Thursday, January 5, 2012

Wat jy glo word die realiteit en word jou wêreld!

Op Nuwejaar het ek stukke geskryf oor voornemens en ook oor Seënwense. Ek het so bietjie gedink oor my eie lewe en my missie in die lewe en wat ek glo oor die wêreld en oor myself.

Jy sien, elke mens het ‘n filosofie oor die wêreld, ander mense en homself. Een ding wat belangrik is, is dat dit wat ek elke dag dink en doen, dat dit ‘n gewoonte word, maar meer as dit nog, dit is wie ek word en wie ek is. As ‘n kind elke dag in ‘n huis grootword waar hy verkleineer word, gaan hy nooit in homself glo nie. As ‘n kind hoor dat hy alles kan vermag, kan hy. As mense hoor dat hulle goed en oulik is, word hulle dit. Dit is hoekom soveel selfhelp boeke ‘n mens aanspoor om te kyk na die invloede rondom jou, omdat ons deur sielkunde weet dat niemand ‘n eiland is nie, en almal beinvloedbaar is.

In ‘n gesprek hierdie week kom ek toe weer agter hoe belangrik dit is om te kyk waaraan jy jouself en jou kinders blootstel. As ouers is ons so ingestel op wat ons kinders lees, kyk en speel. Maar ons as grootmense? Met klein babatjies gaan ons so ver om die kos wat hulle eet te weeg en te analiseer, maar ons eet maar enige nonsens wat ons ons hande op kan lê.

Ek is iemand wat glo daarin dat wat jy BELEEF vorm wat jy GLO, word wie jy IS en lei tot wat jy DOEN. En die belangrikste hiervan is wat jy GLO. Die rede daarvoor is dat ons almal filters het van wat ons toelaat om ons diepste wese (wat ek glo) aan te raak. Sommige mense, soos kinders, se filtertjies is maar dun en daarom het hulle beskerming nodig. Ander se filters is nooit ontwikkel nie, of ander se filters is al so verweer dat hulle nie meer kan onderskei wat goed en aanneemlik en volmaak is nie.

So, vandag handel dit oor wat jy glo. Ons praat so baie keer oor die woord sonde en daar is soveel plekke in die Bybel waar ons sonde definieer. In die Tien Gebooie word dit rigiede lyne. Op ‘n ander plek stel dit dat wat vir een mens verkeerd is nie vir ‘n ander noodwendig verkeerd is nie. In Jakobus lees ons dat ons almal in ons binneste weet wat die regte ding is om te doen, maar as ons dit nie doen nie, dan word dit sonde. Dit is dalk waar die spreekwoord vandaag kom om jou siel te versondig. Dit is dus wanneer jou optrede en menswees nie meer inpas by wat jy weet wat die regte ding is nie, of wat jy glo nie.

So, om werklik gelukkig te wees beteken dat ek ‘n geloofsbelydenis vir myself en oor myself moet skryf. Nie die een wat in die kerk gebruik word nie, maar ‘n missie stelling van wat jy in die lewe is en hoe jy na die lewe kyk. Dit is nie fundamentalisme nie, want jy kan dit verander as jy seker is dit het verandering nodig. So baie mense rondom ons leef sonder enige rigting of beplanning. Mense wil nie meer geloofsbelydenisse opstel nie, omdat die wêreld so verander elke dag en hulle voel dat hulle nie meer inpas nie.

Die geloofsbelydenis moet wees soos daardie ronde bal-speelgoed wat ons kinders vormpies leer. Daar is ‘n vorm en die driehoek van buite moet daarin pas of die kind moet aanhou probeer tot dit kan. Hierdie vorm is eintlik jou filter waarmee jy toelaat net wat in jou lewe inpas. So in my laaste paar jaar van soeke en denke, is een van die dinge wat my ondergang beteken het, die feit dat ek nie genoeg gefilter het nie, en dinge toegelaat het en begin doen het wat nie gestrook het met die oorspronklike geloof wat ek het nie. Ek het my siel versondig, en daarom het ek begin depressief raak. Dit is makliker om “nee” te se en iets te verwerp as om jou huis skoon te maak. Jy sien, as jy te veel hierdie dinge toelaat, is daar later nie meer plek vir die vormpies wat jou geloofsbelydenis voor gemaak is nie. Hoe minder jy filter, hoe minder is daar plek vir die “regte” dinge en die “goeie” dinge.

Later kom jy op ‘n punt waar jy gladnie meer die “regte” dinge doen nie, want jy voel en dink dat dit tog nie gaan help nie want jy is soo ver in die breinspoeling in.

Maar, dit kan ek jou verseker, dit is nooit te laat nie. As jy buite beheer voel van jou lewe, is dit omdat JY die beheer daarvan weggegee het aan gedagtes, idees of mense. As jou dade en uitkoms nie is wat jy soek nie, gaan terug en vat beheer. Gaan maak jou huis skoon van alle dinge wat nie daar hoort nie. Vat vandag beheer en gaan steek jou kleim af in jou lewe. Dit is nooit te laat om die regte dinge te begin doen nie, en kort voor lank sal jy sien dat as jy dit wat nie in jou geloof hoort nie, normaal net sal weggaan.

Hoe lank gaan jy nog iemand wees wie jy nie is nie? Hoe lank nog gaan jy jou essensie van menswees weggooi en jou siel laat versondig deur gedagtes en idees wat nie by jou hoort nie? Dit is soos om in ‘n sekere geloof se dienste te sit wat nie skroom met wie jy is nie, jou siel en die stemmetjie in jou gaan onmiddelik vir jou vertel dat jy op die verkeerde plek is.

Toe ons op skool was, het iemand een keer gese dat as jy ‘n christen is en Christus nie orals met jou kan saamneem nie, dit verseker nie ‘n plek moet wees waar jy moet wees nie. So gaan goeie en sterk filters en bewustheid van waarin jy glo, jou rig en lei. Soos baie mense gaan ons natuurlik die omstandighede en mense om my die skuld gee vir die “verkeerde” invloed op ons siele, maar onthou, elke mens leef met sy eie lewe en neem hulle eie besluite. Dit is niemand se skuld van hoe jou lewe uitdraai nie, net jou eie. My geloofsbelydenis van wie EK is, bepaal waar en by wie ek gaan wees, wat ek gaan inlaat en wat ek gaan verwerp. Dit is soos om SELF te besluit om iemand nie met ‘n mes te steek nie, sonder dat daar enige wette rondom dit bestaan. Dit is volwassenheid.

Dit is natuurlik ook ‘n gewoonte, en soos ons weet is die eerste plek waar ek ‘n gewoonte breek is in die bewuswording van die gewoonte.

Gaan skryf vir jou ‘n geloofsbelydenis en vorm jou lewe in die manier wat jy dit wil vorm, dit is wat mense van ander wesens op aarde onderskei. Dit is wat integriteit is, om dinge te doen wat pas by jou siel en essensie. Dit is my nuwejaarsvoorneme, om myself te vind en te verseker dat ek en my lewe is en word wat en wie ek glo dit is!

No comments:

Post a Comment