Thursday, December 27, 2012

Dr Jekyll en Mr Hyde

In 1886 verskyn die boek "Dr Jekyll and Mr Hyde" geskryf deur Robert Louis Stevenson. Dit vertel die storie van 'n prokureur wat sy vriend se gesplete persoonlikheid ondersoek.

Hierdie twee persoonlikhede tree met verskillende moraliteit op van situasie tot situasie.

Ek dink dat, alhoewel ons nie almal gesplete persoonlikhede het nie, daar tog in mense verskillende dinge skuil. Die wereld werk mos maar met 2 pole van lig en donker, goed en sleg asook dag en nag.

Wanneer Dr. Jekyll in die spieel kyk sien hy soms die homself raak en soms iemand anders. So wonder ek as jy en ek in die spieel kyk, sien ons wat ons graag wil sien, of sien ons 'n drogbeeld van iemand wat ons in verander het?

Soos Hulk wat groen word as hy kwaad word, hoe verander en beinvloed die omstandighede om jou jou bestaan. Soms stel ons onsself ook onnodig bloot aan dinge en mense wat ons "slegte" kant uitbring.

Op facebook sien ek oulike prentjies en uitsprake van mense, baie keer nie van wat hulle is nie, maar wat hulle graag wil wees. God het ons so gemaak dat ons graag beter wil wees en strewe na die lig-kant binne ons. Die Heilige Gees is daardie stemmetjie wat sag in jou hart jou oortuig van die regte ding.

Soms voel dit asof daar ook 'n klein duiweltjie op jou ander skouer sit wat jou van die donker kant wil oortuig.

Wanneer ons dus so die Nuwe jaar ingaan, is my gebed vir myself, my kinders, my geliefdes en almal om my dat jy die lig-kant sal kies. Dat jy deur God gelei sal word om die verskil te ken tussen die stemme, en dat jy in die spieel sal sien wie jy werklik is in God en sal hou van wat jy sien.

Geniet hierdie tyd saam met jou spesiale mense.
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Friday, December 21, 2012

Die einde van die wereld is hier?

Ok, al die antisipasie oor hierdie dag 21 Desember 2012 is nou hier. Dit is mos nou vandag waar die kalender van die Majas stop en sou dit nou die dag wees wat die einde is van die lewe soos ons dit ken op aarde.

Ons lewens is van kleins af gevul met die twee pole van begin en einde. Ons word herinner aan geboorte en dood en dat dinge nie ewig is nie. Ons skooljare is gevul met die nuwe graad wat elke jaar begin en eindig, en op oujaar skiet ons vuurwerke met die hoop dat die bose ons nie inwag in die nuwe jaar nie.

Dinge begin en eindig, soos ons stories het ook 'n inleiding en slot. Maar of dit nou gaan eindig vandag sal ons maar moet sien. Maar eintlik weet ons om elke dag so te leef asof dit die laaste is.

Of daar nou vandag al die plannete kosmies in lyn gaan kom, maak nie werklik saak nie. Maar jy kan vandag jou eendjies in 'n ry organisseer in jou kop. Jy kan jou innerlike self help om vandag 'n einde te maak aan wat jy weet nie vir jou goed is nie.

Miskien is hierdie die dag wat jy jou ou lewe eindig en aansluit by Romeine 12:8 "Moenie aan die sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe".

Vandag kan die dag wees waar jy die "ou" mens met al sy kruppel, oordelende en negatiewe maniere afsterf en nuut gaan leef.

Jy kan maak wat jy wil, geen een van ons is onbewus van hierdie patrone nie. Ons herhaal dit net oor en oor, want dit is "makliker" om eerder die duiwel wat jy ken na te volg as die duiwel wat jy nie ken nie. As jy daarna kyk van buite is dit absurd, maar dit is wat ons elke dag doen. Ons weet ook presies wat ons doen wat verkeerd is, nog voordat dit jouself of mense om jou skade aangerig het.

Vandag is die dag wat die leuens wat jy jouself vertel en die leuen wat jy leef tot 'n einde kan kom. Die Bybel gee ons ook toestemming om dit wat jou pla, selfs jou eie hand af te kap.

Jy het nie eeu-oue gesrkifte en profesiee nodig om vir jou te vertel om dit te eindig nie, jou eie ongeluk skreeu dit uit. Word stil en luister na jou lewe, en gaan skep 'n nuwe heelal in jouself wat 'n nuwe era inlui.

