Tuesday, August 19, 2014

Die Hysbak

Ek staan nou die dag voor die hysbak by my ma se huis, besig op my foon met whatsapp, en skielik wonder ek hoekom die hysbak nie opdaag nie.  Hy is baie keer stukkend, en dit was my eerste idee dat daar fout is.  Tot my verbasing besef ek met 'n lag in my kies, dat ek nooit die knoppie gedruk het om, soos die Hollanders se, hom bestel het nie.


Mense vra my baie keer die vraag na aanleiding van my denke, watter deel van die lewe is werk wat jy moet doen en wanneer speel toeval en die hand van God of die "universe" 'n rol in mens se lewe.  Mense dink om een of ander rede dat ek baie keer se dat 'n mens moet aanvaar en die lewe moet leef, asof ek daarmee bedoel dat jy maar net moet los en alles gaan outomaties vir jou gebeur.


Die voorbeeld van die hysbak is presies hoe ek dink hoe die lewe werk.  Ek is nie 'n ingenieur nie, maar ek weet dat die hysbak werk met elektriese motors wat teengewigte of hidrolies werk en die hysbak op en af laat beweeg.  Dit is vreeslik gerieflik, veral as 'n mens siek of oud is, en baie beter as jy baggasie of 'n waentjie vol kruideniersware het.  Dit is baie beter as om trappe te klim, en baie minder uitputtend. 


My kinders hardloop gewoonlik vir die hysbak om die knoppie te kan druk, en dan het ons ook 'n rangorde van wie watter knoppie druk.  Ek dink dit is wonderlik vir hulle om so "in beheer" te voel van hierdie groot masjien.  Jy is totaal en al in beheer van waar JY wil afklim, maar ongelukkig kan jy nie beheer op hoeveel vloere en waar die hysbak gaan stop nie.  Jy het ook nie altyd beheer oor wie saam met jou in die hysbak op die ander vloere inklim of uitklim nie.  Een ding is egter seker, soos wat ek nou die oggend uitgevind het, niks gaan gebeur as jy nie die hysbak bestel of wanneer jy binne is, die vloernommer druk waar jy wil heengaan nie.


Hierdie voorbeeld van die hysbak is vir my so sketsend van wat ek oor en van die lewe dink, soos 'n hysbak.  Niemand van ons weet heeltemal seker wie die hysbak beplan, of ingesit het in die gebou wat jy gebruik nie.  Wanneer laas het jy gekyk na die maak van jou hysbak?  Soms is ons so besig om te probeer uitrafel hoe en wie die hysbak gemaak het, dat ons nooit besef dat ons dit mag gebruik, irrespective wie die hysbak gemaak het nie. 


Die hysbak is daar vir jou gerief, soos die lewe gemaak is vir my en jou om te geniet.  Daar is talle geleenthede en opsies en keuses wat ons het in ons hysbak-lewe.  Soms sien ek mense wat totaal na die ander kant van die lewe oorhang, wat of buite staan en wonder hoekom die hysbak nooit by hulle stop nie, of inklim en nooit 'n bydra maak en besluit waarheen hulle wil gaan nie.  Hulle lewens voel doelloos, want al wat hulle doen is om doelloos hulle reis op grond van ander mense se keuses te maak.  Hulle ry doelloos, dag in en dag uit op en af saam met ander, en vir vlietende oomblikke, wanneer die hysbak oopgaan, loer hulle uit om te sien hoe ander mense se vloere en lewens lyk. 


Ek ervaar baie mense wat nooit in hulle lewens iets bereik nie, en hulle kritiseer die "hysbak" omdat die nie instinktief weet om te stop en hulle op te laai of oop te maak by die vloer van hulle keuse nie.  Soms voel ek asof ons met God omgaan asof alles net outomaties moet gebeur, asof ons soos poppe aan 'n tou moet leef.  God is daar om ons te ondersteun, net soos die hysbak se hidroliese kabels en die hysbak.  God gee ons ongelooflike geleenthede en vloere om op uit te klim, maar jy het vrye wil.  Jy kan besluit of jy enigsins in die hysbak wil klim en wil deelneem aan die lewe, of nie.  Jy kan besluit of welke vloer jy wil uitklim, wetend dat die hysbak altyd weer beskikbaar gaan wees om jou na 'n ander uitdagende vloer te neem.


