Friday, December 23, 2011

Die kuns van niks doen

Vanoggend staan ons op en met al die mense in die huis was die huis maar in chaos gedompel. Die bediende is op verlof, so dit is maar ons werk nou om die huis skoon te maak. Skottelgoed was, vloere skoonmaak en stofsuig. Nou sit ek hier en ervaar hoe lekker skoon alles is, tot die eerste kind weer begin verbystap met ‘n broodjie in ‘n skoon bordjie. Aai, so begin alles weer van voor af.

Een ding is seker en dit is dat ons nie kan funksioneer in chaos nie. Alhoewel almal weer gaan omkrap is dit beter dat hulle omkrap nadat ons skoongemaak het. As hulle verder omgekrap het sonder dat ons skoongemaak het kan ek net dink hoe die chaos sou vermenigvuldig het. As daar 2 borde is om gewas te word is ‘n mens se gemoed lig en pak jy dit vinnig aan. As die hele wasbak vol skottelgoed van 5 dae is, voel ‘n mens sommer depressief en sleg. Dan voel dit soos ‘n berg om geklim te word. Dan voel ‘n mens nie eers lus om ietsie lekker aanmekaar te slaan nie. En sodoende verloor ‘n mens sommer totaal jou lus vir alles as alles om jou deurmekaar is.

‘n Mens se siel wil maar eenvoudig funksioneer met ‘n mate van orde en beheer. Alhoewel ‘n mens op vakansie bietjie wil rus, kan ‘n mens ook nie rus voordat alles nie mooi skoon en op hulle plek is nie. Ons omstandighede om ons is ongelooflik belangrik vir ons siel. Net soos die wereld rondom ons skoon en mooi en georganiseerd moet wees, het ons siele en gedagtes dit ook nodig. Ek onthou dat mense jare terug die tyd en moeite gedoen het om in die oggende stil te word voor die harwar van die dag begin. Geleentheid gemaak om hulleself te orden en reg te skud en te beplan.

Ons wereld is gejaag en vol klanke en geluide rondom ons. Stilte is moeilik om te kry. Soos ek hier sit en skryf hoor ek die hardeskyf, ek hoor die ander rekenaar se waaier, ek hoor Mickey Mouse Clubhouse se liedjie op die televisie en elke nou en dan ‘n kind wat skree of ‘n BBM wat deurkom en ‘n foon wat lui. Sit nou daar waar jy is en let bietjie op hoeveel geluide jy hoor en of stilte enigsins te vinde is. Ek dink nie ons besef hoeveel klanke en geluide ons elke oomblik om ons hoor nie, en dit alles moet gefilter en uitgeblok of ingeneem word. Daar gaan altyd geraas wees, net soos wat daar altyd kinders gaan wees wat hulle speelgoed die hele vloer rondgooi en weer vuil maak.

Ek is nogal iemand wat baie sukkel om stil te word. Selfs toe ek gestudeer het was my musiek aangeskakel. Ek lees graag terwyl ek voor die televisie sit. Soms speel ek op die internet terwyl ek iets anders doen. Ek voel ek moet die hele tyd besig bly met iets. So het ons kindertjies in ons huis wat die hele tyd mors en speel. Om hulle te kry om stil te sit of te bly is maar moeilik, net soos wat die geraas om jou bitter min gaan stil word. Soos ek my kinders leer, so leer ek myself ook om soms stil te word en niks te doen nie. In die film “Eat, Pray, Love” word ‘n oulike term gebruik naamlik “The art of doing nothing”.

In hierdie vakansietyd gaan mense probeer rus. Ek sukkel daarmee om die kuns van niks doen te bemeester. Ek wil die hele tyd met iets besig wees en sukkel om af te sluit. Maar dit is nodig, al is dit net vir ‘n oomblik of twee op ‘n dag. Die kuns om absoluut stil op ‘n plek te sit, sonder ‘n telefoon in jou hand, sonder ‘n boek en sonder enigeiets wat jou aandag kan aftrek van jouself. Erens moet jy begin om die skottelgoed in jou kop te was. Erens moet ‘n mens daardie stilte kry en skoonmaak voordat die geraas en die stress en die spanning weer begin.

In die Oosterse godsdienste word die term gebruik dat daar in ‘n teekoppie wat vol is nie meer plek vir nog tee is nie. So is dit ook met ons. Op een of ander stadium word die geraas om jou soveel dat jy moet begin klanke sagter en af sit om plek te maak. Daardie gevoel dat jy net eenvoudig nie kan dink nie omdat jou kop te vol is.

Watter tegniek jy ookal toepas om dit gedoen te kry maak nie saak nie. Die tipe skottelgoedseep wat jy gebruik is nie belangrik nie. Dis nie belangrik of jy met staalwol of ‘n lappie die skottelgoed was nie. Die belangrikste is om die skottelgoed gewas te kry en orde te skep. Jy sal voel of ervaar dat die oomblik wat jy kop skoongemaak het, jy skielik weer kans sien vir nuwe dinge. Jy sal weer lus word om spesiale dinge te doen en ‘n nuwe dis op te toor.

Soms is ons so vasgevang in die draaikolk van ons gedagtes dat ons aan niks nuuts of mooi kan dink nie. So sien ek mense om my wat hulleself deur tyd so vasgedraai het in ‘n manier van dink en nooit meer anders kan dink nie. Omdat hulle nooit die skottelgoed was nie, hoop die skottelgoed op en op. Later kan hulle nie meer ander se sienswyses aanvaar nie.

My rekenaar is die laaste ruk vreeslik stadig omdat daar nie meer vreeslik baie plek is nie. Toe begin ek om die rekenaar te “defrag”. Dit orden net weer al jou data en groepeer die informasie wat belangrik is bymekaar. Die oomblik toe ek dit klaar gedoen het is daar skielik weer plek en spoed. Gebruik hierdie tyd van rus en “defrag” so ‘n bietjie jou kop en was die skottelgoed om plek te maak vir alle nuwe idees en uitdagings wat vir jou wag in die nuwe jaar.

Geniet die vakansie!

No comments:

Post a Comment