Showing posts with label menswees. Show all posts
Showing posts with label menswees. Show all posts

Thursday, February 9, 2012

Perfekte beeld

Onthou jy nog daardie tyd toe ons self ons televisie antennas opgestel het. Ek onthou nog die kere wat ek op die dak gestaan het, my pa binne sigafstand van my, en my ma binne by die televisie. Al die opdragte: “bietjie links, bietjie regs, stop, aggenee man, daar stel jy hom weer uit”. Jy kon natuurlik of daarvan ‘n heerlike lagsessie maak, of dit kon tot huismoles gely het.

Vandag is die tegnologie egter so bietjie anders met die skottels wat ons laat installeer. Jy ry selfs deur die armste van gebiede, maar die skottel aan die oostekant van die huis is altyd sigbaar. Die ouens wat dit vir jou kom installeer het ook sulke oulike masjientjies waarmee hulle die sein toets om seker te maak dat jy goeie opvangs het.

Ons televisies is ook nou so gevorder dat hulle outomaties kannale soek. Nie meer soos in die verlede wat jy met knoppies draai jou instelling self gedoen het nie.

Dit is vir my kinders vreemd om te dink dat daar ‘n tyd was waar daar net een of twee kannale op die televisie was. Jy kan onthou, as jy my ouderdom is, daardie toetsbeeld van die SAUK wat op die skerm was wanneer programme nie uitgesaai is nie. Ek onthou nog hoeveel keer ek daarna gestaar het terwyl ek gewag het vir die programme om te begin.

Om te sien wat jy wil sien, is daar 3 dinge van belang. Jy moet ‘n skottel installeer wat met die sateliete kan “praat”, jy het ‘n dekodeerder nodig wat die sein kan ontrafel en jy moet jou televisie instel om die boodskap van die dekodeerder te kan sien. Alles is onafwendbaar, want dit is ‘n natuurlike proses.

As jy dus nie die beeld kry wat jou tevrede stel nie, of geen beeld kry nie, dan soek jy die fout terug by die vorige toestel. Dit is soos wanneer jou sleutels verlore is, dan gaan jy terug op jou spoor. Soms voel dit ook vir ons of ons beeld versteur is, en dinge loop net nie lekker nie. Dan is die maklikste om dit op te los, om in jouself te gaan soek na die dinge wat die storing veroorsaak.

Baie mense is bang om dit te doen, en hulle sit hulle hele lewe en staar na die sneeuvlokkies op die skerm. Naderhand dink hulle dat dit normaal is. Hulle gaan kuier by ander mense en sien die mooiste beeld. In hulleself doen hulle niks aan hulle beeld nie, en maak vrede met die vlokkies. Dan is hulle jaloers en byterig teenoor ander, want niemand wil by hulle kom kuier nie, want dit is saterdagmiddag en kuiergaste wil die rugby sien. Hoe lank gaan jy met die sneeuvlokkie lewe aanhou?

Deesdae is dit soveel makliker om goeie opvangs te kry. Daar is legio hulp van mense en kenners beskikbaar. Die internet en die boekwinkel het soveel informasie oor elke onderwerp, van die instel van jou DSTV proses, tot die instel van jou eie proses. Daar is toerusting en kenners wat kan seker maak dat jou “skottel” in die regte rigting wys waar die “goeie” en die “regte” sein is. Daar is ‘n inbelsentrum van DSTV wat jy kan kontak om seker te maak dat jou dekodeerder reg kodeer. So is daar mense om jou wat jou kan help om jou “kodering” van die sein reg te doen, of te reg te maak. Dan is daar sulke oulike tegnici wat na jou huis toe kan kom en wat die hele proses sommer vir jou kan doen. So is daar soveel kennis rondom ons vandag wat ons elkeen kan bystaan om wonderlike beelde, selfs in hoë definisie of 3D, te kan sien, ervaar en uit te straal.

Soms kan hierdie kennis of kenners ook maar ‘n mens se kop deurmekaar maak. Die tegnologiese ouens het mos ‘n taal van hulle eie wat hulle praat. Hulle verwys na dinge in afkortings wat ons gewone mense nie verstaan nie. So, in die proses van my instelling, moet ‘n mens ook maar versigtig wees om nie SO tegnies te raak dat die storing nog groter en die beeld nog slegter word nie.

Ek het ‘n vriend op skool gehad wie se hele gesin sulke tegniese ouens was. As ons daar gaan kuier het was die hele huis gesaai met allerhande toerusting van klankkaarte tot soldeermasjiene. Jy het altyd rondgekyk waar jy loop dat jy nie oor ‘n elektriese koord of iets val nie. Op die stoep en die garage was etlike televisies en vidoemasjiene wat se deksels af was dat jy die binnegoed kan sien. Sy pa wou eenvoudig altyd “verstaan” wat die binnewerking van sy elektriese toebehore behels, en daarom het hy alles oopgemaak en gedesekteer.

Wou jy nou net eenvoudig televisie kyk, was daar altyd fout met hulle goeters. Drade was nie gekoppel nie, of ‘n elektriese prop is afgehaal om op ‘n ander plek te gebruik. Alles was daar, maar niks het gewerk nie. So het ek maar altyd my kop geskud, en dan het ons maar op ons fietse geklim om die program by iemand anders te kyk.

Die spreekwoord sê mos: “Alles wat ‘n “te” is is verkeerd, behalwe “tevrede”, “te perd” en “tematies”". So moet ons ook nie so ernstig selfondersoek doen oor ons lewe en ons binnetoerusting, dat ons vergeet dat die doel van die oefening is om die pragtige beeld te sien en te geniet nie.

So besig raak ons om te wil leer hoe ons werk, hoekom dinge gebeur, hoekom ons op ‘n manier optree, dat ons nooit die genot van die uitsending geniet nie. Ons, en ek in besonder, is soms so besig om ons derms uit te ryg en om te besin oor die lewe, in en om ons, dat ons vergeet wat die essensie is. Dit doen ons met elke ding in ons, ons liefde, ons kinders, ons stress, probleme en spanning. Dan vergeet ons om te leef! Ons is so besig om te desekteer en te be-oordeel dat ons IN ons mensetoestel in staar, en nooit rustig voor dit kan gaan sit en ervaar hoe fantasties alles in my lewe ten goede meewerk. Moet dit nooit in die lewe SO deurmekaar maak, dat jy of nie weer die televisie aanmekaar sit nie, of dat jy na die desektering en terugsit van alles, met ‘n klomp skroewe en moere sit wat nie plek gekry het nie.

Ek is nogal baie lief om televisie te kyk, so ek stel nogal belang in die toerusting wat daar in die winkels beskikbaar is. Ek staan en bekyk graag al die platskerm televisies, en dan is daar ook altyd iemand wat my bedien met raad van die spesifikasies van elke tipe skerm in die winkel. Hoe kies ‘n mens nou die “beste” een? As jy hulle so langs mekaar sien, dan voel jy sommer jammer vir jou “ou” televisie by die huis. As jy hulle langs mekaar sit kan jy die verskil werklik sien, maar een-een op ‘n slag op hulle eie, gaan jy nie sommer die verskil agterkom nie.

So moet ons ook versigtig wees om nie te dink dat ek die “beste” toerusting moet wees om die uitsending te geniet nie. Soms wil ons nie ons beeld uitsaai nie, want ons is skaam oor ons toerusting wat nie die beste en vinnigste en mooiste op die mark is nie. Al is ons nie die beste nie en nie op die snykant van die tegnologie nie, kan ons steeds ingestel wees op die regte kanaal, ons kan steeds die genot ervaar van die wedstryd waar my span wen.

So, wees daarom seker dat jou skottel in die regte rigting wys, dat jou proses maklik van daar deursyfer na jou dekodeerder toe. Leer om die inligting wat deurkom reg te kodeer en te verwerk. Verstaan jou eie proses, geniet om jou binnewerkinge te ondek (in balans), maar verseker, moet nooit vergeet dat dit nie oor die absolute perfekte beeld en klank handel nie, maar oor die plesier wat jou uitsending by die kykers en jouself bring. Dit dalk selfs op jou ou, klein, uitgedateerde swart en wit skermpie!

Monday, January 30, 2012

Krom stokke, reguit houe!

Afrikaans is nou een van daardie tale met baie leestekens. Die sleutelbord van ‘n rekenaar is nou een keer nie heeltemal opgestel om sommer met die eerste druk van ‘n sleutel die deelteken of die kappie op ‘n letter te kan sit nie. Jy moet alt 136 of 137 druk om dit te vermag. Op my skootrekenaar is dit moeiliker, aangesien ek eers die alt sleutel moet inhou en saam met dit die “Num Lk” sleutel, voordat ek alt en die nommer kan druk. Dit is nogal uitputtend, veral as ‘n ou so op dreef is en lekker vinnig tik en jy nie wil hê dat jou gedagtes moet dwaal nie. Dit is nie net in Afrikaans nie, maar ook in ander tale dalk baie erger. Een van my vriende het gister van Finland af gekom, en ek dink dat hulle dalk meer sukkel as ek.

Soms voel dit vir my asof die sleutelbord van die lewe ook nie heeltemal voorsiening maak vir my lewe nie. Om dinge “reg” te doen is soms uitputtend en moeilik, en vat soms van my om ekstra moeite in te sit, sodat dinge om my reg gespel word. Soms wonder ‘n mens hoekom dinge nie maar net vlot wil loop nie, en dat jy alles kan regkry sommer net met die normale tik van sleutels nie? Jy dink dan ook aan jou afkoms, en soms wonder jy hoekom jou omstandighede nie dalk eerder “engels” kon wees nie, want dit sou die insleutel van woorde baie makliker en baie eenvoudiger gemaak het. Daar is nie kappies of deeltekens nie.