Selfs al is dit nie volmaak nie, solank dit beter is as gister is jy oppad na 'n gelukkiger lewe.

Hopelik is ons almal more hier, dan skryf ek weer!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Tuesday, December 18, 2012

In my kerskous

Iemand wat ons ken was nou die aand aan huis by ons, ek was gelukkig nie daar gewees nie, maar ek hoop dat sy op 'n stadium hierdie lees.

In die gesprek het dit uitgekom dat God vir ons goed is, en sy het hewig hierop reageer.  Jy sien, haar lewe lyk na een groot stuk gemors.  Dinge werk nie vir haar uit nie, sy is alleen en sy is eensaam.  Klaarblyklik het sy mense se lewens verwoes en daarmee saam ook haar eie. 

Een ding wat ek weet is dat wanneer dinge vir ons nie goed loop nie, ons gewoonlik op daardie stadium God betrek by die situasie.  Aan die een kant het jy mense wat 'n idée in hulle gedagtes vorm van hoe hulle lewens moet lyk, en as dit nie so uitwerk nie, dan is dit God wat dit so maak. 

Ek het al baie verwys daarna dat ons God soms sien as Kersvader en vir hom 'n briefie, in die vorm van gebed, aanstuur Noordpool toe.  Wanneer ons dus een oggend opstaan en sien dat die kerkskous se inhoud nie met die briefie saamstem nie, dan is ons woedend.

Soos ek ouer word, besef ek tog dat daar iemand is wat kersvader help finansier aan die lysie.  Soms is dit nie moontlik om die lysie aan te voldoen nie.  Ek het 'n seuntjie wat 'n jaar moes wag vir sy WII omdat ek dit eenvoudig nie kon bekostig nie.  Beteken dit dat ek hom nie liefhet nie?  Alhoewel hy dit nie onmiddelik kon kry nie, en ek dit nie kon bekostig nie, ek steeds op ander vlakke waar ek wel kon help vir hom alles gegee het wat ek kon.

In my vorige blog het ek geskryf dat on sander blammeer vir wat in ons lewens gebeur.  Toegegee, nie alles in die lewe is my toedoen nie, maar ons leer tog vir kinders dat kersvader nie vir hulle hulle wense gaan gee wanneer hulle deur die jaar stout was nie.  Hierdie insig kan wel lei tot selfbejammering en oormatige skuld wat mense op hulleself plaas, maar dit wil vir kinders leer dat hulle 'n verantwoordelikheid het om beter mense te probeer wees.

Hierdie vrou wat ek my storie mee begin het is ongelooflik negatief op alles en almal om haar.  Sy gee my die idée dat sy dink dat die wêreld haar iets skuld, en as sy dit nie kry nie, dan gooi sy haar speelgoed.  Dit is altyd iemand anders se skuld, want ag siestog, sy het so 'n hartseer lewe.  Jy sal ook sien dat mense wat almal om hulle die skuld gee, nooit om verskoning vra nie.  As niks my skuld is nie, hoe kan ek my aandeel in die situasie erken? 

Jong, ons moet versigtig wees, want ons lewens verval so maklik in hierdie negatiwiteit.  Erger as dit nog, ons beinvloed mense om ons om ook so negatief te word.  Ons trek mense af na 'n vlak waar hulle gladnie wil of kan leef nie.  En die ergste daarvan is dat mense ons vir 'n ruk lank akkommodeer, maar dat hulle ons op 'n stadium gaan uitspoeg, sodat jy soos 'n vissie lê en smag na asem op die strand.

Ek lees vanoggend weer die woorde:  "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend".  Dit het my geruk, want alhoewel ek al jare lank die vers lees, en selfs daaroor gepreek het, het ek die vers net half gelees.  Ek het gelees dat ek nie besorg moet wees en moet bekommer nie, en my begeertes en wat ek soek uit die lewe aan God bekend moet maak.  Geen wonder dat dinge in my lewe uitgedraai het soos dit soms het nie, want ek het die ander deel van die vers gemis.

