Friday, December 23, 2011

Mojo

In die film “Austin Powers” word die storie vertel van die geheime agent wat sy Mojo verloor. Sy Mojo is die brandstof wat hom spesiaal maak. Dit is sy essensie en dit wat hom definieer. Dit is dit wat hom motiveer om homself te wees. Sonder dit kan hy nie leef nie, lag niemand vir hom nie en kan hy nie werklik funksioneer nie. Sonder sy Mojo kan hy dus nie wees wie hy moet wees of doen wat hy moet doen nie. Hy gaan dus op ‘n spesiale missie en reis om hierdie Mojo van hom terug te kry, totdat hy uiteindelik weer homself is en spesiaal kan wees.

Ek, en soveel mense om my, voel baie kere in die lewe presies dieselfde. Dit voel vir jou asof iemand jou essensie, jou visie, jou drome, jou ideale, jou menswees of jou siel van jou gesteel het en êrens in ‘n plek in ‘n konfytbotteltjie gebere het. Nou voel jy asof jy geen petrol het nie. Jy is nie meer ‘n aktiewe deelnemer aan die lewe nie, maar sit langs die kant van die rivier en beskou almal wat aangaan en lag en speel in die rivier wat by jou verbyvloei. Jy sien selfs die “evil villains” wat verantwoordelik kan wees. Jy bekyk hulle en hoor en sien daardie “evil laggie”, Ha-Ha-Ha-Ha wat hulle so uit hulle maag uit kraai. Jy voel asof jy totaal magteloos is en dat jy eintlik net in ‘n bondeltjie wil opkrul en vergaan.

Vir jou is dit erg, want te midde van wat in jou kop en hart gebeur, vloei die rivier steeds. Mense speel en lag en dit voel asof hulle by jou moet kom sit en alles moet “pause”, omdat jy so voel. Jy dink in jou hart dat hulle onsensitief is vir jou gedagtes en gevoelens. Hulle hanteer jou met disrespek. Austen Powers het so van partytjie tot partytjie gegaan en ook hartseer gevoel. Hy het nie geweet hoe om op te tree nie, want hy was nie homself nie.

Iemand het een keer vir Paolo Coelho gevra wat jy moet doen wanneer jy so voel. Hy het ‘n wonderlike antwoord gehad: “Get up and show up”. Dit is seker die beste raad wat jy iemand kan gee, want net soos Austen Powers is wat jy soek, stroomaf. Daardie botteltjie van dinge wat jou aan die gang hou is vorentoe. Coelho het ook ‘n vreeslike oulike boek daaroor geskryf: “Like a flowing river”. Die lewe is maar een keer so, jy moet saam met die vloei gaan, jy kan nie terugkyk nie, want dit is die verlede. Jy moet in die rivier wees. Jy kan net wen as jy in die wedloop is.

Miskien is dit vandag jou oomblik om nie noodwendig net in te spring in die water nie, maar dalk net jou voete vir eers in die water te sit, dan tot by jou boude, dan tot by jou skouers en dan jou kop onder die water te druk. Nie alles hoef in een oomblik en onmiddelik te gebeur nie. Dit neem baie keer tyd.

Soms voel dit asof jy nie mojo het om vorentoe te gaan nie. Maar, daar is gewoonlik so ‘n bietjie in reserwe wat jy oor het. As jou geel brandstofliggie aangaan, moenie vandag daardie klein bietjie mors en by die huis sit en nie ‘n vulstasie gaan soek nie. Die wêreld is deesdae volop met plekke en situasies waar jy jou kan gaan vol maak. Gaan lees ‘n boek, gaan kuier by iemand of kyk ‘n mooi film. Toe ek ‘n student was met min geld het ek nooit my motor vol gemaak nie. Ek het daardie R20 ingegooi om te kom waar ek wil wees, van bestemming tot bestemming. As jy laag is en laag voel, moenie kwaad wees en niks doen net omdat jy nie kan “vol” maak nie. Elke groot reis in die lewe begin met ‘n enkele tree.

Ek het al die voorbeeld gebruik van maagspiere. Jy gaan nie die eerste dag, of die eerste week die totale uitslag sien en ‘n sespak kry nie, al doen jy vandag 5000 opsitte. Om jou mojo terug te kry vat ‘n eerste stappie, staan op en raak betrokke. Doen net iets. Mense sit stil en doen niks nie as hulle nie die volle brandstoftenk kan vol kry nie. Baie kere vra die plekke waar jy wil wees nie ‘n volle brandstoftenk nie, maar dalk net R20. Ons is so ingestel om dinge perfek te kry, dat ons die klein dingetjies mis.

My ma en oom Corrie het vreeslike oulike dinge gedoen. Hulle het byvoorbeeld uitgegaan en gekyk watter lekker dinge hulle vandag kan doen met R20. Jy sal verbaas wees oor die lekker en mooi wat jy kan ervaar. Hierdie jaar bly ons Desember by die huis, en net omdat ek nie by die see is nie, beteken gladnie dat ek nie kan gelukkig wees nie.

