Friday, July 29, 2011

Resessie Lewe

Ek sit nou gister in een van daardie heerlike sessies oor die ekonomie. Oulike grafieke met strepe en mooi prentjies en spekulasie galore. Jy sien, die ekonomie werk mos nou so:

Elke land het mense. Die mense werk vir maatskappye en produseer produkte. Hierdie maatskappye en mense verkoop hierdie produkte aan mense, en met die salarisse wat hulle verdien koop hulle nou weer op hulle beurt produkte. Nie net in hulle eie land nie, maar hulle voer ook hulle produkte uit en verkoop dit aan ander lande, en voer produkte in wat hulle by produsente uit ander lande koop.

Omdat mense nou nog meer geld wil maak, verkoop hulle ook aandele in hulle produserende maatskappye aan mense op die aandelebeurs. Hoe meer in aanvraag produkte is, hoe meer wins kan ek maak op my produk, en die teenoorgestelde is ook waar.

Wat hierdie nou ‘n vreeslike oulike speletjie maak, is dat dit is soos klein kindertjies wat op ‘n slim manier “raai-raai-riepa” speel. Hierdie sessies in die ekonomie wil vir ons ‘n kykie in die glasbal van die toekoms gee, en ‘n aanduiding wees van watter tipe besluite ons moet neem met produkte en in watter maatskappye en lande ons moet bele, en hoekom!

Hierdie analiste probeer met data en feite uit die verlede die tendense monitor. Die grafieke wat ons trek probeer 2 dinge doen, eerstens natuurlik vir ons wys op die kort- en langtermyn in watter rigting hierdie tendens loop, op of af. Tweedens probeer dit vir ons die interafhanklikheid van 2 sake op een grafiek wys, bv. Die goudprys en die rand op een grafiek. Dit noem ons die tegniese analise in die ekonomie.

Wat ons dan ook doen is om sekere dinge na te kyk soos werkloosheid (want as mense nie werk het nie, het hulle nie geld nie en kan hulle nie produkte koop nie), politieke situasies (uitsprake van politici oor wat hulle planne met myne is) en sosio-ekonomiese aksies (soos Chinese wat nou meer geld verdien en uit statistiek nou meer luukste artikels koop).
Dit laat my toe nou dink daaraan dat ek dink die lewe ook so werk. Elkeen van ons is ‘n maatskappy op ons eie met ons eie grafieke. Ons het elkeen ‘n waarde en ons glo dat hierdie waarde iets is waarin ek en die mense om my graag in sal bele, nie noodwendig met geld nie, maar met tyd en energie en met liefde. Ons het ook ‘n Prys-Verdienste syfer en ons is ook maar baie keer in kompetisie met die mense om ons vir beleggings in ons.

Ons is dus as ‘n “produk” of “maatskappy” in kompetisie in die mark rondom ons vir werk en aandag. Ons is natuurlik ook interafhanklik van ander tendense in die wereld rondom ons. ‘n Jong maatskappy het baie kere nie soveel ondervinding nie, en ons verwagtinge is dat hierdie maatskappy hulleself nog nie bewys het nie, maar ons vat soms ‘n risiko met hulle. Ouer maatskappye het weer die uitdaging dat hulle geykte idees het, en produkte het wat nie meer so in aanvraag is soos die jonger IT maatskappye nie.

Toe sit ek daar ook en wonder hoe my grafiek sou lyk. Ek het in my 20’s met vreeslik baie durf en motivering weggespring en my drome nagejaag, maar intussen het baie resessies en issues my getref wat redelike afwaartse kurwes tot gevolg gehad het. Tye waarin ek nie dink mense sommer aandele in my sou koop nie. Daar was ook natuurlik ‘n verandering in die sosio-ekonomiese situasie waarin ek moes leef, en daar was ook ‘n verandering in personeel en direksie gewees. Elke verandering in die direksie, het ook die rigting van my maatskappy verander. Daar het natuurlik ook ‘n paar “laste” bygekom, en soms ook ‘n klomp “bates” wat ek verloor het. My inkomse en uitgawestaat het ook nie altyd so bestending voorgekom nie, die uitgawekant het baie gegroei, terwyl ek net soos enige maatskappy sukkel om die inkomste op te skuif.

