Monday, May 8, 2017

Opgee, Ingee en Oorgee!

Die Oosterse filosofieë en godsdienste het as n basis die idee om saam met die vloei van die lewe te gaan. Dit is ook in die Christelike geloof die Idee dat God in beheer is en dat ek en jy net moet glo en God moet vertrou. 

Mense stoei met hierdie idee, want ons verstaan tog dat ons besluite maak en aksies kan neem in ons lewens. Ons sê so graag dat ons die argitek van ons eie lewens is, en dat ons besluite die lewe vir ons skep of verwoes. As dinge nie reg loop nie, dan is dit n 'les'. Wanneer dinge uitwerk is dit genade. Mense strompel daagliks oor die gedagtes heen.

Vanoggend lees ek weer so 'n storie op Facebook, dat ons net moet los en vergeet en ons probleme voor God se voete moet los. Miskien is ons probleem dat ons dit nie doen nie, of dat ons geloof kleiner as n mosterdsaadjie is en dit die rede is hoekom ons nie berge versit nie.

Ek is in my wese gelowig, ek is nogal iemand wat so blindelings kan glo. Die mense om my ruk my baie kere terug na die realiteit en sê dat ek in 'n droomwêreld leef. Dit mag dalk waar wees as jy my lewe analiseer en oordeel ogv westerse materialistiese norme. Die teendeel is egter waar, ek voel nooit dat daar 'mislukking' oor my lewe geskryf staan nie.

Natuurlik staan ons soms in n doodloopstraat wat ons laat voel om op te gee en in te gee. Natuurlik is die lewe nie elke dag maanskyn en rose nie. Soms is dit so donker dat jy nie weet waar die volgende tree gaan land nie. Dit is die lewe, punt. Nie almal word genees van kanker nie en nie almal se dorings word verwyder nie.

Ek dink dat geloof in God nie daaroor gaan dat God dinge moet verander nie, dit is eerder dat God kan. Die onderskeid is belangrik, want wanneer ek God druk glo ek nie meer in n God wat almagtig is nie, maar in my beterweterigheid en selfsug. Ek glo eerder in 'n God wat n groter plan het met my lewe, en as n deur hier toegaan beteken dit dalk dat die tyd nie reg is nie, of dat dit n verkeerde deur is of dat God n ander deur vir my sal laat oopgaan.  Geloof beteken dat dit God se besluit is, nie myne nie. 

Beteken dit nou dat jy opgee en ingee, nee natuurlik nie. Dit het te doen met oorgee aan 'n God wat net die beste vir my soek. Maar wat is my plek in dit? Dit is die groot vraag. Ek lees so n ruk terug in die Joodse literatuur oor die 'Law of Attraction' en hoe mens dit uit die Joodse konsep moet sien. Die Rabbi redeneer dat alles vir God moontlik is, maar jy die voertuig is waarmee God dinge in die wêreld doen. Dit gaan dan meer oor die samewerking in die verhouding met God.

Soos in 'n aflos, soms gee jy die stokkie oor aan God en soms is dit jou been en kans. Dat God die hele resies vir jou kan hardloop is daar geen twyfel oor nie, God vertel ons mos dat as ons swak is Hy sterk sal wees vir ons part. So oorhandig jou probleme en drome aan Hom, met plesier. God vertel ons van sy genade vir ons, as n erkenning dat Hy weet ons eintlik gestremd is en nie alleen kan wen nie, so God sal jou kruk wees om aan vas te hou. 

So as jy vandag voel jy wil opgee, nee, die resies is nog nie klaar nie, dalk is dit goed om oor te gee aan God, en jou kragte op te bou. Dalk is dit juis n goeie tyd om God te vertrou om vir jou 'n volgende deur en been van jou lewe te wys. 

God kan alles, maar wees jy ook reg en wees jy ook die 'vessel' wat reg is om te ontvang en saam met God jou lewe te bou!


Sent from my iPhone

Tuesday, May 2, 2017

Bou 'n Boot

Niemand wil van die vloer af eet nie, nie net die bloubulle nie.

Ek staan weer vandag by een van daardie dae wat soos n doodloopstraat voel. Ek was al daar vele kere. Ek het al soveel keer gesien hoe mense se oë dood lyk, myne lyk vir my so as ek vandag in die spieel kyk. En so kyk ek in die spieel en dit is geensins soos n venster nie. Dit weerkaats net wat agter is. 

