Sunday, January 22, 2012

Skep van Karma

Karma is volgens definisie ‘n aksie of ‘n daad wat tot ‘n nuwe kringloop van oorsaak en gevolg lei. Dit is soos om ‘n klippie in die dam te gooi wat sirkels maak, en wat op sy beurt die vorige klippie se sirkels beinvloed. Ook word die aksie ander name gegee soos die “butterfly effect”, wat beteken dat as ‘n skoenlapper op een plek, hoe klein ookal, sy vlerke klap, daar erens ‘n groot wind laat waai.

Alhoewel ons in die westerse wêreld vir lank nie gedink het aan die konsep nie, aangesien dit van oosterse oorsprong is, besef ons meer en meer elke dag, dat wat ons ookal die naam van hierdie konsep gee, elke aksie van elke dag, elke woord my en jou wêreld beinvloed. Ek skep elke dag ‘n nuwe kriingloop in myself, my maat, my kinders en die hele wêreld om my.

Dwarsdeur die Bybel word daar vir ons die konsep van oorsaak en gevolg geskets. Van Adam en Eva in Genesis, deur die rigters, deur al die konings, die Nuwe Testament en Jesus, tot en met die Openbaring en die finale oordeel. En alles begin by die klippie, my gedagtes en ingesteldheid. Die Bybel vertel nie verniet vir ons dat ons wag oor ons gedagtes moet hou nie. Wat jy ookal dink oor dinge soos die “law of attraction”, stel selfs die Bybel vir ons dat as jy iets gedink het wat verkeerd is, dit reeds sonde is.

Een van die beste voorbeelde hiervan het ek hierdie week ervaar. Ek wil vir my ‘n ander kar koop, met die spesifieke prys in gedagte. So spandeer ek toe tyd op die “Autotrader” se webblad en sien ‘n sekere tipe kar wat ek dink nogal goeie waarde vir geld is. Dit lyk asof dit fantastiese waarde vir geld is, maar voorheen het ek nooit opgelet of gedink daaraan om so ‘n kar te koop nie. Hierdie week was ek verbaas, want ek het nie net baie van hulle gesien op die pad nie, maar ook in die wit kleur wat ek in belangstel.

Het ek nou toevallig deur my denke hierdie karre op ‘n misterieuse manier laat ontstaan? Verseker nie, maar my bewustheid van hulle bestaan het ‘n invloed op my oog gehad om hulle raak te sien. Dit het my laat skrik, want ek het eersterangs ervaar hoe belangrik dit is wat in my gedagtes gebeur. Meer as dit nog, ek deel toe met iemand dat ek van die tipe voertuig hou, ek kort voor lank is dit nie net ek nie, maar daardie persoon se oë wat ook oopgaan en vir my ook daardie karre wat ek mis uitwys. So, dit is nie net in my lewe nie, maar deur die feit dat ek dit gepraat het, het dit tot ‘n sneeubal effek gelei.

So wonder ek toe by myself dat as dit gebeur in ietsie kleins soos hierbo, hoeveel ander gedagtes dra ek in my saam wat tot my geluk en ongeluk lei? Besef ek elke dag hoe kragtig my gedagtes is? Hoeveel karma skep ek nie elke dag nie? En wat dit meer kompleks maak is dat ander se gedagteklippies ook in die dam gegooi word wat se rippels my rippels beinvloed, en wat ek ookal doen, dit gaan my beinvloed.

Dit wil dus voorkom asof al die dinge wat ons in die “nuwe denke” lees en leer oor hoe spiritualiteit is, niks nuuts is nie. Baie van die geskrifte van eeue gelede, insluitend die Bybel, leer ons oor hierdie konsep. Pas op vir jou woorde, pas op selfs vir jou denke en ook oorsaak en gevolg is deel van die lewe.

Iemand vertel nou die dag vir my van haar verhouding. Hulle was die sondag by haar familie, en haar man was so effens geirriteerd die dag. Hy het sommer so in die middel van die kuier besluit dat hulle huistoe gaan. Daar was ‘n redelike atmosfeer met die terugrit huistoe. So probeer hulle dit toe uitpraat en elkeen het sy en haar standpunt gestel. Jy sien, nou is daar karma geskep. Sy is nou elke keer in haar agterkop skepties of hulle na haar ouers kan gaan.

Nou word dit al hoe groter, want sy het in die redenasie genoem dat dit ook nie vir haar lekker is om na sy ouers toe te gaan nie. Losse woorde wat sy nie bedoel het nie, maar wat diep sny en vir die res van hulle lewens vir hulle spanning kan veroorsaak.

In ons opleiding as sielkundiges en dominees leer ons dat ‘n mens dinge in jou hart moet uitpraat in die verhouding. Jy moet in ‘n verhouding wees waar jy die haakplekke moet kan uitsorteer. Na al my praktiese ondervinding van my eie lewe, wonder ek egter baie ernstig hieroor. Jy sien, elke woord wat jy uiter om uit te sorteer, word nie altyd ontvang met opregte vertroue deur die ander persoon nie. Wat gebeur is dat ons eintlik deur die uitsorteer van ons sake, nuwe situasies van spanning skep wat hanteer moet word.