Ek het ook probeer om nuwe produkte te ontwikkel, ure en maande en jare daaraan spandeer, om daaruit ook ‘n verlies te maak. Ek het ook in verskillende vennootskappe deelgeneem, sekeres wat tot voordeel van my maatskappy was, en ander wat nie was nie.

Daar is ook in my lewe ‘n paar “resessies” gewees wat my grafiek beinvloed het. Die vraag is egter nou in my lewe: “In watter rigting is die oorhoofse groei oor die afgelope 40 jaar?” Is daar ‘n opwaartse of ‘n afwaartse kurwe? Ek praat nie hier van die klein dippies in winsgewendheid en produktiwiteit nie, maar oor die algemeen oor die langer tendens in myself.

Daar is natuurlik ook iets anders wat ‘n rol speel, en dit is presies dieselfde as in Amerika nou waar die regering oorhoofs ingespring het om die omstandighede rondom ons so te bestuur en te beheer met rentekoerse, wat dit weer moontlik maak vir maatskappye om winsgewend te word. Op dieselfde wyse is daar ook ingrype in ons lewens wat ons regop hou, soos ook onder andere ouers, vriende en natuurlik die grootste van alles God.
Een belangrike ekonomiese tendens wat mense ook na kyk is die sentiment van die verbruiker. Het mense weer hoop? Is mense nou weer lus om te droom en ideale te he? Dit is een van die grootste tendense wat ‘n mens kan he in die ekonomie, mense wat hoop het. Is daar ‘n toekoms? Dit is hoekom die ekonomiese resessie so ‘n invloed in mense se lewens het, want mense kan nie ‘n toekoms sien nie, mense weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, en oor die algemeen dink mense dat dinge nie beter gaan word nie.

Maar, terwyl al hierdie dinge gebeur en ons ge-analiseer en geweeg word, gaan die lewe voort. Elkeen op sy eie kluit, en elkeen op sy eie manier. En een ding is soos ‘n paal bo water, en dit is dat dit nie saakmaak hoe ander jou sien nie, en selfs ook nie hoe jy jouself sien nie. Hoe groot jou maatskappy is of hoe bankkrot jy is nie, of iemand jou produk koop en aandele wil besit, of jy ‘n enorme groot gebou is, of ‘n straatverkoper, suksesvol of ‘n mislukking is of voel, ‘n Armani pak aanhet, of sommer met jou “stokies” rondloop nie – die een ding wat altyd vir ons hoop gee, die een “persoon” wat enige tyd al ons aandele sal koop en al my produk sal opraap, vir wie my kurwe op die grafiek niks beteken nie, vir wie my balansstaat en inkomste en uitgawestaat nie saakmaak nie, is die almagtige God!

Dit is die enigste hoop waarop ek my fokus kan stel, en deur Sy oe wat ons na die mense rondom ons moet kyk en in besonder na onsself!!!!

Monday, July 18, 2011

Die donkie in ons

Die afsterwe van Al Debbo, het my laat dink aan die liedjie: "Die donkie is n wonderlike ding".

Een van die spreekwoorde oor n donkie is dat alhoewel n donkie stuurs en soms dom voorkom, n donkie sy kop net een keer stamp.

Ek kyk na my lewe en die lewe van almal om my en sien hoe ons patrone, wat ons soveel keer al gesien het nie werk nie, herhaal, en dan verbaas is as die uitkoms dieselfde is.

In ons doen en late skep ons patrone van optrede. Ons reageer op impulse met dieselfde aksies. Einstein het gese dat die toppunt van "stupidity" juis dit is. So moet ons dus ooreenstem dat ons nie veel beter is as donkies nie, en elke keer ons koppe stamp.

As jy nou mense obserweer, en jy gee hulle raad, wys mense hulle "intellektuele gestremdheid" verder deur verskonings te maak. "Ek kan nie my persoonlikheid verander nie", is een van die verskonings.

