Monday, June 23, 2014

Is jy geprogrammeer vir God?

Op Universiteit het een van ons professore in Praktiese Teologie 'n boek met ons behandel, "The Skilled Helper".  In die eerste hoofstuk van hierdie boek se die skrywer, G Egan, dat die basis van enige problem wat mense in hulle lewens ondervind, 'n spirituele basis het.  Op daardie tyd in my lewe het ek nogal gesukkel met 'n klomp idees oor Godsdiens.  As jong teoloog was dit mos ons taak om te wonder en effens rebels om te gaan en nie sommer alles as soetkoek op te vreet nie.  Ek onthou dat ek met die Professor geredeneer het daaroor, want ek het gedink dat daar soveel ander dinge is wat die oorsaak van ons problem in die lewe is en kan wees, anders as net spiritueel.

Soos 'n mens ouer word en die lewe leef, kom ek agter dat ons stryd in ons eie ontwikkeling nie handel oor die bestaan van God, maar eerder oor die manier HOE ons ons godsdiens uitleef.  Dit gaan meer oor 'n wonder na HOE ons nader aan God kan beweeg en leef.  In Suid-Afrika voel baie mense dat die kerk, as gevolg van 'n sekere dogma, ons mislei het, veral in die tyd van apartheid.  Ek moet erken dat die kerk baie verander het, van 'n verdoemende eksklusiewe model, eerder na 'n liefdevolle en inkorporerende manier van dink. Soveel onafhanklike kerke het ontstaan wat wonderlik is, want dit wys ons dat elkeen van ons op soek is na 'n plek waar ons kan voel dat ons nader en beter aan hierdie God kan leef.

Daar is geen twyfel by my dat daar 'n God is nie.  Net omdat ek "HOM" nie kan verstaan nie, weet ek dat God daar is.  Ek sit net soos jy saam met soveel skrywers in die Bybel en wonder soms oor God se plan, pad en manier in ons lewens, waarvoor niemand werklik 'n antwoord het nie. 

Gister lees ek weer die studies van die Neuroteologie, waar navorsers soos Andrew Newman en Eugene d'Aquili, sekere breinskanderings doen en die verandering in die breinaktiwiteite van mense optel, die oomblik wat hulle besig is met gebed of meditasie.  Wat dit vir my beteken is dat daar wel in ons elkeen 'n skakelaar in ons brein is wat 'n stroombaan verbind met die goddelikheid in ons, en saam met ons.  Ons verander outomaties en daar is ook tekens en bewyse dat ons gemoedstoestand en ons denke en selfs ons depressie kan verminder wanneer ons die skakelaar aanskakel.

Ek sal nie se dat ek die antwoord het nie, nooit ooit nie.  Dit laat my dink aan die ongelooflike vers in die Bybel wat se dat ons eers die Koningkryk van God moet soek, en alles ons bygevoeg sal word.  Miskien was Egan dus tog reg in sy eerste hoofstuk van sy boek.  Dalk is ons probleem juis dit dat ons die oplossings vir ons probleme en lewens soek op die prioriteitslys verkeerd is.  Ons soek geluk, vrede, harmonie en genade juis op die plekke waar dit nie is nie. 

Van die gelukkigste mense wat ek ken, is gelowiges, maak nie saak of hulle dogma ooreenstem met myne nie.  Die probleem lyk my wanneer ons die baba met die badwater uitgooi en wanneer ons ophou soek na die koppeling met God.  Wanneer ons nie die skakelaar in ons brein aanskakel en soek na God nie.  Dit is 'n bekering, ja, maar nie 'n bekering in die alledaagse erkenning van bekering nie.  Dit is eerder 'n bewussyn dat ek nie sonder God kan leef nie.  Dit is 'n bewussyn dat ek net die lewe kan leef wanneer ek NA God toe leef, eerder as verder van Hom af.