Die hysbak is ook nie net vir jou uitsluitlike gebruik nie.  Daar is en sal altyd mense wees wat dit met jou deel.  Soms moet jy wag vir die hysbak, of toelaat dat die mense om jou hulle eie besluite neem oor op welke vloer hulle wil afklim.  Soms wil ons God dwing, saam met ander mense om selfsugtig die lewe vir ons NET te laat werk soos ONS wil.  Ons is soos klein kindertjies wat in die hoek gaan sit en kerm omdat dinge nie vir ONS uitwerk nie.  Die mense saam met jou in die hysbak van jou lewe het ook die reg, en soos met die hysbak moet jy geduldig wees, jy SAL op die vloer van jou keuse eindig, dalk nie onmiddelik nie, maar in tyd.  Almal kom uiteindelik uit by die keuse wat hulle uitgeoefen het.  Dalk word jy verras deur op 'n vloer te eindig wat iemand anders gekies het, wat vir jou opsies en geleenthede bied wat jy self nooit aan gedink het nie. 


'n Komediant vertel nou die aand die storie van die hysbak en verwys komies na die optrede van ander mense.  Hy se hy vind dit vreemd dat sekere mense nooit jou "knoppiedruk-vernuf" vertrou nie.  Hulle kom of by die bestel, of binne by die knoppie, en alhoewel jy reeds die knoppie gedruk het, druk hulle dit oor en oor, asof hulle dink dat die hysbak daardeur besef dat hy nou vinniger moet kom, want daar is 'n belangrike persoon wat NOU wil ry.  Ons ken almal daardie gevoel van has binne ons wat nie kan wag nie, maar die lewe, net soos die hysbak vat sy tyd.  Niemand van ons is SO belangrik dat die hysbak NET vir ons is nie.  Geduld en saamwerk is die antwoord, wetend dat ander mense net soveel reg op die lewe het as ons. 


Geduld is natuurlik een ding wat ons almal, met onsself, met ons medemens en ook met God se lewe moet aanleer.  Soos almal met die hysbak tog hulle bestemming bereik, moet ons ook geloof he dat ons lewens ook wel sy bestemming sal bereik.  Jou rol is om te droom, deel te wees en die knoppies te druk. 

Een ding wat sielkundig met mense in die hysbak gebeur, is dat ons skaam is.  Dit is 'n beperkte ruimte, en mense staan gewoonlik en kyk vir die uitslag op die nommertjies van waar die hysbak NOU is.  Ons is soms so uitgelewer daaraan om ons DOEL te bereik, dat ons vergeet van die reis.  Ons vergeet om met die mense om ons te gesels en saam deel te neem.  Daar in my ma se ouetehuis se huisbak sien ek dat mense soms SO lekker gesels en betrokke is by mekaar, dat hulle herinner moet word dat hulle hulle vloer bereik het.  Soms is ons so besig met ons eie dinge, dat ons vergeet om beleefd en beskaafd met mekaar om te gaan, en soms moet ons besef dat dit juis daardie omgaan met mekaar is wat die reis, korter, vinniger en genotvol kan maak.  


Partykeer moet ons ook ons oog afhaal van die "beheer" en "bestuur" en die "doelwit", en soms net leef.  Dit beteken nie dat jy doelloos hoef rond te ry die hele dag of voor die hysbak staan en wag vir wonderwerke nie, dit beteken net dat jy dit OOK moet doen.  Druk jou knoppie, maar terwyl jy nog nie daar is nie, geniet die geselskap en die reis. 


Soms, eiintlik meeste van die kere, is ons onseker van waarheen ons moet gaan, en wat ons doel-vloer is, en gelukkig het ons dan ook mense wat ons kan vra.  Soms is ons te trots om hulp te vra, want ons wil mos nooit lyk asof ons "incompetent" is nie.  Fier stap ons in die hysbak in en met 'n houding DRUK ons die knoppie.  So 'n paar weke terug kyk ek op youtube 'n aanbieding van TED, wat handel oor die KUNS om te vra.  Die aanbieder, Amanda Palmer, vertel van haar eerste werk op straat as 'n beeld wat geld van mense gevra het vir haar moeite om haarself so mooi te vermom, tot haar en haar "band" se manier om te gaan optree by musiekfeeste.  Sy het die kuns van vra aangeleer, en daarom het hulle altyd 'n plek gehad om te slaap, kos om te eet en vervoer.  Hulle vra mense om hulle te help, en sy noem dit 'n kuns, want ons het verleer om hulp te vra, en meer nog, ons is soms te trots om vir hulp te vra.  Daar is altyd mense om jou in die hysbak wat ondervinding het wat jy nog nie oor beskik nie.  Moenie te trots wees om te vra nie, want trots word baie keer uitgeballanseer met vernedering en irritasie.  Vra om hulp en vra op aanwysings, en moet nooit dink dat iemand nie "gekwalifiseerd" genoeg is om jou van hulp te wees nie.  Die Budha het ook om hulp gevra, en dit van 'n olifant.  Al die groot denkers lees steeds ander mense se werke, analiseer ander se studies en soms het hulle adviseurs wat hulle help.  Onthou altyd, almal het 'n deel van die waarheid beet, die probleem kom in wanneer jy dink JY het al die antwoorde.  Eric Hoffer het gese: "In times of change, learners inherit the earth, while the learned find themselves beautifully equipped to deal with a world that no longer exists."