Met hierdie optrede gaan jy in jou lewe geen vordering maak nie. Die rede hiervoor is wat die denker Osho so mooi opsom: "If you rationalize the bad things in life, you accept it to be fine, and thereby it will surely happen to you again".

Watter deel van jou is persoonlikheid, aksie of reaksie op impulse? Daar is niks in jou lewe wat jy nie kan verander nie. Die laaste maatskappy wat ossewaens gemaak het, het die stanpunt gehuldig dat hulle vir geslagte al dit doen, en dat mense altyd ossewaens gaan wil koop, want dit is in ons bloed.

Ek weet nie wie dit gese het nie, maar n ander aanhaling is: "in times of change, the stupbourn will find themselves beautifully equipped for a world that no longer exist".

Veral ook in Suid-Afrika vind ons dit dat daar aan soveel kante mense is wat vasval by soveel vaste ou idees, en nie oop is vir die nuwe denke van die konteks om hulle nie. So marginaliseer hulle hulleself en word uitgewerk. Die enigste mense wat hulle volg is die wat net so blind is vir die veranderinge om hulle en ook nie kan aanpas nie.

In die wereld van die individu waarin ons ons bevind, sien ons dit al meer. Niemand is groter as die wereld of die mens langs hom of haar nie. Miskien is dit die rede vir die mislukking van soveel verhoudings, waar mense net eenvoudig nie wil verander nie.

Die Bybel stel dit duidelik dat jy jou naaste moet liefhe soos jouself. Dit kan nie net oor jou gaan nie, en ook nie net oor ander nie, maar in balans.

As jy dus wil funksioneer en suksesse wil maak van die lewe om jou, wees gefokus op wat werk nou en wat nie werk nie.

As iets nie werk nie, hou op om alles en almal en die konteks te blammeer en te wag totdat die omstandighede dalk eendag gaan aanpas by wie jy is, of te soek na iemand wat by jou denke inpas. Dalk le die antwoord daarin dat jy jou aksies en optrede wat jy weet nie werk nie moet uitdaag, vermy en moet verander om 'n gelukkiger mens te wees en te word.

Hou op om verskonings te maak vir jou onsuksesvolheid, verander dit. Dink jy Thomas Edison het met die eerste probeerslag die gloeilamp ontwikkel. Ek dink dit het ure se frustrasies geneem en baie eksperimente.

So, dink ek, al jy jou lewe wil "invent" en werklik gelukkig wil wees, moet jy bereid wees om met deursettingsvermoe en "trial and error" te probeer, totdat dit werk. Dit is beter as om dieselde eerste nie-werkende prototipe oor en oor te bou, en dan in ongeloof toe te kyk as dit nie werk nie.

Die lewe en geluk is n reis waarin jy baie ompaaie moet loop om by tydelike bestemmings uit te kom.

Verander die uitkoms van jou lewe, en wees bereid om jou lewe te omvorm deur op te let, te fokus en oop te wees tot die veranderings wat nodig is vir 'n ander uitkoms!

En-En

Jy kan maar net deur jou facebook muur gaan en dan sien jy hoe ons almal soek na die antwoorde van die lewe. Elke dag “graffiti” ons talle aanhalings en ervarings wat maar bewys dat ons soekend is. Dit is veral waar in ‘n wereld soos ons vandag leef. Dit wil voorkom asof die groot skip van sekerheid verruil is vir ‘n klein hangkasdeur, wat ons elke dag met omstandighede meesleur, en wat sukkel om die golwe te kan breek. Asof die resep wat altyd gewerk het nie meer werk nie, en ons soekend is na die een antwoord.

Orals om ons soek die boeke, tydskrifte, Oprah, Dr Phil en almal na die resep en na die antwoord wat jy logies kan navolg om jou lewe sinvol te maak. Wat gebeur is dat ons dan van een resep na die volgende spring, en in ander se skoene en voorbeelde wil leef.

