Monday, October 14, 2019

Waterskaarste!


So ‘n paar weke gelede het ons ‘n waterkrisis gehad in die plek waar ek woon.  Dit was nogal uitdagend, aangesien ons so afhanklik en gewoond geraak het om net eenvoudig ‘n kraan oop te draai en dan is daar water.  Soos gewoonlik het die insident my aan die dink gesit, want wat is die les uit daardie paar dae waar ek skielik nodig gehad het om te dink oor water.

Eerstens, die feit dat ek gewoond is dat daar altyd water in die pype is en ek slegs die kraan moet oopdraai bederf ons.  Skielik verstaan ek hoe ander mense op vele plekke in ons land daagliks kilometers moet stap om water in die hande te kry.  Vir die eerste keer in ‘n lang tyd leer my beperkte toegang my deernis en empatie, maar ook dankbaarheid.  Ek onthou daardie gevoel toe ek die een oggend toe die water weer aan is, net die kraan oopdraai en die water stroom uit.  Ek was amper soos ‘n kind wat op kersoggend daardie geskenk oopmaak wat ek vir Kersvader voor gevra het. 

Verder, dit is nou so ‘n paar weke na die insident, en daardie dankbaarheid en opwinding vervaag ook na tyd.  Dit vat nogal inspanning om so dankbaar en opgewonde te bly.  Nou is ek weer in die gewoonte om nie noodwendig van opwinding te spring wanneer ek die stortkraan oopdraai nie, want dit is asof ek verwag dat daar maar net altyd water sal wees.  Ons vergeet soms om dankbaar te wees vir die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.  In my eie denkwyse en geloof besef ek hoe ons so gewoond geraak het dat God of die “Universe” daagliks soveel dinge wel vir ons doen en gee wat ons nie voor dankbaar bly nie.  Die opwinding om elke oggend dankie te se vir die son wat opkom, dat ek nie siek is nie, dat my kinders gesond en gelukkig is, vervaag baie keer by ons.  Maar dink vir ‘n oomblik wat sal gebeur indien hierdie “vanselfsprekendheid” van jou weggeneem word?  Hoe gaan jy dan voel en dink? 

Ek onthou daardie oggend toe die water weer stroom deur die krane het ek sommer onmiddelik ‘n glas gaan gryp en onder die kraan gehou.  Skielik ook het ek nie omgegee hoe skoon of hoeveel kalk of hoe koud of hoe warm die water was nie, ek was net te gelukkig dat daar water is.  Ek het nie gedink dat ek ooit soveel geluk sou vind om ‘n toilet te kan trek nie.  Soveel keer in ons lewens maak ons soveel van die sideshows en studies oor die lewe, dat ons vergeet om die water te geniet.  Dit moet uit hierdie fontein of uit daardie plastiekbottel kom voordat ons gelukkig gaan wees.  Ons word soms soos ‘n kind wat ‘n geskenk kry wat nou nie heeltemal aan die vereistes voldoen nie, en dan dit teruggooi in die gesig van die persoon wat dit vir ons gee.  Ek onthou selfs dat ek die wasbak vol water gemaak het om te skeer, en omdat die pype nou vir ‘n paar dae nie lekker gewerk het nie, het die water so bruinerig en met stukkies grond gespoeg in die wasbak.  Ek was so dankbaar dat ek net kan skeer dat dit my nie so gepla het soos altyd nie. 

Daardie paar dae het ek nodig gehad om ook innoverend te wees en planne te beraam.  Ek het skielik nodig gehad om mense te vra of ek by hulle kan kom stort en konneksies gemaak.  Ek het geleer om daardie “nuttelose” OROS bottels nie weg te gooi nie, maar vol te maak waar ek kom en terug te vat huistoe om koffie te maak en my tande te kan borsel.  Skielik het ek dinge raakgesien wat ek meestal weggooi en besef ek net hoe die nuttelose houer skielik ‘n seen is en tot hulp is.  Ons is soms wanneer dit by mense kom vinnig om te oordeel, vinnig om af te skryf en weg te gooi.  Miskien en dalk net miskien moet ons die waarde insien van ‘n persoon wat dalk en net dalk vir my lewensnoodsaaklik kan wees.  Geen houer was vir my te simpel of stupid of nie fancy genoeg as ek uit hom water kan kry waarmee ek koffie kan maak nie. Wanneer jy dors word, word jy dankbaar vir daardie skewe en onvolmaakte houer wat tot jou beskikking is.

