Showing posts with label liefde. Show all posts
Showing posts with label liefde. Show all posts

Wednesday, August 28, 2013

Wynand "Loftus" Van Vuuren


Ek weet nie hoekom nie, maar ek le gisteraand en dink aan Wynand "Loftus" van Vuuren wat saam met my in die Laerskool was.  Ek dink elkeen van ons het so 'n iemand saam met ons op die skool gehad.  Hy was nou die een wat werklik "uit" was.  As ek terugdink kan ek onthou dat hy gladnie mooi was nie, soos die oom sou gese het, so wit soos 'n voorbode.  As ek onthou was hy so wit dat hy die enigste kind was wat in daardie tyd 'n hoed gedra het as hy in die son uitgegaan het.  Ek kan onthou dat ons gespot het en gese het dat ons dink hy skyn in die aand as die son ondergaan.
 

Ek kan onthou dat ek nog voordat ek geglo het in lewe op ander plannete, gedink het dat hy een van hulle moes gewees het, want hy was weird.  Dalk is sy ligsensitiwiteit dalk die rede, maar hy het nooit saam met ons gespeel nie.  Ek onthou hy het daai Alpha 1999 ruimtetuigies skooltoe gebring en die hele tyd die vorige episode in sy kop deurgespeel.  Wat vreemd is, is dat niemand Wynand geboelie het nie, niemand het ook vir hom gelag nie, want ek dink diep binne was die kinders bang vir hom.  Die meisies wou nie naby hom sit nie, want hy het ook soms nog tot laat in die Laerskool "glipsies" gehad, maar selfs daaroor het niemand hom ooit gespot nie.

 
Wynand se oupa hulle, of so het hy gese, het 'n plaas gehad in Aliwal-Noord, en elke naweek het hy gewag dat sy oupa-hulle moet kom kuier, want dan sou sy oupa hom Loftus toe vat.  As mense vir hom op Maandag gevra het of hy toe daar was, het hy altyd gese dat sy oupa nie kon kom nie.  So wonder ek by myself of "Loftus" toe ooit op Loftus was.

 
Maar Wynand is een van daardie mense wat ek my hele lewe lank sal onthou, want alhoewel hulle brandarm was, en hy deurskynend, kan ek hom net nie vergeet nie.  Wynand was natuurlik ook gladnie sportief nie, en het so min koordinasie gehad dat hy gesukkel het om aan 'n deur te klop.  Naderhand het die LO-Meneer opgehou om vir hom te vra vir 'n doktersbriefie, want eintlik wou hy graag, maar het die hele klas opgehou.  Ek kan nie onthou dat ek hom ooit sien hardloop het of 'n bal vang of gooi nie.  Hy het sommer van die staanspoor af nie eers sy LO-klere aangetrek nie, maar sommer op die pawiljoen gaan sit.

 
Ek dink ek onthou vir Wynand, want Wynand was by elke skoolfunksie en langs elke sportveld.  Ek dink die meisies het daarvan gehou dat hy daar was, want hulle was al aan hom gewoond, maar hy het die meisies van die ander span ontsenu.  Maar Wynand was altyd daar, selfs langs die Laerskool krieketwedstryd tussen ons en Timbuktu se 3e span.  Wynand was daar.  Ek sien hom na soveel jaar sit daar onder die groot boom en kyk terwyl hy sy tinfoil toebies eet.  Vir een of ander rede het Wynand geglo dat alles by die skool eintlik om hom draai en as hy nie by die Eerste Span se wedstryd is nie, SAL hulle verloor.

 
Ons is almal na verskillende skole toe na Laerskool, en ek het nooit weer vir Wynand gesien nie, maar gehoor dat hy oorlede is in Standard 8, dis toe ons nog te dom was vir grade.  Maar Wynand onthou ek soos asof dit gister was, amper 40 jaar later.  En ek wonder toe:  "Wat is dit maak dat ek na al die tyd nog wonder oor ou "Loftus"?

 
Kinders is mos maar baie wreed, maar om een of ander rede het die wreedheid en gespottery nooit aan Wynand gaan sit nie.  En moenie 'n fout maak nie, hy was nie 'n dom ou nie.  Ek dink wat my gevang het is die manier hoe hy aangehou leef het, te midde van wat ander dink of hoe hy lyk.  Ons het respek vir hom gehad omdat hy elke wedstryd langs die veld gestaan en "Wonnies" geskree het.  Hy was vir my 'n rolmodel, maar ek besef dit nou eers.  Want ek wonder hoe sou ek gevoel het as ek in sy skoene was, en sou tien teen een in 'n hoekie gaan sit en kripeer het.  Hy het dit nie aan hom laat vat, die feit dat hy nie 'n meisie kan kry om saam fliek in die saal te gaan kyk nie, hy was daar en het die fliek kom geniet.  Hy het homself nie laat onderkry oor die feit dat hy nooit op Loftus was nie, hy het al Naas Botha se statistieke uit sy kop geken.  Hy was nie bekommerd dat hy nie geld het om by die snoepie "Chelsea-Buns" te kan koop nie, want sy ma het mos vir hom Tinfoil appelkooskonfyt broodjies ingepak.  Alhoewel hy op daardie stadium nog met Alpha 1999 ruimtetuie gespeel het, was ons eintlik jaloers, want ons wou ook nog daarmee speel, maar dit was "uncool".  Eintlik het Wynand vir my laat sien wat ek gemis het in die lewe, en wat dit is om werklik mens te wees, deur so lank "kind" te bly.

Eintlik besef ek vandag dat die uitdaging vir talentvolle mense om suksesvol te wees nie baie groot is nie, maar ons leer meer by mense soos "Loftus".  Ons lees al die boeke van die "Champions of Industry" en die wonderlike "Leiers" van ons wereld, maar ons vergeet om te kyk na elke mens om ons.  Die Bybel is vol van mense soos Wynand, noem hulle maar op, Moses, Dawid, Gideon, Job, Petrus en Paulus.  Mense wat jy nou nie sommer uit 'n "line-up" sou gekies het om jou volk deur die woestyn te lei nie.

Elkeen van die mense wat ek genoem het, het een of ander verskoning gehad van hoekom hulle nie hulle roeping kan nakom nie.  Hier te kort en daar te lank, soos ons almal maar is.  Maar God werk anders, God werk deur die Wynand "Loftus" van Vuurens van die wereld, want krom stokke kan ook reguit houe slaan.  Mense wat alles al verloor het en wat swaargekry het, is soms die mense wat die grootste impak het.  Mense wat alles het, is en word arrogant, en dink soms dat hulle God nie nodig het nie, of hulle is so ingestel in hulleself dat hulle nie langs die 3e span se krieketveld wil sit om maats aan te spoor nie.

Wynand het dit ook geniet en geselskap ingedrink wanneer iemand net aan hom aandag gee.  Ek voel skuldig dat ek nie meer moeite met hom gedoen het nie, maar ek is dankbaar vir wat hy my geleer het.  Krom stokke, wat dink hulle kan nie, is soos mense wat swaarkry.  Hulle verstaan dankbaarheid, want hulle vat nie alles om hulle as vanselfsprekend nie. 

Miskien is jy vandag bietjie "down", miskien voel jy soos 'n "mislukking", miskien is jy eensaam en voel asof jy van 'n ander planeer kom.  Dalk het jy niks geld nie, dalk het jy jou werk verloor.  Dalk is jy vasgevang in omstandighede wat vir jou voel asof jy nie weet watter kant toe nie.  Ek weet nie, jy weet self.  Weet dit, jy kan dalk 40 jaar van nou af deur jou optrede iemand, soos in my geval vandag, se denkwyse of optrede verander.  Weet dit ook, net omdat jou toebies in 'n Tinfoil kosblik kom en almal om jou sulke ontwerper-kosblikke is, beteken nie jy moet honger ly of nie geniet wat in jou lewe IS nie.  Vandag voel ek soos 'n mislukking, daar is baie mense wat my haat en mense wat my kritiseer, waar verskonings en wie jy is nie belangrik is of op goeie ore val nie – maar dan dink ek aan Wynand, wat te midde van alles, dink ek, homself gelukkig gemaak het.

Jy hoef nie op "Loftus" te wees om vandag te geniet nie, jy kan vandag met jou hele hart gaan leef en opdaag vir jou lewe, sonder dat dit perfek of volmaak is!

Thursday, February 9, 2012

Perfekte beeld

Onthou jy nog daardie tyd toe ons self ons televisie antennas opgestel het. Ek onthou nog die kere wat ek op die dak gestaan het, my pa binne sigafstand van my, en my ma binne by die televisie. Al die opdragte: “bietjie links, bietjie regs, stop, aggenee man, daar stel jy hom weer uit”. Jy kon natuurlik of daarvan ‘n heerlike lagsessie maak, of dit kon tot huismoles gely het.

Vandag is die tegnologie egter so bietjie anders met die skottels wat ons laat installeer. Jy ry selfs deur die armste van gebiede, maar die skottel aan die oostekant van die huis is altyd sigbaar. Die ouens wat dit vir jou kom installeer het ook sulke oulike masjientjies waarmee hulle die sein toets om seker te maak dat jy goeie opvangs het.

Ons televisies is ook nou so gevorder dat hulle outomaties kannale soek. Nie meer soos in die verlede wat jy met knoppies draai jou instelling self gedoen het nie.

Dit is vir my kinders vreemd om te dink dat daar ‘n tyd was waar daar net een of twee kannale op die televisie was. Jy kan onthou, as jy my ouderdom is, daardie toetsbeeld van die SAUK wat op die skerm was wanneer programme nie uitgesaai is nie. Ek onthou nog hoeveel keer ek daarna gestaar het terwyl ek gewag het vir die programme om te begin.

Om te sien wat jy wil sien, is daar 3 dinge van belang. Jy moet ‘n skottel installeer wat met die sateliete kan “praat”, jy het ‘n dekodeerder nodig wat die sein kan ontrafel en jy moet jou televisie instel om die boodskap van die dekodeerder te kan sien. Alles is onafwendbaar, want dit is ‘n natuurlike proses.

As jy dus nie die beeld kry wat jou tevrede stel nie, of geen beeld kry nie, dan soek jy die fout terug by die vorige toestel. Dit is soos wanneer jou sleutels verlore is, dan gaan jy terug op jou spoor. Soms voel dit ook vir ons of ons beeld versteur is, en dinge loop net nie lekker nie. Dan is die maklikste om dit op te los, om in jouself te gaan soek na die dinge wat die storing veroorsaak.

