Monday, October 10, 2011

Maatstokke

My dogtertjie Layla is nou 8 maande oud. Dit is vir my ‘n voorreg om vir ‘n vierde keer die ontwikkeling van kindertjies mee te maak. Sy is nou op die stadium waar sy wat ons doen en klanke wat ons maak naboots. En so leer ons deur die lewe dat ons naboots na aanleiding van wat ons dink nabootsbaar is.

In sport kyk ons video’s van persone wat iets wat ons graag wil doen goed kan doen. As ek klavier wil bespeel, dan gaan ek na die beste onderwyser wat die klavier reeds bemeester het, om my te leer. Ek lees boeke oor selfontwikkeling en biografieë om by “suksesvolle” mense te leer. Modetydskrifte wys vir vrouens hoe hulle moet grimeer en modelle het die klere aan wat nou in die mode is. So gaan ons deur die lewe om altyd dit wat ons persepsie is van wat ons wil doen, na te boots by iemand wat dit reeds gedoen het.

Hier is nie ooste van Pretoria, het ons die tendens by ons kinders dat hulle totaal oorrond wanneer hulle praat. Ons spot altyd dat die kinders sê: “My Po en Mo het ‘n strondhuis in Hermonus”. Wie dit begin het is onbekend, maar al die kinders praat so. Die hele laerskool praat ook van “sulke ding”, in plaas van “so ‘n ding”. Vir 11 jaar probeer ek dit by my oudste seun afleer, maar omdat almal deurgans so kommunikeer, lei dit daartoe dat hy dit nie afgeleer kry nie, en nou praat sy boetie en sussie ook so.

Ons woon seminare by waar een of ander guru vanuit Amerika ‘n mens probeer leer van hoe om in besigheid op te tree en suksesvol te wees. Dit maak min indruk op my persoonlik, want al waaroor al die boeke en seminare gaan is dat jy ‘n A-tipe manipulerende outokratiese persoon moet wees om êrens in besigheid te kom. Kyk ek na baie “suksesvolle” besigheidsmense om my, sal hulle ook vir jou vertel dat jy in baie gevalle ‘n persoonlikheidsverandering kwansuis moet ondergaan om êrens te kom. Met die toetrede van vroue tot die werkplek en gelyke regte, sien ons ook dat die voorbeeld van wie en wat ons moet wees, mense dwing om suksesvolle mense en ook mans na te boots.

Suksesvolle mense het ek in aanhalingstekens geskryf, aangesien ek die idee het dat jy op alle vlakke van jou lewe suksesvol moet wees om so ‘n stempel op jou lewe te kan plaas.

Op skool was ek gelukkig deur in die “in” spannetjie te wees, want ek het rugby gespeel. Al die meisies en ouens in die skool het vir jou respek gehad, want jy het een talent uitgeleef. Maar het dit my laat ontwikkel soos ek moes? Het dit van my ‘n beter mens gemaak? Ek wonder of Steve Jobs (RIP) ooit ‘n “jock” was? Gelukkig het die rekenaar-revolusie vir ons gewys dat daar ook plek vir ander tipe persoonlikhede in die wêreld is, mense soos Steve Jobs en Bill Gates. Mense wat op ‘n ander manier ons geleer het hoe die lewe kan werk, en dat dit nie net die outokratiese A-tipes is wat as suksesvol uitgemaak word nie. Dat jy deur eenvoudig jouself te wees, en deur sagtheid ook suksesvol kan wees. Dat dit nie nodig is om op mense te trap om êrens in die lewe te kom nie. Dit is nie nodig om ‘n “jock” te wees om suksesvol te wees nie. Daarvoor sal ek my ouers ewig dankbaar bly, aangesien hulle my ander kant en eie menswees raakgesien het, en my laat uitleef het in kultuur, musiek en literatuur. Mense wat my geleer het dat ‘n mens deur die “sagte woord” meer bereik as om ‘n bullebak te wees. Mense wat my laat raaksien het dat die lewe oor meer gaan as A-tipe persoonlikhede, en dat die tipe nastreef daarna kan lei na ongeluk en hartseer en ‘n Z-tipe lewe.