In tydskrifte is daar elke maand ’n ”Hoe om” artikel oor 6 maniere om ’n vrou te vang of 10 oefeninge vir ’n plat magie. Die wereld word in tye vasgevang in die filosofie van boeke soos ”the alchemist” en ”the secret”.

In die 90’s het alle besighede tot vervelens toe strategiese beplannings opgestel met missie, visie en aksieplanne. In persoonlike ontwikkeling het daar baie boeke ontstaan om jou te laat dink oor waar jy met jou lewe wil wees oor 5 jaar of wat jy op jou grafsteen wil sien. Dit alles net om nou na ’n paar jaar te sien dat ons onsself baie goed geposiosioneer het vir ’n wereld wat nie meer bestaan nie. En dan gebeur daar iets vreemds is dat mense soms, net soos in die ”hoe om” artikels, telkens weer verval in ou patrone, of in nuwe resepte. En een van die probleme is dat ons die dinge elk so verabsoluteer dat ons alles anders saam met die baba by die venster uitgooi. Dalk is dit die logiese wereld van wiskunde wat ons geleer het om so te dink.

Ek het vriende wat ongelooflik kos kan maak. Hulle het almal in hulle koppe presies hoe om ’n potjie te maak, maar hulle weet dat dit oor meer gaan as die resep, die beskikbaarheid van bestandele, die stoof en kultuur. My kos proe nie dieselfde as Jamie Oliver s’n nie, want ek pas digterlike vryheid toe op kosmaak en eksperimenteer oor hoe ek my pot wil maak.

Die logika en resepte is natuurlik goeie hulpmiddels wat ons wereld makliker, hanteerbaar en georganiseerd maak. Maar wanneer ons oor emosies en denke praat is dit nie altyd so maklik nie. Die probleem is die paradokse wat daar is rondom ons elke dag. ‘n Paradoks is juis dit, dat dit te midde van die logika en resep vir ons die ander kant wys, en ook dat konteks die resep kan buig.

Einstein praat van die paradoks van die tweeling. Die eerste bly op aarde en die ander een snel in die ruimte teen die snelheid van lig. Na ’n klompie jare kom die een in die ruimte terug en wat het gebeur, die een wat op aarde was is ouer, al is hulle ’n tweeling. Dit is vreemd aangesien beide van hulle in effek ewe oud is as ons ons konsep van tyd verabsoluteer. Tyd is dus relatief.

Die ander paradoks is die paradoks van die pyl en boog. As ek ‘n pyl uit ‘n boog skiet, dan sien ons almal hoe hy beweeg en vlieg. Sou ek die vlug van die pyl opbreek in momente, elke moment wat ek die pyl obserweer, dan staan die pyl in die oomblik van obserwasie eintlik stil. Dit is vreemd aangesien dit tog beweeg, maar stilstaan in die oomblik. Beweging is dus relatief.

In Literatuur en taal se Oscar Wilde “I can resist anything, except temptation”. Curry se paradoxks: "If this sentence is true, the world will end in a week”. Nihilistiese paradoks: “If truth does not exist, the statement "truth does not exist" is a truth, thereby proving itself incorrect”. Epicurean paradoks: "The existence of evil seems to be incompatible with the existence of an omnipotent and caring God". Almagtige God paradoks: "Kan ‘n almagtige wese ‘n klip skep wat selfs vir Hom of Haar te swaar is om op te lig?"

In die Bybel lees ons van God wat goed is en dat die onheil deur die ander kant (die duiwel) veroorsaak word. Die tien gebooie leer ons ook dat egbreuk sonde is. 2 Samuel 12:11 – So se die Here: “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oe neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.”
Ek wil nie graag hier vreeslik oor hierdie paradokse redeneer nie, maar die punt maak dat baie van die resepte van die lewe, dinge wat ons vas in glo en geen beheer oor het nie, relatief kan wees en kan afhang van allerhande dinge soos konteks en sienswyse.

