Saturday, January 14, 2012

15821 dae

Vandag is ek 43.32 jaar oud. Dit werk uit op 519.79 maande, 2260.15 weke en 15821 dae vandat ek gebore is. Sjoe, wat my vang is nie die jare nie, maar die dae. So sit ek nou vandag en ek kyk terug na daardie 15821 dae, en ‘n mens wonder wat jy gedoen het met soveel dae? Het jou lewe uitgewerk soos wat jy gedink het, en het jy daardie dae gevul met wat belangrik was? En ‘n mens kan nie anders as om te wonder hoeveel dae jy nog oor het om te leef nie.

Jy sien, wanneer jy die dae so aftel, sal dit interresant wees om te weet hoeveel daarvan jy werklik gelukkig was en of jy sinvol daarmee omgegaan het. Dit maak ‘n mens natuurlik skrikkerig om te besef dat jou ouderdom nie iets is wat in jare alleen getel word nie, maar ook in dae en natuurlik ure en minute. Om terug te kyk is altyd ‘n goeie ding, want dit help ons om te besef hoe kosbaar die lewe is.

In die laaste klompie jare het ek mense vir wie ek baie lief is aan die dood afgestaan. Ek het gesien hoe iemand met sy laaste stukkie krag die tyd uitkoop en probeer om nog ‘n dag, nog ‘n week en nog ‘n jaar te leef. Die stryd van iemand om so aan die lewe te bly maak ons natuurlik hartseer, maar dit moet ons ook help om anders te kyk na ons self.

In soveel boeke oor self help word daar verwys na “scripting”. Dit is nou om vir jou ‘n tipe draaiboek te skryf oor hoe jy graag jou lewe wil rig. Ek is nogal die laaste ruk baie besig met my eie draaiboek. Dit is amper soos om jou biografie nou al te skryf en vorentoe te kyk, eerder as agtertoe. Die vraag is net wat die basis daarvan moet wees.

Elke liewe dag stoei ons met die gedagtes in ons koppe, maar die basis van jou biografie is en moet altyd opgesluit wees in die gevoel wat jy kry wanneer jy die dae van jou lewe aftel. Jy is spesiaal, jy het die reg om hier te wees en alles is net genade.

Jy sien, vir eeue het mense geveg vir bestaansreg, vir die gevoel dat jy net ‘n nommer kan wees en stemreg het. Vroue en minderheidsgroepe veg steeds oor die hele wêreld vir stemreg. Daardie gevoel wat jy in jou binneste kry dat jy regte het en dat jy spesiaal is. Spesiaal beteken nie dat jy op ‘n tydskrif se voorblad moet verskyn nie, maar dat jy spesiaal genoeg is om in tel te wees. Daardie gevoel dat iemand jou raaksien vir wie jy is, en dat die feit dat jy jy is, genoeg is vir hulle.

Eintlik veg ons onsself moeg daagliks sodat ons in tel kan bly. Veg ons vir iets wat ons eintlik nie in ‘n draaiboek hoef te skryf of eers in die laaste hoofstuk van jou biografie word nie, maar iets wat jy jou kleim oor afsteek. Iets wat jy net eenvoudig het, maar wat dalk dormant in jou hart is. Iets wat in jou en deur jou en om jou IS. Die draaiboek van herontdek wie jy is, en tevredenheid met daardie persoon.

Jy sien, vir lank in my lewe het ek probeer veg om iets te word en te wees vir mense wat ek gedink het HULLE wil he ek moet wees. Ek het in ander mense se toneelstukke gespeel en so hard daaraan gewerk dat ek totaal vergeet het dat daar my eie spel is. Ek het vergeet dat ek spesiaal genoeg is en die reg het om my eie ideale na te streef. Ek het my ideale en doelwitte by die deur uitgegooi en ek het ter wille van ander ook groot veranderings gemaak, ten koste van myself. Ek het die reg om te droom. Ek het die reg om die genade van bo ook oor myself toe te wens en nie net oor ander nie. Ek het die reg om vir myself te leef. Ek mag!

Wanneer jy dit doen, maar jy elke dag en uur van jou lewe sinvol in die rigting van jou selfverkose lewe. As jy dit nie vir jouself toewens nie, en deel maak van wie jy is nie, gaan en sal dit tog nie saak maak hoeveel ure of dae jy leef nie, en hoekom sal jy dan veg om aan die lewe te bly?

Die bybel stel dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Dit begin natuurlik altyd by liefde vir jouself. Selfsug het so ‘n vloekwoord geword en as iemand hulle kleim afsteek oor hulle lewe of standpunt inneem dan is jy egoisties of hardkoppig. Ons ontneem onsself van selfregte deur ander se kritiek. Ons ontneem onsself van dinge, want ons het nie liefde vir onsself nie. Dalk is die probleem nie selfsug of egoisme of hardkoppigheid in die wêreld nie, maar juis die tekort daaraan dat ons onsself toelaat om te leef. Dalk is die wêreld se spiëel van liefdeloosheid spesifiek die oorsaak dat ons nie onsself spesiaal genoeg ag om onsself lief te hê nie.

Wanneer jy so aan die begin van die jaar jou dagboek inskrywings maak met al die vakansiedae en wat gedoen moet word, maak seker dat jy bo-aan elke dag skryf, EK IS SPESIAAL, EK MAG en aan die einde van elke dag EK HET!

No comments:

Post a Comment