Van die oulikste mense wat ek ken, is mense wat hulle nie aan die maatstaf van die samelewing meet nie. Vroeg reeds in my lewe het ek agtergekom dat die feit dat jy geweeg en te lig bevind word in mense se oë, die probleem gewoonlik nie by jou lê nie, maar my die maatstaf. Te lank in my lewe het ek probeer om in ander se idees van wie of wat ek moet wees, te voldoen. Vir te lank het ek my sukses gemeet aan die maatstaf in ander se idees van sukses, want dit is vals en verkeerd. Dit is soos om afstand in Suid-Afrika te meet met ‘n maatstok uit Amerika. Net omdat ek dus nie voldoen het nie, maak nie van my korter of slegter as ander nie.

Ek lag altyd as mense verwys na mense as ‘n “sukses”, van watter maatstaf hulle gebruik. Geld is gewoonlik een van die mees verkeerde maatstawwe. Vir die laaste klompie jare het ek baie swaargekry, en dit was interresant hoe mense my as ‘n “mislukking” afgemaak het. Intussen het hulle nie die innerlike groei en ontwikkeling in my raakgesien of ervaar soos ek dit gesien het nie. Ek het ‘n klomp vriende om my wat werklik wonderlike mense is. Dit is mense wat my nooit afgeskryf het of my laat minderwaardig voel nie. Mense wat my genooi het om saam met hulle ‘n bier te gaan drink, en aangebied het om te betaal, want hulle het geweet ek kan nie. Mense wat my te midde van my geldnood altyd met respek en in liefde aanvaar en hanteer het.

Ek voel bevoorreg om sulke mense in my lewe te hê wat altyd daar is, en wie se maatstawwe reg is, mense vir wie jou binneste en jou menswees meer saak maak as die uiterlike. Mense wat jou regop hou en jou nie meet nie. Volgens my is sulke mense die voorbeeld van sukses, want hulle stel meer in JOU belang as in wat jy HET. Mense wat werklik verstaan waaroor die lewe handel, en daarom gelukkige mense is. Mense wat nie van jou verwag om eers ‘n A-tipe manipuleerder te wees wat met ‘n blink kar die wêreld verblind nie.

Hierdie klompie mense is vir my ‘n inspirasie in my lewe, en ek stap om die rede met hulle ‘n pad. En moet vir geen oomblik ‘n fout maak oor hulle finansiële situasie of ander suksesse nie, hulle kan alles vermag wat hulle kan, maar sonder om die mense om hulle af te maak as onbelangrik.

Daar is dus twee dinge wat hier belangrik is, die eerste is jou eie ontwikkeling en wat jy wil vermag in jou lewe (jou eie maatstaf en die manier hoe jy ander meet), en jou optrede rondom die maatstaf van die mense om jou en hoe hulle jou meet.

Kom ons begin by jouself. Ek weet in my hart dat dit waarmee ek myself besig hou elke dag, dat dit vir my belangrik is. Ek weet in my hart presies wat ek dink en voel en daarmee saam waarheen ek oppad is. Ek meet my aan niks en niemand nie, want ek laat God toe om my deur my omstandighede te leer wat belangrik en wonderlik is. Ek meet mense om my met liefde en toelaat en nie met afguns en ‘n randstokkie nie. Ek is bereid om almal om my toe te laat om te wees soos wat hulle wil wees. Dit begin by myself en die manier wat ek na myself kyk. Ek meet my eie self nie aan wat ek het en wat ek nie het nie, want dit is dinge wat slegs tydelik is. Ek meet myself net aan my eie persoonlike ontwikkeling. As ek groei, dan is waar ek is en by wie ek is die plek waar ek moet wees en by wie ek moet wees.

As ek mense se ongeluk en hartseer veroorsaak, dan moet ek kyk na my optrede en my woorde, want dit is dinge wat ek kan verander. Wanneer ek op mense trap, trap ek op myself. Wanneer ek oneerlik is met mense om my, is ek oneerlik met myself. Wanneer ek ander oordeel, is dit slegs omdat ek myself nie toelaat om in totaliteit myself te wees nie. En wanneer ek mense in my lewe toelaat ogv allerhande maatstawwe soos wat ek uit hulle kan kry, bewys ek daarmee my onvermoë om myself toe te laat om te wees wie ek is.

Die tweede is die maatstaf van mense om my en die gemeenskap. As mense net van my hou oor my “sukses” of die hoeveelheid geld wat ek het, of my vermoë om te kan sport doen, dan sê dit vreeslik baie van hulle en hulle probleme. Dit raak vir my hulle menswees aan en gee ‘n kykie in hulle lewens en tekortkomings.

