Wednesday, August 24, 2011

Omvorming

Ek het ‘n vriendin op Universiteit gehad wat ‘n studie gedoen het oor “leuses”. Uitsprake wat lande, skole en mense maak. Die konklusie van haar studie was dat mense in hierdie uitsprake nie werklik eerlik is met wie hulle is of was nie, maar eerder ‘n standpunt gestel het oor hoe hulle graag WIL wees, WIL dink en WIL doen. Dit is eerder ‘n refleksie van die idée wat hulle in die spieel WIL sien, wat soms die teenoorgestelde is van wat hulle nou WEL sien. Dit is ook ‘n rookskerm wat hulle vir jou voorhou oor wat hulle graag wil he wat jy van hulle moet dink.

Louise Hay skryf in haar boeke dat die rede hoekom mense dit doen, moontlik kan wees dat alles wat ons doen gebore is uit skuld en vrees. Dit lei nie net tot emosionele problem nie, maar fisiese siektes. Enige siekte is gebore daaruit. Siektes kom van maskers.

Ek was die laaste ruk gekonfronteer met situasies waar ek presies dit gesien het. Mense wat gryp in hulle lewens na allerhande dinge wat werklik nie belangrik is nie, as rookskerms om by selfverwesenlikking uit te kom. Mense wat een ding doen, wat hulle weet nie is wie hulle werklik is nie, om sodoende by ‘n doelwit uit te kom wat hulle dink hulle wil bereik. Ons gebruik allerhande maskers, en het die idée dat die ander met hulle maskers saam met ons by die doelwit gaan uitkom.

In Afrikaans gebruik ons die spreekwoord: “Dit is soos 2 blindes wat mekaar lei”. Die problem van is dat die rekkie wat die masker vashou op ‘n stadium gaan slap word, en jy jou werklike gesig gaan en sal moet wys.

Hierdie begin weer ‘n totaal nuwe kringloop van skuld en vrees, wat weer, om dit te verskans ander maskers ontwerp om dit weer weg te
steek.

Gregory House in sy reeks HOUSE, se: “Everybody lies, the question is just about what?” Dit is die rede vir die wereld waarin ons vandag leef, waar niemand is wat hulle werklik is nie, nie net omdat hulle skaam is nie, maar soms omdat hulle nie weet wie hulleself is nie. Ons loop elke dag draaie weereens rondom die Bybel en ander boeke wat ons soveel riglyne gee van praktiese toepassings gee wat ons kan doen, en al wat ons doen, ons haal dit aan en dit word weer vir ons ‘n masker.

Ons kies dus die masker wat in ons en in ander die leuen-lewe die beste pas. Hoeveel mense het al in die aanhalings en dinge in die Bybel en selfhelpboeke toegepas in hulle lewens? Hoe het die tekkie al die teer getref in mense se lewens? Ons dra almal maskers omdat ons nie weet wie ons is nie, en nie weet dat werklike geluk eers kan kom wanneer die waarheid ons vrymaak nie. En geen wonder dat mense se ongeluk sneeubal nie, want solank ons nie ons werklike self word en die werklike waarheid erken en leef nie, is en sal ons nooit werklik gelukkig wees nie.

Waar lê die waarheid dan? Die Bybel stel dit dat ons eers die koningkryk van God moet soek, en al die ander dinge sal ons toegevoeg word. Maar tot toevoeging daartoe is Romeine 2: “Moenie aan die wereld om jou gelyk word en doen wat almal doen nie, maar laat God toe om jou te omvorm. Dan sal jy kan onderskei oor wat God se wil vir jou lewe is, wat reg, goed en volmaak is”.

Op Universiteit het ek in die teologieklas met my professor gestry oor sy aanmerking dat die oplossing van alle probleme by ‘n verhouding met God begin.

Nou, later in my lewe en my ervarings besef ek dit van myself en die mense om my. Hier praat ek van die werklike God. Dit hang hier af van watter God jy gaan kies, want die Bybel vertel ons ook dat daar ander gode is wat ons kies, maar daardie gode het nie die mag tot omvorming nie, hulle het net die mag van konsekwensies en erger probleme in ons lewens. Net die werklike God kan skep en herskep. Net die werklike God kan die maskers onnodig maak. Net die werklike God kan die skuld en oordeel wat jy en ander oor jou bring vergewe en jou toelaat om die mens te wees wat Hy jou gemaak het om te wees. Net hierdie God kan jou werklik omvorm.