Ek het ook besef dat omdat die water skaars is, ek moet seker maak dat die houer waarin ek dit gooi nie lek nie.  Ek het toe die water volop was seker jare laas die houer waarin die water moet loop ondersoek, maar toe dit skaars raak, toe fokus ek.  In dieselfde opsig, wanneer dinge goed gaan, vergeet ons om aandag te gee aan ons gebrokenheid, want die water is volop.  En soms, net soms is die tekort aan vloei van dinge in ons lewens ‘n uitdaging aan elkeen van ons om ons eie gebrokenheid te ondersoek, sodat die min wat ons wel kry nie ook verlore gaan nie.  En soms is ons gebrokenheid die oorsaak dat ons bekers nie oorloop nie, nie dat die water nie sterk genoeg inloop nie, maar omdat dit vinniger deur ons eie toedoen en gebrekenheid verlore gaan.  Plug jou lekplekke, maak jou wonde geson,  is dalk ‘n uitdaging as jy wil he dat jou beker moet oorloop, en le die fout nie noodwendig by die bron van water wat te min of onvoldoende is nie.

Mense praat die hele tyd ook van die Law of Attraction in en hoe ‘n mens moet manifesteer.  Omdat ek deur hierdie proses geleer het om elke druppel op te pas, het ek wanneer ek die water in my glas gooi, nie my vingers of iets in die pad te sit en met die genadewater mee in te meng nie.  Hoeveel keer vra ons dinge, sit die glas onder die kraan, draai die kraan oop en dan wil ons met ons arrogansie tussenin kom en vir die water wil voorskryf hoe om in die glas te beland? Jy het nie nodig om, wanneer jy dors is en jy as lee glas (in welke vorm ookal) onder die kraan staan, elke druppeltjie met jou hand te vang en in die glas te rangskik nie.  Jy vertrou dat die water self sal weet, natuurlik sal organiseer om jou glas vol te maak op Sy manier en op Sy tyd.  Ons bid, en ons vra dat ons glas volgemaak moet word, ons post en vertel hoe ons op God vertrou, maar in welke mate vertrou ons God soos ons die water vertrou om die glas vol te maak op Sy manier?  Die Bybel leer ons om te bid, glo en te vertrou, maar soms is al die water rondom die glas en gemors omdat ons telkemale inmeng.

Nou is daar ook van alle tye af die vraag na hoe my betrokkenheid en insette nou moet wees.  Moet ek net terugsit en niks doen nie, of moet ek alles self doen?  Die antwoord is in die balans tussen die twee, bid en doen.  Ek weet vanoggend dat daar water in die kraan is, en dat daar meer water is as wat ek vandag kan opgebruik, dit is geloof.  As ek nou dors is, hier waar ek nou sit, net die wete dat daar water in die kraan is, is al genoeg, maar dit les nie my dors of was my lyf nie.  Dit vul my met ‘n gerustheid dat daar is en ek enige tyd water kan kry.  Maar, ek moet my glas uit die kas haal, ek moet dit onder die kraan gaan sit, maar meer nog, ek moet die kraan oopdraai.  Dan eers kan ek die water drink wanneer dit deurgevloei het na my toe.  God weerhou nie die water na ons toe nie, Hy herinner ons elke oomblik dat Hy daar is, maar ek moet dit erken en myself oorlewer daaraan. 

As jy vir God vra om jou te help met ‘n transaksie, kan jy nie net op die bank sit met jou lee glas en verwag dat dit vol water moet raak nie.  Jy moet die foon optel, jy moet die mense gaan sien.  Jy moet jou glas gaan haal en onder die kraan sit en die water oopdraai.  Ek is nou al ‘n geruime tyd enkellopend, en ek vra vir die Here om iemand in my lewe te stuur saam met wie ek gelukkig kan wees.  Dit help egter nie as ek my glas nie optel en onder die kraan van God se goedheid gaan sit nie.  Ek moet myself blootstel sodat God sy genade oor my kan laat vloei.

Ek sluit af met twyfel, want twyfel is menslik.  Na my ervaring van om sonder water te sit, glo my, toets ek nog steeds na ‘n paar weke OF daar water in die kraan is.  Ek is steeds bevrees dat die water dalk nie gaan vloei nie en het ‘n paar houers met water in die yskas gehou.  God weet hoe ons as mense is, Hy verwag nie van ons die onmenslike nie, en al gaan toets ek net of daar water in die kraan is, beteken nie dat God nou skielik oor my houding en twyfel die water gaan weerhou nie.  God werk nie so nie.  Vir God is dit nie soos vir mense ‘n speletjie waar as ek nie kry wat ek soek nie, ek jou afsny van my liefde nie.  In God se wereld noem ons dit Genade, waar ek water kry nie op grond van wat ek doen nie, maar te midde van wat ek doen.

Ek wens jou ‘n wonderlike week toe, gaan leef voluit!  Stel jouself bloot en plaas jou glas onder die kraan van God se Genade en geniet elke oomblik van die wonderlike water en mag jou dors na wat jy ookal na smag, geles word!