Baie mense is bang om dit te doen, en hulle sit hulle hele lewe en staar na die sneeuvlokkies op die skerm. Naderhand dink hulle dat dit normaal is. Hulle gaan kuier by ander mense en sien die mooiste beeld. In hulleself doen hulle niks aan hulle beeld nie, en maak vrede met die vlokkies. Dan is hulle jaloers en byterig teenoor ander, want niemand wil by hulle kom kuier nie, want dit is saterdagmiddag en kuiergaste wil die rugby sien. Hoe lank gaan jy met die sneeuvlokkie lewe aanhou?

Deesdae is dit soveel makliker om goeie opvangs te kry. Daar is legio hulp van mense en kenners beskikbaar. Die internet en die boekwinkel het soveel informasie oor elke onderwerp, van die instel van jou DSTV proses, tot die instel van jou eie proses. Daar is toerusting en kenners wat kan seker maak dat jou “skottel” in die regte rigting wys waar die “goeie” en die “regte” sein is. Daar is ‘n inbelsentrum van DSTV wat jy kan kontak om seker te maak dat jou dekodeerder reg kodeer. So is daar mense om jou wat jou kan help om jou “kodering” van die sein reg te doen, of te reg te maak. Dan is daar sulke oulike tegnici wat na jou huis toe kan kom en wat die hele proses sommer vir jou kan doen. So is daar soveel kennis rondom ons vandag wat ons elkeen kan bystaan om wonderlike beelde, selfs in hoë definisie of 3D, te kan sien, ervaar en uit te straal.

Soms kan hierdie kennis of kenners ook maar ‘n mens se kop deurmekaar maak. Die tegnologiese ouens het mos ‘n taal van hulle eie wat hulle praat. Hulle verwys na dinge in afkortings wat ons gewone mense nie verstaan nie. So, in die proses van my instelling, moet ‘n mens ook maar versigtig wees om nie SO tegnies te raak dat die storing nog groter en die beeld nog slegter word nie.

Ek het ‘n vriend op skool gehad wie se hele gesin sulke tegniese ouens was. As ons daar gaan kuier het was die hele huis gesaai met allerhande toerusting van klankkaarte tot soldeermasjiene. Jy het altyd rondgekyk waar jy loop dat jy nie oor ‘n elektriese koord of iets val nie. Op die stoep en die garage was etlike televisies en vidoemasjiene wat se deksels af was dat jy die binnegoed kan sien. Sy pa wou eenvoudig altyd “verstaan” wat die binnewerking van sy elektriese toebehore behels, en daarom het hy alles oopgemaak en gedesekteer.

Wou jy nou net eenvoudig televisie kyk, was daar altyd fout met hulle goeters. Drade was nie gekoppel nie, of ‘n elektriese prop is afgehaal om op ‘n ander plek te gebruik. Alles was daar, maar niks het gewerk nie. So het ek maar altyd my kop geskud, en dan het ons maar op ons fietse geklim om die program by iemand anders te kyk.

Die spreekwoord sê mos: “Alles wat ‘n “te” is is verkeerd, behalwe “tevrede”, “te perd” en “tematies”". So moet ons ook nie so ernstig selfondersoek doen oor ons lewe en ons binnetoerusting, dat ons vergeet dat die doel van die oefening is om die pragtige beeld te sien en te geniet nie.

So besig raak ons om te wil leer hoe ons werk, hoekom dinge gebeur, hoekom ons op ‘n manier optree, dat ons nooit die genot van die uitsending geniet nie. Ons, en ek in besonder, is soms so besig om ons derms uit te ryg en om te besin oor die lewe, in en om ons, dat ons vergeet wat die essensie is. Dit doen ons met elke ding in ons, ons liefde, ons kinders, ons stress, probleme en spanning. Dan vergeet ons om te leef! Ons is so besig om te desekteer en te be-oordeel dat ons IN ons mensetoestel in staar, en nooit rustig voor dit kan gaan sit en ervaar hoe fantasties alles in my lewe ten goede meewerk. Moet dit nooit in die lewe SO deurmekaar maak, dat jy of nie weer die televisie aanmekaar sit nie, of dat jy na die desektering en terugsit van alles, met ‘n klomp skroewe en moere sit wat nie plek gekry het nie.

Ek is nogal baie lief om televisie te kyk, so ek stel nogal belang in die toerusting wat daar in die winkels beskikbaar is. Ek staan en bekyk graag al die platskerm televisies, en dan is daar ook altyd iemand wat my bedien met raad van die spesifikasies van elke tipe skerm in die winkel. Hoe kies ‘n mens nou die “beste” een? As jy hulle so langs mekaar sien, dan voel jy sommer jammer vir jou “ou” televisie by die huis. As jy hulle langs mekaar sit kan jy die verskil werklik sien, maar een-een op ‘n slag op hulle eie, gaan jy nie sommer die verskil agterkom nie.

So moet ons ook versigtig wees om nie te dink dat ek die “beste” toerusting moet wees om die uitsending te geniet nie. Soms wil ons nie ons beeld uitsaai nie, want ons is skaam oor ons toerusting wat nie die beste en vinnigste en mooiste op die mark is nie. Al is ons nie die beste nie en nie op die snykant van die tegnologie nie, kan ons steeds ingestel wees op die regte kanaal, ons kan steeds die genot ervaar van die wedstryd waar my span wen.

So, wees daarom seker dat jou skottel in die regte rigting wys, dat jou proses maklik van daar deursyfer na jou dekodeerder toe. Leer om die inligting wat deurkom reg te kodeer en te verwerk. Verstaan jou eie proses, geniet om jou binnewerkinge te ondek (in balans), maar verseker, moet nooit vergeet dat dit nie oor die absolute perfekte beeld en klank handel nie, maar oor die plesier wat jou uitsending by die kykers en jouself bring. Dit dalk selfs op jou ou, klein, uitgedateerde swart en wit skermpie!

Tuesday, February 7, 2012

Storm in 'n teekoppie

Die Engelse het ‘n spreekwoord wat sê: “a storm in a tea cup”. Wat dit eintlik beteken is dat as jou lewe net bestaan uit ‘n koppie en die grootte daarvan is, dat selfs die kleinste beweging daarin jou hele lewe omverwerp. Die oumense het altyd gesê dat jy, om gelukkig te wees, moet seker maak dat jy jou horisonne verbreed. Dit is hoekom dit so lekker is om te toer en die wêreld te sien, want dit laat jou bietjie groter dink oor die lewe as net jou klein huisie en jou klein lewetjie. Dit is ook nie altyd nodig om oor die see te gaan om dit te doen nie, maar jy kan sommer net deur bietjie te lees, jou internet te betree of met mense van ander standpunte te gesels.

Ek dink dat baie van ons depressief en sleg voel, en ons probleme vir ons lewensgroot lyk en klink, omdat ons sulke klein lewentjies het. Wanneer laas het jy so bietjie iets gelees wat jou lewenshorison verbreed? Suid-Afrikaners het maar daardie trek en eksplorasie ding in ons. Ons is dalk meer so as mense uit ander lande. Ons geniet nogal om te lees en ons algemene kennis van die wêreld om ons is baie goed.

Nou het ek weer met iemand uit Nederland gepraat, en kluisenaarskap is daar ‘n groot siekte. Natuurlik het die koue ‘n groot invloed dat mense eerder in die huis bly as om uit te gaan. Maar dit is ‘n feit, dat hoe kleiner jou lewe is, hoe makliker sien jy die probleme en krisisse in daardie ruimte raak. Nou een dag vra ek vir ‘n groep mense wie die President in Zimbabwe is. Tot my verbasing het min van hulle geweet dat dit Robert Mugabe is. Geen wonder dat hulle soveel krisisse in hulleself het nie, as hulle nie eers so ‘n klein bietjie weet wat aangaan om hulle nie. Wat my meer verbaas het, was die feit dat dit nie eers baie inspanning verg om dit te weet nie. Jy ry tog elke liewe dag in jou motor, of iewers hoor jy ‘n grappie of ‘n standpunt oor Zimbabwe.

Verder as dit, die krisisse in Zimbabwe het ook verregaande impak op ons lewe van elke dag. Dit het tog ‘n invloed op ons wisselkoers, ons handel met ander lande en ons sosiale lewe. Al stel jy nie in die politiek belang nie, jy ervaar tog elke dag dat daar meer en meer uitlanders jou in restaurante bedien. Jy kan tog agterkom dat daar meer en meer mense wat anders is as ons in die winkelsentrums. Jy moet tog iewers gehoor het van die rassisme in die woonbuurtes teen mense van ander lande en iewers daarmee te doen gehad het.

Dit wil dus voorkom dat ons, te midde van die klein bestaan wat ons voer, ook soms nie eers net ons ore oopmaak vir wat rondom ons gebeur nie. Mense wat nie so bietjie wil uitvind oor hoe dinge werk, of uitvra oor wat gebeur nie. Mense wat se lewens, wat normaal is, opgeslurp word in alledaagse dinge van kinders en huwelik en werk. Hoeveel mense om jou ken jy nog wat stokperdjies beoefen? Hoeveel mense ken jy wat bereid is om so effens net met oop oë op te let en nuwe idees te bestudeer? Hoeveel mense weet jy van wat die lus het om bietjie iets nuuts te leer, ‘n nuwe ding wat hulle nie voorheen geken het nie, of wat te vorder in hulle kennis oor dinge?

Ek klink dalk krities, maar ek besef al meer en meer dat dit dalk een van ons probleme is hoekom mense soveel drame het met hulleself en met mekaar. Mense wat met hulle gesigte so teen die prentjie staan dat hulle nooit die mooi kunswerk kan sien nie. Die impressioniste het geskilder met sulke fyn kolletjies en strepies. As jy naby die skildery staan kan jy omtrent net die kolletjies sien. Deur terug te staan, en jou visie verbreed, kry jy ‘n idee van die prentjie wat eintlik voor jou is, maar as jy so teen dit staan, sal jy dit nooit werklik kan geniet nie. Dieselfde met ‘n verkleinde milieu (ervaringswêreld), as jy daarin leef. Jy is so gefokus net op die onmiddelike, die hier en die nou, dat jy totaal nooit die groter prentjie sien of sal sien nie. Voordat jy nie terugstaan nie, en verbreed en groei weg van jou onmiddelike bestaan nie, gaan jy altyd dink die lewe bestaan net uit kolletjies en strepies en net uit een of twee kleure.