'n Hysbak is ook so ontwerp dat jy nooit werklik "alleen" is nie.  Daar is 'n "alarm" knoppie en ook 'n tweerigting kommunikasie as jy vassit of as daar 'n noodgeval is.  Dalk word die hysbak se tweerigting radio nie altyd beman nie, maar in die lewe het ons altyd die moontlikheid om in ons goeie en slegte oomblikke met God te kan praat, en daar is nooit 'n kortsluiting nie.  Sodoende kan ons almal veilig voel om die reis te onderneem.


Gaan bestel jou hysbak vandag, moenie staan en wag terwyl die lewe by jou verbygaan nie.

Monday, August 18, 2014

Mosaik


Die hofsaak van Oscar Pistorius het die hele wereld aan die gons, en elkeen van ons het 'n standpunt oor wat ons dink wat gaan met hom gebeur.  Verlede week in hulle slotopmerkings, haal Adv. Gerrie Nel aan uit 'n vorige hofsaak.  Hy gebruik die term "Mosaik", en se dat alhoewel 'n mens nie direkte bewyse het nie, al die "circumstantial evidence", seker vertaalbaar met "onstandigheids bewyse", almal saam 'n volledige prentjie vorm, soos wat 'n mens Mosaik bymekaarbring. 

Ek vind hierdie standpunt baie interresant, want dit laat 'n mens met een groot vraag, nl. "Wat wil jy bewys?"  Hierdie stanpunt laat soveel plek oop vir interpretasie, dit hang net af aan watter kant van die hofsaak jy is.  So het Adv. Barry Roux natuurlik hierdie mosaik van die staat probeer uitrafel, om sodoende sy eie mosaik van bewyse vir onskuld te gee.  Dit beteken dat dieselfde bewyse dus op verskillende maniere gerangskik kan word om beide kante, inkriminerend en vrylatend te skep. 

Ons lewens is ook maar 'n mosaic van allerhande omstandigheids bewyse.  Daar is byvoorbeeld jou persoonlikheid, daar is jou denkwyse, daar is jou optrede en jou geskiedenis.  En net soos met die hofsaak, is daar nooit werklike "ooggetuies" wat jou ooit werklik ken of wat altyd saam met jou is nie.  Sodoende ontstaan daar 'n hele boel stukkies wat jy in jou ronddra, en wat die mens maak wat jy is.  Die mense om jou "maak" 'n prentjie van jou, en dit word hulle foto van jou.  Natuurlik het elkeen van hulle ook 'n "agenda" van wie hulle is en is daar mense wat aan verskillende kante van die weegskaal van jou lewe is.

Ek is in my lewe deur 'n hele paar mislukte verhoudings, en alhoewel ek nie vreeslik verander het nie, het ek gesien dat mense vir wie jy hulle alles was, dieselfde stukkies van jou anders kan rangskik om jou prentjie total anders te laat lyk.  Soos met die hofsaak van Oscar, is jy nie noodwendig anders nie, die bewyse is dieselfde, maar waar dit eens in jou guns getel het, kan die herrangskik daartoe lei dat dit totaal teen jou tel. Ek verwys so baie na John DeMartini, wat die standpunt huldig dat alles in die lewe uitballanseer.  In werklikheid wys hy daarop dat vir elke aksie in die lewe, daar 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie is.  Hoe groter jou sprong na die een kant toe is, hoe groter teenkant word gevorm om jou uit te ballanseer.  Hy stel dit duidelik dat ons bewus moet wees van die feit, maar dat mense nooit in die uiterste van emosies en prentjies kan leef nie.

