Monday, June 17, 2013

Is jy 'n Superhero?

Superhero's, aai, kan tog ons verbeelding aangryp. Die een ding wat ek wel in al die stories sien, is dat daar ook altyd 'n emosionele uitdaging is. Vir Batman is dit die moord op sy ouers, vir Spiderman die feit dat sy pa en ma dood is en dat sy oupa vermoor is. Superman voel soos 'n buitestander en wil graag 100% mens wees en kryptonite hou hom terug.

In al die stories is daar karakterontwikkeling waar hierdie hero sy onderliggende emosies moet verwerk en hanteer. Die vraag is in elkeen van ons, wat is dit wat jou terughou om jou doel op aarde te bereik. Wat is die kryptonite wat jou krag steel en jou terughou?

Soos in die films, verstaan ons dat die hero altyd 'n keuse het. Hy kan altyd kies om nie sy doel uit te speel nie. Maar daar is 2 dinge wat altyd gebeur, hulle kies eerstens om tyd te spandeer aan hulle "issue". Hulle hanteer dit, soms met woede, soms met oorgee aan omstandighede, soms met gesels en soms met blaam. Dit wys hulle menslikheid wat in elkeen van ons ook leef. So sit ek en jy elke dag met die dinge wat ons terughou, net soos superheroes. Daarom moet ons ook verstaan, analiseer en verwerk wat ons terughou.

Tweedens antwoord hulle die roep van hulle super-wees, te midde van alles wat in hulle gebeur. Hulle besef dat niemand anders superman of spiderman is nie, en niemand anders kan of gaan die wereld kan red nie. Net so, is elkeen van ons uniek in die mense om ons se lewens en niemand anders kan of gaan jou gawe kan uitleef in jou wereld nie. Snaaks is dat wanneer ek al my dinge in myself oorkom het, dan het ek skielik die krag, veral wanneer die aantrekkingskrag van wat moet gebeur groter is as die kryptonite.

Hugo, my oudste is mal oor sy hokkie. Hy erken self sy tekortkominge, maar saterdag vertel hy dat wanneer hy op die veld stap, daar iets magies en spesiaal met hom gebeur. Skielik is hy 'n ander mens en fokus hy net op die doel van waarmee hy besig is.

Alhoewel superman altyd allergies is vir kryptonite, weerhou dit niks van hom om sy doel te bereik nie.

Ek het nogal die ding in my om so erg analities te fokus op my eie issues in my, dat ek in die hoekie sit en nie die veld betree nie.

Die "law of attraction" gaan beslis ook gepaard met aksie. Deur net op 'n hopie te sit en te kerm omdat ek nie die lotto wen nie, gaan nooit sy doel bereik indien ek nie die kaartjie gaan koop nie. Rig jou lewe en jou aksies in die rigting of op die pad van waar jy wil wees. Vat die stuurwiel van jou eie lewe, en stuur die neus in die rigting van waar jy wil wees.

Dit is soveel beter as om agter in die bus te sit en te hoop jy gaan jou bestemming bereik. En as jy nie krag het nie, gebruik jou ander superkrag van jou brein om ten minste voor op die bus te kyk waar die bus heen gaan.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, June 3, 2013

Krokodille en jy!

Ek het Saterdag 'n fassinerende program gesien op National Geographic oor Crab Island en krokodille wat in soutwater swem. Ek het gedink dat krokodille slegs in vars water voorkom, maar blykbaar nie.

Hierdie krokodille swem na 'n eiland in die see op die tyd wat die seeskilpaaie hulle eiers lę. Wat verder verstommend is, is die feit dat die krokodille in sulke groepe saam jag en nie een-een soos ons gewoond is in die natuur nie. En dan op 'n stadium swem die krokodille weer al die pad oor die see om self hulle eiers te gaan le by die vars water. Een van die verduidelikkings oor hoekom die krokodille hierdie pad aandurf, kan wees dat hulle die ekstra protein van die skilpaadjies nodig het om krag te kry om terug te swem, maar ook dat dit lei tot beter en sterker klein krokodilletjies.

Weereens is hierdie verhaal, soos baie alledaagse dinge rondom ons 'n verduidelikking van hoe die wet van aantrekking werk.

1. Vooropgestelde idees:

Elke mens is soos 'n rekenaar en ons het 'n "operating system" wat die basis van ons opmaak is. Hierdie beheermodule bepaal hoe vinnig ons rekenaar werk, en natuurlik ook die tipe programme wat ons kan laai en gebruik.

