Wednesday, January 18, 2012

As jou gebed nie verhoor word nie

Ek onthou die ou grappie van die dominee wat gladnie goed kon preek nie. Sy 6 jarige vra sy ma wat sy pa doen as hy so teen die kansel opstap en vassteek en sy kop laat sak. Sy ma antwoord: “Hy vra vir God om hom te help met sy preek”. Die seuntjie sit so ‘n rukkie stil en toe antwoord hy: “Mamma, nou hoekom help God hom dan nie?”

Dit is in kort ‘n baie groot probleem nog altyd in godsdiens gewees, die vraag oor hoekom God gebede nie verhoor nie. Hoekom gebeur soveel dinge met ons wat ons gladnie voor gevra het nie, en dit wat ons voor vra kry ons nie altyd nie?

Die Bybel is gevul met legio voorbeelde van mense wat dinge gevra en van God gebid het, en dit nie gekry het nie. Een van die aangrypendste hiervan is Jesus by die kruis wat van God gevra het om daardie beker by Hom te laat verbygaan, en God het dit nie gedoen nie. Die ander is van Paulus wat vir God vra om die doring uit sy vlees te haal, maar God het geantwoord dat God se genade vir Paulus goed genoeg is.

Natuurlik is dit ook gevul met voorbeelde van wonderwerke, waar mense komplekse dinge gevra het, soos om gered te word uit vuurwarm oonde en van leeus. Vroue wat verneder is deur kinderloosheid en God wat wonderbaarlik vir hulle kinders gegee het, soos Sarah en Abraham. Dit is gevul met wonderlike “gelukkige” situasies waar dinge vir mense sommer net wonderbaarlik uitgewerk het, totaal onnatuurlik en sonder verdienste.

Die Bybel is ook gevul, wanneer dit kom by sulke verhorings van gebede, met veral die idee dat dit oor die grootmaak van God se naam gaan, of oor God se Eer. Die verhoring het gegaan daaroor om vir mense te wys dat Jahweh die “enigste” God is, sterker en beter as enige ander gode of idees van die tyd.

So besef ons dat daar verskillende sieninge van hierdie strikvraag is. Aan die een kant kry ons mense wat totaal en al oorweldigend glo dat alles in God se hande is en dat hulle in Hom alleen moet bly glo dat Hy die regte ding op die regte tyd sal gee. Natuurlik is hierdie totale idee ook onderbou met ‘n stuk vrees. Vrees vir “ongeloof” en die vrees dat ek “gestraf” sal word indien ek nie aanhou bly glo nie. Dit is amper daardie gevoel wat jy kry as jy daardie e-mail kry met ‘n mooi boodskap wat aan die einde ongeluk belowe as jy dit nie vir almal op jou kontaklys stuur nie. Dit is natuurlik ook nie hoe ek oor God dink nie, en dit is beslis nie geloof nie, maar vrees. Dit is ‘n baie fyn lyn.

As jy kyk na alles om jou, is dit soms moeilik om in die groot raadsplan van God te glo. Daar is oor ongeluk baie idees, waaronder die idee dat ons lewe hier op aarde slegs tydelik is, ‘n tent is waarin jy bly, maar dat alles eers perfek en heerlik gaan wees, daardie oomblik wat jy in die hemel is. Dit is amper die idee dat niks hier saakmaak behalwe geloof nie, en dat daar gladnie in my lewe op aarde ekstatiese geluk is of kan of mag wees nie. Ek sien die beeld van monnike wat hule knieë deurkruip op trappies en selfkastyding.

Wanneer dit goed gaan, dan is dit God, maar wanneer dit sleg gaan, dan is dit my tekort aan geloof en moet ek net meer glo. Daar is mos geskryf dat ons geloof ons sal red. Daarmee stry ek nie, waaroor dit gaan is natuurlik my ingesteldheid oor wat geloof is en geloof beteken.

Ander mense glo weer dat daar ‘n balans is in alles. God se liefde en God se straf is die twee teenpole wat God God maak. So ook is die lewe die goed en die sleg wat saamflans om my lewe OK te maak. Die idee dat alles nie net goed kan wees nie, en alles ook nie sleg kan wees nie. Wat opgaan, moet afkom. Amper ook dat God alles geskape het met die grondreëls van die natuur, en dat alles reeds vasgestel is lank voor ons as mense nog bestaan het.