Ek is gelukkig om in ‘n familie en gesin groot te word (mense om jou sal vir jou vertel dat ek steeds besig is om groot te word), wat tot in hulle sewentigs nuwe uitdagings aanpak. Ek is geleer om te lees, en daagliks te lees. Ek is geleer om nie net ‘n objek of situasie voor my te sien nie, maar vrae daaroor te vra. Ek is grootgemaak deur dinge te bevraagteken, en totdat iets nie vir my sin maak nie, sal ek nie gelukkig wees nie. Ek is dankbaar daarvoor, want te midde van al my krisisse en tekortkominge, het ek geleer dat dit nie al is waarin ek myself vasstaar nie.

Wat verder vreemd is, is dat mense wat se lewens so klein is, gewoonlik te bang is om hulle horisonne te verbreed. Vrees is een ding, maar daar is ook ‘n baie vreemde idee dat jy, deur jou horisonne te verbreed, jou lewe kompliseer. Dit is vreemd, veral in die voorbeeld van ‘n impressionistiese skildery, dat die komplikasie nie in die verbreding van die horison is nie, maar die komplikasie is juis in die nie-verbreding van die horison. Hoe verder ek terugstaan, hoe makliker word die interpretasie van die skildery. In die naby staan, sal ek nooit die volledige prag van die prenjtie en daarmee saam my lewe kan ervaar nie. Eers wanneer ek terugstaan, oopmaak en wegbeweeg gaan die spanning weg.

As ek so fokus hier teen nie skilderdoek, plaas ek vreeslik baie spanning op my sig en my asemhaling. Ek asem die walms van die verf in, en my oog se fokuspunt kry ook skade.

Soveel mense maak vrede met die kolletjies en die walms, soveel so, dat hulle naderhand ook begin glo dat die hele lewe net kolletjies is. Hulle wil naderhand niks meer verder glo dat daar iemand is wat anders kan en mag dink as hulle nie, want, al wat “waarheid” is, is net kolletjies. Dit laat my so dink aan die uitspraak: “This is as good as it gets”.

Dit word dus ook die manier wat jy na die lewe kyk, met die agtergrond dat alles net kolletjies is, en net kolletjies mag wees. Niemand mag anders doen nie, want kolletjies IS die lewe. Hoe minder jy ook “oefen” om jou horisonne te verbreed, hoe minder gaan jy dit wil of kan doen? Dit is ook soos ‘n wilde leeu wat in ‘n hok grootword, en wat sy kos kry op sy tyd. Jy kan ongelukkig daardie leeu eers weer met baie moeite kan vrylaat in die veld, want hy verleer ook sy natuurlike instink om te jag. Hy verleer om ‘n leeu te wees, al is hy geskape om te kan jag, en bogemiddelde sukses kan behaal.

Miskien moet jy vandag vir jouself vra: “Wat doen ek om my horison te verbreed?” Is jou lewe nie dalk so saai en depressief en vol aaklige walms, juis omdat jy nie kan wegbeweeg en nie bietjie blootstelling het aan ander idees en mense en dinge nie? Miskien glo jy ook die leuens wat jy jouself vertel, dat jy eerder gemaklik is met die walms en die skeel kyk nie? Miskien is jou lewe vol drama, presies omdat jy nie kan terugstaan en met visie na jou lewe kan kyk nie? Miskien het jy drama, omdat jy jou brein nooit leer om te verstaan en te besef dat daar meer is daar buite as wat jy dink nie?

Jy kry natuurlik ook mense wat die hele wêreld plat toer, maar wat ook nooit meer en meer wil leer nie. Wanneer jy dus terugstaan van jou lewe, moet jy ook besef dat jy self ook moet jouself inspan. Jy moet weer leer om te jag, soos wat jy jou sig moet leer om nie meer skeel te kyk nie. Jy moet jou fokuspunt verander om die pragtige prentjie voor jou te kan sien en geniet. Jy moet jouself ook leer om, soos ‘n voëltjie in ‘n nessie, iewers ‘n sprong moet maak, want anders gaan jy nie vlieg nie. Dit moet jy doen in die wete dat, alhoewel jy nou bang is, die prys wat jy gaan ontvang duisend keer beter is as daardie klein stukkie vrees wat jy nou het.

Daar is ‘n ongelooflike en oneindige fantastiese lewe daarbuite. Glo my, die prentjie is fantasties mooi, kom en kom kyk. Hou op om bang te wees, hou op om in jou klein lewetjie vasgekluister te wees. Gaan ervaar, gaan leef, gaan lees, gaan leer en die belangrikste van alles, gaan geniet hierdie wonderlike skildery van ‘n lewe wat God vir jou as geskenk gegee het.

Daag jouself uit, dit is nie kompleks nie, wat jy nou doen en beleef so teen die skilderdoek, dit is kompleks, frustrerend, moeite en inspanning.

Friday, January 27, 2012

Die belangrikheid van die konteks

Ek is mal oor die reeks “Chuck” en het gelukkig nou die hele nuwe reeks aanlyn gekyk. Wat vreemd is om so ‘n reeks so agtermekaar te kyk, is dat elke episode begin met ‘n opsomming van wat tot dusver gebeur het. Natuurlik is die reeks gemaak om een keer ‘n week uitgesaai te word, en mense vergeet wat gebeur het in die vorige episodes. Hierdie opsomming is ook nie net van die vorige episode nie, maar gaan partykeer terug na twee of drie episodes voor dit. Dit is duidelik dat as jy nie weet wat die konteks is van wat gebeur het in vorige episodes nie, jy geen idee gaan hê waaroor die huidige episode handel nie.

Die definisie van konteks is eenvoudig. Dit is informasie oor gebeure in die verlede wat lig werp op die verstaan van die hede. Dit is die storie van mense van hulle reis en wat hulle hier gebring het, hulle denke, idees en kultuur. Konteks is belangrik, aangesien ek daarsonder sekere aannames maak en die huidige episode vir my geen sin gaan maak nie. My oumagrootjie het altyd gesê: “My kind, jy kan nie weet hoe iemand se voete voel as jy nie in hulle skoene geloop het nie”.

In sielkundige sessies, vra die terapeut altyd vir jou vrae. Daar is baie grappies hieroor, maar hulle doen dit met ‘n rede. Jy is nie hier waar jy nou is per ongeluk nie. Daar is ‘n storie agter die storie, en die storie gee vir ons die antwoord oor hoekom jy hier is. Dit vertel vir ons hoekom jy so voel, hoekom jy so optree en ook hoe jy in die toekoms dinge gaan hanteer en doen. Almal het ‘n konteks en ‘n storie.

Om die konteks mooi te verduidelik, kom ons neem die voorbeeld van somme maak. Kom ons gebruik die voorbeeld van die getal 2 as die antwoord. Deur my vraag na die konteks, verstaan ek wat bo die lyn gebeur het om by die antwoord uit te kom. Dit is daardie a-ha oomblik waar jy besef dat die persoon 1 en 1 bymekaar getel het om by 2 uit te kom. Konteks is dus belangrik sodat ek die hele som kan verstaan.

So kan ek net mense om my verstaan en met hulle saamleef as ek hulle hele som verstaan. Ons weet mos wat gebeur as jy “assume”, jy maak ‘n gat van jou en van my. Daar is natuurlik verskeie maniere om by die antwoord van “2” uit te kom, jy kan byvoorbeeld 1 van 3 aftrek. Maar dit is jou manier, maar dit is nie die enigste manier nie.

In jou eie bestaan, en in verhoudings met ander leer ons baie keer dat jy eers moet verstaan, voordat jy verstaan kan word. Ek dink dat baie verhoudinge tussen mense verkeerd loop oor die tekort aan kennis van die konteks. Daar is twee redes hiervoor, die een is natuurlik aannames (dat almal dink en doen soos ek en na die wêreld kyk deur my kleur bril) en die onvermoë om ander maniere van doen en dink (konteks) te aanvaar as nog ‘n opsie om by die antwoord uit te kom en mense te dwing om dit op my manier te doen.

In beide gevalle gaan dit nooit oor die ander persoon nie, maar oor myself. Om iemand se konteks nie in ag te neem nie, of daarna te vra nie, beteken ek gee gladnie om nie. In verkope leer ons dat jy iemand se guns en vertroue wen deur hulle uit te vra oor hulle konteks. Jy vra vrae oor waar hulle vandaan kom, of hulle kinders het en wat hulle stokperdjies is. Mense hou daarvan om hulle stories vir jou te vertel. In verkope is die doel natuurlik selfsugtig, want jy wil iets aan hulle verkoop, en kan dit net doen as hulle jou vertrou. Die beginsel is egter dieselfde as in verhoudings. Iemand wat vir my omgee doen moeite met my en stel belang in my storie en laat my toe om my storie te vertel.

Wanneer ons in verhoudings mense toelaat om hulle storie te vertel, gaan dit oor die erkenning van hulle menswees. Dit is die belangstelling in iemand en die aanvaarding dat hulle hulle eie storie mag hê. En hoe meer ons mense toelaat om hulle stories te vertel, hoe meer vertrou hulle ons, en hoe dieper gee hulle ons ‘n loerkans in hulle siele. Hoe meer jy van iemand weet, hoe beter is jou verhouding met daardie persoon.

Dit is soos jou vrou wat by die huis kom na werk en so bietjie ontstoke is. Deur navraag te doen oor die agtergrond daarvan en dat dit haar baas is wat iets van haar verwag het om klaar te maak op die nippertjie voor sy moes ry, werp lig op haar houding. As ek nie navraag doen nie, gaan sy in die eerste plek voel dat ek nie omgee nie, en kan dit tot konflik lei. As ek nie navraag doen oor die agtergrond van die woede nie, kan ek dalk die aanname maak dat ek iets verkeerd gedoen het en sy vir my kwaad is.

Jy sien, deur vrae te vra, maak jy jou verstaan van ‘n situasie soveel beter. Jy kan agterkom hoe die ander persoon werk, jy sit met die antwoord van 2, maar jy leer dat een persoon ‘n “plus” mens is wat altyd dinge wil plus, so om by jou antwoord uit te kom, gee getalle vir hulle wat hulle kan optel. Ander mense is weer “aftrek” mense, daarom weet ek dat ek vir hulle getalle moet gee om af te trek om by die antwoord uit te kom. Al kan mense my verras, in die meeste gevalle kan hulle nie verander wie hulle is nie, hulle kan verseker ook nie teruggaan in die verlede en hulle konteks en wat met hulle gebeur het verander nie.