Prakties is dit baie waar, en dit het ek gister ervaar, dat mense outomaties altyd dinge in perspektief wil stel, selfs onwetend.  Gister het ek 'n gesprek met iemand oor my geliefde Blou Bulle wat swaarkry in die Curriebeker.  Skielik kom die ander persoon en vertel my van al die Springbokke wat weg is, en die ouderdomme van die span ens.  Die lewe sal nooit toelaat dat jou denke en idees buite verband alleen staan nie.  Dit is hoekom die hofsaak 'n regter het, wat opweeg.  Natuurlik gaan alles nie altyd maanskyn en rose na jou kant toe nie, maar die wereld het 'n manier, en dit is dalk waar God inkom, om jou uit te ballanseer.  Dit is dalk wat God se boodskap so ongelooflik maak, is dat God gladnie belangstel in watter kant, skuldig of onskuldig, jou bewyse oorhel nie, want in God se oe is ons in volkome balans in die liefde.

Maar intussen moet ons funksioneer met die mense om ons, maar hoe doen 'n mens dit?  Ek dink daar is 'n paar maniere om dit te doen.  Wat jy moet verstaan, om mee te begin, fokus eerstens aan watter kant jy van die skaal is, kom ons noem dit nou maar negatief en positief.  Wanneer jy dit gedoen het, moet jy besef dat altwee van hulle gevaarlik kan wees.  Kom ek noem vir jou 'n voorbeeld wat ek baie by my kinders sien.  Hulle raak werklik kinderlik opgewonde wanneer hulle iets lekker kan doen soos om Spur toe te gaan.  Hulle speel hulle harte uit, net om, wanneer hulle terug is by die huis, so 'n klein depro te slaan.  Nie dat ek se dat jy hulle nie Spur toe moet vat nie, net dat as iets "te" is aan die een kant, dan gaan daar iets gebeur om jou skaal weer terug te swaai na die ekwilibrium.  Die oumense het mos gese dat alles wat 'n "te" is verkeerd is, behalwe te-voet en te-maties. 

Ek dink dat ons soms te veel in die ekstreme leef, of dit nou negatief of positief is.  Dit lei daartoe dat daar altyd iets moet gebeur om die ekwilibrium te bring.  Mense kan eintlik net leef, wanneer ons daar erens in die middel leef, nie in die ekstreme sonder balans nie.  Daar waar ek besef dat ek net kan funksioneer saam met mense, as ek hulle goeie en slegte punte erken en daarmee kan saamleef.  In die wereld van die bekende mense soos akteurs sien ons dit baie.  Hulle word so opgebou en aanbid, en dan is die poniekoerante daar om hulle lewens vir ons oop te sper en die balans te kry, dalk maar vir die wereld om te besef dat hulle net sulke gewone mense soos ek en jy is. 

Een so 'n goeie voorbeeld is Joost wat op die kruin van die rugby- en sosiale- werelde hom bevind het.  Ons het opgekyk na hom, en toe sy optredes in die pers oopgekrap is, toe het almal weer vingers na hom gewys.  Nou met sy siekte sien ek in mense dat niemand meer regtig dink aan die status of die val nie, maar daar in die middel kry ons hom almal jammer en bid ons vir hom soos wat ons doen met enige gewone persoon.  Jy sien, twee ekstreme bring ons tog altyd uit tot die punt om te verstaan dat almal maar daar erens in die middel, "gewone" mense is. 

Ek ondervind dit in die laaste tyd baie in my eie lewe.  Ek kry swaar en ek swoeg aan die een kant, en ek ondervind hoe my vriende die laaste ruk begin het om my te vertel van al my positiewe punte.  Dit  is iets wat hulle nooit voorheen op so 'n manier gedoen het nie, maar hulle is natuurlik daar om die balans VIR my te bring.  Niemand in die lewe is NET sleg of NET goed nie.  Selfs in die Bybel sien ons hoe die Romeine en die ortodokse Jode die balans gebring het in Jesus se lewe, deur Hom te kritiseer en Hom te kruisig uiteindelik.  Die balans sal altyd daar wees, maar daarmee saam se ek nie, net soos met die Spur voorbeeld, dat jy nooit iets mooi van iemand moet se nie, of iets lekker met hulle moet doen nie, maar eerder moet verstaan dat mense twee kante van 'n muntstuk het, dinge wat JOU beindruk, maar ook dinge wat JOU gaan afsit van hulle.  Eintlik is mense muntstukke wat nie OF kopkant, OF stertkant is nie, maar eerder regop staan sodat ek beide kante van hulle menswees in balans kan sien.  Weereens, is niemand ooit net sleg of ooit net goed nie.

