Monday, August 3, 2015

Spiritueel of Materieel

In haar boek "Eastern Body, Western Mind" skryf Anodea Judith dat ons agterkom dat die oosterlinge innerlik ryk is, dog uiterlik arm, en westerlinge uiterlik ryk, maar innerlik arm is.  Haar boek se doelwit is om oosterse denke rondom chakras en westerse idees oor ontwikkeling met mekaar te versoen, veral rondom die westerse ontwikkeling volgens Maslow.  Dit is nie daarop wat ek wil ingaan nie, maar veral vandag rondom wat ons barometers is waaraan ons geluk en sin in die lewe MEET.

Dit is heel duidelik dat vreeslik baie mense in die westerse wereld deesdae soek na iets meer as net materialisme.  Ons sien die hoeveelheid oosterse invloede in wat mense aanhaal, deel op facebook en die hoeveelheid boeke wat op ons rakke is.  Dit wil voorkom asof ons ingesteldheid en barometers vir geluk begin skuif het van die een kant om sukses te koop, eerder na 'n soeke na innerlike harmonie om sodoende meer vervuld te voel.

Ons sien ook baie meer mense wat begin om hulle lewens af te skaal en bereidwillig is om 'n eenvoudiger lewe te leef en gelukkig te wees, eerder as om net die bankbalans en groot motors te jag. Ek dink dit het baie te doen met twee faktore, die eerste is ons het in ons ouers en ervarings self agtergekom dat geluk nie in dinge is nie, maar eerder gevind word in onsself.  Tweedens het die omstandighede van die  ekonomiese krisis in die wereld mense hulle barometers laat hersien.  Ek het 'n ou klient gehad wat gelde by my bele het in die tyd toe ek nog by Liberty Life was, wat daarop aangedring het dat ek vir hom die kluis wys waar ons sy gelde gaan hou. 

Vandat geld virtueel geraak het en nie meer tasbaar nie, het geld sy romantiek verloor.  Ek het steeds my beursie met geld wat my oupa en ouma bymekaar gemaak het, en dit is maar net anders om 'n muntstuk in jou hande vas te hou as om jou bankbalans op 'n skerm te sien.  En ek dink die virtualiteit van geld het sy romantiek nie net verloor nie, maar daarmee saam het ons die waarde van dinge wat dit kan koop anders begin sien.  Hier in ons veertigs is on sanders as in ons twintigs, want ons het nie meer uitknipsels van Golf GTI's op ons mure nie, maar wys eerder vir mense ons vakansiefoto's.  Soos jy ouer word het ons begin besef dat dinge WAT jy koop nie vir jou sin in die lewe gee nie, maar eerder ervarings van die lewe.  Meer pa's is by hulle kinders se sport- en kultuuraktiwiteite vandag as in die vorige geslag.  Ons is bereid om produktiwiteit en die najaag van kapitalisme op die agtergrond te skuif.  Dit is amper asof ons in die idée van die prediker in die Bybel begin besef het dat dit soms 'n gejaag na wind is, en ons probeer om ons lewens te balanseer tussen hierdie dinge.

Ek was op 'n stadium, kom ons noem dit nou maar bevoorregd in finansies en in besittings.  Ek het nou nie in 'n kasteel gewoon nie, maar ons het gemaklik geleef.  Dit het tot baie konsekwensies in my lewe gelei waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie.  Maar soos ek dinge nagejaag het, het die al meer en meer verantwoordelikhede en doelwitte gebring. 

Ek onthou dat ons elke jaar ons kontrakte moes hernu by die maatskappy om jou kontrak te behou.  Elke jaar het jy 'n groter en groter doelwit gekry om net jou werk te behou, en daarmee saam het die spanning en dramas al meer geword.  Dit het vir my so geword dat ek naderhand aan niks anders gedink het as werk en maniere om geld te maak, en al minder oor die dinge waarvoor ek nou kans kry om oor te dink.  Dit was waar ek my balans verloor het, alhoewel mense toe baie respek vir my gehad het.  Ek onthou hoe belangrik dit vir my geword het om elke maand in die top 5 te wees en aande en naweke gewerk het om daarby uit te kom.  So word ons soms so ingetrek in die verdienste van geld, dat ons nie daaruit kan kom nie.  So word dit vir sekere mense dat jy naderhand niks anders in jou lewe belangrik ag nie, en al meer en meer ingesuig word in 'n sinnelose lewe.  Moenie 'n fout maak nie, dit is heerlik om te kan koop wat jy wil he en ook om te kan gaan vakansie hou waar jy wil sonder om jou te bekommer oor geld.  Dit is heerlik, tot ek een vakansie daar by Groot Brakrivier saam met my gesin is en myself uitvang dat ek alweer die hele tyd sit en planne maak en my bekommer oor my besigheid. 