Een ding wat jy gaan ervaar is dat as jy elke dag net ‘n klein bietjie brandstof in jou motor gooi, jy kort voor lank met ‘n vol motor gaan sit as jy kort ritte doen. In babatreetjies kom ‘n mens ook in die kraal.

Ons leef in ‘n land waar ‘n mens maar altyd bang is vir mense wat jou gaan aanval. Natuurlik is daar gevare in alles. Meeste ongelukke gebeur naby jou huis, of so sê die mense. Die lewe is vol dinge wat nie lekker is nie, of jy ervaar dit nie lekker nie. Mense gaan jou teleurstel op jou reis, maar op dieselfde reis is daar ook mense wat jou gaan gelukkig maak. Net omdat daar moontlike gevare op die pad is, beteken nie dat jy by die huis moet bly nie. Jy moet in die rivier wees om te kan leef, al is daar kolkgate en gevare. Wat jy soek en jou bestemming is afstroom.
Die beste ding van alles is dat daar baie maniere is om jou Mojo terug te kry. Jy sien, soos alles dink ons dat dit van buite kom, gewoonlik omdat omstandighede rondom ons gebeur wat baie keer daartoe lei dat my mojo laag voel. Mense maak my seer, stel my teleur en is nie werklik op my ingestel nie. Jy kan maklik voel asof die lewe uit jou uitgesuig word deur mense en omstandighede. Jy kan maklik dink dat daar “evil villains” is wat jou elke dag aanval.

Superhelde het gewoonlik super kragte, maar te midde van dit het hulle ook iets wat hulle kan oorwin. Superman kon nie sy kragte gebruik as daar Kryptonite is nie. Hy het sommer in ‘n klein bondeltjie opgekrul as daardie groen klippies naby is. Ek wonder vandag wat ons kryptonite is? Wat is dit wat ons oorwin dat ons nie ons kragte kan wys nie? Dit is ook nie altyd die geval net van buite nie, maar ons sien ook dat hulle soms ‘n sielewroeging ondergaan waar hulle hulleself saboteer. Waar hulle in hulleself moet veg teen die seer binne in hulle of die verlies aan iemand naby of ‘n geveg wat verloor is. Soms twyfel hulle ook in hulleself en voel ook sonder mojo.

Maar superhelde wys daardeur vir ons dat hulle ook menslik is. Dat hulle ook te midde van alle suksesse ook soms mojo-loos voel. Dat hulle ook interne stryd het soos ek en jy. Maar, hulle veg steeds voort te midde van hulle tekortkominge. Hulle gaan haal uit daardie reserwetenk die laaste stukkie mojo wat hulle het om te oorwin. Die kragte en magte wat hulle het is nie wat hulle super maak aan die einde van die dag nie, maar dat hulle opstaan en vorentoe beur en steeds probeer.

In die kerstyd dink ons aan die wonder van Jesus se geboorte. Jesus het te midde van wie en wat Hy was ook die kryptonite van menslikheid gehad. So het Hy aan ‘n kruis gehang en gesterf. Hy het ook nie kragte gehad nie maar in Sy laaste asem het Hy hom beroep op Sy “reserwetenk”, en Sy gees oorgegee aan God. Daarin is ook ‘n voorbeeld vir ons. Ons is ook uitgelewer aan die menslikheid van die lewe, aan depressie, siekte, stryd en mense wat ons wil kruisig. As jy dus gladnie meer weet wat om te doen nie, as dit voel asof jy nie in die water kan klim of enigsins kan lewe nie. Wanneer jy dink dat daar geen hoop meer is nie en jy alles probeer het om vorentoe te beur, maar nie kan nie. As jy voel dat jy wel in die rivier is, maar dat die stroomversnellings vir jou te erg is om te hanteer of dat ander mense op jou reis jou onder die water druk en jy nie meer asem kry nie. Weet dan verseker dat daar altyd die hoop is dat God daar is vir jou. Hy gaan dalk nie jou vul met ‘n vol tenk mojo of uit die rivier red nie. Dalk gaan God wel vir jou ‘n boomstomp stuur wat jou kan regop hou totdat jy weer in kalmer water is.

Die reserwetenk in jou lewe is dus die geloof in God en dat vir God alles moontlik is. Dit is volgens my die boodskap wat Jesus gebring het, God gee soooo baie om vir my en jou dat Hy Sy seun gestuur het om, te midde van enige omstandighede, vir ons mojo te wees en te gee. Om te glo dat dit wat ons nou beleef deel van menslikheid is, en dat daar stroom-af vir my en vir jou kalmer waters is waar die dinge vir ons beter en gemakliker gaan wees. Daardie plek waar ons vrede en harmonie gaan kan ervaar. So het Jesus gekom om vir my en jou hoop te gee, en my en jou te vul met die mojo wat ons vandag nodig het om te kan leef!

Geseënde Kersfees vir almal in die hoop dat God jou vandag sal dra en jou sal vul met die nodige mojo dat jy kan regop bly en die mens kan word wat God jou bestem het om te wees, wat ookal met jou gebeur!

No comments:

Post a Comment