Dit wil voorkom asof ons so geprogrammeer is dat ons ‘n antwoord soek. Die uitdaging is dat die wereld rondom ons elke dag verander, en alhoewel ek standpunte soos geloof en waardes en norme kan huldig, dit tog moeilik word om dit in ‘n wereld te kan toepas. In hoe verre moet ek dit wat ek standvastig in glo die wereld laat verander, en in watter mate moet ek die wereld my laat lei in die maak van my besluite?

In die soeke na die antwoorde hiervan, moet ons natuurlik ook ons konteks verstaan. Omdat ons meestal vanuit ‘n Calvinistiese stelsel grootgemaak is, is dit ons tweede natuur om dinge te kies wat ons onomwonde in glo, en alles wat daarteen indruis te veroordeel.

In die Bybel lees ons die verhaal van Barnabas en Paulus wat saam op ‘n sendingreis gegaan het. Barnabas en Paulus was boesemvriende en het dieselfde passie gedeel vir die verkondiging van Jesus se boodskap aan mense. Barnabas het toe ‘n boodskap gekry dat sy pa oorlede is in Jerusalem, en het besluit om terug te keer na Jerusalem om sy ma te gaan bystaan. Dit was vir Paulus ‘n ongelooflike slag en hy het dadelik Barnabas se geloof in twyfel getrek. Uit sy oogpunt, was niks anders meer belangrik in die wereld nie, net geloof en om te die boodskap van Jesus oor te dra. En hierdie tipe van oordeel is in elkeen van ons, en dit is die gevaar van “resepte”.

Ek kan dink dat jy, die oomblik wat ek die paradokse gelys het, graag daaroor wou redeneer. Ek dink een van die grootste dinge wat ons doen, en dit is uit ons afkoms van oordeel, dat ons nie kan glo dat 2 of meer standpunte wat mekaar weerspreek, op dieselfde oomblik kan bestaan nie. Ons moet mos ‘n konklusie maak, wat is nou reg en wat is verkeerd.
Die lewe is presies soos die pyl uit die boog wat terselfdertyd stilstaan en beweeg. In alles van die lewe vind ons hierdie paradokse. Hoe ek ookal beplan en glo en doen, dinge werk nie altyd uit soos ek dink en wil en glo nie.

Wat dit eintlik beteken is, ek is totaal en al geregtig op my geloof en wat ek wil dink oor die lewe, maar terselfdertyd kan ‘n ander se standpunt ook ‘n plek he, en kan dit dalk my standpunt beinvloed. As Jona nie werklik fisies in die vis was nie, beteken dit dat my hele geloof by die venster uitgegooi word? Natuurlik nie, want die boodskap het geensins verander nie.

Al die moeilike vrae in ons lewens het nie altyd ‘n antwoord nie, veral as dit by spiritualiteit en emosies kom, die sagte issues in die lewe. Salomo het self gese dat hy sekere dinge nie verstaan nie, soos hoe ‘n voël in die lug bly en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou werk. Die realiteit is, dat al verstaan ons nie hoe dinge werk nie, die voël bly steeds in die lug.

So, wanneer dinge in die lewe nie altyd sin maak nie, alles is nie veronderstel om logies volgens ons sin te maak nie. Baie dinge in die die lewe is nie die een antwoord nie, maar ‘n rigtingwyser na iets anders. Alles hoef nie die finale antwoord te wees nie, en 2 logiese teenoorgestelde dinge kan op dieselfde tyd een ruimte okkupeer.

Ek noem dit graag die en-en konsep, teenoor die of-of konsep van hoe ons na die lewe kyk. Dit gaan dus daaroor dat ek mag my opinies en idees huldig, maar ek moet nie alles wat daarvan afwyk oordeel net omdat dit nie dieselfde is nie. Weet en verstaan dat oordeel gevaarlik kan wees, en erken jou eie vooropgestelde resep waarmee jy oordeel met die spieel wat jy dink wat reg is.

Om te dink dat jy reg is is een saak, maar om te dink dat jy die enigste is wat reg is, dit is waar die probleem insluip.