Vandag sit ek in 'n ander posisie, waar ek nie genoeg geld het om alles te bekostig nie.  Ek bly nie meer in die mooi huis nie, en ek kan nie meer die motor van my drome elke 6 maande vervang nie, inteendeel, ek ry weer met my studentekarretjie.  En ek dink dit is wat Anodea Judith bedoel met uiterlik ryk en innerlik arm, want wat is die punt dat jy alles het in die lewe, maar jou siel gaan verlore.  En net soos met die ryk jong man, het ek besef dat ons hele samelewing ook ingesluk is deur die idée van mense met geld en materiele dinge is suksesvol, en die wat dit nie het nie, hulle het moeilikheid.  Ek het gesien dat my vriendekring al hoe kleiner word, want hulle verstaan dit nie waarin ek nou is nie, en omdat ons barometer van sukses op 'n sekere manier werk, dink hulle minder van my, en se selfs reguit vir my dat hulle respek vir my verloor het.  Die beginsel is, ek is bekommerd oor 'n samelewing waar dit alles NET gaan oor een ding, en waar mense nie sukses op die korrekte manier nastreef nie.  Ons kyk neer op mense met minder as ons.  Kyk maar na kinders en hoe hulle altyd net meer en meer en beter en beter soek.  Wie het hulle dit geleer? 

Aan die ander kant van Anodea se redenasie, dink ek ook nie die antwoord vir geluk daarin gelee is om erens op 'n ashoop te sit en te dink dat dit werklike geluk is nie.  Daar is natuurlike behoeftes wat ons en ons kinders het wat aan voldoen moet word, en dit is weereens waar die idée van balans inkom.  Aan die een kant is dit belangrik om te verstaan dat werklike geluk wel van binne en van die geestelike siel afkomstig is.  Daar is by my geen twyfel dat ek eerder saam met 'n geestelike sal wil sit en praat oor die werklike dinge van die lewe as by 'n braai waar almal spog oor hulle besittings, maar nie werklik oor die lewe kan filosofeer op praat nie.  Natuurlik is dit my persoonlikheid ook wat daardie behoefte het, maar ek dink julle verstaan waaroor dit gaan.

Die Bybel leer ons tog dat daar 'n prioriteitslys is waarin dinge moet gebeur.  Die Bybel leer dat ons eers die Koningkryk van God moet soek en Sy geregtigheid voordat al die dinge ons toegevoeg gaan word.  Duidelik leer ons daaruit dat al die rykdom in die wereld tot ons beskikking is, maar geen werklike sukses sal ooit kom voor ek nie die spirituele in my voed nie.  Voordat my siel nie vervuld is nie, kan en sal geen biljoen of Bugatti my gelukkig maak nie, want ek gaan soek die regte ding op die verkeerde plek.  Hoe baie keer hoor jy mense se dat wanneer hulle daardie werk kry of wanneer hulle in hulle droomhuis bly dat hulle dan sal gelukkig wees.  Studies is al gedoen onder persone wat 'n Ferrari aanskaf, en gemiddeld 'n maand na die aankoop, begin hulle reeds soek na die nuwe model en sit hulle name op die waglys.  Soos hier kan statistiek ons natuurlik enige ding laat bewys wat ons pas, en hier pas dit my nou.

Ek dink wat die Bybel ons wil leer is nie dat daar fout is met besittings nie.  Dit is die algemene idée wat vir eeue in godsdienste voorop gestaan het.  Wat die Bybel ons eintlik leer is dat spiritualiteit KAN bestaan sonder materialisme, maar materialisme NIE sonder spiritualiteit nie.  So, soms moet ons 'n oomblik stilstaan en kyk na ons barometer waarmee ons na ander mense en onsself kyk.  Wanneer jy vriende en mense om jou beoordeel, moet dit altyd EERS wees vanuit die spiritualiteit.  As die skrywers van sukses-sprokies vir ons vertel dat ons onsself moet omring met suksesvolle mense, moet dit eers gaan oor hulle spirituele sukses voordat dit oor enige iets anders in hulle lewens handel.  Wanneer ons kinders leer om vriende te maak, soek ons nie die "rykste" kind in die skool uit om mee vriende te wees nie, ons soek daardie kinders met die regte waardes wat hulle sal uitdaag om beter mense se wees.  Die vraag is hoe ons dit toepas in ons volwasse lewens.  Miskien moet ons gaan stilstaan en ons waardesisteem beoordeel en terug te tree en terug te gaan na wat God ons in die Bybel geleer het. 

Wanneer ons na ander kyk, wees versigtig watter maatstaf jy gebruik om hulle mee te toets.  Wees versigtig om nie die boek aan sy omslag te oordeel nie, maar eers die boek se inhoud kans te gee om ons te verras met die mooi wat daarin geskryf is, die inhoud.  Dit is maklik om te se dat dit meer oor die innerlike as die uiterlike gaan, maar in watter mate lieg ons vir onsself om die teenoorgestelde te doen.  Dit is natuurlik ook veral waar wanneer dit by jouself kom.  Beoordeel jy jouself, jou geluk en jou sukses aan uiterlike of innerlike dinge of die innerlike?  Dit is nie maklik om alles te verloor nie, maar soos ek voorheen gese het, materialisme kan nie sonder die innerlike bestaan nie, maar die innerlike en wie jy is, in wie jy glo bly vir altyd, met of sonder die materialisme.

Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al die ander dinge sal jou bygevoeg word.  En al word dit jou nie bygevoeg nie, is jy steeds gelukkig en suksesvol, en wanneer dit jou bygevoeg word kan jy dit met 'n ander dankbaarheid en visie geniet!