Monday, January 30, 2012

Krom stokke, reguit houe!

Afrikaans is nou een van daardie tale met baie leestekens. Die sleutelbord van ‘n rekenaar is nou een keer nie heeltemal opgestel om sommer met die eerste druk van ‘n sleutel die deelteken of die kappie op ‘n letter te kan sit nie. Jy moet alt 136 of 137 druk om dit te vermag. Op my skootrekenaar is dit moeiliker, aangesien ek eers die alt sleutel moet inhou en saam met dit die “Num Lk” sleutel, voordat ek alt en die nommer kan druk. Dit is nogal uitputtend, veral as ‘n ou so op dreef is en lekker vinnig tik en jy nie wil hê dat jou gedagtes moet dwaal nie. Dit is nie net in Afrikaans nie, maar ook in ander tale dalk baie erger. Een van my vriende het gister van Finland af gekom, en ek dink dat hulle dalk meer sukkel as ek.

Soms voel dit vir my asof die sleutelbord van die lewe ook nie heeltemal voorsiening maak vir my lewe nie. Om dinge “reg” te doen is soms uitputtend en moeilik, en vat soms van my om ekstra moeite in te sit, sodat dinge om my reg gespel word. Soms wonder ‘n mens hoekom dinge nie maar net vlot wil loop nie, en dat jy alles kan regkry sommer net met die normale tik van sleutels nie? Jy dink dan ook aan jou afkoms, en soms wonder jy hoekom jou omstandighede nie dalk eerder “engels” kon wees nie, want dit sou die insleutel van woorde baie makliker en baie eenvoudiger gemaak het. Daar is nie kappies of deeltekens nie.

Dit het natuurlik ook sy uitdagings, sou jy nou engels gewees het. Die laaste ruk vertaal ek ook hierdie blog in Engels, en alhoewel my engels goed is, kom jy gou agter dat, alhoewel jy nie kappies en deeltekens hoef te gebruik nie, dit nie so maklik is om jouself uit te druk en dieselfde boodskap oor te dra in ‘n ander taal nie. Daar is werklik net sekere dinge wat jy NET in afrikaans kan uitdruk. In my moedertaal, met hierdie sleutelbord en al die ekstra moeite wat ek moet doen, voel tog gemakliker en voel ek tog meer tuis. Soos ek hierdie skryf, dink ek onmiddelik hoe moeilik dit gaan wees om hierdie stuk in Engels te vertaal, want wat is deelteken en kappie in Engels.

So kyk ons na mense om ons, en ons dink en wens baie keer dat ons eerder in hulle “taal” kon leef. Hulle lyk gelukkig, dit lyk asof hulle nie probleme het nie, asof dit so lekker sou gewees het om soveel geld soos hulle te verdien of in so ‘n lekker huis te kon bly. Dit voel vir jou asof jou sleutelbord gemaak is vir hulle “taal”, en dat jou lewe eenvoudiger sou gewees het.

Maar om so jou lewe te “vertaal” is moontlik. Jy kan jouself indink in wat jy sou gedoen het en hoe maklik jou lewe sou gewees het, net om weer te besef dat jou eie persoonlike “taal” altyd die beste is vir jou. Jy, met jou konteks en agtergrond en situasie lyk dalk vir jou moeite en inspanning, maar God het jou geplaas in ‘n taal en in ‘n plek wat jou pas. God het ook vir jou die kennis gegee om te besef dat daar opsies is vir jou, al is dit moeite, om tog jouself met ‘n engelse sleutelbord, in afrikaans te kan uitdruk.

Ons kyk onsself disnis teen die feit dat ons sleutelbord nie outomaties loop nie, ons is nie altyd lus vir die inspanning van ekstra sleutels druk nie. Ons staar onsself blind teen die feit dat dit inspanning is, terwyl ons die feit misken hoe gelukkig ons is. Gelukkiger as mense in engelse lande, want ek kan met my sleutelbord baie meer vermag, want ek kan in Afrikaans ook skryf. Ons vergeet so maklik dat ons geseënd is met woorde wat kappies en deeltekens het.

Soos wat ons so wens dat ons lewens eenvoudiger kon wees in ‘n ander taal, besef ons nie dat ons sleutelbord dalk wel gemaak is vir Afrikaans. Ek sien nie die kappie met die eerste oog op slag nie, maar deur kennis en ontdekking van my sleutelbord, besef ek eintlik dat my persoonlike sleutelbord vir my legio meer opsies gee as wat ek ooit gedink het.

Partykeer neem dit ook nie net kennis nie, maar soos op my Blackberry vat dit soms die aflaai van ‘n applikasie soos “fancy smileys” om op my foon die leestekens te kan insit. Jy ontdek ook in jouself, net soos die applikasies, dat daar behalwe die kappie en deelteken ook fantastiese en oulike gesiggies en prentjies is waarmee ek my skryfstuk, sms, bbm en whatsup mee kan ophelder. Nou besef ek dat ek ‘n prentjie van ‘n knip-oog, drukkie en soentjie tot my beskikking het. Dan besef en verstaan ek dat ek die lewe kan ophelder, met my sleutelbord om sodoende dieselfde boodskap op te helder en snaaks en genotvol te kan maak.

Ons leef so maklik in ‘n droom en hoop dat ons lewens “anders” kan wees. Ons is so ongelukkig met ons sleutelbord dat ons lewens dalk begin om stil te staan. Daar vloei niks uit my uit nie. My “my documents” is leeg, net omdat ek onvergenoegd is met my sleutelbord wat kwansuis nie “pas” by my taal nie. Ek hou op leef soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie en in die hoekie gaan sit en huil.

Die Bybel is vol voorbeelde waar mense so graag ander omstandighede wou gehad het. Paulus vra vir God om die doring uit sy vlees te neem, net om herinner te word dat hy ‘n goeie werkbare sleutelbord tot sy beskikking het, die genade van God. Dawid, toe hy geroep is as koning van Israel, het gedink hy is klein, maar word herinner dat hy al die sleutels tot sy beskikking het om God se wil te doen. Moses wil nie sy volk uit Egipte gaan lei nie, want hy sukkel om te kan praat, en God herinner hom daaraan dat hy die sleutelbord van sy broer tot sy beskikking het wat hom kan help. Alles dinge om ons te herinner dat, alhoewel ons nie die deelteken met die eerste oog op slag sien nie, dit nie beteken dat dit nie daar êrens binne in versteek is nie. Dit beteken nie dat ons nie kan doen wat ons ookal wil, en kan doen wat God ons voor geroep het nie.

Ek dink aan die reeks MacGyver uit ons kinderjare. Soos julle kan onthou het hy sy mes gebruik en in moeilike situasies uitgekom deur net dinge wat reg rondom hom is te gebruik. Amper soos die spreekwoord: “’n Boer maak ‘n plan”. Partykeer kyk ons teen ons ooglede vas. Ons is so ingestel op die feit dat ons nie ‘n “klaargemaakte” wapen reg voor ons het nie, dat ons vergeet om rond te kyk van wat alles in ons en om ons is. Dinge wat ek soos MacGyver kan gebruik om my doel te bereik nie. God herinner ons op soveel plekke dat ons wel alles om ons het wat ons nodig het om te kan leef en ons doel te kan bereik. Nog meer so in die tyd waarin ons nou leef met tegnologie en kennis wat tot ons beskikking is. MacGyver sou nooit uit sy moeilike omstandighede ontsnap het as hy op ‘n hoop gaan sit het en gehuil het oor wat hy nie het nie.

So sit jy dalk vandag en jy is ontevrede oor jou sleutelbord. Jy voel dalk dat jy nie jou merk kan maak en jou doelwitte kan bereik met dit wat rondom jou of in jou is nie. Jy voel dalk dat jy nie inpas in afrikaans nie, omdat jy ‘n engelse sleutelbord het. Jy voel dalk dat die berg wat jy moet klim onmoontlik is omdat jy nie die regte toerusting het nie.

Ek het ‘n vriend op Universiteit gehad wie se ouers baie finansiëel gesukkel het. Hy was ‘n briljante sportman en wou graag gholf speel. Hy het egter nie geld gehad vir stokke nie. So het hy toe maar begin om by mense stokke te kry wat hulle nie meer gebruik nie. So het hy uiteindelik ‘n hele stel stokke bymekaargemaak, waarvan nie 2 stokke uit dieselfde stel kom nie. Mense het vir hom gelag as hy op die bof gestap het, want sy sak was ook vol gate wat die muise daarin gevreet het. Ons glo mos dat jy net kan gholf speel en konstant goed kan speel as jou stokke die beste is en persoonlik vir jou spel aangepas is. Hierdie vriend van my het menigte mense se geld gewen met sy mengelmoes stel. Hy het binne ‘n paar maande sommer ‘n 2 voorgee geword en briljante gholf gespeel.

Soveel mense wag totdat hulle toerusting perfek pas by omstandighede, voordat hulle aksie neem. Ons is ongelukkig omdat ons nie die perfekte sleutelbord het vir ons lewens nie. As jy gaan wag tot jou omstandighede perfek is, gaan jy soveel mooi sonskyndae mis op die gholfbaan. Jy gaan soveel geleenthede by jou laat verbygaan. So sterf baie mense met soveel drome in hulle harte, omdat hulle gewag het. Hierdie voorbeeld hierbo is ‘n uitstekende bewys dat jy, deur net bietjie moeite te doen, kan deelneem aan die spel, al is jou sleutelbord verslete. Jy is so ‘n intellegente wese wat jouself kan leer om aan te pas by alle omstandighede. Jy kan die vaardigheid aanleer om met krom stokke ‘n reguit hou te slaan.

Nike het seker een van die spreekwoorde wat die meeste in die lewe gebruik word: “Just do it”. Hoe lank gaan jy nog wag voordat jy leef? Miskien moet jy bietjie dieper delf in jouself en gaan soek na wat jy in jou binne-kas het, en gebruik wat jy het. Miskien moet jou ophou om te fokus op wat jy nie het nie, en dit as verskoning gebruik vir die feit dat jy nie aan die lewe deelneem nie. Soos die voorbeelde uit die Bybel ons leer, elkeen van ons het wat ons nodig het om voluit en gelukkige lewens te geniet, al is dit nie ooglopend nie.

Ek het lank in my lewe baie idees soos dit wat ek in my blog gebruik in my kop gehad. Omdat ek gevoel het dat ek nie goed skryf nie, en nie die regte woorde het nie, het ek niks daarmee gedoen nie. Toe besluit ek een dag om net te begin, dit net te doen. Ek het besef dat, alhoewel ek dalk nie die beste sinsbou het nie, en spelfoute kan maak, dit nie saakmaak nie, want wat ek wil sê kom nog steeds uit, te midde van tekortkominge.

Gaan leef vandag jou drome uit, moenie fokus op die tekorte op die oog af nie, maar kyk om jou rond wat jy tot jou beskikking het. Sit bietjie “effort” in, alles wat jy nodig het is in daardie sleutelbord van jou!

Gaan slaan ‘n reguit hou, al is jy ‘n krom stok.

1 comment:

  1. Baie inspirerend! Jy het beslis n boodskap om uit de dra. Moenie ophou daarmee nie. Dis Godgegewe. Sterkte!!! M

    ReplyDelete