Dink lekker verder daaroor: "En-En teenoor of-of"

Saturday, July 16, 2011

Vergeefse selfkastyding

Dink, wonder, glo
Wat hulle beplan en ookal dink
My uitkoms bou hulle onderstebo
Glo jou oordeel, misnoee en wonder
Oordeel julle gedagtes my minder besonder
Ek, gewillig, getrou beloftevol
Vergeefs tevrede maak probeer
Stille disrespek in enorme sneeubal
Tot die breukpunt van selfkastyding
Van probeer word wat julle my maak
'n stok vind tot daaglikse slae
Altyd byderhand
Net die rantsoene se krummels tuimelend
'n jammerte en liefde tot verstaan
Geensins in 'n hart
Tevergeefse warboel van probeer
So is dit my uitmekaarskeer
Met my God weier ek om sinoniem saam te glo
En te wees en word wat gedagtes my toesnou
Eensame verlange van 'n goddelike siel
Vasgevang in die gevangenis van ander se oog
Groei ek vlerke en vinne wat groei na my innerlike vrede
Om self te red die honger ,dors en pyn
Weereens die son te begroet
Om in my hart en in my siel te skyn
Totdat die pyn verdwyn
En die klok weer vir my hart begin draai
Alle maniere van my probeer
Sal niks die onheil in die oe ooit keer
Selfredding loer in die spieel en hart van n Skepper-God
Wat my weer by waters van rus in Sy arms laat le

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Tuesday, July 12, 2011

Kommunikasie

So 'n paar weke gelede sit ek in 'n onderhandeling met 3 Chinese. Die eerste verstaan so 'n bietjie engels en alles word aan hom verduidelik. Hy verduidelik die informasie in Chinees aan die eerste en op sy beurt praat die tweede met die derde.

Die kommunikasie gaan heen en weer, want die derde verstaan nie die dialek van die eerste nie. Dit het vir ure so aangegaan, en jy kan jouself indink hoeveel misverstande daar was.

Amper soos die speletjie wat ons op kampe gespeel het, waar ons in 'n kring staan en 'n woord in die rondte fluister. Aan die einde fluister die laaste persoon weer die woord aan ons en ons lag ons morsdood oor watter woord by ons uitkom aan die einde.

Ek dink toe daaraan hoe die onderhandeling 'n goeie voorbeeld van ons wereld is. Elke mens is eintlik sy eie land, met sy eie taal. Die rede is dat taal is nie iets wat sommer net eensklaps ontwikkel het nie, maar deur ervarings van eeue. Om die rede is elkeen van ons se "taal" ontwikkel deur ons afkoms, ervarings en kennisvlakke. Maar ook is geen taal superieur aan 'n ander nie, want jy kan groot woorde gebruik, maar in klein woordjies dieselfde boodskap oordra.

Mense wat werklik die kuns van die lewe het, is mense wat kan kommunikeer, mense wat kan hoor en wat hulleself verstaanbaar maak. Geen kommunikasie kan plaasvind sonder die twee komponente nie.

Ek is gladnie so 'n goeie kommunikeerder nie, aangesien dit vir my moeilik is om twee dinge te doen, myself uit te druk oor hoe ek werklik voel, en aan die ander kant werklik die insig in iemand anders se woorde te he.

Ek dink dat kommunikasie beslis 'n emosionele oefening is wat begin by hoe belangrik die proses vir my is. As ek in 'n winkelsentrum loop en hoor hoe Chinese praat wat niks met my uit te waai het nie, is dit totaal onbelangrik vir my. As dit aan die ander kant, soos in 'n besigheidstransaksie, vir my belangrik genoeg is en word, doen ek ekstra moeite met die proses.

Dit is hoekom ons, wanneer dit werklik op die keper kom, begin luister, omdat ons besef wat ons kan verloor. As ons die belangrikheid van die "hoor" verstaan, dan luister ons aandagtig.

