Tuesday, September 26, 2017

Wat gedoen met die Reuse in jou lewe?

Een van die grootste dinge waarmee Christene en gelowiges worstel, is waar hou geloof op en waar begin jou eie aksies. In dieselfde asem, waar moet ek ophou doen en waar met ek begin bid en dinge in God se hande plaas, onvoorwaardelik. Ek is nogal iemand wat kanse vat en dinge aanpak, soms blindelings en met volle geloof. Dan sit ek ook soms met die twyfel, want op vorige geleenthede het ek dieselfde gedoen, maar dinge het nie vir my uitgewerk nie. So, wat is die plek van ons aksies en ons denke in die proses? Ek voel soms "ongelowig" wanneer ek twyfel, of wanneer ek probeer doen, waar ek soms voel ek uit die pad moet klim.


Ek dink elkeeen van ons het al in tye so gevoel, waar ons nie 100% vertrou nie. Ek het grootgeword met die idee ook dat God kan alles, maar het tot die bewussyn gekom in my lewe dat God ook mense en ons aksies ook kan gebruik om by die doelwit van ons lewens uit te kom. Ek twyfel baie, nie in die vermoe en almag van God nie, maar eerder oor my plek in God se plan, of wat God van my vra om te doen. Ek is soms 'n "faith like potatoes, maybe" ou, en wonder soms of dit nie die probleem in my lewe is wat toelaat dat dinge skeef loop vir my nie. Ek wil soms 'n ark bou soos Noag in totale vertroue rondom God se wil, en soms voel dit asof ek saam met die skare wil staan en die bouery in twyfel wil trek. Soms kyk ek soos Dawid na die mense rondom my en wat hulle doen en bereik, sonder dat ek noodwendig hulle geloof raaksien. So wonder ek ook dan, wanneer ek dan my betrokkenheid toon, wat my plek is en of wat ek doen nie dalk verkeerd is en die oorsaak is van allerhande drama nie, veral as jy oor en oor dieselfde mislukkingspunt bereik.


Soms dink ek dat jou geloof absoluut werk, soos jy in jou individualiteit glo, en dat dit dalk vir elkeen anders is. Vir die een wat betrokke wil wees in God se plan, gebruik God hom in daardie plan. Vir die wat net glo dat God alles ten goede laat meewerk, dan werk hulle lewens so uit. Vir die twyfelaars sal die twyfel meer word, en daarmee saam meer situasies van twyfel. Vir die wat dink die lewe skuld hulle iets, gaan daar altyd situasies wees wat hulle daaraan herinner. En soms is ek soos 'n verkleurmannetjie op 'n smarie-dosie wat absoluut geen idee het oor waarmee God besig is nie, of twyfel of daar ooit in my lewe totale harmonie en struktuur sal wees. Soms verstaan ek my persoonlikheid en dat God my met positiwiteit vul, wat ongelukkig nie altyd die rekeninge kan betaal nie. Soms negeer ek die negatiewe en let nie op op die detail nie, en dan val dinge uitmekaar.


Ok, nou maak ek jou ook net so deurmekaar soos ek soms voel oor die lewe, en ja, die lewe het nie antwoorde nie. Wat ek die laaste ruk in my lewe agterkom is dat dit meer gaan oor en-en as oor of-of. Soms is God die God wat alles vir my laat uitwerk sonder my insette, en dan weet ek ook dat in Genade, wat ek ookal doen, behalwe om te glo, geen mate 'n invloed op God se Wil en gawes in my lewe het nie. My ma se altyd dat sy nie glo dat ons so absolute almag het om God se Wil te oorskryf of te verander nie. In dieselfde asem is die Bybel gevul met etlike verhale van mense wie se aksies op 'n manier drama vir hulleself en hulle geloof veroorsaak het. Ons kasty onsself dan ook weer, gereformeerd soos ons is, om die fout vir dinge in ons aksies en in ons geloof te gaan soek. Soos die spreekwoord lei: "bad things won't happen if you work harder on yourself".


