Sunday, January 8, 2012

Uitgeboul!

Sport is een van daardie inspirerende dinge in die lewe. So kyk ek nou vanoggend een van daardie films wat handel oor dieselfde onderwerp, naamlik iemand wat ‘n droom en ideaal het en alles wat hulle moet doen om eers hulle persoonlike demone te beveg voordat sukses hulle oorval.

In Sport leer ons vreeslik baie van die lewe, en ons sien dat meeste van die top spelers en spanne deesdae ‘n sielkundige afrigter ook as deel van die span het. Afrigters speel ‘n ongelooflike rol om mense gereed te kry vir die stryd, en daar is verskeie boeke al geskryf oor die feit dat oorwinning 10% fisies is, maar 90% sielkundig. Alles word gedoen om seker te maak dat die atleet se “kop” reg is vir die stryd om sodoende te verseker dat hulle optimaal hulle talente kan uitleef.

In die vorige 5 dag kriekettoets tussen Sri Lanka en Suid-Afrika het alles oor Jacques Kallis gehandel. Dit was sy 150e toets, en dit is so lekker om al die statistieke te sien oor die spelers. Nadat hy vir meer as 200 lopies sy paeltjie verloor, het Jacques in die onderhoud gesê dat hy aan homself hoë standaarde stel, en dat hy nie tevrede is wanneer die standaarde nie aan voldoen word nie.

In enige sport het dit so belangrik geword vir mense om hulle tegniek te verbeter. Video-analise van spelers word oor en oor geannaliseer om dit wat foute is uit te skakel en dit wat reg loop te verbeter. Daar word aan die dinge gewerk, aangesien jou teenstanders jou ook analiseer en jou probeer uithaal op grond van jou swak punte. Dit is belangrik om jouself beter te ken, want dit maak jou lewe beter. Dit help gladnie dat jy dit eenvoudig onder die mat probeer invee nie, want die lewe werk nou maar een keer met die “waarheid”.

As jy ‘n kolwer is en oor en oor verleer om jou voete te gebruik, kan jy dit maar ontken, maar jy gaan keer op keer jou paeltjie verloor. Om kompeterend te wees beteken nie om nie foute te maak of sonder tekortkominge te wees nie, maar eerder wat jy doen om dit minder te maak of te elimineer. Jy hoef dit nie persoonlik op te neem nie, maar deur oefening gaan jy en kan jy jou spel verbeter.

Eerlikheid is ‘n woord wat ons baie gebruik, nie net om die wêreld beter te maak nie, maar in ons alledaagse omgang met mense. Die vraag is egter hoe eerlik jy met jouself is oor wie jy is, wat jy is, wat jy doen en wat jy moet verander. Daar is soveel mense wat hulle paeltjies elke dag verloor en gladnie sukses behaal en goeie statistieke opbou nie, met die verskoning dat dit maar die manier is hoe hulle kolf. Hulle druk hulle koppe in die sand en laat hulleself bloot aan ‘n wêreld wat ongenaakbaar oor en oor dieselfde tipe balle boul. Die afrigters en mentors maak jou bewus van dalk daardie klein dingetjie wat jy kan verander om jou kanse op sukses beter te maak. Maar, as ek en jy nie WIL nie, gaan ons op dieselfde manier ons paeltjies verloor.

Iemand het een keer gesê dat jy die spel moet speel soos die spel is, en nie verwag van die spel om te verander om JOU te pas nie. Ons verwag van alles en almal om te verander om MY tekortkominge te oorbrug, terwyl dit ek en jy is wat die enigste is wat dit kan doen.

Die eerste plek om te begin is natuurlik in die aanvaarding dat die verantwoordelikheid nie by my maat of kinders of werk lê om te verander nie. Die tweede plek moet ek eerlik en sonder minderwaardigheid my tekortkoming erken. Dit is soos ‘n alkoholis wat eerstens moet erken dat hy ‘n probleem het. In die derde plek gaan niks gebeur as ek nie aksie neem nie. Aksie is ook om ander mense te betrek om my te help, mense wat objektief my kan leer van hoe ek die tekortkoming kan oorbrug. Deesdae is daar soveel hulpbronne wat ek kan gebruik van kundigheid om my. Dan in die vierde plek moet ek oefen. Om net die videobande te bestudeer sonder fisiese aksie gaan niks gebeur nie. Ek moet speel, ek moet betrokke raak voordat iets gaan gebeur. Ek moet deurgans ook toets en weer analiseer om te sien of ek vordering maak. En in die vyfde plek moet ek aanvaar dat ek dalk nie onmiddelik verandering gaan sien nie, en dat dit gaan tyd neem. Ek moet ook besef dat elke verandering ook weer nuwe situasies gaan meebring wat ek op dieselfde patroon kan oplos en verander.

Ek dink dat die lewe ‘n fantastiese avontuur is en ‘n heerlike “spel” is om te speel. David Duval was op een stadium die wereld se Nr 1 gholfspeler. Hy het so obsessief geraak om “perfekte” gholf te speel, dat hy ook so aan die tegniek gewerk het, dat hy sy geniet van die spel verloor het. Dit is waar die balans inkom, jy moet jou tekortkominge oorkom, nie oor die tekortkoming nie, maar sodat jy die spel van die lewe meer kan geniet.

Alhoewel daar duisende mense op die pawiljoen sit, speel jy altyd vir jouself en JOU span. Mislukkings van jou en jou span is nie vir hulle aanvaarbaar nie. Maar, as jy en jou span die een honderdtal na die ander opstapel en kompeterend is teen watter opponent ookal, sal hulle jou ondersteun en die kaartjie betaal om vir jou te kom kyk. Maar op die ou einde speel jy om jouself tevrede te stel. Selfs al is die lewe ‘n spansport, hang dit van elke individuele skakel af. Dit is jou doelwitte in die lewe, dit is en sal altyd ‘n individuele keuse en aksie wees wat sukses bepaal.

In sport en die lewe gaan jy foute maak, dit sou vervelig gewees het as dit perfek was, want dan sou daar geen kompetisie gewees het nie. As niemand hulle paeltjies verloor of soms die gholfbal in die water slaan nie, sou niemand ook daarna gekyk het nie. Mense juig die toe wat te midde van die imperfeksie, dit die beste oorkom deur talent en oefening.

Maar net omdat die lewe vol foute, imperfeksie, mislukking en probleme is, beteken dit nie dat jy nie mag of kan speel nie! Dit gaan nie oor die feit dat jy jou paeltjie verloor nie, maar hoeveel lopies jy gemaak het voordat jy dit verloor het. Daar gaan altyd ‘n bal wees wat jy nie weet hoe om te trotseer nie, maar beweeg aan en werk hard en oefen en stap weer uit om te gaan speel. Jacques Kallis het in die vorige toets altwee keer sy paeltjie verloor vir 0 lopies, die eerste keer in sy loopbaan.

Baie mense stap uit om te gaan kolf, maar pas net hulle paeltjies op uit vrees. Hulle speel nie groot houe nie, maar selfs dan gaan jy ook op ‘n stadium ‘n bal kry wat jy nie kan hanteer nie. Dit is hoe die lewe is, in vrees lê daar net soveel strikke as in die groot hou en vertroue in jouself dat dit die regte keuse is. En die lekkerte van die lewe is dat jy nooit sal 100% seker wees dat die besluit wat jy maak die regte gaan wees nie, dit is ‘n kans wat jy vat. Maar Gary Player se aanslag was nog altyd: “The more you practice, the more luck you have”.

No comments:

Post a Comment