Kinders wil nooit in die aande gaan bad nie, en 'n mens praat eers mooi, dan vermanend en dan eindig dit dalk in 'n skree-sessie. Met die skree-sessie en ultimatums van 'n loesing, hoor kinders jou onmiddelik en hardloop hulle badkamer toe en spring in die bad, want hulle besef die konsekwensies. Dit is die basis van goeie effektiewe kommunikasie, die belangrikheid daarvan.

Ons moet besef dat wanneer iemand met ons kommunikeer, selfs oor iets so eenvoudig soos om te gaan bad, daar 'n spesifieke rede en behoefte by hulle is hoekom hulle dit doen. As dit nie belangrik was nie, hoekom sal ons dan kommunikeer?

Dit is natuurlik in verhoudings een van die grootste klagtes by mense dat hulle nie "gehoor" word nie. Dit word in werklikheid 'n emosionele saak, want as ek voel ek nie gehoor word nie, dink ek dat jy nie belangstel of werklik vir my omgee nie. Dit is soos om met iemand te praat terwyl hulle besig is met ander dinge soos om op hulle selfoon te kyk en nie oogkontak te maak nie.

As ons dus rerig 'n sukses van verhoudings wil maak, moet ons mense laat ervaar dat hulle opinie en woorde vir ons belangrik genoeg is.

Een van die oulikste boeke wat almal seker gelees het is: "How to win friends and influence people" van Dale Carnegie wat die eerste keer in 1936 geskryf is. En in daardie tyd is hy gesien as een van die beste kommunikeerders. Carnegie is op een stadium genooi na 'n partytjie vir die aansien wat hy het. Na die tyd vra iemand vir die gasvrou of sy dink dat hy die wereld se bester kommunikeerder is, en haar antwoord was: "Ja, beslis!". Sy vra haar toe uit wat Carnegie gesê het, en haar antwoord was dat hy die hele aand niks anders gedoen het as om mense uit te vra na hulle lewens nie.

Hierin sien ons weereens, kommunikasie is nie om JOU boodskap oor te dra nie, maar om mense belangrik te laat voel, maar ook om 'n kykie in hulle lewens te kry en HULLE (taal, agtergrond, denke, filosofie en konteks) te verstaan. Dit gee natuurlik aan ons 'n idee van met watter woorde en op watter wyse ons ons boodskap aan hulle kan oordra. Van daar die spreekwoord oor kommunikasie: "First seek to understand, before you can be understood".

Carnegie het deur net vrae te vra niks van sy eie denke gekommunikeer nie, maar eerder mense belangrik laat voel en mense eerste gestel. Mense laat voel asof hulle idees en denke en konteks vir hom belangrik was. Of ons nou daarvan hou of nie, mense hou daarvan om oor hulleself te praat.

Ek dink dit is wat Facebook se skepper Mark Zuckerberg besef het en hoekom sosiale netwerke so 'n ontploffing ondergaan het, want dit is 'n plek waar jy oor jouself kan praat en kan spog met jou kinders se prestasies en waar jy jou foto's met mense kan deel. Dit is ook hoekom hy plek gelaat het vir "like" en vir kommentaar.

So kan ons baie maklik mense se lewens ondersoek en hulle konteks en profiel verstaan uit dit wat hulle op facebook sê en doen. Mense voel goed en belangrik wanneer hulle oor hulleself kan praat.

Ons kan ure filosofeer oor of die goed of sleg is, maar die uiteinde daarvan is dat mense nou maar eenmaal so is.

Wat verder kommunikasie bemoeilik is dat mense hulleself nie heeltemal kan uitdruk en sê wat hulle werklik dink en bedoel nie. As dit by verhoudings kom is dit nog moeiliker, aangesien sekere emosies nie in woorde omgesit kan word nie. Ek dink dit is die filosoof Heidegger wat gesê het dat ons probleem baie keer deur ons taal kom en dat daar nie noodwendig uitdrukking aan dinge in woorde gegee kan word nie.

Mense wat hulleself en hulle eie konteks en die taal wat hulle praat goed verstaan, kan baie makliker vir jou so naby as moontlik bring aan hoe hulle werklik voel en verstaan word.

