Thursday, June 15, 2017

Moet op prinse nie vertrou nie

Ons leef in Suid-Afrika, en deesdae lyk die leierskap van ons land maar redelik beroerd. Al meer en meer kom ons op 'n punt waar hierdie vers van toepassing is. Maar die hele mensdom is nog van alle tye af vasgevang in die idee van om aan te haak by ander wat suksesvol is en status het. Ons gebruik baie die spreekwoord: "Success breeds Success" en "Vergader om suksesvolle mense en dan word jy ook suksesvol". Dit is die realiteit waarin ons altyd leef.

Wanneer ons 'n bekende persoon in die openbaar sien, dan neem ons graag foto's saam met hulle of vra vir hulle handtekening. Ons kyk op na sukses, en ons voel dan ook besonders as ons in hulle teenwoordigheid is. Ons voel hulle vibrasie en dit vloei ook na ons are toe.

Ek dink dan onomwonde aan 'n vriend van my oom, 'n Hollander, wat op besoek aan Suid-Afrika was 'n klompie jare gelede. Toe ons daardie Desember in Holland is, nooi hy ons en 'n paar ander mense vir ete. Na die ete vertel hy dat hy 'n verrassing vir ons het, hy het 'n "dokumenter" gemaak van 'n "onderhoud" wat hy met 'n huiswerker gemaak het, terwyl sy wag vir die bus. My eerste reaksie was nie so positief nie, want van al die dinge in Suid-Afrika is hierdie die hoogtepunt van sy besoek? Hy praat met haar oor haar ervarings en haar lewe, en my hart gaan oop vir wie sy werklik is. Sy staan 3 uur in die oggend op, neem 'n taxi, dan 'n bus en dan nog 'n taxi. Sy werk van 8 tot 5, verdien R2000 per maand, net om weer dieselfde trippie terug te doen en eers 9 uur die aand by die huis te kom. Dan breek die glimlag op haar gesig wanneer sy begin praat oor haar kinders en hoe trots sy op hulle is. Sy sien hulle omtrent nooit nie, maar sy offer tog op om vir hulle geleenthede te skep.

Wanneer ons na onsself en ons drome en ideale kyk, maak ons soms die groot fout om ons met ander te vergelyk. My droom is om te skryf, en ek leef daarvoor, maar wanneer ek na die groot geeste van ons tyd kyk, my "kompetisie", dan voel ek soms minderwaardig. Dit voel asof ek nie goed genoeg skryf om in hulle liga te speel nie. En dan soms, word ons mismoedig en gee ons op, want ons voel nie goed genoeg nie.

Wanneer ek egter die Bybel oopslaan, word ek verstom aan die mense wat ek van lees. Ek lees van Moses wat skaam was om voor mense te praat, Job wat eintlik homself baie jammer gekry het, Dawid wat bang was vir Goliat, Gideon wat getwyfel het, Simson wat verknog was aan Delilah en so gaan die verhale aan. Dit is insiggewend hoe God nie altyd die kies wat reeds suksesvol was nie, maar die wat in nederigheid gewone mense was, maar die regte hart openbaar het. Vat dan ook Jesus en hoe Hy vissermanne kies, by tollenaars gaan eet en prostitute se voete was. Dwarsdeur die Bybel word ons vergewis dat God gewone "krom stokke" gebruik om reguit houe te slaan.

Miskien voel jy in hierdie dag magteloos, onbeholpe en minderwaardig aan die wat om jou is. Dalk voel jy asof jy nie krag het om te doen wat jy moet doen nie. Dit is normaal om so te voel partykeer, maar nie omdat jy minderwaardig voel aan die mense om jou nie, die sogenaamde suksesvolle mense nie. Sien jouself soos God jou sien, bruikbaar in wie jy is en wat jy die wereld om jou kan bied, en dat God te midde van al die dinge wat jy kan opnoem hoekom jy nie dinge kan aanpak nie, tog met jou 'n reguit hou kan slaan. Solank jou hart opreg en oop is, is jy bruikbaar en kan jy mense se lewens verander.

Jy kan dit nou doen, vandag, moenie wag vir wanneer jy 'n prins is of 'n posisie beklee nie. Vir daardie huiswerker op die bankie, doen sy wat sy kan doen en binne haar beheer om die wereld 'n beter plek te maak. Sukses word nie gemeet in toekennings nie, maar in die mens en wat jy vir ander kan beteken!