My beheersentrum was nog altyd gevul met informasie oor krokodille, en ek het nooit gedink dat hulle in die see kan voorkom nie. Vir my was die gevare nog altyd haaie wat rondswem, maar as ek nou naby 'n strand is waar daar krokodille in die riviere rondom die strand is, gaan ek twee keer dink.

Jy sien, ons staan elke dag voor 'n rak met keuses van programme wat ons kan koop om ons lewens beter en lekkerder te maak. Ons smag daarna om vinniger en beter te werk. Ons pas al die dinge van die wet toe om hierdie dinge in ons lewens te kan kry, maar dit is nie altyd versoenbaar met my beheersentrum nie. My beheersentrum bepaal wat ek wil sien, hoe ek dit sien en wat ek kan hanteer. Die begin van my lewe en die wet van aantrekking handel dus in die eerste plek, en belangrikste oor wie en waar ek is. As ek weet wat my beheersentrum is, kan ek gemaklik be-oordeel watter tipe programme ek kan laai wat nie tot 'n botsing en "error" boodskap gaan lei nie.

Meeste van die programme wat jy op die rak koop het agterop vir ons 'n waarskuwing van watter beheerstelsel ek kan gebruik. Soms voel dit asof mense die program die skuld gee omdat dit nie op my sisteem werk nie, terwyl die fout nie altyd by die onskuldige program le nie, maar by die beheersentrum.

Alles in die lewe begin in jouself. Soms is daar 'n onoorkombare botsing met jou huidige programme ook. Dit kan gekrap of korrup wees van oorgebruik, dit is natuurlik ook waar. Maar wanneer Office 97 nie meer werk nie, kan ek nie eenvoudig Office 2010 oplaai en verwag dit gaan werk nie. Ek sal eers die beheersentrum moet verander en dan die program gebruik, of ek moet eerder erken dat alhoewel die program korrup is en foutboodskappe uitgooi, dat ek nie 'n keuse het as om weer Office 97 op te laai nie.

2. Dit het alles te doen met funksionaliteit:

Baie mense koop eenvoudig elke keer elke nuwe program wat op die mark kom, maar hulle het nog nie eers die bestaande funksies van die "ou" program onder die knie nie. Nuwer is ook nie altyd beter nie. Soos wat ek hier sit en tik op Word, sien ek allerhande funksies bo-aan die skerm wat ek nie 'n idée het wat om daarmee te maak nie. Die "nuwe" word het nog meer funksies wat ek dalk ook nie nodig het nie en wat in onbruik gaan verval. Soms moet ek die vraag afvra of die nuwe wel die antwoord is vir my lewe, ongeag die beheersisteem.

Natuurlik kom dit terug na 'n eenvoudige konsep om myself te ken en te weet wat ek benodig. As ek slegs woordverwerking wil doen en net dokumente wil tik, hoekom het ek 'n hengse groot program nodig wat funksies het wat ek nie nodig het nie.

Soms is die antwoord nie daarin om my lewe te kompliseer nie, maar eerder te vereenvoudig. Meeste mense spandeer duisende rande aan opgraderings, terwyl die gewone Windows notepad al die funksies besit wat nodig is om te tik.

Soms voel dit in my lewe dat ons die lewe te gekompliseerd wil maak. Veral omdat daar soveel opsies tot ons beskikking is, maak die keuses juis die lewe moeilik. Is die antwoord nie eerder in die eenvoud nie, en lę jou drome en ideale nie dalk in die alledaagse nie?

3. Dis hoe dit is:

Niemand weet hoekom die krokodille besluit het om na hierdie eiland te swem nie, en niemand weet ook hoe hulle weet wanneer om te gaan nie. Die antwoord is eenvoudig dat hulle dit net doen. Dit is iets wat natuurlik in hulle DNA ingeskryf is, asof hulle geprogrammeer word om dit te doen. En daarom moet ons ook nie altyd dink dat wie ons is, wat ons doen en hoe ons dit doen sonder 'n doel is nie. Soms gebeur dinge net normaalweg, alledaags. Nie alles in die lewe het ten doel om ons asem weg te slaan nie.

Dalk leef ons te veel in die sprokies van die sepies, films en glanstydskrifte dat ons altyd die spesiale najaag. Ek veg baie met my seuntjies, want naweke as hulle by my is het ons nie nodig om te gaan fliek of Gold Reef City toe te gaan om die naweek te geniet nie.
Soms is die rykdom van elke dag eerder in die eenvoud van saam op 'n bank sit en sommer net gesels. Maar ons "verwag" van die lewe om uitsonderlik te wees, maar miskien le jou geluk eerder in die aanvaarding van wie en wat jy het en is.