Daar is dus altyd net een skakelaar in jou brein wat aangeskakel moet wees, en dit is die soeke na God en om meer en meer in God, deur God en na God toe te leef.  Dit is makliker gedaan as gese, want God maak dit maklik.  Studies toon dat dit vir jou moontlik is.  Dalk soek jy op 'n ander manier na God, wat geen fout is nie, solank jy net soek daarna en daarmee besig is.  As dit kernfisika was, sou net die slim mense God kon vind, maar deur die eeue het mense besef dat hulle God kan vind in 'n blommetjie, in 'n boom, in die sing van 'n duif, in die reuk van reen wat op grond val.  Jy het nie nodig om God te soek net in die supernatuurlike nie, maar God is te vinde orals in jou en om jou.

Wat wel saakmaak is dat jy dit raaksien en jou ingesteldheid moet wees teenoor God, of Universe of die energie.  Wat dit eintlik beteken uit die woorde van Egan, is dat daar in elke probleem in jou lewe, die kortsluiting veroorsaak word wanneer jou ingesteldheid nie op God is nie.  Natuurlik is daar baie filosofie oor norme en waardes en verwagtinge en wat ons geleer het reg en verkeerd is.  Natuurlik sal die waardes en wat ons glo verskil van een persoon tot 'n ander, wat natuurlik lei tot ons oordeel oor ander en hulle gedrag.  Daarop sal ons nie nou ingaan nie, maar miskien sal ons oordeel, oorlog, woede en baklei weggaan, wanneer ons die genade van God ervaar en ingeskakel is in die energie daarvan.

Dwarsdeur die Bybel hoor ons stories van mense wat sukkel met hulle beeld van wat met hulle gebeur, maar eintlik is die verhale in die Bybel vir ons elkeen 'n bewys van hoe die lewe wonderlik kan wees wanneer jy hierdie Goddelikheid ontdek en uitleef, op jou eie manier, maar in die wete dat jy dit nodig het.  Daarsonder sal niks in jou lewe ooit die moeite werd wees nie, sal alles vir jou 'n uitdaging wees wanneer jy buite die matriks wil leef.

Ons maak baie foute in ons lewens en ons neem verkeerde besluite.  Soms voel dit asof ons onsself aan ons skoenveters moet optel, of ons voel dat dit God se straf op ons lewens is.  Eintlik al wat ons moet soek, eenvoudig, is die skakel met die energie van God.  Leef in God, Leef deur God en Leef nader aan God - dit is ons enigste doel op aarde.  Wat ookal dan gebeur, is in die hande van die groter mag, maar jy sal dit ook kan hanteer, want jy is deel van Sy stroombaan.


Sunday, June 15, 2014

Aanvaar in liefde

Om regop te bly elke dag is nooit maklik nie. Elke dag het sy uitdagings, vrese, skuldgevoelens, drama, en allerhande dinge wat nie uitwerk nie.

Ons is elke dag malend in ons koppe besig met die dinge. Ons is daagliks besig om te beoordeel, veroordeel en onsself te verbeter. Ons word daagliks gemeet en te lig bevind. Ons spieel onsself in die idee van wie ons dink ons moet wees, en dit is die ergste oordeel oor jouself.

Ek luister vanoggend n wonderlike praatjie van Dr John DeMartini. Dit handel oor die manier hoe ons na die lewe moet kyk, en het my so geinspireer, weereens saam met my studie oor prediker. DeMartini stel dit dat ons in die eerste plek deel van n groter plan is. Elke stukkie van ons en buite ons is deel van daardie plan. Deur aanvaarding daarvan besef ons dat oordeel weggaan, wanneer ons besef dat elke mens en situasie plek het, kom daar vrede. Ons hou op om die vraag te vra, hoekom? Ons leef in geloof, maar eers as ek dit aanvaar, dan eers kan ek die les leer. Ek waardeer die persoonlikhede om my as lesse, nie gevare nie. Ek leer en besef om saam met mense te leef, eerder as teen hulle. In daardie les, omarm ek ander, leer by hulle, sonder om hulle te verander. Jy kan slegs die wereld verander deur jouself te verander, en wat n beter les as deur mense wat "verskil" van ons alledaagse.

Hierdie aanvaarding bring vrede. Soms veg ons so teen die stroom van God dat ons uitgeput niks mooi kan ervaar meer nie. Ons kry in die lewe wat ons soek. As jy fout soek, sal jy vind, en naderhand is daar niemand meer oor nie. En die vreemde daarvan, jy sit later net in jouself, dan begin die skuld en dramas in jouself. Wat ook gebeur is dat jy niks groei nie, en jouself begin uitmekaar skeur.

So moet jy ook jouself aanvaar, want sonder dit, sal jy nooit kan leef nie. En die beste van alles, die foute wat ons in ander sien, pla jou, dit is jou issues. Maar om dit in hulle te wil verander, doen niks vir die oplos van die situasie in jou nie. Dit is altyd jou uitdaging, jou drama en jou reis. Jy kan mense net help in liefde en aanvaarding, en deur hulle toe te laat om hulleself te wees, dan maak hulle oop en word jou leermeester.

Vandag, op hierdie dag van familie is dalk n goeie dag om te aanvaar, lief te he en mense toe te laat om te kan leef. Dalk is dit n dag om op te hou om verwurgend met oordeel mense se asem te steel, en hulle die vryheid wat God hulle gegee het uit te leef.

Laat God vandag toe om God te wees, deur Sy kinders toe te laat om self God se pad te vind wat Hy vir hulle geskep het.

Vergeet vandag die roosterbrood wat iemand gebrand het en omarm die liefde waarmee dit gemaak is!

Sent from my iPhone

Sunday, June 8, 2014

Waarheid

Een van my vriende se: "die waarheid het nie n eienaar nie". Dit laat my toe dink aan sekere woorde wat ons gebruik, dinge soos waarheid, leuens, realiteit, drome, ideale ens. Ek lees baie artikels oor die sg "law of attraction". Ek dink as jy my blogs gereeld lees, sal jy vind dat ek baie stoei met die konsep, maar ek probeer.

Wat ek die meeste mee sukkel, is die idee van realiteit. Hierdie nuwe generasie idees vertel ons dat jy die wereld om jou kan verander deur jou denke. Dit gee ons ook die idee dat as jy iets wil doen of bereik, dwing jou gedagtes in daardie rigting en dink asof jy dit reeds beteik het. Is dit die waarheid in die werklike sin van die woord of is dit eerder n leuen wat jy jou sisteem voer? Dit sou mos baie lekker gewees het as jou bankbestuurder tevrede was om vir jou geld te leen op grond van jou houding, en dat die Universe sal provide. Dit se ook dat jou gedagtes nie kan onderskei tussen denke nie, maw as jy reeds iets gedink het, of dit nou realisties is of nie, werklik of droom is, waarheid of leuen is, jou denke verander jou realiteit. Dit is asof jy n "leuen" in realiteit kan omdraai deur jou ingesteldheid en denke.

Dit is ook interresant dat die Bybel ons leer oor sonde, dat wanneer jy iets dink, nog nie eers gedoen het nie dieselfde is, asof jy dit reeds gedoen het. Iemand lewer nou die dag daarop kommentaar en se ook dat die Bybel vertel dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste in die lug.

Ervaar jy dit nie ook dat jou denke, insluitend drome en ideale, jou grootste vyand is nie? As ons leer van die gelykenis van die mosterdsaadjie, word daar gese dat as ons geloof so groot soos die saadjie het, ons berge kan versit.

Geloof word soms volgens my verwar met godsdiens. Ons mag mos "glo" dat God ons lewens kan verbeter. Ons mag tog dink dat ons alles kan vermag. Miskien ook dat wanneer ons glo ons nie kan nie, ons nie sal nie. Amper die idee dat "what you settle for is the best you are going to get".

Miskien is dit wat ons weerhou van die drome en ideale nie noodwendig die bose met horings en vuur nie, maar eerder die teenoorgestelde van geloof, naamlik ongeloof. Ons leef in n wereld vol "ongelowiges" wat ons telkemale herinner aan die feit dat "geloof" geen plek het nie. Telkemale word ons vasgemaak en teruggetrek deur die "realiteit", van die lewe vandag. Ons geloof word verskraal deur dat ons nie meer glo en droom nie. Van daar dalk ons afsak in n bodemlose put van "opgee" dat ons asemdiewe word.

Toegegee, ek is n dromer en ek glo. Mense om my kyk na my realiteit en kan nie dink dat ek positief kan bly nie. Soms sukkel ek maar, maar as ek terugkyk op my lewe, besef ek dat daar soveel wonderlike dinge in my lewe gebeur. Ek kyk na kunstenaars om my wat trauma deurgegaan het vir n periode in hulle lewens, maar juis daardie pyn en drama het hulle voorberei vir hulle a-ha periode van briljansie.

Maar hoe hanteer jy daardie tydperke in jou lewe wat jy voel jy gaan agteruit? Daar is natuurlik baie antwoorde, en een is baie interresant. Ek glo dit is altyd n geleentheid om te leer. Ons dink soms dat dit toetse vir daardie geloof is, en glo my, daar is meer ongelowige mense wat die realiteit eerder glo as die droom. Mense wat jou lewe net judge ogv huidige vorm, nie volgens wie jy werklik is nie. Mense wat se idee van jou gevul is met jou mislukkings en jou sodoende oordeel.

Die Bybel is vol mense met "geloof" en n boodskap of droom in hulle harte. Mense soos Noag wat gespot en uitgekryt is as mal en wensdenkers. Wat nou gebeur het as hy ingegee het aan die spot en druk van die gemeenskap? Moses wat voor die Rooi See gestaan het en die waters laat oopgaan het. Wat by die klip gestaan het en met sy staf water daaruit laat kom het?

Dalk is ons wereld in so n toestand, want ons laat nie toe dat God, soos in die woorde van Romeine, ons Denke verander sodat ons Sy wil vir ons lewens kan bereik nie. Dalk is daardie kunstenaars "writersblock" dalk presies wat jy nodig het. Dalk is dit jou tyd in die woestyn wat juis nodig is dat jy jou Kanaan kan bereik.

Tweedens leer ons in sulke tye om ons oog op die Kanaan te hou. Natuurlik het die Israeliete moed verloor, vreemde dinge begin doen, geloof verloor en swaargekry. Maar in die woestyn het hulle nie hulle neuse vir die kwartels of manna opgetrek nie. Soms doen ons dit, om in tye soos die net te fokus op Kanaan, en neus op te trek vir wat ons het.

Moenie in tye van woestynlewe vergeet van die mense wat saam met jou trek nie. Dis dalk nie jou koppie tee nie, maar elkeen het n bydra te lewer. Heel moontlik gebruik God juis mense om jou denke te verander en jou beter te maak. Daar in die woestyn word jy op reis gedwing saam met mense wat nie altyd jou keuse is nie, moenie dit resist nie, leer by hulle.

Die lewe gaan oor mense. Nou die dag lees ek n oulike spreekwoord, "God created people in his own image, to know God is to search for him in other people". Elke mens is God se skepping, dalk moet ons ophou oordeel, daarmee verarm jy jouself. Hou op soek na maniere om hulle te oordeel, eerder na maniere om hulle lief te he.

Laastens, miskien moet ons nie so veroordelend op onsself wees nie. Dis dalk juis hoekom jy in die woestyn is, om dalk God se liefde en genade vir jouself te ontdek. Dalk is dit die werklike "law of attraction", om weer lief te word vir jouself. Dalk moet jy die oordeel en die verwyte en spyte en mislukkings vergeet. Dalk is dit hoe jou lewe gaan verbeter. Hou op oordeel oor jouself, hou op om te dink dat geluk eers gaan kom wanneer jy in Kanaan kom.

God is volmaak, Hy lei jou op paaie waar nie kaarte voor is nie. As God se dat ons eers die koningkryk van God moet soek, en alles dan sal kry wat ons harte begeer, dan is dit beslis die liefde. Wees eers lief vir jouself, hou op oordeel, beoefen genade op jouself en die mense om jou, en gaan leef.

Die Bybel is deurspek met voorbeelde waar God krom stokke gebruik om reguit houe te slaan. Maar hulle sukses kom deur geloof, nie deur perfek te wees nie. Slaan jou hou, en glo dat God die "realistiese" uitkoms van jou hou, met Goddelile mag in wonderwerke kan verander.

Moenie nou net voluit gaan leef nie, maar gaan glo voluit en in die liefde! Dis wanneer jy in die waarheid gaan leef, sonder dit is jou lewe n leuen!

Sent from my iPhone