In hierdie dag van my deurmekaar denke, sit ek baie en wonder oor wat ek alles in die verlede gedoen het om hierdie dag en situasie te verdien wat oor my pad gekom het, 'n dag met trauma en drama en pyn? En een ding wat ek absoluut verstaan, en dit is hoekom ek glo in die God waarin ek glo en op die manier waarin ek dit doen, is die woord Genade. Ek glo met my hele hart dat alles wat ons oor geloof leer by die venster uitgegooi kan word as dit nie was vir genade nie. In my wandelinge deur boeke oor ander Nie-Christelike geloof, is die Genade een van die enigste dinge wat ons nie in ander gelowe vind nie. Dit is Jy en Jou verhouding met die mense en universe om jou wat bepalend is van die geluk en ongeluk in die lewe. Ons praat so baie van "karma" wat ons uit die oosterse godsdienste van leer, en natuurlik praat die Bybel ook dat jy "maai wat jy saai", maar Genade is juis die teenbeeld daarvan. Wat genade vir my beteken is dat dinge goed of sleg loop, nie as gevolg van jou nie, maar te midde van jou. Eintlik vergeet ons hierdie soms, veral in 'n wereld van realiteite, wonder ek hoeveel keer en op hoeveel plekke ons die genade van God raaksien, bedank en in leef. Nou kom die gereformeerde logika weer in om ons te herinner dat ons nie net in Genade moet leef nie, maar hard moet werk om God en God se genade te verdien. Soos die gemeente vir Paulus gevra het, "beteken dit dat ons meer sonde moet doen sodat die genade moet toeneem?". Duidelik is ons probleem in die Christendom juis daarin gesetel dat ons niks hoef of kan doen om God se genade te aanvaar nie. Dit is hoekom, in my denke, soveel mense net eenvoudig nooit die konsep sal verstaan dat God gans anders is, en dat ons Hom nie kan "omkoop" of "druk" in 'n sekere rigting omdat ons so 'n perfekte lewe leef nie, of dat God se aksies straf is wanneer ons afdwaal van die smal weg?


Natuurlik, en veral tussen my en my "geleerde" vriende en Teoloee, praat mense baie oor die Bybel en oor die "nuwe" manier om te glo. Daar is verskillende idees oor Jesus, Sy maagdelike geboorte, of Hy nou werklik aan die kruis was, hoe die kruis gelyk het en of Hy werklik uit die dood uit opgestaan het en werklik God is? Ek wil nie op hierdie dinge teologies ingaan nie, want dit kan baie mense verwar, oor die algemeen dink ek dat dit juis in baie kringe die verwarring bring. Ek is gladnie 'n voorstaander van Fundamentalisme en letterlike verstaan van die Bybel nie, maar die beginsels van wie God is en hoe ek in 'n verhouding met die opperwese kan leef. En die antwoord wat dwarsdeur die Bybel vir my gestel word, is Genade, nie nie-verdienste, geen invloed situasie daarvan. En die grootste hiervan is wat aan die kruis gebeur het, nie met die persoon wat in die middel gehang het nie, maar die ou langs Jesus, wat gered is, sonder verdienste van een oomblik.


En die ding van Genade is dat dit gladnie sin maak nie, en dit is hoekom mense van die vroegste tye af die konsep gladnie verstaan nie, en ons in ons tyd soms nog minder. En nog meer, die feit dat die genade daar is vir die wat selfs nie in God glo of in Jesus Christus nie, selfs hulle het ook toegang tot God se genade. Maak nie rerig sin nie, want die een ding wat Genade "anders" maak is dat dit nie 'n ruilsituasie is nie. Ons as mense het 'n konsep van ruil, een ding vir 'n ander, van onsself tot ons medemens en verhoudings. In onsself "koop" ons ons goeie selfbeeld met hoe ons lyk, wat ons bereik en wat ons besit. In ons verhoudings "koop" ons ook geluk met blomme en met ander dinge. Met ons medemens "tel" die in ons lewens wat vir ons op 'n sekere manier dit verdien. En in Godsdiens dink ons baie min van onsself en glo dat ons nie God se liefde en deernis en goedheid verdien nie. Inherent leef ons in miinderwaardigheid teenoor almal, en die maklikste, eeue-oue gebruik van verdien of nie verdien nie is ons maklikste manier van handel met die wereld om ons.