Dit het natuurlik ook sy uitdagings, sou jy nou engels gewees het. Die laaste ruk vertaal ek ook hierdie blog in Engels, en alhoewel my engels goed is, kom jy gou agter dat, alhoewel jy nie kappies en deeltekens hoef te gebruik nie, dit nie so maklik is om jouself uit te druk en dieselfde boodskap oor te dra in ‘n ander taal nie. Daar is werklik net sekere dinge wat jy NET in afrikaans kan uitdruk. In my moedertaal, met hierdie sleutelbord en al die ekstra moeite wat ek moet doen, voel tog gemakliker en voel ek tog meer tuis. Soos ek hierdie skryf, dink ek onmiddelik hoe moeilik dit gaan wees om hierdie stuk in Engels te vertaal, want wat is deelteken en kappie in Engels.

So kyk ons na mense om ons, en ons dink en wens baie keer dat ons eerder in hulle “taal” kon leef. Hulle lyk gelukkig, dit lyk asof hulle nie probleme het nie, asof dit so lekker sou gewees het om soveel geld soos hulle te verdien of in so ‘n lekker huis te kon bly. Dit voel vir jou asof jou sleutelbord gemaak is vir hulle “taal”, en dat jou lewe eenvoudiger sou gewees het.

Maar om so jou lewe te “vertaal” is moontlik. Jy kan jouself indink in wat jy sou gedoen het en hoe maklik jou lewe sou gewees het, net om weer te besef dat jou eie persoonlike “taal” altyd die beste is vir jou. Jy, met jou konteks en agtergrond en situasie lyk dalk vir jou moeite en inspanning, maar God het jou geplaas in ‘n taal en in ‘n plek wat jou pas. God het ook vir jou die kennis gegee om te besef dat daar opsies is vir jou, al is dit moeite, om tog jouself met ‘n engelse sleutelbord, in afrikaans te kan uitdruk.

Ons kyk onsself disnis teen die feit dat ons sleutelbord nie outomaties loop nie, ons is nie altyd lus vir die inspanning van ekstra sleutels druk nie. Ons staar onsself blind teen die feit dat dit inspanning is, terwyl ons die feit misken hoe gelukkig ons is. Gelukkiger as mense in engelse lande, want ek kan met my sleutelbord baie meer vermag, want ek kan in Afrikaans ook skryf. Ons vergeet so maklik dat ons geseënd is met woorde wat kappies en deeltekens het.

Soos wat ons so wens dat ons lewens eenvoudiger kon wees in ‘n ander taal, besef ons nie dat ons sleutelbord dalk wel gemaak is vir Afrikaans. Ek sien nie die kappie met die eerste oog op slag nie, maar deur kennis en ontdekking van my sleutelbord, besef ek eintlik dat my persoonlike sleutelbord vir my legio meer opsies gee as wat ek ooit gedink het.

Partykeer neem dit ook nie net kennis nie, maar soos op my Blackberry vat dit soms die aflaai van ‘n applikasie soos “fancy smileys” om op my foon die leestekens te kan insit. Jy ontdek ook in jouself, net soos die applikasies, dat daar behalwe die kappie en deelteken ook fantastiese en oulike gesiggies en prentjies is waarmee ek my skryfstuk, sms, bbm en whatsup mee kan ophelder. Nou besef ek dat ek ‘n prentjie van ‘n knip-oog, drukkie en soentjie tot my beskikking het. Dan besef en verstaan ek dat ek die lewe kan ophelder, met my sleutelbord om sodoende dieselfde boodskap op te helder en snaaks en genotvol te kan maak.

Ons leef so maklik in ‘n droom en hoop dat ons lewens “anders” kan wees. Ons is so ongelukkig met ons sleutelbord dat ons lewens dalk begin om stil te staan. Daar vloei niks uit my uit nie. My “my documents” is leeg, net omdat ek onvergenoegd is met my sleutelbord wat kwansuis nie “pas” by my taal nie. Ek hou op leef soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie en in die hoekie gaan sit en huil.

Die Bybel is vol voorbeelde waar mense so graag ander omstandighede wou gehad het. Paulus vra vir God om die doring uit sy vlees te neem, net om herinner te word dat hy ‘n goeie werkbare sleutelbord tot sy beskikking het, die genade van God. Dawid, toe hy geroep is as koning van Israel, het gedink hy is klein, maar word herinner dat hy al die sleutels tot sy beskikking het om God se wil te doen. Moses wil nie sy volk uit Egipte gaan lei nie, want hy sukkel om te kan praat, en God herinner hom daaraan dat hy die sleutelbord van sy broer tot sy beskikking het wat hom kan help. Alles dinge om ons te herinner dat, alhoewel ons nie die deelteken met die eerste oog op slag sien nie, dit nie beteken dat dit nie daar êrens binne in versteek is nie. Dit beteken nie dat ons nie kan doen wat ons ookal wil, en kan doen wat God ons voor geroep het nie.

Ek dink aan die reeks MacGyver uit ons kinderjare. Soos julle kan onthou het hy sy mes gebruik en in moeilike situasies uitgekom deur net dinge wat reg rondom hom is te gebruik. Amper soos die spreekwoord: “’n Boer maak ‘n plan”. Partykeer kyk ons teen ons ooglede vas. Ons is so ingestel op die feit dat ons nie ‘n “klaargemaakte” wapen reg voor ons het nie, dat ons vergeet om rond te kyk van wat alles in ons en om ons is. Dinge wat ek soos MacGyver kan gebruik om my doel te bereik nie. God herinner ons op soveel plekke dat ons wel alles om ons het wat ons nodig het om te kan leef en ons doel te kan bereik. Nog meer so in die tyd waarin ons nou leef met tegnologie en kennis wat tot ons beskikking is. MacGyver sou nooit uit sy moeilike omstandighede ontsnap het as hy op ‘n hoop gaan sit het en gehuil het oor wat hy nie het nie.

So sit jy dalk vandag en jy is ontevrede oor jou sleutelbord. Jy voel dalk dat jy nie jou merk kan maak en jou doelwitte kan bereik met dit wat rondom jou of in jou is nie. Jy voel dalk dat jy nie inpas in afrikaans nie, omdat jy ‘n engelse sleutelbord het. Jy voel dalk dat die berg wat jy moet klim onmoontlik is omdat jy nie die regte toerusting het nie.

Ek het ‘n vriend op Universiteit gehad wie se ouers baie finansiëel gesukkel het. Hy was ‘n briljante sportman en wou graag gholf speel. Hy het egter nie geld gehad vir stokke nie. So het hy toe maar begin om by mense stokke te kry wat hulle nie meer gebruik nie. So het hy uiteindelik ‘n hele stel stokke bymekaargemaak, waarvan nie 2 stokke uit dieselfde stel kom nie. Mense het vir hom gelag as hy op die bof gestap het, want sy sak was ook vol gate wat die muise daarin gevreet het. Ons glo mos dat jy net kan gholf speel en konstant goed kan speel as jou stokke die beste is en persoonlik vir jou spel aangepas is. Hierdie vriend van my het menigte mense se geld gewen met sy mengelmoes stel. Hy het binne ‘n paar maande sommer ‘n 2 voorgee geword en briljante gholf gespeel.

Soveel mense wag totdat hulle toerusting perfek pas by omstandighede, voordat hulle aksie neem. Ons is ongelukkig omdat ons nie die perfekte sleutelbord het vir ons lewens nie. As jy gaan wag tot jou omstandighede perfek is, gaan jy soveel mooi sonskyndae mis op die gholfbaan. Jy gaan soveel geleenthede by jou laat verbygaan. So sterf baie mense met soveel drome in hulle harte, omdat hulle gewag het. Hierdie voorbeeld hierbo is ‘n uitstekende bewys dat jy, deur net bietjie moeite te doen, kan deelneem aan die spel, al is jou sleutelbord verslete. Jy is so ‘n intellegente wese wat jouself kan leer om aan te pas by alle omstandighede. Jy kan die vaardigheid aanleer om met krom stokke ‘n reguit hou te slaan.

Nike het seker een van die spreekwoorde wat die meeste in die lewe gebruik word: “Just do it”. Hoe lank gaan jy nog wag voordat jy leef? Miskien moet jy bietjie dieper delf in jouself en gaan soek na wat jy in jou binne-kas het, en gebruik wat jy het. Miskien moet jou ophou om te fokus op wat jy nie het nie, en dit as verskoning gebruik vir die feit dat jy nie aan die lewe deelneem nie. Soos die voorbeelde uit die Bybel ons leer, elkeen van ons het wat ons nodig het om voluit en gelukkige lewens te geniet, al is dit nie ooglopend nie.

Ek het lank in my lewe baie idees soos dit wat ek in my blog gebruik in my kop gehad. Omdat ek gevoel het dat ek nie goed skryf nie, en nie die regte woorde het nie, het ek niks daarmee gedoen nie. Toe besluit ek een dag om net te begin, dit net te doen. Ek het besef dat, alhoewel ek dalk nie die beste sinsbou het nie, en spelfoute kan maak, dit nie saakmaak nie, want wat ek wil sê kom nog steeds uit, te midde van tekortkominge.

Gaan leef vandag jou drome uit, moenie fokus op die tekorte op die oog af nie, maar kyk om jou rond wat jy tot jou beskikking het. Sit bietjie “effort” in, alles wat jy nodig het is in daardie sleutelbord van jou!

Gaan slaan ‘n reguit hou, al is jy ‘n krom stok.