So, as jy dit weet of verstaan, dan alleen kan jy aanbeweeg na die volgende punt toe, en dit is dat jy self nooit regter mag speel en oordeel nie.  Een van my vriende is vir my 'n ongelooflike voorbeeld daarin.  Hy se altyd:  "It is all about the people", en sy lewe spreek daarvan.  Wat ookal gebeur, hy stel homself elke dag bloot aan almal, en sonder oordeel.  Dit beteken nie dat hy nie standpunte het en alles kondoneer nie, inteendeel, maar sy standpunt is dat alles oor mense gaan, en dat hy nie kan, mag en die heel belangrikste WIL oordeel nie.  Jesus het sterk standpunte gehad oor hoe die lewe is en moet werk, maar meer belangrik nog, aan die kruis spreek hy die heel belangrikste woorde:  "Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie"!

Ons besef nie aldag wat die krag van vergiffenis is nie, miskien omdat ons onsself oordeel.  Vergiffenis beteken nie dat alles in die lewe toelaatbaar is nie.  Die gemeente vra mos vir Paulus of genade dus beteken dat hulle meer sonde kan doen, sodat die genade moet toeneem in hulle lewens.  Paulus sukkel om vir hulle te vertel dat dit juis NIE die geval is nie.  Genade het nie te doen met kwantiteit nie, maar met kwaliteit lewe.  Genade is juis die verskil tussen ons godsdiens en ander, waar daar by hulle altyd 'n swaai is tussen 2 pole.  Ek doen iets verkeerd, en dan doen ek iets om dit reg te maak.  My God werk nie so nie, my God werk daar waar my muntstuk regop staan en waar God my sien vir my hele wese, en niks oordeel oor my "slegte" kant nie, maar my ook leer dat my "goeie" kant ook geen relevansie het nie, want ek kan nie liefde verdien nie.

Ons wereld, met sy moondhede, grondsug, haat, moord, liefdeloosheid, gebroke verhoudings en gebroke mense, sal altyd dieselfde bly, totdat ons, ek en jy, ons ingesteldheid teenoor onsself en mekaar verander.  Mense is daagliks so besig om hulle skadukant te beveg om die regte dinge te doen, dat die lewe by ons verbygaan.  Dit beteken gladnie dat jy nou maar net kan maak wat jy wil en dink dat die lewe gaan verander nie, en dat daar dan in balans dieselfde goeie dinge gaan gebeur nie, dit gaan nie werk nie.  Wat dit wel beteken is dat jy jouself moet aanvaar en verstaan wie en wat jy is, in genade.  Soms is ons "skadukant" ook maar 'n toeloop van omstandighede, net soos jou groot ore of krom neus.  Miskien word vandag die dag wat jy jouself 'n breuk gee, en jou muntstuk regopdraai en met daardie mens leef, eerder as om te fokus op die reg en verkeerd in jou bestaan.

Onthou dat jou "mosaik" van jou lewe, gebou word op jou eie interpretasie, jou eie plan en ontwerp van wat jy dink die lewe moet wees.  Jy kan jou stuk werk vir jouself rangskik NET soos jy wil, dit is God se geskenk aan jou.  Gaan rangskik in liefde jouself, jou medemens en jou wereld soos wat God dit doen.  Kyk deur God se bril, en wanneer God jou as 'n regop muntstuk sien en nie fokus op jou verdienstekant of jou skadukant nie, wie is ek of jy om dit anders te wil doen.  Dit is waar harmonie en die ware lig van God deur jou skyn in die wereld en waar jy werklik 'n verskil gaan maak.

Kyk dalk hierdie week verby die spelfout op jou sms, solank die boodskap deurkom is dit al wat saakmaak! Hoop jou week is geballanseerd en gevul met genade! 


Wednesday, August 6, 2014

Leestekens

Op skool is ons geleer om 'n goeie Afrikaans te besig.  Ons het so hard geleer om Afrikaans reg te praat, en is dit nie een van die mooiste tale in die wereld nie?  Een van die dinge wat ons geleer het was om ons leestekens reg te gebruik.  Die interresant ding van leestekens is dat dit universeel in alle tale omtrent dieselfde is, en die doel daarvan is dat ons die leser van ons skrywes help om ons woorde reg te lees.  Ons wys met ons leestekens waar nuwe gedagtes begin, waar dinge bygevoeg word, waar dit iemand anders se woorde is en wanneer ons vrae vra. 

