Thursday, September 8, 2011

“Wag-‘n-bietjie” bos

As jy al in die bosveld was, sal jy hierdie tipe bos ken. ‘n “Wag-‘n-bietjie” bos het die interresantse dorings. Dit is nie soos ‘n pendoring wat reguit is nie, het die tipe bos ‘n haak en steek en krom doring. Dit is klein, en daar is soveel daarvan. Wanneer hierdie doring jou haak, gaan jy maklik verstrengel raak en dit is moeilik om uit die bos uit te kom sonder pyn en skeure. Gewoonlik haak die eerste doring jou, en soos jy probeer om los te kom, haak die volgende een jou en so gaan dit aan.

Toe ek laas gaan jag het, en so vasgesit het in een van die bosse, toe dink ek dat daar baie dinge in ons lewens is wat dieselfde met ons doen. Onskuldig raak ons so verstrengel en dit is nie maklik om los te kom nie. Dit wil voorkom of hierdie dinge soos ‘n maalkolk ons intrek en nie wil los nie.

Daar is ‘n oulike storie oor die man wat van Pretoria na Kaapstad gereis het vir besigheid. Die dag voor hy ry, het sy seuntjie die domkrag uit sy pa se motor gehaal om sy fiets reg te maak en dit nooit teruggesit nie. Die man klim nikswetend in sy motor en in die karoo teen skemer kry hy ‘n pap wiel. Toe hy die baggasiebak oopmaak, sien hy dat die domkrag nie daar is nie. In die verte sien hy ‘n liggie brand, en besluit om maar soontoe te stap. Terwyl hy so stap dink hy allerhande dinge. “Die boer gaan seker dink ek is simpel om nie seker te maak die domkrag is in die motor nie”. “Die boer gaan seker dink dat ons stadsjapies eenvoudig simpel is omdat ons nie vir onsself kan dink nie”. So gaan hy aan en aan en aan in sy kop. Uiteindelik klop hy aan die deur van die huis en toe die boer die deur oopmaak is die man so opgewerk dat hy sê: “Hou maar jou domkrag!”

Ons denke is baie keer soos ‘n “Wag-‘n-bietjie” bos. Aan die begin lyk dit onskuldig wat ons dink, maar ons raak maklik in die maalkolk van denke deurmekaar en vasgevang. Die man in die verhaal het homself so verstrengel laat raak dat hy seker nou nog langs die pad sit. Sy denke het soos ‘n rookwolk gesneeubal oor die essensie van wat nodig was, die domkrag.

Natuurlik is dit moeilik om te onderskei altyd tussen denke en emosies, maar ons emosies het ‘n groot rol te speel oor wat ons dink en doen. Ons eie ek en ego en selfredding staan reglynig in die pad van wat ons in essensie uit die lewe soek. Vasgevang in ‘n denkwyse en aksies wat moeilik oorkombaar is, dat ons nie vorentoe kan beweeg, onsself werklik kan uitleef of kan kry wat ons in essensie soek nie. Wees versigtig dus aan wie en wat jy jouself blootstel. Die Bybel sê uitdruklik dat ons nie die duiwel ‘n vatkans moet gee nie.

Ek het vir baie jare gerook. Toe opgehou vir 6 ½ jaar. Ek het gedink dat ek nie weer sal begin om te rook nie. Toe het ek stelselmatig vir mense begin sigarette opsteek, toe begin intrek en kort voor lank het ek weer voluit gerook. Nou rook ek meer as ooit tevore. Jy sien, dit is presies waar ek die vatkans toegelaat het. Ek het gedink dit is onskuldig en dat ek nie weer verslaaf sal raak nie. Ek het gedink ek is baie slim, maar slim het sy baas gevang.

Nou wat doen ‘n mens in hierdie verweefde situasies?

• ‘n Mens moet natuurlik uitkyk en op jou hoede wees vir sulke bosse. Moet in die eerste plek nie in die penarie beland nie. Bou filters in jou lewe in wat soos radar die dinge wat nie goed is vir jou nie en tot hartseer gaan en kan lei kan optel. Ek glo dat geen mens nie weet wat die regte ding is om te doen nie. Daardie klein stemmetjie in jou wat jou voor die tyd waarsku om iets nie te doen of te lees nie. Niemand het gesê dat alles wat jy doen OK is nie. Soms, al het jy jou oog op die rooibokkie, moet jy dalk, te midde van die gevaar, ‘n ompad neem om daarby uit te kom.