Friday, January 27, 2012

Die belangrikheid van die konteks

Ek is mal oor die reeks “Chuck” en het gelukkig nou die hele nuwe reeks aanlyn gekyk. Wat vreemd is om so ‘n reeks so agtermekaar te kyk, is dat elke episode begin met ‘n opsomming van wat tot dusver gebeur het. Natuurlik is die reeks gemaak om een keer ‘n week uitgesaai te word, en mense vergeet wat gebeur het in die vorige episodes. Hierdie opsomming is ook nie net van die vorige episode nie, maar gaan partykeer terug na twee of drie episodes voor dit. Dit is duidelik dat as jy nie weet wat die konteks is van wat gebeur het in vorige episodes nie, jy geen idee gaan hê waaroor die huidige episode handel nie.

Die definisie van konteks is eenvoudig. Dit is informasie oor gebeure in die verlede wat lig werp op die verstaan van die hede. Dit is die storie van mense van hulle reis en wat hulle hier gebring het, hulle denke, idees en kultuur. Konteks is belangrik, aangesien ek daarsonder sekere aannames maak en die huidige episode vir my geen sin gaan maak nie. My oumagrootjie het altyd gesê: “My kind, jy kan nie weet hoe iemand se voete voel as jy nie in hulle skoene geloop het nie”.

In sielkundige sessies, vra die terapeut altyd vir jou vrae. Daar is baie grappies hieroor, maar hulle doen dit met ‘n rede. Jy is nie hier waar jy nou is per ongeluk nie. Daar is ‘n storie agter die storie, en die storie gee vir ons die antwoord oor hoekom jy hier is. Dit vertel vir ons hoekom jy so voel, hoekom jy so optree en ook hoe jy in die toekoms dinge gaan hanteer en doen. Almal het ‘n konteks en ‘n storie.

Om die konteks mooi te verduidelik, kom ons neem die voorbeeld van somme maak. Kom ons gebruik die voorbeeld van die getal 2 as die antwoord. Deur my vraag na die konteks, verstaan ek wat bo die lyn gebeur het om by die antwoord uit te kom. Dit is daardie a-ha oomblik waar jy besef dat die persoon 1 en 1 bymekaar getel het om by 2 uit te kom. Konteks is dus belangrik sodat ek die hele som kan verstaan.

So kan ek net mense om my verstaan en met hulle saamleef as ek hulle hele som verstaan. Ons weet mos wat gebeur as jy “assume”, jy maak ‘n gat van jou en van my. Daar is natuurlik verskeie maniere om by die antwoord van “2” uit te kom, jy kan byvoorbeeld 1 van 3 aftrek. Maar dit is jou manier, maar dit is nie die enigste manier nie.

In jou eie bestaan, en in verhoudings met ander leer ons baie keer dat jy eers moet verstaan, voordat jy verstaan kan word. Ek dink dat baie verhoudinge tussen mense verkeerd loop oor die tekort aan kennis van die konteks. Daar is twee redes hiervoor, die een is natuurlik aannames (dat almal dink en doen soos ek en na die wêreld kyk deur my kleur bril) en die onvermoë om ander maniere van doen en dink (konteks) te aanvaar as nog ‘n opsie om by die antwoord uit te kom en mense te dwing om dit op my manier te doen.

In beide gevalle gaan dit nooit oor die ander persoon nie, maar oor myself. Om iemand se konteks nie in ag te neem nie, of daarna te vra nie, beteken ek gee gladnie om nie. In verkope leer ons dat jy iemand se guns en vertroue wen deur hulle uit te vra oor hulle konteks. Jy vra vrae oor waar hulle vandaan kom, of hulle kinders het en wat hulle stokperdjies is. Mense hou daarvan om hulle stories vir jou te vertel. In verkope is die doel natuurlik selfsugtig, want jy wil iets aan hulle verkoop, en kan dit net doen as hulle jou vertrou. Die beginsel is egter dieselfde as in verhoudings. Iemand wat vir my omgee doen moeite met my en stel belang in my storie en laat my toe om my storie te vertel.

Wanneer ons in verhoudings mense toelaat om hulle storie te vertel, gaan dit oor die erkenning van hulle menswees. Dit is die belangstelling in iemand en die aanvaarding dat hulle hulle eie storie mag hê. En hoe meer ons mense toelaat om hulle stories te vertel, hoe meer vertrou hulle ons, en hoe dieper gee hulle ons ‘n loerkans in hulle siele. Hoe meer jy van iemand weet, hoe beter is jou verhouding met daardie persoon.

Dit is soos jou vrou wat by die huis kom na werk en so bietjie ontstoke is. Deur navraag te doen oor die agtergrond daarvan en dat dit haar baas is wat iets van haar verwag het om klaar te maak op die nippertjie voor sy moes ry, werp lig op haar houding. As ek nie navraag doen nie, gaan sy in die eerste plek voel dat ek nie omgee nie, en kan dit tot konflik lei. As ek nie navraag doen oor die agtergrond van die woede nie, kan ek dalk die aanname maak dat ek iets verkeerd gedoen het en sy vir my kwaad is.

Jy sien, deur vrae te vra, maak jy jou verstaan van ‘n situasie soveel beter. Jy kan agterkom hoe die ander persoon werk, jy sit met die antwoord van 2, maar jy leer dat een persoon ‘n “plus” mens is wat altyd dinge wil plus, so om by jou antwoord uit te kom, gee getalle vir hulle wat hulle kan optel. Ander mense is weer “aftrek” mense, daarom weet ek dat ek vir hulle getalle moet gee om af te trek om by die antwoord uit te kom. Al kan mense my verras, in die meeste gevalle kan hulle nie verander wie hulle is nie, hulle kan verseker ook nie teruggaan in die verlede en hulle konteks en wat met hulle gebeur het verander nie.

Dit is makliker om mense te hanteer, soos wat hulle is, want dit bring baie minder spanning as om van hulle te verwag om iets te wees wat hulle nie is nie. Ek moet ook nie mense kritiseer vir hulle konteks nie, want dit is iets wat hulle nie altyd oor beheer het nie. Ek moet nou maar eenmaal dit aanvaar, wat natuurlik die toppunt van liefde is, om iemand toe te laat om hulleself te wees. Wat maak dit nou in elkgeval saak as iemand ‘n optel-mens is, en ek ‘n aftrek-mens is, solank ons by dieselfde antwoord uitkom wat ons beide na soek.

Ons kan natuurlik in ons interaksie met mense leer om beter te kommunikeer. Ek het dalk net in ‘n situasie die twee getalle 3 en 1, en alhoewel my maat ‘n optel-mens is, kan ek mooi vir hulle verduidelik dat hulle in hierdie spesifieke situasie, dalk eerder moet aftrek, as om op te tel. Ek doen dit nie omdat ek hulle kritiseer oor die feit dat hulle optel-mense is nie, maar eerder omdat die omstandighede vir my ‘n 3 en ‘n 1 gee, en omdat optel nie in hierdie situasie gaan werk nie. Onthou altyd dat, as jy mense met verskillende idees bymekaar sit, gaan mense altyd terugval op wat hulle ken, en altyd eerder wil optel as aftrek. Mense is nou maar eenmaal mense van gewoonte, maar deur effektiewe kommunikasie, en ken van my maat, kan ek vir hulle die syfers gee wat nodig is, en hulle bekragtig deur hulle toe te laat om hulle natuurlike manier en natuurlike konteks te laat deurvloei na die antwoord toe.

Ons ken ook die spreekwoord oor konteks in Engels wat sê: “Every whore has her story”. Alhoewel ek ‘n konteks van my eie het, is dit nie nodig dat my konteks ‘n verskoning word vir wat ek doen nie. Elke liewe dag skep ek konteks van more, so ek het ‘n keuse elke dag hoe ek optree.

Veral wanneer die getalle met optel nie by die regte antwoord uitkom nie, moet ek myself ook ken, en aanpas. Ek kan nie van eeue se wiskundiges verwag om skielik die getallelyn te verander om my te pas nie. Ek moet daarom myself ook ken. Ek moet weet dat my tendens van optrede is om op te tel, maar genoeg kundigheid aan die dag lê om te weet dat ek met die getalle tot my beskikking, soms moet aftrek, maal of deel.

Soms is ons so kwaad vir die wêreld omdat die getalle wat ek kry, nie met optel by die antwoord wat ek verlang kan uitkom nie. Ek gooi ‘n depressie en ‘n aggressie, nie omdat die antwoord verkeerd is nie, maar omdat ek nie aangeleer het om aan te pas by die getalle wat ek in die som het nie. Jy het natuurlik al die reg om gemakliker te voel met optel, maar die lewe gaan nie altyd oor jou gemak nie, maar of jy by die antwoord wat jy soek gaan uitkom. Soms moet ek diep delf, en dalk die hulp van ‘n sakrekenaar of Excel inroep om my te help, maar daarmee is ook nie fout nie.

So, alhoewel ek en die mense om my elkeen ons eie stories het wat ons in ag moet neem, mag dit nooit ‘n verskoning word nie. Ons kry onsself jammer omdat ons somme nie uitwerk nie, maar dalk het dit te doen daarmee dat ek nie my konteks verstaan en weet dat ek ‘n optel-mens is nie. As ek weet wie ek is, en dat ek ‘n optel-mens is, kan ek maklik teruggaan op my stappe en gaan kyk wat ek verkeerd gedoen het. Stoere mense gebruik hulle konteks as verskoning, groeiende mense leer daaruit en maak hulle lewens verder baie beter, deur ander dinge aan te leer, soos om af te trek, te maal en te deel, sodat hulle by die antwoord uitkom wat reg is.

Die hele wêreld handel oor kommunikasie, en ek kan net kommunikeer as ek myself en die om my se konteks, werkswyse en optredes verstaan. Selfkennis is die begin, want dit gee vir my die spieël waarteen ek ander se konteks kan opweeg, waar ek raakpunte en werkswyses in kan beoordeel.

So vandag, gaan doen moeite om uit te vind hoe jou kop werk, en hoe ander om jou werk. Hanteer mense se konteks met deernis en sonder oordeel. Gee die mense om jou getalle wat hulle maklik en met hulle eie konteks-manier by die regte antwoord gaan uitbring. Wees aanpasbaar en probeer nuwe maniere om by die antwoord uit te kom, want as jou antwoord nie reg is nie, is die probleem nie altyd die getalle nie, maar hoe jy daarmee werk.

Geniet jou dag!

Thursday, January 26, 2012

Foon oorlog

Toe ek nog klein was het my ouers en hulle vriende in 3 faksies geval. Daar was die wat Mercedes-Benz aangehang het, die wat BMW aangehang het en ander wat ander Japanese en Amerikaanse motors besit het.

Ek onthou hoe hulle aande om gestry het oor duursaamheid, spesifikasies en tweedehandse waarde. Nou nog sal my ouers net tevrede wees as ek 'n Mercedes koop.

Vandag sien ons dieselfde met selfone. Jy het jou stoere BBM-ers, jou i-phone appilikasie-vingerskuif ouens en dan die Android aanhangers. So probeer ons mekaar oortuig dat my keuse die beste was. Vir elke redenasie is daar 'n teenkant. Ouens met die Blackberry gebruik "BBM" as 'n groot pluspunt en die i-phone ouens dat hulle Whatsup kan gebruik. Die i-phone skare wys vir jou die applikasies en interaksie met hulle i-pad en i-pod.

Ons leef in 'n wêreld met legio keuses. Toe selfone uitgekom het, het almal omtrent Nokia baksteenfone gehad. Hy was groot en ongemaklik en kon bel, oproepe kry en SMS. Dit was wonderlike tegnologie vir die tyd.

As daar beperkte keuses is, het ons nooit nodig om onsself en ons keuses te verantwoord nie, maar ons dink as ons baie keuses het, dat ons moet verduidelik en ander moet oortuig van ons besluit. Dit is 'n vreemde verskynsel by mense, om hulle plekkie en keuse nie net te verantwoord nie, maar ander ook te oortuig om ook te koop wat ons koop.

Tydskrifte ontstaan wat oor die onderwerpe handel, vergelykings te maak en aanbevelings te doen. Die foon se spoed is vinniger as die ander, die een se probleme is dit en dat. Dit is natuurlik belangrik vir ons wat nie kenners is nie om sodoende 'n besluit te kan maak. Soms maak dit ons ook so deurmekaar dat ek eerder wag om op te gradeer, omdat informasie soms meer onsekerheid kan bring.

Elke dag word jy hiermee gebombardeer, nie net selfone nie, maar verhoudings, jou werk, jou opvoeding van jou kinders, oefenprogramme, diëte, godsdiens, restaurante, vakansies, vriende, beleggings, polisse en selfontwikkeling.

Elke dag sit slim mense orals en dink allerhande nuwe spesifikasies vir elke moontlike ding uit. Spesifikasies wat hulle die "edge" gee bo die kompetisie, om mense te oortuig om hulle produk te neem. As jy dus die keuse gemaak het om jou selfoon op te gradeer, is daar more 'n nuwe model en is jou tegnologie "agter".

Wat vreemd is, is dat gewone mense soos ons dalk net 'n fraksie van die tegnologie in ons hande effektief gebruik. Ons betaal vir dinge wat ons dink ons nodig het, terwyl dit gladnie noodsaaklik is nie. Baie van die tegnologie wat ons oortuig om iets te koop is ook nie goed vir jou nie. Soos BBM en Whatsup laat mense nie meer praat nie, maar eerder met teks kommunikeer. En die taal wat ons gebruik is opgemaak uit afkortings en "slang", wat mense laat verleer om ordentlik te spel.

Hoe meer dae, hoe meer dinge is daar, en jy sal dalk nooit op die totale voorpunt van dinge wees nie.

Baie mense is in ons tyd deurmekaar en "confused". Op elke vlak van die lewe staan jy in 'n supermark met legio standpunte en opsies. Spesifikasies wat jou totaal deurmekaar maak, dinge wat jy verstaan en wat jy nie verstaan nie, ook baie dinge wat jy jou kop oor breek wat jy nooit gaan gebruik nie, maar wat jou laat wakker lê in die nag.

'n Paar dinge moet jy onthou in hierdie maalkolk van 'n wêreld.

Daar gaan altyd verskillende opinies wees, want mense verskil. Dit is deel van menswees, maar net omdat my vriend 'n i-phone het en ek 'n Htc, verander dit iets aan ons vriendskap? Ons kan mekaar tog steeds bel en 'n platform soek waar ons kan kommunikeer soos Whatsup.

Verskille en kompetisie tussen produkte en mense is goed, want dit laat mense streef daarna om innoverend en in hulleself beter te word. As almal dieselfde was, sou die lewe baie eentonig gewees het.

Net omdat iemand nie op die vlak van tegnologie is as my Blackberry nie, beteken dit nie dat ek beter of slegter is nie. In die tyd toe my Blackberry gesteel is, het ek 'n ou Nokia gebruik, en my lewe het nie gestop nie. Ek kon steeds leef, bel en deelneem aan die rotresies. So ek hoef ook nooit terug te staan en minderwaardig te voel oor my tegnologie nie, en ek mag die om my, wat dit nie het nie, ook nie uitsluit of minderwaardig laat voel nie. Net omdat iemand nie BBM of Whatsup het nie, kan ek die grappies vir hulle aanstuur op SMS.

Daar is geen foon of standpunt wat die "ultimate" is nie. Niemand het die finale antwoord nie. Funksionaliteit is waaroor dit gaan, solank dit wat ek het en dink op daardie oomblik my doel versadig, dan is dit die regte een vir my.

Ek moet ook oop wees vir nuwe tegnologie en idees. Soveel mense loop rond met hulle baksteenfoon-idees. Sy battery hou nie, en ek is nie bereikbaar vir ander nie. Kyk na die nuwe dinge in die lewe, elke nuwe idee op die mark het ten doel om die lewe beter te maak. Kyk daarna, want dit is gratis en vry, en hoekom dit nie gebruik nie? Wees dus oop vir nuwe idees en nuwe dinge. Niks in die lewe is konstant nie, maar in beweging vorentoe.

Soek uit wat vir jou werkbaar is. Soveel fone het funksies wat ek nie kan hanteer nie. Ons stel onsself bloot aan idees wat nie vir ons werk nie, en eintlik meer spanning in my veroorsaak as genot. Ek kan die mooiste foon by my vriende neersit, maar as dit nie in my basiese behoefte voldoen nie, en ek nie eers kan bel nie, wat help dit my?

Alle fone is feilbaar en gaan breek. Fone het waarborge op, maar nooit vir die durasie van die foon se bestaan nie. So weet ons ook dat dit wat vandag bestaan ook nie vir altyd gaan hou nie. Niks is gewaarborg vir ewig nie. Wees dus voorbereid en oop vir nuwe idees en bewus dat wat jy dink en doen moontlik gebreek is. Net omdat dit uitgedateer kan raak of kan breek, help dit ook nie dat ek my foon in die boksie in 'n kas toesluit nie. Gebruik dit en geniet dit. Niemand kan in die toekoms sien nie, maar net omdat die toekoms onseker is en mag breke insluit, kan ek vandag nog bel. As ek nie vandag my foon uit vrees nie gebruik nie, is dit reeds "gebreek".

Erens moet ek keuses maak. Net omdat daar elke dag nuwe fone op die mark is en ek wag vir die "beste" foon of geleentheid, gaan ek vir altyd sonder 'n foon wees. Soms gaan dit nie oor spesifikasies nie, maar watter foon my pakket voor kwalifiseer, wat vir my mooi lyk of wat lekker in my hand pas. Jy moet dus kies, sodat jy kan deelneem aan die lewe. Niemand kan sonder keuse en standpunt leef nie, dan is jy onbereikbaar.

Die laaste punt is, geniet die voorreg om in aanraking te kan wees. Geniet jou foon en leef hom voluit uit. Bel, BBM, Whatsup, gaan op die internet, laai programmetjies en speletjies af. Geniet wat jy het en hou op om te bekommer en te stress oor wat jy nie het nie. Watter foon jy ookal het, moet dit nie so ernstig opneem nie, dit is net 'n foon. Gaan maak die beste van dit, miljoene mense is dolgelukkig vandag sonder dat hulle 'n i-phone 4 het. Moet dus nie wag tot dinge in plek val voor jy gaan deelneem en 'n lekker gesprek met mense het nie. Die lewe is hier en nou, laat jou stem gehoor word en ook jou lag, te midde van die feit dat jy nie kan BBM nie.

Gaan leef, gaan lag, gaan geniet vandag!

Sunday, January 22, 2012

Skep van Karma

Karma is volgens definisie ‘n aksie of ‘n daad wat tot ‘n nuwe kringloop van oorsaak en gevolg lei. Dit is soos om ‘n klippie in die dam te gooi wat sirkels maak, en wat op sy beurt die vorige klippie se sirkels beinvloed. Ook word die aksie ander name gegee soos die “butterfly effect”, wat beteken dat as ‘n skoenlapper op een plek, hoe klein ookal, sy vlerke klap, daar erens ‘n groot wind laat waai.

Alhoewel ons in die westerse wêreld vir lank nie gedink het aan die konsep nie, aangesien dit van oosterse oorsprong is, besef ons meer en meer elke dag, dat wat ons ookal die naam van hierdie konsep gee, elke aksie van elke dag, elke woord my en jou wêreld beinvloed. Ek skep elke dag ‘n nuwe kriingloop in myself, my maat, my kinders en die hele wêreld om my.