Die bybel sê dat ons nie die splinter in die ander se oog moet sien nie, maar die balk in ons eie oog. Die boodskap daarvan is dat ons in ander en ons optrede en oordeel in en oor ander, ‘n stukkie van ‘n groot probleem in onsself raaksien. Ons wys dus in ‘n oordeel oor ander meer van ons eie tekortkominge as van hulle s’n. So wat ek geleer het is om mense wat op die oog af my oordeel oor materialistiese vermoëns, dat hulle die mooiweersvriende is. Hulle is die mense wat aan my kant gaan wees wanneer my situasie verander, maar nie daar is wanneer ek swaarkry nie.

Die Bybel sê ook dat die oordeel waarmee ons oordeel, oor ons ge-oordeel gaan word. Wat die uiteinde van die mense om my se aksies is, is dat ek hulle dan presies andersom hanteer. Hoekom sal ons mense om ons toelaat wat net onder hulle terme by ons wil wees, en nie sonder voorbehoud nie? So moet ons versigtig wees aan watter maatstawwe ons onsself blootstel, en ook die van ander, want as dit nie sonder voorbehoud is nie, weet ons mos vanself dat dit nie die mense is wat ons in ons lewens moet toelaat nie.
Dit laat jou voel soos ‘n sirkusleeu waat sekere toertjies moet uitvoer en in ‘n hok opgesluit word, geen vryheid of lekkernye sonder die toertjies nie. As jy nie die vryheid het wat ‘n leeu in die bos het nie, gaan jy nooit werklik ‘n leeu kan wees nie. Dan gaan jy altyd onvergenoegd en minderwaardig wees. As jy jouself meet aan ander en wat ander verwag, knip jou jou vlerke en sal jy nooit jou volle potensiaal ontwikkel nie.
God het elkeen van ons uniek geskape, met ons eie unieke roeping.

Dit is soos die storie van die arend wat uit die nes geval het en tussen die eendjies grootgeword het. Hy het saam met hulle gewaggel, maar het gesukkel om te swem. Sy “boeties” het hom gespot omdat hy nie kon swem nie. Hy het ‘n enorme kompleks ontwikkel daaroor. Eendag ontdek hy in die weerkaatsing van die water dat hy anders lyk as die eendjies om hom en lyk soos die arende wat hy sien sweef. Toe begin hy sy vlerke oefen en kort voor lank is hy in die lug en ontdek sy potensiaal.

Vir hoe lank gaan ons probeer om te wees wat die samelewing en mense om ons van ons verwag? Hoe lank gaan ons onsself laat meet aan wat ander mense dink? Vir hoe lank nog gaan ons ongeluk in mense om ons se lewens skep om hulle te meet en te vergelyk aan ons idee van “sukses”? Vir hoe lank gaan ons mense om ons en veral ons kinders kasty omdat hulle nie is wat ons van hulle verwag nie.

Elke mens het die reg om hulleself te wees en te doen wat hulle wil, jy ook. Jy en almal om jou kan en mag presies wees wat hulle wil wees, en “sukses” is mense wat dit kan toelaat, maar belangriker, jouself kan toelaat en aanvaar vir wie en wat JY is!

Hoe wonderlik sal die lewe wees as almal van hulle maatstokke kan ontslae raak?

Monday, October 3, 2011

Selfsug

Ek lees graag vir my kinders sprokies. Alhoewel hulle nie heeltemal die boodskappies verstaan wat onderliggend is nie, probeer ek graag vir myself die boodskap gryp. Dit is ongelooflik die hoeveelheid lewenslesse en selfontwikkeling wat jy kan ondergaan deur sprokies te lees. Vandag wil ek bietjie kyk na een konsep wat in feitlik alle sprokies voorkom, naamlik selfsug. In definisie die “omgee vir jouself en net vir jouself”.

Gewoonlik is dit ‘n heks, stiefma, stiefsussies of ‘n wolf wat selfsugtig is. Die karaktertrek gaan oor die feit dat hulle ten koste van iemand anders, iets vir hulleself toe-eien. Hulle het ‘n inherente jaloesie, maar ook ‘n streep van mag om ‘n situasie in hulle eie guns te laat draai.

Van kindsbeen af hoor ek in die kerk die gedeelte wat lees dat jy jou naaste moet liefhe soos jouself. Daar was jare ook oor die vers gedink dat jy dit dalk kan manipuleer om ook self te kan besluit wie jou naaste is. Soos die wêreld nou daarna uitsien, lyk dit of ons baie sukkel om die konsepte van onsself wees en selfverwesenlikking en selfliefde te laat bestaan sonder om selfsugtig te wees. Om daardie punt te bereik waar ek myself kan ontdek en uitleef saam met ander mense, en waar altwee bestaansreg kan kry binne dieselfde ruimte op dieselfde tyd. Ons sien dat mense, wanneer hulle blykbaar hulleself ontdek het, dink dat dit beteken dat hulle hulle wil moet afdruk op mense om hulle. Dit is asof daar in die kassie van leef net plek vir EK is, en niemand anders nie.

Oscar Wilde sê: “Selfishness is not living as one wishes to live, it is asking others to live as one wishes to live”. Dit is in die essensie die manipulasie van die mense om ons wat moet doen NET wat ek wil doen, anders is daar nie vir hulle plek in my lewe nie. “And because of our selfishness, we will be condemned to the worst torture humankind ever invented for itself: loneliness” Paolo Coelho. Dit is natuurlik die uiteinde van selfsug, en dit is dat ons en die mense om ons vereensaam, want ek maak geen plek vir ander in my lewe nie. Hulle kan dalk saam met my leef, maar in vrees en “aanbidding” van my wense, waar hulle ontneem word van asem en ontwikkeling wat God vir hulle bestem het.

Die ander kant van die muntstuk is die deel van die mense wat leef in die skaduwee van ander om hulle, om die vrede te bewaar en om aan vereistes te voldoen. Mense wat kapituleer om iemand in hulle lewens te behou en na ander se pype te dans om bestaansreg te kan hê. Moeder Theresa som dit so op: “One of the greatest diseases is to be nobody to anybody”. Ayn Rand som dit so op: “The man who does not value himself, cannot value anything or anyone”. Iemand het ook een keer gesê dat jy die reg het om jouself te wees, totdat jy ander se reg om hulleself te wees van hulle ontneem.

Ek dink dat mense wat in selfsug leef, eintlik onvolwasse is. Ek het nou ‘n hele spul kinders in my huis, en ek sien dat selfsug ‘n kinderlike konsep is. Elkeen wil op die skottel net kyk wat hy/sy wil kyk, en as die ander hulle nie toelaat nie, dan gooi hulle trane en speelgoed. Dit is skynbaar moeilik om hierdie “toelaat” vir ander en van ander deel van ons lewe te maak. Selfsug is dus die skadukant van selfontwikkeling en selfkennis, want dit is juis nie die karaktertrek van ‘n volwasse mens nie.

As ek dan ook altyd na ander se pype dans, soos die kleinste kind in ‘n gesin, is dit ook nie gesond nie, want dan misken ek ook my regte as mens. Ek word eenvoudig die een wat altyd terugstaan, en dan kan ek ook nie ontwikkel nie, want ek dink naderhand dat ek nie mag nie. Ek mag nie vir myself dink of doen wat vir my lekker is nie.

Ek het al verwys na die kursus wat ek verlede jaar gedoen het. Een van die aanhalings wat by my vasgesteek het was: “Jy moet jouself altyd eerste stel, en die mense rondom jou ook eerste”. Ek kan myself voorstel hoe fantasties die lewe sou gewees het as ons almal so sou kon leef. Dit bring ons weer terug by: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”. Dit beteken dat niemand belangriker is as iemand anders nie, maar dat niemand ook minder belangriker is as iemand anders nie. Almal is gelyk.

Wat is die oorsaak dat ons nie so ‘n wêreld bewoon nie?

In baie literatuur oor selfontwikkeling word daar soveel gefokus op die een dimensie van die self. Hoe kan ek groei, hoe kan ek ‘n beter mens wees en hoe kan ek die wêreld om my begin beheer om die lewe te skep wat ek soek. Almal wys terug na die self, en dat niks gaan gebeur sonder om jouself te ontdek nie.

Mense wat onderdruk was deur wetgewing soos sekere bevolkingsgroepe en vrouens, het baie keer die tendens om, wanneer hulle regte kry, te wil kompenseer om te dink dat die skaal skielik nou vir ‘n ruk totaal moet omswaai in hulle guns, voordat daar gelykheid later kan wees. Enige situasie, of dit nou in die eerste onderdrukking, of in die regstelling daarvan ten koste van enige individu is, is verkeerd. As ek skielik vir jou regte gee wat jy nie voorheen gehad het nie, beteken dit mos geensins dat ek nou al my regte prysgee nie?

Die skaal is nooit dat ek 180% gehad het en jy 20% en nou om op 100% te eindig ons skielik nou vir jou 180% moet gee en ek 20% nie? Ek het 100% en jy het 100%, al maak dit logies nie sin nie, dit is hoe dit is.

Dit kom alles ook terug na oordeel. Oordeel oor die self (ek is nie goed genoeg gewees nie, nou gaan ek veg vir my plekkie in die son), oordeel oor die ander (jy het my nie toegelaat om te wees wat ek wou of kan wees nie, nou gaan ek dit by jou terugvat), oordeel oor die gemeenskap (die wêreld skuld my, omdat ek so stief behandel is deur tyd en ‘n “raw deal” gehad het). Jy sien, ons het 2 pole wat ons teenoor mekaar afspeel op die skaal, ek voel ek het verloor, en om myself te laat geld, moet jy verloor of prysgee.

My twee seuntjies gooi vir hulle Coke in, en dan korrel hulle om te sien dat hulle presies dieselfde hoeveelheid het. Die een wat nie die bottel in die hand het nie, en beheer soek, gryp dan graag die bottel by die ander een. Hy dink dat sy boetie hom wil indoen, en die ander boetie word kwaad, want hy moet beheer weggee.

So leef ek en jy elke dag met die mense om ons, huweliksmaats, kinders, kollegas, vriende en vreemdelinge. Ons is die hele tyd besig met hierdie uitputtende spel van “MYNE” en “EK”. Ons is so besig met die magstryd om ons vyande te soek en te elimineer sodat ek kan leef. Ek is so besig om myself jammer te kry, dat ek nie tyd het om vir ander ‘n plekkie in die son te gun nie. So kinderagtig dat as die kollig nie op my val nie, ek sommer die krag wil afsit. So minderwaardig dat ek nie ander kan toelaat om hulleself te wees en hulleself te kan uitleef nie, want dit bedreig my. So besig om die belangrikste te wees, dat niemand om my ‘n kans het om asem te haal nie, want ek dink hulle steel my asem. So besig om sterker, groter, ryker en belangriker te probeer voel, dat ek eintlik die monster rondom selfsug voed en my situasie erger maak om net meer en meer te moet bewys.

So sit ons die pot mis. Enige mens kan vir jou sê dat as iets wat jy doen ten koste van iemand anders is, dit geen positiewe doel dien nie. Geen wonder dat ons kinders so sukkel om groot te word en volwasse te word nie, want hulle word deur ander “kinders” opgelei en grootgemaak.

Jesus is en bly ‘n ongelooflike voorbeeld. Jesus het presies geweet wie en wat Hy is. Jesus het nooit neergekyk op die mense om Hom nie. Jesus het vir dit waarin Hy glo geveg en sy standpunt gestel. Jesus het Homself nooit verneder nie, maar uit die essensie van Sy wese vir mense kom leef. Jesus het ander se voete gewas, en nooit bekommerd gewees oor wat ander van Hom sê of dink nie. Jesus het nooit in Sy persoon gekrenk gevoel oor wat ander dink nie. Jesus het met die rykstes en die armste mense tyd spandeer. Vir Jesus het dit nie oor Homself gegaan nie, maar oor die groter doel wat Hy op aarde en vir die mense moes doen. Maar Jesus was Jesus en Hy het geglo in Homself ook. Jesus het nie in sak en as gaan sit en minderwaardig gevoel teenoor die sogenaamde kenners nie, maar hulle tereggewys, maar geakkommodeer. Jesus het na almal om Hom geluister.

Nou wie is ek en jy? Ons het ook goddelikheid in ons, ons kan ook soos Jesus leef. Ons moet Sy voorbeeld nastreef en ophou om in die kopkassies te leef waar ons vandag leef. Kom ons gaan verander die wêreld om ons, en kom ons stel onsself eerste, en ook die mense om ons eerste, op dieselfde tyd.

Kom ons gaan skryf ‘n sprokieswêreld vir onsself en almal om ons!!!