Thursday, April 25, 2013

Ouma se lappieskombers

Ek ontdek nou die dag weer my oumagrootjie se lappieskombers by my ma se huis. Julle wat so oud soos ek is sal dit baie goed ken. In die dae van lappieskomberse het mense nie baie geld gehad nie, en daar was nie wiinkels om elke hoek en draai nie, en al wat mense van Egyption cotton geweet het, was dit wat hulle in die Bybel van Egipte gelees het.

My oumagrootjie-hulle het hulle eie klere en eie beddegoed gemaak, en niks weggegooi nie. Na 'n ruk het hulle 'n klomp van die oorskiet material aanmekaargewerk en 'n lappieskombers gemaak, of soos die Engelse dit noem, quilt.

Ek sit die een aand onder die kombers saam met Robert, my seun, en ek kyk na hierdie lappieskombers. Jy sien, dit is verskillende ontwerpe, teksture en kleure. Ek dink ons sal nie sommer in ons "fancy" winkels twee keer daarna kyk nie. Maar, te midde van hoe dit lyk, is die effek daanvan onglooflik. Dit is snoesig, en werk natuurlik ook baie goed as jy gaan piekniek hou.
Is ons lewens nie maar ook soos 'n lappieskombers nie? Soms kyk jy na al die dinge wat met jou gebeur, en dink dat dit deurmekaar is. Soms maak die sameflansing van dinge net nie vir jou sin nie. Jy kyk na die ander mense en hulle wonderlike warm, dik en satynsagte duvet-lewens en wonder hoekom joune so deurmekaar is. Daar is smake en geure, gebeure wat jou kombersie maar baie "minderwaardig" laat lyk.

Ons kyk op na suksesvolle mense en dink dat hulle altyd alles net maklik gekry het. Ons dink hulle is met die goue lepel in die mond gebore en dat alles "plain sailing" was. Gaan lees bietjie al die biografieë van bekendes, dan sien jy, almal se lewens is maar net een groot lappieskombers. Dit is nie belangrik hoe die lappieskombers lyk of voel nie, maar die uitdaging is dat wanneer alles aanmekaargewerk is, dit sy doel bereik. Soms vra ons vir die Here vir 'n pragtige wit mooi duvet, en vergeet ons om die lappies rondom ons te versamel en onsself warm te maak met ons eie kombers.

As my ouma se lappieskombers kon praat, dink ek die stories wat daar ingegaan het sou fasinerend gewees het. Daardie een lappie wat ouma se voorstellingsrok se oorskiet is, oupagrootjie se uitgaan-hemp, tannie Bertha se trourok en oumagrootjie se bankkussingkies. Om nie eers te praat van al die plekke waar die kombersie was nie, al die pieknieke, oorslape en dinge nie.

Al die gesprekke wat die kombers moes aanhoor, sou gevul gewees het met soveel kennis. Sou ek nie eerder dit soek as 'n vervelige ou wit duvet wat met mooi material in 'n massa-fabriek gemaak is deur masjiene nie. En die belangrikste van die lappieskombers is die liefde waarmee dit aanmekaargeflans is.

Soos julle weet is ek 'n groot aanhanger van Dawid in die Bybel, omdat hy besonders was aan die een kant, maar in besonder omdat hy 'n gewone mens was. Hy was wel koning, maar het ook met God en sy eie lewe geworstel. Neem byvoorbeeld die hele petalje met Batseba. Dawid het fokus verloor en nie saam met sy troepe gaan oorlog maak nie. Net soos oumagrootjie gesę het: "Ledigheid is die duiwel se oorkussing". Hy staan op die dak en sien vir Batseba raak en is onmiddelik verlief op haar. Hy gee opdrag dat haar man Urija in die voorste linie van die oorlog moet veg, en so sterf die arme man. Dawid wag vir die rouperiode om te verstryk, en dan trou hy met haar, en hulle het 'n kind saam. Dit klink amper soos 'n sepie wat hom voor ons afspeel.

Die profeet Natan kom in 1 Samuel en praat met Dawid oor wat hy gedoen het. Hy vertel vir Dawid die storie van die ryk man met baie skape en die arm man met een skapie. Die ryk man nooi iemand vir ete, maar hy is te suinig om sy eie skape te slag, en slag die arm man se een skapie.

Dawid is woedend en sę dat as dit in sy koningkryk gebeur, hy beslis sal optree teen die ryk man. Natan sę vir Dawid: "Die man is jy". Jy sien, soms is ons so naby aan ons lewens, dat ons nie objektief kyk na wat ons aanvang nie. Natan sę vir Dawid dat sy seun wat hy saam met Batseba het, gaan sterf, omdat Dawid gesondig het. Dawid doen alles in sy vermoë om dit te keer, maar dit het niks gehelp nie, sy seun sterf.

Al sy belydenis en vas en bid het niks gehelp nie. Hy troos vir Batseba na die sterfte en sy word weer swanger, en Salomo gebore.

Dit is 'n storie met ongelooflike lelike, sondige, verkeerde, afgryslike kleure en lappies, maar die hitte van die storie is in die essensie daarvan. Dawid het verkeerd gedoen, Dawid het van sy troon geval, Dawid het bely, Dawid het verloor, maar Dawid het hom bekeer en Dawid is weer opgehef deur 'n nuwe seun en ook oorwinning oor Rabba met sy weermag.

Ons gebruik die term dat God met 'n krom stok 'n reguit hou kan slaan. Dit is presies wat die lappieskombers my leer. Elke lappie ervaring en kennis moet ek koester en dankbaar wees daaroor. Nie al die lappies maak sin nie, maar saam bereik dit tog 'n doel. Soms kyk ons terug en sę wat ons alles sou anders doen in ons lewens, maar aan die kleur en ontwerp van my laslappie is daar geen verandering nie. Miskien moet ons dankbaar wees vir elke lappie kennis en ervaring en persoon wat my lewe kruis elke dag, want saam maak dit my lewe.

Ek weet nie waar jy in jou lewe is of wat met jou gebeur in jou lappieskombers nie, maar een ding is seker, dit is nie verniet nie.
Maar wat ons ook moet weet van die lappieskombers, is dat my oumagrootjie so 'n hele kas vol lappies gehad het, maar dat hulle nie sommer vanself aanmekaar gespring het nie. Sy het elkeen noukeurig uitgekies en soos 'n legkaart op haar kombuistafel gerangskik om so effens sin te maak. Toe het sy hulle met groot liefde aanmekaargewerk.

Soms voel jou lewe een groot klomp "random" lappies wat in die kas in jou kop versamel het. Maar as jy die verstaan het dat hierdie jou lewe is, verstaan jy dat elke lappie 'n doel het. Rangskik vandag die lappies, gee daaraan die erkenning dat dit deel van jou kombers is, en sien hoe jou bont-lappies-lewe skielik vir jouself en die mense om jou doelmatig kan wees. Uit die verhaal van Dawid en Batseba se krom en lelike lappies, kom 'n les vir ons elkeen, en word Salomo gebore en later ook uit dieselfde bloedlyn, Jesus.

Dit is moontlik om uit krom, skeef en bont 'n lewe te leef wat fantasties is. Mense met lappieskomberse se lewens is beslis meer kleurvol as wat hulle dink.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!