Ander glo weer dat dit alles my toedoen is. Ek is die oorsaak van my ongeluk, en ek is die argitek van my eie geluk. Dit is asof God nie ‘n rol speel nie, en as Hy doen is dit slegs toevallig. Ek het dus God eintlik nie nodig nie, maar is verantwoordelik vir my geluk en oorsaak van my eie ongeluk. Die sogenaamde “law of attraction” beteken dan ook dat ek alles kan kry wat my hart begeer, solank my vibrasies reg is. Solank my denke en aksies in die rigting van my begeerte is, sal ek die reënboog vind. Ek word dus op ‘n manier nie die argitek van my geluk nie, maar ek word die God wat My pas. Ek manipuleer dus alles om my en ek is die oorsaak en gevolg van my eie denke en dade.

Hier word dit so bietjie kompleks, aangesien die bybel dit ook stel dat jy eers die koningkryk van God moet soek, en God se wil, voordat jy alles sal kry wat jou toekom. Daarmee stem ek saam, want die basis van alles in my lewe is God. God leef in my en deur my en Hy het my gemaak. Die vraag is net of dit werklike geloof is en of ek dit doen sodat ek alles kan kry wat my hart begeer. Glo ek in God met opregte geloof, of omdat ek daaruit voordeel wil trek? Dat ek God soms sien as kersvader wat, as ek soet is, vir my die rooi fiets van my drome gaan bring. Wil ek nie dalk God "omkoop" sodat ek my sin kry nie?

Begin ek in God glo wanneer ek siek word met kanker, net omdat ek redding soek uit my pyn? Glo ek in God, omdat ek rykdom en mag soek? Weereens ‘n fyn lyn wat ons onsself moet afvra oor, as ek werklik glo, of ek dit doen vir eie gewin.

Jy sien, soos ek dit sien uit die bybel, gaan geloof, gebed en verhoring daarvan, oor die Eer van God. Dit wil blyk asof God eerste MOET kom, te midde van wat ek dink en te midde van hartseer en teenspoed. Dat God moet eerste wees en Sy naam verheerlik moet word al het ek kanker of al sterf ek. Dit wil voorkom of alles om die spilpunt van God MOET draai.

Dit gaan dus oor die rede van wat ek met my gebed wil bereik. As dit oor selfsug gaan, of nie oor God se Eer nie, dan is ek nie opreg in wat ek vra nie. Ons moet eenvoudig besef dat dit die middelpunt van ons bestaan moet wees. Ons is spirituele wesens en dit moet ons kernpunt wees.

Daarmee saam moet ons ook besef dat al die ander dinge OOK waar is en kan wees. Daar is niks fout vir ons om in ‘n tyd van vrees God se beskerming te roep nie. Daardie God wat my kan help. Van die begin af in hierdie stuk het dit nooit gegaan oor iets anders as wat my reaksie is wanneer God nie doen soos ek vra nie. Miljoene mense is op brandstapels verbrand wat gebid het tot God vir redding wat nie gebeur het nie. Hoekom, dit sal ons nooit weet nie?

Dit bring my altyd terug na Dawid. Dawid het baie oor God en sy lewe gedink. Dawid het op verskillende tye deur sy lewe vir God die vraag gevra van "hoekom". Hy het baie getwyfel oor God en God se hand in sy lewe. Hy het met God gestry in sy gedagtes en wou graag gehad het dat dinge altyd in sy guns moet wees. Hy het baie vyande gehad wat sy bloed gesoek het, hy het baie met sy eie persoon en optrede gesukkel. Daarom weet ons ons mag vra, ons mag bespiegel en wonder. Ons mag dalk ook God kwalik neem vir ‘n geliefde wat weggeneem is.

Maar dan kom Dawid en hy besef, net soos ek, dat ons nooit die antwoord kan kry vir hoekom dinge gebeur nie. Ons kan redeneer soos ons wil, maar tog, op die ou einde is daar niks oor as om weer na God te draai nie. Dawid sluit sy klaagliedere en gebede af met ‘n geloofsbelydenis. En daarin is die enigste waarheid opgesluit, naamlik, al gaan dit hoe, en al voel dit my gebede word nie verhoor nie, is ons en kan ons niks sonder God wat bestaan nie.

So, wat jou idee oor die onderwerp ookal is, en hoe jy ookal glo en watter lewensfilosofie jy aanhang, doen wat Dawid doen en maak seker dat jou idees God insluit, nie vir wat jy daaruit kan verkry nie, maar omdat jy ‘n onverskrokke geloof in God het. ‘n Geloof waar dit gaan nie oor wat jy kan kry van God nie, maar rondom jou kyk en sien wat God alles wel vir jou gee. 'n Wete en uitleef dat jy erken dat niks moontlik is sonder God nie, die skepper wat nie net geskep HET nie, maar die mag het om te kan herskep, maak nie saak wat die bouval is en hoe erg die verwoesting is nie.

Wat ookal jou situasie vandag is, glo my, glo die bybel, God is daar! Al verstaan ons dit nie, al verstaan ons nie Sy redes nie, weet dit verseker!

No comments:

Post a Comment