jy te lig bevind sal word en nie die heerlike leersitplekke van die nuwe BMW gaan geniet nie.

 

Hierdie gevoel van oordeel is deel van ons menslike natuur, waar jy voel jy weeg en te lig bevind, of nog erger waar mense jou te lig bevind om te kwalifiseer vir hulle aandag, liefde, tyd en geld.  Ons weet dat oordeel nie iets nuuts is wat ons nou ervaar nie, want die Bybel waarsku ons reeds dat ons nie mag oordeel nie, want die oordeel waarmee ons oordeel sal gebruik word om ook oor ons te oordeel.  Dit beteken dus dat die stok wat ek optel om ander mee te slaan, uiteindelik die stok word waarmee ek geslaan word. 

 

Ek het baie lank gewonder oor die term “oordeel”, want beteken dit nou dat ek alles eenvoudig net moet aanvaar in die lewe?  Beteken dit dat daar geen regstelsel of straf vir misdadigers moet wees nie?  Sou dit dan ook beteken dat ek in ‘n verhouding waar ek fisies aangerand word moet bly?  Is alles maar net aanvaarbaar omdat ek nie mag oordeel nie?

 

Een dag in ‘n gesprek met my ma, het sy die saak vir my baie mooi duidelik gemaak wat ek graag met my wil saamneem in hierdie nuwe jaar.  Sy het gesê dat daar twee maniere van oordeel is, die eerste is “ver-oordeel” en die ander “be-oordeel”.

 

Ek dink dat dit die “veroordeling” is waarteen die Bybel ons waarku, want veroordeling handel oor iemand wat haarself aanstel en vanuit ‘n sogenaamde magsposisie na jou aksies kyk.  Dit word natuurlik mooi verduidelik met die gesegde dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, voordat jy die ander persoon op die splinter in sy oog moet wys.  En dit is natuurlik eenvoudig dat nie een van ons volmaak is nie, en daarom mag niemand hulleself aanstel oor ander mense en hulle ver-oordeel nie.

 

Ons menslike natuur is ook so ingestel dat as jy, soos hier bo veroordeel word en in ‘n hoek vasgedruk word, jy jouself sal verdedig.  Dit is in sulke gevalle waar mense jou gewoonlik aanval met daardie stok wat jy opgetel het en jou onmiddelik jou ook begin veroordeel.  Daar is twee interresante dinge wat hier ‘n rol speel.  Die eerste is ‘n term wat ons baie hoor, naamlik “die wet van aantrekking”.  Wat dit in kort behels is dat ek hout in ander se oë kan sien, wanneer ek hout in my oog het.  Ek trek dinge aan en sien dinge raak wat in my gedagtes aangaan.  Die persoon wat my dus veroordeel, of wat uit selfverdediging my op my hout in die oog wys, beide se ingesteldheid is ‘n houtproduk.  Miskien is dit die feit dat ons nie volmaak is nie wat aanleiding gee tot ons veroordeling van ander mense, want ons sien ons imperfeksies in hulle raak.  ‘n Goeie voorbeeld hiervan is natuurlik wanneer jy kinders het.

 

Wat “die wet van aantrekking” ons ook leer is dat ons fokus op wat ons in ons lewens is en ook wat ons toelaat om deel van ons lewens te maak.  As ek dus nie kan oordeel nie, hoe keer ek dat ek hout, of dit nou ‘n splinter of ‘n balk is, om in my oog te kom?  Moet ek dus nou maar net terugsit en alles in my lewe toelaat en aanvaar?

 

Dit is waar my ma se tweede punt inkom, en dit is dat jy nie nodig het om veroordelend te wees nie, maar dat jy ook die vermoë en die reg het om te kan beoordeel.  Elke mens het die reg om hulle eie stel “Terme en Voorwaardes” te kan skryf, en kan self bepaal wanneer iets of iemand nie daaraan voldoen nie.  Dit voel asof die BMW handelaar my veroordeel as hulle nie die motorsleutels vir my wil gee nie, maar eintlik weet ons dat nie almal kan kwalifiseer nie.  Verder ook is dit die handelaar wat op risiko is indien hulle vir almal net motorvoertuie uitdeel, want dan sou hulle teen hierdie tyd lankal bankkrot gewees het.

 

Om jouself en mense om jou te beskerm, nie net teen finansiële bankkrotskap nie, maar bankkrotskap op alle ander vlakke van jou lewe, moet jy besef dat jy die reg en ook die verantwoordelikheid het om jou eie terme en voorwaardes te skryf.  Die motorhandelaar skryf dit uit ondervinding en logika.  So moet ons ook uit die verlede gaan haal wat ons weet nie vir ons werk nie en dit inbou in die manier wat ek dinge beoordeel.  Ek moet ook logika aan die dag lê en sommetjies maak, want as ek besef dat die muur van steen gemaak is, gaan ek tog nie met alle geweld daarin vasry nie.  Ons as Christene het ook natuurlik die voordeel dat die Bybel ook sekere terme en voorwaardes het wat ek en jy gemaklik kan deel maak van ons eie stel reëls.

 

Om af te sluit, moet ek met integriteit leef, wat per definisie beteken dat alles wat jy sê en doen in lyn moet wees met hierdie terme en voorwaardes.  Jakobus 4:17 lees:  “as ek weet wat die regte ding is om te doen en ek doen dit nie, dan is dit sonde”. 

 

As ons so terugkyk op die jaar wat verby is, laat ons die lesse leer wat ons moet leer, en wanneer ons vorentoe kyk, laat dit jou jaar van integriteit wees waar jy jou aksies, woorde en mense be-oordeel en keuses maak op grond van wie jy werklik is.