So, ons moet ons eie taal en konteks verstaan, en ook die ander persoon s'n, en nie aanneem dat almal dieselfde taal en ervarings en afkoms as ek het nie. Ons hou natuurlik meer daarvan om ons te omring met mense wat ons taal praat, maar moet vir geen oomblik dink dat omdat dit dieselfde klink dat mense dieselfde bedoel met dieselfde woorde nie.

Ek het familie in Nederland, en ek het altyd gedink dat Nederlands dieselfde is as Afrikaans, maar tot my verbasing was ek al telke kere met 'n rooi gesig omdat woorde dieselfde klink en geskryf word, maar as gevolg van konteks is die betekenis daarvan verskillend. Dit bring ons weer terug na die verstaan van ander mense en hulle taal.

Wanneer ek in 'n vreemde land gaan toer, vind ek tog bietjie uit oor die land en watter taal hulle praat. Ek koop 'n woordeboek wat vertaal vanuit 'n taal wat vir my bekend is na die ander taal en wat dit dan kan terugvertaal. Alles kom terug ook na jou eie konteks en jy moet ook verstaan dat jy met almal met wie jy deel, 'n vertalende woordeboek gebruik.

Hoe beter jy jouself en jou eie konteks verstaan, hoe beter kan jy jouself uitdruk en hoe makliker word jy ook gehoor.

My pa het so 'n bietjie gesukkel om engels te praat, soos meeste afrikaners van sy tyd. Hy het altyd gesê dat die probleem is dat hy in Afrikaans dink en dan die frase wil vertaal. Klein kindertjies is hiermee ongelooflik, want hulle tel 'n taal so vinnig op, want hulle verwysingsraamwerk is soveel kleiner. So alhoewel jy jouself en jou taal goed moet ken om te kan vertaal, kan dit soms ook in ons pad staan. Alhoewel jy jouself baie goed moet kan uitdruk, moet jy ook outomaties begin om binne die konteks van die mense om jou te kan praat. Deesdae dink ek nie meer wanneer ek Engels praat nie, ek doen dit outomaties.

Ons is nogal uniek in Suid-Afrika waar ons soveel tale het, en ons sien hoe mense oopmaak teenoor ons wanneer hulle agterkom dat ons hulle taal magtig is, en hulle akkomodeer. As ons mense met hulle konteks nie so akkomodeer nie, ontstaan daar spanning en spanning lei tot konflik.

Kommunikasie tussen twee mense word baie eenvoudiger as ons ons taal met mekaar kan deel, en hulle dialek verstaan. So baie mense weet dat meeste kelners in restaurante deesdae van ander lande kom, maar hulle wil om die dood in Afrikaans bedien word. Hoeveel makliker is dit nie om net eenvoudig na 'n gedeelde taal soos Engels my kos te bestel nie?

Maar dit is weereens 'n voorbeeld waar mense net gehoor wil word, maar nie wil hoor of ander mense wil akkomodeer nie. Dit is presies wat ons in ons verhoudings en lewens doen, dit gaan altyd net oor my en myself.

As ek in 'n vreemde land kom waar hulle nie verstaan nie, gaan Afrikaans my nie baie ver bring nie. Ek moet selfs partykeer as ek na die stasie soek, oorskakel na klanke soos "Tjoekoe Tjoek" vir mense om te verstaan waarheen ek wil gaan.

So, hiermee eintlik 'n stuk vir myself en uit myself om met myself te praat en vir mense te wys dat hulle vir my belangrik is, na hulle te luister. Ook moet ek leer om hulle eers te verstaan voordat ek verstaanbaar gemaak kan word. Ek moet my eie taal wat ek praat vir die mense om my leer, en nie net aanneem dat hulle taal my taal ook is nie, en hulle taal outomaties te kan begin verstaan. En laastens, myself so goed te ken dat ek selfs in tjoek-tjoek woordjies, vir mense presies te kan sê wat ek bedoel, in hulle konteks gemeng met my konteks, maar in 'n taal wat hulle verstaan.

Lekker verder dink



Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!