Dwarsdeur die Bybel word daar vir ons die konsep van oorsaak en gevolg geskets. Van Adam en Eva in Genesis, deur die rigters, deur al die konings, die Nuwe Testament en Jesus, tot en met die Openbaring en die finale oordeel. En alles begin by die klippie, my gedagtes en ingesteldheid. Die Bybel vertel nie verniet vir ons dat ons wag oor ons gedagtes moet hou nie. Wat jy ookal dink oor dinge soos die “law of attraction”, stel selfs die Bybel vir ons dat as jy iets gedink het wat verkeerd is, dit reeds sonde is.

Een van die beste voorbeelde hiervan het ek hierdie week ervaar. Ek wil vir my ‘n ander kar koop, met die spesifieke prys in gedagte. So spandeer ek toe tyd op die “Autotrader” se webblad en sien ‘n sekere tipe kar wat ek dink nogal goeie waarde vir geld is. Dit lyk asof dit fantastiese waarde vir geld is, maar voorheen het ek nooit opgelet of gedink daaraan om so ‘n kar te koop nie. Hierdie week was ek verbaas, want ek het nie net baie van hulle gesien op die pad nie, maar ook in die wit kleur wat ek in belangstel.

Het ek nou toevallig deur my denke hierdie karre op ‘n misterieuse manier laat ontstaan? Verseker nie, maar my bewustheid van hulle bestaan het ‘n invloed op my oog gehad om hulle raak te sien. Dit het my laat skrik, want ek het eersterangs ervaar hoe belangrik dit is wat in my gedagtes gebeur. Meer as dit nog, ek deel toe met iemand dat ek van die tipe voertuig hou, ek kort voor lank is dit nie net ek nie, maar daardie persoon se oë wat ook oopgaan en vir my ook daardie karre wat ek mis uitwys. So, dit is nie net in my lewe nie, maar deur die feit dat ek dit gepraat het, het dit tot ‘n sneeubal effek gelei.

So wonder ek toe by myself dat as dit gebeur in ietsie kleins soos hierbo, hoeveel ander gedagtes dra ek in my saam wat tot my geluk en ongeluk lei? Besef ek elke dag hoe kragtig my gedagtes is? Hoeveel karma skep ek nie elke dag nie? En wat dit meer kompleks maak is dat ander se gedagteklippies ook in die dam gegooi word wat se rippels my rippels beinvloed, en wat ek ookal doen, dit gaan my beinvloed.

Dit wil dus voorkom asof al die dinge wat ons in die “nuwe denke” lees en leer oor hoe spiritualiteit is, niks nuuts is nie. Baie van die geskrifte van eeue gelede, insluitend die Bybel, leer ons oor hierdie konsep. Pas op vir jou woorde, pas op selfs vir jou denke en ook oorsaak en gevolg is deel van die lewe.

Iemand vertel nou die dag vir my van haar verhouding. Hulle was die sondag by haar familie, en haar man was so effens geirriteerd die dag. Hy het sommer so in die middel van die kuier besluit dat hulle huistoe gaan. Daar was ‘n redelike atmosfeer met die terugrit huistoe. So probeer hulle dit toe uitpraat en elkeen het sy en haar standpunt gestel. Jy sien, nou is daar karma geskep. Sy is nou elke keer in haar agterkop skepties of hulle na haar ouers kan gaan.

Nou word dit al hoe groter, want sy het in die redenasie genoem dat dit ook nie vir haar lekker is om na sy ouers toe te gaan nie. Losse woorde wat sy nie bedoel het nie, maar wat diep sny en vir die res van hulle lewens vir hulle spanning kan veroorsaak.

In ons opleiding as sielkundiges en dominees leer ons dat ‘n mens dinge in jou hart moet uitpraat in die verhouding. Jy moet in ‘n verhouding wees waar jy die haakplekke moet kan uitsorteer. Na al my praktiese ondervinding van my eie lewe, wonder ek egter baie ernstig hieroor. Jy sien, elke woord wat jy uiter om uit te sorteer, word nie altyd ontvang met opregte vertroue deur die ander persoon nie. Wat gebeur is dat ons eintlik deur die uitsorteer van ons sake, nuwe situasies van spanning skep wat hanteer moet word.

Daarom dink ek dat die eerste probleem is dat ons wil alles uitsorteer. Ja, jou man is dalk nie die mees romantiese mens in die wêreld nie, maar om dit vir hom te sê gaan dalk net ekstra spanning bring. Elke keer as daar ‘n spesiale geleentheid voordoen, gaan hy voel hy moet dinge op ‘n sekere manier doen, anders gaan hy weer kritiek kry. Aan jou kant gaan jy elke keer wat hy vir jou blomme bring nie dink dat dit spesiaal is nie, want hy doen dit net omdat jy van hom gevra het om dit te doen. So begin ‘n bose kringloop van nuwe karma wat geskep word. Jy wat nie voel dat jy belangrik genoeg is nie, omdat hy nie aan jou vereistes voldoen nie, en hy wat minderwaardig voel aangesien jy hom kritiseer nie net vir wat hy doen of nie doen nie, maar ook van hoe hy dit doen of nie doen nie.

Almal van ons onthou hoe lekker is daardie eerste paar weke of maande van ‘n nuwe verhouding. Sommer net lekker omstandighede waar daar geen kritiek of uitsorteer is nie. Dit is natuurlik die plek waar ‘n mens mekaar begin leer ken, maar die vraag is tot watter doel. Want in alle verhoudings is daar altyd daardie eerste ding wat jou begin pla oor die ander persoon, en dan die vertel vir hulle dat dit jou nie pas nie. Hoekom die “wittebrood” tyd van ‘n verhouding so goed werk, is dat ons in daardie tyd in mekaar die mooi soek, die rede van hoekom ons bymekaar wil wees. Dan wil dit voorkom dat in die tweede fase van verhoudings mense mekaar kritiseer, amper soos om geleenthede te soek om nie bymekaar te wees nie. So sneeubal hierdie karma-skepping tot by ‘n punt waar mense nie eers meer die mooi in mekaar raaksien nie.

Dit gaan ook nie net oor praat nie, maar in die manier hoe ek dit doen en hoe dit vatplek kry in die ander persoon. So het iemand een keer gesê: “As dit wat jy doen of sê nie ‘n positiewe bydra maak tot die verhouding nie, moenie dit sê of doen nie”.

Daar is natuurlik ook die gemeenskap waarin ons leef wat gevul is met allerhande “bygelowe” oor verhoudings. Mans is so en vrouens is so, geen verhouding werk nie ens. Wanneer ‘n klomp mans of vrouens bymekaar is, word ons gebombardeer deur gedagtes en idees oor hoe onaangenaam hulle verhoudings is. So is een vanmy vriende nou in ‘n verhouding wat so spesiaal en wonderlik is, dat dit ‘n mens eintlik inspireer daartoe om jou lewe beter te maak.

Jy sien, dit is dus nie net jy wat karma skep in jou lewe nie, maar ook dit wat jy toelaat om jou te beinvloed. Dit gebeur so maklik. Ek kan onthou toe ek dominee was en elke dag na soveel mense se verhoudingsprobleme geluister het, dat ek naderhand MY geloof in die sukses van verhoudings begin twyfel het. Ons praat so graag met ons kinders oor groepsdruk, maar laat ons dit nie in ons eie lewens toe nie? As almal om jou rook, gaan jy dink dat dit die norm is. Kom nou op ‘n plek waar jy die enigste roker is, skielik dink jy nie meer dat dit die norm is nie. Wees dus versigtig tussen wie en wat jy jouself bevind, want hoe jy ookal dink, jy is nie beskerm teen alles nie, dit gaan sit tog op jou wat ander dink en doen. Jy is nie ‘n eiland nie, maar deel van ‘n groot geheel van menswees. Moenie alles glo wat ander vir jou sê nie, onthou altyd dit is hulle lewens en probleme wat hulle het, as jy by hulle moet wees. Die ander alternatief is om te kies om eerder tussen die tipe mense te wees wat positief bydra tot jou denkwyse. Niemand het die reg om te veroordeel nie, maar almal het die keuse om te beoordeel by wie en in watter tipe situasies hulle wil wees. Onthou altyd die spreekwoord: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”.

Jy sien, elke woord en elke daad lei tot karma. Dit lei nie net tot karma in daardie omstandighede nie, maar tot karma vir die hele lewe rondom jou. Dit beinvloed jou ingesteldheid en lei weer tot dade wat jy soms nie weer kan terugkry nie. Dit is soos woorde wat geuiter is, jy kan die klippie wat jy gegooi het nie keer om sy rippels te maak nie.

Wees ook versigtig dat jy, alhoewel alles in die lewe nie afhanklik is net van jou en jou gedagtes nie, jy nie ander alleen verantwoordelik kan hou vir wat met jou gebeur nie. Jy sien, elkeen van ons is ‘n dammetjie met ‘n groot heining om. Alhoewel mense die klippies in jou dam gooi, is dit jy wat hulle toegelaat het om dit te doen. Soms is daar mense wat die “Reg van toegang” bordjie ignoreer, maar jy moet sorg dat dit opgesit is en almal om jou deeglik daarvan bewus is. Jy kan gaan kuier buite jou “hokkie”, maar dit is jou besluit oor wie mag inkom. Die bordjie gee jouself ook die reg daarop dat as jy voel dat hulle invloed op jou dammetjie nie positief is nie, jy hulle kan verjaag, sonder om redes daarvoor te gee.

Te veel mense laat toe dat mense hulle pragtige dammetjies fandaliseer. Onthou dit is jou lewe, jou dammetjie en jou keuse. Wees dus net so versigtig wanneer jy ander mense se dammetjies besoek, dat jy met liefde en deernis omgaan, want die klippies wat jy gooi kan jy nie terugkry nie, en dit veroorsaak slegte karma vir hulle en vir jou nie.