Dit is makliker om mense te hanteer, soos wat hulle is, want dit bring baie minder spanning as om van hulle te verwag om iets te wees wat hulle nie is nie. Ek moet ook nie mense kritiseer vir hulle konteks nie, want dit is iets wat hulle nie altyd oor beheer het nie. Ek moet nou maar eenmaal dit aanvaar, wat natuurlik die toppunt van liefde is, om iemand toe te laat om hulleself te wees. Wat maak dit nou in elkgeval saak as iemand ‘n optel-mens is, en ek ‘n aftrek-mens is, solank ons by dieselfde antwoord uitkom wat ons beide na soek.

Ons kan natuurlik in ons interaksie met mense leer om beter te kommunikeer. Ek het dalk net in ‘n situasie die twee getalle 3 en 1, en alhoewel my maat ‘n optel-mens is, kan ek mooi vir hulle verduidelik dat hulle in hierdie spesifieke situasie, dalk eerder moet aftrek, as om op te tel. Ek doen dit nie omdat ek hulle kritiseer oor die feit dat hulle optel-mense is nie, maar eerder omdat die omstandighede vir my ‘n 3 en ‘n 1 gee, en omdat optel nie in hierdie situasie gaan werk nie. Onthou altyd dat, as jy mense met verskillende idees bymekaar sit, gaan mense altyd terugval op wat hulle ken, en altyd eerder wil optel as aftrek. Mense is nou maar eenmaal mense van gewoonte, maar deur effektiewe kommunikasie, en ken van my maat, kan ek vir hulle die syfers gee wat nodig is, en hulle bekragtig deur hulle toe te laat om hulle natuurlike manier en natuurlike konteks te laat deurvloei na die antwoord toe.

Ons ken ook die spreekwoord oor konteks in Engels wat sê: “Every whore has her story”. Alhoewel ek ‘n konteks van my eie het, is dit nie nodig dat my konteks ‘n verskoning word vir wat ek doen nie. Elke liewe dag skep ek konteks van more, so ek het ‘n keuse elke dag hoe ek optree.

Veral wanneer die getalle met optel nie by die regte antwoord uitkom nie, moet ek myself ook ken, en aanpas. Ek kan nie van eeue se wiskundiges verwag om skielik die getallelyn te verander om my te pas nie. Ek moet daarom myself ook ken. Ek moet weet dat my tendens van optrede is om op te tel, maar genoeg kundigheid aan die dag lê om te weet dat ek met die getalle tot my beskikking, soms moet aftrek, maal of deel.

Soms is ons so kwaad vir die wêreld omdat die getalle wat ek kry, nie met optel by die antwoord wat ek verlang kan uitkom nie. Ek gooi ‘n depressie en ‘n aggressie, nie omdat die antwoord verkeerd is nie, maar omdat ek nie aangeleer het om aan te pas by die getalle wat ek in die som het nie. Jy het natuurlik al die reg om gemakliker te voel met optel, maar die lewe gaan nie altyd oor jou gemak nie, maar of jy by die antwoord wat jy soek gaan uitkom. Soms moet ek diep delf, en dalk die hulp van ‘n sakrekenaar of Excel inroep om my te help, maar daarmee is ook nie fout nie.

So, alhoewel ek en die mense om my elkeen ons eie stories het wat ons in ag moet neem, mag dit nooit ‘n verskoning word nie. Ons kry onsself jammer omdat ons somme nie uitwerk nie, maar dalk het dit te doen daarmee dat ek nie my konteks verstaan en weet dat ek ‘n optel-mens is nie. As ek weet wie ek is, en dat ek ‘n optel-mens is, kan ek maklik teruggaan op my stappe en gaan kyk wat ek verkeerd gedoen het. Stoere mense gebruik hulle konteks as verskoning, groeiende mense leer daaruit en maak hulle lewens verder baie beter, deur ander dinge aan te leer, soos om af te trek, te maal en te deel, sodat hulle by die antwoord uitkom wat reg is.

Die hele wêreld handel oor kommunikasie, en ek kan net kommunikeer as ek myself en die om my se konteks, werkswyse en optredes verstaan. Selfkennis is die begin, want dit gee vir my die spieël waarteen ek ander se konteks kan opweeg, waar ek raakpunte en werkswyses in kan beoordeel.

So vandag, gaan doen moeite om uit te vind hoe jou kop werk, en hoe ander om jou werk. Hanteer mense se konteks met deernis en sonder oordeel. Gee die mense om jou getalle wat hulle maklik en met hulle eie konteks-manier by die regte antwoord gaan uitbring. Wees aanpasbaar en probeer nuwe maniere om by die antwoord uit te kom, want as jou antwoord nie reg is nie, is die probleem nie altyd die getalle nie, maar hoe jy daarmee werk.

Geniet jou dag!

Sunday, January 22, 2012

Skep van Karma

Karma is volgens definisie ‘n aksie of ‘n daad wat tot ‘n nuwe kringloop van oorsaak en gevolg lei. Dit is soos om ‘n klippie in die dam te gooi wat sirkels maak, en wat op sy beurt die vorige klippie se sirkels beinvloed. Ook word die aksie ander name gegee soos die “butterfly effect”, wat beteken dat as ‘n skoenlapper op een plek, hoe klein ookal, sy vlerke klap, daar erens ‘n groot wind laat waai.

Alhoewel ons in die westerse wêreld vir lank nie gedink het aan die konsep nie, aangesien dit van oosterse oorsprong is, besef ons meer en meer elke dag, dat wat ons ookal die naam van hierdie konsep gee, elke aksie van elke dag, elke woord my en jou wêreld beinvloed. Ek skep elke dag ‘n nuwe kriingloop in myself, my maat, my kinders en die hele wêreld om my.

Dwarsdeur die Bybel word daar vir ons die konsep van oorsaak en gevolg geskets. Van Adam en Eva in Genesis, deur die rigters, deur al die konings, die Nuwe Testament en Jesus, tot en met die Openbaring en die finale oordeel. En alles begin by die klippie, my gedagtes en ingesteldheid. Die Bybel vertel nie verniet vir ons dat ons wag oor ons gedagtes moet hou nie. Wat jy ookal dink oor dinge soos die “law of attraction”, stel selfs die Bybel vir ons dat as jy iets gedink het wat verkeerd is, dit reeds sonde is.

Een van die beste voorbeelde hiervan het ek hierdie week ervaar. Ek wil vir my ‘n ander kar koop, met die spesifieke prys in gedagte. So spandeer ek toe tyd op die “Autotrader” se webblad en sien ‘n sekere tipe kar wat ek dink nogal goeie waarde vir geld is. Dit lyk asof dit fantastiese waarde vir geld is, maar voorheen het ek nooit opgelet of gedink daaraan om so ‘n kar te koop nie. Hierdie week was ek verbaas, want ek het nie net baie van hulle gesien op die pad nie, maar ook in die wit kleur wat ek in belangstel.

Het ek nou toevallig deur my denke hierdie karre op ‘n misterieuse manier laat ontstaan? Verseker nie, maar my bewustheid van hulle bestaan het ‘n invloed op my oog gehad om hulle raak te sien. Dit het my laat skrik, want ek het eersterangs ervaar hoe belangrik dit is wat in my gedagtes gebeur. Meer as dit nog, ek deel toe met iemand dat ek van die tipe voertuig hou, ek kort voor lank is dit nie net ek nie, maar daardie persoon se oë wat ook oopgaan en vir my ook daardie karre wat ek mis uitwys. So, dit is nie net in my lewe nie, maar deur die feit dat ek dit gepraat het, het dit tot ‘n sneeubal effek gelei.

So wonder ek toe by myself dat as dit gebeur in ietsie kleins soos hierbo, hoeveel ander gedagtes dra ek in my saam wat tot my geluk en ongeluk lei? Besef ek elke dag hoe kragtig my gedagtes is? Hoeveel karma skep ek nie elke dag nie? En wat dit meer kompleks maak is dat ander se gedagteklippies ook in die dam gegooi word wat se rippels my rippels beinvloed, en wat ek ookal doen, dit gaan my beinvloed.

Dit wil dus voorkom asof al die dinge wat ons in die “nuwe denke” lees en leer oor hoe spiritualiteit is, niks nuuts is nie. Baie van die geskrifte van eeue gelede, insluitend die Bybel, leer ons oor hierdie konsep. Pas op vir jou woorde, pas op selfs vir jou denke en ook oorsaak en gevolg is deel van die lewe.

Iemand vertel nou die dag vir my van haar verhouding. Hulle was die sondag by haar familie, en haar man was so effens geirriteerd die dag. Hy het sommer so in die middel van die kuier besluit dat hulle huistoe gaan. Daar was ‘n redelike atmosfeer met die terugrit huistoe. So probeer hulle dit toe uitpraat en elkeen het sy en haar standpunt gestel. Jy sien, nou is daar karma geskep. Sy is nou elke keer in haar agterkop skepties of hulle na haar ouers kan gaan.

Nou word dit al hoe groter, want sy het in die redenasie genoem dat dit ook nie vir haar lekker is om na sy ouers toe te gaan nie. Losse woorde wat sy nie bedoel het nie, maar wat diep sny en vir die res van hulle lewens vir hulle spanning kan veroorsaak.

In ons opleiding as sielkundiges en dominees leer ons dat ‘n mens dinge in jou hart moet uitpraat in die verhouding. Jy moet in ‘n verhouding wees waar jy die haakplekke moet kan uitsorteer. Na al my praktiese ondervinding van my eie lewe, wonder ek egter baie ernstig hieroor. Jy sien, elke woord wat jy uiter om uit te sorteer, word nie altyd ontvang met opregte vertroue deur die ander persoon nie. Wat gebeur is dat ons eintlik deur die uitsorteer van ons sake, nuwe situasies van spanning skep wat hanteer moet word.

Daarom dink ek dat die eerste probleem is dat ons wil alles uitsorteer. Ja, jou man is dalk nie die mees romantiese mens in die wêreld nie, maar om dit vir hom te sê gaan dalk net ekstra spanning bring. Elke keer as daar ‘n spesiale geleentheid voordoen, gaan hy voel hy moet dinge op ‘n sekere manier doen, anders gaan hy weer kritiek kry. Aan jou kant gaan jy elke keer wat hy vir jou blomme bring nie dink dat dit spesiaal is nie, want hy doen dit net omdat jy van hom gevra het om dit te doen. So begin ‘n bose kringloop van nuwe karma wat geskep word. Jy wat nie voel dat jy belangrik genoeg is nie, omdat hy nie aan jou vereistes voldoen nie, en hy wat minderwaardig voel aangesien jy hom kritiseer nie net vir wat hy doen of nie doen nie, maar ook van hoe hy dit doen of nie doen nie.

