Friday, January 27, 2012

Die belangrikheid van die konteks

Ek is mal oor die reeks “Chuck” en het gelukkig nou die hele nuwe reeks aanlyn gekyk. Wat vreemd is om so ‘n reeks so agtermekaar te kyk, is dat elke episode begin met ‘n opsomming van wat tot dusver gebeur het. Natuurlik is die reeks gemaak om een keer ‘n week uitgesaai te word, en mense vergeet wat gebeur het in die vorige episodes. Hierdie opsomming is ook nie net van die vorige episode nie, maar gaan partykeer terug na twee of drie episodes voor dit. Dit is duidelik dat as jy nie weet wat die konteks is van wat gebeur het in vorige episodes nie, jy geen idee gaan hê waaroor die huidige episode handel nie.

Die definisie van konteks is eenvoudig. Dit is informasie oor gebeure in die verlede wat lig werp op die verstaan van die hede. Dit is die storie van mense van hulle reis en wat hulle hier gebring het, hulle denke, idees en kultuur. Konteks is belangrik, aangesien ek daarsonder sekere aannames maak en die huidige episode vir my geen sin gaan maak nie. My oumagrootjie het altyd gesê: “My kind, jy kan nie weet hoe iemand se voete voel as jy nie in hulle skoene geloop het nie”.

In sielkundige sessies, vra die terapeut altyd vir jou vrae. Daar is baie grappies hieroor, maar hulle doen dit met ‘n rede. Jy is nie hier waar jy nou is per ongeluk nie. Daar is ‘n storie agter die storie, en die storie gee vir ons die antwoord oor hoekom jy hier is. Dit vertel vir ons hoekom jy so voel, hoekom jy so optree en ook hoe jy in die toekoms dinge gaan hanteer en doen. Almal het ‘n konteks en ‘n storie.

Om die konteks mooi te verduidelik, kom ons neem die voorbeeld van somme maak. Kom ons gebruik die voorbeeld van die getal 2 as die antwoord. Deur my vraag na die konteks, verstaan ek wat bo die lyn gebeur het om by die antwoord uit te kom. Dit is daardie a-ha oomblik waar jy besef dat die persoon 1 en 1 bymekaar getel het om by 2 uit te kom. Konteks is dus belangrik sodat ek die hele som kan verstaan.

So kan ek net mense om my verstaan en met hulle saamleef as ek hulle hele som verstaan. Ons weet mos wat gebeur as jy “assume”, jy maak ‘n gat van jou en van my. Daar is natuurlik verskeie maniere om by die antwoord van “2” uit te kom, jy kan byvoorbeeld 1 van 3 aftrek. Maar dit is jou manier, maar dit is nie die enigste manier nie.

In jou eie bestaan, en in verhoudings met ander leer ons baie keer dat jy eers moet verstaan, voordat jy verstaan kan word. Ek dink dat baie verhoudinge tussen mense verkeerd loop oor die tekort aan kennis van die konteks. Daar is twee redes hiervoor, die een is natuurlik aannames (dat almal dink en doen soos ek en na die wêreld kyk deur my kleur bril) en die onvermoë om ander maniere van doen en dink (konteks) te aanvaar as nog ‘n opsie om by die antwoord uit te kom en mense te dwing om dit op my manier te doen.

In beide gevalle gaan dit nooit oor die ander persoon nie, maar oor myself. Om iemand se konteks nie in ag te neem nie, of daarna te vra nie, beteken ek gee gladnie om nie. In verkope leer ons dat jy iemand se guns en vertroue wen deur hulle uit te vra oor hulle konteks. Jy vra vrae oor waar hulle vandaan kom, of hulle kinders het en wat hulle stokperdjies is. Mense hou daarvan om hulle stories vir jou te vertel. In verkope is die doel natuurlik selfsugtig, want jy wil iets aan hulle verkoop, en kan dit net doen as hulle jou vertrou. Die beginsel is egter dieselfde as in verhoudings. Iemand wat vir my omgee doen moeite met my en stel belang in my storie en laat my toe om my storie te vertel.

Wanneer ons in verhoudings mense toelaat om hulle storie te vertel, gaan dit oor die erkenning van hulle menswees. Dit is die belangstelling in iemand en die aanvaarding dat hulle hulle eie storie mag hê. En hoe meer ons mense toelaat om hulle stories te vertel, hoe meer vertrou hulle ons, en hoe dieper gee hulle ons ‘n loerkans in hulle siele. Hoe meer jy van iemand weet, hoe beter is jou verhouding met daardie persoon.

Dit is soos jou vrou wat by die huis kom na werk en so bietjie ontstoke is. Deur navraag te doen oor die agtergrond daarvan en dat dit haar baas is wat iets van haar verwag het om klaar te maak op die nippertjie voor sy moes ry, werp lig op haar houding. As ek nie navraag doen nie, gaan sy in die eerste plek voel dat ek nie omgee nie, en kan dit tot konflik lei. As ek nie navraag doen oor die agtergrond van die woede nie, kan ek dalk die aanname maak dat ek iets verkeerd gedoen het en sy vir my kwaad is.

Jy sien, deur vrae te vra, maak jy jou verstaan van ‘n situasie soveel beter. Jy kan agterkom hoe die ander persoon werk, jy sit met die antwoord van 2, maar jy leer dat een persoon ‘n “plus” mens is wat altyd dinge wil plus, so om by jou antwoord uit te kom, gee getalle vir hulle wat hulle kan optel. Ander mense is weer “aftrek” mense, daarom weet ek dat ek vir hulle getalle moet gee om af te trek om by die antwoord uit te kom. Al kan mense my verras, in die meeste gevalle kan hulle nie verander wie hulle is nie, hulle kan verseker ook nie teruggaan in die verlede en hulle konteks en wat met hulle gebeur het verander nie.

Dit is makliker om mense te hanteer, soos wat hulle is, want dit bring baie minder spanning as om van hulle te verwag om iets te wees wat hulle nie is nie. Ek moet ook nie mense kritiseer vir hulle konteks nie, want dit is iets wat hulle nie altyd oor beheer het nie. Ek moet nou maar eenmaal dit aanvaar, wat natuurlik die toppunt van liefde is, om iemand toe te laat om hulleself te wees. Wat maak dit nou in elkgeval saak as iemand ‘n optel-mens is, en ek ‘n aftrek-mens is, solank ons by dieselfde antwoord uitkom wat ons beide na soek.

Ons kan natuurlik in ons interaksie met mense leer om beter te kommunikeer. Ek het dalk net in ‘n situasie die twee getalle 3 en 1, en alhoewel my maat ‘n optel-mens is, kan ek mooi vir hulle verduidelik dat hulle in hierdie spesifieke situasie, dalk eerder moet aftrek, as om op te tel. Ek doen dit nie omdat ek hulle kritiseer oor die feit dat hulle optel-mense is nie, maar eerder omdat die omstandighede vir my ‘n 3 en ‘n 1 gee, en omdat optel nie in hierdie situasie gaan werk nie. Onthou altyd dat, as jy mense met verskillende idees bymekaar sit, gaan mense altyd terugval op wat hulle ken, en altyd eerder wil optel as aftrek. Mense is nou maar eenmaal mense van gewoonte, maar deur effektiewe kommunikasie, en ken van my maat, kan ek vir hulle die syfers gee wat nodig is, en hulle bekragtig deur hulle toe te laat om hulle natuurlike manier en natuurlike konteks te laat deurvloei na die antwoord toe.

Ons ken ook die spreekwoord oor konteks in Engels wat sê: “Every whore has her story”. Alhoewel ek ‘n konteks van my eie het, is dit nie nodig dat my konteks ‘n verskoning word vir wat ek doen nie. Elke liewe dag skep ek konteks van more, so ek het ‘n keuse elke dag hoe ek optree.

Veral wanneer die getalle met optel nie by die regte antwoord uitkom nie, moet ek myself ook ken, en aanpas. Ek kan nie van eeue se wiskundiges verwag om skielik die getallelyn te verander om my te pas nie. Ek moet daarom myself ook ken. Ek moet weet dat my tendens van optrede is om op te tel, maar genoeg kundigheid aan die dag lê om te weet dat ek met die getalle tot my beskikking, soms moet aftrek, maal of deel.

Soms is ons so kwaad vir die wêreld omdat die getalle wat ek kry, nie met optel by die antwoord wat ek verlang kan uitkom nie. Ek gooi ‘n depressie en ‘n aggressie, nie omdat die antwoord verkeerd is nie, maar omdat ek nie aangeleer het om aan te pas by die getalle wat ek in die som het nie. Jy het natuurlik al die reg om gemakliker te voel met optel, maar die lewe gaan nie altyd oor jou gemak nie, maar of jy by die antwoord wat jy soek gaan uitkom. Soms moet ek diep delf, en dalk die hulp van ‘n sakrekenaar of Excel inroep om my te help, maar daarmee is ook nie fout nie.

So, alhoewel ek en die mense om my elkeen ons eie stories het wat ons in ag moet neem, mag dit nooit ‘n verskoning word nie. Ons kry onsself jammer omdat ons somme nie uitwerk nie, maar dalk het dit te doen daarmee dat ek nie my konteks verstaan en weet dat ek ‘n optel-mens is nie. As ek weet wie ek is, en dat ek ‘n optel-mens is, kan ek maklik teruggaan op my stappe en gaan kyk wat ek verkeerd gedoen het. Stoere mense gebruik hulle konteks as verskoning, groeiende mense leer daaruit en maak hulle lewens verder baie beter, deur ander dinge aan te leer, soos om af te trek, te maal en te deel, sodat hulle by die antwoord uitkom wat reg is.

Die hele wêreld handel oor kommunikasie, en ek kan net kommunikeer as ek myself en die om my se konteks, werkswyse en optredes verstaan. Selfkennis is die begin, want dit gee vir my die spieël waarteen ek ander se konteks kan opweeg, waar ek raakpunte en werkswyses in kan beoordeel.

So vandag, gaan doen moeite om uit te vind hoe jou kop werk, en hoe ander om jou werk. Hanteer mense se konteks met deernis en sonder oordeel. Gee die mense om jou getalle wat hulle maklik en met hulle eie konteks-manier by die regte antwoord gaan uitbring. Wees aanpasbaar en probeer nuwe maniere om by die antwoord uit te kom, want as jou antwoord nie reg is nie, is die probleem nie altyd die getalle nie, maar hoe jy daarmee werk.

Geniet jou dag!

No comments:

Post a Comment