Skryf dus by jou eie dammetjie: “Reg van toegang voorbehou” en wanneer jy ander se dammetjies besoek: “Wees versigtig, elke klippie het ‘n rippeleffek”!

Friday, December 23, 2011

Mojo

In die film “Austin Powers” word die storie vertel van die geheime agent wat sy Mojo verloor. Sy Mojo is die brandstof wat hom spesiaal maak. Dit is sy essensie en dit wat hom definieer. Dit is dit wat hom motiveer om homself te wees. Sonder dit kan hy nie leef nie, lag niemand vir hom nie en kan hy nie werklik funksioneer nie. Sonder sy Mojo kan hy dus nie wees wie hy moet wees of doen wat hy moet doen nie. Hy gaan dus op ‘n spesiale missie en reis om hierdie Mojo van hom terug te kry, totdat hy uiteindelik weer homself is en spesiaal kan wees.

Ek, en soveel mense om my, voel baie kere in die lewe presies dieselfde. Dit voel vir jou asof iemand jou essensie, jou visie, jou drome, jou ideale, jou menswees of jou siel van jou gesteel het en êrens in ‘n plek in ‘n konfytbotteltjie gebere het. Nou voel jy asof jy geen petrol het nie. Jy is nie meer ‘n aktiewe deelnemer aan die lewe nie, maar sit langs die kant van die rivier en beskou almal wat aangaan en lag en speel in die rivier wat by jou verbyvloei. Jy sien selfs die “evil villains” wat verantwoordelik kan wees. Jy bekyk hulle en hoor en sien daardie “evil laggie”, Ha-Ha-Ha-Ha wat hulle so uit hulle maag uit kraai. Jy voel asof jy totaal magteloos is en dat jy eintlik net in ‘n bondeltjie wil opkrul en vergaan.

Vir jou is dit erg, want te midde van wat in jou kop en hart gebeur, vloei die rivier steeds. Mense speel en lag en dit voel asof hulle by jou moet kom sit en alles moet “pause”, omdat jy so voel. Jy dink in jou hart dat hulle onsensitief is vir jou gedagtes en gevoelens. Hulle hanteer jou met disrespek. Austen Powers het so van partytjie tot partytjie gegaan en ook hartseer gevoel. Hy het nie geweet hoe om op te tree nie, want hy was nie homself nie.

Iemand het een keer vir Paolo Coelho gevra wat jy moet doen wanneer jy so voel. Hy het ‘n wonderlike antwoord gehad: “Get up and show up”. Dit is seker die beste raad wat jy iemand kan gee, want net soos Austen Powers is wat jy soek, stroomaf. Daardie botteltjie van dinge wat jou aan die gang hou is vorentoe. Coelho het ook ‘n vreeslike oulike boek daaroor geskryf: “Like a flowing river”. Die lewe is maar een keer so, jy moet saam met die vloei gaan, jy kan nie terugkyk nie, want dit is die verlede. Jy moet in die rivier wees. Jy kan net wen as jy in die wedloop is.

Miskien is dit vandag jou oomblik om nie noodwendig net in te spring in die water nie, maar dalk net jou voete vir eers in die water te sit, dan tot by jou boude, dan tot by jou skouers en dan jou kop onder die water te druk. Nie alles hoef in een oomblik en onmiddelik te gebeur nie. Dit neem baie keer tyd.

Soms voel dit asof jy nie mojo het om vorentoe te gaan nie. Maar, daar is gewoonlik so ‘n bietjie in reserwe wat jy oor het. As jou geel brandstofliggie aangaan, moenie vandag daardie klein bietjie mors en by die huis sit en nie ‘n vulstasie gaan soek nie. Die wêreld is deesdae volop met plekke en situasies waar jy jou kan gaan vol maak. Gaan lees ‘n boek, gaan kuier by iemand of kyk ‘n mooi film. Toe ek ‘n student was met min geld het ek nooit my motor vol gemaak nie. Ek het daardie R20 ingegooi om te kom waar ek wil wees, van bestemming tot bestemming. As jy laag is en laag voel, moenie kwaad wees en niks doen net omdat jy nie kan “vol” maak nie. Elke groot reis in die lewe begin met ‘n enkele tree.

Ek het al die voorbeeld gebruik van maagspiere. Jy gaan nie die eerste dag, of die eerste week die totale uitslag sien en ‘n sespak kry nie, al doen jy vandag 5000 opsitte. Om jou mojo terug te kry vat ‘n eerste stappie, staan op en raak betrokke. Doen net iets. Mense sit stil en doen niks nie as hulle nie die volle brandstoftenk kan vol kry nie. Baie kere vra die plekke waar jy wil wees nie ‘n volle brandstoftenk nie, maar dalk net R20. Ons is so ingestel om dinge perfek te kry, dat ons die klein dingetjies mis.

My ma en oom Corrie het vreeslike oulike dinge gedoen. Hulle het byvoorbeeld uitgegaan en gekyk watter lekker dinge hulle vandag kan doen met R20. Jy sal verbaas wees oor die lekker en mooi wat jy kan ervaar. Hierdie jaar bly ons Desember by die huis, en net omdat ek nie by die see is nie, beteken gladnie dat ek nie kan gelukkig wees nie.

Een ding wat jy gaan ervaar is dat as jy elke dag net ‘n klein bietjie brandstof in jou motor gooi, jy kort voor lank met ‘n vol motor gaan sit as jy kort ritte doen. In babatreetjies kom ‘n mens ook in die kraal.

Ons leef in ‘n land waar ‘n mens maar altyd bang is vir mense wat jou gaan aanval. Natuurlik is daar gevare in alles. Meeste ongelukke gebeur naby jou huis, of so sê die mense. Die lewe is vol dinge wat nie lekker is nie, of jy ervaar dit nie lekker nie. Mense gaan jou teleurstel op jou reis, maar op dieselfde reis is daar ook mense wat jou gaan gelukkig maak. Net omdat daar moontlike gevare op die pad is, beteken nie dat jy by die huis moet bly nie. Jy moet in die rivier wees om te kan leef, al is daar kolkgate en gevare. Wat jy soek en jou bestemming is afstroom.
Die beste ding van alles is dat daar baie maniere is om jou Mojo terug te kry. Jy sien, soos alles dink ons dat dit van buite kom, gewoonlik omdat omstandighede rondom ons gebeur wat baie keer daartoe lei dat my mojo laag voel. Mense maak my seer, stel my teleur en is nie werklik op my ingestel nie. Jy kan maklik voel asof die lewe uit jou uitgesuig word deur mense en omstandighede. Jy kan maklik dink dat daar “evil villains” is wat jou elke dag aanval.

Superhelde het gewoonlik super kragte, maar te midde van dit het hulle ook iets wat hulle kan oorwin. Superman kon nie sy kragte gebruik as daar Kryptonite is nie. Hy het sommer in ‘n klein bondeltjie opgekrul as daardie groen klippies naby is. Ek wonder vandag wat ons kryptonite is? Wat is dit wat ons oorwin dat ons nie ons kragte kan wys nie? Dit is ook nie altyd die geval net van buite nie, maar ons sien ook dat hulle soms ‘n sielewroeging ondergaan waar hulle hulleself saboteer. Waar hulle in hulleself moet veg teen die seer binne in hulle of die verlies aan iemand naby of ‘n geveg wat verloor is. Soms twyfel hulle ook in hulleself en voel ook sonder mojo.

Maar superhelde wys daardeur vir ons dat hulle ook menslik is. Dat hulle ook te midde van alle suksesse ook soms mojo-loos voel. Dat hulle ook interne stryd het soos ek en jy. Maar, hulle veg steeds voort te midde van hulle tekortkominge. Hulle gaan haal uit daardie reserwetenk die laaste stukkie mojo wat hulle het om te oorwin. Die kragte en magte wat hulle het is nie wat hulle super maak aan die einde van die dag nie, maar dat hulle opstaan en vorentoe beur en steeds probeer.

In die kerstyd dink ons aan die wonder van Jesus se geboorte. Jesus het te midde van wie en wat Hy was ook die kryptonite van menslikheid gehad. So het Hy aan ‘n kruis gehang en gesterf. Hy het ook nie kragte gehad nie maar in Sy laaste asem het Hy hom beroep op Sy “reserwetenk”, en Sy gees oorgegee aan God. Daarin is ook ‘n voorbeeld vir ons. Ons is ook uitgelewer aan die menslikheid van die lewe, aan depressie, siekte, stryd en mense wat ons wil kruisig. As jy dus gladnie meer weet wat om te doen nie, as dit voel asof jy nie in die water kan klim of enigsins kan lewe nie. Wanneer jy dink dat daar geen hoop meer is nie en jy alles probeer het om vorentoe te beur, maar nie kan nie. As jy voel dat jy wel in die rivier is, maar dat die stroomversnellings vir jou te erg is om te hanteer of dat ander mense op jou reis jou onder die water druk en jy nie meer asem kry nie. Weet dan verseker dat daar altyd die hoop is dat God daar is vir jou. Hy gaan dalk nie jou vul met ‘n vol tenk mojo of uit die rivier red nie. Dalk gaan God wel vir jou ‘n boomstomp stuur wat jou kan regop hou totdat jy weer in kalmer water is.

