Friday, April 25, 2014

Dreig, baklei, bose se verlei

Op universiteit het ons in sielkunde geleer dat om jou gevoelens te ventileer die antwoord tot psigiese gesondheid is.

Na soveel ondervinding in die lewe glo ek nogal oor karma, daardie verskynsel waar ons met ons woorde en denke wel ons wereld kan beinvloed. Miskien nie altyd direk nie, maar woorde is soms skerper as swaarde. Mense verstaan nie altyd hoe hulle woorde pyn kan veroorsaak nie. Miskien is Heidegger reg toe hy gese het dat die probleem van ons beperkende intellek die woord is. Woorde is beperkend, en ons woorde word soms misverstaan.

Ek verwys ook na ons nuwe lewe van sms en whatsapp, waar ons nie werklik kan kommunikeer nie, wel in woord, maar nie in emosie nie. Waar ons dan met mense saamleef, besef ons dat soveel verlore gaan in interpretasie. Ons sukkel om ons altyd perfek uit te druk. Dink maar aan daardie liefdesbriewe wat jy aan jou eerste liefde op skool geskryf het, daar was nie genoeg papier nie. Salomo het mos gese mens kan nie weet hoe liefde tussen mense werk nie. Sekere dinge kan mens nie verwoord nie, en daarom moet jy, vir daardie n wag voor jou mond sit.

Onthou ook altyd een ding, jy kan nooit die woorde wat jy gespreek het terugkry nie. En baie keer is dit vloeke wat jy oor ander mense uitspreek. Veral wanneer ons baklei. Soms wonder ek wat die persentasie woordewisseling wat ooit positiewe uiteindes het. Ons vermergel en vermorsel mekaar, wat is die doel. Meeste gevalle gaan dit oor ego en jou eie onsekerhede. Wanneer jy in rustige tye terugkyk na die ventilasie-sessie, besef jy dat dit nie die moeite werd was nie. Mense reageer nie positief op kritiek nie. Een goeie oplossing, want mens kan nie deur die lewe gaan sonder praat nie, is om slegs jou opinie te gee wanneer dit gevra word.

In onderhandelingsvaardighede praat hulle van druk en trek aksies. Wanneer jy mense druk, maak mense toe. Wanneer jy trek maak mense oop teenoor jou. Dit is dus waar dat die Bybel ons leer dat die sagte woord die grimmigheid afkeer. My oupa Frans was n wonderlike mens, nooit sy stem verhef of baklei nie. Hy het hom nooit oor ander uitgespreek nie. Hy was so geliefd, en sy sagspraak was die oorsaak daarvan.

Dit laat my dink aan die idee dat as jy niks goed te se het nie, bly eerder stil.

Verder moet ons verstaan dat ons verskil van mekaar. Dit wat mense met ons en oor ons se is slegs hulle opinie. Verder, as jy jouself ken, verstaan dat jy ook nie perfek is nie. Jy het nie die mag en pag oor ander nie. Meeste baklei en rusie kom van onsekerhede in onsself. Baie keer is wat ons in ander sien n refleksie van onsself. So leer ons ook uit die Bybel dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, voordat jy die splinter uit iemand anders se oog kan haal. So, eintlik is jou eie onvolmaaktheis die rede hoekom jy dalk eerder moet stil bly, voor jy praat.

Al gewonder hoekom n baklei uitloop op n tenniswedstryd. Heen en weer, jy dit, jy dat. Ons leer om onsself te verdedig om iemand anders te probeer herinner aan die ander se onvolmaaktheid. Dit voel dus amper asof ons in ons menswees ingebore het dat ons nie mag oordeel nie.

Wees dus versigtig vir dreig en baklei, dit word n bose verlei. Dit word n bose kringloop in ons lewens. Ons is tog nie diere wat vlug of veg nie, jy het tog n verstand met fantastiese moontlikhede. Elke mens kan verander, elke verhouding kan werk, maar in sagtheid, liefde en aanvaarding alleen.


Sent from my iPhone

Wednesday, April 23, 2014

Buig voor God

Ek lees vanoggend n stuk uit die Bybel wat my weer laat dink oor die manier hoe ons as mense, as ek so mag se, oor God dink.

Die stuk handel oor nederigheid en aanbidding voor God. Soms wonder ek of al ons new age praatjies en denke oor God nie dalk ons ondergang in die lewe is nie. Ons dink mos deesdae dat ons die middelpunt van die lewe is, en ons verantwoordelik is vir ons eie toekoms. Maandag ry ek verby n kerktoring en herinner myself aan die oorsprong daarvan en om die hoogste gebou in die dorp te wees. Vandag sien ons n wereld wat inmekaar tuimel in verhoudings en die val van die groot kapitalistiese stelsels en banke. Daardie ouens wat sulke torings bou wat groter is as enige kerk in die dorp.

Ek wil nie nou die kerk verdedig nie, maar eerder dit as metafoor gebruik vir ons lewens en spiritualeit. Dalk het ons so evolved geraak dat ons met God omgaan as net nog n objek wat ons wetenskaplik en logies mee moet werk. Wat het geword van respek vir God as die Gans Andere, waarvan geen beeld of afbeelding nie gemaak Kan word nie, niks te doen met Mag maak nie.

Dr Johan Heyns het een keer gese: "God Is nie, want as ek Is aan Hom koppel, dan is hy nie meer God nie". Soms voel dit asof ons so totaal wegbeweeg het van diens aan God en oorgawe aan Sy plan vir ons lewe, en hom in bytstukkies probeer breek wat ons bedien. Ons het ons leeens begin leef soos ander mense van ons verwag.

Uit my eie ondervinding oor die laaste paar jaar het ek begin sien dat mense se sukses na hulle koppe gaan en hulle respek vir ander bepaal word deur die manier hoe hulle na hulle en ander se beursies kyk. Baie mense dink ek het n probleem oor die manier waarop ek na geld kyk, beslis nie, inteendeel respekteer ek elke sent in my sak. Wat ek wel agterkom is dat mense se oordeel oor wanneer jy niks het nie, enorm is. Dit het ons eerste punt van oordeel geraak as dit by mense kom. Ons gebruik geld as barometer van sukses. Een ding is waar uit my lewe, my manier van leef toe ek geld gehad het, het veel te wense oorgelaat. Ja, ek was goed vir mense, mense ingeneem in my huis, geld weggegee, ander kinders se skoolgelde betaal ens. Maar wie was ek voor die Here gewees? Wie was ek as mens in die oe van die Here? In die oe van mense was ek fantasties, maar in my eie oe maar effens beroerd. Meeste van die mense toe in my lewe is nou weg. Net n handvol wat my werklik lief het is oor, en dis ok vir my, want ek het geleer dat ek beter af is as mens waar ek nou is.

Nou dat ek niks het nie is ek spiritueel op so n fantastiese plek. Ek lag en laat niemand toe om my te judge nie, veral nie met valse maatbande nie. Want wanneer ek min is, is God baie in my lewe, maar toe ek baie was, was God min vir my.

Dit laat my so dink aan die verlore seun wat teruggaan met sy hoed in die hand en sy varkkos-asem na n plek van rus by sy Vader. Die les hoer gaan nie oor geld nie, maar oor prioriteite, dis waar wonderwerke plaasvind.

Vandag gaan ek terug na God met n blye hart in die wete dat ek al my bekommernis en al die oordeel en al die sukkel in Sy hand los en weet, Hy sal sorg.

Ek gooi al die oordeel van my af, want ons leef nie vir mense nie, ons leef vir God.

God is gans anders, punt, amen.

Sent from my iPhone

Friday, April 4, 2014

Is God nog 'n God van wonderwerke?

 

Ek sal myself klassifiseer as ‘n Christen, seker maar op my eie manier en met my eie dinge in my kop van hoe ek dink dit werk.  Ek probeer deur my lewe al om na te volg wat ek in die bree lyne van die Bybel lees, soos om die regte dinge te doen.  Vir lank het ek wel met myself gestoei oor my eie tekortkominge en foute wat ek maak, maar in die Bybel leer ons tog dat ons nie volmaak is nie, maar steeds oordeel ons oor onsself, veral wanneer dinge begin verkeerd loop. 

In die verkeerd loop van die lewe, begin ‘n mens soms vra oor wat die punt daarvan is?  Wat help dit dat ek so hard probeer om reg te leef?  Jy kyk saam met ouens soos Dawid na mense om jou, en jy begin besef dat daar dalk ander maniere is van leef, want om perfek te wees is nie noodwendig die antwoord nie.  Dawid se op baie plekke dat hy nie kan verstaan dat dit met mense wat NIE in God glo nie, goed gaan, mense wat doen net wat hulle wil, en dit lyk asof daar geen konsekwensies vir hulle dade is nie.  Dit lyk eintlik asof die konsekwensies van hulle “verkeerd” doen, positiewe dinge is.  Dit kan natuurlik maklik ‘n mens se geloof toets en jouself laat vra wat die punt is daarvan.