Almal van ons onthou hoe lekker is daardie eerste paar weke of maande van ‘n nuwe verhouding. Sommer net lekker omstandighede waar daar geen kritiek of uitsorteer is nie. Dit is natuurlik die plek waar ‘n mens mekaar begin leer ken, maar die vraag is tot watter doel. Want in alle verhoudings is daar altyd daardie eerste ding wat jou begin pla oor die ander persoon, en dan die vertel vir hulle dat dit jou nie pas nie. Hoekom die “wittebrood” tyd van ‘n verhouding so goed werk, is dat ons in daardie tyd in mekaar die mooi soek, die rede van hoekom ons bymekaar wil wees. Dan wil dit voorkom dat in die tweede fase van verhoudings mense mekaar kritiseer, amper soos om geleenthede te soek om nie bymekaar te wees nie. So sneeubal hierdie karma-skepping tot by ‘n punt waar mense nie eers meer die mooi in mekaar raaksien nie.

Dit gaan ook nie net oor praat nie, maar in die manier hoe ek dit doen en hoe dit vatplek kry in die ander persoon. So het iemand een keer gesê: “As dit wat jy doen of sê nie ‘n positiewe bydra maak tot die verhouding nie, moenie dit sê of doen nie”.

Daar is natuurlik ook die gemeenskap waarin ons leef wat gevul is met allerhande “bygelowe” oor verhoudings. Mans is so en vrouens is so, geen verhouding werk nie ens. Wanneer ‘n klomp mans of vrouens bymekaar is, word ons gebombardeer deur gedagtes en idees oor hoe onaangenaam hulle verhoudings is. So is een vanmy vriende nou in ‘n verhouding wat so spesiaal en wonderlik is, dat dit ‘n mens eintlik inspireer daartoe om jou lewe beter te maak.

Jy sien, dit is dus nie net jy wat karma skep in jou lewe nie, maar ook dit wat jy toelaat om jou te beinvloed. Dit gebeur so maklik. Ek kan onthou toe ek dominee was en elke dag na soveel mense se verhoudingsprobleme geluister het, dat ek naderhand MY geloof in die sukses van verhoudings begin twyfel het. Ons praat so graag met ons kinders oor groepsdruk, maar laat ons dit nie in ons eie lewens toe nie? As almal om jou rook, gaan jy dink dat dit die norm is. Kom nou op ‘n plek waar jy die enigste roker is, skielik dink jy nie meer dat dit die norm is nie. Wees dus versigtig tussen wie en wat jy jouself bevind, want hoe jy ookal dink, jy is nie beskerm teen alles nie, dit gaan sit tog op jou wat ander dink en doen. Jy is nie ‘n eiland nie, maar deel van ‘n groot geheel van menswees. Moenie alles glo wat ander vir jou sê nie, onthou altyd dit is hulle lewens en probleme wat hulle het, as jy by hulle moet wees. Die ander alternatief is om te kies om eerder tussen die tipe mense te wees wat positief bydra tot jou denkwyse. Niemand het die reg om te veroordeel nie, maar almal het die keuse om te beoordeel by wie en in watter tipe situasies hulle wil wees. Onthou altyd die spreekwoord: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”.

Jy sien, elke woord en elke daad lei tot karma. Dit lei nie net tot karma in daardie omstandighede nie, maar tot karma vir die hele lewe rondom jou. Dit beinvloed jou ingesteldheid en lei weer tot dade wat jy soms nie weer kan terugkry nie. Dit is soos woorde wat geuiter is, jy kan die klippie wat jy gegooi het nie keer om sy rippels te maak nie.

Wees ook versigtig dat jy, alhoewel alles in die lewe nie afhanklik is net van jou en jou gedagtes nie, jy nie ander alleen verantwoordelik kan hou vir wat met jou gebeur nie. Jy sien, elkeen van ons is ‘n dammetjie met ‘n groot heining om. Alhoewel mense die klippies in jou dam gooi, is dit jy wat hulle toegelaat het om dit te doen. Soms is daar mense wat die “Reg van toegang” bordjie ignoreer, maar jy moet sorg dat dit opgesit is en almal om jou deeglik daarvan bewus is. Jy kan gaan kuier buite jou “hokkie”, maar dit is jou besluit oor wie mag inkom. Die bordjie gee jouself ook die reg daarop dat as jy voel dat hulle invloed op jou dammetjie nie positief is nie, jy hulle kan verjaag, sonder om redes daarvoor te gee.

Te veel mense laat toe dat mense hulle pragtige dammetjies fandaliseer. Onthou dit is jou lewe, jou dammetjie en jou keuse. Wees dus net so versigtig wanneer jy ander mense se dammetjies besoek, dat jy met liefde en deernis omgaan, want die klippies wat jy gooi kan jy nie terugkry nie, en dit veroorsaak slegte karma vir hulle en vir jou nie.

Skryf dus by jou eie dammetjie: “Reg van toegang voorbehou” en wanneer jy ander se dammetjies besoek: “Wees versigtig, elke klippie het ‘n rippeleffek”!

Saturday, January 14, 2012

15821 dae

Vandag is ek 43.32 jaar oud. Dit werk uit op 519.79 maande, 2260.15 weke en 15821 dae vandat ek gebore is. Sjoe, wat my vang is nie die jare nie, maar die dae. So sit ek nou vandag en ek kyk terug na daardie 15821 dae, en ‘n mens wonder wat jy gedoen het met soveel dae? Het jou lewe uitgewerk soos wat jy gedink het, en het jy daardie dae gevul met wat belangrik was? En ‘n mens kan nie anders as om te wonder hoeveel dae jy nog oor het om te leef nie.

Jy sien, wanneer jy die dae so aftel, sal dit interresant wees om te weet hoeveel daarvan jy werklik gelukkig was en of jy sinvol daarmee omgegaan het. Dit maak ‘n mens natuurlik skrikkerig om te besef dat jou ouderdom nie iets is wat in jare alleen getel word nie, maar ook in dae en natuurlik ure en minute. Om terug te kyk is altyd ‘n goeie ding, want dit help ons om te besef hoe kosbaar die lewe is.

In die laaste klompie jare het ek mense vir wie ek baie lief is aan die dood afgestaan. Ek het gesien hoe iemand met sy laaste stukkie krag die tyd uitkoop en probeer om nog ‘n dag, nog ‘n week en nog ‘n jaar te leef. Die stryd van iemand om so aan die lewe te bly maak ons natuurlik hartseer, maar dit moet ons ook help om anders te kyk na ons self.

In soveel boeke oor self help word daar verwys na “scripting”. Dit is nou om vir jou ‘n tipe draaiboek te skryf oor hoe jy graag jou lewe wil rig. Ek is nogal die laaste ruk baie besig met my eie draaiboek. Dit is amper soos om jou biografie nou al te skryf en vorentoe te kyk, eerder as agtertoe. Die vraag is net wat die basis daarvan moet wees.

Elke liewe dag stoei ons met die gedagtes in ons koppe, maar die basis van jou biografie is en moet altyd opgesluit wees in die gevoel wat jy kry wanneer jy die dae van jou lewe aftel. Jy is spesiaal, jy het die reg om hier te wees en alles is net genade.

Jy sien, vir eeue het mense geveg vir bestaansreg, vir die gevoel dat jy net ‘n nommer kan wees en stemreg het. Vroue en minderheidsgroepe veg steeds oor die hele wêreld vir stemreg. Daardie gevoel wat jy in jou binneste kry dat jy regte het en dat jy spesiaal is. Spesiaal beteken nie dat jy op ‘n tydskrif se voorblad moet verskyn nie, maar dat jy spesiaal genoeg is om in tel te wees. Daardie gevoel dat iemand jou raaksien vir wie jy is, en dat die feit dat jy jy is, genoeg is vir hulle.

Eintlik veg ons onsself moeg daagliks sodat ons in tel kan bly. Veg ons vir iets wat ons eintlik nie in ‘n draaiboek hoef te skryf of eers in die laaste hoofstuk van jou biografie word nie, maar iets wat jy jou kleim oor afsteek. Iets wat jy net eenvoudig het, maar wat dalk dormant in jou hart is. Iets wat in jou en deur jou en om jou IS. Die draaiboek van herontdek wie jy is, en tevredenheid met daardie persoon.

Jy sien, vir lank in my lewe het ek probeer veg om iets te word en te wees vir mense wat ek gedink het HULLE wil he ek moet wees. Ek het in ander mense se toneelstukke gespeel en so hard daaraan gewerk dat ek totaal vergeet het dat daar my eie spel is. Ek het vergeet dat ek spesiaal genoeg is en die reg het om my eie ideale na te streef. Ek het my ideale en doelwitte by die deur uitgegooi en ek het ter wille van ander ook groot veranderings gemaak, ten koste van myself. Ek het die reg om te droom. Ek het die reg om die genade van bo ook oor myself toe te wens en nie net oor ander nie. Ek het die reg om vir myself te leef. Ek mag!

Wanneer jy dit doen, maar jy elke dag en uur van jou lewe sinvol in die rigting van jou selfverkose lewe. As jy dit nie vir jouself toewens nie, en deel maak van wie jy is nie, gaan en sal dit tog nie saak maak hoeveel ure of dae jy leef nie, en hoekom sal jy dan veg om aan die lewe te bly?

Die bybel stel dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Dit begin natuurlik altyd by liefde vir jouself. Selfsug het so ‘n vloekwoord geword en as iemand hulle kleim afsteek oor hulle lewe of standpunt inneem dan is jy egoisties of hardkoppig. Ons ontneem onsself van selfregte deur ander se kritiek. Ons ontneem onsself van dinge, want ons het nie liefde vir onsself nie. Dalk is die probleem nie selfsug of egoisme of hardkoppigheid in die wêreld nie, maar juis die tekort daaraan dat ons onsself toelaat om te leef. Dalk is die wêreld se spiëel van liefdeloosheid spesifiek die oorsaak dat ons nie onsself spesiaal genoeg ag om onsself lief te hê nie.

Wanneer jy so aan die begin van die jaar jou dagboek inskrywings maak met al die vakansiedae en wat gedoen moet word, maak seker dat jy bo-aan elke dag skryf, EK IS SPESIAAL, EK MAG en aan die einde van elke dag EK HET!

Friday, December 23, 2011

Die kuns van niks doen

Vanoggend staan ons op en met al die mense in die huis was die huis maar in chaos gedompel. Die bediende is op verlof, so dit is maar ons werk nou om die huis skoon te maak. Skottelgoed was, vloere skoonmaak en stofsuig. Nou sit ek hier en ervaar hoe lekker skoon alles is, tot die eerste kind weer begin verbystap met ‘n broodjie in ‘n skoon bordjie. Aai, so begin alles weer van voor af.