Die reserwetenk in jou lewe is dus die geloof in God en dat vir God alles moontlik is. Dit is volgens my die boodskap wat Jesus gebring het, God gee soooo baie om vir my en jou dat Hy Sy seun gestuur het om, te midde van enige omstandighede, vir ons mojo te wees en te gee. Om te glo dat dit wat ons nou beleef deel van menslikheid is, en dat daar stroom-af vir my en vir jou kalmer waters is waar die dinge vir ons beter en gemakliker gaan wees. Daardie plek waar ons vrede en harmonie gaan kan ervaar. So het Jesus gekom om vir my en jou hoop te gee, en my en jou te vul met die mojo wat ons vandag nodig het om te kan leef!

Geseënde Kersfees vir almal in die hoop dat God jou vandag sal dra en jou sal vul met die nodige mojo dat jy kan regop bly en die mens kan word wat God jou bestem het om te wees, wat ookal met jou gebeur!

Wednesday, December 14, 2011

Kristalglase

Vanoggend staan ek voor die kas in die kombuis met die glase in om vir my ‘n glas water in te gooi. Ek sien al die tipes glase wat daar is en besluit dat ek net ‘n pilletjie wil drink, so ek het seker nie nodig om ‘n kristalglas uit te haal nie, ek kan sommer ‘n ou lelike een vat. Nee, hoekom? Hoekom het ons die mode om altyd die mooi en spesiale te bêre vir ‘n spesiale geleentheid?

Die antwoord daarop sal seker individueel wees, maar dit wys ons iets van ons ingesteldheid teenoor die lewe. Ons wag altyd vir spesiale dinge, tye en geleenthede voordat ons onsself en mense om ons laat spesiaal voel. Gisteraand kyk ek “How I met your mother” waarin Barney sy meisie op ‘n spesiale “date” vat. Hoekom kan elke dag en elke “date” nie spesiaal wees nie? Hoekom is ons altyd maar tevrede om ‘n “gewone” dag te ervaar en gediend te wees om uit die ou en die lelike glas te drink? Ek wonder maar net of dit nie die rede is dat ons soveel mismoedige mense om ons sien nie.

Dit is nou een van die lesse wat ek my kinders wil leer, en dit is om elke liewe dag die beste te verwag, uit die mooiste glase te drink en jou mooiste klere aan te trek. En die rede is dat dit jou goed en lekker en spesiaal laat voel. Wat maak dit nou saak as jy jou nuutste skoene aantrek as jy in die sandput gaan speel? Jy gaan in elkgeval uit dit uitgroei nog voordat jou skoene verwoes is. Iemand het een keer gesê dat ons baie by kinders kan leer oor hoe om die lewe te geniet. As ‘n grootmens en ‘n kind in die pad afstap en daar is ‘n poel met water, sal die grootmens om die poel stap, maar die kind sal inspring en speel.

Dit voel vir my asof ons soms die lewe te ernstig opneem. Dalk is dit omdat ons “gebruiksglase” in ons kas met ons saamdra. Ons ag onsself ook soms nie waardig of spesiaal genoeg dat dit ‘n kristalglas roep nie. So word ons lewe saai en afgemat, en kort voor lank is jy maar gediend om uit plastiekglasies te drink en later sommer so uit jou hand.

Daar is rykdom in eenvoud, sal ek met jou saamstem. Ek stem saam daarmee dat as jy uit ‘n plastiekglasie moet drink jy ook jou lewe kan geniet. Ek is ook iemand wat stop en aan die rose ruik en dankbaar is vir wat ek het.

Ek dink dat ons “gewone” lewens het, omdat ek en jy dink dat ons nie waardig is en waarde het nie. Ons dink dat ons nie verdien om uit die kristalglase te drink nie. Miskien kom dit uit ons kinderdae wat ons ouers vir ons plastiekglasies gegee het, omdat hulle bang was ons dit breek. Dit is baie prakties, maar miskien het dit ons geleer dat ons nie waardig is nie, en dat ons onsself nie kan vertrou met die spesiale dinge van die lewe nie. Vandag, en ek, is nie spesiaal genoeg vir die mooi van die lewe nie, en daarom is ek tevrede. Dan dink ek allerhande verskonings uit om die ontevredenheid van my siel weg te steek en “vrede” te maak met my lot.

Miskien is dit ook een van die redes hoekom ons nie meer droom nie, en die hele tyd vir mense om ons vertel om “realisties” te wees. Dalk sou ons almal soos Superman kon vlieg as almal ons nie die hele tyd afgebring het aarde toe nie. Dalk sou ons in ons geloof berge kon versit as ons geloof in die moontlikheid daarvan so groot soos ‘n mosterdsaadjie was. Dalk sou ons elke dag meer kon geniet as ons genoeg geglo het dat elke dag spesiaal is, en elke oomblik kristalglas-kosbaar.

Hoeveel keer het ons nie al gesien dat wanneer iemand tot sterwe kom en ons hulle besittings gaan oppak, hoeveel mooi kristalglase daar nog in hulle verpakking is, of hoe mooi lingerie daar in die kas is wat nooit gedra is nie. Gewag vir ‘n spesiale geleentheid? Die feit dat dit nog in die verpakkiing is, beteken dat die persoon nooit enige geleentheid of enige dag as spesiaal genoeg ge-ag het nie. Dit laat my dink aan die woorde van Prediker dat daar nie sin in die lewe is nie en ‘n mens alles nalaat vir iemand na jou. Dalk is die rede dat die prediker dit nooit gebruik het nie, en dit die rede is vir sy aanhoudende klaagliedere.

Dit is nie net in ons besittings waar ons opgaar vir eendag of ‘n spesiale geleentheid nie, maar ook in ons eie menswees. Ons wag vir iets om te gebeur of vir ‘n spesiale geleentheid om ons drome en eie menswees uit te leef. Ek lees baie boeke oor menslike groei, en twee konsepte kom by almal voor. Die eerste is dat jy jouself moet ken en moet spesiaal ag. Die tweede is dat jy nie moet wag om die mens te wees wat jy graag wil wees nie, maar nou en vandag moet leef.

Wat het van jouself geword en jou drome? Deel jy dit nog met jouself en leef jy jou droom? Glo jy dat jy spesiaal en uniek is en dat jy die beste verdien, of plaas jy jouself, jou drome en talente onder die maatemmer?

Gisteraand sit ons en gesels oor ons kinders en hulle toekoms. Ons sit en praat oor hulle drome en ideale. Toe wonder ek so in my innigheid of ek myself ook so spesiaal ag soos ek my kinders ag. Of ek steeds glo dat ek alles kan vermag wat ek wil, vandag? Kan ek toepas wat ek preek, en hoe moet my kinders vlerke kry en leer vlieg as hulle nie sien dat ek vlieg nie. Gaan ek vandag my “kristalglase” uithaal en voluit leef, of gaan ek myself wegbêre, en tot wanneer? Vir hoe lank gaan ek mense en situasies die oorhand gee oor my? Deel jou droom met mense, en as hulle kommentaar lewer is dit net ‘n opinie, en nie noodwendig die waarheid en finale uitkoms nie. Hoeveel van jou drome het jy opgegee om ander tevrede te stel? As jy spesiaal genoeg oor jouself voel, sal jy jou droom nie laat vertrap op grond van ander se opinies nie.

As jy gaste onthaal en jou beste Noritake en kristalwynglase uithaal, voel nie net jy en die geleentheid spesiaal nie, maar veral die mense wat jy onthaal. Hulle voel goed omdat jy HULLE belangrik genoeg ag om moeite te doen. Om mense om jou gelukkig te maak en spesiaal te laat voel in JOU lewe, gaan pak daardie spesiale jy uit en leef spesiaal elke dag. Mense gaan dan voel dat jy HULLE belangrik genoeg ag om die wonderlikste self in jou met hulle te deel.

Gaan drink vandag met oorgawe uit jou kristalglase, jy is spesiaal genoeg!

Monday, October 10, 2011

Maatstokke

My dogtertjie Layla is nou 8 maande oud. Dit is vir my ‘n voorreg om vir ‘n vierde keer die ontwikkeling van kindertjies mee te maak. Sy is nou op die stadium waar sy wat ons doen en klanke wat ons maak naboots. En so leer ons deur die lewe dat ons naboots na aanleiding van wat ons dink nabootsbaar is.

In sport kyk ons video’s van persone wat iets wat ons graag wil doen goed kan doen. As ek klavier wil bespeel, dan gaan ek na die beste onderwyser wat die klavier reeds bemeester het, om my te leer. Ek lees boeke oor selfontwikkeling en biografieë om by “suksesvolle” mense te leer. Modetydskrifte wys vir vrouens hoe hulle moet grimeer en modelle het die klere aan wat nou in die mode is. So gaan ons deur die lewe om altyd dit wat ons persepsie is van wat ons wil doen, na te boots by iemand wat dit reeds gedoen het.

Hier is nie ooste van Pretoria, het ons die tendens by ons kinders dat hulle totaal oorrond wanneer hulle praat. Ons spot altyd dat die kinders sê: “My Po en Mo het ‘n strondhuis in Hermonus”. Wie dit begin het is onbekend, maar al die kinders praat so. Die hele laerskool praat ook van “sulke ding”, in plaas van “so ‘n ding”. Vir 11 jaar probeer ek dit by my oudste seun afleer, maar omdat almal deurgans so kommunikeer, lei dit daartoe dat hy dit nie afgeleer kry nie, en nou praat sy boetie en sussie ook so.

Ons woon seminare by waar een of ander guru vanuit Amerika ‘n mens probeer leer van hoe om in besigheid op te tree en suksesvol te wees. Dit maak min indruk op my persoonlik, want al waaroor al die boeke en seminare gaan is dat jy ‘n A-tipe manipulerende outokratiese persoon moet wees om êrens in besigheid te kom. Kyk ek na baie “suksesvolle” besigheidsmense om my, sal hulle ook vir jou vertel dat jy in baie gevalle ‘n persoonlikheidsverandering kwansuis moet ondergaan om êrens te kom. Met die toetrede van vroue tot die werkplek en gelyke regte, sien ons ook dat die voorbeeld van wie en wat ons moet wees, mense dwing om suksesvolle mense en ook mans na te boots.