Die eerste daarvan is om te kan smeek, soos 'n kindjie wat in die supermark 'n nuwe strandbal soek.  Asseblief mamma, ek soek daardie een met Barbie op.  Soms word hierdie smeking lelik en gaan dit met trane en skree en pak slae gepaard, en dan gaan jy beslis nie kry wat jy soek nie.  Soms moet my kind 'n bal kry om hulle te help met hulle ontwikkeling, of as my kind krieket by die skool speel, moet hy tog 'n krieketbal in sy sak hê.  Jy sien, soms smeek ons vir dinge wat ons nie nodig het nie, en wat nie vir ons goed is nie.  Jy sien, dit sal vreemd wees as my seun vir grimering vra in sy kerskous, maar as hy grimering nodig het vir 'n toneelspel by die skool, is dit 'n ander situasie.

Omdat ons onsself nie goed genoeg ken nie, tas ons in die winkel rond en soek alles wat ons harte begeer, want ons het nog nie ons niche gevind nie.  God ken jou deur en deur, en ek glo dat God ook nie vir jou grimering gaan koop as dit nie in jou karakter en menswees gaan pas nie. 

Al smeek jy soms vir 'n nuwe bal, gaan ouers dit nie vir jou gee nie, veral nie as die hele werf vol balle lê wat jy nie mee speel, of wat jy nooit bêre nie.  Soms dink ek God se geduld raak ook op, wanneer hy vir ons alles gee wat ons nodig het, maar ons gebruik dit nie met respek nie.  Hoeveel kaste en kaste speelgoed is daar nie in jou lewe, wat jy net een keer mee speel, en dan nooit weer gebruik nie, maar altyd net nuwer en nuwer dinge soek? 

Ek as ouers sal ook onverantwoordelik wees wanneer ek vir babadogter 'n skerp knipmes wat sy soek gaan koop.  Soms is waarvoor ons smeek nie goed vir ons nie, want ons het nie die vermoë om dit reg te hanteer nie, en dit kan meer skade aanrig as goed.  Daar is dus ook soms baie goeie redes hoekom ons nie kry waarvoor ons smeek nie, en al maak dit nie nou sin nie, sal ek dalk een dag verstaan.

Die laaste deel van die vers het my totaal geruk, want dit gaan oor dankbaarheid.  Hierdie vrou in die verhaal is so gefokus op wat sy nie het nie, dat sy nooit dankbaar is vir wat sy wel het nie.  Dit is soos 'n pa wat in die winkel vir sy seun 'n krieketbal wil koop, maar die seun sê dat hy wel een by die huis het wat nog werk.  Jy sien, wanneer ons in dankbaarheid leef aan God vir alles in ons lewens, het ons eintlik niks nodig in die winkel meer nie.  Die meeste van dit wat ons in die lewe het, het outomaties gebeur sonder dat ons dit eers van God gebid of van God gesmeek het. 

Ek sit die vakansie en is nogal depressief oor my situasie op die oomblik en ek verlang.  Tot ek een oggend besef dat ek 'n wonderlike geskenk gekry het om te geniet, en ook die lekker uit my lewe haal deur te top oor ander dinge.  Ek is nie dankbaar vir die klank van die golwe, die lekker sonskyn, heerlike kos en wonderlike geselskap nie. 

Dit is dalk die basis van die "Law of Attraction", dat jy deur dankbaarheid en fokus op wat jy wel het dinge vermenigvuldig, eerder as om nuwe dinge te skep en aan te trek.  Deur dankbaarheid, sal jou pa dalk sommer uit sy eie besluit dat hy vir jou 'n beter krieketbal gaan koop, net oor jou ingesteldheid teenoor die lewe.

Dit het dalk niks uit te waai met positiewe of negatiewe mense in die lewe nie, dalk eerder oor mense wat dankbaar en ondankbaar is.  Ondankbare mense het geen ontsag vir wat na hulle kant toe kom nie, en blammeer almal om hulle.  Dankbare mense het ontsag en weet waar alles vandaan kom.

Dit is miskien ons probleem op elke vlak van ons lewens, en dit is die oordeel waarmee ons lewe.  Dankie is nie oordeel nie, want dit is erkenning. 

Gaan vul jou kerskous hierdie jaar met danksegging vir wat jy het.

"Dankie Here vir my lewe.  Dankie vir gesondheid, liefde en vrede.  Dankie vir soveel mense om my wat my liefhet.  Dankie vir my kinders en die wonderlike mense wat hulle is.  Dankie vir al die ervarings in my lewe, en dankie dat ek niks tekort het nie, altyd veilig, altyd warm en altyd rustig kan wees.  Dankie Here, dat ek U kan ken, saam met U kan leef en dat ek U kan vertrou om altyd my God te wees wat die beste vir my in die lewe gee.  AMEN"

Sunday, December 16, 2012

R.I.P. Iemand anders

Die internet en Google is baie goeie voorbeelde van hoe ons nie meer nodig het om alles te weet nie, solank ek net weet waar om dit te gaan soek.