Op die ander punt van die skaal, begin jy glo dat daar ‘n manier is en moet weet om jou omstandighede te verander.  Daar was altyd nuwe en ander maniere hoe mense hierdie wereld en hulle aksies gedryf het.  Denke wat ons in vandag se tyd die nuwe spiritualiteit of die New Age beweging kan noem.  Soms vind ek dat mense gryp na hierdie nuwe maniere van leef, veral wanneer hulle begin dink dat God dalk nie so betrokke in hulle lewens is nie, dat daar nie meer wonderwerke is nie, maar alles net vibrasie en ingesteldheid is.  Ons leer onsself dat ek myself van voor af kan programmeer om beter te funksioneer in my lewe.  Ek word die argitek van my eie bestaan en my eie lewe.  Ek kan heeltemal verstaan dat mens so begin dink, want dit voel soms asof God nie betrokke is nie.  Mense gee nuwe name aan hierdie iets wat groter is as ons, naamlik die “universe”, om in ‘n mate weg te beweeg van ‘n God wat ons soms voel nie in ons lewens meer betrokke is nie.

Deur die eeue het mense gesukkel met ‘n konsep in die teologie van presies dit, die Theodisie probleem.  In kort gaan dit oor hoekom God slegte dinge toelaat om te gebeur met mense wat Hom aanbid.  Hoekom word ons siek?  Hoekom sukkel ons?  Hoekom voel ons soms heel alleen en dat God ons verlaat het?  Soms vra ons nie meer die vrae nie, en al wat ons doen is om maar net stelselmatig meer en meer weg van God te beweeg.  Gister en vandag het ek so hard vir myself die vraag gevra, want ek probeer my bes, maar dinge werk nie uit nie.  So in my denke rondom, en my soeke na God en Sy hand van ingrype in my lewe, begin ek toe onwillekeurig bang word, want ons is mos nie veronderstel om hierdie God te bevraagteken nie.  Hierdie vrees lei ook daarheen dat ek onwillekeurig skielik doen wat ons almal doen, ons begin weer kyk na ons eie lewens en die manier hoe ek dinge doen.  Ek vra weer vrae oor my sondigheid, ingesteldheid, vibrasie en programmering.  Ek begin weer na binne kyk om die antwoorde in myself te soek, om sodoende God se plan en wil te soek in my lewe.  Dit is natuurlik om so op te tree, want ons is mos altyd op soek daarna om God se guns te probeer wen.  Ons vra die vraag na die sin van die geloof, as dit nou nie werklik vir my iets kan beteken in my alledaagse lewe nie.

Ek dink terug aan my kinderdae en wat ek geleer is dat geloof nie is soos die kersvader verhaal waar ek mooi persente kry wanneer ek ‘n soet kind was nie.  Ek verstaan die verantwoordelikhede in my lewe en dat ek nie net met mense omgaan soos ek wil nie, maar God se liefde moet leef.  Ek weet egter ek kan niks ooit doen om God se guns te wen nie, want sondig sal ek wees.  Ek wil nie hier praat oor die skadukante van ons menswees nie, want ons het dit almal en kan dit nie afskud nie. 

Die vraag hier is egter:  “Waar is die God van wonderwerke?”  Want as alles net ek is, die goed en die sleg, waar is plek vir God?  As ek nie kan verdien nie, nie die goed of die sleg nie, hoekom kry ek die sleg?  Is ek werklik so sleg dat ek nie die mooi in die lewe kan kry nie?  As dit nie verdienste is nie, hoekom sal God my straf?  Dit is tog duidelik dat daar in die Bybel hierdie wisselwerking is in wie en wat God getipeer word.  Orals lees ons van reels en regulasies van wat ons moet doen om ‘n lang lewe te kry as geskenk.  Op soveel plekke lees ons van waar God vir mense gee net wat hulle vra, en in sommige gevalle nog meer as wat hulle verdien.  So, verdienste is deel van die godsdiens wat ons leef, die onnatuurlike manier van waar jy nuut gebore word en doen wat God van jou verwag.

Maar die Bybel is tog vol van magiese wonderwerke, waar God vir mense gee, sonder dat hulle in Hom glo, sonder dat hulle doen wat God vra.  Selfs vir mense wat nie God se wil doen nie, word uit hulle skoene geseen.  Ek verstaan dat dit van buite af so lyk en dat dit soms net ‘n front is wat mense voor hou, maar as jy sukkel en dit gaan sleg met jou menswees, begin ‘n mens soms wonder.  Daar was soveel geleenthede in my lewe waar ek die wonderwerke afgebid het, en God my verhoor het, maar die vraag bly hoekom God dit nie altyd doen nie. 