Elke dag van jou lewe wat jy nie die lotto wen nie, gaan miljoene klein en wonderlike ervarings by jou verby wat jy nie eers oplet nie. Miskien hoef niks in jou lewe te verander nie, en miskien is volwaardige gelukkige mense die wat hulle lewens aanvaar en dankbaar is, en nie dink dat dit nou maar hulle "lot" is nie. Soos die spreekwoord sę, daar is 2 soorte mense, die wat dink die glas is half leeg en ander wat glo die glas is half vol. Ek dink eerder dat dankbare mense wat vrede maak met hulle lewens, soms gelukkiger is as die wat elke dag wens hulle lewens is anders.

4. Beteken dit nou dat die "spesiale" nie bestaan nie?

Verseker is dit nie my standpunt nie. Vir die krokodille is die klein skilpaadjies tog 'n spesiale kossie wat van die alledaagse verskil, en dit is hoekom hulle die ekstra moeite doen. Ek dink dit is belangrik om te verstaan dat al die strome na jou spesiale dinge nie net stroomaf is nie. As jy wel die spesiale wil ervaar in jou lewe, gaan dit inspanning verg. Jy sal jou bestaande beheersintuig van vars water moet verlaat en op die reis gaan. Al standpunt wat ek wil maak is dat dit nie noodwendig nodig is om dit te doen nie. Daar is tien teen een in die rivier waar jy woon genoeg kos en baie ander krokodille wat tevrede is om net daar te bly en nie skilpaadjies te gaan vreet nie.

Al wat oorbly is om te weet dat dit 'n besluit is, want daar is steeds net soveel wonderlike voorregte op die plek waar jy NOU is. Jy hoef nie altyd op te gradeer en by te bly met alles nie, veral nie as jou program werk nie. As jou program NIE werk nie, nou ja, dan het jy 'n keuse, maar die keuse is nie noodwendig om die baba met die badwater uit te gooi en alles oor te doen nie. Geluk en sukses is nie 'n plek nie, dit is 'n ingesteldheid van tevrede wees met jou lewe wat jou oorweldig.

5. Aanpasbaarheid:

Gelukkige mense is nie net mense wat aanvaar en tevrede is met wie hulle is nie, maar dit is veral ook mense wat aanpasbaar is by omstandighede. Die krokodil wat sy varswater nessie verlaat en besluit om die oseaan oor te steek moet aanpasbaar wees, want hy is uit sy vaarwater. Hierdie krokodille spaar hulle energie, omdat hulle hulleself ken, en swem saam met die stroom. Wanneer die stroom te erg word, sak hulle tot op die bodem om daar te rus, totdat die strome weer draai.

As jy besluit om jou sisteem te verander, moet jy ook jou kop bereik. Jy moet ook voel en weet waneer die strome nou te erg word en jou in verkeerder rigtings spoel. Dan is dit tyd om jou verstand te gebruik en te besef dat vandag dalk nie die regte tyd is om te swem nie, maar te wag tot dinge anders voel en loop. Soms is ons so angstig om by die bestemming te kom dat ons totaal of moed opgee en terugdraai wanneer dinge nie in ons guns is nie, kla of kerm, of sommer net saam met die stroom gaan.
Dit is belangrik om te weet waarheen jy oppad is, maar soms moet jy die ompaaie neem en soms moet jy aanpas daarby dat jy wel op jou tyd en op jou eie manier die eiland sal bereik.

6. Dit is jou reis:

Alhoewel ons sien dat die krokodille in groepe saam jag, is elke krokodil op sy eie. Niemand ry op mekaar se rug nie en niemand dra mekaar nie. Die reis in jou lewe is wel saam met ander mense, maar dit is uiteindelik jou eie. Ander is wel aanwysers om jou te laat besef dat jy op die regte pad is, maar dit is al wat hulle is.

Soms is ons so aangewese op ander om ons te "red", maar in werklikheid is dit jy en jy alleen. Soms kan ander my nie red nie, want dan verdrink hulle self. Dit is JOU beheersisteem, dis jou radar, jou visie, jou droom en uiteindelik jou krag wat jou gaan bring waar jy moet wees.

Sterkte op jou reis vandag, en onthou, niemand het al ooit erens gekom sonder daardie eerste treetjie nie.

Geseende week vir almal



Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!