Tuesday, February 7, 2012

Storm in 'n teekoppie

Die Engelse het ‘n spreekwoord wat sê: “a storm in a tea cup”. Wat dit eintlik beteken is dat as jou lewe net bestaan uit ‘n koppie en die grootte daarvan is, dat selfs die kleinste beweging daarin jou hele lewe omverwerp. Die oumense het altyd gesê dat jy, om gelukkig te wees, moet seker maak dat jy jou horisonne verbreed. Dit is hoekom dit so lekker is om te toer en die wêreld te sien, want dit laat jou bietjie groter dink oor die lewe as net jou klein huisie en jou klein lewetjie. Dit is ook nie altyd nodig om oor die see te gaan om dit te doen nie, maar jy kan sommer net deur bietjie te lees, jou internet te betree of met mense van ander standpunte te gesels.

Ek dink dat baie van ons depressief en sleg voel, en ons probleme vir ons lewensgroot lyk en klink, omdat ons sulke klein lewentjies het. Wanneer laas het jy so bietjie iets gelees wat jou lewenshorison verbreed? Suid-Afrikaners het maar daardie trek en eksplorasie ding in ons. Ons is dalk meer so as mense uit ander lande. Ons geniet nogal om te lees en ons algemene kennis van die wêreld om ons is baie goed.

Nou het ek weer met iemand uit Nederland gepraat, en kluisenaarskap is daar ‘n groot siekte. Natuurlik het die koue ‘n groot invloed dat mense eerder in die huis bly as om uit te gaan. Maar dit is ‘n feit, dat hoe kleiner jou lewe is, hoe makliker sien jy die probleme en krisisse in daardie ruimte raak. Nou een dag vra ek vir ‘n groep mense wie die President in Zimbabwe is. Tot my verbasing het min van hulle geweet dat dit Robert Mugabe is. Geen wonder dat hulle soveel krisisse in hulleself het nie, as hulle nie eers so ‘n klein bietjie weet wat aangaan om hulle nie. Wat my meer verbaas het, was die feit dat dit nie eers baie inspanning verg om dit te weet nie. Jy ry tog elke liewe dag in jou motor, of iewers hoor jy ‘n grappie of ‘n standpunt oor Zimbabwe.

Verder as dit, die krisisse in Zimbabwe het ook verregaande impak op ons lewe van elke dag. Dit het tog ‘n invloed op ons wisselkoers, ons handel met ander lande en ons sosiale lewe. Al stel jy nie in die politiek belang nie, jy ervaar tog elke dag dat daar meer en meer uitlanders jou in restaurante bedien. Jy kan tog agterkom dat daar meer en meer mense wat anders is as ons in die winkelsentrums. Jy moet tog iewers gehoor het van die rassisme in die woonbuurtes teen mense van ander lande en iewers daarmee te doen gehad het.

Dit wil dus voorkom dat ons, te midde van die klein bestaan wat ons voer, ook soms nie eers net ons ore oopmaak vir wat rondom ons gebeur nie. Mense wat nie so bietjie wil uitvind oor hoe dinge werk, of uitvra oor wat gebeur nie. Mense wat se lewens, wat normaal is, opgeslurp word in alledaagse dinge van kinders en huwelik en werk. Hoeveel mense om jou ken jy nog wat stokperdjies beoefen? Hoeveel mense ken jy wat bereid is om so effens net met oop oë op te let en nuwe idees te bestudeer? Hoeveel mense weet jy van wat die lus het om bietjie iets nuuts te leer, ‘n nuwe ding wat hulle nie voorheen geken het nie, of wat te vorder in hulle kennis oor dinge?

Ek klink dalk krities, maar ek besef al meer en meer dat dit dalk een van ons probleme is hoekom mense soveel drame het met hulleself en met mekaar. Mense wat met hulle gesigte so teen die prentjie staan dat hulle nooit die mooi kunswerk kan sien nie. Die impressioniste het geskilder met sulke fyn kolletjies en strepies. As jy naby die skildery staan kan jy omtrent net die kolletjies sien. Deur terug te staan, en jou visie verbreed, kry jy ‘n idee van die prentjie wat eintlik voor jou is, maar as jy so teen dit staan, sal jy dit nooit werklik kan geniet nie. Dieselfde met ‘n verkleinde milieu (ervaringswêreld), as jy daarin leef. Jy is so gefokus net op die onmiddelike, die hier en die nou, dat jy totaal nooit die groter prentjie sien of sal sien nie. Voordat jy nie terugstaan nie, en verbreed en groei weg van jou onmiddelike bestaan nie, gaan jy altyd dink die lewe bestaan net uit kolletjies en strepies en net uit een of twee kleure.