Ek onthou nog daardie voorbeeld van die oom wat op die tannie se grafsteen geskryf het:  "Hier le my geliefde Griet, in die hemel is sy niet, in die hel, dit weet ek wel".  Jy sien, my juffrou het deur die voorbeeld ons probeer leer dat dit nie net belangrik is OM leestekens te gebruik nie, maar ook om dit in die regte posisie te plaas binne in die sin, want leestekens kan ook die hele betekenis van die boodskap omgooi.

Elkeen van ons skryf daagliks 'n storie oor ons lewens vir ander mense om te lees.  Ons "gebruik" ons dade as woorde vir mense om betekenis uit ons geskryf te kry, maar waar en hoe ek die leestekens in my eie storie gebruik, se ook soos in die voorbeeld hier bo so baie oor ons storie wat ons vertel. 

'n Punt beteken dat die gedagte verby is, en dat ons na 'n nuwe fase toe beweeg.  So baie keer skryf ons stories en gebruik punt wat nie net 'n nuwe idée of fase inlei nie, maar iets klaarmaak.  Ek ken so baie mense wat ander mense, idees en verhoudings sommer net met 'n punt afsluit.  Ons moet onthou dat wanneer ons 'n punt bereik het, dat jy nooit weer kan teruggaan om iets by te voeg nie.  Natuurlik is dit ook 'n leerskool van die nuwe sielkunde om mense te leer om in die oomblik te leef en nie elke keer terug te val en oor en oor dieselfde foute te maak nie.  Ons word geleer om fases en gedagtes af te sluit en aan te beweeg. 

Dit is natuurlik 'n goeie ding om sekere dinge in die lewe af te sluit.  Gister sit ek weer in 'n gesprek met mense wat ongelukkig is met hulle lewens en die mense in hulle lewens, en wat daagliks met hartseer en spanning sit omdat hulle nie 'n punt kan bereik nie.  Ek vind dit baie dat mense met sulke onafgehandelde sinne binne hulle stories sit en nooit kan afhandel of aanbeweeg nie.  Ons is daagliks self skuldig om nie dinge af te handel nie.  Ek het al soveel keer in hierdie blog geskryf oor die belangrikheid van afhandeling en aanbeweeg, want soveel van ons ongeluk vandag is 'n samevoeging van dinge wat lankal 'n punt moes bereik het.  Die engelse praat van "hang-ups", maar ek praat eerder van "hang-ons".  Soveel hartseer in jou dag van vandag kan opgelos word, solank jy punte kan bereik.  Daardie outjie wat in graad 2 jou gespot het oor jou groot ore is lankal nie meer deel van jou lewe nie, maar as jy nie 'n punt maak nie, en dit afhandel nie, gaan jy vir ewig 'n aanhanger van die idée wees dat jou ore te groot is. 

Maar in dieselfde asem kan punte ook gevaarlik wees, veral wanneer ons nog nie klaar is met die sin of met die persoon nie.  Ons leef in 'n wereld van funksionaliteit en waar ons dinge wat nie ons dien nie summier weggooi.  Veral doen ons dit wanneer mense nie ons standpunte of idees oor die lewe deel nie.  Mense stel ons teleur en elke mens se waardesisteem verskil van mekaar, maar jy kan eenvoudig nie deur die lewe gaan met die idée dat jy reg is en almal verkeerd, en daarom almal afsny wat nie met jou saamstem nie.  Dit beteken nooit dat jy nie punte mag maak of 'n punt kan bereik waar jy eenvoudig 'n stop aan iemand of 'n verhouding sit nie.  Wat wel belangrik is is dat jy nie net eenvoudig mense wat anders lyk en anders dink moet afsny nie.  Dr. John DeMartini skryf in sy boek:  "The Breakthrough Method", dat ons nooit mense of situasies uit ons lewens kan uitskryf nie.  Elke mens, elke situasie is daar om ons van iets te herinner, of dat ons lesse moet leer.  Niks en niemand is toevallig nie.  Veral die slegte dinge in mense wat ons irriteer, herinner ons baie keer daarvan dat ons sekere sinne in ons lewens nooit hanteer of nooit afgehandel het nie.  Mense leer ons baie keer dat verandering moontlik is, of dat ons iets moet verander en dalk nie in ons kokonnetjie moet leef nie, maar nuwe uitdagings moet aanvaar.  Self jou "vyand" of jou "vyandige" idée in ander mense, moet jy ook besef is daar met 'n doel, dit is JOU verhaal en elke oomblik en elke mens en elke idée is deel daarvan.  So in balans moet ons besef dat sekere stories en idees PUNTE moet kry en afgehandel moet word, en dat ons dalk ander stories, idée en mense eerder moet hanteer met die volgende leesteken, die KOMMA.