• Wees in daardie asem ook versigtig wie en wat jy om jou toelaat. Iemand het een keer gesê dat jy die gemiddeld is van die 5 mense wat jy naby jou toelaat. Onthou altyd dat die mense om jou hulle eie filosofie indra in raad, en dat hulle ook net vir jou subjektiewe raad gee, want hulle hoor die storie net van een kant. Ek hoor baie keer dat mans negatief oor vrouens en verhoudings praat, en dan wonder ‘n mens hoekom dit nie goed gaan in hulle verhoudings nie. Vermy die praatjies en die dinge wat nie goed sit met jou siel en jou doelwit nie. Wanneer ek gaan jag, trek ek ‘n groot dik baadjie aan. Die baadjie is nie net vir die koue nie, maar beskerm my ook teen die haak en steek bossies van die lewe. Alhoewel die bos my wel gryp, gryp dit die baadjie en nie my vel nie. In essensie kry ek nie seer nie, want ek het ‘n skans gebou tussen my en die dorings.

• Wanneer jy nou wel in die situasie is en vassit, is dit belangrik om kalm te bly en rustig te word. Hoe meer jy spartel en beweeg, hoe meer van die dorings gaan jou gryp. Ons leef in ‘n wêreld waar ons geleer is om altyd aksie te neem as iets gebeur. Die oosterse godsdienste leer ons dat in stil en rustig word die antwoorde lê. Gaan staan stil, word rustig en kyk na die situasie om jou met objektiewe oë. In rustigheid alleen kan jy loskom uit enige situasie waarin jy is. In objektiwiteit en rustigheid kan jy die regte besluite neem. Ja, en alles in die lewe is ‘n besluit. In jou rustigheid kan jy beplan.

• Begin op ‘n punt. Jy kan nie al die dorings op een slag afhaal nie. Die krag van die enkele doring is min, maar die gesamentlike krag van almal maak dit onmoontlik om los te kom. Wanneer jou lewe dalk voel asof dit nie sin maak nie en ‘n malle vasgewikkel is, word rustig en begin by die dinge waaroor jy beheer het. Fokus op die enkele doring.
• Moet ook nie met allerhande ander dinge betrokke raak en paniekerig word nie. Sommige mense is verstrengel in soveel dorings van verskillende bosse dat hulle nooit daar kan uitkom nie. Fokus nie net op die enkele doring nie, maar fokus daarop om te prioritiseer en eers een ding af te handel voordat jy ‘n nuwe aanpak. Soveel hartseer en ongeluk in verhoudings kom van die feit dat jy twee mense kry, vasgevang in ou gewoontes en idees en pyn, wat elkeen vassit in hulle eie bosse, en dan probeer hande vat. Sorteer jouself en jou eie dorings uit.

• Jy kan ook nie vir ewig in die bos vassit nie. In die jagveld is daar altyd ‘n saak van water, kos, donker en leeus. As jy so vasgevang is, kan jy eintlik basies niks doen of vlug nie. Jy kan geen kant toe beweeg nie. Weet dus dat daar gevaar is in vassit. Rook is hier ‘n goeie voorbeeld. Ek weet die gevaar van siekte en dood staar my in die oë, maar as ek nie die dorings van die gewoonte een vir een begin losmaak nie, gaan ek tien teen een in die moeilikheid kom.

• Jy het soms hulp nodig. Ons erken dit nie altyd nie, daar is dorings wat jy nie kan bykom of sien nie, en daarvoor het jy hulp nodig. Ons moet ophou om soos klein kindertjies te wees wat alles self wil doen. Mense wat jy kan vertrou rondom jou sien dorings raak wat jy nie eers van weet nie. As die dorings so diep gesny het, het jy dalk ook beter hulp nodig soos ‘n dokter. Moenie probeer om alles in die lewe self te wil doen nie, luister na die mense om jou en moenie te hardkoppig wees nie.

• Om die dorings uit te haal is seer en gevaarlik. Op een of ander stadium, gaan die vassit jou pyn veroorsaak. Ongelukkig moet jy dan maar die pyn vat, want sonder pyn gaan jy nie so maklik loskom nie. Baie mense sit eerder in die bos vasgewikkel vir altyd omdat hulle bang is vir die pyn. Eerder sal hulle doodgaan van die honger en dors en deur leeus gevang word. Onthou, die pyn wat jy moet deurgaan van ‘n doring in die vinger, is dalk ‘n klein opoffering nou, maar dalk spaar dit jou van soveel groter en erger pyn later in jou lewe.

• Soms moet jy maar jou baadjie offer vir die doring-gode. As jy nou gesukkel en gesukkel het, kan dit soms wees dat jy, vir redding van jouself, jou duur en mooi baadjie net daar in die dorings moet los en wegstap. Dit is natuurlik nie so ‘n maklike besluit nie, maar soms is dit die enigste opsie wat oorbly.

Gaan ontknoop jouself!

1 comment: