Tuesday, November 8, 2016

Vertroue in donker wolke

Die mensdom is behep met tyd, almal het 'n kalender of een of ander tipe van plek waar jy die tyd kan sien.  Die aarde werk ook met dae en seisoene, en ons hele lewe word daardeur beheer.  Daar is 'n tyd om te plant en 'n tyd om te oes, 'n tyd om wakker te word en 'n tyd om te gaan slaap, en sodoende kom ons nooit weg van tyd nie.


Geduld is natuurlik iets wat ons nie het nie, veral as dit kom by die groot dinge in die lewe.  Aanlyn aankope op die internet se grootste probleem is dat mense nie hou van wag nie, as ek iets gekoop het wil ek dit onmiddelik kan gebruik.


Die laaste paar maande is ek gekonfronteer met so 'n wag-situasie.  Dit is moeilik om te wag en te bly glo as huur betaal moet word, en ander dinge jou aandag verg.  Dit is ook ongelooflik uitdagend om jou geloof te behou, al glo jy dat dinge op sy tyd gebeur soos die Bybel ons leer.  Dit word nog erger as jy begin voel dat die dinge om jou uitmekaar val, want jy kan nie die tyd beheer nie.


Vandag sit ek en ek wonder oor my toekoms, my lewe vorentoe.  Met alles in my glo ek dat die dinge gaan uitwerk soos ek gebid en soos ek vertrou, maar die prys wat ek intussen daarvoor betaal en mense om my ruk my uitmekaar.  Dalk voel jy ook so oor soveel dinge, dalk is jy op die ashoop weggegooi soos 'n lappop, dalk is jy finansieel onderdeur, dalk sien jy op na die eksamen of welke ding ookal jou in die lewe nou pla.


Wat doen 'n mens in sulke situasies, wanneer jou geduld opraak en wanneer jy voel asof daar geen hoop meer is nie.  Een ding weet ek verseker, en dit sal ek in my hele lewe bly glo, want dit het al soveel keer met my gebeur, en dit is dat God in beheer is, al dink jy nie so nie.  Dit is moeilik om God se hand in die proses te sien en te wonder oor hoekom dinge met jou gebeur.  Maar een ding getuig ek vandag van, ek sal nooit ophou bid, ophou glo en ophou vertrou nie, want God is in beheer, ongeag hoe swaar en donker die wolke rondom jou is.  Hou goeie geloof, nie moed nie!!!