Friday, September 30, 2011

Die gewoontes wat ons ry

Ek is ‘n roker, en dit wat mense van rook sê is baie waar. Dit is seker die moeilikste gewoonte om af te leer, want dit is meer as ‘n verslawing. En ek leer baie uit my rookgewoonte uit, wat so absoluut waar is van alle gewoontes wat ek aangeleer het.

Daar is ‘n verskoning daarvoor:

Almal ken die aanhaling: “Elke straatvrou het ‘n storie”. Alle rokers wil ophou en het ‘n strategie geformulleeer van hoe en hoekom hulle gaan ophou. Gesondheid en emfiseem is natuurlik die grootste hiervan, alhoewel geen waarskuwing op ‘n pakkie sigarette ons afskrik nie. Iemand sê nou die dag in die rookplekkie by Brooklyn Sentrum vir my: “Smokers are a dying breed”.

Almal van ons wat rook het ‘n verskoning daarvoor wat ons baie keer nie eers presies weet wat die werklike rede is nie. In die ou swart en wit films was die absoluut “cool” om te rook. Ek kan onthou dat my oupa gerook het, en ek was absoluut gefassineerd met hom en sy rookgewoonte. Hy het sy grys hare agteroorgekam en as hy sy pak aangehad het, het hy gerook soos James Bond.

Ek was baie sportief op skool en het nie gerook nie, spesifiek vir daardie rede. Op Universiteit het ek besluit om te rook, want dit was iets wat ek altyd wou gedoen het. Ek het na die kaffee gery op ‘n dag en vir my ‘n pakkie Kent gaan koop, dieselfde as wat my oupa gerook het. Aan die begin het dit moeilik gegaan, want ek het maar gesukkel om my sportiewe longetjies gewoond te maak aan die vreemde ding. Maar kort voor lank het dit vir my lekker geraak en normaal. Selfs ‘n slegte gewoonte word naderhand vir my die norm en aanvaarbaar.

Elkeen van ons het verskillende verskonings, dalk groepsdruk of dat ons wil gewig verloor. Maar baie keer gebeur dinge net en raak ons gewoond aan iets, sonder dat ons werklik daaroor ‘n wilsbesluit neem.

Ons lieg vir onsself daaroor:

Elke keer wat jy ‘n pakkie optel met die woorde: “smoking is dangerous to your health”, vertel ons onsself dat ek mos nog nie siek is nie, en dat dit tog nie so erg kan wees nie. Alhoewel alle rokers wil of moet ophou, of dit nou vrywillig of gedwonge deur emfiseem is, hou mense eenvoudig nie op nie. Ons vertel vir almal dat ons gaan, maar ons is nie werklik eerlik nie. Ons is bewus van die “probleem”, maar ons doen niks daaraan nie.

Dit is amper soos ‘n alkoholis wat slegs die gewoonte kan breek as hy dit in die eerste plek erken. Om op te staan en bewustelik te erken. Ek gebruik rook as ‘n voorbeeld, want soos met ander gewoontes voel jy nie die impak van jou daad elke dag of onmiddelik nie. Mense met ‘n gewigsprobleem en verslawing aan sjokolade wys nie onmiddelik op die skaal dat jou 300 gram Aero gelyk is aan 300 gram verhoging in jou gewig nie. Die skade van jou aksies is uitgestel, en daarom is dit vir jou onwerklik.

Omdat die konsekwensies in die toekoms is, glo ons dat daar ‘n kitsoplossing in die toekoms gaan kom wat dit gaan wegneem, so daarom is ek nie bekommerd daaroor nie. Daar sal tog ‘n nuwe vetpilletjie kom wat jy kan neem, of jy kan mos altyd gaan vir plastiese sjirurgie, so moet nie nou bekommerd wees oor jou gewoontes nie.

Ons vertel ook vreeslik baie stories van mense wat hulle hele lewe lank gerook het en nooit probleme opgetel het nie. Ons vertel van toe ons verlede week by die dokter was vir ondersoeke, dat die dokter nie kon glo dat ons rook nie, want ons is gesond.

Ons is reaktiewe kreature:

Omdat die konsekwensies in die toekoms is, glo ons dat ons die probleme dan sal hanteer en kan hanteer. Ek maak wat ek wil, en vat die pak slae wanneer dit kom. Nou eers die genot van my Dunhill, later die ronddra van ‘n suurstofmasjien. Nou eers die Aero, later die liposuction. Nou eers die uitskel en sleg hanteer van my huweliksmaat, later die jammer en die bos blomme. Nou eers die uitskel en irritasie met my kind, later die koop van ‘n playstation. Nou eers die kas wyn, more die hoofpyn en panado’s.