Ons wereld het so verander en ons het eintlik baie lui geword, nie net in ons kennisinname nie, maar ook emosioneel.

Ons deligeer omtrent alles deesdae, jy sien selfs bediendes wat ons honde neem vir 'n stappie. Ouers het selfs nie eers tyd om met kinders te spandeer nie, en so word hulle groot by bediendes. Ek hoor selfs van mense wat 'n nag-bediende het wat inslaap sodat die ouers nie hoef op te staan in die nag nie.

Ons koop mikrogolf etes by woolies sodat ons nie nodig het om kos te maak nie. Ons koop selfs die kits witsous en gooi net water by. Ons probeer beter voel oor onsself met 'n haarsny deur iemand anders, of 'n pilletjie wat iemand anders geskep het, of 'n botox inspuiting van buite of inplant-borste om my beter oor myself te laat voel.

Dit wil voorkom asof ons alles afskuif op ander mense en dinge van buite om ons lewens rustiger en gemakliker te maak. Maar maak dit ons lewens beter?

Hierdie week sien ek hoe 'n vriend van ons hier op vakansie vir ons kos maak. Hy wil nie ons hulp he nie, en terwyl ek hom dophou sien ek die genot waarmee hy dit doen. Ek sien sy gesig wanneer ons aan die tjoppies smul en besef dat die maak van die kos vir hom die lekkerste is, en niks word gejaag nie.

Ons kinders is ook hier, sonder mammas en bediendes. Ons maak almal self skoon en elkeen doen sy deel. Ons maak 'n speletjie daarvan en niemand kla oor wat hulle moet doen nie, want daar is nie iemand anders wat dit gaan doen nie.

Dit is lekker wanneer jy nie iemand anders het om jou verantwoordelikhede op af te skuif nie. Maar wat van ons verantwoordelikheid teenoor jouself om gelukkig te wees?

Skuif ons nie die verantwoordelikheid te veel af op ander mense of omstandighede nie? Wag ons nie dalk vir die perfekte plek of persoon in my lewe om dan eers geluk te ervaar nie? Ek is stoksiel alleen in my lewe, en ek is self verantwoordelik om gelukkig te wees. Daar is nie iemand anders wat dit vir my gaan doen nie.

Indien die skottelgoed vuil en opgestapel is in my kop, dan is dit my verantwoordelikheid. Ek is die argitek van my eie kop-huisie. En is die pleisteraar wat toesien dat die huis mooi afgewerk is. Ek is die tuinier wat sorg dat die rantjies van my lewe mooi en netjies afgewerk is. Ek is die loodgieter wat toesien dat die pype skoon en ongeblokkeer is. Ek is die gasheer wat besluit wie ek in my lewe gaan innooi, en ek is ook die hoof van sekuriteit wat die wat skade aanrig en hulleself nie kan gedra nie, uitskop.

Ek is ook die berader wat my eie pyn moet verwerk, en ek is ook die dokter wat my eie wonde moet toewerk.

Ons skuif die verantwoordelikheid so maklik af op ander omdat dit die kollig op ander kan plaas. As die witsous vrot is, vat ek dit terug en ruil dit om. As mense om my nie hulle werk doen nie, steek ek hulle summier in die pad, en stel maar net 'n ander een aan. Ons los net eenvoudig 'n huweliksmaat, en gaan soek iemand anders om ons gelukkig te maak. Ons koop nie die dvd nie, ons leen dit net by Mr Video, en wanneer ek my gebruik daaruit gekry het, ruil ek dit in. So glo die nuwe spiritualiteit dat ek mense om my het wat my lesse leer, maar ek is klaar met jou wanneer ek my les by jou geleer het.

As ek nie self verantwoordelikheid neem nie, word ek 'n parasiet en verbruiker en misbruiker van mense en dinge om my.

Miskien het die tyd aangebreek dat ek en jy opstaan en self begin doen. Miskien moet jy self die witsous met liefde maak, self met jou kinders gaan sit en inkleur en verf. Miskien moet jy ophou om eksterne inplanttate te soek om jou beter oor jouself te laat voel. Miskien moet jy self jou hond vir 'n stappie neem en aan die blomme in die park gaan ruik.