Elke keer wat dinge in my lewe nie uitwerk nie, en die betaling vir die werk nie daar is nie, dan soek mense in minderwaardigheid die fout by hulleself en kasty hulleself deurlopend. Die grootste faktor van Genade is dat dit nie net van God vir jou is nie, maar van God aan jouself en jou eie manier van dink oor jouself met jou groot neus en klein bankbalans, maar ook van jou aan die mense om jou wat volgens jou dit nie verdien nie. Genade is soos 'n fontein wat van die bron deur jou en in jou spoel en wat deur jou moet spoel na die mense om jou. Dit is en kan nie verdien word nie, so wat jy ookal doen of nie doen in die lewe nie, reg of verkeerd, suksesvol en onsuksesvol, beinvloed in geen mate God se Genade of Almag oor die wereld en in jou lewe nie. Iemand het een keer vir my gese: "God het jou en my nie nodig om God te wees nie".


Vandag het as 'n slegte dag begin vir my, waar ek nie gevoel het dat daar enige Genade vir my is nie. Dinge wat ek gedoen en nie gedoen het nie was onder die vergrootglas. Ek het myself kasty oor wie ek is en wat ek doen en in minderwaardigheid my kop voor ander laat sak. Ek het getwyfel of God ooit Sy Genade vir my sal wys en hoe lank ek nog daarvoor moet wag. Ek het getwyfel is al die dinge wat ek aangepak het en waarin my geloofshoop gesetel is. Ek stress my morsdood oor die uitkoms, met logiese twyfel en stress. Soveel dinge het op dieselfde tipe manier vir my in die verlede begin en nie reg uitgeloop nie. Ek is bang dat dit nou ook weer die verkeerde tyd kan wees en dat dinge weer nie kan reg loop nie. Dit maak my weer bang dat ek dalk agv hierdie realistiese twyfel die ongeluk van die ding kan veroorsaak.


Toe gaan sit ek en ek skryf, ek gooi toe sommer alles hier vandag op papier neer, en besef dat al wat ek op kan roem, is dat God my Genadig sal wees, te midde van wat ek dink, voel of vrees en dat Hy my by waters van rus sal bring en nie aan my sondes of aksies sal dink nie. In dieselfde asem in dankbaarheid God vra om my te help om meer genadig teenoor myself en die mense om my om te gaan, nie uit verdienste uit nie, maar in liefde en dat ek in hierdie dag net liefde sal leef.


Ek is mal oor Dawid in die Bybel, en Dawid leer ons in sy Psalms dat hy ook getwyfel het en met dieselfde dinge as ek en jy geworstel het. Hy het ook twyfel gehad, ook in homself. Hy was die jongste en kleinste seun in sy gesin, en ek kan dink dat hy dalk baie geboelie en ore aangesit is, soos seuns maar is. Ek kan dink dat hy, as musikant, sagte emosionele mens, dalk daaroor gespot is, want hy was nie hierdie macho man dalk nie. Ek hoor hoe lag Goliath se manne hierdie outjie uit wat met 'n slingervelletjie die magtigheid van die wereld wil aanvat. Onthou, hy het ook getwyfel, en het nie net een klippie opgetel nie, maar 5. Sonder om nou letterlik alles op te neem, dit lyk vir my asof hy ook nie seker was dat die eerste klippie die dinge sou doen nie. En God het, te midde hiervan, tog die eerste klippie die werk laat doen, te midde van die ander 4 wat hy nog in sy sak gehad het.


Ek weet nie voor watter Reus van 'n situasie in jou lewe jy staan nie, dalk geld of siekte of 'n reuse transaksie of 'n reuse verhoudingskrisis of 'n reuse onsekerheid. Na alles wat ek in my lewe gesien en gedoen en ervaar het, seker maar soos 'n Dawid ook, God se Genade is enorm, dis gratis en dit is onverdienstelik. Vandag bid ek Genade van God oor my, my reus en my uitdaging in die geloof dat God te midde van my twyfel, te midde van my spanning, te midde van die uitjouery en minderwaardigheid, in die geloof dat Hy vir my is en vir my oorwinning sal bewerkstellig, gratis en verniet, al verdien ek dit nie.


Virus-free. www.avg.com