Een ding is seker en dit is dat ons nie kan funksioneer in chaos nie. Alhoewel almal weer gaan omkrap is dit beter dat hulle omkrap nadat ons skoongemaak het. As hulle verder omgekrap het sonder dat ons skoongemaak het kan ek net dink hoe die chaos sou vermenigvuldig het. As daar 2 borde is om gewas te word is ‘n mens se gemoed lig en pak jy dit vinnig aan. As die hele wasbak vol skottelgoed van 5 dae is, voel ‘n mens sommer depressief en sleg. Dan voel dit soos ‘n berg om geklim te word. Dan voel ‘n mens nie eers lus om ietsie lekker aanmekaar te slaan nie. En sodoende verloor ‘n mens sommer totaal jou lus vir alles as alles om jou deurmekaar is.

‘n Mens se siel wil maar eenvoudig funksioneer met ‘n mate van orde en beheer. Alhoewel ‘n mens op vakansie bietjie wil rus, kan ‘n mens ook nie rus voordat alles nie mooi skoon en op hulle plek is nie. Ons omstandighede om ons is ongelooflik belangrik vir ons siel. Net soos die wereld rondom ons skoon en mooi en georganiseerd moet wees, het ons siele en gedagtes dit ook nodig. Ek onthou dat mense jare terug die tyd en moeite gedoen het om in die oggende stil te word voor die harwar van die dag begin. Geleentheid gemaak om hulleself te orden en reg te skud en te beplan.

Ons wereld is gejaag en vol klanke en geluide rondom ons. Stilte is moeilik om te kry. Soos ek hier sit en skryf hoor ek die hardeskyf, ek hoor die ander rekenaar se waaier, ek hoor Mickey Mouse Clubhouse se liedjie op die televisie en elke nou en dan ‘n kind wat skree of ‘n BBM wat deurkom en ‘n foon wat lui. Sit nou daar waar jy is en let bietjie op hoeveel geluide jy hoor en of stilte enigsins te vinde is. Ek dink nie ons besef hoeveel klanke en geluide ons elke oomblik om ons hoor nie, en dit alles moet gefilter en uitgeblok of ingeneem word. Daar gaan altyd geraas wees, net soos wat daar altyd kinders gaan wees wat hulle speelgoed die hele vloer rondgooi en weer vuil maak.

Ek is nogal iemand wat baie sukkel om stil te word. Selfs toe ek gestudeer het was my musiek aangeskakel. Ek lees graag terwyl ek voor die televisie sit. Soms speel ek op die internet terwyl ek iets anders doen. Ek voel ek moet die hele tyd besig bly met iets. So het ons kindertjies in ons huis wat die hele tyd mors en speel. Om hulle te kry om stil te sit of te bly is maar moeilik, net soos wat die geraas om jou bitter min gaan stil word. Soos ek my kinders leer, so leer ek myself ook om soms stil te word en niks te doen nie. In die film “Eat, Pray, Love” word ‘n oulike term gebruik naamlik “The art of doing nothing”.

In hierdie vakansietyd gaan mense probeer rus. Ek sukkel daarmee om die kuns van niks doen te bemeester. Ek wil die hele tyd met iets besig wees en sukkel om af te sluit. Maar dit is nodig, al is dit net vir ‘n oomblik of twee op ‘n dag. Die kuns om absoluut stil op ‘n plek te sit, sonder ‘n telefoon in jou hand, sonder ‘n boek en sonder enigeiets wat jou aandag kan aftrek van jouself. Erens moet jy begin om die skottelgoed in jou kop te was. Erens moet ‘n mens daardie stilte kry en skoonmaak voordat die geraas en die stress en die spanning weer begin.

In die Oosterse godsdienste word die term gebruik dat daar in ‘n teekoppie wat vol is nie meer plek vir nog tee is nie. So is dit ook met ons. Op een of ander stadium word die geraas om jou soveel dat jy moet begin klanke sagter en af sit om plek te maak. Daardie gevoel dat jy net eenvoudig nie kan dink nie omdat jou kop te vol is.

Watter tegniek jy ookal toepas om dit gedoen te kry maak nie saak nie. Die tipe skottelgoedseep wat jy gebruik is nie belangrik nie. Dis nie belangrik of jy met staalwol of ‘n lappie die skottelgoed was nie. Die belangrikste is om die skottelgoed gewas te kry en orde te skep. Jy sal voel of ervaar dat die oomblik wat jy kop skoongemaak het, jy skielik weer kans sien vir nuwe dinge. Jy sal weer lus word om spesiale dinge te doen en ‘n nuwe dis op te toor.

Soms is ons so vasgevang in die draaikolk van ons gedagtes dat ons aan niks nuuts of mooi kan dink nie. So sien ek mense om my wat hulleself deur tyd so vasgedraai het in ‘n manier van dink en nooit meer anders kan dink nie. Omdat hulle nooit die skottelgoed was nie, hoop die skottelgoed op en op. Later kan hulle nie meer ander se sienswyses aanvaar nie.

My rekenaar is die laaste ruk vreeslik stadig omdat daar nie meer vreeslik baie plek is nie. Toe begin ek om die rekenaar te “defrag”. Dit orden net weer al jou data en groepeer die informasie wat belangrik is bymekaar. Die oomblik toe ek dit klaar gedoen het is daar skielik weer plek en spoed. Gebruik hierdie tyd van rus en “defrag” so ‘n bietjie jou kop en was die skottelgoed om plek te maak vir alle nuwe idees en uitdagings wat vir jou wag in die nuwe jaar.

Geniet die vakansie!

Mojo

In die film “Austin Powers” word die storie vertel van die geheime agent wat sy Mojo verloor. Sy Mojo is die brandstof wat hom spesiaal maak. Dit is sy essensie en dit wat hom definieer. Dit is dit wat hom motiveer om homself te wees. Sonder dit kan hy nie leef nie, lag niemand vir hom nie en kan hy nie werklik funksioneer nie. Sonder sy Mojo kan hy dus nie wees wie hy moet wees of doen wat hy moet doen nie. Hy gaan dus op ‘n spesiale missie en reis om hierdie Mojo van hom terug te kry, totdat hy uiteindelik weer homself is en spesiaal kan wees.

Ek, en soveel mense om my, voel baie kere in die lewe presies dieselfde. Dit voel vir jou asof iemand jou essensie, jou visie, jou drome, jou ideale, jou menswees of jou siel van jou gesteel het en êrens in ‘n plek in ‘n konfytbotteltjie gebere het. Nou voel jy asof jy geen petrol het nie. Jy is nie meer ‘n aktiewe deelnemer aan die lewe nie, maar sit langs die kant van die rivier en beskou almal wat aangaan en lag en speel in die rivier wat by jou verbyvloei. Jy sien selfs die “evil villains” wat verantwoordelik kan wees. Jy bekyk hulle en hoor en sien daardie “evil laggie”, Ha-Ha-Ha-Ha wat hulle so uit hulle maag uit kraai. Jy voel asof jy totaal magteloos is en dat jy eintlik net in ‘n bondeltjie wil opkrul en vergaan.

Vir jou is dit erg, want te midde van wat in jou kop en hart gebeur, vloei die rivier steeds. Mense speel en lag en dit voel asof hulle by jou moet kom sit en alles moet “pause”, omdat jy so voel. Jy dink in jou hart dat hulle onsensitief is vir jou gedagtes en gevoelens. Hulle hanteer jou met disrespek. Austen Powers het so van partytjie tot partytjie gegaan en ook hartseer gevoel. Hy het nie geweet hoe om op te tree nie, want hy was nie homself nie.

Iemand het een keer vir Paolo Coelho gevra wat jy moet doen wanneer jy so voel. Hy het ‘n wonderlike antwoord gehad: “Get up and show up”. Dit is seker die beste raad wat jy iemand kan gee, want net soos Austen Powers is wat jy soek, stroomaf. Daardie botteltjie van dinge wat jou aan die gang hou is vorentoe. Coelho het ook ‘n vreeslike oulike boek daaroor geskryf: “Like a flowing river”. Die lewe is maar een keer so, jy moet saam met die vloei gaan, jy kan nie terugkyk nie, want dit is die verlede. Jy moet in die rivier wees. Jy kan net wen as jy in die wedloop is.

Miskien is dit vandag jou oomblik om nie noodwendig net in te spring in die water nie, maar dalk net jou voete vir eers in die water te sit, dan tot by jou boude, dan tot by jou skouers en dan jou kop onder die water te druk. Nie alles hoef in een oomblik en onmiddelik te gebeur nie. Dit neem baie keer tyd.

Soms voel dit asof jy nie mojo het om vorentoe te gaan nie. Maar, daar is gewoonlik so ‘n bietjie in reserwe wat jy oor het. As jou geel brandstofliggie aangaan, moenie vandag daardie klein bietjie mors en by die huis sit en nie ‘n vulstasie gaan soek nie. Die wêreld is deesdae volop met plekke en situasies waar jy jou kan gaan vol maak. Gaan lees ‘n boek, gaan kuier by iemand of kyk ‘n mooi film. Toe ek ‘n student was met min geld het ek nooit my motor vol gemaak nie. Ek het daardie R20 ingegooi om te kom waar ek wil wees, van bestemming tot bestemming. As jy laag is en laag voel, moenie kwaad wees en niks doen net omdat jy nie kan “vol” maak nie. Elke groot reis in die lewe begin met ‘n enkele tree.

Ek het al die voorbeeld gebruik van maagspiere. Jy gaan nie die eerste dag, of die eerste week die totale uitslag sien en ‘n sespak kry nie, al doen jy vandag 5000 opsitte. Om jou mojo terug te kry vat ‘n eerste stappie, staan op en raak betrokke. Doen net iets. Mense sit stil en doen niks nie as hulle nie die volle brandstoftenk kan vol kry nie. Baie kere vra die plekke waar jy wil wees nie ‘n volle brandstoftenk nie, maar dalk net R20. Ons is so ingestel om dinge perfek te kry, dat ons die klein dingetjies mis.

My ma en oom Corrie het vreeslike oulike dinge gedoen. Hulle het byvoorbeeld uitgegaan en gekyk watter lekker dinge hulle vandag kan doen met R20. Jy sal verbaas wees oor die lekker en mooi wat jy kan ervaar. Hierdie jaar bly ons Desember by die huis, en net omdat ek nie by die see is nie, beteken gladnie dat ek nie kan gelukkig wees nie.

