Thursday, May 5, 2016

Van om alles te verloor en te wen

Ek het in 'n huis grootgeword, en ek kan nooit werklik vir mense se of ek gelukkig was of ongelukkig nie, want dit was maar hoe dit was.  Aan die een kant het ek 'n ma gehad wat alles aanmekaar gehou het.  Sy het my probeer weghou van al die slegte dinge wat daar gebeur het, so ek was beskermd, maar hoe sy ookal probeer het,  ek kon nie ontsnap van die realiteite wat in ons lewens gebeur het nie.  Dus, om eerlik te wees, was enige mate van geluk in die huishouding maar net 'n illusie.  My pa en ma het hulle eie stryd in hulle lewens gelei, my ma was hoogs gekwalifiseerd en sy het geveg teen 'n sisteem waar sy altyd hard gewerk het, maar omdat sy 'n vrou is, was daar 'n plafon waar sy nie kon deurbreek nie.  My pa het in 'n huis grootgeword waar sy pa 'n alkoholis was, en hy moes St 7 uit die skool gaan om op die spoorweg te gaan werk.  Ek dink dit het hom gebreek, want hy het altyd ook teen agterstand baklei, want nooit die lewe gehad wat hy vir homself gesien het nie.  Hy het begin om te drink om die agterstand korter te laat voel, maar in die proses al hoe verder agter geraak.


Ek het nooit die werklike impak van hierdie gebeure verstaan nie, want ek het gedink 'n mens cope maar net met die lewe.  Ek het ook nooit werklik gedink dat mens iets verdien nie, want in hulle probeer het ek besef dat die lewe elke dag net 'n opdraende stryd is en sal wees.  Die vibrasie in my lewe was baie laag, en al waar ek uit sulke dinge kon kom, was deur prestasie.  Ek het redelik goed op skool gedoen, al die dinge wat ek aan kon deelneem het ek, maar nooit werklik besef dat ek maar 'n groot vissie in 'n kleiner dammetjie was nie.  Vir my ontwikkeling as mens het dit baie goed gedoen, maar in essensie het dit maar net korte duur gehad, want telkemale word jy maar teruggeruk na jou omstandighede.  EK HET GEVOEL ASOF DIT NIE DIE LEWE IS WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


Toe kom die groot besluit oor wat ek met my lewe gaan doen.  Ek was altyd gelowig, want dit was die regte ding om te doen.  Ek het kerk toe gegaan, maar meerendeels omdat my ouers in die kerk was.  Ek het my hart vir die Here gegee op 'n konferensie van Rhema, al was ons in die NG Kerk, en ja, ek het belydenis van geloof afgele.  'n Groot inspirasie in my lewe was my oom wat dominee in Nederland was, en alhoewel ek getoets was om eerder Regte te gaan swot, en alhoewel ek van altyd af wou Argitektuur doen, besluit ek om dominee te word.  Ek het gedink en geglo dat dit my roeping is.  Ek onthou die eerste dag op Tukkies toe ons gevra word rondom ons roeping, was dit vir my 'n moeilike antwoord om te gee.  Al wat ek aan kon dink is dat ek al die talente het om dominee te wees, maar daar was altyd iets van 'n gemis en 'n hunkering in my.


Op Universiteit het ek weereens aan vele organisasies behoort, Perdeby, Radio Tuks, Joolkomitee en Studenteraad.  Dit was heerlik, want dit het my 'n klomp ervarings gegee.  Weereens het ek nie gevoel asof dit die lewe is van wie ek werklik is en verdien om te wees nie.  Maar dit was net asof dinge net met my gebeur, die een ding het die ander geroep en kort voor lank was 7 jaar van my lewe in 'n oogwink verby.  Ek het genadiglik deur die proses gegaan en toe wel my studies as dominee voltooi,  MAAR EK HET GEVOEL ASOF DIT NIE DIE LEWE IS WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


In daardie tyd was poste maar skaars in die kerk, en ek het vir alles wat bewe aansoek gedoen.  Toe kry ek 'n pos in Pierre van Ryneveld NG gemeente in Pretoria.  Ek was baie bevoorregd, want bitter min jong ouens kry 'n pos in Pretoria.  Ek kan onthou hoe 'n groot skok dit op my sisteem was om skielik hierdie groot verantwoordelikheid te dra.  Ek kom nou net uit die Universiteit, ek is 'n joler en nou moet ek skielik en baie vinnig groot word.  Ek het vreemd gevoel, want skielik moet ek tussen gesinne en ou mense funksioneer.  Skielik voel dit weer asof dinge net MET my gebeur.  En na 'n paar jaar het ek ook gevoel DIT IS NIE DIE LEWE WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


In daardie tyd kom Liberty Life oor my lewe, en ek word genader om polisse te gaan verkoop.  Ek was verbaas oor hoe aangenaam dit vir my gevoel het, en dit was baie belonend vir my.  In my eerste maand het ek meer geld verdien as 'n hele jaar as dominee.  Hierdie eksterne faktor het my onder die illusie geplaas dat dit dalk is wat my lewe bedoel het om te wees.  Vir 'n hele paar jaar het ek myself uitgeleef en dit het baie goed met my gegaan, so goed dat ek verder gaan studeer het in die finansies, omdat ek gedink het dat dit is wat my lewe bedoel is om te wees.  Maar ek het steeds gevoel dat daar iets is wat ek mis, een dingetjie wat my keer om werklik gelukkig te wees, want nie die huis, of die motors het my geluk gebring nie.


In hierdie tyd en in hierdie omstandighede gaan ek toe ook deur 'n egskeiding.  Dit was die grootste skok en pyn van my lewe ooit.  En hier begin die grootste stryd in my lewe wat ek vandag nog nie werklik mee klaar is nie.  Die mat is heeltemal onder my voete uitgeruk, en ek verloor totaal en al enige trots in my.  Ek het gedink dat my lewe op daardie stadium uitgesorteer was, ek het vrede gemaak met 'n klomp dinge, maar blykbaar nie.  Ek het, soos die sielkundiges dit sal noem, my interne motivering verloor.  Ek dink selfs daar het ek ook my geloof begin verloor en ek was soos 'n pelgrim sonder 'n land.  Selfs nou kan ek nie in woorde omskakel wat werklik in my hart gebeur het nie. 


Met hierdie mistroostigheid in my hart, maak ek toe een van die slegste besluite in my lewe.  Ek maak groot besluite, om daardeur te probeer om die minderwaardigheid teen te werk.  Ek besluit om groot te gaan.  Moenie 'n fout maak nie, ek het steeds elke oomblik geglo dat ek dit kan doen.  In hierdie tyd ontmoet ek iemand en kort voor lank het ek nog 2 pragtige dogtertjies in my lewe by gekry, saam met my 2 fantastiese seuns.  Hoe pragtig hulle ook was, ek kon net nie die skakelaar van my lewe weer aanskakel nie.  Ek het gejaag en gejaag, maar toe loop sake skeef en ek verloor alles finansieel in my lewe.  Ek verloor ook die verhouding en staan weer op my eie.


So gebeur die dinge, en my selfvertroue is weer geknou.  Weereens sit ek op moedverloor se vlakte, en word verder verneder om weereens by my ma te gaan intrek.  Dankie aan my ma wat daar was vir my in daardie tyd.  Daar sit ek, terug waar alles begin het 20 jaar gelede, en ironies genoeg ry ek ook weer met my studentemotor wat ook tot die skaamte bygedra het.  Ek dink in daardie tyd baie oor my lewe, verhoudings en my toekoms.  Ek skryf steeds versekering, maar die mistroostigheid in myself vryf af op kliente, en selfs nog voor ek by iemand instap, dink ek al dat hulle nie met my gaan wil besigheid doen nie.  En elke NEE oor die foon en elke polis wat nie geskryf word nie, dra daagliks by tot 'n gevoel van waardeloosheid.


Die enigste opkikkering in my lewe is dat my kiinders elke oomblik lag wanneer hulle my sien en my regop hou.  Ek onthou hoe ek nie kon glo dat een van hulle my vra om 'n speech vir hulle te skryf, waar hy moes praat oor 'n Superhero, en gese dat ek sy superhero is.  Ek het in trane uitgebars en in 'n bondeltjie op die bed gaan le, want ek het nie so gevoel of gedink nie.  Vir my was ek en my hele bestaan nog altyd een groot gemors, met opkikkerings tussenin.  Ek het my frustrasies en my soeke in 'n blog gaan neerskryf in die hoop dat erens die lig finaal vir my sal opgaan en die skakelaar aangeskakel sal word.


Ek het orals gaan soek, in die Bybel wat ek nie op daardie stadium vertrou het nie, want ek het erens tog gedink en gevoel dat God die oorsaak van die ongeluk was.  Ek het gevoel dat ek nog altyd probeer het om vir mense die beste te gee, maar niks in ruil ontvang nie.  Ek het in die New Age en Oosterse godsdienste gaan soek na antwoorde.  Ek het gemanifesteer en alles gedoen om my vibrasies te verhoog, maar sonder sukses.  Mense om my kon egter nie glo dat ek regop gebly het nie, en ek self ook nie eintlik nie.  Mense kon nie glo as ek vir hulle vertel waardeur ek gegaan het, dat ek steeds altyd na die druppeltjie soek in die lee glas nie, en altyd positief bly glo het en geleef het nie. 


Vandag nog, en elke dag word daar op my neergekyk deur mense wat nooit sal verstaan nie.  Elke dag word ek verneder en sekere dinge toegesnou wat ek nie dink ek verdien nie.  Mense dink ek is sleg, en ek kan nie van hulle verwag om dit anders te sien nie, alhoewel ek ook nie dink dit is die lewe wat ek verdien nie.  Dit mag vir jou klink asof ek myself baie jammer kry, maar dit is nie waaroor hierdie stuk gaan, en nog minder as 'n uitroep tot vergiffenis en dat ander my moet jammer kry nie. 


Die stuk gaan oor die volgende, en dit is wat soos 'n goue draad deur my lewe loop en wat ek elke dag mis gekyk het.  So 'n paar maande gelede het daar weer 'n terugslag en 'n opbreek my getref, en ek het op die einde van die dag, deur God se genade, slegs een uitweg gehad.  Ek het een aand op my bed gele, en so gedink aan al die ervarings in my lewe.  Ek maak my Bybel oop en ek lees die gedeelte waar Paulus vir God vra om die doring uit sy vlees te haal, net soos wat ek hunker na die lewe wat ek dink ek verdien.  En God se antwoord was dat daar net een ding in die lewe is wat ons op aanspraak kan maak, en dit is God se genade.  Ek het besef dat ek, soos ek hier bo beskryf, op vele kere en plekke was waar ek gevoel het dat God dit moet wegneem en dat die bloed moet ophou vloei, maar God het nie.  God het wel vir my die laaste 6 weke iets wonderbaarliks laat gebeur, God het mense teruggebring in my lewe, en God het vir my ander mense gestuur waaroor ek ongelooflik dankbaar is.


Ek het begin om weer in volle vertroue in God te leef, in die wete dat my lewe in Sy hande is.  Van dat ek dit begin doen het, het 'n klomp dinge in my lewe in plek geval, maar die bose hou mos nie daarvan nie.  Die bose sal alles doen om jou te kry op 'n plek waar jy in 'n bondeltjie gaan le en jou hande in die lug gooi en oorgee.  Wat al hierdie ervarings my by uitgebring het is daarom 2 dinge, die eerste is dat dit nooit saak maak wat ander van jou dink nie, sien jouself hoe God jou sien, as Sy kind vir wie Hy die beste soek.  Tweedens, in daardie wete, vertrou op God vir alles elke dag, en leef in dankbaarheid vir die kleiinste dingetjie.  Ek moes leer om dankbaar te wees vir die R5 in my sak waarmee ek lugtyd kon koop om iemand te bel.  So, hierdie stuk is nie vandag gerig om 'n klaaglied te wees nie, dit is gerig as 'n geloofsbelydenis waarin ek vir God dankbaar is vir al die dinge wat wel met my gebeur het.


Waar ek in my lewe die hele tyd gevoel het dat DIT NIE DIE LEWE IS WAT EK DINK EK VERDIEN NIE, het my lewe oorgeskakel na 'n wete dat, te midde van wat gebeur, God 'n plan daarmee het.  Ek dank God vir alles wat ek het, en alhoewel ek baie kere op moedverloor se vlakte gesit het en nie geweet het of daar 'n uitkoms is nie, was dit nie die einde van die reis en hoofstuk nie.  Ek skryf hierdie in die middel van die nag, en alhoewel ek gekwel voel oor more, gee ek alles in God se hand, en wanneer ek opstaan uit die bed, sal ek my kop optel, opkyk, want dit is alles net genade!