Ek verstaan dat Jesus ook van God gebid het om die beker by Hom te laat verbygaan, maar God dit nie verhoor het nie, want daar is ‘n groter doel daaraan verbind gewees.  In dieselfde opsig is ons godsdienstige denke ook so geprogrammeer om te glo dat ons lewens elke dag in God se hand is, en dat God ons lei na die doel wat Hy vir ons gestel het.  Dit moet ons soms ook rustig maak in die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk, en dat ons net moet vertrou.

Aan die ander kant is ons ook deur ons godsdienstige opvoeding geleer om na die lewe as ‘n halfvol glas te kyk.  Dankbaar te wees vir wie en wat jy is, eerder as om ondankbaar te wees vir wat jy nie het nie.  Blykbaar moet hierdie dankbaarheid ons so vul dat ons niks anders in die lewe van God of die lewe verwag nie.  Wees content met jou omstandighede en maak vrede.  Maar ons word tog ook geleer dat die lewe sin het, nie net in dankbaarheid nie, maar dat ons ook iets astronomies met ons lewens kan doen.  Ons het talente en moet dit uitleef, ons moet groei en daarmee saam ook die lewe geniet.  Ons kan tog ‘n wereld skep en in tot alles instaat deur Christus wat ons krag gee.  Op facebook sien jy baie van hierdie prentjies wat ons lewens en hoe dankbaar ons moet wees deur die mooi boodskappies te share. 

In soveel dinge wat ek lees en hoor, besef ek net soveel meer dat mense soek na iets.  Mense glo nie meer in wonderwerke nie, want ons het geleer om ons lewens so te kan beheer, sodat ons in beheer voel.  Ek sukkel, want dit voel vir my asof ek nie werklik beheer het nie.  Ek kry soveel raad en soveel insette van mense wat ek sien geleer het om hulle lewens te beheer en iets gemaak het van hulle omstandighede.  Dit is vir my wonderlik, en soms is ‘n mens jaloers oor wat gebeur met hulle, maar bly aan die ander kant.  Soos ek met hulle praat oor hulle suksesse, besef ek een ding, daar is iets in hulle lewens wat hulle lewens anders maak, maar soos ‘n goue draad deur almal van hulle loop.

Dit is nie dat hulle nooit swaargekry het, of nie steeds doen nie, maar daar het op een oomblik in hulle lewens ‘n besluit gekom, ‘n katalis wat hulle ‘n pad gekies, ‘n manier van dink verander het wat hulle lewens verander het.  Die besluit klink verskillend, maar dit kom van ‘n “gatvol” situasie waar hulle vir hulleself se:  “Tot hiertoe en nie meer verder nie”.  Op een of ander manier het hulle die onmoontlike vermag om hulleself aan hulle skoenveters op te tel en met passie te begin leef.  Daardie “moegword” vir die manier hoe hulle lewens loop, en ophou om hulleself jammer te kry.

Om te weet wat die omvang van God se hand in daardie oomblik van omdraai is, sal ons seker nooit weet nie, maar vir my is dit soms moeilik om te verstaan hoe God se hand werk.  Ek hou nie op om te leef in die geloof van wonderwerke nie, alhoewel ek soms wonder oor waar daardie hand in my lewe is. 

Ek glo in wonderwerke, en ek glo in ‘n God wat nooit vir sy kinders die slegte toewens nie, en ek vra wat die lesse is wat ek moet leer in hierdie tyd in my lewe.  Ek dink aan die woorde van Romeine 12:2:  “Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.  En dit is dalk eerder my gebed, dat ek moet ophou wonder en dalk weereens eerder my lewe aan God elke dag bly gee en God toelaat om die manier hoe ek dink en hoe ek wonder anders te maak.  Ek sal ook nie skuldig voel teenoor wat ek soms oor God beredeneer nie, want dit is ook God se manier om my denke te vernuwe en so bietjie ‘n kykie in God se hart te kry. 

En weereens, soos in baie Psalms, begin ek met ‘n klaaglied, maar eindig met ‘n geloofsbelydenis dat ek steeds sal glo in ‘n God van wonderwerke, ‘n God wat in beheer is en saam met wie ek ‘n lewe kan bou, in Hom en deur Hom.