Sunday, October 6, 2019

Ammunisie:

Ek self was nooit in die weermag nie, maar baie van my vriende was en sommige is nog êrens besig daarmee in Irak of Sudan. Ek luister elkgeval altyd na hulle stories, van dit skokkend en van dit vol pret. Ek het darem al geleer om nie van koëels te praat nie, maar van rondtes en ook eerder van wapen as geweer. Ek weet ook dat jy spesialiseer en dat elkeen iets anders doen in die weermag. Wêreldwyd gons dit ook oor of privaat mense wapens mag besit en hoe dit gekontroleer kan word, terwyl ons almal weet dat dit nie die wapen of die rondte is wat skade maak nie, maar die mens, die denke en die idiologie.

Die spreekwoord lei ook nie verniet dat die pen magtiger is as die swaard nie. In my nuwe uitdaging in die lewe sien ek hoe mense mekaar, hulleself en hulle kinders verwoes met woorde. Whatsapp en Sms’e het die skerpskutters van ons tyd geword, want dis nie “close combat” nie en die ander persoon sien ook nie altyd die rondte aankom nie. En soos met ‘n rondte, as dit afgevuur is is daar nie keer nie. As iemand jou nommer het is jy in hulle radar en kan die aanval enige tyd gebeur. Jou koördinate is in die GPS van gevaar. Mense is gevaarlik, nie wapens nie.

Ons leef in ‘n interresante tyd, ‘n tyd waarin meeste mense opsoek is na harmonie en vrede, in hulleself en ook vir mense om ons. Ons wil graag Switserland wees, onpartydig en neutraal, waar elkeen ‘n geleentheid gegun word om te leef soos hy/sy wil en in vrede.  Die Switsers het wel 'n weermag en hulle het wapens want neutraliteit en vryheid mag en moet ook beskerm word. Maar, die Switsers raak nie betrokke by oorlog nie, inteendeel wend hulle hulle na plekke waar hulle stabiliteit kan bring. Dus, net omdat jy ammunisie het, beteken dit steeds jy het 'n keuse aan hoe en waar en waarvoor jy dit aanwend.

Sommige mense is permanent net ingestel en gefokus op oorlog. Sonder ammunisie en ‘n oorlog weet hulle nie wat om met hulleself te maak nie. As daar nie oorlog is nie gaan soek hulle daarna. Hulle skep alliansies met ander wat ook reg staan vir oorlog. En as daar die kleinste kans is om te ontplooi spring hulle in. Hulle spandeer alles moontlik op ammunisie en taktiek, en bemeester die kuns goed. Maar is dit die doel van die lewe om konstant te wil baklei? En kom ons is eerlik, as jy kyk na mense om jou is dit maklik om vyande te vind.

Die verskil is en bly jou basiese denkwyse. Neem Switserland weer as voorbeeld. As jy as basis vrede soek, dan plaas jy jou ammunisie in lyn daarmee. Dis nie asof Switserland iets het om te bewys nie, en almal het respek vir hulle. Hulle is approachable en het vriende wêreldwyd. As jy jou spiere wil wys soos Noord-Korea word jy geisoleer deur almal. Of jy kan met jou sterre en strepies gaan veg waar jy nie hoort nie en die natuurlike balans versteur. En jou inmeng lei tot torings wat val en haat.

Die spreekwoord lei dat geen mens ‘n eiland is nie. Jy het lande en mense om jou wat dalk van jou verskil. Hulle lyk anders en doen anders. En elkeen van ons is gewapen, maar eintlik behoort dit net tot een doel te wees en dit is om jou grense en jou manier van lewe te verdedig. As jy oor jou grens gaan besoek aflê mag dit slegs wees om vrede te bewerkstellig. Maar weereens, as jy nie vrede binne jou eie grense kan skep nie, hoe kan jy dit êrens anders gaan toepas? Sommige mense het so ‘n burgeroorlog in hulleself dat hulle selfs die mooi in hulle ook verwoes. Hulle skiet hulleself in die voet met hulle eie innerlike stryd dat hulleself verswak word tot die punt waar hulle nie as die nood druk hulle eie grense kan verdedig nie. En dan wonder hulle waarom die toeriste wegbly en jou eie mense emigreer uit jou lewe uit.

Dit beteken nie dat jy nonsens moet vat en slegs alles moet aanvaar nie. Switserland is nie wetteloos nie, in teendeel. Maar omdat almal instem tot die wette en besef dis tot voordeel van vrede, respekteer mense mekaar en die wette. Wette en ooreenkomste is juis geanker in respek, want as dit onder dwang is moet jy weer ‘n manier vind om dit af te dwing wat nog meer ammunisie en wapens vat.

Die lewe het reëls en grense. Die lewe het verskille en elkeen het die reg om hulleself te mag uitleef. Neutraliteit en harmonie kom nie deur ontwapening nie, maar deur wat jy met jou ammunisie doen en voor aanwend. En geluk kom as jou mense en jou binneste in vrede kan bestaan, as jy jou vrede beskerm en toeriste jou graag besoek waar die vrede en harmonie verkwikking vir hulle siele bring en waar hulle veilig voel en waters van rus ervaar!

So jou keuse, wees Noord-Korea of die VSA of Switserland!

Deon Lewis 5/10/2019