Ons is almal deeglik bewus in ons harte, en die literatuur herinner ons die hele tyd daaraan dat ons in die oomblik van NOU leef. Elke sigaretjie, elke skelwoord, elke Aero is in die NOU, maar het konsekwensies in die NETNOU. Elke woord en aksie van hierdie oomblik is die steentjie waarmee ek my more bou.

Die toring van Pisa is ‘n goeie beeld om te gebruik. Ons skewe bouwerk word vir die mense om ons ‘n besienswaardigheid, omdat dit skeef is. Jy sien almal wat al daar was met hulle foto’s van hoe hulle dit probeer regop hou. Almal om ons wat lief is vir ons probeer deur hulle aksies ons skewe bouwerk regop hou en keer dat ons nie val nie. Maar later verlaat mense ons wanneer hulle begin agterkom dat ons een ding sê, maar ‘n ander bedoel. Ons hou aan en aan om skeef te bou.

Die toring van Pisa het die beste ingenieurs nou al probeer stut en regop hou, maar hulle kan dit net keer om nie te val nie, maar skeef is skeef. Hulle kan nie die tyd terugdraai en gaan verander wat in die verlede gebeur het nie. Alhoewel ons dus dink dat my lelike woorde aan my huweliksmaat later reggestel kan word met ‘n verskoning, kan die verskoning nie die skewe bouwerk wegvat nie, dit kan net die gebou keer om nie om te val nie. Die pilletjies wat ek gaan drink om op te hou rook gaan nie my goeie sportiewe longe vir my teruggee nie, dit gaan net keer dat ek myself nie tot in die afgrond in rook van die dood nie.

Reaktief is dus net stutte wat die skewe bouwerk regop hou.

Wat is die antwoord dan:

Om die lewe te bou wat jy wil, het jy nodig om bewustelik elke dag en elke oomblik te bou. Elke sigaret wat jy aansteek het die vermoë om die gebou te laat kantel. Elke woord wat jy spreek, elke aksie, elke gebaar is ‘n bousteen. Jy moet egter besef hoe belangrik elkeen van hierdie steentjies van sekondes in jou hand is. Waar jy dit gaan neersit, en hoe!

Wees versigtig om ook in jou aksies verskonings te maak en almal om jou te blammeer. “Almal om my het gerook of gedrink en nou doen ek dit ook”. “Niemand het gelukkige verhoudings nie, daar is nie ‘n volmaakte manier nie, dit is my persoonlikheid”. “Ek was nog altyd sus of so”.

Wees ook versigtig om beloftes te maak wat jy in jou hart weet jy gaan breek. Mense belowe daagliks dat hulle gaan verander of gaan ophou om sekere dinge te doen, terwyl hulle in hulle harte glo dat hulle dit nie gaan of wil doen nie. Hierdie leuens is ook maar net stutte van riet gemaak, want mense sien later daardeur en besef dat hulle ons nie kan vertrou nie.

Moet ook nie alles aan die groot klok ophang wanneer jy ‘n gewoonte wil breek nie. Die beste manier om ‘n ding te doen, is subtiel, gebore uit jou hart. Jy gaan dalk soms nie heeltemal dit regkry nie, so dan stel jy niemand teleur nie. As jy besluit om liewer nie so te baklei met jou huweliksmaat nie, moenie vir hulle sê dat jy dit gaan doen nie, doen dit net, hulle sal self agterkom dat jy verander het.

Die wêreld gee applous vir aksie en nie idees nie. Mense om jou wat sien dat jy probeer, al kry jy dit nie heeltemal reg nie, gaan baie meer respek kry vir jou. Wanneer jy probeer om op te hou rook, beteken nie jy gaan nooit weer rook nie, dit beteken jy is bewus van jou verslawing en jy doen iets daaraan.

Die belangrikste van die ophou, is dat dit nooit kunsmatig moet wees, of om iemand te manipuleer of tevrede te stel nie. As jy jou eie huis bou waarin jou kinders moet leef en veilig moet wees, gaan jy natuurlik meer moeite daarmee doen, as wanneer jy iemand anders se huis vir hulle bou. Wees daarom eerlik met jouself oor jou eie aksies waarmee jy nie tevrede is nie, en begin reguit en effektief bou, uit jouself en vir jouself.

Ons is kreatiere van gewoontes, maar as jou gewoonte jou en jou doelwit nie positief bedien nie, verander dit NOU!

No comments:

Post a Comment