Wednesday, December 14, 2011

Kristalglase

Vanoggend staan ek voor die kas in die kombuis met die glase in om vir my ‘n glas water in te gooi. Ek sien al die tipes glase wat daar is en besluit dat ek net ‘n pilletjie wil drink, so ek het seker nie nodig om ‘n kristalglas uit te haal nie, ek kan sommer ‘n ou lelike een vat. Nee, hoekom? Hoekom het ons die mode om altyd die mooi en spesiale te bêre vir ‘n spesiale geleentheid?

Die antwoord daarop sal seker individueel wees, maar dit wys ons iets van ons ingesteldheid teenoor die lewe. Ons wag altyd vir spesiale dinge, tye en geleenthede voordat ons onsself en mense om ons laat spesiaal voel. Gisteraand kyk ek “How I met your mother” waarin Barney sy meisie op ‘n spesiale “date” vat. Hoekom kan elke dag en elke “date” nie spesiaal wees nie? Hoekom is ons altyd maar tevrede om ‘n “gewone” dag te ervaar en gediend te wees om uit die ou en die lelike glas te drink? Ek wonder maar net of dit nie die rede is dat ons soveel mismoedige mense om ons sien nie.

Dit is nou een van die lesse wat ek my kinders wil leer, en dit is om elke liewe dag die beste te verwag, uit die mooiste glase te drink en jou mooiste klere aan te trek. En die rede is dat dit jou goed en lekker en spesiaal laat voel. Wat maak dit nou saak as jy jou nuutste skoene aantrek as jy in die sandput gaan speel? Jy gaan in elkgeval uit dit uitgroei nog voordat jou skoene verwoes is. Iemand het een keer gesê dat ons baie by kinders kan leer oor hoe om die lewe te geniet. As ‘n grootmens en ‘n kind in die pad afstap en daar is ‘n poel met water, sal die grootmens om die poel stap, maar die kind sal inspring en speel.

Dit voel vir my asof ons soms die lewe te ernstig opneem. Dalk is dit omdat ons “gebruiksglase” in ons kas met ons saamdra. Ons ag onsself ook soms nie waardig of spesiaal genoeg dat dit ‘n kristalglas roep nie. So word ons lewe saai en afgemat, en kort voor lank is jy maar gediend om uit plastiekglasies te drink en later sommer so uit jou hand.

Daar is rykdom in eenvoud, sal ek met jou saamstem. Ek stem saam daarmee dat as jy uit ‘n plastiekglasie moet drink jy ook jou lewe kan geniet. Ek is ook iemand wat stop en aan die rose ruik en dankbaar is vir wat ek het.

Ek dink dat ons “gewone” lewens het, omdat ek en jy dink dat ons nie waardig is en waarde het nie. Ons dink dat ons nie verdien om uit die kristalglase te drink nie. Miskien kom dit uit ons kinderdae wat ons ouers vir ons plastiekglasies gegee het, omdat hulle bang was ons dit breek. Dit is baie prakties, maar miskien het dit ons geleer dat ons nie waardig is nie, en dat ons onsself nie kan vertrou met die spesiale dinge van die lewe nie. Vandag, en ek, is nie spesiaal genoeg vir die mooi van die lewe nie, en daarom is ek tevrede. Dan dink ek allerhande verskonings uit om die ontevredenheid van my siel weg te steek en “vrede” te maak met my lot.

Miskien is dit ook een van die redes hoekom ons nie meer droom nie, en die hele tyd vir mense om ons vertel om “realisties” te wees. Dalk sou ons almal soos Superman kon vlieg as almal ons nie die hele tyd afgebring het aarde toe nie. Dalk sou ons in ons geloof berge kon versit as ons geloof in die moontlikheid daarvan so groot soos ‘n mosterdsaadjie was. Dalk sou ons elke dag meer kon geniet as ons genoeg geglo het dat elke dag spesiaal is, en elke oomblik kristalglas-kosbaar.

Hoeveel keer het ons nie al gesien dat wanneer iemand tot sterwe kom en ons hulle besittings gaan oppak, hoeveel mooi kristalglase daar nog in hulle verpakking is, of hoe mooi lingerie daar in die kas is wat nooit gedra is nie. Gewag vir ‘n spesiale geleentheid? Die feit dat dit nog in die verpakkiing is, beteken dat die persoon nooit enige geleentheid of enige dag as spesiaal genoeg ge-ag het nie. Dit laat my dink aan die woorde van Prediker dat daar nie sin in die lewe is nie en ‘n mens alles nalaat vir iemand na jou. Dalk is die rede dat die prediker dit nooit gebruik het nie, en dit die rede is vir sy aanhoudende klaagliedere.

Dit is nie net in ons besittings waar ons opgaar vir eendag of ‘n spesiale geleentheid nie, maar ook in ons eie menswees. Ons wag vir iets om te gebeur of vir ‘n spesiale geleentheid om ons drome en eie menswees uit te leef. Ek lees baie boeke oor menslike groei, en twee konsepte kom by almal voor. Die eerste is dat jy jouself moet ken en moet spesiaal ag. Die tweede is dat jy nie moet wag om die mens te wees wat jy graag wil wees nie, maar nou en vandag moet leef.

Wat het van jouself geword en jou drome? Deel jy dit nog met jouself en leef jy jou droom? Glo jy dat jy spesiaal en uniek is en dat jy die beste verdien, of plaas jy jouself, jou drome en talente onder die maatemmer?

Gisteraand sit ons en gesels oor ons kinders en hulle toekoms. Ons sit en praat oor hulle drome en ideale. Toe wonder ek so in my innigheid of ek myself ook so spesiaal ag soos ek my kinders ag. Of ek steeds glo dat ek alles kan vermag wat ek wil, vandag? Kan ek toepas wat ek preek, en hoe moet my kinders vlerke kry en leer vlieg as hulle nie sien dat ek vlieg nie. Gaan ek vandag my “kristalglase” uithaal en voluit leef, of gaan ek myself wegbêre, en tot wanneer? Vir hoe lank gaan ek mense en situasies die oorhand gee oor my? Deel jou droom met mense, en as hulle kommentaar lewer is dit net ‘n opinie, en nie noodwendig die waarheid en finale uitkoms nie. Hoeveel van jou drome het jy opgegee om ander tevrede te stel? As jy spesiaal genoeg oor jouself voel, sal jy jou droom nie laat vertrap op grond van ander se opinies nie.

As jy gaste onthaal en jou beste Noritake en kristalwynglase uithaal, voel nie net jy en die geleentheid spesiaal nie, maar veral die mense wat jy onthaal. Hulle voel goed omdat jy HULLE belangrik genoeg ag om moeite te doen. Om mense om jou gelukkig te maak en spesiaal te laat voel in JOU lewe, gaan pak daardie spesiale jy uit en leef spesiaal elke dag. Mense gaan dan voel dat jy HULLE belangrik genoeg ag om die wonderlikste self in jou met hulle te deel.

Gaan drink vandag met oorgawe uit jou kristalglase, jy is spesiaal genoeg!

2 comments: