Monday, November 21, 2011

Kattelewe

So kry ons toe verlede week 2 meisiekinder katjies, Prinses en Mika. So vir die eerste paar dae is hulle nog maar baie verskrik met die botter-voet smeerdery en al. Hulle bly aan die een kant van die huis en jy kan hoor in die miaau dat hulle baie vreemds voel so weg van hulle mamma af. Ek moet sê dat ek nie 'n kat mens was nie, en maar versigtig was vir die hele nuwe ervaring, maar hulle is gepottie, en gebruik hulle sandbak. Dis half 'n ervaring as jy altyd 'n hondmens was en met 'n "poopscoop" op die gras moet rondloop.

Nou terwyl ek hier sit, dink ek aan die laaste paar dae, en veral oor die debat oor "nature vs nurture". Die twee katte se persoonlikhede verskil hemelsbreed. Dieselfde ma, dieselfde ou huis, dieselfde nuwe huis, dieselfde bed, dieselfde geleenthede en dieselfde kos. Maar Mika is die een wat die minste bang is en die hele huis verken. Sy is nie skaam om op jou te spring of deur die huis te loop en aan alles te ruik nie. Prinses is die bang een, hardloop altyd agter en as sy nie vir Mika kan sien nie, miaau sy totdat Mika weer terugkeer van die eksplorasie af.

Dit laat 'n mens dink aan al die redenasies wat ons al gehad het oor mense en menslike optrede. In teologie het ons baie geleer van die "verhalende" pastoraat waar ons geglo het dat elke mens 'n storie het. Hoe meer iemand van hulle storie vertel en in perspektief sien, hoe makliker kan hulle die probleme in hulle lewens oplos. Ons teken prentjies vir hulle van patrone in hulle genealogie van buite-egtelike verhoudinge tot dwelmafhanklikheid. Ons probeer dan saam die storie opstel, en soms in die vertel van die storie kry die meer volwasse ek my A-Ha moment waar ek verstaan.

My katte het my duidelik gewys dat die werklike ek iemand is wat op 'n basiese vlak reeds vasgelê is, en dat baie min daarvan gaan verander. Of gaan dit verander? Ek sal nou maar met die katte 'n pad stap en sien, want dalk raak Mika skugter en word Prinses die leier. Dalk is Prinses slimmer en weet dalk intuitief dat sy Mika in toom moet hou vir haar eie beswil.

So ook leef ons elke dag met nuwe lesse en uitdagings. Elke nuwe dag bring nuwe uitdagings en spanning oor ons wat ons mee moet saamleef. Die vraag is altyd vir my oor watter gedeelte van 'n mens se lewe ingebore is en watter gedeelte aangeleerde gedrag is. Dit is in my eie lewe kompleks, want soms is jou aangeleerde gedrag so ingeprent deur die "habit" dat jy kan dink dat dit deel van jou ingebore menswees is. Wanneer het jy dalk jou drome en ideale verloor en opgehou om die Mika te wees en sonder vrees die wêreld aan te pak? Wanneer het jy dalk begin om jou ooglopende vrees vir die lewe te verloor, soos Prinses, en in die leier te ontwikkel wat jy is, al is dit soms vanuit 'n beskeie uitkyk, omdat jy eers analiseer voordat jy inspring in die lewe?

Ons word ook ingebore in 'n nuwe huis en wêreld met ander faktore en mense met vooropgestelde idees. Mense wat soos ek sommer van die staanspoor meer attraksie vind by Mika, want ek hou nie van mense wat terughou nie. So oordeel die wêreld oor die "prinsesse" , omdat die "Mika's" meer inval by wat aanvaarbaar en populêr is. So doen ons ook met ons kinders op skool, en ons verwag van hulle om in te pas by alles en almal. Wanneer hulle dit doen, en verkeerde keuses maak, dan blammeer ons hulle "cool" vriende en vriendskappe daarvoor.

Jy sien, aan die een kant kom ek, my kinders, my huweliksmaat, my vriende en my katte op 'n sekere manier in die lewe in. 'n Mens kan nie altyd help hoe jy in die moederskoot aanmekaar geweef is nie, watter gene jy het, watter kleur hare jy het nie, en hoe lank of hoe lomp jy is nie. Van ons is meer avontuurlustig en het meer talente in sekere areas as ander. Ons kan baie van wie ons is nie "help" nie, so gemaak en so is ons laat staan. Dit kan ons beskryf as die basis van wie ons is, maar nooit is die gebou klaar gebou net met die fondamente nie. So is die storie van ons lewens nooit afgehandel as ons net die inleiding gedoen het en die karakters voorgestel het nie.

In die laerskool is ons in die begripstoetse oor 'n storie altyd uitgevra oor die karakterontwikkeling wat deur die storie gebeur het. Hoe het die boelie in die skool die dramaheld geword? Hoe het die lelike eendjie die ou van haar drome gekry? Hoe het die skaam maatjie geleer om voor mense te praat en hoofseun geword? En hoe het die held van die rugbyspan in die niet verdwyn na skool? Hoe het die "Mika" die volgeling geword en hoe het "Prinses" die leier van die trop geword?

Dit wil voorkom asof ons basiese persoonlikheid slegs die inleiding van die storie is. Gister sit ek by 'n reunie saam met my universiteitsvriende en ons praat oor al die dinge wat gebeur het en wat ons gedoen het. Ons praat ook oor alles wat ons bereik het en hoe "mean" ons was. So praat ons toe oor van ons ander vriende en wat hulle bereik het, en die wat vasgevang is of was in die eerste hoofstuk of in die inleiding. Jy sien, waar jy vandag is, is ook maar net 'n sinnetjie in 'n hoofstuk, maar die "fat lady" het nog nie gesing nie.

Elke dag het ons te doen met allerhande mense en situasies om ons wat van ons verwag om op 'n sekere manier aan te pas, of om op 'n sekere manier te rebelleer. Daar is mense met opinies wat ons menswees in twyfel trek, mense wat ons veroordeel, ons uitdaag of ons ondergang soek. Natuurlik sal "Mika" nou op die oomblik in 'n krisis beter weet wat om te doen en waar om weg te kruip. Soms is jou basiese persoonlikheid jou redding in 'n sekere situasie, maar op ander tye kan dit jou ondergang beteken. Sekere dinge soos eksplorasie gaan vir "prinses" moeiliker wees as gevolg van haar persoonlikheid. Wat sy egter vir my moet vra is: "Hoekom?". Sy is 'n huiskat en daar is baie tyd vir haar om te doen wat sy wil doen. Sy het nie nodig om te eksploreer nie, want haar sussie kom altyd weer terug, en wie het gesê dat 'n huiskat die hele wêreld moet verken?

So bring dit ons terug na die ou konsep dat die lewe nie een enkele antwoord het nie, en dat ons nie mense op grond daarvan moet oordeel en veroordeel nie. Ek het twee katte nou, en ek moet hulle elkeen liefhê op hulle eie manier. Ek het 4 kinders, en elkeen verskil, so daar is nie een manier wat vir almal werk nie. Slegs as ek hulle leer ken en toelaat om hulle eie menswees te ontdek en aanvaar soos hulle is, kan ek hulle help om die lewe te gaan leef. Wat is die beste huiskat, die een wat verken of die een wat op die bank rustig lê? Niemand kan sê nie. So ook kan ons dus nie oor mense oordeel nie, want wie weet wie en wat die beste is. Elke mens het sy eie menswees met sy eie idees, en om te dink dat jy die antwoord het (vir jouself) is goed, maar om te dink dat dit die enigste antwoord is, dit is waar die probleem inkom, want mense verskil.

Ek kan die tafel dek vir mense om my, maar ek kan hulle nie dwing om van die kos wat ek maak te hou nie. Mense wat die lewe geniet en mense om hulle het, is mense wat 'n buffet voorberei en mense self laat kies wat hulle wil eet en waarvan hulle hou. As hulle dus nie doen soos ek wil of hou van dieselfde geregte as ek nie, beteken nie dat ons nie die aand en die reis saam kan geniet nie.

Steeds het ek dus nie die antwoord of dit natuur of blootstelling is wat ons vorm nie, maar ek dink dat ons 'n sekere deel van wie ons is aan die natuur kan toeskryf, en die ander gedeelte aan blootstelling aan die wêreld. Daarmee saam het ons 'n verantwoordelikheid om onsself (eerstens) aan dit bloot te stel wat ons lewens gaan verryk, en teenoor ander om vir hulle die buffet voor te sit sodat hulle in hulle eie reg die "Mika" en "Prinses" gaan word wat hulle uit hulleself wil word.


Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, November 14, 2011

Lesse met Rooiwyn

Ek hou baie van Rooiwyn, maar ek is nie 'n kenner nie. Ek kan nie geblinddoek vir jou sĂȘ watter tipe rooiwyn dit is, van watter plaas en watter jaar nie. As ek dus voor die wynrak staan by die Spar, laat ek myself maar lei deur sigwaarde. Die eerste wat ek oplet is die plakker of label. Daardie wat so mooi en goed ontwerp is met die goudinleg en krulletjieletters met al die toekennings wat dit al gewen het, vang nogal 'n mens se oog. Dan natuurlik ook skep nie net die plakker verwagting nie, maar ook die prys. 'n Mens dink mos dat hoe duurder 'n bottel wyn is, hoe beter behoort dit te wees.

So besluit ek nou die dag in die Spar dat ek myself gaan bederf met 'n heerlike Merlot. Ek loop toe daar na daardie duurste rak toe, met die ou wyne. Ek soek 'n heerlike bottel uit en ry opgewonde huistoe. Toe ek by die huis kom en die kurktrekker indruk, toe krummel die kurk. Toe ek hom uiteindelik oop het, toe gooi ek 'n glasie in, en was ek nou teleurgesteld. Suur soos asyn.

Maar toe is ek baie lus vir rooiwyn en gaan terug Spar toe. Nou is ek baie bekommerd om nie weer 'n bloutjie te loop nie. Daar op een rak staan 'n klomp wyn, en op so 'n groen karton is sommer met 'n Kokiepen geskryf R24.95 en die wyn is 'n Rifle Red. Ek vat toe 'n kans en koop dit. Dit is sommer 'n skroeftop, wat my nog meer bekommerd maak. By die huis gooi ek 'n glasie in, en was ek nou verbaas! Dit is die heerlikste wyn. Nodeloos om te se, ek het die volgende dag nog 2 bottels gaan koop, en oor die laaste klompie maande seker die gros van Spar se voorraad Rifle Red's gaan koop.

Dit laat my baie dink aan die vers in Jesaja 40 wat sê: "Die mens is soos gras, alles waarmee hy homself besig hou is soos veldblomme. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van die Here bly vir Ewig staan"

Wanneer dit by mense kom, is ons ook maar net sulke leke soos ek met my rooiwyn. Elke dag staan ons voor die rak van mense voor ons om te besluit met wie ons onsself wil assosieer. En ons gaan meeste van die kere op sigwaarde. Net soos wynplase, doen ons ook baie moeite met ons plakkers en labels. Ons spandeer baie tyd en moeite om die regte uiterlike beeld vir mense te skep. Hare klere naels complete make-overs, karre, huise – alles die plakkers van die lewe.

Ons doen die dinge omdat ons dink dat hierdie dinge ons meer bemarkbaar maak. En meer WERD maak. Maar die teksvers se vir ons dat hierdie dinge is wat verbygaan. So weet ons dat ons gaan plooie kry of ons hare verloor en siek word, en uiteindelik gaan ons liggame ingee en ons gaan sterf. Al ons plakkers kan in 'n oogwink van ons weggeneem word, so ook alles wat ons besit en bymekaarmaak.