Een ding wat jy gaan ervaar is dat as jy elke dag net ‘n klein bietjie brandstof in jou motor gooi, jy kort voor lank met ‘n vol motor gaan sit as jy kort ritte doen. In babatreetjies kom ‘n mens ook in die kraal.

Ons leef in ‘n land waar ‘n mens maar altyd bang is vir mense wat jou gaan aanval. Natuurlik is daar gevare in alles. Meeste ongelukke gebeur naby jou huis, of so sê die mense. Die lewe is vol dinge wat nie lekker is nie, of jy ervaar dit nie lekker nie. Mense gaan jou teleurstel op jou reis, maar op dieselfde reis is daar ook mense wat jou gaan gelukkig maak. Net omdat daar moontlike gevare op die pad is, beteken nie dat jy by die huis moet bly nie. Jy moet in die rivier wees om te kan leef, al is daar kolkgate en gevare. Wat jy soek en jou bestemming is afstroom.
Die beste ding van alles is dat daar baie maniere is om jou Mojo terug te kry. Jy sien, soos alles dink ons dat dit van buite kom, gewoonlik omdat omstandighede rondom ons gebeur wat baie keer daartoe lei dat my mojo laag voel. Mense maak my seer, stel my teleur en is nie werklik op my ingestel nie. Jy kan maklik voel asof die lewe uit jou uitgesuig word deur mense en omstandighede. Jy kan maklik dink dat daar “evil villains” is wat jou elke dag aanval.

Superhelde het gewoonlik super kragte, maar te midde van dit het hulle ook iets wat hulle kan oorwin. Superman kon nie sy kragte gebruik as daar Kryptonite is nie. Hy het sommer in ‘n klein bondeltjie opgekrul as daardie groen klippies naby is. Ek wonder vandag wat ons kryptonite is? Wat is dit wat ons oorwin dat ons nie ons kragte kan wys nie? Dit is ook nie altyd die geval net van buite nie, maar ons sien ook dat hulle soms ‘n sielewroeging ondergaan waar hulle hulleself saboteer. Waar hulle in hulleself moet veg teen die seer binne in hulle of die verlies aan iemand naby of ‘n geveg wat verloor is. Soms twyfel hulle ook in hulleself en voel ook sonder mojo.

Maar superhelde wys daardeur vir ons dat hulle ook menslik is. Dat hulle ook te midde van alle suksesse ook soms mojo-loos voel. Dat hulle ook interne stryd het soos ek en jy. Maar, hulle veg steeds voort te midde van hulle tekortkominge. Hulle gaan haal uit daardie reserwetenk die laaste stukkie mojo wat hulle het om te oorwin. Die kragte en magte wat hulle het is nie wat hulle super maak aan die einde van die dag nie, maar dat hulle opstaan en vorentoe beur en steeds probeer.

In die kerstyd dink ons aan die wonder van Jesus se geboorte. Jesus het te midde van wie en wat Hy was ook die kryptonite van menslikheid gehad. So het Hy aan ‘n kruis gehang en gesterf. Hy het ook nie kragte gehad nie maar in Sy laaste asem het Hy hom beroep op Sy “reserwetenk”, en Sy gees oorgegee aan God. Daarin is ook ‘n voorbeeld vir ons. Ons is ook uitgelewer aan die menslikheid van die lewe, aan depressie, siekte, stryd en mense wat ons wil kruisig. As jy dus gladnie meer weet wat om te doen nie, as dit voel asof jy nie in die water kan klim of enigsins kan lewe nie. Wanneer jy dink dat daar geen hoop meer is nie en jy alles probeer het om vorentoe te beur, maar nie kan nie. As jy voel dat jy wel in die rivier is, maar dat die stroomversnellings vir jou te erg is om te hanteer of dat ander mense op jou reis jou onder die water druk en jy nie meer asem kry nie. Weet dan verseker dat daar altyd die hoop is dat God daar is vir jou. Hy gaan dalk nie jou vul met ‘n vol tenk mojo of uit die rivier red nie. Dalk gaan God wel vir jou ‘n boomstomp stuur wat jou kan regop hou totdat jy weer in kalmer water is.

Die reserwetenk in jou lewe is dus die geloof in God en dat vir God alles moontlik is. Dit is volgens my die boodskap wat Jesus gebring het, God gee soooo baie om vir my en jou dat Hy Sy seun gestuur het om, te midde van enige omstandighede, vir ons mojo te wees en te gee. Om te glo dat dit wat ons nou beleef deel van menslikheid is, en dat daar stroom-af vir my en vir jou kalmer waters is waar die dinge vir ons beter en gemakliker gaan wees. Daardie plek waar ons vrede en harmonie gaan kan ervaar. So het Jesus gekom om vir my en jou hoop te gee, en my en jou te vul met die mojo wat ons vandag nodig het om te kan leef!

Geseënde Kersfees vir almal in die hoop dat God jou vandag sal dra en jou sal vul met die nodige mojo dat jy kan regop bly en die mens kan word wat God jou bestem het om te wees, wat ookal met jou gebeur!

Wednesday, December 14, 2011

Kristalglase

Vanoggend staan ek voor die kas in die kombuis met die glase in om vir my ‘n glas water in te gooi. Ek sien al die tipes glase wat daar is en besluit dat ek net ‘n pilletjie wil drink, so ek het seker nie nodig om ‘n kristalglas uit te haal nie, ek kan sommer ‘n ou lelike een vat. Nee, hoekom? Hoekom het ons die mode om altyd die mooi en spesiale te bêre vir ‘n spesiale geleentheid?

Die antwoord daarop sal seker individueel wees, maar dit wys ons iets van ons ingesteldheid teenoor die lewe. Ons wag altyd vir spesiale dinge, tye en geleenthede voordat ons onsself en mense om ons laat spesiaal voel. Gisteraand kyk ek “How I met your mother” waarin Barney sy meisie op ‘n spesiale “date” vat. Hoekom kan elke dag en elke “date” nie spesiaal wees nie? Hoekom is ons altyd maar tevrede om ‘n “gewone” dag te ervaar en gediend te wees om uit die ou en die lelike glas te drink? Ek wonder maar net of dit nie die rede is dat ons soveel mismoedige mense om ons sien nie.

Dit is nou een van die lesse wat ek my kinders wil leer, en dit is om elke liewe dag die beste te verwag, uit die mooiste glase te drink en jou mooiste klere aan te trek. En die rede is dat dit jou goed en lekker en spesiaal laat voel. Wat maak dit nou saak as jy jou nuutste skoene aantrek as jy in die sandput gaan speel? Jy gaan in elkgeval uit dit uitgroei nog voordat jou skoene verwoes is. Iemand het een keer gesê dat ons baie by kinders kan leer oor hoe om die lewe te geniet. As ‘n grootmens en ‘n kind in die pad afstap en daar is ‘n poel met water, sal die grootmens om die poel stap, maar die kind sal inspring en speel.

Dit voel vir my asof ons soms die lewe te ernstig opneem. Dalk is dit omdat ons “gebruiksglase” in ons kas met ons saamdra. Ons ag onsself ook soms nie waardig of spesiaal genoeg dat dit ‘n kristalglas roep nie. So word ons lewe saai en afgemat, en kort voor lank is jy maar gediend om uit plastiekglasies te drink en later sommer so uit jou hand.

Daar is rykdom in eenvoud, sal ek met jou saamstem. Ek stem saam daarmee dat as jy uit ‘n plastiekglasie moet drink jy ook jou lewe kan geniet. Ek is ook iemand wat stop en aan die rose ruik en dankbaar is vir wat ek het.

Ek dink dat ons “gewone” lewens het, omdat ek en jy dink dat ons nie waardig is en waarde het nie. Ons dink dat ons nie verdien om uit die kristalglase te drink nie. Miskien kom dit uit ons kinderdae wat ons ouers vir ons plastiekglasies gegee het, omdat hulle bang was ons dit breek. Dit is baie prakties, maar miskien het dit ons geleer dat ons nie waardig is nie, en dat ons onsself nie kan vertrou met die spesiale dinge van die lewe nie. Vandag, en ek, is nie spesiaal genoeg vir die mooi van die lewe nie, en daarom is ek tevrede. Dan dink ek allerhande verskonings uit om die ontevredenheid van my siel weg te steek en “vrede” te maak met my lot.

Miskien is dit ook een van die redes hoekom ons nie meer droom nie, en die hele tyd vir mense om ons vertel om “realisties” te wees. Dalk sou ons almal soos Superman kon vlieg as almal ons nie die hele tyd afgebring het aarde toe nie. Dalk sou ons in ons geloof berge kon versit as ons geloof in die moontlikheid daarvan so groot soos ‘n mosterdsaadjie was. Dalk sou ons elke dag meer kon geniet as ons genoeg geglo het dat elke dag spesiaal is, en elke oomblik kristalglas-kosbaar.

Hoeveel keer het ons nie al gesien dat wanneer iemand tot sterwe kom en ons hulle besittings gaan oppak, hoeveel mooi kristalglase daar nog in hulle verpakking is, of hoe mooi lingerie daar in die kas is wat nooit gedra is nie. Gewag vir ‘n spesiale geleentheid? Die feit dat dit nog in die verpakkiing is, beteken dat die persoon nooit enige geleentheid of enige dag as spesiaal genoeg ge-ag het nie. Dit laat my dink aan die woorde van Prediker dat daar nie sin in die lewe is nie en ‘n mens alles nalaat vir iemand na jou. Dalk is die rede dat die prediker dit nooit gebruik het nie, en dit die rede is vir sy aanhoudende klaagliedere.

Dit is nie net in ons besittings waar ons opgaar vir eendag of ‘n spesiale geleentheid nie, maar ook in ons eie menswees. Ons wag vir iets om te gebeur of vir ‘n spesiale geleentheid om ons drome en eie menswees uit te leef. Ek lees baie boeke oor menslike groei, en twee konsepte kom by almal voor. Die eerste is dat jy jouself moet ken en moet spesiaal ag. Die tweede is dat jy nie moet wag om die mens te wees wat jy graag wil wees nie, maar nou en vandag moet leef.

Wat het van jouself geword en jou drome? Deel jy dit nog met jouself en leef jy jou droom? Glo jy dat jy spesiaal en uniek is en dat jy die beste verdien, of plaas jy jouself, jou drome en talente onder die maatemmer?

