Sunday, July 6, 2014

Gat in jou kous

Nou die dag gryp ek n paar kouse uit my kas, en sonder om te kyk trek ek n paar aan met n gaatjie in.

Almal het seker al dit ervaar, want maak nie saak hoe ek probeer nie, my groottoon vind die hele tyd die gaatjie. Dit laat my dink aan die "uitdagings" wat ek en jy daagliks mee gekonfronteer word.

Soms het ons persoonlikheid ook sulke "irriterende" kousgate in. En die ergste daarvan is dat jy daagliks mense en situasies vind wat soos my groottoon daardie gaatjie vind.

Daagliks word ons herinner aan daardie dinge in ons persoonlikheid, tot vervelens toe.

My ouma het altyd kouse gestop, maar selfs daai garingknoets word weer n verdere irritasie. Kort voor lank is die gaatjie weer terug. Vandag het ons mos baie geld en ons gooi maklik weg en koop nuwe kouse. As dit maar so maklik was met ons persoonlikhede, sou dit eenvoudig gewees het. Dit sou maklik wees om voor te begin, maar dit is nie. Jou kousgate bly by jou, en dit word groter en groter soos tyd loop.

Die vraag is egter wat jy daarmee doen?

Ons weet dat mense nie volmaak is nie, wat wel vreemd is is hoe ons daagliks gekonfronteer word met mense en situasies wat juis daardie knoppies in ons druk wat die gat in die kous vind. En ons ingesteldheid is gerig daarop om deur die loop van ons lewe, die kousgat in ons te oorwin of ons wys ander die hele tyd op hulle foute. Daardie groottoon-karring is moontlik die rede vir ons ongelukkigheid.

In die Bybel sien ons hoe arme Job sy bes probeer om gelukkig te wees, maar heelaas, sy situasie verander nie. Paulus vra vir die doring in sy vlees om weggeneem te word, maar God antwoord dat Sy genade genoeg vir hom behoort te wees.

So, die kort en lank van die lewe is dat jy maar moet vrede maak met die gat in jou kous, hoe moeilik ookal. Jy sal moet leer dat mense almal kousgate het en niemand perfek is nie. Jy sal ook leer in deernis dat jou lot dalk nie so groot is soos ander s'n nie. Maar nooit met oordeel nie, want dis nie n kompetisie nie. So dis waar dit begin, jou irritasie met jouself en ander is 'n feit, maar dit gaan nooit verander nie. Die feit dat jy jou mede reisigers inlig oor hulle foute en joune, gaan die reis nie beter maak nie. Aanvaar mense en jouself soos jy is, met gate en foute en uitdagings.

Jesus se lewe is n goeie voorbeeld daarvan. Hoeveel van ons verstaan die kruis wat Hy moes dra? Ons vergeet soms dat Jesus ook mens was. Ons vergeet die druk en spanning wat Hy moes deurgaan. Dink jy dit was altyd maanskyn en rose? Ek dink nie so nie. Maar wie het Jesus in Sy binnekring ingetrek? Dit was die uitgeworpenes, vissermanne, tollenaars en straatvrouens wat hy mee geassosieer het.

Dalk is dit die oorsaak van ons hartseer en onvermoee om verhoudings te handhaaf. Iemand naby aan my het my die grootste waarheid geleer, wat sy nie eers besef nie. Sy het my geleer dat die eise wat ons aan mense stel twee dinge doen. Dit is n fatale alternatief, want dit gee hulle kans om te faal en geleentheid om hulle te veroordeel en te kruisig. Tweedens, die foute wat ons in mense raaksien, saam met die eise, is n ekstensie van ons eie probleme. Ons verwag van mense om die gate in ons te vul.

In die Oosterse godsdienste gebruik hulle die term "karma". Dit omvat n hele klomp teoriee, maar in kort beteken dit die skep van jou situasie deur keuses en emosies. Jy kry in die lewe wat jy in die lewe soek uit jouself.

Eintlik is die hele antwoord vir die lewe opgesluit in God se antwoord aan Paulus, die woord "genade". As ek myself deur God se genade sien, verstaan ek my menswees ten volle, verwyder van oordeel, karma en drama. Met dieselfde oe moet ons na mense kyk, soos Jesus. Geen verskil in klas, intelligense, orientasie, keuses of ingesteldheid nie. Net liefde wat alles deur genade uitleef.

Hierdie week is my dogtertjies by my saam met Rachel, hulle bediende. Van al die "slim" mense en kursusse in my lewe, leer ek die heel meeste van menswees by haar. Sy is nie werklik geletterd of geskool nie, maar van liefde, deernis en genade sal jy ver gaan om iemand soos sy te ken. Sy LEEF net in liefde, sy offer op sonder om te beveaagteken. Sy is volledig mens deur genade en liefde vir ander.

Haar kous het seker meer gate as enige van ons, maar sy wyk nie af van haar lewe nie. Miskien is oom Willem Nicol reg as hy se dat daar rykdom in eenvoud is.

Die lewe gaan net oor liefde en genade, teenoor oordeel en veroordeling!



Sent from my iPhone