Daarom dink ek dat die eerste probleem is dat ons wil alles uitsorteer. Ja, jou man is dalk nie die mees romantiese mens in die wêreld nie, maar om dit vir hom te sê gaan dalk net ekstra spanning bring. Elke keer as daar ‘n spesiale geleentheid voordoen, gaan hy voel hy moet dinge op ‘n sekere manier doen, anders gaan hy weer kritiek kry. Aan jou kant gaan jy elke keer wat hy vir jou blomme bring nie dink dat dit spesiaal is nie, want hy doen dit net omdat jy van hom gevra het om dit te doen. So begin ‘n bose kringloop van nuwe karma wat geskep word. Jy wat nie voel dat jy belangrik genoeg is nie, omdat hy nie aan jou vereistes voldoen nie, en hy wat minderwaardig voel aangesien jy hom kritiseer nie net vir wat hy doen of nie doen nie, maar ook van hoe hy dit doen of nie doen nie.

Almal van ons onthou hoe lekker is daardie eerste paar weke of maande van ‘n nuwe verhouding. Sommer net lekker omstandighede waar daar geen kritiek of uitsorteer is nie. Dit is natuurlik die plek waar ‘n mens mekaar begin leer ken, maar die vraag is tot watter doel. Want in alle verhoudings is daar altyd daardie eerste ding wat jou begin pla oor die ander persoon, en dan die vertel vir hulle dat dit jou nie pas nie. Hoekom die “wittebrood” tyd van ‘n verhouding so goed werk, is dat ons in daardie tyd in mekaar die mooi soek, die rede van hoekom ons bymekaar wil wees. Dan wil dit voorkom dat in die tweede fase van verhoudings mense mekaar kritiseer, amper soos om geleenthede te soek om nie bymekaar te wees nie. So sneeubal hierdie karma-skepping tot by ‘n punt waar mense nie eers meer die mooi in mekaar raaksien nie.

Dit gaan ook nie net oor praat nie, maar in die manier hoe ek dit doen en hoe dit vatplek kry in die ander persoon. So het iemand een keer gesê: “As dit wat jy doen of sê nie ‘n positiewe bydra maak tot die verhouding nie, moenie dit sê of doen nie”.

Daar is natuurlik ook die gemeenskap waarin ons leef wat gevul is met allerhande “bygelowe” oor verhoudings. Mans is so en vrouens is so, geen verhouding werk nie ens. Wanneer ‘n klomp mans of vrouens bymekaar is, word ons gebombardeer deur gedagtes en idees oor hoe onaangenaam hulle verhoudings is. So is een vanmy vriende nou in ‘n verhouding wat so spesiaal en wonderlik is, dat dit ‘n mens eintlik inspireer daartoe om jou lewe beter te maak.

Jy sien, dit is dus nie net jy wat karma skep in jou lewe nie, maar ook dit wat jy toelaat om jou te beinvloed. Dit gebeur so maklik. Ek kan onthou toe ek dominee was en elke dag na soveel mense se verhoudingsprobleme geluister het, dat ek naderhand MY geloof in die sukses van verhoudings begin twyfel het. Ons praat so graag met ons kinders oor groepsdruk, maar laat ons dit nie in ons eie lewens toe nie? As almal om jou rook, gaan jy dink dat dit die norm is. Kom nou op ‘n plek waar jy die enigste roker is, skielik dink jy nie meer dat dit die norm is nie. Wees dus versigtig tussen wie en wat jy jouself bevind, want hoe jy ookal dink, jy is nie beskerm teen alles nie, dit gaan sit tog op jou wat ander dink en doen. Jy is nie ‘n eiland nie, maar deel van ‘n groot geheel van menswees. Moenie alles glo wat ander vir jou sê nie, onthou altyd dit is hulle lewens en probleme wat hulle het, as jy by hulle moet wees. Die ander alternatief is om te kies om eerder tussen die tipe mense te wees wat positief bydra tot jou denkwyse. Niemand het die reg om te veroordeel nie, maar almal het die keuse om te beoordeel by wie en in watter tipe situasies hulle wil wees. Onthou altyd die spreekwoord: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”.

Jy sien, elke woord en elke daad lei tot karma. Dit lei nie net tot karma in daardie omstandighede nie, maar tot karma vir die hele lewe rondom jou. Dit beinvloed jou ingesteldheid en lei weer tot dade wat jy soms nie weer kan terugkry nie. Dit is soos woorde wat geuiter is, jy kan die klippie wat jy gegooi het nie keer om sy rippels te maak nie.

Wees ook versigtig dat jy, alhoewel alles in die lewe nie afhanklik is net van jou en jou gedagtes nie, jy nie ander alleen verantwoordelik kan hou vir wat met jou gebeur nie. Jy sien, elkeen van ons is ‘n dammetjie met ‘n groot heining om. Alhoewel mense die klippies in jou dam gooi, is dit jy wat hulle toegelaat het om dit te doen. Soms is daar mense wat die “Reg van toegang” bordjie ignoreer, maar jy moet sorg dat dit opgesit is en almal om jou deeglik daarvan bewus is. Jy kan gaan kuier buite jou “hokkie”, maar dit is jou besluit oor wie mag inkom. Die bordjie gee jouself ook die reg daarop dat as jy voel dat hulle invloed op jou dammetjie nie positief is nie, jy hulle kan verjaag, sonder om redes daarvoor te gee.

Te veel mense laat toe dat mense hulle pragtige dammetjies fandaliseer. Onthou dit is jou lewe, jou dammetjie en jou keuse. Wees dus net so versigtig wanneer jy ander mense se dammetjies besoek, dat jy met liefde en deernis omgaan, want die klippies wat jy gooi kan jy nie terugkry nie, en dit veroorsaak slegte karma vir hulle en vir jou nie.

Skryf dus by jou eie dammetjie: “Reg van toegang voorbehou” en wanneer jy ander se dammetjies besoek: “Wees versigtig, elke klippie het ‘n rippeleffek”!

No comments:

Post a Comment