Iemand het gister op facebook genoem dat ‘n ou moet “Let Go, and Let God”. Iemand vra toe vanoggend hoekom dit so moeilik is. Ons moet weet dat dit eenvoudiger is as wat ons dink, want die antwoord le nie in die kies van nog ‘n masker nie, maar om op jou eie, in jouself oor te gee. Dit is omdat ons nie oorgee aan God nie, maar weereens oorgee aan ons gewoonte om te bestuur en self god te probeer wees en te dink dat ander ons gode is en dat hull eons gaan red. Dit is nou een van daardie aanhalings wat nooit gaan werk nie.

As die mense en die dinge in jou lewe altyd tot dieselfde konsekwensies lei, miskien is dit werklik tyd dat jy die beheer van jou lewe oorgee aan God en aan God se genade en God werklik toelaat om jou te vorm soos Hy jou alleen kan en wil vorm. Miskien moet die praatjies ophou en die filosofiee en aanhalings wat ons elkgeval nie doen nie, en in stille meditasie onsself aan God oorgee, en fokus op dit wat werklik belangrik is.

Dan sal en alleen dan sal jou lewe in plek val! God se wens vir jou vandag!

Tuesday, August 2, 2011

Sê wie?

Ek hoor weer die naweek die storie van die ou boer en sy seun wat op die stoep sit en kyk hoe lekker die reen uitsak oor die lande. “Sjoe, pa, lyk na genoeg reen vir die oes, nou is ons bekommernis verby.” “Nee wag,” sê sy pa terwyl hy na ‘n straaltjie son kyk wat deur die wolke breek. “Sien jy, seun, daar kom die droogte weer!”

Selfs in die eerste hoofstuk van die Bybel sien ons dat daar ooglopend 2 pole in enige redenasie is. God skep die goed uit die warboel. God skep goed, en daarmee die paradys waar alles fantasties is. Sommer onmiddelik daarna leer ons van die boom van kennis van goed en kwaad en dat daar skielik spanning ontstaan tussen goed en sleg. God se goeie kant en die Bose se slegte kant.

Deur die natuur sien ons dat selfs in die kleinste molekule, daar ‘n positiewe en negatiewe pool is. Droogte en reen, kos en hongersnood, vet en maer, lelik en mooi, winter en somer, lewe en dood.

Dit voel asof jy op ‘n skeidregterstoel sit en kyk na ‘n tenniswedstryd en hoe daar eintlik elke dag en oomblik ‘n besluit gefel word oor wie hierdie punt wen. Heen en weer, dan die goeie en dan die slegte.

My fokus hier is nie die redenasie oor die bestaan van die 2 pole nie, maar ons ingesteldheid dat ons of permanent in die negatiewe leef, of dat ons die hele tyd, te midde van watter omstandighede, die slegte verwag. Dit is asof die gesamentlike bewussyn van die wêreld ons nou so geprogrammeer het. Dit laat my dus wonder hoekom dit nie met mense goed gaan nie, want ek glo tog dat wat jy glo waar word. Of dit nou die universum is wat dit na jou toe laat kom, of sommer net in praktyk dat my denke eenvoudig my aksies rig.

Om dit te illustreer, sit ek nou die aand saam met ‘n klomp vriende. Die een vrou is sommer baie opgewonde oor haar verhouding en totaal verlief. Die ander mense aan die tafel begin onmiddelik om die gevaarligte vir haar aan te skakel. Die een dink dat die ou met wie sy die verhouding het getroud is, die ander dink weer dat sy gemanipuleer word. So hou die gesprek aan en aan. Wie het gesê dat alle mense sleg is? Wie het gesê dat alle mans sleg is? Wie het gesê liefde is gevaarlik? Wie het gesê dat verhoudings nie werk nie?

Jy sien, mense dra hulle ondervindings met hulle saam, elke liewe dag. As my ingesteldheid (natuurlik deur ondervinding en geskiedenis) is dat alle mans sleg is en dat jy gaan seerkry, sal enige mens ooit in ‘n verhouding met iemand anders tree? As hulle dit wel doen, sal daardie persoon ooit ‘n sukses van hulle verhouding maak? Wie het gesê dat verhoudings moeilik is of moet wees?

‘n Vriend van my is besig met sy studies in Homeopatie. Hy is baie ingestel daarop dat ons as vriende gesonder moet leef. Een dag by sy huis toets hy die suur in my sisteem, aangesien almal weet dat die slegte siektes soos die kankers hulle tentakels in jou inkry en jou dood kan veroorsaak as jou sisteem te suur is.

Om negatief belaai te wees en altyd die slegte te verwag, lei daartoe dat my hele sisteem so “besuur” is dat al die slegte dinge in die lewe wel my gaan aanval. As ek die hele tyd ingestel is op redes van hoekom ek nie mag lief wees nie, raai wat, dan sal ek nie liefde vind nie. As ek altyd die slegte verwag, gaan dit gebeur met my. As ek altyd die aaklige in mense raaksien, gaan hulle dit vir my openbaar.

As jy kinders het, verstaan jy die alternatief baie mooi. Ons weet almal dat kinders net kan funksioneer waar daar liefde en deernis is. My kinders is die wonderlikste geskenke wat ek van God gekry het, en my wens vir hulle was altyd dat niemand ooit hulle lag by hulle sal steel nie. En ek glo met my hele wese, dat dit nie die negatiewe omstandighede is wat hulle lag gaan steel nie, maar eerder gaan hulle lag gesteel word die oomblik wat hulle gaan inkoop in hierdie negatief belaaide wêreld en nie meer gaan glo in die mooi, die wonderlike en die drome nie. Die oomblik wat iemand begin om vir hulle die realiteit te skets dat daar nie ‘n kersvader of tandemuis is nie. Wie het gesê?

Die oomblik wat jy in hierdie sypaadjie psigologie inkoop en dit jou eie maak, kan jy net so wel die deure van jou huis toemaak, want dan het jou lewe tot ‘n einde gekom, en dan word jy net ‘n suurstofdief.

Jy kan my nou ook vanuit jou perspektief afmaak as ‘n onrealistiese dromer wat nie in die regte wêreld leef nie. Die skuldkrisis in Amerika die laaste paar dae het my net laat besef dat “realiste” in ‘n droomwêreld leef. Net omdat iets tasbaar is, beteken nie dat dit so is nie.

Ek is dalk ‘n dromer, maar as ek elke dag my lewe laat beheers en beheer teen die negatiewe wat dalk kan gebeur, sou ek lankal reeds my verstand verloor het. En as ek al hierdie “urban legends” geglo het, sou ek dalk ook soos almal gedink en gedoen het. Luister na die dinge wat ons uiter: “Mense kan nie verander nie, wat opgaan moet afkom, dit is net ‘n kwessie van tyd, goeie tye is nie permanent nie”. Sê wie?

Ons is so besig elke dag met “parental guidance” op ons DSTV omdat ons nie wil he dat ons kinders beinvloed moet word nie, maar in ons lewens, ons woorde en ons denke beinvloed ons hulle 10 keer meer as die seks en geweld op televisie. Ek gaan nie eers vir jou vra om te gaan kyk wat jy dink nie, gaan kyk net wat jy glo. Glo jy dat alles moontlik is? Glo jy in die mooi? Glo jy in die lekker?

Natuurlik is daar omstandighede wat prakties in jou lewe ‘n invloed het, maar wat doen jy daarmee? Natuurlik het ons almal seergekry in verhoudings, maar hoekom laat jy toe dat die seerkry van daardie geval jou keer om nou in ‘n verhouding te wees? Natuurlik het iemand ons teleurgestel, maar beteken dit dat ek van daardie oomblik af niemand meer vertrou nie?

Ons maak so maklik mense wat “dromers” is en in positief is en glo af as onrealisties. “Jy sal nog afkom aarde toe” sê ons maklik. Wie het dit gesê, en hoekom is dit nou skielik die waarheid? “Alle goeie dinge kom tot ‘n einde!” Wie het gesê dat dit so moet werk? “Die lewe is hard en moeilik” Wie het dit gesê?

Jy weet wat, in jou lewe sal alle goeie dinge tot ‘n einde kom, want met hierdie tipe ingesteldheid sien jy die mooi en die positiewe net as tydelik. Ek het ‘n vriend wat altyd glimlag. Een van die dinge wat hy glo is dat hy permanent op vakansie is, maar 11 maande van die jaar net gou vinnig gaan werk om vir sy 12 maande vakansie te betaal.

Gisteraand sit ek saam met iemand wat ‘n filmmaker is. Weet jy hoe lekker dit is om met mense om jou te praat wat nog droom? Mense om jou te sien wat glo dat alles moontlik is? Mense wat gedryf word deur hulle drome en ideale en geloof en wat nie die praktiese situasie miskyk nie, maar dit oorbrug omdat hulle drome groter is as die realiteit.

Daar is honderde stories van suksesvolle besighede waar mense deur hulle geloof en droom gestuur is van bakboord na stuurboord, mense vir hulle vertel het hoe onrealisties dit is en dat dit nooit sal werk nie. En as dit werk, gebruik ons die woord “ongelooflik”. Wat het van jou droom geword? Het jy ingekoop in die nonsens? Het jy toegelaat dat jou vlerke geknip word?

Mense sê so maklik dat ons moet swaarkry, want anders sal ons nie die lesse leer wat ons moet leer nie. Natuurlik sal jy met hierdie mentaliteit swaarkry moet skep, want jy het mos nou gesê dat jy nie kan lesse leer uit goeie en gelukkige omstandighede nie. Wie het gesê dat dit so is? Ek het dan nou net vertel van die filmmaker wat my gister, oor ‘n glasie wyn en ontspanning, ‘n les geleer het vir my lewe. Ek het geleer uit lekker!

Hierdie negatief belaaide denke van ons sny so diep dat ons dit soms nie meer agterkom nie. Kyk net na die manier hoe ons kinders grootmaak. Ons leer vir hulle hoe om nie te leef nie. In plaas daarvan om vir hulle te wys hoe om die bordjie te dra met die muffin in en mooi met twee handjies vas te hou, stadig te loop, te kyk vir die bordjie, sê ons eerder, pasop vir dit, nee jy is nog te klein, moet nou nie dit nie, laat ek dit eerder doen want jy gaan mors.

Ons programeer negatief!

As hulle nou die bordjie laat val, sien jy nou, ek het geweet jy gaan dit laat val! Skep ons spanning en drama, omdat ons glo dat ons eerder met dit vir hulle rigting gaan gee. “Buig die boompie terwyl hy jonk is”. Sjoe, en dan gee ons die televisie en die skoolsisteem die skuld vir dinge.

Jy sien, wat jy koop, word gestoor in jou gedagtes. Dit is meer van ‘n realiteit as die ekonomie en kredietwet. En net omdat iemand nie dieselfde koop as jy en die wêreld om jou nie, beteken nie dat daar met hulle fout is nie. Die realiteit het net soveel krake in as die drome.

Die voorbeeld van geloof in Christus is hier baie relevant. Vanuit ‘n “realistiese” oogpunt is die opstanding van die dood onmoontlik. Dit is slegs moontlik vanuit geloof en om in geloof te leef. Maak dit daarvan minder waar as die sleutels onder my vingers? Miskien is hierdie presies die rede hoekom jy die mense om jou nie kan inspireer om te glo nie! Op dieselfde wyse val mense se geloof ineen omdat hulle dink dat as Jona nie fisies in die vis was nie, die Bybel nie waar is nie en daar geen boodskap gehaal kan word uit die verhaal nie.

Die verskil tussen kinders en grootmense is dat ons kinders in die plassie water in die pad gaan spring en die grootmense gaan keer dat die kinders in die plassie water spring. Vandag wil ek in die plassies speel en dankbaar wees vir die potholes wat my kans gee om in die water te speel!

Wat gaan jy vandag koop?

Gaan jy toelaat dat jou vlerke vandag geknip word?

Gaan jy na alles om jou kyk en bietjie leer om te sê: “Sê wie?”

Monday, August 1, 2011

Tien Gebooie

Kom EK help jou vandag. Jy sien, dalk kyk jy verkeerd na die lewe om jou. EK wil graag sien dat jy na jouself en die lewe kyk soos EK na jou en almal om jou kyk.

EK is DIE God, jy ken MY en het gesien hoeveel wonderlike dinge EK vir jou al gegee en gedoen het. EK wil nie he dat jy moet voel asof jy MY nou iets skuld nie, EK het dit vir JOU gegee sonder dat jy dit verdien. EK het vir jou vrye wil gegee, en jy kan ook besluit om MY nie eerste te stel nie, maar omdat jy vir My spesiaal is, wil ek graag he dat jy MY moet kies om saam mee te lewe. EK weet dit is nie altyd maklik nie, want die mense en wêreld rondom jou gee nie altyd plek vir so ‘n verhouding met MY nie, maar EK wil nie he jy moet sukkel nie, en daarom maak EK dit eintlik maklik vir jou.

Kom EK verduidelik vir jou hoekom julle so sukkel.