Die rol van 'n komma is nie net om 'n lang sin beter leesbaar te maak nie, maar om vir die leser van jou storie te wys dat daar 'n ruspunt in die lees is, en dat dieselfde idée verder gaan in 'n nuwe rigting.  Ons gebruik ook sekere woorde na 'n komma soos omdat en maar, en ook om 'n klomp opsies en woorde te lys.  Ek het ook al baie keer genome dat die lewe nie net gaan oor OF-OF en om konklusies te maak nie, maar eerder in EN-EN, waar jy opsies lys en ander dinge oorweeg binne in jou storie.  Dit vat gladnie weg dat jy nie punte moet of mag gebruik nie, maar eerder dat jy dalk, voordat jy 'n PUNT maak, dalk ander opsies ook moet oorweeg.  Die lewe gaan oor liefde, en in liefde, alhoewel ons soms seerkry en mense om ons verskillend is en dink, gaan dit nooit oor wie reg en verkeerd is of was nie. 

Liefde gaan oor aanvaarding, en veral waar JY self gee, voordat jy kies om te ontvang.  Dit is maklik om vir mense te vertel dat hulle verkeerd is en af te skryf, maar veel moeiliker om liefde toe te pas, veral as iemand 'n ander idée oor die lewe het.  Ek verwys graag terug na die voorbeeld van Jesus wat ons in die Bybel lees.  Jesus het met mense tyd spandeer wat deur ander afgeskryf is, mense se lewens wat in ander se boeke reeds punte agterna gehad het.  Prostituut.  Tollenaar.  Ongeletterde. Skrifgeleerde.  Jesus het ons gewys dat die storie wat ons van Hom in die Bybel lees, die samelewing se PUNTE in KOMMAS verander het en hulle die geleentheid gegee om wonderlike nuwe opsies in hulle lewens te ervaar.

'n Ander belangrike leesteken is die UITROEPTEKEN!  Die doel daarvan is om uitbundigheid en uitskree aan te dui.  Ek kyk so na die wereld rondom my en sukkel nogal om mense te sien wat met absolute uitbundige uitroeptekens leef.  Ons is meeste van die tyd so besig om te kla en te kerm, te oordeel en veroordeel, dat ons vergeet om te leef.  Hoeveel mense om jou ken jy wat werklik die lewe kan geniet?  Ons is so vasgevang in die tekort aan geld, of aan die tekort aan liefde, of die tekort aan vriende of verstaan, dat ons nooit leef nie.  Die lewe is gemaak om geleef te word, nie ter wille daarvan om iets te bereik of om iets te vermag nie, maar om uitbundig geleef te word.  Uitroepteken is dit uitbundige uitbassuin van jou geluk en jou emosie, en omdat ons emosionele mense is, is dit die kraan van geluk.  Gaan kyk bietjie op youtube of na idols en sien watter videos of kunstenaars die mense die heel meeste van hou, is dit die sonder glimlagte, sonder jubeling en sonder charisma?  Dalk moet ons in die lewe meer uitbundige uitroepe inbou en leef, eerder as om net in punte en kommas te leef.  Die lekker ding van 'n uitroepteken is ook dat dit die einde van 'n sin aandui, en daar is nie plek vir kommentaar en verduidelikking nie.  Soms voel ons asof ons soeke na lag en jubeling moet wegsteek, miskien is dit maar 'n Calvinistiese dinge, want ons het mos eintlik die idée uit die godsdiens gekry dat ons eintlik hier is om te ly, en nie te leef nie.  Hoeveel uitroeptekens is daar in jou storie van vandag?

Dit is natuurlik ook waar dat ons lewens ook eise stel en vrae van ons vra, en daarvoor gebruik ons die VRAAGTEKEN.  Met 'n vraagteken is die leser geleer om aan die einde van die sin sy of haar stem te verhef om aan te dui dat dit 'n vraag is.  Natuurlik vra die lewe van ander mense se stories daagliks aan ons vrae.  Natuurlik is daar uitdagings in ons lewens wat ons lei tot vraagtekens.  Ons vra hoekom ons hier op aarde is, ons vra wat die sin van die lewe is, ons vra hoekom ons swaarkry.  Vraagtekens is nie net om ons te wys op wat ons nie het nie, vraagtekens is ook aanduidings daarvan dat ons na dinge SOEK. 