Suksesvolle mense het ek in aanhalingstekens geskryf, aangesien ek die idee het dat jy op alle vlakke van jou lewe suksesvol moet wees om so ‘n stempel op jou lewe te kan plaas.

Op skool was ek gelukkig deur in die “in” spannetjie te wees, want ek het rugby gespeel. Al die meisies en ouens in die skool het vir jou respek gehad, want jy het een talent uitgeleef. Maar het dit my laat ontwikkel soos ek moes? Het dit van my ‘n beter mens gemaak? Ek wonder of Steve Jobs (RIP) ooit ‘n “jock” was? Gelukkig het die rekenaar-revolusie vir ons gewys dat daar ook plek vir ander tipe persoonlikhede in die wêreld is, mense soos Steve Jobs en Bill Gates. Mense wat op ‘n ander manier ons geleer het hoe die lewe kan werk, en dat dit nie net die outokratiese A-tipes is wat as suksesvol uitgemaak word nie. Dat jy deur eenvoudig jouself te wees, en deur sagtheid ook suksesvol kan wees. Dat dit nie nodig is om op mense te trap om êrens in die lewe te kom nie. Dit is nie nodig om ‘n “jock” te wees om suksesvol te wees nie. Daarvoor sal ek my ouers ewig dankbaar bly, aangesien hulle my ander kant en eie menswees raakgesien het, en my laat uitleef het in kultuur, musiek en literatuur. Mense wat my geleer het dat ‘n mens deur die “sagte woord” meer bereik as om ‘n bullebak te wees. Mense wat my laat raaksien het dat die lewe oor meer gaan as A-tipe persoonlikhede, en dat die tipe nastreef daarna kan lei na ongeluk en hartseer en ‘n Z-tipe lewe.

Van die oulikste mense wat ek ken, is mense wat hulle nie aan die maatstaf van die samelewing meet nie. Vroeg reeds in my lewe het ek agtergekom dat die feit dat jy geweeg en te lig bevind word in mense se oë, die probleem gewoonlik nie by jou lê nie, maar my die maatstaf. Te lank in my lewe het ek probeer om in ander se idees van wie of wat ek moet wees, te voldoen. Vir te lank het ek my sukses gemeet aan die maatstaf in ander se idees van sukses, want dit is vals en verkeerd. Dit is soos om afstand in Suid-Afrika te meet met ‘n maatstok uit Amerika. Net omdat ek dus nie voldoen het nie, maak nie van my korter of slegter as ander nie.

Ek lag altyd as mense verwys na mense as ‘n “sukses”, van watter maatstaf hulle gebruik. Geld is gewoonlik een van die mees verkeerde maatstawwe. Vir die laaste klompie jare het ek baie swaargekry, en dit was interresant hoe mense my as ‘n “mislukking” afgemaak het. Intussen het hulle nie die innerlike groei en ontwikkeling in my raakgesien of ervaar soos ek dit gesien het nie. Ek het ‘n klomp vriende om my wat werklik wonderlike mense is. Dit is mense wat my nooit afgeskryf het of my laat minderwaardig voel nie. Mense wat my genooi het om saam met hulle ‘n bier te gaan drink, en aangebied het om te betaal, want hulle het geweet ek kan nie. Mense wat my te midde van my geldnood altyd met respek en in liefde aanvaar en hanteer het.

Ek voel bevoorreg om sulke mense in my lewe te hê wat altyd daar is, en wie se maatstawwe reg is, mense vir wie jou binneste en jou menswees meer saak maak as die uiterlike. Mense wat jou regop hou en jou nie meet nie. Volgens my is sulke mense die voorbeeld van sukses, want hulle stel meer in JOU belang as in wat jy HET. Mense wat werklik verstaan waaroor die lewe handel, en daarom gelukkige mense is. Mense wat nie van jou verwag om eers ‘n A-tipe manipuleerder te wees wat met ‘n blink kar die wêreld verblind nie.

Hierdie klompie mense is vir my ‘n inspirasie in my lewe, en ek stap om die rede met hulle ‘n pad. En moet vir geen oomblik ‘n fout maak oor hulle finansiële situasie of ander suksesse nie, hulle kan alles vermag wat hulle kan, maar sonder om die mense om hulle af te maak as onbelangrik.

Daar is dus twee dinge wat hier belangrik is, die eerste is jou eie ontwikkeling en wat jy wil vermag in jou lewe (jou eie maatstaf en die manier hoe jy ander meet), en jou optrede rondom die maatstaf van die mense om jou en hoe hulle jou meet.

Kom ons begin by jouself. Ek weet in my hart dat dit waarmee ek myself besig hou elke dag, dat dit vir my belangrik is. Ek weet in my hart presies wat ek dink en voel en daarmee saam waarheen ek oppad is. Ek meet my aan niks en niemand nie, want ek laat God toe om my deur my omstandighede te leer wat belangrik en wonderlik is. Ek meet mense om my met liefde en toelaat en nie met afguns en ‘n randstokkie nie. Ek is bereid om almal om my toe te laat om te wees soos wat hulle wil wees. Dit begin by myself en die manier wat ek na myself kyk. Ek meet my eie self nie aan wat ek het en wat ek nie het nie, want dit is dinge wat slegs tydelik is. Ek meet myself net aan my eie persoonlike ontwikkeling. As ek groei, dan is waar ek is en by wie ek is die plek waar ek moet wees en by wie ek moet wees.

As ek mense se ongeluk en hartseer veroorsaak, dan moet ek kyk na my optrede en my woorde, want dit is dinge wat ek kan verander. Wanneer ek op mense trap, trap ek op myself. Wanneer ek oneerlik is met mense om my, is ek oneerlik met myself. Wanneer ek ander oordeel, is dit slegs omdat ek myself nie toelaat om in totaliteit myself te wees nie. En wanneer ek mense in my lewe toelaat ogv allerhande maatstawwe soos wat ek uit hulle kan kry, bewys ek daarmee my onvermoë om myself toe te laat om te wees wie ek is.

Die tweede is die maatstaf van mense om my en die gemeenskap. As mense net van my hou oor my “sukses” of die hoeveelheid geld wat ek het, of my vermoë om te kan sport doen, dan sê dit vreeslik baie van hulle en hulle probleme. Dit raak vir my hulle menswees aan en gee ‘n kykie in hulle lewens en tekortkomings.

Die bybel sê dat ons nie die splinter in die ander se oog moet sien nie, maar die balk in ons eie oog. Die boodskap daarvan is dat ons in ander en ons optrede en oordeel in en oor ander, ‘n stukkie van ‘n groot probleem in onsself raaksien. Ons wys dus in ‘n oordeel oor ander meer van ons eie tekortkominge as van hulle s’n. So wat ek geleer het is om mense wat op die oog af my oordeel oor materialistiese vermoëns, dat hulle die mooiweersvriende is. Hulle is die mense wat aan my kant gaan wees wanneer my situasie verander, maar nie daar is wanneer ek swaarkry nie.

Die Bybel sê ook dat die oordeel waarmee ons oordeel, oor ons ge-oordeel gaan word. Wat die uiteinde van die mense om my se aksies is, is dat ek hulle dan presies andersom hanteer. Hoekom sal ons mense om ons toelaat wat net onder hulle terme by ons wil wees, en nie sonder voorbehoud nie? So moet ons versigtig wees aan watter maatstawwe ons onsself blootstel, en ook die van ander, want as dit nie sonder voorbehoud is nie, weet ons mos vanself dat dit nie die mense is wat ons in ons lewens moet toelaat nie.
Dit laat jou voel soos ‘n sirkusleeu waat sekere toertjies moet uitvoer en in ‘n hok opgesluit word, geen vryheid of lekkernye sonder die toertjies nie. As jy nie die vryheid het wat ‘n leeu in die bos het nie, gaan jy nooit werklik ‘n leeu kan wees nie. Dan gaan jy altyd onvergenoegd en minderwaardig wees. As jy jouself meet aan ander en wat ander verwag, knip jou jou vlerke en sal jy nooit jou volle potensiaal ontwikkel nie.
God het elkeen van ons uniek geskape, met ons eie unieke roeping.

Dit is soos die storie van die arend wat uit die nes geval het en tussen die eendjies grootgeword het. Hy het saam met hulle gewaggel, maar het gesukkel om te swem. Sy “boeties” het hom gespot omdat hy nie kon swem nie. Hy het ‘n enorme kompleks ontwikkel daaroor. Eendag ontdek hy in die weerkaatsing van die water dat hy anders lyk as die eendjies om hom en lyk soos die arende wat hy sien sweef. Toe begin hy sy vlerke oefen en kort voor lank is hy in die lug en ontdek sy potensiaal.

Vir hoe lank gaan ons probeer om te wees wat die samelewing en mense om ons van ons verwag? Hoe lank gaan ons onsself laat meet aan wat ander mense dink? Vir hoe lank nog gaan ons ongeluk in mense om ons se lewens skep om hulle te meet en te vergelyk aan ons idee van “sukses”? Vir hoe lank gaan ons mense om ons en veral ons kinders kasty omdat hulle nie is wat ons van hulle verwag nie.

Elke mens het die reg om hulleself te wees en te doen wat hulle wil, jy ook. Jy en almal om jou kan en mag presies wees wat hulle wil wees, en “sukses” is mense wat dit kan toelaat, maar belangriker, jouself kan toelaat en aanvaar vir wie en wat JY is!

Hoe wonderlik sal die lewe wees as almal van hulle maatstokke kan ontslae raak?