Wyn het ook CV's. In boeke soos Platters se wyngids, word vir ons vertel waar die wyn van oorsprong is, watter tipe druif gebruik word, wie die wynmaker is en watter toekennings die spesifieke wyn al gewen het. So ook bou ons oor 'n leeftyd 'n CV op, van padpatrollie in die laerskool, tot grade en titels. Die vers vertel vir ons dat dit waarmee ons onsself besig hou soos die veldblomme is, dat dit ook van korte duur is.

Al die plakkers en pryse en CV's is dinge wat 'n verwagting by ons skep van wat binne in die bottel is. Soms kry ons versierde bottels wat pragtig is, maar leeg is binne. Duur bottels wyn wat verslaan is. En dan, wyn soos my Rifle Red wat totaal "underpromise", maar "over deliver". Die plakker en prys en CV van 'n wyn, is verlengstukke van die essensie van die wyn, nie andersom nie. 'n Mooi plakker en duur prys maak nie die wyn in die bottel beter nie.

Jy sien, die vers sê dat dit altyd in die lewe oor die essensie gaan. Met wyn gaan dit oor dit wat binne in die bottel is. Dit gaan oor die smaak daarvan en dat mense smag om van ons innerlike te drink. Die bottel en die plakker en die prys raak vergete op 'n ashoop en vergaan. Wat van belang is is die interaksie van mense. Dit gaan uiteindelik in ons lewens slegs oor een ding wat ons agterlaat, en dit is die nasmaak wat mense in hulle harte oorhet, nadat hulle met ons essensie ons siele gedeel het. Ons onthou die smaak van die wyn, nie die bottel, pryse en plakkers se ontwerpe nie.

Beteken dit dat ons in die lewe soos Job en die Prediker in sak en as moet sit en nie aan ons plakkers en CV's moet werk nie? Beslis nie, dit is nie wat hierdie vers bedoel nie. Die vers gaan juis oor dit, en dit is ons lessie wat ons moet leer vandag, alles is goed en wel wat ons doen en waarmee ons onsself besig hou, solank ons nooit uit die oog verloor wat werklik belangrik is nie. En dat ons so besig is en aandag en energie spandeer om dinge wat verbygaan, dat ons die belangrike dinge in die lewe vergeet.

Daar is dus net een ding in die lewe om op te roem en te vertrou, en dit is God en Sy Genade en belofte van 'n Ewige Lewe saam met Hom, en dat ons dit uitstraal na die mense om ons in ons uitleef van geloof, liefde en vertroue in die Essensie van alles!

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Friday, November 11, 2011

Blindelings

Die laaste week was maar een van daardie weke wat net eenvoudig nie lekker was nie. Vreeslik baie spanning en drama met een van my beste vriende se pa wat ek moes begrawe Maandag en my stiefpa se begrafnis Woensdag.

So met al die dinge in 'n ou se kop, staan ek toe Dinsdag op en vra al die "hoekom?" vrae. Soos ek skryf, skryf ek eintlik my hart uit oor al die dinge wat my pla en die wonder oor die lewe en die sin daarvan. Ek is mooi op dreef met al my gevoelens om so bietjie uit te pak teenoor die wereld daarbuite en ook teenoor God.

Toe ek klaar geskryf het, besluit ek toe om dit te publiseer na my blog toe, en toe gebeur iets baie interresant, eintlik vreemds met my. My laptop laat my nie toe om die dokument se save nie. Dit is iets wat my soos 'n bad yskoue water teen die gesig getref het. Toe kry ek die blackberry kabel en dink dat dit my rekenaar is wat die oorsaak is, en ook kry ek die dokument nie oorgedra of gesave nie. Dit het my so geruk dat ek gevoel het ek moet dit met almal deel.

Jy weet, die wereld om ons maak in die meetste van tye nie sin nie. Die vrae wat ons vra kry ons nie die antwoorde wat ONS soek nie. Vir jare het ek en 'n vriendin geredekabel oor hoe die wereld werk. Sy is van die idee dat alles in die lewe volgens God se plan loop en die steentjies waarop ons moet loop is uitgepak. Al wat ons kan doen is om op die stene te trap, en al dink ons dat ons afdwaal, dat ons op een of ander manier sal terugkom op die pad wat ons moet loop.