Ons soek antwoorde ook nie net vir die moeilike dinge in die lewe nie, want sommige vrae wee tons sal ons nooit beantwoord kry nie.  Ons vra ook vrae omdat ons omgee.  Ek sien baie mense elke dag wat opgehou het om vrae aan die lewe te stel, en erger nog, vrae aan mekaar te stel.  Ek praat nie hier van eise nie, maar werklike vrae wat wys dat ons belangstel.  Nou die dag het ek 'n kardinale fout gemaak om te vergeet dat iemand siek is, en nooit gevra hoe sy voel nie.  Na 'n ruk het sy my natuurlik daaraan herinner, want die feit dat ek nie uit omgee gevra het nie, het haar presies laat voel asof ek nie omgee nie.  In die boek "How to win friends and influence people", leer die skrywer ons dat die beste manier om mense om jou te vergader, nie is om jou idees met uitroeptekens en punte oor te dra nie, maar eerder te kommunikeer met vrae.  As jy 'n vraag vra, lei dit daartoe dat die persoon nie net dink dat jy omgee nie, dit vra aksie van die ander persoon om jou te antwoord.  Dat jy mense vra wat hulle dink en voel laat mense altyd goed voel, want dit beteken nie net dat jy omgee nie, maar ook dat jy belangstel en dat hulle antwoorde en insette vir jou belangrik is.  Dit is wanneer mense voel dat jy lief is vir hulle, wanneer hulle insette belangrik is, maar meer as dit nog, dat jy nie bang is vir hulle idees en standpunte nie, maar hulle toelaat om dit te huldig, omdat jy omgee en lief is vir alles en almal om jou.  Onthou die woorde van DeMartini dat almal om jou is met 'n doel, en daarom is almal 'n leeraar wat jou, deur wie en wat hulle is, meer oor jouself leer.

Een ander leesteken, wat ons baie gebruik, is AANHALINGSTEKENS.  Ons gebruik dit wanneer ons dit wat ander mense erens anders gese of geskryf het, deel van ons storie maak, ook soms om ons punt te bewys.  Op Universiteit is ons geleer om baie aanhalings uit ander se werke te maak, as bewys dat ons die tema goed ondersoek het en dit baie goed kan saamvat.  In 'n selfsugtige wereld is daar mense wat altyd net hulle eie storie skryf, sonder om ooit die konteks en ander se standpunte aan te haal.  'n Storie sonder aanhalings, is 'n vervelige en eensame werkstuk, en soms is dit 'n bewys daarvan dat ek nooit na ander luister nie, en nooit vrae vra van mense om my nie.  Dit is ook 'n teken dat jy, soos 'n vriend van my se:  "Skeef groei, jou eie rigting in".  Alles in die lewe het mos meer as een kant, en meeste vrae om ons het nie klinkklare antwoorde nie.  So vir my om my storie te skryf sonder ander se insette, laat my storie nie net skeef groei nie, maar maak dit ook heel irrelevant vir ander om my wat vir ander luister.  Jou storie moet gegrond wees in klinkklare voorbeelde uit ander se lewens en ander se standpunte. 

Maar net soos dit gevaarlik is om buite konteks en ander mense se standpunte te funksioneer, is dit ewe gevaarlik om NET in aanhalings van ander te leef.  Ek sien soveel mense wat in hulle eie lewens, in hulle werksomstandighede en in hulle verhoudings NET in en deur ander mense se stories leef.  Hulle leef nooit in uitbundige ekstase nie, maar altyd in en deur ander.  Soveel keer het ek al geskryf dat dit belangrik is om jou EIE storie te skryf, saam met die balans van wat rondom jou gebeur.  Ek kan onthou dat toe ek dominee was en huisbesoek gedoen het by ou mense, hulle altyd die foto albums uitgekrap het en jou die familie en kinders se hele CV opgenoem en met jou gedeel het.  Dit is asof hulle eie lewens nou net in die aanhaling van ander geskied, en dat hulle storie reeds gestop het.  Miskien moet jy vandag bietjie kyk na jou eie bestaan, en hoeveel jy in en deur ander leef, eerder as om saam met hulle te leef en jou storie te skryf.

Mag hierdie dag jou vul met 'n mooi storie, en met geballanseerde leestekens, pas hulle sorgvuldig toe!