Gisteraand sit ons en gesels oor ons kinders en hulle toekoms. Ons sit en praat oor hulle drome en ideale. Toe wonder ek so in my innigheid of ek myself ook so spesiaal ag soos ek my kinders ag. Of ek steeds glo dat ek alles kan vermag wat ek wil, vandag? Kan ek toepas wat ek preek, en hoe moet my kinders vlerke kry en leer vlieg as hulle nie sien dat ek vlieg nie. Gaan ek vandag my “kristalglase” uithaal en voluit leef, of gaan ek myself wegbêre, en tot wanneer? Vir hoe lank gaan ek mense en situasies die oorhand gee oor my? Deel jou droom met mense, en as hulle kommentaar lewer is dit net ‘n opinie, en nie noodwendig die waarheid en finale uitkoms nie. Hoeveel van jou drome het jy opgegee om ander tevrede te stel? As jy spesiaal genoeg oor jouself voel, sal jy jou droom nie laat vertrap op grond van ander se opinies nie.

As jy gaste onthaal en jou beste Noritake en kristalwynglase uithaal, voel nie net jy en die geleentheid spesiaal nie, maar veral die mense wat jy onthaal. Hulle voel goed omdat jy HULLE belangrik genoeg ag om moeite te doen. Om mense om jou gelukkig te maak en spesiaal te laat voel in JOU lewe, gaan pak daardie spesiale jy uit en leef spesiaal elke dag. Mense gaan dan voel dat jy HULLE belangrik genoeg ag om die wonderlikste self in jou met hulle te deel.

Gaan drink vandag met oorgawe uit jou kristalglase, jy is spesiaal genoeg!

Thursday, September 8, 2011

“Wag-‘n-bietjie” bos

As jy al in die bosveld was, sal jy hierdie tipe bos ken. ‘n “Wag-‘n-bietjie” bos het die interresantse dorings. Dit is nie soos ‘n pendoring wat reguit is nie, het die tipe bos ‘n haak en steek en krom doring. Dit is klein, en daar is soveel daarvan. Wanneer hierdie doring jou haak, gaan jy maklik verstrengel raak en dit is moeilik om uit die bos uit te kom sonder pyn en skeure. Gewoonlik haak die eerste doring jou, en soos jy probeer om los te kom, haak die volgende een jou en so gaan dit aan.

Toe ek laas gaan jag het, en so vasgesit het in een van die bosse, toe dink ek dat daar baie dinge in ons lewens is wat dieselfde met ons doen. Onskuldig raak ons so verstrengel en dit is nie maklik om los te kom nie. Dit wil voorkom of hierdie dinge soos ‘n maalkolk ons intrek en nie wil los nie.

Daar is ‘n oulike storie oor die man wat van Pretoria na Kaapstad gereis het vir besigheid. Die dag voor hy ry, het sy seuntjie die domkrag uit sy pa se motor gehaal om sy fiets reg te maak en dit nooit teruggesit nie. Die man klim nikswetend in sy motor en in die karoo teen skemer kry hy ‘n pap wiel. Toe hy die baggasiebak oopmaak, sien hy dat die domkrag nie daar is nie. In die verte sien hy ‘n liggie brand, en besluit om maar soontoe te stap. Terwyl hy so stap dink hy allerhande dinge. “Die boer gaan seker dink ek is simpel om nie seker te maak die domkrag is in die motor nie”. “Die boer gaan seker dink dat ons stadsjapies eenvoudig simpel is omdat ons nie vir onsself kan dink nie”. So gaan hy aan en aan en aan in sy kop. Uiteindelik klop hy aan die deur van die huis en toe die boer die deur oopmaak is die man so opgewerk dat hy sê: “Hou maar jou domkrag!”

Ons denke is baie keer soos ‘n “Wag-‘n-bietjie” bos. Aan die begin lyk dit onskuldig wat ons dink, maar ons raak maklik in die maalkolk van denke deurmekaar en vasgevang. Die man in die verhaal het homself so verstrengel laat raak dat hy seker nou nog langs die pad sit. Sy denke het soos ‘n rookwolk gesneeubal oor die essensie van wat nodig was, die domkrag.

Natuurlik is dit moeilik om te onderskei altyd tussen denke en emosies, maar ons emosies het ‘n groot rol te speel oor wat ons dink en doen. Ons eie ek en ego en selfredding staan reglynig in die pad van wat ons in essensie uit die lewe soek. Vasgevang in ‘n denkwyse en aksies wat moeilik oorkombaar is, dat ons nie vorentoe kan beweeg, onsself werklik kan uitleef of kan kry wat ons in essensie soek nie. Wees versigtig dus aan wie en wat jy jouself blootstel. Die Bybel sê uitdruklik dat ons nie die duiwel ‘n vatkans moet gee nie.

Ek het vir baie jare gerook. Toe opgehou vir 6 ½ jaar. Ek het gedink dat ek nie weer sal begin om te rook nie. Toe het ek stelselmatig vir mense begin sigarette opsteek, toe begin intrek en kort voor lank het ek weer voluit gerook. Nou rook ek meer as ooit tevore. Jy sien, dit is presies waar ek die vatkans toegelaat het. Ek het gedink dit is onskuldig en dat ek nie weer verslaaf sal raak nie. Ek het gedink ek is baie slim, maar slim het sy baas gevang.

Nou wat doen ‘n mens in hierdie verweefde situasies?

• ‘n Mens moet natuurlik uitkyk en op jou hoede wees vir sulke bosse. Moet in die eerste plek nie in die penarie beland nie. Bou filters in jou lewe in wat soos radar die dinge wat nie goed is vir jou nie en tot hartseer gaan en kan lei kan optel. Ek glo dat geen mens nie weet wat die regte ding is om te doen nie. Daardie klein stemmetjie in jou wat jou voor die tyd waarsku om iets nie te doen of te lees nie. Niemand het gesê dat alles wat jy doen OK is nie. Soms, al het jy jou oog op die rooibokkie, moet jy dalk, te midde van die gevaar, ‘n ompad neem om daarby uit te kom.

• Wees in daardie asem ook versigtig wie en wat jy om jou toelaat. Iemand het een keer gesê dat jy die gemiddeld is van die 5 mense wat jy naby jou toelaat. Onthou altyd dat die mense om jou hulle eie filosofie indra in raad, en dat hulle ook net vir jou subjektiewe raad gee, want hulle hoor die storie net van een kant. Ek hoor baie keer dat mans negatief oor vrouens en verhoudings praat, en dan wonder ‘n mens hoekom dit nie goed gaan in hulle verhoudings nie. Vermy die praatjies en die dinge wat nie goed sit met jou siel en jou doelwit nie. Wanneer ek gaan jag, trek ek ‘n groot dik baadjie aan. Die baadjie is nie net vir die koue nie, maar beskerm my ook teen die haak en steek bossies van die lewe. Alhoewel die bos my wel gryp, gryp dit die baadjie en nie my vel nie. In essensie kry ek nie seer nie, want ek het ‘n skans gebou tussen my en die dorings.

• Wanneer jy nou wel in die situasie is en vassit, is dit belangrik om kalm te bly en rustig te word. Hoe meer jy spartel en beweeg, hoe meer van die dorings gaan jou gryp. Ons leef in ‘n wêreld waar ons geleer is om altyd aksie te neem as iets gebeur. Die oosterse godsdienste leer ons dat in stil en rustig word die antwoorde lê. Gaan staan stil, word rustig en kyk na die situasie om jou met objektiewe oë. In rustigheid alleen kan jy loskom uit enige situasie waarin jy is. In objektiwiteit en rustigheid kan jy die regte besluite neem. Ja, en alles in die lewe is ‘n besluit. In jou rustigheid kan jy beplan.

• Begin op ‘n punt. Jy kan nie al die dorings op een slag afhaal nie. Die krag van die enkele doring is min, maar die gesamentlike krag van almal maak dit onmoontlik om los te kom. Wanneer jou lewe dalk voel asof dit nie sin maak nie en ‘n malle vasgewikkel is, word rustig en begin by die dinge waaroor jy beheer het. Fokus op die enkele doring.
• Moet ook nie met allerhande ander dinge betrokke raak en paniekerig word nie. Sommige mense is verstrengel in soveel dorings van verskillende bosse dat hulle nooit daar kan uitkom nie. Fokus nie net op die enkele doring nie, maar fokus daarop om te prioritiseer en eers een ding af te handel voordat jy ‘n nuwe aanpak. Soveel hartseer en ongeluk in verhoudings kom van die feit dat jy twee mense kry, vasgevang in ou gewoontes en idees en pyn, wat elkeen vassit in hulle eie bosse, en dan probeer hande vat. Sorteer jouself en jou eie dorings uit.

• Jy kan ook nie vir ewig in die bos vassit nie. In die jagveld is daar altyd ‘n saak van water, kos, donker en leeus. As jy so vasgevang is, kan jy eintlik basies niks doen of vlug nie. Jy kan geen kant toe beweeg nie. Weet dus dat daar gevaar is in vassit. Rook is hier ‘n goeie voorbeeld. Ek weet die gevaar van siekte en dood staar my in die oë, maar as ek nie die dorings van die gewoonte een vir een begin losmaak nie, gaan ek tien teen een in die moeilikheid kom.

• Jy het soms hulp nodig. Ons erken dit nie altyd nie, daar is dorings wat jy nie kan bykom of sien nie, en daarvoor het jy hulp nodig. Ons moet ophou om soos klein kindertjies te wees wat alles self wil doen. Mense wat jy kan vertrou rondom jou sien dorings raak wat jy nie eers van weet nie. As die dorings so diep gesny het, het jy dalk ook beter hulp nodig soos ‘n dokter. Moenie probeer om alles in die lewe self te wil doen nie, luister na die mense om jou en moenie te hardkoppig wees nie.

• Om die dorings uit te haal is seer en gevaarlik. Op een of ander stadium, gaan die vassit jou pyn veroorsaak. Ongelukkig moet jy dan maar die pyn vat, want sonder pyn gaan jy nie so maklik loskom nie. Baie mense sit eerder in die bos vasgewikkel vir altyd omdat hulle bang is vir die pyn. Eerder sal hulle doodgaan van die honger en dors en deur leeus gevang word. Onthou, die pyn wat jy moet deurgaan van ‘n doring in die vinger, is dalk ‘n klein opoffering nou, maar dalk spaar dit jou van soveel groter en erger pyn later in jou lewe.

• Soms moet jy maar jou baadjie offer vir die doring-gode. As jy nou gesukkel en gesukkel het, kan dit soms wees dat jy, vir redding van jouself, jou duur en mooi baadjie net daar in die dorings moet los en wegstap. Dit is natuurlik nie so ‘n maklike besluit nie, maar soms is dit die enigste opsie wat oorbly.

Gaan ontknoop jouself!