Ek het weer baie gedink dat die lewe nie soos 'n poppespel is nie. Ek kon nie glo dat ons met toutjies vas is en elke gedagte, oomblik en beweging direk van God kom en beheer word nie. Nie dat ek nie in die beheer glo nie, maar eerder dat ek dink dat vrye wil 'n rol speel en God meer die regiseur is van die drama. Selfs in die skeppingsverhaal kry Adam en Eva 'n keuse. Dat daar 'n pad is wat uitgelê is, dit glo ek wel, maar dat ek kan kies of ek dit wil loop is my keuse. So raak ek soms baie filosofies.

Om te dink dat iemand die finale antwoord op die idee het is verregaande. Niemand sal ooit werklik die antwoord op die vraag kry nie. So tas ons soms maar in die duister rond en van dag tot dag probeer ons die antwoorde soek om sin te maak.

Soms voel ons goed en maak die antwoord nie saak nie, maar wanneer dit sleg gaan, dan twyfel ons, gaan ons op ons kniee en vra. Soms raak ek soos 'n klientjie was my speelgoed gooi omdat ek voel dat God my nie antwoord nie. Maar wat Dinsdag gebeur het is vir my insiggewend, aangesien ek begin verstaan wat die Bybel vir ons sê.

Soms wil ons ons wil afdwing op God, ons wil mense gesond bid en as dit nie gebeur nie, dan vra ons. Ons soek sukses in wat ons doen, en as dit nie kom op die tyd of manier wat ons wil nie, dan vra ons. As my lewe nie uitwerk soos die prentjie in my kop nie, dan vra ek. En met al die vrae kom ons soms op 'n punt waar jy al die vrae op jou dokument het, maar daar is iets wat jou keer om dit te kan save op jou rekenaar, of om dit met ander te deel op jou blog. Dit is asof jy op die korttermyn dit MAG dink of twyfel, maar dat jy dit nie kan save nie, want dit is nie die finale antwoord nie.

In 'n wereld wat so deurmekaargekrap is op elke vlak raak ons maklik ingetrek by die denke van alles en almal om ons. Raak ons soms desperaat wanneer dinge nie in ons rigting loop nie. Kom ons tot die idee dat niks werk nie en dat dinge nooit ooit werklik reg gaan uitwerk nie. Dan word ons deel van die gemeenskapsdenke van alles en almal rondom ons. En soms begin ons twyfel of die God wat ons aanbid werklik in beheer is en almagtig is om alles te kan doen.

Romeine se dat ons moet versigtig wees om nie ingetrek te word in al die dinge nie. Ons moet versigtig wees om deel te wees van die tipe denke, want dit is nie God wat ons uitdaag en punte wil gee in die geloof nie, maar eerder is dit ons wat dinge verwag om Egoisties in ons idees in te val. Ons wil van God afdwing om te doen wat ons vra en wanneer ons vra. Soms gebeur dinge onmiddelik, maar soms moet ander dinge eers in plek val. Dit is geloof, om te glo in iets wat jy nie sien nie, waarvan die groter geheel ook deel is, maar ook in geduld aan God onderhewig en onderdanig te wees. Soms leef ons soos pionne op 'n skaakbord wat nie die geheel van die spel kan sien van bo af nie, maar in die groot kastele en perde vaskyk.

Dit is wat Romeine bedoel as dit vra dat ons eerder vir God moet vra om ons denke te vernuwe, sodat ons kan onderskei wat die wil van God is, in volle vertroue. Hoe meer 'n mens God vertrou, hoe meer word wat ons vra aan ons gegee. Soek eers die Koningkryk van God en al die dinge sal vir jou toegevoeg word.

Wat Dinsdag my geleer het was dat ek, wanneer ek glo, nie moet vra hoekom en wanneer nie, maar eerder meer moet glo. Dit beteken nie dat ek niks moet doen nie, maar bid en glo is ook iets om te doen. Waarvan vertroue en geduld dalk die grootste is.

Daarom sal ek aanhou droom, bid, glo en vertrou!!!

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!