Ek is gelukkig om in ‘n familie en gesin groot te word (mense om jou sal vir jou vertel dat ek steeds besig is om groot te word), wat tot in hulle sewentigs nuwe uitdagings aanpak. Ek is geleer om te lees, en daagliks te lees. Ek is geleer om nie net ‘n objek of situasie voor my te sien nie, maar vrae daaroor te vra. Ek is grootgemaak deur dinge te bevraagteken, en totdat iets nie vir my sin maak nie, sal ek nie gelukkig wees nie. Ek is dankbaar daarvoor, want te midde van al my krisisse en tekortkominge, het ek geleer dat dit nie al is waarin ek myself vasstaar nie.

Wat verder vreemd is, is dat mense wat se lewens so klein is, gewoonlik te bang is om hulle horisonne te verbreed. Vrees is een ding, maar daar is ook ‘n baie vreemde idee dat jy, deur jou horisonne te verbreed, jou lewe kompliseer. Dit is vreemd, veral in die voorbeeld van ‘n impressionistiese skildery, dat die komplikasie nie in die verbreding van die horison is nie, maar die komplikasie is juis in die nie-verbreding van die horison. Hoe verder ek terugstaan, hoe makliker word die interpretasie van die skildery. In die naby staan, sal ek nooit die volledige prag van die prenjtie en daarmee saam my lewe kan ervaar nie. Eers wanneer ek terugstaan, oopmaak en wegbeweeg gaan die spanning weg.

As ek so fokus hier teen nie skilderdoek, plaas ek vreeslik baie spanning op my sig en my asemhaling. Ek asem die walms van die verf in, en my oog se fokuspunt kry ook skade.

Soveel mense maak vrede met die kolletjies en die walms, soveel so, dat hulle naderhand ook begin glo dat die hele lewe net kolletjies is. Hulle wil naderhand niks meer verder glo dat daar iemand is wat anders kan en mag dink as hulle nie, want, al wat “waarheid” is, is net kolletjies. Dit laat my so dink aan die uitspraak: “This is as good as it gets”.

Dit word dus ook die manier wat jy na die lewe kyk, met die agtergrond dat alles net kolletjies is, en net kolletjies mag wees. Niemand mag anders doen nie, want kolletjies IS die lewe. Hoe minder jy ook “oefen” om jou horisonne te verbreed, hoe minder gaan jy dit wil of kan doen? Dit is ook soos ‘n wilde leeu wat in ‘n hok grootword, en wat sy kos kry op sy tyd. Jy kan ongelukkig daardie leeu eers weer met baie moeite kan vrylaat in die veld, want hy verleer ook sy natuurlike instink om te jag. Hy verleer om ‘n leeu te wees, al is hy geskape om te kan jag, en bogemiddelde sukses kan behaal.

Miskien moet jy vandag vir jouself vra: “Wat doen ek om my horison te verbreed?” Is jou lewe nie dalk so saai en depressief en vol aaklige walms, juis omdat jy nie kan wegbeweeg en nie bietjie blootstelling het aan ander idees en mense en dinge nie? Miskien glo jy ook die leuens wat jy jouself vertel, dat jy eerder gemaklik is met die walms en die skeel kyk nie? Miskien is jou lewe vol drama, presies omdat jy nie kan terugstaan en met visie na jou lewe kan kyk nie? Miskien het jy drama, omdat jy jou brein nooit leer om te verstaan en te besef dat daar meer is daar buite as wat jy dink nie?

Jy kry natuurlik ook mense wat die hele wêreld plat toer, maar wat ook nooit meer en meer wil leer nie. Wanneer jy dus terugstaan van jou lewe, moet jy ook besef dat jy self ook moet jouself inspan. Jy moet weer leer om te jag, soos wat jy jou sig moet leer om nie meer skeel te kyk nie. Jy moet jou fokuspunt verander om die pragtige prentjie voor jou te kan sien en geniet. Jy moet jouself ook leer om, soos ‘n voëltjie in ‘n nessie, iewers ‘n sprong moet maak, want anders gaan jy nie vlieg nie. Dit moet jy doen in die wete dat, alhoewel jy nou bang is, die prys wat jy gaan ontvang duisend keer beter is as daardie klein stukkie vrees wat jy nou het.

Daar is ‘n ongelooflike en oneindige fantastiese lewe daarbuite. Glo my, die prentjie is fantasties mooi, kom en kom kyk. Hou op om bang te wees, hou op om in jou klein lewetjie vasgekluister te wees. Gaan ervaar, gaan leef, gaan lees, gaan leer en die belangrikste van alles, gaan geniet hierdie wonderlike skildery van ‘n lewe wat God vir jou as geskenk gegee het.

Daag jouself uit, dit is nie kompleks nie, wat jy nou doen en beleef so teen die skilderdoek, dit is kompleks, frustrerend, moeite en inspanning.

1 comment:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete