Thursday, June 9, 2016

Vir God is meer as Alles moontlik!

Oor die afgelope tyd skryf en dink en leef ek baie oor en in volle vertroue in God. Vir lank het ek op my eie krag staatgemaak, en vir lank op prinse en mense om my vertrou vir dinge.


Ek leef vandag in dankbaarheid vir alles wat God aan my gee en vir my doen, maar soms, menslik, twyfel 'n mens maar. Ons voel baie keer skuldig oor twyfel, en vanoggend word ek tot stilstand geroep en dink aan die verhaal van Gideon in Rigters 6. Die verhaal daar gaan oor Gideon se mense wat onder geweldige druk is, ekonomies, emosioneel, godsdienstig en ook wat hulle kultuur en voortbestaan as volk betref.


Gideon kry kontak met die boodskapper van God en elke keer twyfel hy oor die opdragte en die rigting wat hy in gestuur word. Elke keer vra hy 'n teken om hom te laat oortuig dat die boodskap werklik van God self kom en nie die bose is wat hom aanval nie. En, elke keer kry hy 'n positiewe bewys, maar steeds twyfel hy. Ek is net so menslik soos jy, en een van die dinge wat ek uit hierdie verhaal leer is dat God ook ons menslikheid ken en ongelooflik geduldig met ons is, selfs in ons twyfel in Hom en in dinge wat met ons gebeur.


Verder lees ons ook in die verhaal dat die volk en mense om hom baie praat oor dinge van die verlede en hoe goed God wel vir hulle WAS, maar hulle voel nie die hand van die Here in hierdie omstandighede waarin hulle hulle bevind nie. Ek en jy doen ook maar dieselfde deur telkemale wanneer dinge nie met ons goed gaan nie, of ons stress, tog maar terug te dink aan die plekke en tye waar God wel vir ons wonderwerke laat gebeur het. Ek dink veral ook terug aan my dae op Universiteit waar ek absoluut niks van die Grieks verstaan het nie, en tog deur gebed deurgekom het, al het ek dit dalk nie eers verdien nie. Ek besef wel dat daar ongelooflik baie geleenthede elke dag is waar God dieselfde doen vir my en mense om my. Maar, alhoewel dit so is, is ons mense maar altyd ingestel op die hede en gefokus op die realiteit van elke dag, en wanneer dinge vir ons mistroostig lyk, dan twyfel ons vinnig, word depressief en pessimisties. Weereens, God is geduldig met hierdie gevoelens en straf ons nie daarvoor nie, inteendeel is dit juis hoekom EK God soos hy in die Bybel vir ons geskets word aanbid.


Die boodskap wat dwarsdeur die Bybel voorkom is dat God 'n God van genade is, selfs 'n God wat sorg en wonderwerke laat gebeur vir almal wat geskape is, selfs as hulle in Hom twyfel of selfs wanneer hulle nie in Hom glo nie. Dit is tog die hoof boodskap van die Bybel en die hele kern van Jesus, wat vir mense wat hulleself nie aan hulle skoenveters kan optel nie, ophef en lewe gee. So is die Bybel vol verhale van gewone mense, mense soos Abraham, Isak, Jakob, Noag, Gideon en vele meer wat vol foute was, vol twyfel en ook nie altyd 100% gehoorsaam aan God soos wat ons dink nie. Hulle het hierdie God van hulle ook maar soms getoets, net soos Gideon in die verhaal in Rigters 6, om 'n velletjie wol in die parskuip te sit en die een aand vir God vra om dit droog te hou terwyl die grond rondom dit nat is. Die volgende aand toets hy weer en vra dat die velletjie die keer nat moet wees en die grond droog. So het dit gebeur, net om te bevestig vir Gideon dat die hele situasie nie toeval is nie.


Ons voel soms skuldig om die Here so te toets, want ons is baie bang dat God ons gaan straf. Hierdie verhaal leer my om ook te mag vra oor die lewe en God se plan daarin. Dit motiveer my om weereens te besef dat God van die verlede wat wonderwerke gedoen het, dit vandag steeds doen, selfs al sien ek dit nie. Dit is baie maklik om in God te glo wanneer die wonderwerk plaasgevind het, maar moeilik as dit vir jou voel asof dit nie gaan gebeur nie. Die Bybel leer ons self dat as ons net die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons sou kon berge versit. Maar, selfs al het ons dit nie, God is en bly in beheer, en God sal nie die vertroue wat ons in Hom stel ooit laat ongesiens verbygaan of ons nie verhoor nie.


Wanneer ek twyfel, stress en slapelose nagte ondervind, bly dit belangrik om te verstaan dat God, alhoewel ons Hom met alles in ons vertrou, verstaan dat die realiteite van die lewe ons soms onderkry. God verstaan waardeur elkeen van ons gaan, God verwag nie van ons om perfek te wees of te glo of te vertrou voordat Hy ons Seen nie. Ek dink ook nie dat God so met opset ons geloof eers toets voordat Hy vir ons uitkoms gee nie. Die God wat ek aanbid is 'n genadige God, 'n liefdevolle Vader wat nie met opset ons lewens ondraaglik maak of wil maak nie. So, selfs in ons wankelagtige geloof, ons onsekerhede van elke dag, ons vrese vir more of omstandighede, doen en bly God steeds getrou. Iemand het een keer gese, en ek sal dit nooit vergeet nie, "God het my en jou en ons geloof nie nodig sodat Hy God kan wees nie". Dankie tog, stel jouself voor wat van elkeen van ons sou geword het as ons net eenvoudig uitgelewer was aan mekaar? Indien my en jou geloof nodig was om God se Almag te bewys, sou dit maar 'n baie tekortkomende scenario tot gevolg gehad het.


Daar is egter wel nog iets anders wat ons uit hierdie verhaal leer van Gideon, en dit is dat God ons anders sien as wat ons onsself sien. Gideon het self gese dat hy nie vir Israel kan red nie, want hy is nie 'n gesiene man uit 'n gesiene familie nie en minderwaardig is. Soms verstaan ons nie, en selfs vandag lei ons aan hierdie minderwaardigheid teenoor ander mense, en ons dink nie dat God ons kan gebruik nie. Weereens, vir God om in jou, deur jou en vir jou te werk, het jy nie nodig om "asemrowend" te wees nie. God gebruik dwarsdeur die Bybel mense wat platgeslaan, klein en in die oe van mense nikswerd is nie. So, al voel jy so oor jouself, al leef jy in depressie en armoede, God sien elke dag jou potensiaal raak, en God slaan van die begin van alle tye reguit houe met krom stokke. Wat 'n verligting is dit nie vir ellkeen van ons nie, selfs vir my op hierdie dag wat ek so stress.


Nog 'n boodskap vir ons almal is dat God konstant is, dieselfde God wat die volk uit Egipte bevry het, is dieselfde God wat die wol laat nat word het, en Hy is vandag steeds dieselfde. Hy is dieselfde God wat jou by die naam geroep het, en wat nie 'n haar van die kop sal laat val sonder dat dit Sy wil is nie. Ek dink dat hierdie feit alleen, ons elkeen van ons twyfel en ongeloof behoort te genees en op jou kniee moet laat val uit danbaarheid. Ek dink een van ons grootste probleme is die limiete wat ons denke oor God en wat God alles kan doen op ons plaas. Ons redeneer oor God, net soos wat ek hier doen, maar geen woorde of beelde of verhale sal ooit genoeg wees om God vas te vang nie, anders is Hy mos nie meer God nie. Hierdie God is so groot, dat selfs om te se dat alles vir Hom moontlik is, limiete plaas op Sy Goddelikheid.


Dalk is die laaste idee uit die stuk die belangrikste, en dit is dat JOU plan oor JOU gaan, en van die verhale wat ons lees, het mense 'n rol gespeel in die GROTER prentjie en wil van God. Soms is ons so gefokus op jou situasie NOU en JOU behoefte, eerder as om te vra wat jou plek en rol in die verhaal is. Gisteraand kon ek nie slaap nie, en vanoggend toe ek opstaan kom hierdie idees waaroor ek vandag skryf by my op. Vir hierdie paar minute wat ek hierdie skryf, is die fokus nie op my en my krisis nie, maar afgelei tot die rol wat ek hoop hierdie stuk vandag in jou lewe en in God se groter prentjie speel. Miskien moet ons ook begin om meer en meer mense in te lig en te vertel oor die wonderlike dinge wat God met ons laat gebeur.


Vir die afgelope klompie maande skryf en dink ek tog baie oor my vertroue in God, wat ek dalk verkeerd doen dat God nie vir my alles gee wat ek vra op die tyd nie. In hierdie tyd, veral omdat ek in my lewe pandora se boksie oopgemaak het rondom vertroue, word hierdie vertroue getoets, oor en oor. Dit word getoets deur mense wat nie dieselfde glo nie, omstandighede en soms ook 'n gevoel van minderwaardigheid my beetgepak. Mense het neergekyk op my, my omstandighede en ook my geloof, en soms vang dit jou, want jy is net 'n mens. Maar God is die Een wat my elke dag met hoop vul, en Sy hand hier onder my ken vat en my kop optel om die lewe in die oe te kyk. En daarvoor is ek ongelooflik dankbaar.


Ek sluit af met die feit dat ek ook vandag aan God hierdie velletjies met wol uitsit, nie net vir my nie, maar ook vir soveel mense om my. Ek sit en wag met volle geloof en met volle vertroue dat God dit wat ek vra sal volbring en in Sy hande gee ek my Siel, my Liggaam en ook my hele lewe, want Hy is in beheer van alles, en sonder hom is ek elkgeval niks. Onthou altyd: "Alles is vir God moontlik, en nog meer as alles"!