Miskien moet jy 'n skepper word, en ophou verbruik. Miskien moet jy bele in dinge wat ewigheidwaarde het, en dit oppas. Miskien moet jy ook weet dat die God wat in jou leef, jou al die vaardighede en talente gegee het om alles self te kan doen in jou kophuisie en jou lewe.

Gaan werk dus lekker, asof net jy kan, en gaan glo in God asof jy nie kan nie, en vra vir genade en vaardighede om te kan!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, December 10, 2012

Cremora lewe

Dalk onthou julle nog die Cremora advertensie wat op televisie was, waar die man vir sy
vrou vra waar die Cremora is, en dan eindig dit met die woorde: "It is not inside, it's on
top".

Wanneer ek so om my na my eie lewe kyk en die mense om my, kom ek agter dat die
lewe eintlik so geword het. Vir ons het die dinge wat "on top" is belangriker geword as
dit wat binne ons aangaan. Ons beoordeel mense op grond van hoe hulle lyk, wat hulle
ry en waar hulle bly.

Dit laat my dink aan die verhaal in die Bybel oor Ragel en Lea en Jakob wat by hulle pa,
oom Laban, gaan woon het. Hy was so oorval met die skoonheid van Ragel, dat hy
bereid was om 7 jaar lank vir haar te werk. Die aand met die troue is hy baie ontsteld,
want die vrou wat hy gekry het was nie Ragel nie, maar haar sussie Lea. Hy het
ingestorm by oom Laban, want dit was nie die ooreenkoms nie. Laban vertel toe vir hom
dat dit hulle gebruik is om die oudste dogter eerste te laat trou, maar as hy 'n week nog
vir hom werk, dan kan hy ook met Ragel trou.

Van Lea lees ons nie baie nie, net dat sy sagte oë gehad het, en dat sy kinders kon kry,
waar Ragel weer baie mooi was, maar gesukkel het om swanger te raak. Ek dink dat
geen mens graag in Lea se skoene wou wees in die verhaal nie, want sy was soos 'n derde
wiel aan die wa. Ek kan net dink hoe hartseer sy moes gevoel het om te dink dat sy,
omdat sy nie so mooi is soos Ragel nie, minder werd is vir Jakob.

Min mense weet egter hoe die verhaal eindig. Op sy sterfbed verander die storie
heeltemal, want Jakob gee instruksie aan sy seuns om hom in die familiegraf te gaan
begrawe, waar Abraham en Sarah begrawe is. En in die familiegraf is Lea begrawe en hy
wil langs haar begrawe word. Ragel het gesterf toe sy vir Benjamin gebaar het, en Jakob
het haar langs die pad oppad Bethlehem toe begrawe.

Jy sien, ons maak ons kinders groot met die idée dat hulle moet van binne af buite toe
leef. Ons vertel vir mekaar by skoonheidskompetisies dat dit handel oor innerlike
skoonheid en nie uiterlike skoonheid nie. Ons spandeer ure en miljoene rande om ons
skoonheid te behou en te skep. Ons spandeer miljoene rande aan rente om die huise en
motors te koop.

Lea het die sagte oë gehad wat ewigheidswaarde het. Sy was heel moontlik die persoon
wat vir Jakob 'n sielsgenoot was. Sy was heel moontlik die persoon wat Jakob diep in sy
hart die liefste voor was. Wanneer ons hoor wat sy laaste wens was, kan 'n mens hierdie
afleiding maak, want mens wil graag begrawe word by jou geliefde.

Moet asseblief nou nie vandag dit so ernstig opneem dat jy nie eers stort voor jy werk toe
gaan of nie jou hare kam nie. Die beginsel is egter dat ons meer obsessief moet wees oor
wat in ons harte en denke gebeur. Ons moet mense om ons beoordeel vir wat in hulle
binneste gebeur, want dit is wat belangrik is. Ons moet ander aanspoor om te groei en te
ontwikkel wat werklik belangrik is. Ons gee maklik komplimente oor hoe mense lyk,
maar wanneer laas het jy iemand 'n kompliment gegee oor wie en wat mooi is in hulle
binneste?

Dalk sal die węreld 'n beter plek wees wanneer ons kan uitroep: "It's not on top, it's
inside"

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!