Wanneer jou ogies so dood lyk kyk jy outomaties terug op jou keuses en aksies of tekort daaraan wat jou hier gebring het. Jy kasty jouself en hoeveel grimering jy opsit, dis net sideshows. Jy dink aan waar jy is en hoe en wie saam verantwoordelik was vir die dood. Jy analiseer en kritiseer, dan probeer jy iets nuuts maar dit lei ook tot niks.

Dan erens in jou soeke sien jy jou Bybel op die bedkassie. Maar in jou arrogansie maak jy hom nie oop nie, want jy weet tog beter. Jy het mos deel geword of geraak van hulle wat arrogant teenoor die Bybel dink. Jy slaan hom met ongeloof oop, want jy wil nie fundamentalisties wees nie. Jy vergeet dat die God wat daarin van vertel word nie in letters en woorde vasgevang kan word nie. Wat vertel word is dalk effens wasig geskryf deur mense net so hinkepink soos ek en jy. Hulle wat ook met breek en seer te doen gehad het, wat ook maar net sulke dae soos vandag beleef het.

Hulle was ook bang en bevrees, hulle het ook gevra na die sin van hulle lewens. Hulle het ook gesoek na die goddelikheid in hulle en buite hulle. Hulle het ook van God verlate gevoel en hulle eie hel ervaar. Hulle is gekritiseer en uitgelag oor die bou van n boot op droee grond. 

Hulle het ook uitgeroep na God en Sy genade, en soms gevra hoekom hulle dit nie kry nie. Hulle is ook gestroop van als en gedink dat God hulle straf en dat God se hand vol toorn is. Hulle het altare gebou en offers gebring en soms geseën en soms nie. 

Hulle het ook soms gewonder of God daar is en of God nie dalk in ander denke te vinde is nie. Hulle het ook gesien hoe die arbeid van ander met prag en praal beloon word, selfs sonder geloof. Hulle het die glimlag gesien op gesigte van hulle wat buite die lyne hulle lewens verf. 

Hulle is ook deur ander uitgelag en gekritiseer oor hulle blindelingse geloof in God. Hulle het hulle geloof ook uitgedaag en God gesmeek. Soms het God uitkoms gegee en soms nie. Hulle was ook daar waar alles nie klopdisselboom geloop het nie, waar God siekte nie genees het nie. Hulle was soos ons, dalk net met minder tegnologie en arrogansie.

Hulle was ook desperaat, alleen en stukkend. Maar om een of andere rede het hulle nie gevalle gebly nie. Desperaatheid het nie die oorhand gekry nie, want erens het hulle besef dat jy eerder wil vashou aan n God wat nie alles vir die gee wat nie op die 'naughty list' is nie. Erens besef hulle dat genade genoeg is en dat die son weer môre gaan skyn.

In hulle soeke in die spiëel kyk hulle terug na die tye wat God sonder verdienste daar was en hulle uit slawerny bevry het. Hulle herinner hulleself aan 'n God wat kan, maar nie hoef nie. Hulle dink terug aan die God waaroor die woorde en verhale van die Bybel handel, fundamenteel of in beginsel. Hulle kyk verby die name wat in die verhale is en glo in die Een wat daar is, was en altyd sal wees. 

Hulle besef dan dat God nie net daar is wanneeer die lig aan is nie, maar ook in donker. Hulle wonder ook in hulleself in hulle swakhede en dink hulle kan nie n stem wees nie. Soos ons dink hulle dat sonder status en sukses hulle nie kan praat nie. Hulle het ook getwyfel in hulle roeping, want voor n Goliat is jy nie 100% dapper nie. Jy staan met krygers om jou gevul met twyfel in angs en bewing, en jy stry alleen. 

Hulle is ook uitgelag deur die vyand en afgemaak as vergeetlik, klein en onkapabel. In die spiëel sien hulle hulle tekortkominge, maar erens sien hulle iets raak. God is nie net die God van helde soos superheroes nie, Hy is daar vir almal. Die verhale in die Bybel boor deur woorde en letters om n prentjie te skets van krom stokke wat deur geloof reguit houe slaan. 

Erens kyk hulle terug in die spiëel en sien wat hulle wel het en ontvang het. In dankbaarheid val hulle ook skaam voor n God neer wat soveel reeds vir ons gee en doen. Dan besef hulle dat alhoewel jy geen niks anderkant die spiëel sien nie, jy in God bly glo wat wel anderkant kan sien. 

Wanneer jy vandag voel jy wil opgee, hou aan God vas, nie oor wat jy gaan ontvang nie, maar in die bou van die boot sonder die sien van die wolke. 


Sent from my iPhone