Daar gaan baie dinge rondom jou wees wat jy gaan dink belangriker as Ek en jy is. Jy gaan partykeer dink dat jy mense en beelde en idees belangriker moet maak om suksesvol te kan wees in die lewe. Jy spandeer soveel tyd om die wiel weer uit te vind. Hierdie dinge gaan jou verhouding met My laat skade ly. Al hierdie ander dinge gaan jou probeer oortuig dat hulle belangriker is en beter is vir jou. Onthou, dat Ek alles kan doen, en dat alles anders onder MY en My beheer is. So, moenie hierdie onbelangrike dinge tot gode maak nie, jy het mos klaar vir MY gekies. EK gaan nie baie gelukkig wees as jy hierdie ander dinge dien en belangriker maak as EK nie, want dan gaan jy ONS afskeep, en dit is nie goed vir jou nie. Dit is ook so ‘n bietjie disrespekvol teenoor MY, want as jy ander dinge gelykstel aan MY, misken jy MY en maak asof ek nie DIE God is nie. Dalk is dit hoekom jy nie mense inspireer om in MY te glo nie, want jy dink nie meer so baie van MY soos jy moet nie. Jy het mos nou al gesien hoeveel keer die dinge nie vir jou gewerk het nie en jou in die moeilikheid gebring het. Alles wat jy kies het gevolge, en as jy hierdie ander gode kies, het die implikasies vir die wêreld, almal om jou en ook jou kinders. So, as jy vandag en elke oomblik van jou lewe reg kies, sal jou lewe goed wees en sneeubal vir selfs almal wat jare na jou gaan gebore word.

EK praat en tree altyd mooi op as dit oor jou gaan. EK beskerm jou en jou naam orals, selfs by mense wat nie van jou hou nie. Daarom wil ek hê dat jy MY ook so moet beskerm. As iemand sleg van my praat, moenie saam praat nie, maar beskerm MY eer voor hulle. Wys ook vir mense in jou hele lewe dat EK en jy ‘n verhouding het, en praat altyd mooi van MY.

Erens in hierdie besige wêreld van jou, maak tyd vir ONS. Ek keer jou nie om al die dinge te doen wat vir jou lekker en belangrik is nie, maar geen verhouding kan werk as ons nie spesiale tyd met mekaar maak nie. Dit is ook goed vir jou, om net soos EK gemaak het, erens net bietjie te stop, te rus en weer te fokus van al die geraas rondom jou. As dit vir MY gewerk het met die skepping, hoeveel te meer het jy nie nodig om ook rustig en stil te word saam met MY nie. Dit gaan jou ook so ‘n kansie gee om te dink oor wat jy mee besig is.

Kyk met watter respek hanteer EK mense om jou, EK laat selfs plek en sukses toe, selfs al glo mense nie in MY nie. EK is lief vir almal, en so moet jy ook wees met alles en almal rondom jou. Weet dat mense nie altyd beplan om lelik met jou te wees nie. Daarom moet jy, omdat almal MY kinders is, met mense om jou mooi wees, al stem hulle nie saam met jou nie. Onthou, net soos jy, probeer mense almal hulle bes. Jou pappa en mamma doen ook maar wat hulle kan, en gee baie vir jou. EK het hulle vir JOU gekies, omdat ek gedink het dat hulle waardig is om hierdie klein bondeltjie kind van MY groot te maak. As ek hulle gekies het vir JOU, hoekom sal jy dan nou beter wil weet. EK weet dat hulle nie altyd die regte dinge doen nie, maar hulle probeer. EK het baie dinge saam met hulle deurgemaak, en EK weet hulle sal alles vir JOU doen.

Al die ander mense om jou is vir MY belangrik. Moet nie lelik praat oor MY kinders om jou nie (al praat hulle lelik van jou), moet hulle nie seermaak nie (al maak hulle jou seer), Moenie skinder nie (al skinder mense oor jou), Moenie hulle seermaak deur hulle goeters vir jou te vat nie (al vat hulle jou goeters), Moenie dinge sê wat nie so is nie (selfs nie eers ‘n wit leuentjie nie). As jy ‘n leuen vertel, leef jy ‘n leuen en krap jy die hele balans van die lewe om en skep ‘n lewe wat nie eg is nie.

Onthou die wêreld gaan nie net oor JOU nie, maar oor MY. Moenie dink dat EK ander mense meer liefhet as vir JOU net omdat hulle dalk iets mooier het as jy nie of iets kan doen wat jy nie kan nie. EK gee vir elkeen ietsie besonders. EK kies om vir JOU te gee wat EK dink goed is, moenie dan my geskenkies in die kas bere en wens dat EK eerder vir JOU gegee het wat EK vir ander gegee het nie. EK het alles in jou lewe SPESIAAL vir JOU uitgesoek, en omdat jy MY liefhet, vertrou MY. EK het stukkies van MYSELF afgebreek en vir jou saamgegee om hierdie wonderlike lewe te gaan ervaar, saam met MY. Gaan leef jou eie lewe, en moenie in ondankbaarheid die hele tyd wens dat jou lewe anders was nie, glo MY, jou lewe is PERFEK, jy het ALLES en EK is by jou.

Hierdie dinge sê EK omdat ek jou liefhet en die beste vir jou soek. Dit is nie moeilik nie, lag en spring en speel saam met MY. EK is lief vir JOU!!